BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 24 Desember 2013

MEER AS NET ‘N MENS

- maak dit saak of jy in die maagdelike geboorte glo?

In sekere kringe is daar ‘n al hoe meer sigbare en hoorbare eensydige beklemtoning van Jesus se mensheid, wat uiteindelik lei tot die totale verwerping van sy unieke Godheid. Dit blyk of die bewonderaars van Marcus Borg en die aanhangers van Andries van Aarde, Jesus maar min of meer beskou as ‘n besonder goeie mens met ‘n wye invloed... bloot ‘n rolmodel wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het. Erger nog, so stil-stil en bykans ongemerk het hierdie verderflike invloed deurgesuur ook na die predikantekorps van ons kerke en het kernleerstellinge van die historiese Christelike geloof soos die maagdelike geboorte, die unieke plaasvervangende sterwe en die liggaamlike opstanding van Jesus in die slag gebly. Dan verstaan mens waarom die kerk so kragteloos is, sendingywer getaan het of dikwels waar dit nog funksioneer gereduseer is tot blote armoedeverligting. 



Is dit moontlik om vandag nog in so iets soos ‘n maagdelike geboorte (streng gesproke ‘n maagdelike konsepsie) te glo?

Vrydag 13 Desember 2013

WATTER HEMEL?

- Spaar my asseblief 'n hemel met ANC takke (of die van enige ander politieke party!)

RSG berig op 13/12/2013 :

Madiba se oudste dogter, Makaziwe sê haar pa sal tot in ewigheid 'n getroue ANC-lid wees. Sy het met die SAUK in Qunu gepraat. Sy sê hy het altyd gesê dat die eerste ding wat hy in die hemel sal doen, sal wees om 'n ANC-tak op te spoor. Makaziwe het egter bygevoeg dat die ANC moet aanvaar dat hy ook aan die wêreld behoort en dat die waardes wat hy bevorder het, groter as die party is. Die volledige onderhoud sal vanaand op SABC2 om nege-uur uitgesaai word.


Die "hemel" met takke van politieke partye is beslis 'n versinsel van Bybelonkundige mense... of dalk eerder 'n geval van "wishful  thinking"? Wel, hoe weet ek dit? Eenvoudig, die hemel gaan nie 'n demokrasie wees nie, maar 'n absolute monargie met 'n VOLMAAKTE KONING! Ons kry belangrike inligting hieroor in 1 Korintiërs 15. Dit gaan oor die heerskappy van die OPGESTANE Jesus en wat daarop volg...

"Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 
Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 
Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 
En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees."  (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo eerder God se Woord as vir Makaziwe.... Ek sien uit na die vernietiging van alle bose opstand teen God en die volledige aanbreek van GOD SE KONINKRYK!! Die nuwe hemel en nuwe aarde waar geregtigheid sal geskied.

Saterdag 07 Desember 2013

MANDELA

- as heilige verklaar?

RSG berig : 

"Die aartsbiskop van York in Engeland, John Sentamu, sê hy hoop oud-president Nelson Mandela sal as 'n heilige deur die universele kerk verklaar word. Sentamu wat naas die Aartsbiskop van Canterbury die tweede magtigste persoon in die Kerk van Engeland is, het hulde aan Madiba gebring. Hy sê wat Mandela in sy lewe gedoen het, is die verpersoonliking van wat 'n heilige is. Sentamu het 'n beroep op mense gedoen om ter herinnering van Madiba in die tyd wat volg, meer liefdevol, ondersteunend en gelukkiger te wees."


Die leegheid van die wêreld en sy godsdiens word so ontbloot in hierdie dae van Mandelasterie! Volgens die Bybel is alle kinders van God, heiliges! (Kliek op ROOMSE RAAISELS)

In die hoofartikel van vanoggend se BEELD word gesê dat Suid-Afrika nou "vaderloos" is! Wel, ek is gelukkig nie - my Hemelse Vader is nog steeds daar en sy sorg en beskerming is ewig en volmaak!

Die raserny rondom Mandela maak vir my maar net een ding duidelik : Miljoene mense smag na 'n ware held en bevryder. Dis so wonderlik om ons HELD EN BEVRYDER Jesus Christus te mag ken en een van die dae sy vleeswording te mag vier...

Vir 'n Christelike perspektief op Mandela - kliek op MANDELA IS NIE DIE MESSIAS NIE

Hierdie gaan jy nie in die media sien nie:

Lees meer oor 'n alternatiewe siening oor Mandela by die WARE MANDELA - siening van 'n sendeling. (nie noodwendig myne nie)

Vrydag 06 Desember 2013

MANDELA IS NIE DIE MESSIAS NIE!

- maar net 'n mens wat ook eendag voor die Troon moet verskyn.

Nelson Rolihlahla Mandela is dood! Die onafwendbare het toe gebeur. Die weg van alle vlees… Die wêreld se mense (en veral ook opportunistiese Suid-Afrikaanse politici) vertrap en  verdring mekaar byna om plek te kry in die kore wat nou vir hom prysliedere wil sing. Geen wonder nie, want hy word nou al lankal deur miljoene mateloos bewonder en besing as die groot bevryder uit die slawerny van apartheid, die simbool van versoening, "Tata", die vader van die nasie... Bekend en bemind vir sy “Madiba Magic”. Gelukbringer van die Springbokke.* 'n Hedendaagse mesiasfiguur**... Die immergroen ikoon vir elke humanis. Sulke sienings skep al klaar ongemak vir die Christen, want vir ons is daar maar net Een Messias en ware Bevryder van sonde, Satan, dood en hel, ons enigste Verlosser, Jesus Christus! Net Een is ons oneindige bewondering waardig tot in alle ewigheid, die Lam wat geslag is en ons losgekoop het met sy bloed!


SPRINGBOKTRUI EN NOBELPRYS

Maar wie was Nelson Mandela?  Opinies oor hom wissel...

Donderdag 05 Desember 2013

WAS PAULUS LIEFDELOOS?

- ‘n reaksie op Johan Rossouw se gedagtes in die FELDMUIS

[Ene Johan Rossouw het na aanleiding van ‘n vorige berig rondom Ds. Kökö in die Feldmuis (omsendbrief van die kerkkantoor van die NGK in Namibië) nogal wilde stellings kwytgeraak en ‘n klomp aantygings teen die kerk gemaak. Dis in die jongste Feldmuis opgeneem.*Sekere aspekte van Johan se “Kersbrief” het my so ontstel dat ek nie anders kan as om gou daarop te reageer nie.]

Beste Johan, aangesien jou bewerings in die openbare domein is, vergun my om ook in die openbaar sekere opmerkings daaromtrent te maak ter wille van die eer van God en die opbou van die gelowiges:

Sondag 01 Desember 2013

WATTER JESUS?

- onthou Jesus werk nie vir die United Nations nie!

Jesus se identiteit is in gedrang. Daar word baie oor Hom gepraat en gesing, maar WIE is Hy werklik? Vir party teoloë (wie se verderflike invloed op ons teologiese fakulteite ‘n bose merk gelaat het) was Hy bloot ‘n Mediterreense Jood wat sonder ‘n pa groot geword het.* Hulle maak ‘n radikale onderskeid tussen die historiese Jesus wat werklik geleef het en die verkondigde Jesus van wie ons in die evangelies lees. (Ten spyte van alle mooi verduidelikings kom dit daarop neer dat die evangelieskrywers onbetroubaar was en ‘n Jesus figuur opgemaak het volgens hulle teologiese sienings! Tog net snaaks dat enige mens iemand sou wou uitdink, wat vir jou net probleme en vervolging sou skep...) Nie almal se idees rondom Jesus is so vreemd nie, maar tog is daar ook baie ander onbybelse sienings oor Jesus in omloop, ook onder kerkmense. Baie hou van die naam Jesus, maar elkeen wil Hom inspan vir sy eie behoeftes.

Maandag 25 November 2013

MAG EK HULLE TROU?

- Bybelse ankers in die stormwaters van die gay debat.

Onlangs het die pers berig oor ‘n Vrystaatse NG dominee wat sy lesbiese dogter “getrou” het. (Dat dit in stryd is met die NG Kerk se huidige amptelike siening dat ‘n huwelik uit ‘n verbintenis tussen ‘n man en vrou bestaan, eers daargelaat.) Dis seker net iemand met ‘n hart van klip wat nie deernis het vir ‘n predikant (of enige Christen ouer) in so ‘n moeilike morele dilemma nie. Dat die dominee opregte ouerliefde vir sy dogter(s) het, staan seker bo verdenking. Tog bring dit mens by die vraag van ons hoogste lojaliteit... menslike bande en voorkeure of gehoorsaamheid aan God se onfeilbare Woord?

Donderdag 21 November 2013

WAT GAAN VAN MY KINDERS WORD?

- Ja, tye is rof, versoekings is baie, goddeloosheid floreer, maar hoor bietjie wat sê God se Woord oor die kinders van gelowiges! 

Wat gaan van my kinders word? Sal hulle gered word en eendag saam met my in die hemelse koninkryk God loof en prys? Of gaan die Satan en die wêreld hulle meesleur in die ewige afgrond in? Sal my kinders God eer deur ‘n heilige diensbare lewe of gaan hulle verval in ‘n wêreldgelykvormige lewe van kompromie, onsedelike bandeloosheid en godverlate ellende? Elke ouer dink seker oor hierdie dinge en soek biddend antwoorde. Wat sê die Bybel?

Vrydag 15 November 2013

“HY IS NOU OP ‘N BAIE BETER PLEK...”

- verskoon my, maar ek het my bedenkinge.


Onlangs lees ek weer hierdie woorde in ‘n bekende Suid-Afrikaanse koerant, in reaksie op die dood van ‘n jongman wat onder tragiese omstandighede gesterf het...

Donderdag 14 November 2013

NOODSAAKLIKE IMMUNITEIT TEEN WÊRELDGRIEP

- is jy al ingeënt ?


Gewoonlik het Paulus van 'n sekretaris gebruik gemaak vir die skryf van sy briewe en het dan net afgesluit met sy eie hand. (byv. Rom 16:22) Hier in Galasiërs 6 :11 neem hy egter die pen op nog voor die slotgroete. “Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!” Verder doen hy dit ook met groter as normale letters. Die feit dat hierdie laaste verse in Paulus se eie hand met groot letters geskryf word, is 'n aanduiding van hierdie gedeelte se spesiale belangrikheid. Ons kry hier 'n opsomming van die kernsaak waaroor dit in die hele Galasiër brief gaan.

Die groot kwessie waaroor dit in hierdie besonder aktuele brief gaan is die saak van Christus alleen of Christus plus? Is Jesus alleen genoegsaam vir ons redding en lewe as gereddes? Of is daar nog 'n ander geheim om te ontdek...?

Vrydag 08 November 2013

NIE NET IN SIRIË NIE...

- maar ook in ons eie woonplekke en werkplekke is daar ‘n verwoestende gebrek aan vrede.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. So skaars soos wors in ‘n hondestal. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar elke dag. Nie net op die TV nie, maar juis ook in ons sitkamers, klaskamers, slaapkamers...

Woensdag 06 November 2013

DIE GAY AGENDA SE GEBRUIK VAN EMOSIONELE MANUPILASIE

- hoe met die kerk reageer?

[Hieronder is 'n ope brief van Andre Bekker, waarin hy wys op die gevaarlike manupilasie taktiek van die goddelose Gay agenda en ook die kerk uitdaag om waarlik in liefde te reageer teenoor hierdie gebroke mense. Dit behels nie die ontkenning van sonde nie, want liefde wat sonde akkommodeer is eintlik haat.]

‘n Ope Brief aan die Kerkleiers van Suid-Afrika

Geagte Leser,

Ek is van mening dat die kerk se hantering van sake soos egskeiding die weg gebaan het vir die dilemma waarin die kerk hom vandag met homoseksualiteit bevind. Die debat oor homoseksualiteit is van groot belang. Die uitkoms gaan bepaal hoe sondige praktyke soos pedofilie, poliamorie (meervoudige huweliksmaats), bloedskande en bestialiteit in die nabye toekoms hanteer gaan word.

Maandag 04 November 2013

KRY WEER WOEMA!

DIE LIED VAN DIE LAM - kom ons sing oor Jesus se oorwinning!

Openbaring is vir baie mense net ‘n ingewikkelde raaiselagtige boek wat ons maar liewers moet uitlos. Hulle sien dit as ‘n boek wat moeilik ontsyferbare voorspellings oor die toekoms maak… miskien bedoel vir slim professore of "nerds" met dik brille...

Nee, Openbaring is ‘n heerlike troosboek, ‘n kragtige stuk aanmoediging en versekering. Dit gee God se kinders weer WOEMA! Openbaring gaan oor die groot tema van OORWINNING. Dis ‘n boodskap wat kinders ook kan verstaan...

Vrydag 01 November 2013

JOHAN DE KONING

- sy lewe as voetsoldaat op die voorposte van die evangelie verkondiging.

Dit was 'n baie groot voorreg om hierdie boek oor my Pa te skryf, wat verlede jaar oorlede is. Ek glo jy sal dit ook  baie geniet... 








JOHAN DE KONING - VERTELLINGS OOR ‘N EVANGELIE VOETSOLDAAT

HOOR EK GOD REG?

- Wat is sy plan en doel met my?


“God het ‘n plan vir jou lewe, ‘n doel met jou bestaan!” Dis ‘n frase wat mens dikwels hoor. Dis natuurlik baie waar – God het ‘n duidelike plan vir elkeen van Sy kinders. Daar is egter ook groot misverstande en wanopvattings oor die saak. Baie mense dink hierdie plan is ‘n groot geheim en dat ons allerhande tegnieke nodig het (soos tekskaartjies uit ‘n doos trek, die Bybel lukraak oopslaan ens.) om uit te vind wat dit is. Hulle koppel dit veral aan sake soos waar moet ek studeer, waar moet ek bly, waar moet ek gaan woon, of met wie moet ek trou...?

Dinsdag 29 Oktober 2013

“SOEKERS NA DIE WAARHEID”

- behoort Christene hulleself so te beskryf?


Die brief van ds. Hector Jooste aan die Kerkbode, wat wyd gelees is, moet ons weer oor ‘n hele paar sake ernstig laat nadink en besin. Een daarvan (wat hy ook pragtig aanspreek) is die algemene segswyse (verskoning) onder sommige teoloë om na hulleself te verwys as : “SOEKERS NA DIE WAARHEID.”

Nou, op die oor af klink dit baie vroom en nederig. Nie een van ons weet of verstaan mos alles nie. Niemand van ons het al gearriveer nie. Is dit dan nie dalk gepas om so na onsself as “soekers” te verwys nie?

My opinie...

Woensdag 23 Oktober 2013

KOERSLOOS? - BRIEF AAN DIE KERKBODE

Geagte Redakteur

Wanneer ek die Kerkbode van 18 Oktober 2013 lees dan is daar ‘n klomp vrae wat in my gemoed bly maal.

Maandag 21 Oktober 2013

OM TE “BELHAR” OF NIE

- net twee opmerkings.

Die Belharbal word nog steeds fluks rondgegooi en geslaan. Die jongste besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk het nog uiteraard geen rus vir die voorstanders en teenstanders...

Sondag 20 Oktober 2013

WERP ALLES IN DIE STRYD

- Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees!

Ons het by 'n vorige keer gesien hoe Petrus die mat van die ou bekende verskoning onder ons voete uitruk. Die verskoning van : “Ag, ek is maar net ‘n swakke mens, daarom bly ek maar sondig.”

Donderdag 17 Oktober 2013

GROOT MISLEIDING VAN DIE WESTERSE CHRISTENDOM

- “ek het mos my hart vir Jesus gegee”

So baie mense in ons kerke leef onder ‘n verstommend valse illusie dat hulle op pad is hemel toe. Hoekom? Iewers langs die pad, moontlik in ‘n tyd van onstuimige emosies het hulle ‘n gebedjie gebid en hulle “harte” vir Jesus gegee, maar daarna was daar geen blywende tekens van lewensverandering nie. (Terloops, "gee jou hart vir Jesus" is ‘n frase wat nêrens in die Bybel voorkom nie.) Nee, Jesus sê mos duidelik wat ons moet doen om gered te word en in die Koninkryk in te gaan in Markus 1:15 - “Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." Ons word opgeroep tot geloof en bekering!



Die groot meerderheid van sogenaamde Christene leef niks anders as die wêreld nie, maar hulle maak staat op ‘n sondaarsgebedjie wat hulle lank gelede geprewel het. Hulle het vergeet van die nou poort en die smal pad... Hulle moet dalk hoor dat Jesus gesê het : "Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” (Matteus 7:21)



Doen jouself ‘n onvergeetlike guns en kyk na die "Shocking Message" van Paul Washer op Youtube. Kliek op SHOCKING MESSAGE. 

Vir meer inligting oor Paul Washer en die agtergrond vir hierdie beondere preek kliek op WASHER ONDERHOUD.  

Hy vertel onder andere oor die preek van hierdie boodskap :


"As I walked up to the pulpit, I was unusually burdened and was unsure about what to preach. It seemed that there were thousands before me who were resting in a false assurance. There was a message burning in my heart, but I knew that it would be offensive. As I began to speak about the influence of culture on the church, the people in the auditorium broke forth in applause. They had no idea that I was speaking about them. At that moment, I took up my text in Matthew 7 and began to preach. It was as though I was being carried and pushed along by strong wind that I could not resist. I felt broken into a million pieces, and yet I was fearless about the consequences. Immediately afterwards, I thought I would collapse, and I was full of fear...."


Mag God ons genadiglik ook sulke vreeslose Afrikaanse predikers skenk!

Vrydag 11 Oktober 2013

DIE "SWAK" CHRISTEN

- hoor die verrassende waarheid met betrekking tot elke kind van God!

Twee bevelvoerders praat elk met hulle troepe. Hulle het twee heeltemal verskillende benaderings... 


GETROU OP TSINTSABIS

- aansporing vir ons.

Dit was vir my ‘n baie aangename voorreg om saam met die kerkraadslede van die NG Gemeente Wildevy nou die dag op Tsintsabis rondom die Woord bymekaar te kom. Dit het ook vir my ‘n bykomende persoonlike dimensie aangesien daar van hulle is wat deur my oorlede vader se bediening jare gelede tot bekering gekom het en nou nog steeds op die pad volhard. 

Een van hulle is Toti Tsam ‘n (Hei-//om Boesman) wat meer as veertig jaar gelede tot bekering gekom het! Hy kon my vertel van die preek van Pa wat destyds sy hart geraak het. Dit het gegaan oor die vyeblaarkleed wat Adam en Eva aangehad het.

Kom ons dink in gebed aan die Wildevy gemeente. Hulle het so pas een van hulle eie mense, Josef Gevers as hulle leraar beroep, nadat hy teologiese opleiding onder leiding van ds. Hendrik van Zyl-hulle op Grootfontein voltooi het en onlangs gelegitimeer is.

Mag die getroue volharding van ons medegelowiges ons opnuut aanvuur om self te volhard en ook met verwagting die Woord aan alle nasies te verkondig, met die wete dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie!

Saterdag 05 Oktober 2013

ERGER AS NET OKTOBERTAMHEID

- die gevaar van geestelik moeg word.

Oktober is tradisioneel die maand van tamheid, moegheid en moedeloosheid. Die uitputting van die jaar begin nou ‘n effek op ons hê. Die hitte, droogte en stof help ook nie juis om mens energie te gee nie. Ons raak fisies moeg, maar ons raak ook geestelik moeg. Ons word net moeg om goed te doen...

Woensdag 02 Oktober 2013

AamBEELD van die Bose?

- BEELD probeer die kerk van die Bybel afboelie.

Dit wil al meer voorkom asof die Afrikaanse pers en by name koerante soos BEELD en RAPPORT (met sy liefde vir ABEL) ‘n verskuilde aanslag teen die kerk van Jesus Christus loods. Mense kan dit afmaak as ‘n tipiese bangmaakstorie of samesweringsteorie uit die kraal van die verkramptes, maar oordeel gerus self...

Dinsdag 01 Oktober 2013

TWYFELVRAE WAT PLA

- kan ek as redelike denkende mens nog in God en die Bybel glo? 

Die sondige mens is van nature ‘n twyfelaar en skepties oor God se Woord. Ons is kwesbaar vir Satan wat nog steeds kom met die vraag : "Het God regtig so gesê?" Daarom is die soewereine werk van die Heilige Gees onontbeerlik in die redding van enige sondaar. Die mens se besware teen die evangelie staan ook in noue verband met sy kulturele en intellektuele omgewing. In die konteks van ons Westerse Postmodernisme is daar baie onderliggende veronderstellings en idees wat dit vir mense nog moeiliker maak om die evangelie te glo. Dis ons plig om ernstig na hierdie besware te luister...

Donderdag 26 September 2013

SJUUT! DIE KINDERS MOENIE HOOR NIE!

- die ongewilde waarheid van Goddelike wraak.

“Nie voor die kinders nie!” Dis seker ’n frase wat nie meer baie vandag gehoor word nie, want kinders is deesdae alles gewoond en daar is eintlik nog maar min taboe onderwerpe. Tog is daar ten minste een saak waaroor mense baie sku geword het om te praat...

Donderdag 19 September 2013

WAAR TREK GOD DIE STREEP?

- Vir die mens is daar twee opsies : Lewe of Dood!

Daarom is dit seker baie belangrik om te weet aan watter kant jy staan en waar jy die ewigheid gaan deurbring...

Vrydag 13 September 2013

MOEILIKE MORELE KEUSES

- volgens watter beginsels moet ek besluite neem? 

Kinders van God gaan mos nie dadelik hemel toe die dag as hulle tot bekering kom nie. Nee, kinders van God is wel besonder begenadigde mense, vrygespreek deur God van alle skuld, vrygekoop deur die bloed van Jesus, maar ons is ook doodgewone mense, wat nog steeds op hierdie aarde woon. Ons is geroep om in hierdie wêreld heilig te leef. En dit beteken dat ons elke dag keuses moet maak : gaan ek dit of dat doen, moet ek so maak of nie so maak nie? Soms is hierdie keuses werklik moeilike morele keuses...


Dinsdag 10 September 2013

DEMOON DOEDIES

- sien ons hier dalk die dogters van Skeva?

Die BBC berig : Brynne Larson and Tess and Savannah Scherkenback are all-American girls from Arizona, who enjoy martial arts and horse riding. But something sets them apart from most teenagers - they perform public exorcisms and often appear on TV chat shows.





(foto BBC)

Kyk, net as jy dink dat jy al als gehoor en gesien het wat geestelike innovering, kommersialisering en misleiding betref, dan is daar weer iets nuuts...

Maandag 09 September 2013

ROL DIE KLIP WEG

- As jy glo sal jy die openbaring van God se mag sien !*



Rol die klip weg. Hierdie opdrag van Jesus moes onwerklik en onrealisties geklink het!


Lasarus, Marta en Maria se broer is al vier dae gelede dood en sy lyk het al begin ontbind.  (Lees gerus weer die gebeure in Johannes 11)

Jesus was laat vir die begrafnis van een van sy beste vriende...

Vrydag 06 September 2013

BASIS VIR BLYWENDE BLYDSKAP

- my naam in die Boek van die Lewe.

Wat maak jou regtig bly?  Daar is seker baie dinge .... goeie vleispryse, oorvloedige reën, as almal in die huis gesond is, suksesse op skool, romanse....daardie matriekafskeidrok... Ons lees in Lukas 10:17-20 van ’n groep dissipels wat vol blydskap teruggekom het van ’n sendinguitreik. Jesus het 72 dissipels twee-twee uitgestuur om te preek, siekes gesond te maak en duiwels uit te dryf. Nou lyk dit of hulle sending baie suksesvol was en hulle gesag selfs deur demone erken is, en hulle was uiteraard baie bly. (17) En daar was niks verkeerd mee nie, maar dan herinner Jesus hulle net aan ’n nog groter rede vir blydskap. Dis asof Jesus ‘n bietjie koue water op hulle uitbundigheid gooi om hulle ‘n dieper vaster waarheid te leer. (20) “...maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is."

Daar is een groot uitstaande feit wat die groot praktiese  bron of rede van blydskap in ons lewens moet wees :  

MY NAAM IS IN DIE BOEK VAN DIE LEWE!

As jou naam in die hemel opgeskryf is, dan beteken dit God ken jou, Jesus is jou Verlosser en jy is vir seker ’n  erfgenaam van die  Ewige Lewe. Die Bybel praat van ’n  Boek van God waarin name opgeskryf is. Reeds in die Ou Testament. Moses verwys daarna, as hy pleit vir die volk. (Eksodus 32:32. Sien ook Daniël 12:1) Hierdie boek bevat die name van die diegene wat gered is! Dis dié een plek waar dit regtig saakmaak dat my naam daarin staan. In Openbaring word hierdie boek genoem, die boek van die lewe. In Openbaring 20:11-15 kry ons ’n baie duidelike beskrywing van hoe belangrik hierdie boek is en hoe noodsaaklik dit is dat jou naam daarin moet staan.  Stel jouself voor ’n ontelbare skare mense, almal wat geleef het.... vergader voor die groot Wit Troon van God;  dan word die boeke oopgemaak, die name word afgelees, dis tyd vir die finale afrekening ...

Toe het ek ‘n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie.
Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.
Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.
Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.
As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Daar is een blydskap wat alle ander blydskappe laat verdof en in die skaduwee stel. Dis die blydskap van elkeen wat weet, my naam is in die boek van die lewe. Daar is baie vreugdes wat ons beleef, ook goeie vreugdes, waarmee niks fout is nie, maar hulle sal alles verby gaan. Dis kortstondig van aard. Daar is een vreugde wat tot in alle ewigheid sal voortduur - as my naam in die boek van die lewe is. Hier op aarde verskyn jou naam op baie plekke : doop- en lidmaat registers, huweliksregisters, diplomas, grade, bekers, trofeë... dis goed en wel, maar verskyn jou naam in die boek van die lewe? In daardie groot dag sal al die inskrywings van min betekenis wees. Net een ding maak saak : is jou naam in God se boek? Alle die mooi woorde op grafstene en gedenkmure sal betekenisloos wees, net een ding tel punte : is my naam in God se boek?    

Moenie die risiko loop vir die grootste teleurstelling denkbaar nie!  

Maak seker! Selfs hier op aarde veroorsaak dit groot teleurstelling as jou naam nie op ’n lys is waar jy dit verwag nie. (die lys van matriekuitslae, ‘n vliegtuig se  passasierslys ens.) Kan jy jou indink aan die skrikwekkende verbystering en ontnugtering van baie op daardie groot laaste dag?

Daar is een blydskap wat alle hartsere klein laat lyk. As my naam in die boek van die lewe staan, is ek ’n ewige wenner, al verloor ek ook alles hier op aarde:  my besittings, my vriende, my gesin,  my aansien, ja selfs ook my lewe.  (dis nie iets wat mens sommer ligtelik moet sê nie, maar maak bietjie seker of jy dit regtig kan sê...) Om my naam in die boek van die lewe te hê is alles. Dit maak my ’n geseënde al moet ek ook onreg of pyn verduur.

Hierdie woorde van Jesus dra ’n dubbele boodskap. ’n Boodskap vir die onbekeerdes en ’n boodskap vir sy kinders!

~ Vir die onbekeerde sê dit: Al jou blydskap wat jy nou beleef is tydelik en tevergeefs. Jy is bly oor al jou geld - daar kom ’n dag wanneer dit geen waarde sal hê nie. Watter vreugde kan geld en eiendom my bring as ek in die hel brand? Jy is bly oor al jou mag en invloed en belangrikheid - watter verskil gaan dit maak as jy ’n ewigheid sonder God ingaan?

~ Vir God se kinders sê dit : Ons ware blydskap lê in die sekerheid en vastigheid van ons verlossing. Ons vergeet dit so maklik en dan lei dit daartoe dat ons depressief en neerslagtig raak. Laat ons weer mooi dink wat hier gebeur het. Die dissipels is opgewonde en bly omdat hulle suksesvol was in die Here se werk, hulle het gevoel dat hulle darem iets positief bereik het. Hulle gesag is immers selfs deur die bose erken. Jesus sê as’t ware, ja dis goed, maar onthou daar is ’n baie groter rede om bly te wees...

Jy sien, ook as kind van God is ons suksesse, ons prestasies, ons nuttigheid, ons emosies wisselvallig! As ons ons blydskap daarop bou, gaan ons blydskap ook wisselvallig wees. Daar is egter een standvastige onwankelbare rede vir blydskap - die vastigheid van ons verlossing deur die bloed van Jesus m.a.w. die feit dat my naam in die boek van die lewe opgeskryf is op grond van sy soenverdienste aan die kruis. Dit bly waar, al... is ek nie altyd so suksesvol nie, is my omstandighede nie so aangenaam nie, voel ek nie so nuttig nie. Ja, al is my eie emosies onstabiel en stormagtig kan dit nie my naam uit die boek van die lewe wegneem nie. Kind van God onthou dit! Waarop kom dit neer? Die feit van die sekerheid van ons verlossing deur Jesus  op grond van sy genoegsame offer, moet voortdurend die bron van ’n onuitspreeklike blydskap in ons lewens wees - in alle omstandighede!  Nou reeds! Luister hoe pragtig stel 1 Petrus 1:8-9 dit : Hom (Jesus) het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Kind van God, mag jy vandag en vorentoe volkome blydskap beleef (al is dit met ‘n traan in die oog), omdat jy weet dat jou naam onuitwisbaar in die boek van die lewe geskryf is!

                                      

Woensdag 04 September 2013

PRAKTISERENDE HOMOSEKSUELE PREDIKANTE?

- mag die Algemene Sinode van die NG Kerk 2013 'n Bybelgetroue besluit neem!

Die vae besluit van die Algemene Sinode van 2007 rondom homoseksualiteit is nie genoeg vir die drywers van die gay agenda binne die NG Kerk nie. Hulle gebruik die skuiwergate en wil die bestaande besluit  verder voer deur daarop aan te dring dat praktiserende homoseksuele ook in die predikantsamp toegelaat moet word. Volgens die huidige besluit mag persone met 'n homoseksuele orientasie in die predikantsamp dien, maar met die vereiste dat hulle selibaat moet leef. Die gay aktiviste wil hierdie voorwaarde geskrap sien. Indien hulle hulle sin kry gaan dit alle liefhebbers van die Woord in die NG Kerk in ‘n baie moeilike posisie plaas. Mag die Algemene Sinode waarlik genade ontvang om eerlik te buig voor die gesag van God se Woord...

Hieronder vind jy ‘n uittreksel uit die Algemene Sinode van 2013 se Agenda :

HERSIENINGSVOORSTEL/ BESKRYWINGSPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT

Die Algemene Sinode word versoek om sy besluit oor Homoseksualiteit (Handelinge, 2007,12.2, bl 204) in
hersiening te neem. Die bestaande besluit lui soos volg:
1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele orientasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as 'n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat 'n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer."

Die hersieningsvoorstel lui soos volg:
Die Algemene Sinode (2013) besluit:
1. Die Algemene Sinode herbevestig punte 1, 2, 3, 4, 5 en 8 van die besluit van 2007.
2. Die Algemene Sinode vervang punt 6 van die besluit van 2007 met: "Die Algemene Sinode aanvaar dat daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan, en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen."
3. Die Algemene Sinode vervang punt 7 van die besluit van 2007 met: "Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word."

MOTIVERING:
1. Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wel aan die huwelik herinner, en in ander nie. Die kerk moet ondersoek instel hoe dit kan gebeur sodat aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.
2. Punt 3 van die 2007-besluit verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar word. Dit beteken onder meer "toegang tot die ampte". In punt 7 word wel gesê dat die Algemene Sinode homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toelaat, maar dan word bygevoeg dat hulle "'n selibate lewenstyl (moet) beoefen". As
gedoopte, gelowige homoseksuele mense sonder meer toegelaat word tot al die ampte, kan daar egter nie bykomende eise aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Anders sou aan heteroseksuele predikante ook bykomende eise gestel kon word. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewens daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel. Dit is, op stuk van sake, 'n gewetensaak. Punt 7, ook in sy hersiene vorm, kan desnoods heeltemal weggelaat word, maar dit is in hierdie konteks waarskynlik tog goed as pertinent genoem word dat homoseksuele mense ook predikant kan word – maar dan sonder voorwaardes wat net vir hulle geld.

Kliek ook op TUTU EN SY HOMOFOBIESE HEMEL

NASKRIF :

Die Algemene Sinode het toe die volgende besluit geneem:

Die Algemene Sinode
-      bevestig dat die besluit van 2007oor homoseksualiteit geneem is na `n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
-      gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit `n studie te doen oor die status van selfdegeslag- verhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
-      besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
-      verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid. 

Gesprekke hieronder mag kritiek lewer en soek na verheldering, maar sal streng gemodereer word. Ons vra vir sensitiwiteit en respek, en het tydens die gesprek ons ongemak met taal wat mense objekte maak bevestig. 

[Soos ek dit verstaan sal daar vir die huidige nog steeds van homoseksuele predikante verwag word om selibaat te leef. Hieroor is mens dankbaar. Wat die studie oor selfde geslag verhoudings gaan oplewer is egter 'n vraag...]

Dinsdag 03 September 2013

KRUIS EN SWAARD

die onhoudbare en ongemagtigde bondgenootskap.






Hierdie gedenkteken op Swakopmund wys duidelik die "huwelik" tussen kruis en swaard uit!













MANNE OP DIE GRENS VAN ‘N CHRISTELIKE LAND?

Baie mense verlang waarskynlik terug na die ou bedeling in Suider-Afrika (weens ‘n verskeidenheid van redes), maar onder andere ook omdat hulle van mening is dat dit darem meer Christelik of bevorderlik vir die kerk was. “Ons het darem immers in ’n Christelike land gewoon” en “ons manne op die grens het ‘n Christelike stryd gestry” klink die moontlike nostalgiese mymering. Nou is dit so as mens verskillende politieke bedelings wil beoordeel raak dit baie moeilik om ’n objektiewe afstand te behou. Ons eie subjektiewe belewenisse speel onteenseglik ’n groot rol. Dis te verstane dat mense wat in die ou bedeling bevoordeel is, geneig sal wees om eensydig die Christelikheid daarvan raak te sien en blind sal wees vir die onregte wat gepleeg is. Dis ook te verstane dat mense wat voel dat hulle nou vir die eerste keer menswaardig behandel word, dalk kan dink dat die koninkryk van God deur die nuwe bewind bevorder word en geneig sal wees om kritiekloos die euwels in die nuwe bedeling mis te kyk. As ons egter erns maak met die Woord dink ek sal dit ons help om tot ’n baie meer nugtere en gebalanseerde verstaan van die werklikheid te kom. Die radikale en betekenisvolle uitspraak van Jesus in Johannes 18:36 kan ons baie hierin help.

"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie."

Met hierdie uitlating van Jesus teenoor Pilatus tydens Sy verhoor wou Jesus hom laat verstaan dat al is Hy inderdaad ‘n koning, Hy nie skuldig is aan ‘n politieke opstand of ondermyning van die owerheid se gesag nie. Sy koninkryk is in ‘n ander sfeer en hou dus geen bedreiging vir Pilatus of die keiser in nie. Die bewys hiervoor is dat Sy volgelinge hulle geensins tot wapengeweld gewend het nie. Die frase “nie van hierdie wêreld nie” beteken Jesus se koninkryk is in ’n ander klas, maar ook van ’n ander oorsprong. (Johannes 8:23)

Hierdie woorde van Jesus bevat egter ook ‘n opspraakwekkend belangrike beginseluitspraak oor die aard en gestalte  van Sy koninkryk binne die konteks van die huidige aardse bedeling waarin ons leef. Hierin vind ons implikasies van hoe ons die koninkryk moet verstaan, ons verwagtings oor wat die koninkryk vir ons inhou in hierdie bedeling en die manier en middele waardeur ons Christus se koninkryk mag bevorder en uitbrei.

Jesus se woorde aan Pilatus was nie maar net sommer ‘n gerieflikheidsuitspraak om uit die moeilikheid te kom nie. Sy hele lewe en optrede het hierdie stelling gedemonstreer. Jesus se koninkryk is inderdaad nie van hierdie wêreld nie. Dit word deur talle voorbeelde in die Nuwe Testament uit sy lewe en woorde gestaaf :

~ Hy het nie toegegee aan die verwagtings van mense wat Hom koning wou maak nie; ‘n aardse aspirant koning sou so ‘n geleentheid aangegryp het. (sien Johannes 6:15)
~ Anders as ‘n aardse leier het Jesus nooit deur goedkoop propaganda of deur omkopery aanhangers  probeer werf nie. In vandag se taal : Jesus was nooit ‘n populis nie! Inteendeel Sy reguit ongewilde uitsprake het mense laat aanstoot neem en wegdraai van Hom.  (In Johannes 6 lees ons hoe Jesus se harde woorde die meeste van sy dissipels laat omdraai het)
~ Die konings van hierdie wêreld bou paleise en versamel rykdom. Jesus het in radikale kontras hierteenoor geleef. Hy is gebore in ‘n stal en het as volwassene beweer dat Hy nie eens ‘n plek het om sy kop neer te lê nie.
~ ’n Aardse koning vergader die vernames, sterkes en slimmes rondom homself. (en hou van fotosessies saam met “celebrities”) Mense wat nuttig kan wees in ’n magstryd, mense met invloed - maar Jesus? Hy roep die swakkes, eenvoudiges en uitgeworpenes... Ja, ’n kern groep van twaalf manne van wie een ’n verraaier sou word en die ander Hom almal in sy diepste nood in die steek sou laat.
~ Jesus se uitsprake oor die koninkryk, spesifiek die Saligsprekinge maak dit baie duidelik dat sy koninkryk radikaal verskil en in ’n totaal ander kategorie val. Hy sê byvoorbeeld dat die sagmoediges die nuwe aarde sal erf. Volgens menslike logika is dit eerder die sterkes en hardhartiges  soos Alexander die Grote, Napoleon en  Hitler wat ryke opbou en mag in die hande kry.
~ Aardse konings gebruik wapengeweld en bied teenstand teen alle opposisie. Jesus bied homself eintlik aan vir arrestasie en toe een van sy dissipels wel van die swaard wil gebruik maak, berispe Hy hom. (Johannes 18:10,11)
~ ’n Koning met ideale vir ’n aardse koninkryk wil so sterk as moontlik wees en so lank as moontlik lewe en aan bewind bly. Jesus lê die fondasie vir sy koninkryk deur swak te word (mens te word) en gedwee na die kruis te gaan om te sterf!

As onderdane van koning Jesus, is dit uiters belangrik om kennis te neem van ons Koning se houding teenoor hierdie wêreld. As burgers van hierdie buite wêreldse koninkryk moet  ons weer grondig nadink oor ons verhouding met hierdie wêreld en sy verwagte lojaliteite, sisteme en verbande.

GESKIEDENIS

Die tragiese geskiedenis van die kerk deur die eeue wys egter dat hierdie woorde van Jesus grootliks geïgnoreer is. As die kerk hierdie woorde ernstig opgeneem het en die praktiese implikasies daarvan  begryp en gehoorsaam het, sou die tragedie van die Kruistogte nie plaasgevind het nie. Dink ook aan die bloedige godsdiensoorloë tussen Katolieke en Protestante. (Inderdaad was die konteks en samelewingstoestande uiters kompleks en radikaal anders as vandag en moet ons baie spaarsamig wees met kritiek en tog mag ons nie blind wees vir die foute van ons helde nie) Die feit bly staan, die kerk het dikwels direk teen Jesus se voorbeeld en lering gegaan en haar tot die mag van die swaard gewend of goedgekeur dat andere dit namens haar doen. Deur die eeue het nasies God opgeeis vir hulle eie belange en selfs onbeskryflike wreedhede in die naam van God en Christendom gepleeg. Nog erger, die kerk het dikwels gehuiwer of heeltemal versuim om teen so ‘n valse staatsteologie te waarsku.

WAT VAN NOU?

Jesus se uitspraak is bepalend vir ons denke oor kerk en wêreld in verskeie opsigte :

Bepalend vir ons verstaan van die koninkryk en hoe dit ons verhouding met alle vorms van nasionalisme raak. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en dus ook nie nasionaal of etnies gebonde nie.  Jesus se koninkryk is nie ’n politieke of ’n geografies/nasionale koninkryk nie. Dis nie net Pilatus wat onkundig was oor hierdie aangeleentheid nie, maar selfs Jesus se eie dissipels het lank gevat voordat hulle dit gesnap het. (Luister maar na hulle vraag in Handelinge 1:6) Die saak van die koninkryk mag dus nooit gelykgestel word aan die saak van enige land of volk nie. Wie dus stry vir die “Afrikanersaak” (of watse goeie saak ook al) kan dus nie sommer in dieselfde asem beweer dat dit outomaties oor die saak van God gaan nie. Ons kan dus ook nie sommer beweer dat die ou SA deel was van die koninkryk en die nuwe SA nie, of andersom nie... Om dus te sê dat die “manne op die grens” geveg het vir die behoud van die Christendom is nie Bybels heeltemal korrek nie*, maar om te beweer dat die sogenaamde bevrydingsbewegings in diens van God gestaan het en sy seën weggedra het, is natuurlik ewe absurd. Jesus het in elk geval nie aardse soldate en wapens nodig om die behoud van sy Koninkryk te verseker nie.  

Baie insiggewend, die kapelaansdiens van die ou SAW se kenteken was die bekende woorde wat met die visioen van keiser Konstantyn geassosieer word “in hoc signo”. (In hierdie teken m.a.w. die kruis sal jy oorwin**) Dis ‘n klassieke voorbeeld van hoe die kruis en die swaard saamgevoeg is. Meer nog, Konstantyn word in die kerkgeskiedenis gekoppel aan die begin van die ongesonde verbintenis tussen kerk en staat. (alhoewel die Christelike kerk eers in die tyd van keiser Theodosius staatskerk geword het)

Ongebreidelde nasionalisme en die selfsugtige soeke na eie belang doen baie skade aan die koninkryk se beeld. My oordrewe  nasionale trots en lojaliteite kan ’n hindernis vorm in die uitdra van die evangelie. Dit geld beslis nie net Afrikaners nie, maar ook Amerikaners wat byvoorbeeld na Afrika as sendelinge kom met ‘n houding van “back in the States” weet ons van beter en is alles groter!

Bepalend vir ons lojaliteite. Ons is mense en ons is dus deel van aardse koninkryke en ons moet gehoorsame burgers wees wat op geen manier aanstoot gee en die saak van die evangelie belemmer nie. Inteendeel ons optrede teenoor alle mense (ingesluit owerhede met wie ons dikwels nie saamstem nie) moet van so ‘n aard wees dat dit tot hulle bekering sal lei. Petrus was baie duidelik hieroor : “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
 Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is  of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” (1 Petrus 2:12-15) Ons werklike burgerskap is egter in die hemel. God se koninkryk. (Filippense 3:20) Ons lojaliteit aan koning Jesus moet dus voorrang geniet bo alle aardse affiliasies. Ek is dus in die eerste plek ’n Christen en dan eers Afrikaner, Duitser of Herero... Naaste aan my hart moet God en sy volk wees! (En ek sê dit as iemand wat baie lief is vir my Afrikaanse volk, geskiedenis en taal!)

Bepalend vir ons verwagtings ten opsigte van die staat.*** Jesus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en Hy het ook nie die middele van aardse heersers gebruik om sy koninkryk te vestig nie. Hy het nooit gebruik gemaak van politieke vernuf, geweld en magspel nie. Hy het dus nie staatgemaak op menslike instellings soos regerings, wetgewing en die howe om Sy saak te dien en te bevorder nie. Ons moet dus ook nie onder die illusie leef dat wetgewing die evangelie en die Koninkryk kan bevorder nie. Natuurlik sal ons nooit kan bly wees oor anti Christelike wetgewing en staatspraktyke nie, maar aan die anderkant moet dit ons nie moedeloos maak asof die voortgang van die evangelie van die staat se goedgesindheid afhanklik is nie. Ons moet altyd onthou dat die lewenskragtige kerk van die Nuwe Testament geen amptelike ondersteuning van staatskant ontvang het nie. Inteendeel vir die eerste driehonderd jaar van die kerk se bestaan is die kerk dikwels in mindere of meerdere mate deur die staat teengestaan en bedreig en tog het die kerk gegroei. Natuurlik moet ons wel dankbaar wees as die lidmate van die kerk van Jesus in hulle aardse sfere van verantwoordelikheid (soos ook in owerheidsinstellings) die beginsels van die koninkryk uitleef en ‘n getuienis uitdra, maar die kerk as instituut mag nie ‘n magsliggaam word of homself in ‘n politieke party met aardse aspirasies omvorm nie.

Bepalend vir die metodes wat die kerk mag aanwend vir bevordering van die koninkryk van God. Jesus gebruik nie geweld, omkopery, magspel nie...die kerk mag dus ook nie. Jesus gebruik prediking en diens. Dis waarmee ons moet besig wees. Die groot troos is aan die anderkant, dat geen wapengeweld en menslike instellings die Koninkryk van Jesus kan uitwis nie. Menslike wapens is nie effektief teen die koms van die koninkryk nie! Die geskiedenis het dit bewys...

Bepalend vir ons verwagting met betrekking tot die huidige tyd en die toekoms. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie! Jesus  se koninkryk is iets heeltemal nuut en anders.  En hoor hier : Jesus se koninkryk is in streng aardse terme gemeet nie ’n voordelige koninkryk vir sy onderdane nie. Jesus het nie wapengeweld of ander magsmiddele gebruik om homself te beskerm en gerief of voordele te verseker nie. Hy doen dit ook nie vir sy volgelinge nie. Baie van Jesus se volgelinge verloor juis hulle burgerskapvoorregte, besittings en selfs hulle lewens weens aardse vyande. Jesus se volgelinge gaan verder ook gebuk onder dieselfde aardse ellendes wat alle mense teister soos siektes, rampe en misdaad. Weereens, Sy koninkryk is nie van hier nie. In hierdie bedeling, in hierdie wêreld moet ons nie gerief nie, maar eerder verdrukking verwag. (Johannes 15:19)  Toestande op aarde gaan nie verbeter nie, maar versleg! Gelukkig vind God se kinders te midde van alles vrede; weliswaar nie in verbeterde aardse lewensomstandighede nie, maar in Jesus self. Hy verklaar immers baie duidelik : “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin." (Johannes 16:33) Jesus se uitspraak beteken nie dat sy volgelinge apaties staan teenoor die wêreld nie, nee ons oorwin die wêreld deur getuienis, ons is ligdraers in die wêreld deur dade. Die koninkryk breek in die wêreld in en ons lewe in hierdie wêreld volgens die norme van die koninkryk. As koninkryksmense is ons sout en lig in die wêreld, juis omdat ons ons aan die wil van ons Koning Jesus onderwerp. Ons het ’n positiewe invloed op ‘n verskeidenheid van gebiede. Maar die koninkryk van God is van ’n ander oorsprong,  orde en aard as aardse koninkryke. Hierdie koninkryk van Jesus behels nie maar net ’n gedeeltelike hervorming van hierdie wêreld nie. In die finale sin behels sy koninkryk ’n nuwe hemel en nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon. God sal tussen ons woon. Die finale koms van die koninkryk is daarom ‘n buite aardse Goddelike ingryping en iets waarna ons met verwagting uitsien, terwyl ons nou reeds ons ligte laat skyn. Om dit anders te sê : Die NOU is vir ons as Christene onteenseglik belangrik – ons moet nou reeds nuut leef, maar daar is ook ‘n sterk klem en verwagting op die EENDAG in die Nuwe Testament. Jesus se opstanding en kruisdood open ‘n nuwe toekoms wat eers met sy wederkoms volledig sal realiseer. Ons finale verlossing! Die twee sake mag nie van mekaar losgemaak of teen mekaar afgespeel word nie. Dis tog juis diegene wat ‘n lewendige toekomsverwagting het, wat ook met ‘n heilige lewe hier op aarde die grootste erns sal maak. (Johannes 3:1-3) In hierdie wêreld is ons vreemdelinge en bywoners wat uitsien na ons ewige vaderland, maar terwyl ons nog nie daar is nie, lewe ons positief op so ‘n manier dat ons die evangelieboodskap versier, om ander ook so na ons Verlosser te trek!

Mag Jesus se houding teenoor aardse mag en invloed ons weer nuut laat dink en leef!

*Hiermee wil ek hoegenaamd  nie insinueer dat dit verkeerd is om as Christen jou land teen ‘n Kommunistiese (of watter ander ook al) bedreiging te verdedig nie. Deelname aan die destydse diensplig was myns insiens ook nie ‘n sonde nie. Dit gaan in hierdie stuk oor kritiek op die naatlose gelykstelling van ‘n nasionale stryd aan ‘n stryd vir die koninkryk van God. Hieraan het baie nasies hulle al skuldig gemaak.
Dis baie interessant om te kyk na die vroeë Christene se houding teenoor militêre diens in die Romeinse leër. Wat die eerste 170 jaar betref is daar stilswye, maar daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word in die interpretasie van hierdie feit. Daar was redelike vrede in daardie jare in die Romeinse Ryk en gevolglik kon die leër deur vrywilligers aan die gang gehou word. Hierbenewens moet mens ook in gedagte hou dat die eerste Christene hoofsaaklik vanuit die geledere van Jode, slawe en vroue gekom het en hulle is in elk geval nie toegelaat in die Romeinse leër nie. Na 170 nC is daar wel berigte oor Christene wat diens in die leër gedoen en hulle getuienis daar uitgeleef het. Eusebius vertel van ‘n interessante gebeurtenis in 173 nC. toe die Twaalfde Legioen deur die vyand omsingel is. ‘n Ernstige waternood het ontstaan. Christensoldate in die Legioen het op hulle knieë geval en gebid. ‘n Donderstorm het losgebars en die soldate kon hulle dors les. Die weerlig het ook die vyand op die vlug laat slaan.
Kerkvaders soos Tertullianus en Origines het wel geskryf dat geen Christen militêre diens mag verrig nie. Hierdie houding moet mens egter verstaan vanuit die versoekings wat die religieuse aktiwiteite in die Romeinse leër meegebring het. Een hiervan was keiseraanbidding. Soldate moes ook deelneem aan teregstellings van Christene en ander heidense rituele. Die gevaar van kompromie was dus baie groot. Tog was daar in hierdie tyd Christensoldate wat vasgestaan het in hulle geloof. ‘n  Christen offisier, ‘n sekere Marinus is bevorder. Een van sy mededingers het hom toe gaan verkla omdat hy ‘n Christen was en nie offers aan die gode gebring het nie. Toe Marinus hiermee gekonfronteer is, het hy dit erken. Hy het die doodstraf gekry en sy mededinger die rang! Die vroeë Christene was dus nie pasifiste (anti weermag) nie, maar ook nie rewolusionêre (terroriste) nie! (inligting met erkenning aan Prof. Hennie Stander)

** in hoc signo vinces

*** Ek is deeglik bewus van die kompleksiteit van die beginsel oor die skeiding van kerk en staat en dat daar teen uiterstes gewaak moet word. Om artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat in ‘n totaal ander omgewing as ons huidige pluralistiese samelewings geformuleer is, vandag sinvol en Bybels te verstaan en toe te pas, is geensins eenvoudig nie. Jy is baie welkom om meer lig op die saak te werp en dit met ons te deel.