BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Homoseksuele gedrag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Homoseksuele gedrag. Wys alle plasings

Dinsdag 08 Junie 2021

VERGEET DEUR DIE KERK

  - JA, DAAR IS 'N WOORD WAT STILWEG DEUR DIE KERK VERGEET IS!

'n Woord wat mens baie selde van kansels af hoor. En letterlik ken die meeste van ons jong lidmate glad nie eers meer die betekenis van die woord in Afrikaans nie. Dis egter ‘n woord wat gebruik is deur die heiliges van beide die Ou en die Nuwe Testament. Johannes die Doper het dit ook gebruik. Ons lees daarvan in sy prediking in Lukas 3:1-19 (lees dit gerus eers deur in jou Bybel)

Wat is dit?  TOORN



  Die woord het so skaars geword, kom ons kyk net eers wat dit beteken. Toorn gaan oor God se heilige regverdige woede, wraak en oordeel.  Dis nie ‘n sondige wispelturige onbeheerbare uitbarsting van woede  soos ons by mense kry nie. Dis God se heilige afsku van als wat sleg en verfoeilik is omdat God waarlik God is en net   GOED en HEILIG is! 


Johannes die Doper gebruik hierdie woord in die konteks van die komende oordeel. (9)

God se toorn is deel van wie Hy is, soos Hy Homself openbaar het in die geskiedenis, in die mond van sy profete , deur die laaste groot profeet Johannes die Doper maar, ook in die geskrifte van die apostels. Ja, dis deel van God se liefde, want sy liefde is gekant teen als wat sleg is!   Kom ons vat die pad vanaf die Ou Testament.

Voorbeelde uit die Ou Testament

 "Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee."  (Deuteronomium 6:14,15)

"Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word." (Jesaja 13:9)

 “My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.” (Jeremia 12:13)

Nuwe Testament

Nou redeneer mense : “Ja, maar dit was voor Jesus se kruis. Ons leef nou mos na die kruis. Nou bestaan die toorn van God mos nie meer nie. Nou leef ons in die Nuwe Testament. Die tyd van Jesus en sy kerk en dis net liefde sonder toorn.”  Vriend, wees vriendelik gewaarsku, dis ‘n vals idee. As Paulus die evangelie verduidelik in Romeine dan doen hy dit teen die agtergrond van die toorn van God. Dis waar hy begin :  “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18)

En terloops dis in hierdie konteks dat hy daarop wys dat God die mens weens sy ontkenning en minagting van God oorgegee het aan dit wat boos en onbetaamlik is... en heel eerste noem hy dan die gruwel van mense wat die natuurlike geslagsverkeer tussen man en vrou verander na ‘n onnatuurlike verkeer tussen vrou en vrou en man en man! 



Hierdie verskriklike verval en verdierliking van die mens is juis deel van God se uitgieting van sy toorn oor ‘n sondige mensdom.





Dis die deurlopende boodskap van Genesis tot Openbaring is  - sonde wek God se toorn op en Hy straf dit. Die uitdryf van Adam en Eva uit die paradys, die vervloeking van die aarde, die verwoesting deur die sondvloed in die tyd van Noag, die uitwissing van Sodom en Gomorra,  die oordele oor Egipte en later die Kanaäniete, God wat telkens sy eie volk straf met oorloë en hongersnood, die verwoesting van Jerusalem en die tempel, die uitdryf van Israel uit hulle land en die wegvoering in ballingskap... Ja, ook die sterwe van Jesus aan die kruis en die finale oordeel met die skeiding van skape en bokke.  Die ewige hel! Dit alles maak net sin vanweë God se regverdige TOORN teen sonde! 

GENADE

Maar dis ook net teen hierdie donker agtergrond (van God se toorn) wat die genade sin maak en heerlik helder skyn!. Dis waarom Jesus gekom het, om ons van die toekomstige toorn te verlos.  Paulus skryf hieroor aan die  Christene  in Tessalonika... “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien  en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”  (1 Tessalonisense 1:9,10)

Wat van my en jou? Het ons al besef ons sonde wek God se toorn? Ja, ook die dinge wat die gemeenskap oor grappe maak (dronk word, los verhoudings) en maar stilswyend aanvaar. Ook die dinge wat deur Hollywood en die Huisgenoot goedgepraat word. Laat ons maar weet : God sal nooit sonde goedpraat nie, God sal nooit sy standaarde by ons sondigheid aanpas nie...

Mense is vir baie dinge bang.... vir die Sjinese virus, ekonomiese ineenstorting, vir die donker wolke van wanbestuur, korrupsie  en anargie. Ons moet eerder  bang wees vir God se toorn

En ja in sy liefde het God inderdaad vir ons 'n uitkoms gegee!

Die enigste skuilplek  is Jesus!   Die volledige vergifnis in Hom is ons enigste hoop. Draai jou rug op sonde vlug na Hom. Vlug soos Lot die opdrag gekry het om uit Sodom te vlug weens die aankomende toorn en  wraak van God. Hy het reageer, maar sy aanstaande skoonseuns het gedink dis ‘n grap. (Genesis 19:14) 

Het jy al van sonde gevlug en kom skuil by Jesus?

et jy al kom skuil by jesus?Het HHHHH


Terug by Johannes die Doper. Was Johannes dan net ‘n verdoemende oordeelsprediker? NEE. Nee hy was nié ‘n tipiese raasbek helvuurnar nie. Hy was  volgens Lukas ‘n verkondiger van die evangelie, die goeie nuus! 

Maar neem kennis, die verkondiging van God se toorn is deel van evangelieverkondiging in die volledige sin van die woord. En belangrik,  Johannes het nie net van die toorn van God gepraat as dit vir hom veilig was nie. Nee hy het hierdie boodskap van God se haat vir sonde persoonlik aan Herodes oorgedra. Herodes het sy broer se vrou gevat en Johannes het hom dapper aangevat!  “Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.” (19) Ons weet dit het uiteindelik sy lewe (kop) gekos! 


Ware profete van die volle waarheid van God soos Johannes die Doper is skaars. Dis net hulle wat durf praat oor die komende oordeel en toorn van God! Die rede is eenvoudig : Normaalweg kry hulle nie erepennings, eredoktorsgrade of Nobelpryse nie, nee, hulle koppe eindig op skinkborde! Die skinkbord van openbare veragting, familie verwerping  of  selfs sinodale uitsluiting en isolasie!  Maar dit maak nie saak nie - ons moet erns maak met die volle waarheid van God se Woord!

Belangrike naskrif!  Miskien het jy nog steeds 'n beswaar : "Ja, ek verstaan dat God toornig kan wees, maar
TOORN is nog steeds nie vir my 'n woord wat by Jesus pas nie! Jesus is tog so sag en liefdevol. Hy is tog die LAM!"  Jy is reg vriend, Jesus is inderdaad liefdevol. Die Lam wat sy lewe vir ons geoffer het! Maar ons lees inderdaad direk van sy TOORN. Mense sal eendag in angs vir sy toorn probeer wegkruip. Ons lees in Openbaring 6:16 - "
Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam."

Donderdag 30 Junie 2016

SO GEBORE?

- een van die algemeenste argumente van die pro gay propaganda in die kerk is sterk onder verdenking!

Dis een van die  argumente wat mens dikwels moet aanhoor in die kerklike gay debat (en vir sommige baie oortuigend klink) : "Gays is so gebore, hoekom kan ons dan sê dat dit wat hulle doen sonde is?"  of "Jy kan niks aan jou seksuele oriëntasie verander nie, jy is so gemaak en so laat staan."

Daar is natuurlik baie redes waarom 'n Christen nie vir bogenoemde argumente sal val nie. Ons is immers almal in sonde ontvang en gebore. Dit regverdig nie ons verkeerde dade nie, maar beklemtoon juis die belangrikheid van die wedergeboorte. Daar kan inderdaad baie faktore wees wat 'n rol speel in sondige gedrag soos in die geval van alkoholisme of kindermishandeling (oorerflike faktore, omgewingsfaktore ens), maar dit maak nie sonde minder sondig nie of meer aanvaarbaar nie! Dieselfde geld vir homoseksuele gedrag.

Dis egter baie interessant dat daar ook in die sekulêre wêreld stemme opgaan wat erken dat "gays nie noodwendig so gebore is nie" 'n Mens hoop maar net dat party kerklikes wat die Bybel se boodskap wil onderspeel deur sogenaamde wetenskaplike argumente oor homoseksuele oriëntasie deeglik hiervan sal kennis neem.

'n Gay skrywer maak onder andere die volgende opmerkings:


"So what are we to do with the Born This Way rhetoric? I would suggest that it’s time to build a more nuanced argument — regardless of how good a pop song the current one makes.

There are several reasons for this. Firstly, and most importantly, it’s just not the truth, as we currently understand it. The evidence to date offers no consensus that the Born This Way argument is the beginning and end of the story. We should stop pretending that it does...


I don’t think I was born gay. I don’t think I was born straight. I was born the way all of us are born: as a human being with a seemingly infinite capacity to announce myself, to re-announce myself, to try on new identities like spring raincoats, to play with limiting categories, to challenge them and topple them, to cultivate my tastes and preferences, and, most importantly, to love and to receive love."


Op die ou end gaan dit oor die mens wat self wil baas wees en self besluit wie hy wil wees en wat hy wil doen...


Vrydag 09 Oktober 2015

WAARHEEN NG KERK?

Het die Algemene Sinode nou regtig die doodsklok gelui?



Die skokkende besluit van die NGK se Algemene Sinode (AS) 2015 oor selfdegeslagverhoudings slaan elke Bybelgelowige plat, dit maak jou benoud, kwaad, verleë, hartseer en sommer ‘n klomp ander dinge... Die Sinode het besluit dat sodomie amptelik in die kerk bevestig/geseën mag word! (2.2). Praktiserende homoseksule mag nou predikante word! (2.5) Die feit dat gemeentes self diskresie mag gebruik in die toepassing van hierdie bose besluite (2.6) is maar ‘n klein troos en paai prys in ‘n poging om te keer dat als nie uitmekaar spat nie.



Tog moet mens seker ook nugter oor die praktiese rol, invloed, funksie en werklike gesag van die Algemene Sinode in die NG opset besin voor jy dalk tot oorhaastige gevolgtrekkings en aksies oorgaan.

Glo dit as jy wil, die AS het eintlik hoofsaaklik ‘n simboliese rol in die daaglikse praktyk van NG gemeentes. Kom ek stel dit maar kaalkop reguit : min lidmate steur hulle hoegenaamd nog aan die AS, omdat daar ‘n reuse verwydering tussen die elite leierskorps en gewone gelowige lidmate ontstaan het. Die Belhar katastrofe het dit onlangs mos weer duidelik bewys. Die AS het Belhar as opsionele belydenis goedgekeur maar die kerkvolk (veral op gemeentevlak) het dit duidelik verwerp! Maar daar is ook baie ander besluite van die AS waaraan lippediens bewys word, maar wat niemand juis ernstig opvat nie en waar elke predikant en gemeente maar maak soos hulle wil. Dink maar aan die VBO puntestelsel vir leraars. Daar is min ouens wat dit nog ernstig opvat en die administrasie daarvan is chaoties! Maar ook oor ander omstrede sake soos die vrou in die amp en kindernagmaal of oor wie laat ons op ons kansels toe, maak elke gemeente regtig maar soos hy wil.

Die AS verdien nie juis om ernstig opgevat te word nie en is bekend vir oorhaastige ondeurdagte besluite. ‘n Paar jaar gelede (ek was toe nog predikant binne die Sinode van Noord-Kaapland) is daar met groot fanfare ‘n aksie deur ABID geloods om ‘n sentrale registerstelsel vir lidmate op die been te bring. Dit het totaal misluk. (gaan vra hulle maar hoekom?)

Op papier lyk die AS se rol indrukwekkend en gaan gepaard met groot vertoon, maar in praktyk het dit weinig meer gesag as die van ‘n skooldebatsvereniging se dagbestuur.

Die samestelling van die AS het ook noodwendig meegebring dat hierdie liggaam weinig geloofwaardigheid het. Dis ‘n verkleinde sinode waarop nie elke gemeente verteenwoordig is nie. Dit het tot gevolg dat 200 mense (helfte ouderlinge, helfte predikante) besluite neem vir ‘n hele groot kerk. Die samestelling van die AS bevorder liberalisme, want die NG Kerk se liberale fakulteite word verteenwoordig deur dosente wat as ouderlinge in die sinode dien.

En dis by hierdie einste fakulteite waar die dood in die pot gevind en gebrou word. Hier word ons teologiese studente opgemors in plaas van opgelei. Dit voorspel niks goeds vir ons kerk se toekoms nie... Maar ek voorsien dat NG gemeentes al meer ander opsies sal oorweeg as bron vir nuwe predikante. As ons besluit om iemand te beroep wat by ‘n ander Bybelskool of universiteit gestudeer het, wie gaan ons keer? Wat dan van die kerkorde, legitimasie en dergelike dinge, wonder jy? Kom ek vertel jou, die kerkorde word slegs baie bolangs toegepas... Ek kan jou noem van ‘n geval hier in ons einste Namibië waar ‘n predikant sonder ‘n kerkraad hom self sommer demissie verleen het...

Natuurlik veroorsaak die dwalinge van ons AS groot smart en verleentheid, maar op die ou end word die geestelike karakter, temperatuur en handelswyse van ‘n gemeente deur haar kerkraad bepaal. Die AS het dalk regtig die doodsklok gelui (dis seker hoekom hulle op ‘n stadium swart gedra het), maar dis dalk ‘n profesie oor hulle eie bestaan, geloofwaardigheid of aansien en nie noodwendig die einde van Bybelgetroue gemeentes en hulle lidmate nie!

TROOS UIT DIE SKRIF

En nou? Kom ons kyk na die Skrif. Uit 2 Timoteus 3&4 het daar vir my groot bemoediging en duidelikheid gekom.

Die AS (natuurlik nie almal wat daar was nie) word so treffend beskryf : “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.” *

Maar daar is hoop en raad en vertroosting vir elke getroue volgeling van Jesus : 

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” 

Hierdie basis lei tot ‘n baie duidelike opdrag wat ons nie gering mag skat nie :

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Laat ons terwyl die AS hulle met fabels besig hou, die Woord aanhou verkondig!


SELFDEGESLAGVERHOUDINGS


Die Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober soos volg besluit:

1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.

3  Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.

4  Die Algemene Sinode besluit om in die lig van pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone.  Punt 7 van die besluit van 2007 verval.

6  Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.

7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christlike liefde te doen.

8  Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn  ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan.  Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinoge van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.

9 Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite.  Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.

10  Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.

2 Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.
2 Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule  5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination or organisation as marriage officers:  (1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees  “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.


2 Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

[ Die Namibiese regering is dus meer Bybels as die NG Kerk,! Die implikasie is dat die kerk eerder landswette respekteer omdat ons daartoe gedwing word as God se wette wat in Sy Woord staan. Dit troos maar min , want punt 5 is van toepassing en dit beteken in beginsel dat onbekeerde pratiserende homoseksuele predikante bevestig mag word in ons gemeentes]

*Net so 'n raak beskrywing van die AS kry mens in Judas vers 4 "Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."

Dinsdag 22 September 2015

PIENK STELLENBOSCH?


Volgens die aanvullende Agenda van die NG Kerk se Algemene Sinode wat in Oktober sit, gaan die volgende beskrywingspunt voor die sinode dien:

[B.15 SELIBAATVOORWAARDE (BESLUIT 7 VAN 2007) EN MENSWAARDIGHEID VAN HOMOSEKSUELE AFGESTUDEERDES (KURATORIUM STELLENBOSCH) (Soos eenparig ondersteun deur die NG Kerk-dosenteraad) 

BESKRYWINGSPUNT 1. INLEIDING Ons het kennis geneem van die besluite wat in die afgelope jare deur die NG Kerk se Algemene Sinode geneem is (2007, 2013) insake die kwessie van die status van homoseksuele lidmate binne die NG Kerk, asook oor verbintenisse tussen homoseksuele lidmate. Ons is dankbaar dat die NG Kerk volledig ruimte gemaak het vir homoseksuele lidmate in terme van lidmaatskap en met betrekking tot die ampte (Besluit 3 van 2007), en dat die status van homoseksuele lidmate – soos dié van heteroseksuele lidmate – binne die raamwerk van ʼn Bybelse siening oor menswaardigheid gedefinieer word (Besluit 2 van 2007; Besluit 3.4 van 2013). Sommige van ons lede (vanuit die Kuratorium, maar ook vanuit die geledere van die NG Dosenteraad) het deur middel van mondelinge en skriftelike insette (onder andere deur Bybelwetenskaplike publikasies waarin die Bybeltekste wat normaalweg in die gesprek genoem word, ondersoek en uitgelê is) deelgeneem aan die prosesse en ondersoeke wat tot hierdie besluite gelei het. Ons voel onsself egter geroepe om deur hierdie beskrywingspunt standpunt in te neem teen teenstrydighede in die vorige besluite wat die diepste menswees van die studente wat ons oplei en toelaat, raak, en wat getuig van inkonsekwente hermeneutiese omgang met die Bybel. Ons doen dit vanuit die perspektief dat die Kuratorium (soos ook die NG Kerk-dosenteraad) ten nouste betrokke is by teologiese opleiding van voorgenome NG Kerk-predikante, en dat ons intens bewus is van die spannings wat tans heers in die uitvoering van die vorige besluite (deurdat gay persone in vaste verhoudings gelegitimeer kan word, maar nie georden kan word in ʼn gemeente nie). Ons stel dus die beskrywingspunt aan die Sinode, veral omdat ons direk met teologiese opleiding en begeleiding, en die lewering van afgestudeerde predikante aan die NG Kerk te make het. Trouens, ons doen hierdie werk juis omdat die NG Kerk aan ons hierdie opdrag gegee het. Ons glo dus dat die Algemene Sinode van die NG Kerk ons voorstelle by die eersvolgende vergadering biddend sal oorweeg. Ons is oortuig dat die NG Kerk sommige aspekte van die vorige besluite moet heroorweeg – nie slegs weens praktiese oorwegings soos toelating tot die bediening en ordening van afgestudeerdes in gemeentes nie – maar veral op grond van die feit dat die menswaardigheid van homoseksuele afgestudeerdes deur die stel van die selibaatvoorwaarde (Besluit 7 van 2007) in gedrang kom, en dat die geldende besluite nie Bybels-hermeneuties verantwoordbaar is nie. Ons vertrou dat die Algemene Sinode binne die Seisoen vir Menswaardigheid en in ʼn soeke na ʼn verantwoordelike Bybelse hermeneutiek ons voorstelle gunstig sal aanhoor en biddend sal oorweeg.

 2. AANBEVELINGS 2.1 Dat die addisionele voorwaarde van die selibaat (addisioneel tot die voorwaardes wat aan heteroseksuele afgestudeerdes gestel word) as kwalifikasie vir ordening en bediening in ʼn 99 gemeentelike konteks, geskrap sal word en dat Besluit 7 van 2007 daarom gewysig word om soos volg te lees: “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode.” 2.2 Dat Besluit 4 van 2007 vervang word met die volgende bewoording: “Die NG Kerk gee amptelike erkenning aan die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ʼn durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig, en dat hierdie verbintenisse met die seën van die NG Kerk kan geskied.” 

3. MOTIVERINGS (verwysend na bg voorstelle) 3.1 Op grond van ʼn Bybelse siening van menswaardigheid vind ons dit onvanpas dat homoseksuele afgestudeerdes in teologie wat gelegitimeer word ʼn onderneming van die selibaat moet gee alvorens hulle tot gemeentebediening toegelaat kan word. Nie net skep dit ʼn onhoudbare praktiese spanning wanneer homoseksuele persone sonder verdere voorwaardes gelegitimeer kan word, maar dan nie georden kan word sonder die selibaatverbintenis nie, maar hierdie praktyk misken ook die menswaardigheid van homoseksuele persone deurdat dit addisionele voorwaardes aan hulle stel as aan heteroseksuele afgestudeerdes. Dit misken dus ook hul Godgegewe seksualiteit (soos erken in vorige besluite van die NG Kerk). Die stel van die selibaatsvoorwaarde berus voorts op twyfelagtige Bybelse hermeneutiek waar Bybelse gronde die legitimasie van gays in verhoudings toelaat, maar nie ordening in gemeentes nie. Binne die Gereformeerde Protestantse tradisie (anders as in die Rooms-Katolieke tradisie) is die Bybelse aanduidings rondom die selibaat (vir ampsdraers) oor eeue reeds kultureel geïnterpreteer, en word die selibaat nie aan bedienaars voorgeskryf nie. Dit val dus vreemd op dat dieselfde hermeneutiek nie ook gebruik word wanneer dit oor homoseksuele bedienaars handel nie. 3.2 Terwyl erkenning gegee word aan die seksuele oriëntasie van homoseksuele lidmate en die standpunt gehuldig word dat sulke lidmate nie van enige lidmaatskapvoorregte en van die ampte uitgesluit kan word nie, gee die NG Kerk deur die geldende besluit tans nie erkenning aan die feit dat gelowige homoseksuele lidmate – soos gelowige heteroseksuele lidmate – behoefte mag hê om ʼn belofte van liefde en trou voor die Here te maak en hul verbintenis met die seën van die Here te laat bevestig nie. Dit staan dus in spanning met die erkenning van homoseksuele lidmate se seksuele oriëntasie en menswaardigheid. Ten diepste spruit die stel van die selibaatvoorwaarde vir homoseksuele bedienaars uit die NG Kerk se huidige verstaan van die huwelik as ʼn verbintenis tussen een man en een vrou. Daar word onses insiens nie erkenning gegee aan die volgende feite nie: dat (i) die Bybel verskillende kultureel-bepaalde huweliksmodelle weerspieël (vgl bv die verskillende modelle wat in die OT en NT voorkom – verskille wat herlei kan word na die onderskeidelike sosio-kulturele agtergronde waarin hierdie geskrifte ontstaan het); en dat (ii) die Bybelse voorstellings oor die huwelik bepaal is deur ʼn heteronormatiewe samelewing (wat nie daarom homoseksuele verbintenisse per implikasie uitsluit nie).]

Die implikasies van so 'n besluit indien die aanbevelings aanvaar word, sou skrikwekkend wees!

Dit sou beteken dat:
  • Praktiserende homoseksueles predikante in die NG Kerk mag word.
  • Die wese en uniekheid van die huwelik aangetas word as homoseksuele burgerlike verbintenisse kerklik geseën word.

'n Mens kan maar net bid en vertrou dat die AS die aanbevelings van hierdie beskrywingspunt sal verwerp.
'n Mens kan maar net wonder wat die toekoms van ons dierbare kerk gaan wees as die dosente van Stellenbosch wat ons jong leraars moet vorm en lei, hierdie invloede aan hulle studente oordra?
'n Mens moet seker vra of sulke instellings wat blykbaar nie meer buig voor die waarheid van God se Woord nie, nog hoegenaamd op Bybelgetroue lidmate se ondersteuning kan aanspraak maak?

Ons mag nie stilbly oor wat besig is om in ons kerk te gebeur nie. Om stil te bly is gelykstaande aan stilswyende goedkeuring! Met my hele hart wil ek beklemtoon dat dit ons eerste passie en taak moet wees om aan alle mense die evangelie te verkondig en tog kom daar tye wanneer ons moet waarsku teen immoraliteit juis om getrou te bly aan die ware geloof wat eenmaal oorgelewer is! (Judas vers 3,4)


Gaan ons staande bly teen bogenoemde propaganda?

NS Die Aanvullende Agenda van die AS 2015 waarin bogenoemde Beskrywingspunt B15 voorkom kan geraadpleeg word by AANVULLENDE AGENDA (kliek)

Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

Woensdag 02 Oktober 2013

AamBEELD van die Bose?

- BEELD probeer die kerk van die Bybel afboelie.

Dit wil al meer voorkom asof die Afrikaanse pers en by name koerante soos BEELD en RAPPORT (met sy liefde vir ABEL) ‘n verskuilde aanslag teen die kerk van Jesus Christus loods. Mense kan dit afmaak as ‘n tipiese bangmaakstorie of samesweringsteorie uit die kraal van die verkramptes, maar oordeel gerus self...

Woensdag 04 September 2013

PRAKTISERENDE HOMOSEKSUELE PREDIKANTE?

- mag die Algemene Sinode van die NG Kerk 2013 'n Bybelgetroue besluit neem!

Die vae besluit van die Algemene Sinode van 2007 rondom homoseksualiteit is nie genoeg vir die drywers van die gay agenda binne die NG Kerk nie. Hulle gebruik die skuiwergate en wil die bestaande besluit  verder voer deur daarop aan te dring dat praktiserende homoseksuele ook in die predikantsamp toegelaat moet word. Volgens die huidige besluit mag persone met 'n homoseksuele orientasie in die predikantsamp dien, maar met die vereiste dat hulle selibaat moet leef. Die gay aktiviste wil hierdie voorwaarde geskrap sien. Indien hulle hulle sin kry gaan dit alle liefhebbers van die Woord in die NG Kerk in ‘n baie moeilike posisie plaas. Mag die Algemene Sinode waarlik genade ontvang om eerlik te buig voor die gesag van God se Woord...

Hieronder vind jy ‘n uittreksel uit die Algemene Sinode van 2013 se Agenda :

HERSIENINGSVOORSTEL/ BESKRYWINGSPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT

Die Algemene Sinode word versoek om sy besluit oor Homoseksualiteit (Handelinge, 2007,12.2, bl 204) in
hersiening te neem. Die bestaande besluit lui soos volg:
1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele orientasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as 'n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat 'n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer."

Die hersieningsvoorstel lui soos volg:
Die Algemene Sinode (2013) besluit:
1. Die Algemene Sinode herbevestig punte 1, 2, 3, 4, 5 en 8 van die besluit van 2007.
2. Die Algemene Sinode vervang punt 6 van die besluit van 2007 met: "Die Algemene Sinode aanvaar dat daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan, en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen."
3. Die Algemene Sinode vervang punt 7 van die besluit van 2007 met: "Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word."

MOTIVERING:
1. Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wel aan die huwelik herinner, en in ander nie. Die kerk moet ondersoek instel hoe dit kan gebeur sodat aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.
2. Punt 3 van die 2007-besluit verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar word. Dit beteken onder meer "toegang tot die ampte". In punt 7 word wel gesê dat die Algemene Sinode homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toelaat, maar dan word bygevoeg dat hulle "'n selibate lewenstyl (moet) beoefen". As
gedoopte, gelowige homoseksuele mense sonder meer toegelaat word tot al die ampte, kan daar egter nie bykomende eise aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Anders sou aan heteroseksuele predikante ook bykomende eise gestel kon word. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewens daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel. Dit is, op stuk van sake, 'n gewetensaak. Punt 7, ook in sy hersiene vorm, kan desnoods heeltemal weggelaat word, maar dit is in hierdie konteks waarskynlik tog goed as pertinent genoem word dat homoseksuele mense ook predikant kan word – maar dan sonder voorwaardes wat net vir hulle geld.

Kliek ook op TUTU EN SY HOMOFOBIESE HEMEL

NASKRIF :

Die Algemene Sinode het toe die volgende besluit geneem:

Die Algemene Sinode
-      bevestig dat die besluit van 2007oor homoseksualiteit geneem is na `n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
-      gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit `n studie te doen oor die status van selfdegeslag- verhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
-      besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
-      verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid. 

Gesprekke hieronder mag kritiek lewer en soek na verheldering, maar sal streng gemodereer word. Ons vra vir sensitiwiteit en respek, en het tydens die gesprek ons ongemak met taal wat mense objekte maak bevestig. 

[Soos ek dit verstaan sal daar vir die huidige nog steeds van homoseksuele predikante verwag word om selibaat te leef. Hieroor is mens dankbaar. Wat die studie oor selfde geslag verhoudings gaan oplewer is egter 'n vraag...]

Saterdag 01 Junie 2013

AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES :

“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”

So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook  in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel?  Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in Levitikus nie? Julle pick en choose net wat julle pas.”

Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste,  skeptici,  Skrifskenders en  Kletskerk aanhangers  baie oortuigend, maar enigiemand wat met nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien nie.

Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se openbaring is.  “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1)

Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle, skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig.  (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer van Homself aan die kruis was  as finale offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus  Christus het één offer vir die sondes gebring... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.”  (Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n miskenning van sy kruisdood.

Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op die veelbesproke skulpvis?  Hoekom hou Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie? 

VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL

Jesus self het hierdie dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op 'n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus 1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie, maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie. Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!

Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soos Levitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer. Ons kyk egter daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot grondbeginsels  wat  hierdie wette onderlê soos die heiligheid van God (vgl  1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45 ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2)  In so ‘n geval weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1 Korintiërs 6:9-11)

DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE 'N SONDE IS NIE.

En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders? God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet daarstel nie. God se volk  is nou versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament  bemoei hom nie met die voorskryf van burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel...

Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!

O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets, want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!

Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL


*Oor die hele kwessie van die kerk se houding teenoor  die vraagstuk omtrent homoseksualiteit  beoog ek om vorentoe in diepte op in te gaan.

Maandag 27 Mei 2013

GAY AGENDA

- die Franse leer ons dalk ‘n les.


Die aggressiewe drywers van die goddelose gay agenda behaal wêreldwyd sukses met al hoe meer lande wat toegee aan die druk om homoseksuele huwelike te erken. Selfs “burgerlike verbintenisse” wat hulle regte waarborg is nie genoeg nie, nee die huwelik self moet geherdefinieer word om sodoende hierdie kosbare instelling van God te probeer aantas. Frankryk is die 9de land in Europa en die 14de land in die wêreld wat hierdie verfoeisel wettig.

Interessant en merkwaardig is egter die teenstand wat hierdie wet, bekend as la loi Taubira in die hoogs gesekulariseerde Frankryk ontlok het. Daar was die afgelope Sondag weer ‘n reuse betoging hierteen in Parys. Dit inteenstelling met die “Christelike” Suid-Afrika waar homoseksuele huwelike al ‘n geruime tyd gelede feitlik sonder slag of stoot goedgekeur is! ‘n Mens wonder waar was die kerk en al die sogenaamde Christene? Het die heidense Franse dalk meer insig en “common sense” as die Bybelonkundige Christendom van Suid-Afrika?

Natuurlik beteken die onrus wat nou in Frankryk aan die gang is nie dat hulle enigsens wil terugkeer na die Skrif as norm nie, (die ongewildheid van die patetiese Hollande speel ongetwyfeld ‘n rol), maar dit wil amper lyk asof hulle tog meer logies dink as baie “Christen” Suid-Afrikaners! 

Le Figaro, ‘n Franse koerant berig (baie vry vertaal) : Op die podium les Invalides, verduidelik die filosoof Bertrand Vergely dat daar basies baie meer op die spel is as homoseksuele huwelike. Ons verkeer in demokratiese dronkenskap. Ons maak ‘n nuwe mens. Eendag sal iemand jou vra : “Wie is jou pa?” En jy sal antwoord : “Ek weet nie, KI strooitjies van Swede.” “En jou ma?” “ ‘n Maag in Ukraïne.”* Dis half komies, maar wys tog eintlik goed uit dat as die wese van die huwelik bedreig word, die mens in sy diepste bestaan geraak word.



Die gay agenda word op alle fronte gedryf. Juis in Frankryk het die eksplisiete lesbiese drama La Vie d'Adele – Chapitre 1 & 2 (Blue is the Warmest Colour) op die pas afgelope Cannes rolprentfees, die Palme d'Or gewen vir die beste film! Satan slaap nooit, maar is die Christene wakker?

Mag die wêreldwye aanslag van Satan teen die huwelik (ook veral in die vorm van losbandigheid en egskeiding) ons meer vasbeslote maak om hierdie heilige Godgewe verbond in ere te hou! Die huwelik gaan immers oor baie meer as net ‘n aardse verbintenis, dis ‘n afbeelding van ‘n Goddelike geheimenis! Die rein en opofferende liefde wat Christus vir sy kerk het! (Efesiërs 5)

*Sur le podium des Invalides, le philosophe Bertrand Vergely explique que «les enjeux de fond dépassent le mariage homo. On est dans l'ivresse démocratique. On fabrique l'homme nouveau. Un jour, on te demandera “qui est ton père ?”. Et tu répondras “je ne sais pas, des paillettes de Suède”. “Et ta mère?” “Un ventre en Ukraine”».


                                           (foto - le Figaro)