BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 29 Maart 2019

AS DIE SATAN JOU BEETPAK

MET SY SUBTIELE VERSOEKINGS! 



Die duiwel is ‘n werklikheid. (Al wonder party sinodes soms daaroor.) En hy is aktief. Baie besige kêrel. Hy los veral nie God se kinders uit nie. Hy het nie eens vir Jesus uitgelos nie, maar homself daarop toegespits om Jesus se Godgegewe program en doel te vernietig! Jesus het Goddelike goedkeuring en toerusting ontvang vir sy sending toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het tydens sy doop deur Johannes. Sy Godgegewe missie was om mense deur sy kruisdood en lyding van sonde te verlos. Hiermee sou Satan natuurlik nie gelukkig wees nie. 



Jesus bevind Homself nou in die dorre wildernis waarheen die Gees Hom gelei het. Hier vind nou dramatiese en deurslaggewende gebeure plaas. (MATTEUS 4:1-11) Jesus vas. Nie omdat daar nie kos in die woestyn was nie, maar om Homself volkome aan God se wil te onderwerp. Hy bid vir sy volk en sy mense. Jesus is een met sy mense. Net soos Hy nie te hoog was om saam met sondaars gedoop te word nie so bid en vas Hy ook nes hulle. En sy volkome mensheid word juis verder onderstreep deur die feit dat Hy honger is. Sy vereenselwiging met sy mense gaan nog dieper. Matteus teken Jesus as die verteenwoordiger van die volk wat die volk se geskiedenis herhaal. Hy was eens ook in Egipte. Nou trek Hy ook deur die woestyn. Na veertig dae toe Jesus swak en kwesbaar was kom die duiwel na Hom. (Soos ‘n roofdier wat verkies om op ‘n verswakte prooi toe te sak) 



Kom ons kyk na die drie versoekings en hoe Jesus dit hanteer: 


EERSTE  "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." 

Die versoeking klink so onskuldig. “Jy is mos die Seun van God, maak vir jouself brood, jy is mos honger." So subtiel. Wat kan nou daarmee verkeerd wees? Dit klink so vroom. So ordentlik, asof die duiwel goeie raad wil gee in 'n noodsituasie. Satan suggereer nie dat Jesus moet steel of homself dronk drink of iets dergeliks nie… 

Waaroor gaan hierdie versoeking? Die Satan daag Jesus uit om van sy mag as Seun van God tot sy eie voordeel gebruik te maak. Inderdaad het Jesus as Seun van God, Goddelike Skeppingsmag. Hy kan uit klippe brood maak, net soos God uit klippe kinders van Abram kan maak! (Joh 3:9) Die implikasie is : Laat Jesus vir Homself doen wat God kan doen! Die versoeking gaan daaroor dat Jesus sy houding van ‘n nederige afhanklike Israeliet moet laat vaar. Meer nog Hy moet God se plan laat vaar en sy eie wil begin doen en vir Homself sorg. 

Doen jou eie ding tot jou eie voordeel! 

Jesus oorwin hierdie subtiele versoeking. Hy antwoord uit die Skrif. “Daar staan geskrywe: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom." (Terloops as die Bybel vir Jesus se volharding so nodig was, hoeveel te meer vir ons?) Deur sy antwoord uit Deut 8:3 neem Hy weer sy plek in as afhanklike Israeliet, afhanklik van God in. Jesus onderwerp Homself aan sy Vader, Hy wag op God se Woord, want daar is meer in die lewe as net sigbare brood. Hy gaan nie ‘n plan van die duiwel uit probeer nie, Hy gaan wag vir God se plan en God se tyd. En natuurlik het Sy Vader sy geloof beproef, maar Hom nie beskaamd laat staan nie. Inderdaad het die Vader engele gestuur om Hom te versorg! (11) God gee uitkoms op SY tyd! 

VERTROU GOD EN WAG VIR SY PLAN EN SY TYD!

TWEEDE. "As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie." Die volgende versoeking is nog meer subtiel en sluit by die vorige een aan. Asof die duiwel wil sê, nou goed jy vertrou mos op God, kom wys nou jou vertroue : spring! En luister mooi, die geslepe Satan gebruik sommer die Heilige Skrif vir sy versoeking. (Dis ‘n ou taktiek – kliek op DUIWEL SE BYBEL) Hy haal Psalm 91:11,12 aan. En dis mos waar! (Die waarheid van hierdie belofte sou juis bewys word deur die koms van die engele in vers 11.) Gelukkig val Jesus nie vir die Bybelversie truuk nie!* Jesus kom met ‘n teenantwoord uit die Skrif. "Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie." (Deut 6:16.) Dit gaan daaroor dat mens nie God op die proef moet stel nie. God se beloftes vra om net vertrou te word en verbied ‘n wantrouige uitprobeer. Jesus onderwerp Homself weer aan God se wet soos enige vroom Israeliet sou doen. Ja, Hy glo in God en glo in God se beskerming, maar Hy het geen opdrag om van die tempel se dak af te spring nie. Jesus bepaal nie sy eie agenda nie, maar wag vir die opdragte van sy Vader. God het nie vir Jesus gestuur om bewonderaars rondom Homself te versamel en populêr te word nie. Nee, Hy moes kruis toe gaan! Dis wat die duiwel wou verhoed en natuurlik sien Jesus deur sy planne. Jesus staan vas soos ‘n ware Israeliet. Hy val in by God se plan, Hy het geen ambisie van sy eie nie! 

DERDE Met die derde versoeking sit die duiwel nie meer ‘n vroom maskertjie op nie. Nie meer die woorde “As U die Seun van God is nie…” Hy kom met ‘n kort en kru voorstel terwyl hulle op ‘n hoë berg staan: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid." Al die koninkryke en hulle heerlikheid! Hier is nou ‘n geleentheid wat niemand deur die vingers moet laat glip nie! Jesus kon dit als besit. Die drang tot rykdom, besittings en mag is so groot in elke mens. (Vgl. 1 Joh 2:15) 

Die duiwel wys vir Jesus ‘n kortpad na die koninkryk! Jesus se hele bediening is gerig op die koms van die koninkryk van God. 

Ja dis juis ook God se wil om alle mag en heerlikheid aan Jesus te gee. Jesus moes dit egter verkry deur alle geregtigheid te vervul deur die pad van lyding en vernedering! Die duiwel wys ‘n makliker pad. Al wat Satan vra is net een knieval voor hom. Wat ‘n vreeslike versoeking! Hier is ‘n eenvoudige pad na mag en heerlikheid, maar dit vra ‘n ontsettende prys. Erkenning van Satan. En kom ons herinner mekaar : 

Pasop maar vir kortpaaie na ...geluk, gesondheid,gerief, sukses, rykdom, ...daar’s ‘n vangplek! 

(Dit sluit in om te val vir bedenklike gou-ryk-word-skemas en alternatiewe geneeskunde met okkultiese wortels en ander hulpmiddels wat so mooi lyk maar nie volgens God se wil werk nie – byvoorbeeld waterwys met ‘n stokkie. Maar dit gaan ook oor die krag en geweld wat ons wil gebruik om vyande en ongemaklike situasies uit die pad te probeer kry...) 

Ons word so maklik gevang as die Satan die smaaklike geelwortel van geld of geluk voor ons neuse hou! Wat doen Jesus? Jesus redeneer nie lank met die duiwel nie. Kort en kragtig praat Hy hier vanuit ‘n posisie van krag en gesag: Gaan weg, Satan! Jesus se antwoord is baie duidelik. Daar kan geen plek wees om enigiemand anders te aanbid as God alleen nie. Maak nie saak die woestynomstandighede en sy eie hongerte nie! Geen kompromie mag eers oorweeg word nie. Sy antwoord kom weereens uit die Skrif: "Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien." (Deut 6:13.) 

WAT LEER ONS? 

1.Ons leer van Jesus. Jesus slaag waar Adam en Eva misluk het. Die woorde “Gaan weg Satan” het by hulle ontbreek! Jesus slaag ook waar Israel misluk het. Jesus is die (enigste) volmaakte mens, volmaakte Israeliet! Daarom kan Jesus ons ware Verlosser wees. Ons het ‘n Verlosser wat sonder sonde is, maar wat weet hoe kragtig en slu die duiwel se versoekings is sodat Hy medelye met ons kan hê. Ons word ook versoek, maar juis omdat Jesus ons Hoëpriester is wat alle versoekings deurstaan het kan ons na Hom gaan in die moeilikste tye! Ons moet die kragtige aansporing in Hebreërs rêrig ernstig opneem. Hierin lê ons hoop en bevryding! 

"Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." 

(Hebreërs 4:14-16) 

2.Ons leer van die Satan se taktiek. Hy is wreed en slu. Hy slaan toe wanneer ons op ons swakste en kwesbaarste is. Sy subtiele versoekings is die gevaarlikste. Ook juis hier in nou se droogte en druk kom hierdie versoekings en suggesties dalk sterker as ooit na ons toe… “Doen jou eie ding. Sorg vir jouself en vergeet van God. Hy wil jou tog nie help nie…” Gebruik jou godsdiens tot jou eie voordeel, kies kortpaaie en maak kompromieë. Vul maar daardie hulpvorm oneerlik in...

Kom ons luister alleenlik na Hom wat namens ons alle versoekings oorwin het en Satan beslissend op Golgota verslaan het! 

*Dwaalrigtings is baie goed om rye en rye Bybelverse aan te haal veral buite konteks. Dink veral aan die ISRAELVISIE en HEBREW ROOTS

Woensdag 20 Maart 2019

ROEP MY AAN IN DIE DAG VAN BENOUDHEID!


‘N HEERLIKE BELOFTE AAN GOD SE GETROUE GUNSGENOTE 



“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer." (Psalm 50:15) 



Wat ‘n wonderlike belofte! Beleef ons nie juis nou dae van benoudheid nie? Dis droogte,  nee, RAMPDROOGTE (tans ongekend erg hier in Namibië), dis siekte, dis onheile en bekommernisse (ESKOM?) en wie weet wat alles wat ons kwel en bedreig... Ja, ook die benoudheid oor onbekeerde eggenotes, kinders...

Kom ons kyk mooi na hierdie wonderlike versekering. Kyk na die konteks. Psalm 50 (maak gerus jou Bybel hier oop) was waarskynlik deel van ’n seremonie van verbondshernuwing. (Sien die verwysings na “verbond” in verse 5,16) Dit was nodig, nie omdat Gód sy verbond vergeet nie, maar omdat mense hulle verantwoordelikheid binne die verbond vergeet. Dis natuurlik ook so vandag. Daarom die belangrikheid van die Woord en sakramente... Dit herinner ons telkens aan God se verbondsgetrouheid. Dit gee ons geleentheid om onsself opnuut aan Hom toe te wy. 

Die psalm val uiteen in drie dele

Oproep tot aanbidding. (1-6) In die Hebreeus begin hierdie psalm met ’n kragtige opeenstapeling van Godsname : El, Elohim, JHWH! Die hele wêreld, hemel en aarde en spesifiek sy gunsgenote, die wat aan Hom getrou is word opgeroep tot aanbidding! Dit bly altyd die hoofsaak : God moet aanbid word. Hiervoor het Hy ons gemaak en gered. God self is in die middelpunt! Sy heerlikheid, nie ons behoeftes nie! Sy AGENDA nie ons s'n nie!

Die ware betekenis van die offers. (7-15) Israel moet nou luister! Die Here spreek hulle verkeerde verstaan van offers aan. In essensie kom dit daarop neer – Julle moet besef God het geen offers nodig nie, want als behoort in elk geval aan Hom. God is nie honger of arm nie. Hy het óns nie nodig nie, ons het Hom nodig. In die verhouding met God gaan dit nie daaroor dat ons iets vir Hom moet doen omdat Hy een of ander behoefte het nie, maar die essensie van die offerdiens gaan oor dankbaarheid en dat ons getrou sal bly aan ons geloftes teenoor Hom! Binne die konteks van die verbond staan Hy in ’n verhouding met ons. En juis binne hierdie verhouding, as dit ’n gesonde verhouding is, kan ons Hom aanroep in ons nood en benoudheid en sal ons sy uitredding ervaar. (15) 

Die ware betekenis van die wet. (16-23) Hierdie woorde word nou gerig tot die goddeloses tussen die verbondsmense! Dis hulle wat God se wet ken, maar dit nie gehoorsaam nie. Voor die seremonie van verbondsvernuwing moet almal hulle harte ondersoek. Drie sake word uitgelig as voorbeelde van ontrou teenoor God se gebooie. Die agste, sewende en negende gebod! (18-20) Nou moet daar mooi geluister word. Diefstal, huweliksontrou, leuens en skinder! Jy doen dalk nie self hierdie dinge nie, maar jy geniet dit saam. (Is dit nie maar wat gebeur as jy so vasgenael voor die sepies sit nie? Wat gaan oorbly van jou sepie as sonde nie met kleur en geur uitgebeeld word nie?) Dis die probleem in die kerk. Sonde is nie meer so erg nie! Die punt is net : Sonde is erg vir God! Hy gaan jou tot verantwoording roep! “"Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!” (21) 

Die groot bedreiging vir die kerk van Jesus is nie die droogte of ESKOM nie, maar die feit dat mense nie meer rekening hou met God nie! 

As jy steel en egbreuk pleeg en skinder (of geniet as andere dit doen) is dit ’n simptoom van iets dieper – jy vat nie meer God en sy wil ernstig op nie! Om God se gebooie te vergeet is gelykstaande om Homself te vergeet! “Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.” (22) Dis ’n baie ernstige saak om God weg te laat uit jou lewe! God sal jou verskeur! 

Agter hierdie waarskuwing lê die metafoor van God as ’n vreesaanjaende leeu wat verskeur. Hosea 5:14- “Ek is soos ‘n leeu teenoor Efraim, soos ‘n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.” Vers 23 herbeklemtoon weer vers 14. 

"Die mens wat My eer, is die een wat lof as ‘n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red." (23) 

“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (14) 


Dankbaarheid en gehoorsaamheid is die pad waarop gebedsverhoring en God se redding ervaar word! 

As ons nie God se uitsprake oor sonde ernstig opneem nie, kan ons beslis ook nie aanspraak maak op sy beloftes nie!


Terug by vers 15. Kyk bietjie nader na hierdie heerlike en bekende belofte. Hierdie belofte is natuurlik bedoel soos ons gesien het vir diegene wat God se verbond ernstig opneem. As jy Jesus aanvaar het, is jy nou deel die Nuwe Verbond. As ek die verlossing deur sy kruisdood gesmaak het, het ek juis nog groter rede om dankbaar te wees en my geloftes aan Hom te hou. (Terloops, hoe ernstig is jy nog oor jou doop, belydenisaflegging, huweliksbeloftes?) Onthou, nie net die “voordele” van die Nuwe Verbond nie, maar ook die verantwoordelikhede is baie groter nie! In hierdie belofte staan twee sake uit: 

God sal ons UITHELP en ons sal Hom EER! 

Kom ons begin by laasgenoemde. Ons weet tog dat die groot doel van die Skepping is die eer en verheerliking van God. God het alles gemaak tot Sy eer. Hy wil hê dat Sy heerlikheid en majesteit erken, bewonder en vertel sal word. God se eie eer is die hoogste doel waarna Hy streef, want omdat Hyself die hoogste goed is in die heelal kan daar geen hoër ideaal as dit bestaan nie. 

En tog beloof hierdie groot God om ons te help in tye van benoudheid. Hoe pas ons welsyn, geluk en blydskap dan nou in by sy eer? Dis baie belangrik om te besef is dat ons blydskap nie bots met hierdie strewe van God tot Sy eer nie. God se passie vir Sy eer is ten diepste nie skadelik vir ons geluk as mense nie. (Dit mag wel so lyk vir die sonde gevalle mens) Hoekom sê ons so? God word juis geëer deur die blydskap van Sy skepsele wat Hom met vreugde aanbid en bewonder. ’n Pa word geëer en is gelukkig juis as sy kinders gelukkig is!

 “God is most glorified in us when we are most satisfied in Him” (John Piper) 

God word geëer juis wanneer ons ons geluk, vrede en uitkoms in Hom vind! Ten diepste is hierdie twee sake nie teenstrydige doelwitte nie, maar een doelwit. Dit word baie duidelik sigbaar in die werking van gebed. 

Wat gebeur wanneer ons volgens God se wil bid en so verhoor word en bly is? Ons kry die hulp en die Gewer kry die eer! Dis waarom gebed so onmisbaar belangrik is. Gebed het dus te make met hierdie twee sake : ons blydskap deurdat ons hulp van God ontvang en God se eer en heerlikheid. Omdat ons deur gebed Hom dank en erken as Gewer. Kom ons toets dit aan die lering van die Nuwe Testament. Hierdie waarheid word baie duidelik deur Jesus in Johannes 14:13 en 16:24 bevestig : 

“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” 

“Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 

God se belofte hier in Psalm 50:15 is steeds waar! Onthou net die hele konteks. Hierdie belofte is nie vir die wat in sonde volhard nie. Hierdie belofte is ook beslis nie 'n kitsreseppie om my probleme op te los nie. Dit funksioneer alleenlik binne ‘n dankbaarheidsverhouding met God in die konteks van die Nuwe Verbond waarvan Jesus die Middelaar is. Dis 'n kragtige hulpmiddel binne die raamwerk van God se agenda, naamlik die eer van Sy Naam! Hierdie verhouding binne die nuwe verbond is moontlik gemaak deur Sy kruis en opstanding. Elkeen wat in gehoorsame dankbaarheid teenoor Jesus leef kan hierdie belofte glo en toepas! Hy sal jou gebed beantwoord en jou uitred, help en antwoord op ‘n manier wat eer sal bring aan sy Naam! 

Kantaantekening. Weereens wat ’n verskriklike ding is biddeloosheid! Ons sny ons eie blydskap af, nog erger ons ontneem God van Sy eer. Deur nie te bid nie misluk ons in God se skeppingsdoel met ons. Positief gesê, wat ‘n heerlike middel is gebed! Deur gebed beantwoord ons aan God se skeppingsdoel. Gebedsverhoring bring vreugde en as ons bly is word God geëer. Gebed is inderdaad die vernaamste deel van ons dankbaarheid! * 

*Heidelbergse Kategismus , Sondag 45, Vraag 116



Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Sondag 10 Maart 2019

GEWAARBORGDE GEBED!

Kom luister na Jesus se duidelike lering oor gebedsverhoring. 

Gebedsverhoring. Of dan nou die gebrek aan gebedsverhoring. Daar is seker min praktiese sake in die Christen se lewe wat soveel vrae laat ontstaan as gebedsverhoring. Ons bid dan vir reën, genesing, gesondheid, beter wiskunde punte... Daar is min onderwerpe wat tot soveel menings en opvattings en wanopvattings aanleiding gee. Hier in Johannes, praat Jesus self oor gebedsverhoring. Ons kan dus nie anders as om ons ore te spits nie. Luister net wat sê Jesus self oor gebedsverhoring : 

"En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." (Joh 14:13,14) 

"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." (Joh 15:7) 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” (15:16) 

Bedoel Jesus dit wat Hy hier sê? Werk dit so in die praktyk? Is hierdie beloftes waar vir ons nou en hier? Weet ons nie almal van baie mislukkings in hierdie verband nie? 

Wel, Jesus bedoel seker definitief wat Hy sê. As ons nie hierdie uitsprake glo nie, wat kan ons dan glo? Kan ons dan hoegenaamd ons ewigheidstoekoms in Sy hande laat? Jesus bedoel dus verseker wat Hy sê. Die vraag is net wat presies sê Hy? Ek dink dis so moeilik nie, ons moet net erns maak met die konteks waarin Hy dit sê. 

GROTER WERKE AS JESUS 

Kom ons kyk eers na Sy voorafgaande uitspraak in vers 12. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Dis natuurlik opsigself omstrede en word baie uit verband geruk, maar ek wil nie te veel aandag hieraan bestee nie. 

Net die volgende : Jesus het so pas ‘n oproep tot geloof gedoen. “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” (11) Hierdie appèl word nou voortgesit in vers 12-14 deur te fokus op die vrug wat elkeen wat in Hom glo sal voortbring en geniet. Dan koppel Jesus ‘n ongelooflike, ‘n verbysterende belofte (wat mens se asem wil wegslaan) aan geloof. Die wat in Hom glo sal nog groter werke doen as Hy. Nie omdat so ‘n persoon groter as Jesus sal wees nie, maar omdat Jesus na Sy Vader gaan. 

Wat presies beteken groter werke? Dit kan nie beteken dat die kerk (in aantal) meer werke as Jesus sou doen nie. As dit die bedoeling was sou Jesus dit gesê het. Daar is Griekse woorde om dit te sê. Groter werke kan tog ook nie beteken meer spektakulêr of meer bonatuurlik nie. Watter Christen deur die eeue het al iets meer opspraakwekkend en bonatuurlik gedoen as die opwekking van Lasarus (vier dae dood), die vermeerdering van brood of het op die water geloop? 

Die sleutel* tot verstaan is die frase “omdat ek na my Vader gaan” Jesus se dissipels gaan groter werk as Hy doen omdat Hy na Sy Vader gaan - dit beteken nie dat hulle nou groter ruimte vir aktiwiteit sal hê omdat Hy nou weg is en as‘t ware die turf aan hulle oorgegee het nie. Nee, dit beteken die basis vir hulle groter werke is Jesus se weggaan na die Vader. Hulle werke sal juis groter wees as gevolg van die nuwe bedeling wat Sy weggaan na die Vader tot gevolg sal hê. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling. 

Voor Jesus se verheerliking (kruis, opstanding en hemelvaart) was alles nog versluier en vaag. Die dissipels self het ten spyte van die wonderwerke nie alles duidelik verstaan nie. Hulle sou byv. nooit kon droom dat alle nasies moet deel kry aan die kerk en koninkryk nie! (Dink aan die keer toe hulle vuur uit die hemel wou afbid om die Samaritane te verteer; eers na Jesus se verheerliking en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan hulle dat Samaritane hulle kan bekeer en deel word van die kerk as nuwe Messiaanse gemeenskap)** Selfs direk voor Jesus se hemelvaart, was hulle visie beperk en het hulle nog ‘n aardse koninkryk verwag met Jerusalem as sentrum. (Handelinge 1:6) 

Eers as gevolg van Jesus verheerliking en na Sy verheerliking sal Sy volgelinge Hom in alles wat Hy is en doen werklik ken en dit aan ander bekend maak. Hulle werke is groter want dis werke wat voortvloei vanuit die afhandeling van Jesus se werk aan die kruis en die opstanding. Dan eers sal hulle die volle heerlikheid van Jesus besef en dan sal hulle Hom so kan verkondig. (Deur hulle lewenswyse, wonders en veral prediking!) Die gevolg van hierdie groter werke na Jesus se verheerliking sal wees dat baie meer mense in die Messiaanse gemeenskap, die kerk ingebring sal word. Jesus self het maar net ‘n bediening van drie jaar beperk tot Palestina gehad met ‘n klein klompie ware volgelinge. Dit gaan natuurlik nie net oor getalle as sodanig nie, dit gaan oor die krag en die helderheid van die evangelie boodskap en sy konsekwensies wat sal opbloei in die nuwe fase wat sou volg na Jesus se weggaan. 

Groter werke gaan dus oor die totale vrug van die dissipels binne die konteks van die nuwe bedeling wat sou aanbreek met Jesus se verheerliking. (Sy weggaan na die Vader en die koms van die Gees) 

Weereens, onthou die tyd voor Jesus se kruis en opstanding was nog ‘n tydelike fase, die prys was nog nie betaal nie, die Gees het nog nie gekom nie, die kerk het nog nie begin vorm aanneem nie, die evangelie is maar nog net so stuk-stuk verstaan. Dit alles sou verander met sy weggaan! Dit het. Ons leef voorwaar nou in ‘n bedeling van groter werke! 

GEBED EN VRUG 

Nou kom ons by die eintlike saak van die gebed Die rede waarom groter dinge na die weggaan van Jesus gedoen sal word nou gegee in 13 en 14. Die dissipels se groter werke, naamlik vrugdra is die produk van hulle gebede. Gebede in Jesus se Naam. Dit bewys verder dat die kontras nie lê in die finale sin tussen Jesus se werke en sy dissipels se werke nie, maar tussen Jesus se werke wat Hy self op aarde gedoen het en dit wat Hy nou deur Sy dissipels gaan doen na Sy dood en verheerliking. Jesus gaan voort met Sy werk met groter werke deur Sy dissipels - die hele boek Handelinge is ‘n bevestiging daarvan.*** 

Die uitsprake van Jesus oor gebed moet verstaan word in die konteks van hierdie groter werke van die huidige bedeling - of anders gesê die vrugdra van ons as dissipels. Dis ook baie duidelik uit die ander twee gedeeltes. Vrugdra en gebed word telkens aan mekaar gekoppel. (15:8,16) 

Vrugdra vloei voort uit gebed in Jesus se Naam. 

IN DIE NAAM VAN JESUS TOT VERHEERLIKING VAN DIE VADER 

Twee ander temas wat konstant genoem word, en ons verder insig gee in die aard van die gebed wat Jesus bedoel,  is : Gebed in die Naam van Jesus en tot die verheerliking van die Vader. 

Gebed in Jesus se Naam behels nie bloot dat ons ons gebede in Sy Naam afsluit nie. Jesus se Naam is nie ‘n magiese woord wat dinge laat gebeur nie. Gebede in SY naam is gebede wat in ooreenstemming is met alles waarvoor Hy staan. In lyn met sy bedoeling en karakter. Waarvoor staan Jesus? Vir die wil van SY Vader. Daarom is een van die vereistes vir ware gebed - “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh 5:14) Pas dit waarvoor ek nou bid by Jesus se wese en karakter? 

Bring hierdie dinge eer aan God of wil ek God misbruik vir my mensgerigte skemas en ambisies? 

Verder gaan dit daaroor dat ons in ons gebede erken dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Hy self is ons toegang tot die Vader. Sy teenwoordigheid aan die regterhand van God maak die troon van God ’n genadetroon. (Hebr 4:14-16)

Die doel van die gebed, die gerigtheid van die gebed is die verheerliking van die Vader. Gedurende Sy aardse lewe was dit die konstante doel van Jesus om Sy Vader te verheerlik, eer aan hom te bring.**** Met die oog hierop gaan Hy na die kruis. Jesus weier selfs om vir Homself brood uit klippe te maak, want dit sou beteken dat Hy nie meer gerig sou wees op die wil van die Vader nie. God se wil vir Sy Seun was volmaakte gehoorsaamheid en lyding! Na Jesus se verheerliking gaan Jesus se doel nie verander nie. Deur gebed in Sy Naam gaan Hy nou Sy dissipels in staat stel om groter werke te doen, om vrug te dra sodat Sy Vader daardeur verheerlik kan word. 

Ons sit Jesus se werk voort, of liewer Jesus sit Sy werk op nog ‘n heerliker skaal voort deur ons. Deur gebed in Sy naam word ons in staat gestel om vrug te dra en so Sy doel naamlik die verheerliking van die Vader te verwesentlik. Deur gebed word ons ingeskakel by Jesus se werk om die Vader te verheerlik! Onbegryplik diep en heerlik! 

Hier kom dus ‘n paar belangrike stukke lering oor gebed na vore: 

‘n Ware dissipel bid vir vrug. Vrug is dit wat eer bring aan God se naam. Wat bring eer aan God se Naam? Deur Jesus te leef en te verkondig... Ook ten spyte van en binne-in my moeilike omstandighede! Hierdie soort van gebed se sukses word deur Jesus gewaarborg. Gebed in Jesus se Naam is die sleutel tot vrug. Vrugdra is nie moontlik sonder voortdurende gebedsafhanklikheid nie. Te min vrug in jou lewe wys daar is te min gebed, gebed in ooreenstemming met dit waarvoor Jesus staan. Te min gebed dui daarop dat daar te min afhanklikheid van Jesus is in my lewe. 

Hier word ‘n hele paar valse idees oor gebed ontbloot: 

Gebed is nie ‘n koue tegniek (wat volgens sekere vaardighede uitgevoer word) nie, maar funksioneer net in ‘n verhouding met God deur Jesus. Ons bid immers tot ons VADER! 

Gebed gaan nie oor persoonlike belange nie, maar het as einddoel die verheerliking van die Vader in die oog. 

Gebed is geen resep wat ons persoonlike gerief waarborg of van vervolging vrywaar nie. (Inteendeel, diegene wat baie bid gaan baie vrugdra en juis swaarkry en vervolg word soos Jesus. Johannes 15:20,21) 

As ons die lering van hierdie gedeelte in ag neem kan mens verstaan waarom baie skyn dissipels teleurgestel word en verklaar dat gebed nie werk nie: 

‘n Skyn dissipel bid nie vir vrug nie maar vir sy eie voordeel en dikwels sondige eie belange. 

‘n Skyn dissipel kan nie werklik in Jesus se Naam bid nie, want Sy motiewe en doel staan teenoor dit waarvoor Jesus staan.

‘n Skyn dissipel bewaar nie Jesus se gebooie nie, daarom sal Sy gebede misluk. Sulke mense verklaar maklik dat Christenskap nie werk nie. (Die ware probleem is egter opstand teen God se gebooie) 

HEERLIKE POSITIEWE MOONTLIKHEID 

Ons is almal in staat om vrug te dra, almal wat waarlik in Jesus glo. Laat ons daarvoor bid. 

Gewaarborgde gebed volgens Jesus se belofte is nie towerstaffie gebed om my op ‘n selfsugtige mensgesentreerde koers aan te help nie, maar is gebed met die hoofdoel om vrug te dra en dit is om ‘n Godverheerlikende lewe te lei! 

Ons gaan gebedsverhoring begin beleef wanneer ons vergeet van onsself en opreg begin bid : “Here, laat my vrugdra!” 

* Daar is 'n soortgelyke uitspraak in Johannes 5:20,21. "Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil."  Die konteks van 5:20 wys dat die groter werke wat die Vader die Seun sal wys en wat die Seun sal toon aan Sy volgelinge, het te make met Sy opstanding. Dit gaan oor die lewendgewende mag van Jesus. Die lewegewende mag van Jesus is afhanklik van Sy dood, opstanding en verheerliking. Hierdie groter ding sluit ook die mag in van Jesus as die Een aan wie die oordeel toevertrou word. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling van lewendgewende evangelieverkondiging. 

** Lukas 9:51ev 

*** “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;” (Hand 1:1,2) Die implikasie is dat die evangelie gaan oor die werke wat Jesus BEGIN doen het. Die boek Handelinge gaan oor die werke waarmee Jesus nou AANGAAN deur Sy Gees met die apostels as instrumente.

Martin Rautanen, die pionier sendeling in Owamboland se gebede het nie tot gerief en gemak gelei nie (ses van sy nege kinders is vroeg dood), maar wel tot blywende vrug!

Vrydag 08 Maart 2019

OOMBLIK VAN WAARHEID!

Die NGKN (NG Kerk in Namibië) staan op ‘n kruispad! Gaan ons geloofsmoed aan die dag lê? Gaan ons God meer gehoorsaam wees as mense? 

[net 'n paar baie vinnige en voorlopige gedagtes]

WAT HET NOU GEBEUR? 

Net vinnig die agtergrond. In 2015 het die Algemene Sinode van die NGK skielik en onverwags ‘n uiters liberale besluit oor die homo kwessie geneem wat daarop sou neerkom dat praktiserende homoseksuele predikante kon word. Jy kan maar sê : “Die kerk is met die broek op die knieë gevang.” (geen woordspeling bedoel) Daar was onmiddellik hewige teenkanting teen hierdie goddelose besluit. Verskeie gemeentes (waaronder NGK Tsumeb, NGK Otjiwarongo ens.) het luidkeels beswaar gemaak. Daarna het ook verskeie streeksinodes hulle teen hierdie onaanvaarbare besluit uitgespreek. Ook die sinode van die NGK in Namibië het ‘n besluit geneem teen die inhoud van die Sinodebesluit van 2015. In 2016 is daar ‘n spesiale vergadering van die Algemene sinode byeen geroep waar die saak weer op die tafel gekom het. Hierdie sinode het toe die 2015 besluite de facto OMGEKEER! Die gay aktiviste in die NGK was egter nie tevrede nie en ‘n groep van hulle waaronder die bekende Laurie Gaum en ook teologie dosente van die univeriteit van Stellenbosch het toe ‘n hofsaak teen die NGK gemaak. 

Uitspraak is voorbehou en is toe vandag 8 Maart 2019 gelewer. Die hof het ten gunste van die aktiviste beslis. Hiervolgens is die sinode besluite van 2016 nou ongeldig en die goddelose besluite van 2015 weer geldig. Skokkend, afgryslik en tragies! *

Hierdie toedrag van sake bring ons by 'n belangrike kwessie...

KERK EN STAAT 

Die strydende kerk van Jesus Christus bestaan uit mense op aarde. As aardse bewoners is ons net soos ander mense aan landswette onderworpe. Hieroor is die Skrif baie duidelik.** Alle gesag, ook staatsgesag en regterlike gesag word afgelei van Goddelike gesag. Christene moet modelburgers wees in hulle goeie gedrag en gehoorsaamheid aan landswette en gesagstrukture. So versier ons die evangelie en maak dit aantreklik te midde van n goddelose wêreld. 

Alles werk egter nie altyd so eenvoudig nie. Die magte van die duisternis is immers nog steeds baie aktief op aarde. Dit gebeur dus ook dat daar gesagstrukture kan wees wat ons wil dwing om aan die evangelie en ons Koning, Jesus Christus ongehoorsaam te wees. In Handelinge kry ons juis so ‘n geval. Petrus en Johannes verskyn voor ‘n aardse gesagsliggaam, die Joodse Raad. Hierdie Raad verbied hulle om verder van Jesus te getuig. Wat was hulle reaksie? “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Handelinge 4:19,20) 

Ware gelowiges is aan God meer gehoorsaam as aan die openbare mening of landswette wat teen God se Woord indruis!

Die kerk van Jesus in Suid-Afrika (en meer spesifiek die NGK) beleef toenemend ‘n situasie waar die grondwet en staat druk op ons gaan toepas om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie hofsaak is maar die begin. Die gay aktiviste gaan hulle aanslag beslis ook na ander kerkverbande uitbrei! 'n Baie gevaarlike presedent is geskep...

WAT STAAN DIE NG KERK NOU TE DOEN? 

Die NGK kan natuurlik appelleer. Op hierdie stadium weet ek nog nie of dit gaan gebeur nie. 

Die NGK kan by die uitspraak berus, maar dit sou beteken dat die NGK nie meer die koningsheerskappy van Jesus as oppergesag erken nie! 

Die NGK kan die uitspraak ignoreer en so verder hofsake en vervolging op die lyf loop. Het ons nog die moed daarvoor? Veral gesien teen die feit dat die kerkleiding verdeeld is oor die gaykwessie en gemeentes soos Parke gemeente in Kraaifontein hulle in elk geval nie daaraan gesteur het nie.

Alle predikante en lidmate van die NGK wat Jesus se oppergesag erken sou kon bedank! Wat sou dan die pad vorentoe wees...? Waarheen moet al die herderlose skape gaan?

Ons in Namibië is in ‘n unieke posisie! 

Die NGK in Namibië kan binne die riglyne van die kerkorde ons wettig afskei van die Algemene Sinode van die NGK. 


Dit is volgens my eie opinie die gepaste opsie in hierdie tydsgewrig. Die AS neem in elk geval lankal reeds besluite wat in stryd is met die Skrif en die teologiese instellings in Suid-Afrika waar leraars opgelei word is lankal reeds tot op die been verrot. Namibiese broers en susters, dis nou die tyd om wakker te word en vir die waarheid op te staan!

Intussen moet ons nou nie paniekerig raak nie. Dis veral belangrik om te onthou dat die plaaslike kerk, volledig kerk is. (ecclesia completa) Prakties vir ons beteken dit dat die NG Kerk Tsumeb volledig kerk is met sy eie kerkraad wat die gemeente onder heerskappy van Christus regeer deur middel van die Woord en Gees. NGK Tsumeb se standpunte oor die hele gay kwessie is baie duidelik. (Kliek op TSUMEB STANDPUNT)

*Regters Sulette Potterill, Joseph Raulinga en Daisy Molefe het geoordeel dat die kerk se 2016 besluit onwettig en ongeldig is. Die hof het besluit dat dit onbillik is om lede van die kerk uit te sluit  van alle regte en vryhede wat die kerk bied op grond van hulle seksuele oriëntasie.

**Romeine 13:1-5


Oomblik van waarheid vir die kerk in die Dorsland!

Donderdag 07 Maart 2019

BRIEF UIT TAFELBERG


Gelukkig is alle NG Kerke in die Kaap nog nie saam met NG Kerk Parke op 'n duistere dwaalpad nie. Die leraar van die NG Kerk Tafelberg het 'n duidelike brief  van beswaar en vermaning aan die NG Kerk Parke en die Ring van Durbanville gestuur. Dankie dr. Chris Saayman!


Van: Dr C Saayman
Leraar: Tafelberg NG Kerk

Aan: Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Kerk Parke >> kantoor@parke.co.za

Aan: Die Voorsitter van die Ringskommissie
Ring van Durbanville >> carika@sonstraal.org.za

6 Maart 2019

Geagte kollegas

BEROEP EN BEVESTIGING VAN DS L VAN DER RIET

Met groot ontsteltenis het ek daarvan kennis geneem dat ‘n praktiserende homoseksuele persoon in NG Parke as leraar bevestig is aangesien dit strydig is met die Skrif asook die besluit van AS 2016.

Uit ‘n onlangse media-onderhoud met die leraar, blyk dit dat daar geen vooraf onderneming tot selibaatskap van hom vereis was nie. Hy verklaar naamlik - volgens Netwerk 24 - dat hy (sonder enige berou) voorheen in ‘n homoseksuele verhouding met ‘n priester van die VSA betrokke was en dat hy - indien die geleentheid hom voordoen - weer in ‘n verhouding betrokke sal raak en ook met ‘n man sal trou in dieselfde gemeente waar hy tans predikant is. Hy is immers “nie net homoseksueel van sy middellyf af boontoe” nie.

Dit kom dus voor asof AS 2016 eenvoudig onder die mat ingevee is. Wat nog te sê die heldere en duidelike getuienis van die Skrif.

My vrees is dat nie net die kerkraad nie, maar ook die Ring wat instemming verleen het, skuldig is aan iets wat indruis teen God se Woord. Dit sluit die Moderator van die NG Kerk in - wat namens die kerk verklaar het dat die kerk “oneindig trots” is op Ds vd Riet. Hier is diepe inkeer en bekering nodig.

Het die kerk se skande dan nou sy trots geword? Is dit nie tragies dat kerkleiers so maklik kapituleer voor die aanslag van die wêreld se “gay-agenda” en liberale Bybelloënende progressiewe denke nie?

Hierdie aangeleentheid gaan die NG Kerk onberekenbare skade berokken. Daarom my afkeur en beswaar teen hierdie toedrag van sake.

Ek dink die kerkraad en Ring is aan die NG Kerk as geheel ‘n verduideliking & apologie verskuldig.

Daarbenewens behoort daar onmiddelik van die betrokke leraar ‘n skriftelike onderneming tot selibaatskap vereis te word.


Die uwe

Dr Chris Saayman - Leraar: Tafelberg Gemeente 





Woensdag 06 Maart 2019

KRAAIFONTEIN (PARKE GEMEENTE)

BEKEER JULLE!



Ons weet teen die tyd seker almal dat die NGK Parke gemeente (in Kraaifontein) in die Kaap ‘n openlik homoseksuele predikant aangestel het. Dit veroorsaak natuurlik (tereg) groot bohaai en ontsteltenis by God se kinders in alle kerkverbande. 



In my persoonlike hoedanigheid as leraar van die NG Kerk Tsumeb wil ek myself net kortliks hieroor uitspreek ter wille van duidelikheid en vir die rekord : 



1.Die aanstelling van ‘n openlike homoseksueel as leraar by die NGK Parke gemeente vervul my met afgryse, skok en hartseer. 



2.Ek wil in nederigheid op grond van die Heilige Skrif, NGK Parke gemeente oproep tot bekering! 


3.Ek wil weer onder almal se aandag bring dat die NGK Tsumeb se uitvoerige en gebalanseerde standpunt oor homoseksualiteit gevind kan word by TSUMEB SE STANDPUNT (Kyk spesifiek na Bylaag A) 

4.Ek wil graag alle broers en susters daaraan herinner dat die plaaslike kerk, selfstandig kerk is. (ecclesia completa) Die NG Kerk Tsumeb is dus ‘n selfstandige kerk van Jesus Christus onder Sy gesag onder leiding van die ampte met die Woord, gebruik deur die Gees as norm. (Dit beteken natuurlik nie dat ons volmaak is nie, maar wel dat ons ons Here in gehoorsaamheid probeer volg te midde van ons gebrokenheid.) As ander NG Kerke dwaal beteken dit nie dat alle NG Kerke dwaal nie! Dis wel baie hartseer as ander kerke in dieselfde verband of ander verbande die smal pad byster raak en dis ons plig om hulle dan op te roep tot bekering. 

5. Ek wil my dank betuig teenoor ds. Hector Jooste van NGK Otjiwarongo wat hom ook baie sterk uitgespreek het teen hierdie vreeslike daad van afvalligheid. Ek doen 'n nederige beroep op ander kerke en leraars om ook onbeskaamd standpunt in te neem teen alle dwaling en verval.

In Sy diens
Johannes de Koning

Naskrif : Lees gerus die reguit brief van Dr. Chris Saayman van NGK Tafelberg aan NGK Parke gemeente en die Ring van Durbanville. (Kliek op BRIEF)

Vrydag 01 Maart 2019

KRY WEER LEWE!


- Die lewe wat die Gees gee deur die Woord! 



Wat moet ek doen as my liefde vir Jesus flou geword het? Wat staan my te doen as ek my geestelike woema en vreugde verloor het? Wat is die oplossing as my geestelike vlammetjie laag en effentjies brand? Of as ek afvallig geword het? Dis ‘n vraag waarmee elke kind van God iewers langs die pad te doen kry. Ons bly nie altyd op ‘n geestelike hoogtepunt nie! Daar is nie altyd ‘n liefdesywer vir God en sy mense in ons hart nie. 

Nou is daar ‘n paar groot gevare wat dreig as God se kinders deur sulke dooie en dor tye gaan : 

1.Ons gee maklik moed op. “Nee wat Christenskap is nie vir my nie, dit werk nie! Ek gaan als maar los." 

2.Ons aanvaar die geestelike louheid en doodsheid as normaal. “Ag, ek sal maar net so met die uiterlike rituele voortgaan al het ek geen vreugde of passie meer nie. Ek sal maar net voorgee dat als goed gaan. Dit lyk in elk geval nie juis of dit met ander Christene veel beter gaan nie” 

3.Ons gryp in radeloosheid na allerhande kunsmatige oplossings en oppervlakkige ervarings. ‘n Nuwe kerk, een of ander nuwe lering, ‘n kitsplan vir geestelike lewe…. “Ek moet dalk net ‘n slag omval (slain in the Spirit), miskien ‘n paar Gospel konserte bywoon, dalk iets nuuts ontdek of doen, soos om die Joodse sabbat te begin hou…" 

JESUS VERTEL ONS DUIDELIK WAAR LEWE VANDAAN KOM… 

Hier in Johannes 6:63 maak Jesus self ‘n baie belangrike uitspraak oor die geestelike lewe. 

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self (Grieks = vlees) kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” 

Die kernwaarheid is : 

Die Heilige Gees bring ware lewe, nie die vlees (mens) nie! 

Dit het in hierdie konteks daaroor gegaan dat baie van Jesus se dissipels aanstoot geneem het oor die dinge wat Jesus gesê het. (Vgl. 6:53) Nou wil Jesus sê : “As julle hierdie dinge op ‘n bloot vleeslike/menslike manier probeer verstaan gaan dit julle nêrens bring nie! Menslike pogings en prestasies kan nie ware lewe gee nie, net die Gees kan.” 

Mensgemaakte kitsoplossings gaan nie jou Christen blydskap en vreugde weer herstel nie! 

GEES EN WOORD 

Twee opvallende sake kom hier in Jesus se woorde na vore. Die onmisbare belangrikheid van Gees en Woord. Beide sake se wortels gaan terug na die Ou Testament. 

Dwarsdeur die Ou Testament word dit duidelik gesê dat die Gees lewe bewerk. Dis ‘n basiese waarheid. Vir ware lewe is ons totaal afhanklik van die Gees van God, die Heilige Gees! Reeds in Genesis 1:2 by die skepping word ons gewys op die onmisbare belangrikheid van God se Gees. ‘n Ander dramatiese voorbeeld van die Gees wat lewe gee is die visioen van die vlakte met die doodsbeendere in Esegiël 37

In die Johannes evangelie word die onmisbare rol van die Gees keer op keer beklemtoon. Een van die belangrikste plekke is in Jesus se verduideliking van die wedergeboorte aan Nikodemus in hoofstuk 3. 

“Daarop sê Jesus vir hom: "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." 
Nikodemus vra Hom toe: "Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?" 
Jesus het geantwoord: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 
Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 
Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." (3:5-8) 

Geen lewe is moontlik sonder die lewendmakende Gees van God nie! 

Daarom is dit so belangrik dat die Gees op Jesus neergedaal het! (1:32 ev) Baie belangrik – Jesus het nie net die Gees op ‘n beperkte manier of vir ‘n tyd lank beleef nie. Nee. Ons lees hierdie wonderlike uitspraak in 3:34 – “God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking.” Jesus beleef die onbeperkte teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees! Nou verstaan mens wat Jesus in die tweede deel van vers 63 sê : “Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” (NAB) of “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (OAV) Omdat Jesus absoluut vol van die Heilige Gees is, is sy woorde die produk van die lewegewende Gees. 

En dit bring ons by ‘n belangrike saak : 

Jesus se woorde as ons dit hoor,
verstaan en absorbeer, wek ware lewe! 

Die oplossing vir jou louheid en flouheid is hier... in jou hande! Jesus se woorde maak die verskil! Dis wat Jesus vir die dissipels hier probeer oordra – “As julle my woorde reg verstaan dan sal julle nie aanstoot aan my neem nie, maar julle sal my aanvaar as die brood van die lewe!” 

Om Christus as die Brood van die lewe te eet is om sy woorde te eet en te absorbeer in jou lewe. Om Jesus te ken kan nie losgemaak word van om sy woorde te ken en te glo nie! Omdat Jesus vol van die Gees is, is dit sy woorde wat ware lewe in ons wek! 

Weereens, hierdie waarheid vind ons alreeds in die Ou Testament. Kyk na Deuteronomium 8:3. “Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Hierdie woorde is Jesus self, dis sy woorde. Jesus se woorde is dus ons bron van lewe! Dit herinner sterk aan die uitspraak van die profeet, Jeremia. “Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God.” (Jeremia 15:6) 

VAT SAAM: 

1.Ware lewe kom van die Gees en die Woord. Daar is ‘n onlosmaaklike verband tussen die Gees en die Woord. Jesus se Woorde kom van die Gees en het lewendmakende krag. Jesus se woorde as ons dit ernstig opneem het lewendmakende krag! Hierdie woorde het ons in die Skrif! Pasop vir ‘n valse onderskeid as mense ewe vroom beweer : “Ek soek die Gees, die Woord is maar net letters!” 

2.As my geestelike lewe verflou het, moet ek dus opnuut erns met die Skrif maak. Ek moet tyd en moeite doen om die woorde van Jesus te verstaan, maar ook glo en absorbeer in my lewe. 

3.Pasop vir kitsoplossings en kortpaaie. Net soos ‘n wiskundeboek onder jou kopkussing jou niks baat nie, gaan ‘n Bybel op jou bedkassie ook nie veel help nie. Jy leef dalk vir jare en jare in dorheid, omdat die woorde van Jesus vir jou onbekend is of geslote is. Pasop vir skynoplossings – tegnieke en metodes wat net vir ‘n tydjie emosies opjaag, maar dis nie gebou op ‘n suiwer verstaan van die woorde van Jesus nie. 

4.Jesus wil vir ons die volle lewe gee. Dis ‘n lewe van oorvloed. “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Joh 10:10) Dit het hier niks te doen met loopbaansukses, geld of gesondheid nie. Dit gaan daaroor om voortdurend met Hom in gemeenskap te leef. 

IS JOU WOEMA WEG? BEGIN OM ERNS TE MAAK MET DIE WOORD!