BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 17 Augustus 2022

DUBBEL SEËNING

Verward, onseker, teleurgesteld?

 – Jesus ontmoet jou op hierdie pad met 'n dubbel seëning!

[Maak gerus oop by Lukas 24:13-35]

Twee van Jesus se dissipels is kort na sy opstanding op pad na die dorpie Emmaus. Dis die opstandingsdag, dié Sondag!  (13) Dit sou ‘n merkwaardige onvergeetlike Sondag word! Hulle was nie deel van die elf apostels nie…deel  van sy ander dissipels. Hulle het iets gehoor van die opstanding, maar dis baie duidelik dat hulle verward en onseker was. Ook teleurstelling -  (21) Ontsteltenis! (22) Die graf is leeg, maar waar is Jesus, is sy liggaam dalk gesteel?  Wat het geword van al sy beloftes?




Maar wat nou so wonderlik is, hierdie einste opgestane Jesus reik na hulle uit, Hy kom stap saam met hulle, Hy ontmoet met hulle en openbaar Homself aan hulle. En dis wat ek en jy tog ook nodig het. Dis ons diepste behoefte – om  die opgestane Jesus te ken!

TWEE MIDDELE

Jesus gebruik twee middele om hulle te bedien, troos, koers en insig en hoop te gee – ja, die hoop wat net in ware kennis van Hom te vind is. En dis so wonderlik – Hy gebruik vandag nog hierdie twee middele!

Nadat hulle vir Jesus van hulle ontsteltenis vertel het, reageer Jesus onmiddellik. Hy val sommer met die deur in die huis. En Hy vat hulle nogal skerp aan… (25,26) “Ai, mense hoekom glo julle nie julle Bybels nie? Hoekom sukkel julle om te verstaan? Dis mos eintlik duidelik dat die Christus eers moes ly en daarna in heerlikheid opstaan.” En toe begin Jesus die Skrif/Woord vir hulle uitlê! (27) Dis natuurlik die Ou Testament. Die hele Ou Testament is vol van Jesus. Ja, direkte voorspellings van sy koms en sy lyding soos ons dit byvoorbeeld vind in die profete. 

Dink maar aan Jesaja 53 : 5,6. 





Maar meer as dit - al die groot temas van die Ou Testament wys heen op een of ander manier na Jesus. Jesus wat reeds by die skepping betrokke was, kom nou as die Herskepper, die nuutmaker van mense en die hele skepping. Jesus is die tweede Adam – en wat ‘n heerlike kontras. Die eerste Adam misluk en bring ellende vir die mensdom, Jesus die tweede Adam oorwin alle versoekings namens ons en bring vir ons redding. Jesus self is die ware sonde offer, Hy is ons Paaslam wat vir ons geslag is. (Daarom sterf Hy spesifiek tydens Paasfees.) Jesus gee die ware Sabbatsrus. Jesus vervang die tabernakel en die tempel – net soos die heerlikheid van God op hierdie plekke was, so is die heerlikheid van God sigbaar in Jesus. (Sien Johannes 1:14,18) Jesus is ons koning, priester en profeet – hy vervul al hierdie funksies. Jesus is die ware Moses. Die Matteus evangelie verduidelik dit so mooi – Soos Moses die volk uit Egipte uitlei, lei Jesus ons uit die slawerny van sonde uit. Net soos die vyandige Farao vir die klein Moses wou doodmaak saam met die ander Joodse seuntjies, wou Herodes vir Jesus laat doodmaak saam met die ander seuntjies. Moses  ontvlug juis deur in die farao se paleis opgeneem te word, so vlug Josef en Maria  juis na Egipte.  Moses kry later God se wet op die berg Sinaï. Jesus gee die nuwe wet van God se koninkryk op die berg – Bergrede. Jesus self is egter ook die ware Israel. Soos Israel kom Hy uit Egipte. Soos Israel na hulle verlossing deur die Rooi see in die woestyn ingelei is en daar versoek is, word Jesus na sy doop deur die Heilige Gees in die woestyn gelei (Matteus 4) om deur die duiwel versoek te word. Maar daar is een heerlike verskil en kontras – Israel swig vir die versoekings, maar Jesus oorwin die duiwel se versoekings, daarom kan Hy ons ware Verlosser wees!

As mens Jesus begin raaksien in die Ou Testament, dan besef jy dis nie mense wat dit kon uitdink nie. Dan begin mens opgewonde en entoesiasties raak oor God se wonderlike verlossingsplan! Dis presies wat met hierdie twee Emmausgangers gebeur het! (32) 



Het die Bybel al vir jou begin oopgaan? Jou hart begin raak? Begin sin maak? Dis 'n duidelike teken van die wedergeboorte.  Jesus se uitleg van die Skrifte het so ‘n indruk op hulle gemaak dat hulle Hom ingenooi om by hulle oor  te bly. Min het hulle geweet, die beste sou nog kom. 

DIE BREKING VAN DIE BROOD

Hulle sit aan vir ‘n eenvoudige maaltyd. Tog is dit opvallend dat Jesus die leiding neem… Dis mos nie sy huis nie, Hy is nie die gasheer nie, of is Hy dit dalk juis. Luister weer wat gebeur…(30) 




Hier is iets opvallend. Die manier waarop Lukas hierdie ete beskryf eggo sy beskrywing van die instelling van die Nagmaal. (Lukas 22:19) Die parallel is baie duidelik. 


Terug by die Emmausgangers. Nou gebeur ‘n merkwaardige wonder. (24:31) 




En let op hoe vertel hulle die gebeurtenis later aan die ander dissipels. (35) 




Die breking van die brood is in die Lukas-Hand verhaal ‘n verwysing na die Nagmaal.(Hand 2:424620:7). Hierdie manne ontdek die volheid van Jesus in/tydens die maaltyd. Paulus praat ook van die breek van die brood. “...Die brood wat ons breek is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie?” (1 Kor 10:16)

Jesus maak Homself aan ons bekend deur Skrif en Sakrament, Woord en Maaltyd. 

Dié twee gaan saam. Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  NT Wright 'n belende Nuwe Testamentiese teoloog stel dit so treffend : Take scripture away, and the sacrament becomes a piece of magic. Take the sacrament away, and scripture becomes an intellectual or emotional exercise, detached from real life. Put them together, and you have the centre of Christian living as Luke understood it.

God het in sy alwysheid bedoel dat ons geloof nie net deur die gehoor gevoed word nie, maar ook deur ons ander sintuie. Geloof is nie net 'n intellektuele belwenis nie, maar ook 'n konktrete werklikheid rondom 'n maaltyd.  Ja, die lewende Jesus maak deur sy Gees die Woord vir ons oop om Hom te ken, maar Hy gee Homself ook aan ons in ‘n maaltyd. Hy is  beide ons Gasheer, maar ook self die Lewende Brood wat ons siele voed!

Maak gebruik van beide die Woord en die Sakrament. Jesus ontmoet jou so binne jou verwardheid, onsekerheid, teleurstellings en worstelings!