BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dood oorwin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dood oorwin. Wys alle plasings

Sondag 01 September 2019

DIE DOOD SE MAG IS GEBREEK

Vir elke hartseer en ongerief het die mens mos ‘n plan, maar nie vir die dood nie… Dis waar alle menslike planne ophou en menslike troos en raad opdroog. Ons het dit nou weer gesien met die tragiese busongeluk verlede naweek naby Mariental.* Kom ons kyk dus na wat God in sy Woord vir ons wil sê in 2 Timoteus 2:8-11.**




Paulus skryf hier as iemand wat self ook die dood in die gesig staar. Hy weet dit en is eerlik daaroor. “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (4:6) Hy skryf hierdie brief juis as ‘n boodskap van troos en hoop aan die jongman Timoteus. 


Ons het verlede Sondag gesien hoe Paulus vir Timoteus bemoedig te midde van die verwarring van dwaalleraars deur vir hom te sê daar is ‘n VASTE FONDAMENT (Die Here weet wie aan Hom behoort en Laat elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort wegbreek van als wat verkeerd is) 

TWYFELVRAE EN MISMOEDIGHEID

Daar is ook ander dinge wat Timoteus mismoedig en wankelrig gemaak het. Waarskynlik juis die feit dat sy geestelike vader en mentor Paulus nou magteloos in die tronk gesit het. Timoteus besef Paulus gaan nie weer lewend daaruit kom nie Timoteus sou maklik hierdeur in twyfel gebring kon word : "Is dit nou hoe God sy getroue knegte behandel, is dit hoe God sorg? Is God so kragteloos, hoekom verlos Hy Paulus nie uit die tronk nie? Is gevangenskap, lyding en dood nou dan die beloning wat die evangelie jou in die sak bring? Is dit die moeite werd om ‘n Christen te wees? Maak dit nog sin om die evangelie te verkondig? Timoteus sou kon dink : “Ek voel eintlik skaam om te sê ek is ‘n Christen, want mense kan my koggel en vra is dit dan nou hoe ‘n goeie God sy dienaars behandel…”

Jy sal weet wat jou twyfelvrae op hierdie oomblik is... "Kyk my siekte, kyk die droogte, kyk my eensaamheid... is dit hoe God sy kind behandel? Is dit die moeite werd om aan te hou glo?"

Paulus weet klaarblyklik van die wroegings wat in sy jong vriend se hart broei en daarom bemoedig hy hom… "Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God." (8) En dan gaan hy verder en herinner Timoteus weer net aan die basiese waarhede van die evangelie. 

Dis die beste manier om ‘n kind van God moed in te praat en te TROOS - gaan weer terug na die “basics”. 


Dis wat enige ware kind van God sal bly maak…dis kosbaar bo als! Die evangelie is ‘n blye boodskap van oorwinning, sterker as ons sonde en mislukkings, sterker as swaarkry, sterker as tronkmure en sterker as die donker aangesig van die dood! 

WAT IS DIE EVANGELIE?

Dis die goeie nuus dat God ons red (‘n Goddelike magsdaad!) Hoe doen God dit? Hy doen dit nie op grond van ons dade en prestasies nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het. Ja, in ‘n wêreld waar alles oor prestasies gaan, waar ek gemeet meet word aan die hoeveelheid “likes” wat ek kry, is dit baie goeie nuus. God red sondaars, slegte mense, goddelose mense uit genade en nie volgens wat hulle bereik of reg gekry het nie. (Rom 4:4,5) Die lang lys sondaars wat God gered het bevestig hierdie feit…Saggeus, die Samaritaanse vrou, die duiwelbesetene van Gadara, die hoogmoedige Fariseër Paulus… dit getuig alles van redding deur genade! 

Dit gaan egter nog verder. Dis ‘n Goddelike inisiatief, 'n Goddelike besluit! Ons redding is nie eens die beloning van ons goeie keuses nie, maar van God se genadige keuse om in te gryp! Dit word beklemtoon dat hierdie geskenk al van ewigheid aan ons gegee is! Verbysterend! Alle menslike verdienste word uitgesluit. “Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my vloek gedra. Ek kon vind: U't my gekry voor ek nog my skuld bely.” (LIED 190:2)

Hierdie genade van God is nou deur Jesus aan ons geopenbaar. Ons kry daaraan deel deur die vertroue op Jesus. Hierdie genade is nie iets wat ons doen of verdien nie, ons leer dit net ken, dit word aan ons bekendgestel deur Jesus. Dit gaan oor wat Jesus gedoen het! (1 Kor. 15:1-4)*** 

WAT IS DIE PRAKTIESE GEVOLGE? 

Jesus het die mag van die dood gebreek. Die tirannie van die dood bestaan nie meer nie. Ja, die dood is nog daar maar die angel van die dood is weg. Ons word bevry van die vrees en verskrikking wat die dood meebring. Paulus se bedoeling is duidelik : "Timoteus, as ek moet sterwe in die tronk is dit nie ‘n verlies of ‘n verleentheid nie. Ek is nie meer bang vir die dood nie!" Dieselfde waarheid het Paulus ook aan die Filippense probeer oordra. (Fil. 1:21) 

Nie net is die angswekkende mag van die dood gebreek nie, Jesus het deur sy opstande die onverganklike lewe bekend gestel. God se kinders, die wat waarlik deur Hom gered is, deel in ‘n onverganklike lewe. Dis ‘n lewe wat nooit oud kan word, kan verveel, vernietig kan word of kan vergaan nie. Die vloek op die sondeval word omgekeer! Dood is skeiding, lewe is gemeenskap. Deur die evangelie kry ons deel aan ewige onvernietigbare gemeenskap met God. En dit begin nou reeds, die oomblik as ek gered word! Dis nou reeds sigbaar! Hierdie redding en roeping het ten doel dat ons aan God toegewy sal wees. (9a) Letterlik – “heilige roeping”! Genade lei en dring tot heiligheid! (Vgl. Titus 2:11-14)**** Wie aanhou met onheiligheid wys dat hulle die genadige redding en roeping van God verwerp! 

Miskien bly daar een vraag in jou hart huiwer. Wonderlik, maar hoe word dit ons s’n, hoe het dit alles Timoteus s’n geword? “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (5) Opregte geloof! Dis om my vertroue op Jesus alleen te stel! Om te sê : “Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas!” 

DIE ENIGSTE SINVOLLE TROOS IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD IS DIE EVANGELIE TROOS!  EN HIERDIE TROOS SPOOR ONS AAN OM NOU HEILIG TE LEWE!

*Ons is nou weer op Sondag 25 Augustus 2019 wreed daaraan herinner met die tragiese busongeluk waarin twee leerlinge van Windhoek Gymnasium, Jacques Venter en Angela Maiba naby Mariental dood is. My persoonlike meegevoel aan hulle geliefdes! 

**2 Timoteus 1:8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 



*** 1 Korintiërs 15:1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 


**** Titus 2:11-14Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 

12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 

13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 

14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

Saterdag 06 Julie 2019

WAAR IS GOD?

[God besoek sy volk…] 



Waar is God? Waar was God?” Mense is so lief om sinies, skepties en selfs half uitdagend hierdie vraag te vra. “Kyk vir Auschwitz!* Kyk oral… die onreg en swaarkry, my eie probleme en smarte… waar is God? Kyk, die sonde en verlorenheid van die wêreld! Die stukkende huwelike, gebroke huise, verwaarloosde kinders… Is God miskien ver, onbetrokke? Gee Hy om wat met sy skepping gebeur? Gee Hy om vir mense? Dink Hy aan ons, sien Hy ons raak?” 

Een van die duidelike temas in Lukas is dat God nie ver is nie, maar inderdaad sy volk BESOEK het. Wat leer Lukas oor God se besoek? Ons gaan na drie Skrifgedeeltes kyk. In al drie kry ons ‘n vorm van dieselfde Griekse woord, episkeptomai. (besoek) 

OU TESTAMENT 

God wat sy volk “besoek” is ‘n begrip wat natuurlik reeds uit die Ou Testament kom en dui op Goddelike ingrype. En let op! Dit kan redding sowel as oordeel inhou! 

Psalm 106:4 "Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,"  

Eksodus 20:5 “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;” 

3 GEDEELTES IN LUKAS : 

LOFSANG VAN SAGARIA (Lukas 1:67-79) God het sy volk besoek deur Jesus Christus en so verlossing gebring. Sagaria se lofsang :“Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,” (68) God besoek sy volk deur ‘n sterk Verlosser te stuur. Hierdie Verlosser kom uit die huis van Dawid. (1:69) Hy is in Betlehem die stad van Dawid gebore. Johannes was sy voorloper wat die pad vir Hom reggemaak het. Hierdie verlosser is Jesus en sy koms is die vervulling van die verbond wat God met Abram gesluit het. (1:72) God stuur nie ‘n plaasvervanger of net ‘n afgevaardigde nie. God besoek ons self; God self het mens geword! 

Die besoek van God deur Jesus is ‘n genadebesoek wat verlossing en vergifnis bewerk. 

Dit behels ‘n hele nuwe begin soos Jesus self in die sinagoge van Nasaret aangekondig het toe Hy uit die boekrol van die profeet Jesaja gelees het. “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Lukas 4:18-19.) ‘n Tydperk van heerlike herstel en vernuwing soos wat die Ou Testamentiese Jubeljaar ten doel gehad het. 

OPWEKKING VAN DIE SEUN VAN DIE WEDUWEE VAN NAIN (Lukas 7:11-17) Hierdie besoek van God behels die oorwinning oor die grootste vyand van die mens, die dood! Die dood is die groot verskrikking, die finale vyand. Vir alle vyande en probleme het die mens planne, maar as dit by die dood kom staan ons magteloos. Hier in Lukas 7 gebeur ‘n dramatiese ding. Jesus bring ‘n begrafnisstoet tot stilstand. Hy sê, daardeur : “STOP, moenie hierdie man begrawe nie, dis nie die einde nie, ek maak ‘n verskil, ek stuit nie vir die dood nie!” Net Jesus kan dit doen! ‘n Mens meng nie sommer in met ‘n begrafnis nie. 

Geen Boeddha, Mohammed, Amerikaanse TV evangelis of toordokter kan die dood aanvat nie! Jesus kan! 

Hy bevry ‘n jongman uit die kloue van die dood! Met Goddelike gesag gee Hy ‘n opdrag aan ‘n lyk en die lyk reageer. Dis ‘n bonatuurlike Goddelike daad en daarom besef die mense: “Nou het ons met God te doen!” “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.” (Lukas 7:16 OAV) 

JESUS HUIL OOR JERUSALEM Lukas 19:41-44 God se genadebesoek het by die meeste mense verbygegaan en die oordeel oor hulle afgebring. Jesus verwyt Jerusalem op ‘n passievolle manier. Die Seun van God huil terwyl Hy hierdie woorde sê! Dis met trane dat Jesus ‘n oordeel uitspreek : “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (Lukas 19:44 ) Jerusalem se mense was blind vir en onaangeraak deur die genadegeleentheid wat God hulle gebied het! Hulle het die oordeel oor hulleself gebring – dit het letterlik so gebeur in 70 nC. ‘n Voorsmaak van die hel! 

God het die wêreld besoek in Jesus Christus. 

God het Jerusalem besoek deur Jesus met sy boodskap van genade en verlossing. God het ons, hier op Tsumeb kom besoek. Hy het jou kom besoek… Hy kan nie nog nader en nog duideliker na ons toe kom nie. Die kruis is die groot baken van die besoek. Die heerlikheid van die besoek is bevestig deur die OPSTANDING! God se besoek gaan vandag nog steeds voort. Jesus is steeds deur sy Gees teenwoordig. Hy is steeds die bevryder van sonde , satan, dood en hel. Hy maak wel gebruik van Geesvervulde mense om hierdie boodskap uit te dra. 

Die groot vraag is: Hoe reageer jy op hierdie besoek? Jy kan nie neutraal staan nie! Of jy is positief en reageer deur geloof en bekering of jy werp God se besoek deur onbekeerdheid. God se besoek is ‘n onvergelyklike voorreg en genade, maar ons moet pasop, dis ook ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid. Deur nie te bekeer nie slaan ek die deur in God se gesig toe! Jesus het gehuil oor Jerusalem. Huil Hy dalk vandag oor JOU?

(Terloops, God is via Jesus diep emosioneel by die mens betrokke. Hy is nie koud, klinies en afsydig nie. Jesus se hart word geraak deur die lot van die weduwee wat haar seun verloor het. Net so word sy hart geraak deur Jerusalem se verhardheid wat sou uitloop op 'n verskriklike oordeel!)

Wie die genadedeur toeslaan kan God se besoek op ‘n ander manier, SY OORDEEL verwag! 

*Dis so maklik om in tye van rampe en nood te vra : Waar is God? Ja, God was ook in Auschwitz, in sy toorn. Hy gee aan die goddelose laksmanne ruimte om die boosheid van ‘n samelewing te demonstreer wat van God afvallig geword het en teruggekeer het na die ou Germaanse gode. ‘n Voorsmaak van die hel! Gevolge van genadeverwerping! (soos 70 nC) Die boosheid en wreedheid van die mens is juis die gevolg van mense wat God nie as God erken nie. Die wrange ironie is - Dieselfde mense wat God blameer vir Auschwitz, vir droogte, vir ongelukke en siektes is juis dikwels ook die mense wat nie wil hê dat God naby moet wees in hulle lewens nie. Die geskiedenis bewys dit. Dis juis die einste mense in Europa wat God verwyt het vir Auschwitz en die wreedheid van die oorlog wat miljoene geëis het, wat gekies het om aborsieklinieke te bou wat al baie meer lewens as Nazi kampe vernietig het! Dis juis die mense ook in ons dag wat kies om God se reëls vir die huwelik te verbreek en Hom nie naby hulle wil hê nie, wat die hardste kla oor God wat nie iets doen aan plaasmoorde, ongelukke of siektes nie. Hulle wil juis nie hê God moet by wees as hulle ongetroud saambly, skelm besigheid doen en lieg en bedrieg nie. Sien “Klank en Weerklank”, C. Trimp, p106