BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Twyfelvrae. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Twyfelvrae. Wys alle plasings

Sondag 01 September 2019

DIE DOOD SE MAG IS GEBREEK

Vir elke hartseer en ongerief het die mens mos ‘n plan, maar nie vir die dood nie… Dis waar alle menslike planne ophou en menslike troos en raad opdroog. Ons het dit nou weer gesien met die tragiese busongeluk verlede naweek naby Mariental.* Kom ons kyk dus na wat God in sy Woord vir ons wil sê in 2 Timoteus 2:8-11.**




Paulus skryf hier as iemand wat self ook die dood in die gesig staar. Hy weet dit en is eerlik daaroor. “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (4:6) Hy skryf hierdie brief juis as ‘n boodskap van troos en hoop aan die jongman Timoteus. 


Ons het verlede Sondag gesien hoe Paulus vir Timoteus bemoedig te midde van die verwarring van dwaalleraars deur vir hom te sê daar is ‘n VASTE FONDAMENT (Die Here weet wie aan Hom behoort en Laat elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort wegbreek van als wat verkeerd is) 

TWYFELVRAE EN MISMOEDIGHEID

Daar is ook ander dinge wat Timoteus mismoedig en wankelrig gemaak het. Waarskynlik juis die feit dat sy geestelike vader en mentor Paulus nou magteloos in die tronk gesit het. Timoteus besef Paulus gaan nie weer lewend daaruit kom nie Timoteus sou maklik hierdeur in twyfel gebring kon word : "Is dit nou hoe God sy getroue knegte behandel, is dit hoe God sorg? Is God so kragteloos, hoekom verlos Hy Paulus nie uit die tronk nie? Is gevangenskap, lyding en dood nou dan die beloning wat die evangelie jou in die sak bring? Is dit die moeite werd om ‘n Christen te wees? Maak dit nog sin om die evangelie te verkondig? Timoteus sou kon dink : “Ek voel eintlik skaam om te sê ek is ‘n Christen, want mense kan my koggel en vra is dit dan nou hoe ‘n goeie God sy dienaars behandel…”

Jy sal weet wat jou twyfelvrae op hierdie oomblik is... "Kyk my siekte, kyk die droogte, kyk my eensaamheid... is dit hoe God sy kind behandel? Is dit die moeite werd om aan te hou glo?"

Paulus weet klaarblyklik van die wroegings wat in sy jong vriend se hart broei en daarom bemoedig hy hom… "Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God." (8) En dan gaan hy verder en herinner Timoteus weer net aan die basiese waarhede van die evangelie. 

Dis die beste manier om ‘n kind van God moed in te praat en te TROOS - gaan weer terug na die “basics”. 


Dis wat enige ware kind van God sal bly maak…dis kosbaar bo als! Die evangelie is ‘n blye boodskap van oorwinning, sterker as ons sonde en mislukkings, sterker as swaarkry, sterker as tronkmure en sterker as die donker aangesig van die dood! 

WAT IS DIE EVANGELIE?

Dis die goeie nuus dat God ons red (‘n Goddelike magsdaad!) Hoe doen God dit? Hy doen dit nie op grond van ons dade en prestasies nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het. Ja, in ‘n wêreld waar alles oor prestasies gaan, waar ek gemeet meet word aan die hoeveelheid “likes” wat ek kry, is dit baie goeie nuus. God red sondaars, slegte mense, goddelose mense uit genade en nie volgens wat hulle bereik of reg gekry het nie. (Rom 4:4,5) Die lang lys sondaars wat God gered het bevestig hierdie feit…Saggeus, die Samaritaanse vrou, die duiwelbesetene van Gadara, die hoogmoedige Fariseër Paulus… dit getuig alles van redding deur genade! 

Dit gaan egter nog verder. Dis ‘n Goddelike inisiatief, 'n Goddelike besluit! Ons redding is nie eens die beloning van ons goeie keuses nie, maar van God se genadige keuse om in te gryp! Dit word beklemtoon dat hierdie geskenk al van ewigheid aan ons gegee is! Verbysterend! Alle menslike verdienste word uitgesluit. “Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my vloek gedra. Ek kon vind: U't my gekry voor ek nog my skuld bely.” (LIED 190:2)

Hierdie genade van God is nou deur Jesus aan ons geopenbaar. Ons kry daaraan deel deur die vertroue op Jesus. Hierdie genade is nie iets wat ons doen of verdien nie, ons leer dit net ken, dit word aan ons bekendgestel deur Jesus. Dit gaan oor wat Jesus gedoen het! (1 Kor. 15:1-4)*** 

WAT IS DIE PRAKTIESE GEVOLGE? 

Jesus het die mag van die dood gebreek. Die tirannie van die dood bestaan nie meer nie. Ja, die dood is nog daar maar die angel van die dood is weg. Ons word bevry van die vrees en verskrikking wat die dood meebring. Paulus se bedoeling is duidelik : "Timoteus, as ek moet sterwe in die tronk is dit nie ‘n verlies of ‘n verleentheid nie. Ek is nie meer bang vir die dood nie!" Dieselfde waarheid het Paulus ook aan die Filippense probeer oordra. (Fil. 1:21) 

Nie net is die angswekkende mag van die dood gebreek nie, Jesus het deur sy opstande die onverganklike lewe bekend gestel. God se kinders, die wat waarlik deur Hom gered is, deel in ‘n onverganklike lewe. Dis ‘n lewe wat nooit oud kan word, kan verveel, vernietig kan word of kan vergaan nie. Die vloek op die sondeval word omgekeer! Dood is skeiding, lewe is gemeenskap. Deur die evangelie kry ons deel aan ewige onvernietigbare gemeenskap met God. En dit begin nou reeds, die oomblik as ek gered word! Dis nou reeds sigbaar! Hierdie redding en roeping het ten doel dat ons aan God toegewy sal wees. (9a) Letterlik – “heilige roeping”! Genade lei en dring tot heiligheid! (Vgl. Titus 2:11-14)**** Wie aanhou met onheiligheid wys dat hulle die genadige redding en roeping van God verwerp! 

Miskien bly daar een vraag in jou hart huiwer. Wonderlik, maar hoe word dit ons s’n, hoe het dit alles Timoteus s’n geword? “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (5) Opregte geloof! Dis om my vertroue op Jesus alleen te stel! Om te sê : “Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas!” 

DIE ENIGSTE SINVOLLE TROOS IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD IS DIE EVANGELIE TROOS!  EN HIERDIE TROOS SPOOR ONS AAN OM NOU HEILIG TE LEWE!

*Ons is nou weer op Sondag 25 Augustus 2019 wreed daaraan herinner met die tragiese busongeluk waarin twee leerlinge van Windhoek Gymnasium, Jacques Venter en Angela Maiba naby Mariental dood is. My persoonlike meegevoel aan hulle geliefdes! 

**2 Timoteus 1:8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 



*** 1 Korintiërs 15:1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 


**** Titus 2:11-14Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 

12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 

13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 

14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

Vrydag 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dink maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)

Donderdag 19 Maart 2015

ENIGSTE WARE VERLOSSER?

- hoe kan ek weet en glo dis Jesus?

Het die twyfel jou al beetgepak en jou laat wonder? Vrae soos : Hoe kan ek seker weet dat Jesus die enigste ware Verlosser is? Is alle godsdienste nie dalk maar min of meer waar nie? Ja, die Bybel sê duidelik dat Jesus die enigste Middelaar is (1 Timoteus 2:5), maar hoe weet ek dat die Bybel waar is? Is die evangelies nie maar net legendes of ’n klomp gekookte stories nie? Hoe kan ek eerlike en duidelike antwoorde op hierdie vrae kry?

‘n Goeie plek om te begin is die opstanding van Jesus. As Jesus waarlik uit die dood opgestaan het, kan ons Hom oor alles glo (oor verlossing, oordeel, hemel, hel...), maar as Hy nie opgestaan het nie, is Hy maar net nog ‘n mens, net nog ‘n profeet soos baie ander voor en na Hom.

Een duidelike bewys vir die opstanding is dat die dissipels eers self getwyfel het. (Matt 28:17) Hierdie dissipels wat Jesus sien sterf het was later egter so oortuig van die opstanding dat hulle bereid was om te sterf ter wille van hierdie feit. Nou, geen mens sal ‘n leuen uitdink doelbewus om jouself in gevaar te bring nie. Nee, mense dink leuens uit juis om hulleself te beskerm! As die dissipels self Jesus se liggaam gesteel het (soos sommige beweer) of geweet het sy lyk is nog in die graf, sou hulle mos nie moed gehad het om te sterf vir iets wat hulleself geweet het nie waar is nie. 

‘n Ander indirekte bewys van die egtheid van die opstandingsverhale is juis die verskille tussen die opstandingsberigte in die vier evangelies. As alles een mooi storie was sou mens kon vermoed dat dit ‘n uitgedinkte verhaal is, maar nou is daar soveel verskille en unieke beklemtonings dat dit inpas by ‘n uitsonderlike buitengewone gebeurtenis soos iemand wat uit die dood opstaan. Opmerklik ook is die feit dat die eerste getuies van die opstanding vroue was. Nou dit sou juis ’n hindernis wees in die oë van eerste eeuse lesers, want vroue is nie as betroubare getuies geag nie. So die enigste rede waarom vroue as getuies genoem word, was omdat dit werklik so gebeur het.

Party mense word egter nie maklik oortuig nie. Hulle sal sê, ja alles goed en wel, maar is die evangelies nie maar legendes of mooi uitgedinkte stories nie? Wie die evangelies noukeurig bestudeer sal gou agterkom dat hulle nie legendes is nie. Waarom?

1) Hulle ontstaansdatums is te na aan die gebeure wat hulle beskryf om legendes te wees. Indien dit onwaarhede sou bevat sou daar baie lewende persone wees wat die evangelies in diskrediet sou kon bring. In die Markus evangelie byvoorbeeld, vind ons sekere persone se name soos in die verwysing na Simon van Sirene waar spesifiek gemeld word dat hy die pa was van “Aleksander en Rufus”. (Markus 15:21) Hierdie moes bekende persone in die oorspronklike leser teikengroep gewees het. Enigiemand sou hulle kon uitvra oor die waarheid aan die gebeure. Dis ‘n duidelike bewys dat ons hier met kontroleerbare historiese beriggewing te make het. Paulus se briewe is nog vroeër geskryf as die evangelies en dit ondersteun ook die evangelies. 

2) Die inhoud van die evangelies is heeltemal te teenproduktief om gekookte stories te wees. Dink aan die lafhartigheid van die dissipels en by name die leiersfiguur Petrus (sy gruwelike verloëning van die Here) wat so duidelik en eerlik beskryf word. Dit sou vir enige beweging ’n groot verleentheid gewees het. Niemand sou so iets uitgedink het as dit nie regtig gebeur het nie.

Lees maar net die Nuwe Testament met ‘n oop gemoed en jy sal die egtheid, eerlikheid en nugterheid self aanvoel. Die evangelieverhale het geen voordeel vir die eerste dissipels ingehou nie, net nadele soos verwerping, vervolging en die dood. Waarom sou mens iets uitdink wat vir jou net ellende besorg? Waarom sou mens iets uitdink wat jou eie swakheid en ongeloof te beklemtoon as jy dan die stigters sou wou wees van ‘n mensgemaakte godsdiens?

Daar is nog ‘n groot rede om te glo. Die evangelie is so uniek en anders as enige mensgemaakte godsdiens. Ons het hier te make met ‘n unieke vorm van almag. God is so almagtig dat Hy Homself in Jesus swak maak. Jesus word verwerp, mishandel en gekruisig. Dis alles tekens van swakheid. Dis so anders as die wêreld se dapper helde en gode en profete. Maar Juis in sy swakheid kom sy almag na vore as Hy deur sy kruisdood en opstanding die houvas van die duiwel oor ons breek. Die evangelie is ook so anders as alle ander godsdienste wat eintlik maar net ‘n klomp opdragte bevat van wat die mens moet doen. Die evangelie gaan oor wat Jesus gedoen het vir en namens ons. Die godsdienste van die wêreld gaan oor : Doen, doen, doen.... Die evangelie van Jesus sê : Dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen.... In Jesus se eie woorde : “Dis volbring!” Hoe meer mens die goeie nuus van die evangelie hoor, hoe meer besef jy dit is onmoontlik nie deur ‘n mens uitgedink nie.

BONATUURLIKE GODDELIKE OPENBARING

Kom ons gaan weer terug na die oorspronklike vraag. Hoe weet ek dat Jesus die Seun van God en die ware Verlosser is? Daar is baie logiese redes (waarna ons nou gekyk het) maar hier in Matteus 16 kry ons die groot rede. Petrus kom tot ‘n heerlike erkenning en insig as hy bely : “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Nadat Petrus hierdie aangrypende belydenis gemaak het dan antwoord Jesus hom... "Gelukkig is jy, Simon Barjona," het Jesus vir hom gesê, "want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” (17) Dis ‘n eggo van Jesus se woorde in 11:25. “Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.” Petrus het nie hierdie insig aan "vlees en bloed" sy eie familie of volk te danke nie - inteendeel! Sy insig en sy geloof is ‘n gawe van God. Dis ‘n bonatuurlike openbaring van God wat jou oë open vir Jesus, die Lig van die wêreld! As Hy dit vir jou gedoen het, dank Hom daarvoor, dis net genade!

Wat van jou? Glo jy al? Wonder jy of God Homself ook aan jou wil openbaar? Dis insiggewend en bemoedigend, net na Jesus se stelling in Matteus 11:25 waarna hierbo verwys word, rig Hy ‘n direkte en ope uitnodiging aan almal... ook aan JOU! “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28)


God laat die lig vir jou opgaan sodat jy kan sien wie sy Seun is en in Hom kan glo...

Dinsdag 01 Oktober 2013

TWYFELVRAE WAT PLA

- kan ek as redelike denkende mens nog in God en die Bybel glo? 

Die sondige mens is van nature ‘n twyfelaar en skepties oor God se Woord. Ons is kwesbaar vir Satan wat nog steeds kom met die vraag : "Het God regtig so gesê?" Daarom is die soewereine werk van die Heilige Gees onontbeerlik in die redding van enige sondaar. Die mens se besware teen die evangelie staan ook in noue verband met sy kulturele en intellektuele omgewing. In die konteks van ons Westerse Postmodernisme is daar baie onderliggende veronderstellings en idees wat dit vir mense nog moeiliker maak om die evangelie te glo. Dis ons plig om ernstig na hierdie besware te luister...