BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD



Donderdag 04 November 2021

EK TWYFEL...

WAT NOU?


Kan God se ware kinders tye van twyfel beleef? Kan egte gelowiges se geloof wankel? Die antwoord is JA! Ons is baie keer skaam of bang om daaroor te praat, maar dis die realiteit. 

Spoel die golwe van twyfelangste oor jou? Is jy dalk vasgevang in ‘n wurggreep van twyfelaanvegtinge? Ek vertrou die Woord gaan vir jou HOOP bring! Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van twyfel by God se kinders. Die Bybel is verrassend eerlik oor die twyfel van die geloofshelde...

Abraham. Hy word genoem die vader van die gelowiges. Hy is ‘n geloofsheld. En tog was sy geloof nie altyd so rotsvas nie. Toe hy bang was en vir sy lewe gevrees het, het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy, sy suster was. Toe die belofte van ‘n eie seun te lank vat het hy na Sara se verkeerde raad geluister en Hagar as byvrou gevat… Ismael is gebore en dit het groot ellende veroorsaak... (tot vandag toe nog) Maar op die lange duur het Abram volhard in die geloof en word hy as ‘n voorbeeld vir ons voorgehou in Romeine 4 en Hebreërs 11.

Johannes die Doper. Hy was die kragtige profeet van die Jordaanrivier wat met oortuiging en geloof na Jesus gewys het en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Maar toe hy in die tronk was het daar ‘n twyfel hom beetgepak en hy het sy dissipels na Jesus gestuur om te vra : “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (Matteus 11:3) Kan dit wees? Ja, hierdie dapper man van God het begin twyfel. Jesus het hom egter nie afgeskryf nie en hom bemoedig deur hom te herinner aan die OuTestamentiese profesieë wat in Jesus vervul is.

Ja, dissipels van Jesus (insluitend sy uitgestuurde apostels) kan twyfel oomblikke ervaar. Ons het lees in Matteus 28 hiervan  kort voor sy hemelvaart, toe Jesus vir hulle die sendingopdrag gegee het en hulle uitgestuur het na al die nasies. 


Sommige aanbid, sommige twyfel! Dis opmerklik dat Jesus nie vasgehaak het by hulle twyfel nie (Hy moes mos daarvan geweet het), maar voortgaan om hulle uit te stuur. Hy verwag maar net gehoorsaamheid. En dan maak Hy die heerlike belofte aan die wat gehoorsaam is : “En kyk Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt 28:20b)





John Bunyan
Daar is ook baie voorbeelde uit die kerkgeskiedenis van God se kinders wat twyfelwroegings ervaar het.. John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel die eerste versoeking wat hy noem. 



Bunyan skryf : “Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.” (Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!) Ook Luther die bekende reformator het geweldige geloofsworstelinge beleef – hy noem dit aanvegtinge.

Daar is natuurlik soorte twyfel. 

Twyfel oor die waarheid van die Bybel.  Twyfel oor die bestaan van God of oor Jesus se kruis en opstanding. Twyfel oor jou eie geloof – is dit eg? Is dit nie maar net iets wat ek van my ouers outomaties aangeleer het nie? Twyfel of ek sal kan volhard tot die einde toe? Hierdie verskillende soorte twyfel vereis verskillende benaderings, en tog is daar uiteindelik EEN OPLOSSING!*

Wat is die oplossing? 

Bring jou twyfel in gebrokenheid na Jesus! Hy verwerp geen gebroke sondaar nie, ook nie twyfelaars nie!

Dis hier waar die verhaal in Markus 9:14-29 ons baie help. Dis ‘n pa wat sy seun wat die gees van stuiptrekkings gehad het na Jesus gebring het. Hy sê vir Jesus : “As U iets kan doen, ontferm U tog oor ons en help ons.” Jesus sê toe vir hom : “As U kan? Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” “Onmiddelik roep die vader uit : ‘Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!” (vers 24) 

Kyk mooi wat gebeur hier. Hierdie pa is eerlik oor sy twyfel. Hy glo wel, maar dit voel vir homself soos ongeloof. Hy is nie baie seker van sy geloof nie. Tog het hy die essensie van geloof gehad, al het hy dit klaarblyklik self nie besef nie - hy bring sy probleem (sy geteisterde seun) na Jesus toe! 

Om na Jesus uit te reik en uit te roep is tog die kern van geloof! 

Jesus eer sy geloof, al is dit ‘n brose en gebrekkige geloof. Hy maak die seun gesond. Hier is ‘n belangrike les – die vraag is nie hoe groot of sterk my geloof is nie.  Die belangrikste is om te weet hoe sterk, Jesus is! Jesus self is die oplossing vir al ons sonde en swakheid ook die sonde van ons twyfel. Ja, twyfel is verkeerd, maar Jesus wys nie twyfelaars weg nie. Hy skryf jou nie af as jy begin twyfel nie.


Ons het dit mos nou telkens gesien. Dink maar ook aan Thomas na die opstanding. Hy werk saggies en geduldig met Thomas. Mag ek en jy soos Thomas ook weer opnuut voor Hom neerval in aanbidding en uitroep : “My Here en my God!” (Johannes 20:28)





Net 'n PRAKTIESE WENK. Die beste teenvoeter teen twyfel is nie om te konsentreer op die twyfel nie, maar jou geloofsplantjie water te gee uit die Woord. Spandeer tyd in die Woord van God! Lees en bedink byvoorbeeld die wonderlike  Johannes evangelie met sy rykdom en fyn struktuur en nuanses. Jy sal besef dit is onmoontlik dat dit sommer net deur ‘n mens uitgedink kon wees.  Jy sal jou ook verwonder oor Jesus self en die geloof sal in jou hart begin groei! Die belangrikste -Begin net gehoorsaam raak aan Jesus selfs al is daar nog twyfelvrae wat aan jou siel knaag...

Jesus ontmoet jou in sy Woord deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees!

*As jou twyfel veral van intellektuele aard is kliek op TWYFELVRAE

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Donderdag 09 September 2021

PREDIKANTE WAT LIEG...

RIP/RIV - RUS IN VREDE?

Ek is bekommerd. Bekommerd oor predikante wat vir mense lieg. Bekommerd oor mense wat vir hulleself lieg. Wat is die leuen? Om vir en van goddeloses te sê : "Rus in vrede!" Dis ‘n leuen, want goddeloses gaan nie rus hê nie en ook geen vrede nie! Nie nou nie, nie in die hiernamaals nie...

VREDE

Kom ons kyk wat sê God se Woord oor VREDE.  Lees gerus Jesaja 57:14-21. Die konteks is ‘n wonderlike hoofstuk van genade, vergifnis en herstel. (Dis natuurlik gerig in die eerste plek aan die bannelinge in Babilonië) “Vrede, vrede, vir die wat naby is en vir dié wat ver is,’ sê die Here. (19) Hierdie vrede wat God beloof is nie sommer los praatjies en goedkoop beloftes nie, dis gewortel, dit groei uit God se karakter. Dit staan vas omdat God, God is. Kom ons kyk bietjie wie God is en wat beloof Hy volgens hierdie gedeelte:

God is die heilige, verhewe, heerlike God. "Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek..."  (15) God is nie soos mense nie. (reeds in Jesaja 6 kry ons met sy ontsagwekkende heerlikheid te doen…) Hy is ook nie die skepping of uitdinksel van mense nie. (so anders as byv. die Griekse gode wat net so immoreel soos die mense was, want mense het hulle uitgedink!)  God is ver verhewe bo die mens! “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” (Jesaja 55:8,9) God is hoog en verhewe, maar Hy is Hy is nie ‘n veraf en onbetrokke God nie. Hy word geraak deur die menslike ellende. Hy kry die verdruktes en nederiges jammer.

God is ‘n genadige God.  "Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie," (16) God bly nie vir altyd kwaad nie, want dit sou beteken dat alle mense totaal vernietig sou word. Dit sluit so mooi aan by Psalm 130 waar dit gaan oor die wonder van genadige vergifnis : “As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?” (Psalm 130:3) God se genade en vergifnis is ons enigste hoop tot oorlewing! Maar dit gaan oor baie meer as oorlewing en voortbestaan. God se genade stel voorheen afvallige en gebroke mense weer in staat om Hom te loof! "Ek stel hulle in staat om My weer te loof." (19)

God is die toornige God , maar ook die vertroostende en genesende God. "Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.
Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee." (17,18) God is toornig oor sonde en Hy straf dit. Die volk Israel met wie die profeet hier praat het dit op die harde manier geleer. Hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel. Dit het groot ellende en smart tot gevolg gehad. Spesifiek die ellende van die ballingskap. Daar in die verre land het hulle getreur. “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.” (Psalm 137:1) Hierdie treurendes hoor nou die goeie nuus dat God troos gaan bring. (18) En dis ‘n volledige herstellende troos wat gaan maak dat hulle God weer sal loof. (19a)


WIE GAAN VREDE ONTVANG?

Nou is die groot vraag : Vir wie is God genadig? Wie gaan sy vrede beleef? Alle mense? Ja, vir alle soorte mense ver en naby, maar daar is een voorwaarde : bekering. Ons het reeds gesien God se herstellende genade is bedoel vir die treurendes. Hulle treur en daarom is daar verootmoediging, berou en bekering. Ons sien hierdie aspek byvoorbeeld in Daniel se beroemde gebed in Daniël 9. Hy treur oor die toestand van sy volk en hierdie treur gaan saam met sondebelydenis – hy bely sy eie sonde sowel as sy volk se sonde! Treur is in ‘n sin een van die eerste stappe tot die ontvangs van vrede. Treur is ‘n eienskap van ‘n koninkryksmens. Dis waarom Jesus kon sê dat die treurendes eintlik die gelukkiges is! "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." (Matteus 5:4)  Het jy al getreur oor die toestand van die vervalle kerk van God en veral oor die toestand van jou eie bose en afvallige hart? Weet, die vrede is naby!

Aan die anderkant : Vir die wat volhard in goddeloosheid en hulle nie bekeer is daar nie vrede nie. (21) “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God. Die genade, die Goddelike amnestie gaan by hulle verby! Hulle verpas die hemelse trein! Dit stem ooreen met wat die profeet Jesaja reeds vroeër geleer het. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:7)   Genade, vrede en bekering is onlosmaaklik aan mekaar verbind. 

Vergeet van vrede, vergeet van hemelse rus sonder bekering!

Juis omdat daar geen vrede en rus vir die goddelose is nie kom die opdrag na God se profeet in Jesaja 58:1 “…Maak aan my volk hulle oortredings bekend,…” Hoor ons nog van kansels wat sonde is…? Hoor ons nog daar is ‘n heilige God wat sonde haat? Is ons bly dat Jesus ons sondestraf op Hom geneem het? Wys die blydskap in 'n lewe van bekering?




Die vrede wat God skenk is kosbaar en heerlik. Dis ‘n vrede vir nou, dis ‘n vrede anderkant die graf, dis ‘n vrede vir ewig. Jy kry hierdie vrede nie deurdat jy ‘n foto van jouself kerk toe stuur die dag met jou roudiens nie. 




Jy kry vrede deur self kerk toe te kom, die Woord te hoor en jou tot die genadige God te bekeer weens die goeie nuus van Jesus se kruis en opstanding! So skenk Hy vir ons vrede deur Jesus ons Verlosser!

Saterdag 28 Augustus 2021

FELIKS RAAK BANG!





Wat het vir Feliks bang gemaak? 






Paulus se evangelieverkondiging het hierdie ou vreesbevange gemaak! Reg gehoor! Nou wonder ek, maak evangelisasie vandag nog mense bang…?

Hoe word daar deesdae evangelisasie gedoen? Miskien het jy al gehoor: "Is jy eensaam, alleen, sukkel jy met 'n swak selfbeeld..? Moenie worry nie, Jesus het ‘n groot plan vir jou lewe… Bid ‘n gebedjie agter my aan. Vra Jesus om in jou hart te kom." Verder... "en dan gaan jy en geniet jouself en leef soos jy wil. En dan doen jy sommer lekker sonde, adverteer dit op Facebook en almal sê geluk! En weet van nou af gaan jy baie gelukkig wees, altyd gesond wees en sommer gou ryk word! Jy vlieg nou besigheidsklas… alles gaan net lekker wees!"  Is dit hoe evangelisasie volgens die Skrif gedoen moet word? Is dit hoe die apostels soos byv. Paulus die verlossingsboodskap gebring het? Kom ons kyk…


Paulus het geen geleentheid laat verbygaan om met mense oor Jesus te praat nie. Hy is nie skaam vir die evangelie nie. (Romeine 1:16). 



Nie alle mense het die evangelie van Jesus egter met blydskap aanvaar nie. Die evangelie wat Paulus verkondig het was vir party dwaasheid, vir ander aanstootlik, en party soos Feliks het bang geword. 

Kom ons kyk na Handelinge 24:24-27

In die voorafgaande gedeelte kry ons Paulus in die hof. Gevang in Jerusalem. Hy verskyn voor goewerneur Feliks.. Die verhoor word onderbreek. (22)

Na ’n paar dae hervat hy die verhoor (24) - ook sy Joodse vrou Drusilla is nou by. Paulus praat met Feliks en Drusilla oor die geloof in Jesus Christus. Nie oppervlakkige gesprek nie. (25) Dit het ingesluit dat Paulus met hulle gepraat het o.a. oor spesifiek drie temas wat hier genoem word:

Geregtigheid (OAV en Grieks) Geregtigheid maw die standaard wat God eis! (1983 Vertaling omskryf dit as gehoorsaamheid aan God), selfbeheersing, en die komende oordeel. Dis drie temas wat nie losgemaak kan word van die boodskap oor Jesus nie. U sien die boodskap van Jesus se vergifnis en genade kom nie in ’n lugleegte na ons nie.

As ons die boodskap van die Bybel ernstig opneem kan ons nie stilstaan by sentimentele goedvoelboodskappies nie. Paulus het die volle waarheid en die harde realiteit aan Feliks oorgedra. U sien dis so belangrik -. Ons moet aandag gee aan die volle boodskap wat die Woord leer. Ons moet luister na dit wat God as belangrik beskou : Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel. Die doel daarvan is om ons tot ons sinne te bring en tot bekering te lei. So baie mense beskou hulself as kinders van God, maar hulle het nog nooit tot bekering gekom nie! Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel! Hierdie drie temas skep’n probleem vir die sondaar. Inderdaad maak dit ons ongemaklik. Hoekom?

~ Die sondaar voldoen nie aan God se eis vir geregtigheid nie. Ons is oortreders van God se wet. Ons is ongehoorsaam aan God se wil. Dit maak dat daar vyandskap tussen ons en God is. Baie prakties - God haat die sonde wat ons doen en Hy gaan dit straf. Dit het Feliks bang gemaak.

~ Die sondaar het ’n probleem met selfbeheersing.
   Efesiërs 2:3 gee ’n realistiese beskrywing hiervan. 

 Die ongeredde wil doen net waartoe sy luste hom lei. God straf hierdie bandelose optrede. Weereens, dit het Feliks bang gemaak.















~ Die komende oordeel is ongetwyfeld ’n skrikwekkende vooruitsig vir elke rebel. Hoekom? Elke mens moet verantwoording gaan doen aan God wie se oë alles gesien het. Voor God is alles oop en bloot! Baie mense kom op aarde weg met baie dinge..... hulle word nooit uitgevang nie, hulle bedrog en geld en mag en slimmmighede laat hulle altyd vry kom. Maar daar is een finale rotsvaste toets wat niemand kan systap nie - God se oordeel. Die dag wanneer die mensdom voor die groot wit troon sal verskyn en daar van elkeen rekenskap geeis sal word... klein en groot, ryk en arm... (Openbaring 20:11,12) Feliks moes hierdie feite aanhoor en hy het bang geword. Dit het vir hom onuithoudbaar geword om langer daarna te luister en hy het uitgeroep : “Dit is nou genoeg!” (25)

Ja, dis duidelik dat God se eis vir geregtigheid, God se eis tot selfbeheersing en die feit van die naderende oordeel ’n dilemma is vir elke sondaar. Dit hou ’n bedreiging in vir elkeen van ons.

Die feit is dis slegs Jesus Christus wat die sondaar uit hierdie dilemma kan verlos. Slegs Jesus kan hierdie bedreiging afweer. Dis ook net as hierdie drie sake vir my ‘n skrikwekkende realiteit word dat die evangelie van die genade van God vir my sin maak en ek dit met dankbaarheid omhels! Jesus, sy vergifnis is die antwoord op die sondaar se dilemma. Feliks kry kans om na Jesus te draai! Hy kry geleentheid vir bekering. En nou laat Feliks hierdie unieke geleentheid deur sy vingers glip. 


Dis die groot tragedie - Feliks raak bang en draai sy rug op die enigste Een wat hom kan verlos.





Hoekom tree Feliks so dwaas op? Vers 26 gee ons die leidraad. Hy hoop Paulus gee hom omkoopgeld. Hier kom ons by Felix se wortelprobleem uit. Hy raak wel bang as hy van die oordeel hoor, maar sy groot fokus in die lewe is op die hier en nou. Geld is sy God. Materialisme is sy godsdiens. (Terloops, ek dink Feliks sou die prosperity gospel met ope arms aanvaar het!)Terwyl Paulus oor skrikwekkende ewige werlikhede praat is sy gedagtes besig met planne om nog ryker te word. Min gode is so sterk soos die geldgod! Hoe afgryslik dwaas! Wat baat jou geld jou as jy voor God se groot wit troon moet staan? God kan nie omgekoop word nie. Wat van ons? Word jy afgestoot deur die ware evangelie? Klink die evangelie vir jou te ernstig? Word jy bang as die waarhede van die Woord onverdund verkondig word? Die probleem is nie by die evangelie nie, maar by jou verdorwe hart wat verknog is aan eie belang. 


Die waarhede van God se Woord - die eis van geregtigheid en selfbeheersing en die feit van die komende oordeel het Feliks ontstel en kopsku gemaak vir evangelie. Hy het weggeskram van die hierdie waarhede en die geleentheid misgeloop om redding en die ewige lewe te kry. (Soos ‘n halstarrige donkie- weier hy om te beweeg, vasgevang in gierigheid…) Moenie dieselfde fout maak nie.

Luister en kyk op YouTube. Kliek op FELIKS

Donderdag 19 Augustus 2021

Dit is onregverdig!

Ek is ontsteld : NOU MAAK GOD DAREM NIE REG MET MY NIE!

Dit is onregverdig! Onbillik! Nou maak God darem nie reg met my nie! Ek wonder of God se beloftes waar is? Kyk hoe goed gaan dit met daardie goddelose ou… hy is skelm, hy het al ‘n paar huwelike opgebreek, maar sy besigheid floreer! Hy steur hom nie aan God en sy gebod nie, maar hy is perdfris en sy kinders presteer… En ek? Ek dien die Here getrou, ek probeer reg leef, maar vir my loop alles skeef. Ek begin sommer nou my vertroue in God en die Bybel verloor… Jy voel dalk so… verbitter, teleurgesteld, ontsteld en die twyfel groei al groter....

Dis presies die gevoel wat Asaf beskryf in Psalm 73. (Maak gerus jou Bybel oop by Psalm 73 om beter te kan volg.) Hy merk op - dit gaan goed met die goddeloses en sleg met hom wat ’n regverdige is. Toe hy dit sien het dit ‘n geweldige effek op hom gehad. Hy het begin twyfel… (1-5)



Hy ervaar die lewe as onregverdig. (12,13) M.a.w. God is onregverdig! (Dis waarop dit neerkom.) 




Hy as iemand wat opreg is en reg leef ondervind net teenslae en moeilikheid. (14) Om reg te leef het hom dus niks gebaat nie!


Tog het hy besef dat dit nie die regte gesindheid is om so verbitterd en wantrouig te wees nie. En daarom het hy diep nagedink, selfondersoek gedoen. Dit lei tot ‘n ontmoeting met God, tot ‘n nuwe insig, ‘n vergenoegdheid met God, ‘n vreugde in en ‘n vars vertroue op God! Ja, hy het ‘n antwoord gekry wat vir hom rus gebring het en hom weer ‘n gemotiveerde getuie van God se goedheid gemaak het! (28c)– “Ek sal van al U werke bly vertel.” Mag ek en jy ook die regte ANTWOORD kry! 

Hoe het hy by die antwoord uitgekom en wat was die antwoord wat vir hom rus gebring het?

Hy het ‘n ontmoeting met God. (16,17) Hy het God se aangesig gesoek en perspektief by God gekry. Wat was die perspektief en insig? Die werklikheid is wyer as net hierdie oomblik en hierdie omstandighede. Hy sien daar kom wel ’n dag van afrekening. (19) Ja dit lyk soms asof God blind is vir onreg, asof God nie omgee wat die goddeloses doen nie, asof God nie onderskeid maak tussen regverdiges en goddeloses nie, asof God nie in beheer is nie. Maar daar kom ’n tyd dat God ingryp en die goddelose straf. Dit kan ook nou reeds wees, maar beslis eendag. Uit die Nuwe Testament weet ons daar kom ‘n finale oordeel met die wederkoms van Jesus. Die oordeel voor God se troon wanneer alles oop en bloot voor God sal wees en Hy sal oordeel en afreken met die goddelose!. Daar kom ’n tyd dat God finaal die goddeloses sal straf en sy kinders sal beloon. Ja, die kind van God wat volhard het sal dan hoor: “‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ (Matteus 25:21)

God is nie onregverdig nie!

God het sy eie plan en tydskedule, dit beteken egter nie dat Hy onregverdig is nie. Dis nog nie die tyd vir God se finale oordeel nie. Dit kom nog. Maar dit beteken nie Hy het nou van jou en jou swaarkry vergeet nie. Weet jy, dis nou die tyd wanneer God besig om sy kinders te vorm, te verander en te leer! God wil jou leer wat volharding is, gehoorsaamheid is, wat vertroue is - om Hom blindelings in alle omstandighede te vertrou.(Soos tydens Sy opdrag aan Abram om sy enigste seun Isak te offer.) 

Hoe kry ons insig in wat God ons wil leer deur swaarkry? 

Hier is praktiese raad : Geliefde, hierdie insig kry ons as ons na Jesus se lewe kyk. Ons kry vrede as ons deur God se genade begin verstaan wat met Jesus gebeur het. Onthou bietjie.... Hy is die volmaakte sondelose Seun van God, Hy net goed gedoen, net ander gehelp... tog...... laat God toe..... dat Hy beledig word... verontreg word, gemartel word, onskuldig sterf... Dis als deel van God se plan. As jy opstandig raak oor jou lyding, onreg..... gaan dink na oor die lewe van Jesus op aarde! God het ook lyding EN ONREG in Jesus se lewe gebruik - Hebreërs 5:8 “Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.”

Die psalmis besef en bely nou sy dwaasheid. (21,22) Noudat Hy ’n beter perspektief het, besef hy sy verkeerde gesindheid en het berou! Ons moet dit ook doen. Bely dat jy God verkeerdelik beskuldig het. “Here, ek is jammer dat ek gedink het U het my nie lief nie, dat ek U verdink het van onregverdigheid...” Bely jou opstand. 

Dis tog wonderlik - selfs in sy opstand het God Hom nie gelos nie. (23) Gelukkig is God genadig - as Een van sy kinders verbitter word, skryf Hy ons nie af nie, Hy laat ons nie aan onsself oor nie! Hy rig ons weer op! SKEP MOED MEDEGELOWIGE!!!

GOD SELF IS VIR MY GENOEG!

Hierdie kind van God vind rus in die feit dat God self vir hom genoegsaam en vervullend is! "Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie." Vers 25 (OAV) Die 1983 Vertaling omskryf dit so - "Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie." (OORDINK DIT!) Hy vind sy vreugde nie in omstandighede of besittings nie, maar in God se persoon, sy heerlikheid. Dit gaan nie meer vir my oor die byvoordele wat my diens aan God my gee nie, maar oor God self! God self is my erfdeel (vers 26 - 2020) Dit kom daarop neer - Ek ken U en dis vir my genoeg. (U is vir my genoeg en dit wat U verder vir my wil bygee is ’n bonus.) Hy vind rus in Wie God is, ja solank ek God ken en vertrou kan maar gebeur wat wil gebeur. Ek behoort aan God vir ewig en altyd en dis vir my genoeg. Dis inderdaad my troos in lewe en sterwe! Net ’n ware kind van God kan tot hierdie slotsom kom. 

Is jou groot vreugde geanker in God self? Verheug jy jou in sy volmaaktheid, sy heerlikheid, sy liefde soos dit geopenbaar is deur Jesus? (want onthou die volle heerlikheid van God het sigbaar geword in Jesus)

Hy stel opnuut sy vertroue in God. Dalk eerder - Hy ontdek opnuut God se getrouheid. (28) Hy kom skuil by God. En dis die moeite werd…God sal elkeen van sy kinders veilig by hulle ewige bestemming bring. God sal jou deurdra deur al die ellendes en versoekings hier op aarde! Ons is meer as oorwinnaars sê Paulus IN hierdie swaarkry dinge. "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het."  (Romeine  8:37) Ons gaan nie die ellendes vryspring nie, maar ons sal te midde van dit alles instaat wees om in die geloof te volhard!

God self is vir my genoeg, my lewe is in sy hand, wat Hy toelaat op my pad aanvaar ek, want ek weet : Hy is ’n liefdevolle Vader en ek hoef nie sy besluite te bevraagteken nie. Ek hoef nooit oor sy liefde te wonder nie. Hy het dit beloof en geen omstandighede kan dit onwaar maak nie. Op Golgota is dit vir eens en altyd bevestig!

Saterdag 31 Julie 2021

DIE LEWE IS KOSBAAR

- maar nie absoluut nie!

Ons is die afgelope tyd deur omstandighede gedwing om weer na te dink oor lewe en dood… ook die lewe hierna ander kant die grense van ons aardse bestaan. 


Die lewe op aarde is kosbaar gawe van God voorreg om as mens op aarde te kan leef en ons Godgegewe opdragte en take uit te voer met lewenslus en dankbaarheid. Daarom raak ons opgewonde oor die geboorte van ‘n baba en hartseer by die afsterwe van ‘n geliefde. Die kosbaarheid en waarde van die lewe sien ons ook in die Tien Gebooie – jy mag nie doodslaan nie. Menslike lewe is baie belangrik vir God en moet beskerm word. Die mens is immers geskape byna God se beeld en is God se verteenwoordiger op aarde. Ons taak om die aarde te bewoon en bewerk is ‘n Goddelike opdrag. 

Maar die aardse lewe is nie die absolute nie, dis nie die hoogste waarde wat daar is nie, dis nie die “ultimate” nie, dis nie die heel belangrikste en die hoogtepunt nie. Anders gestel, daar is belangriker dinge as om net ten alle koste aan die lewe te probeer vasklou.

Hierdie perspektief kry ons in Paulus se gesprek met die ouderlinge van die gemeente van Efese. Paulus is op reis per skip na Jerusalem. Hy weet daar wag vir hom gevangeskap en vervolging. Die Heilige Gees het dit bevestig dat hy gaan ly. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese en dan lees ons hierdie merkwaardige woorde : 

“Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi : om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (Hand 20:24 2020 Vert) 

Verder aan op sy roete na Jerusalem het mense hom ook gesmeek om nie soontoe te gaan nie. En wat is Paulus se reaksie? Weereens verstommend!

 “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar om ook in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus.” (Hand 21:13 2020 Vert)

Paulus se siening oor sy Godgegewe doel wat belangriker is as sy aardse lewe is nie iets vreemds nie, dis presies wat Jesus geleer het. Paulus radikale siening ("Is die man dalk mal", sal sommige vra.) is die direkte gevolg van sy geloof in Jesus. 
Jesus leer in Johannes 12 :25 “Wie sy lewe liefhet , verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou.” Maak nie saak wat mense sê nie, maar Jesus se boodskap is baie duidelik - Daar is ‘n prioriteit van die ewige lewe. Dis die belangrikste. Dis wat tel! Dis wat jy moet behou.

Die kultusse wat leer - "The best life is now!" - lieg!

Jesus se lewe en sterwe, die evangelie feite het ook ‘n radikale nuwe perspektief op aardse lewe gebring. Jesus se oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel maak dat ons anders kyk na lewe en dood as ongelowiges, maar ook as die gelowige mense van die Ou Verbond. Jesus se opstanding het vir ons HOOP gebring en ‘n nuwe toekoms na die graf geopen. 

Kom ek probeer dit so verduidelik : In die Ou Testament  word die aardse lewe as die lewe in God se teenwoordigheid geskets, die doderyk is nie ‘n lekker plek nie. Dis nie ‘n plek waar God geloof kan word nie.  Kyk byvoorbeeld na Psalm 6. “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys?” (Psalm 6:6) 

Daar was geen duidelike en positiewe verwagting in die Ou Testament van ‘n heerlike bestaan na die dood nie. Kom ek illustreer dit prakties. Koning Hiskia was ‘n vroom koning, ‘n man van God. Maar ons lees in Jesaja 38 dat hy baie siek geword het en dat die profeet Jesaja vir hom gaan sê het dat hy sou sterf. Wat was sy reaksie? “Hiskia het bitterlik gehuil.” (2) Hy het bitterlik gehuil en gebid dat hy gespaar sou word. Die Here het toe 15 jaar by sy lewe gevoeg. As ons na die Nuwe Testament kyk totaal ander prentjie. 

DOOD IS NOU IETS VOORDELIG!


Kyk byvoorbeeld na die kontras tussen Hiskia en Paulus – toe Paulus met die werklikheid van die dood gekonfronteer is tydens sy gevangeskap skryf hy vir die gemeente van Filippi uit die tronk.  En dan maak hy ‘n baie radikale uitspraak – “om te sterwe, is vir my wins.” (21) En dan gaan hy voort – “As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe."  (22-24) 

Hoor jy? Hier kry ons ‘n totaal ander perspektief op lewe dood. ‘n Heeltemal verskillende benadering. Die dood is nou nie meer ‘n verskrikking nie, maar ‘n WINS – dood is nou voordelig, soveel so dat Paulus selfs daarna uitsien! Wat die verskil maak is die evangelie – Jesus se kruis en opstanding! Paulus het die volle implikasies van die evangelie besef, koning Hiskia nie.

Hoe sien jy die lewe? 

Ja, hierdie lewe is kosbaar en ons moet voluit leef (ons sit nie in ‘n hoekie en wag om dood te gaan nie) Maar as kind van God weet ek dat hierdie lewe nie om myself draai nie! 

Hierdie lewe is die kans wat God ons gee om ons roeping uit te leef.

As jy ‘n kind van God is , is dit ook jou roeping om te getuig van die genade evangelie. Maar, ek wil vir jou vra : het jy ‘n hoopvolle en vreugdevolle perspektief op die ewigheid? Besef jy die beste is nie NOU nie, die beste kom nog? Hierdie wêreld is nie ons finale bestemming nie. 


"Die wêreld is ons woning nie." Soos die digter Totius geskryf het. Besef jy ons hoef nie die dood te vrees nie en ons hoef nie krampagtig en desperaat aan ‘n aardse bestaan vas te klou nie? 





Die eintlike vraag is – Het die evangelie van Jesus al vir jou ‘n werklikheid geword, jou aan die hart gegryp en jou lewensuitkyk verander? Het jy al kom drink by Hom die Fontein van lewende water?

Hierdie boodskap is ook op YouTube beskikbaar. Kliek op KOSBAAR

Dinsdag 08 Junie 2021

VERGEET DEUR DIE KERK

  - JA, DAAR IS 'N WOORD WAT STILWEG DEUR DIE KERK VERGEET IS!

'n Woord wat mens baie selde van kansels af hoor. En letterlik ken die meeste van ons jong lidmate glad nie eers meer die betekenis van die woord in Afrikaans nie. Dis egter ‘n woord wat gebruik is deur die heiliges van beide die Ou en die Nuwe Testament. Johannes die Doper het dit ook gebruik. Ons lees daarvan in sy prediking in Lukas 3:1-19 (lees dit gerus eers deur in jou Bybel)

Wat is dit?  TOORN



  Die woord het so skaars geword, kom ons kyk net eers wat dit beteken. Toorn gaan oor God se heilige regverdige woede, wraak en oordeel.  Dis nie ‘n sondige wispelturige onbeheerbare uitbarsting van woede  soos ons by mense kry nie. Dis God se heilige afsku van als wat sleg en verfoeilik is omdat God waarlik God is en net   GOED en HEILIG is! 


Johannes die Doper gebruik hierdie woord in die konteks van die komende oordeel. (9)

God se toorn is deel van wie Hy is, soos Hy Homself openbaar het in die geskiedenis, in die mond van sy profete , deur die laaste groot profeet Johannes die Doper maar, ook in die geskrifte van die apostels. Ja, dis deel van God se liefde, want sy liefde is gekant teen als wat sleg is!   Kom ons vat die pad vanaf die Ou Testament.

Voorbeelde uit die Ou Testament

 "Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee."  (Deuteronomium 6:14,15)

"Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word." (Jesaja 13:9)

 “My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.” (Jeremia 12:13)

Nuwe Testament

Nou redeneer mense : “Ja, maar dit was voor Jesus se kruis. Ons leef nou mos na die kruis. Nou bestaan die toorn van God mos nie meer nie. Nou leef ons in die Nuwe Testament. Die tyd van Jesus en sy kerk en dis net liefde sonder toorn.”  Vriend, wees vriendelik gewaarsku, dis ‘n vals idee. As Paulus die evangelie verduidelik in Romeine dan doen hy dit teen die agtergrond van die toorn van God. Dis waar hy begin :  “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18)

En terloops dis in hierdie konteks dat hy daarop wys dat God die mens weens sy ontkenning en minagting van God oorgegee het aan dit wat boos en onbetaamlik is... en heel eerste noem hy dan die gruwel van mense wat die natuurlike geslagsverkeer tussen man en vrou verander na ‘n onnatuurlike verkeer tussen vrou en vrou en man en man! 



Hierdie verskriklike verval en verdierliking van die mens is juis deel van God se uitgieting van sy toorn oor ‘n sondige mensdom.





Dis die deurlopende boodskap van Genesis tot Openbaring is  - sonde wek God se toorn op en Hy straf dit. Die uitdryf van Adam en Eva uit die paradys, die vervloeking van die aarde, die verwoesting deur die sondvloed in die tyd van Noag, die uitwissing van Sodom en Gomorra,  die oordele oor Egipte en later die Kanaäniete, God wat telkens sy eie volk straf met oorloë en hongersnood, die verwoesting van Jerusalem en die tempel, die uitdryf van Israel uit hulle land en die wegvoering in ballingskap... Ja, ook die sterwe van Jesus aan die kruis en die finale oordeel met die skeiding van skape en bokke.  Die ewige hel! Dit alles maak net sin vanweë God se regverdige TOORN teen sonde! 

GENADE

Maar dis ook net teen hierdie donker agtergrond (van God se toorn) wat die genade sin maak en heerlik helder skyn!. Dis waarom Jesus gekom het, om ons van die toekomstige toorn te verlos.  Paulus skryf hieroor aan die  Christene  in Tessalonika... “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien  en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”  (1 Tessalonisense 1:9,10)

Wat van my en jou? Het ons al besef ons sonde wek God se toorn? Ja, ook die dinge wat die gemeenskap oor grappe maak (dronk word, los verhoudings) en maar stilswyend aanvaar. Ook die dinge wat deur Hollywood en die Huisgenoot goedgepraat word. Laat ons maar weet : God sal nooit sonde goedpraat nie, God sal nooit sy standaarde by ons sondigheid aanpas nie...

Mense is vir baie dinge bang.... vir die Sjinese virus, ekonomiese ineenstorting, vir die donker wolke van wanbestuur, korrupsie  en anargie. Ons moet eerder  bang wees vir God se toorn

En ja in sy liefde het God inderdaad vir ons 'n uitkoms gegee!

Die enigste skuilplek  is Jesus!   Die volledige vergifnis in Hom is ons enigste hoop. Draai jou rug op sonde vlug na Hom. Vlug soos Lot die opdrag gekry het om uit Sodom te vlug weens die aankomende toorn en  wraak van God. Hy het reageer, maar sy aanstaande skoonseuns het gedink dis ‘n grap. (Genesis 19:14) 

Het jy al van sonde gevlug en kom skuil by Jesus?

et jy al kom skuil by jesus?Het HHHHH


Terug by Johannes die Doper. Was Johannes dan net ‘n verdoemende oordeelsprediker? NEE. Nee hy was nié ‘n tipiese raasbek helvuurnar nie. Hy was  volgens Lukas ‘n verkondiger van die evangelie, die goeie nuus! 

Maar neem kennis, die verkondiging van God se toorn is deel van evangelieverkondiging in die volledige sin van die woord. En belangrik,  Johannes het nie net van die toorn van God gepraat as dit vir hom veilig was nie. Nee hy het hierdie boodskap van God se haat vir sonde persoonlik aan Herodes oorgedra. Herodes het sy broer se vrou gevat en Johannes het hom dapper aangevat!  “Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.” (19) Ons weet dit het uiteindelik sy lewe (kop) gekos! 


Ware profete van die volle waarheid van God soos Johannes die Doper is skaars. Dis net hulle wat durf praat oor die komende oordeel en toorn van God! Die rede is eenvoudig : Normaalweg kry hulle nie erepennings, eredoktorsgrade of Nobelpryse nie, nee, hulle koppe eindig op skinkborde! Die skinkbord van openbare veragting, familie verwerping  of  selfs sinodale uitsluiting en isolasie!  Maar dit maak nie saak nie - ons moet erns maak met die volle waarheid van God se Woord!

Belangrike naskrif!  Miskien het jy nog steeds 'n beswaar : "Ja, ek verstaan dat God toornig kan wees, maar
TOORN is nog steeds nie vir my 'n woord wat by Jesus pas nie! Jesus is tog so sag en liefdevol. Hy is tog die LAM!"  Jy is reg vriend, Jesus is inderdaad liefdevol. Die Lam wat sy lewe vir ons geoffer het! Maar ons lees inderdaad direk van sy TOORN. Mense sal eendag in angs vir sy toorn probeer wegkruip. Ons lees in Openbaring 6:16 - "
Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam."