BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 25 Oktober 2019

BID VIR REËN?


DIS DUIWELDOR DROOG EN VERSKROEIEND WARM 


Hier in Namibië smag ons met elke vesel in ons liggame na reën. Almal van ons. Boere of nie boere. Mag ons bid vir reën? Wie mag bid vir reën? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos dit op die oor af mag klink nie. Droogte is ‘n komplekse saak. Dit het nie net met reënval en El Nino te make nie, maar ook met gierigheid, met jare se oorbeweiding en roekelose veldbestuur. En dan leer die Bybel boonop vir ons dat God vir Elia op ‘n keer aangesê het om te bid dat dit NIE moet reën nie. Vir drie jaar en ses maande lank! (Jakobus 5:17) Hoe nou? 

Die modelgebed van Jesus, die Onse Vader (Lukas 11) wys vir ons ‘n duidelike pad aan. Maar baie belangrik ons moet nie net na die Onse Vader in isolasie kyk nie, maar die hele lering van Jesus oor gebed in Lukas 11:1-13 oordink. (Maak jou Bybel hier oop) 

OP REIS 

Hier in Lukas is ‘n bepaalde konteks wat baie belangrik is. Wat is dit? Vanaf Lukas 9:51 word dit duidelik dat Jesus doelgerig op reis was na Jerusalem om daar te gaan ly en daarna na die hemel te vaar. In Lukas 13:1 word ons as’t ware herinner aan Jesus se reis situasie deur die gebruik van die woorde “sekere plek, êrens” (NAB). Iewers op pad. Die dissipels kom op hierdie tydstip met ‘n versoek (nadat hulle Jesus sien bid het) dat Jesus hulle moet leer bid. ‘n Gepaste gebed vir hulle tyd en omstandighede. Onthou, Jesus en Sy dissipels is besig met ‘n opmars na Jerusalem. Die dissipels sou wonder : “Gaan die koninkryk nou kom, het die tyd van oordeel nou aangebreek? Gaan die groot insameling van die oes nou plaasvind? Hoe moet ons nou bid?” 

In hierdie situasie is dit opvallend dat Jesus spesifiek hierdie gebed vir Sy dissipels leer. 

MODELGEBED VIR DIE GEVAARLIKE PAD 

Net kortliks die inhoud van die gebed. Dit begin met ‘n aanroep van die Vader. (by einde van hierdie stuk lering kom Jesus weer terug by die onderwerp van “Vader” - vers 13). Daarna is daar drie uitroepe (“U Naam, U Koninkryk, U wil”) waarin die bidder God se beloofde toekoms toejuig en dringend vra dat dit mag aanbreek. Dit word dan gevolg deur drie afsonderlike versoeke. Al drie hierdie versoeke het betrekking op die bidders wat op pad is na God se beloofde ryk. Dis belangrik om raak te sien dat hierdie gebed nie oor twee losstaande afsonderlike sake gaan nie. ( eers God se eer en dan bloot ons behoeftes nie) Nee, dis juis mense wat onderweg is na die koninkryk wat lewensbehoeftes (fisiese versorging) nodig het, wat vergifnis nodig het, wat beskerming teen die Bose nodig het. Hierdie behoeftes gaan nie sommer oor versoeke van die mens in die algemeen nie. Dis dinge waarvoor mense net kan en mag bid in hulle ywer vir die koninkryk. In hulle op pad wees na die koninkryk. Hierdie is hoegenaamd nie versoeke wat in diens mag staan van ons eie selfsugtige behoeftes en ideale nie. Dit gaan oor versoeke binne koninkrykskonteks. 

Dis heel waarskynlik dat die gebed wat Jesus hier vir Sy dissipels geleer het, bots met die verwagting wat hulle op hierdie stadium gehad het. Hulle het gedink die finale heerlikheid gaan nou aanbreek in Jerusalem, die Messias gaan nou Sy koninkryk triomfantelik vestig. Ons weet mos dat hulle ten spyte van Jesus se duidelike lering oor Sy naderende lyding , dit nie juis kon sluk nie. Hulle het vir hulle self ‘n triomftogsituasie voorgestel. Hulle wou ‘n nuwe gebed leer wat by hierdie verwagtinge inpas. En nou? Nou leer Jesus vir hulle ‘n gebed wat hulpbehoewendheid veronderstel (daaglikse brood), wat sonde en versoeking veronderstel (vergewe ons...), wat aanvegtinge en stryd veronderstel (bewaar ons van die Bose). Jesus leer hulle nie ‘n gemakstoel gebed nie, maar ‘n reisgebed vir ‘n gevaarlike pad. 

Die toekoms wat Jesus sou bewerk word voer die dissipels langs ‘n gevaarlike pad. ‘n Pad wat voortdurende afhanklikheid sou vereis. ‘n Pad wat besaai is met beproewing en stryd. Die goeie nuus egter is dat op hierdie gevaarlike pad, hulle op Jesus se gesag met vertroue tot die Vader kan bid. 

Die pad is gevaarlik maar ons kan met vertroue bid. 

DIE VRYMOEDIGE VRIEND 

Die gedagte van vertroue word nou verder deur Jesus onderstreep met ‘n gelykenis. Dis seker nie toevallig dat hierdie gelykenis juis handel oor iemand wat op reis was nie! (6). Moontlik wil Jesus ook aansluit by die “ons” van die gebed wat Hy aan sy dissipels so pas geleer het. Dis ‘n vriend wat namens ‘n ander vriend hulp vra by ‘n vriend. Gebed gaan nie bloot oor onsself nie, maar die ander wat saam met ons op pad is. Hoe dit ook al sy, die hoofsaak wat Jesus met die gelykenis onder ons aandag wil bring is die vertroue en die versekering wat met die vrae gepaard gaan. Die een wat klop maak staat op die vriendskap van die slapende vriend wat reeds in die bed is. Daarom is hy onbeskaamd, vrypostig. Let wel die onbeskaamdheid verwys na die onbeskaamdheid van die kloppende vriend. Sy onbeskaamdheid, sy buitengewone vrymoedigheid blyk duidelik dat hy op so ‘n onbehoorlike tyd aanklop om hulp te vra namens ‘n ander vriend. Die punt is : Leerlinge van Jesus mag maar met groot vrymoedigheid by die Vader kom aanklop. 

Wanneer ons nood ervaar (ook in droogte) op ons pad na die Koninkryk mag skaamte ons nie weerhou om God te nader nie. 

DIE KLIMAKS VAN GEBEDSVERHORING : DIE HEILIGE GEES 

Die versekerings van vers 9-10 moet ons ook binne koninkrykskonteks verstaan! Jou vra, jou soek en jou klop op pad na die koninkryk sal nie op dowe ore val nie! Die lering sluit af met die voorbeeld van ‘n pa wat telkens vir sy kinders die beste wil gee. As dit die houding is van ‘n onvolmaakte aardse pa, hoeveel te meer dié van ons volmaakte Hemelse Vader! 

En wat is die beste wat Hy vir ons gee! Wat is die toppunt van gebedsverhoring? Die Heilige Gees! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Die inwoning van die Gees is immers die duidelike bewys en deposito dat die koninkryk onstuitbaar op pad is! Dat al God se beloftes vervul gaan word! Vir die eerste dissipels is hierdie belofte met Pinksterdag vervul. Dit vind ook daagliks neerslag in ons lewe, as ons ‘n lewe leef onder beheer van die Heilige Gees! 

KOM ONS RAAK PRAKTIES 

1.Gebed is bedoel vir God se kinders. Dis die unieke voorreg van elkeen wat God, Vader kan noem deur Jesus Christus. Ons mag dus bid vir bepaalde behoeftes in ons op pad wees na die koninkryk : fisiese versorging (en dit is ook reën) , vergifnis, beskerming teen die bose. Wat ‘n wonderlike troos - Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Hy bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid en gevare waarmee ons te kampe het. 

2. Ons mag nie net nie, ons moet bid. Sonder hierdie gebed sal ons dit nie oorleef op pad na die koninkryk nie! Skaamte mag nooit in ons pad staan nie. Nooit hoef ons terug te deins om te vra nie. Ons Vader is meer as ‘n vriend, meer as ‘n aardse vader met gebreke. Hy is ‘n volmaak liefdevolle Vader. Ons mag maar vra, ons het die versekering uit Jesus se eie mond. 

3. Belangrik : Dit wat ons mag vra, dit waartoe ons aangespoor word om met vrymoedigheid te vra, mag nie in diens staan van ons eie sondige en selfsugtige belange nie. Dit gaan wel ook oor ons behoeftes, maar oor ons behoeftes as mense met ‘n koninkryksvisie. Op pad na die God bedoelde toekoms! Die fokus mag nooit wees myself en my welvaart nie, maar die eer van God! 

Die implikasie is : 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as God se eer nie! (Neem ek en jy standpunt in vir dit wat eer bring aan God en teen dit wat Hom beledig en oneer aan doen?) 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as bekering nie! 

Reën mag nie belangriker wees as heiligheid nie. 

Reën mag nie belangriker wees as ‘n begeerte om daagliks God se wil te doen nie! 

Reën mag nie belangriker wees as ons bywoning van eredienste en ons bereidheid vir sendingwerk nie. 

Kortom, as ons meer smag na reën as wat ons smag na die krag en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens, is daar fout! 


Wie nie met erns bid vir en smag na geestelike reën – (die aanbreek van die koninkryk) nie, het geen reg om vir fisiese reën te vra nie!

Mag God ons beide skenk uit genade!



Maandag 14 Oktober 2019

Namibië staan op!

Verklaring deur besorgde leraars van die NG Kerk in Namibië 



Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 



Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Namibië: Andries Gous, Christo Swarts, Christo van den Heever, Dirk Coetzee, Dries Burger, Dries Coetzee, Dubois du Toit, Düring Cornelius, Edwin Kakori, Erik van Zyl, Ernst Coetzee, Evert Strydom, Gerrie Cwi, Gerson Kuvare, Hector Jooste, Hein Schaaf, Hendrik van Zyl, Isaac Chameia, Jaco Rossouw, Jacob Schoeman, Jafet Moyo, Jason Ngambwe, Johan Combrinck, Johannes de Koning, Josef Gevers, Koos Engelbrecht, Leviet Kxao, Lukas van Vuuren, dr Manus Olivier, N!aici Komtsa, Petrus Kaimbi, Pierre Bosman, Richard Becker, Rudolf Smit, Shotty Mayebo, Thinus Coetzee, Vian du Plessis, Willie Coetzee

Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Namibië: NG Kerk Otjiwarongo, NG Kerk Omaruru, NG Kerk Oewer, NG Kerk Opuwo, NG Kerk Tsumeb, NG Kerk Suiderhof, NG Kerk Warmbad, NG Kerk Maltahöhe, NG kerk Outjo,
Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Suid-Afrika : Abrie Botha, dr Adré van den Berg, Alwyn Roux, Andre Fourie, Andre Lammertyn, Andrea Werner, Arend Hoon, dr Banus Botha, Bertus Janse van Rensburg, Carel Smith, Cecilna Grobler, dr Chris Saayman, Christie Smit, Clifford James, Corrie Greeff, Dawie le Roux, Deon Senekal, Dr Dirk Venter, Eric Swanepoel, Ernst Rischmuller, Fanie le Roux, Floors Ellis, Francois Botha, Frikkie Snyman, Gert Badenhorst, Gert Barnard, Gert Delport, dr Gert Duursema, Helgard Janse van Rensburg, dr Hennie Hoepfner, Ds Hermanus Crouse, Jan Louw, Jan Venter, Janus Roux, Johan Engelbrecht, prof. Johan Janse van Rensburg, Johan Koen, John Holtzhausen, Jos van der Merwe, dr Leon Oosthuizen, dr. Manie Taute, Marcel Vosloo,Marius Joubert, Marthinus Coreejes, Nicholas Botha, Nico Sennett, Ockie Olivier, Otto Clasen, Philip Kuhn, Piet Fourie, Piet Otto, Pieter Prinsloo, Rhenier Nel, Ruan du Plooy, dr Sas Conradie, Stefaan de Jager, Theo Danzfuss, Tiaan Victor, Willem Botha, Willie Crous,

Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Suid-Afrika: NG Kerk Tafelberg in Kaapstad

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Reformed church in Africa dr Gregory H. Denysschen, Kevilan Moodley

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA) Louwrens van der Westhuizen

[ Hier kan nog name bykom. Ook die van kerkrade. Die lys sal dus van tyd tot tyd aangepas word]


Mag ons rotsvas bly staan!

NS  Opregte dank aan ds. Erik van Zyl en almal wat hom gehelp het om leiding te neem in hierdie saak!

Woensdag 09 Oktober 2019

DIE ALGEMENE SINODE 2019


se besluit oor SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (sien onderaan) is ‘n meesterlike voorbeeld van kwalik bedekte oëverblindery, slinkse sagmaak tegniek en eintlik niks anders as verbale diarree nie! ‘n Teologiese maagwerksel wat erg aansteeklik is en tot ‘n epidemie van die dood gaan aanleiding gee! 



Die besluit klink so mooi en versoenend (want die behoudende lidmate moet gepaai word), maar kyk jy mooi is hier ‘n vrypas vir die legitimasie van aktiewe homoseksuele en terstond beoefenaars van bykans enige seksuele afwyking en vergrype. Solank dit in “integriteit” gedoen word! Hoe word dit bepaal? En deur wie? ‘n Saamblyer, poligamis of biseksueel wat in sogenaamde “integriteit” lewe met al sy aanhangsels sal dus ook predikant kan word! 

Daar word slegs die illusie van gesprekvoering en verdraagsaamheid geskep, want die opdrag word reeds aan ATLAS gegee om ‘n “kerklike formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Ons praat nog, maar ons maak solank ‘n formulier om sonde amptelik te seën! En let op hulle kies hulle woorde mooi. Nogal “burgerlike verbintenisse”. Hierdie term word weereens as kompromis gebruik om die behoudendes te paai. Hulle noem dit nie nou al ‘n “huwelik” nie. Dis uiterste skynheilige bedrog! Sommige predikante het alreeds “huwelike” bevestig tussen homoseksuele en daar word nie teen hulle opgetree nie. 

Die besluit wil maar net die Bybelgetroue lidmate tydelik paai om ‘n massa uittog uit die kerk te probeer verhoed. Die taktiek is duidelik om te probeer tyd koop om die onrustige lidmate mettertyd te oortuig om nie meer die Bybel te glo en God se standaarde te handhaaf nie! En diegene wat uiteindelik nie gaan saamloop nie, sal aktief vervolg word. “Mark my words!” 

Ekself glo dat daar inderdaad in liefde en deernis met alle mense omgegaan moet word wat stry teen die sonde en in gebrokenheid voor die Here die pad van heiligmaking wil stap. Dit sluit homoseksuele in... Hierdie besluit van die AS gaan egter nie daaroor nie, maar is ‘n slinkse plan om sonde te sanksioneer en uiteindelik die regverdiges te vervolg. 

Die Algemene Sinode het ‘n wolweskuilplek geword. Polities korrek, maar teologies verward. Die skape van Jesus moet hiervan kennis neem en die pad vorentoe loop met slangversigtigheid en duifopregtheid, anders gaan ons onkant gevang en opgevreet word! (Matteus 10:16) 


Selfdegeslagverhoudings

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte,  lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ‘n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n ingeligte besluit neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

Sondag 06 Oktober 2019

SATANSWERK

van die teologiese fakulteite!

Is dit te sterk gestel? Wel, wat anders kan mens die opleiding wat aan ons teologiese fakulteite (waaronder andere) ook NG studente vir die bediening studeer noem?

Ferdie Mulder vertel waar hierdie afval sterk begin stoom optel het, met spesifieke verwysing na die Teologiese Fakulteit van Pretoria. Dis natuurlik 'n proses van agteruitgang wat reeds in die tagtigerjare aan die gang was toe ekself nog daar 'n student was.

Luister self na Ferdie deur HIER te kliek!


Hoekom het dit sover gevorder sodat daar menslik gesproke geen hoop meer is vir die koers wat die Algemene Sinode en fakulteite vir die kerk aanwys nie?

Goeie evangeliese mense het bloot net stilgebly of hoogstens saggies beswaar gemaak...


Ferdie Mulder


Valse lering vernietig die geloof van sommige, maar vir God se kinders is daar Goeie Nuus binne in hierdie situasie!  Kliek op FONDAMENT

Vrydag 04 Oktober 2019

NAAK OP DIE SYPAADJIE

- Die genade wat ek in Jesus ontvang het, maak my genadig betrokke by ander! 



In ‘n bekende Europese stad, kom ons sê maar Amsterdam was daar ‘n Bybelskool net langs ‘n berugte rooiligbuurt. ‘n Gevaarlike gebied vol van misdaad, prostitusie en ellende. Een oggend vroeg ry een van die dosente wat klasgee by die Bybelskool met sy fiets (soos dit ‘n goeie Nederlander betaam) deur hierdie gebied en sien ‘n sleg vernielde en beseerde jong dame halfpad naak op die sypaadjie lê. Slagoffer van ‘n aanranding. Hy besef hier is ‘n potensiële skandaal so hy maak maar of hy haar nie sien nie, draai sy kop weg en ry vinnig verby. Kort daarna loop een van die Bybelskoolstudente met sy kitaar op sy rug en Bybelsak oor sy skouer langs dieselfde roete. Ook hy sien die jong dame en ook hy besef hierdie is ‘n moeilike situasie. Hy onderdruk die stem van sy gewete, steek die straat oor en loop op die oorkantste sypaadjie verby. Nie lank daarna nie kom daar nog iemand verby. Hy sien die vrou en hy gaan staan. Hy is een van die onlangse Moslem immigrante. Hy gaan buk by haar, gooi respekvol sy jas oor haar en bel dadelik die nooddienste. Hy tref al die nodige reëlings vir haar mediese sorg en laat sy selfoonnommer as sy nog enigiets nodig sou kry waarmee hy kon help. (Dis maar net 'n storie waarvan ek die essensie HIER gekry het)

[En as ek en jy nou dalk dink ons is beter as hierdie dosent of Bybelskoolstudent, dan maak ons 'n groot fout...]


Natuurlik hoor ons elkeen hierin iets van die dramatiese en aangrypende boodskap van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Kom ons lees dit in Lukas 10:25-37. 

BETEKENIS EN KONTEKS 

Die Barmhartige Samaritaan is natuurlik ‘n baie bekende gelykenis, maar wat beteken dit?* Hoe raak dit ons? Die algemene oppervlakkige verklaring sou kon wees – “Bewys liefde aan jou medemens soos die barmhartige Samaritaan en jy sal die ewige lewe beërwe…” Maar is dit regtig so? Kan ons dan deur hard te probeer die ewige lewe verdien? Wat dan van die evangelie? 

Dis tog so belangrik dat mens vir die verstaan van enige Bybelgedeelte na die KONTEKS sal kyk. Die onmiddellike konteks en ook die wyer konteks. Anders gaan ons VERKEERDE AFLEIDINGS maak! 

Dié gelykenis is ‘n onderdeel van ‘n groter gesprek. ‘n Wetgeleerde het probeer om Jesus met ‘n moeilike strikvraag uit te vang. “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (25) Nou moet ons dadelik die ore spits - in hierdie gesprek en daaropvolgende gelykenis, gaan dit oor iets meer as 'n morele kwesie, maar inderdaad oor die heel belangrikste saak wat elkeen van ons raak:

HOE KRY EK DIE EWIGE LEWE?

Jesus antwoord met ‘n teenvraag. “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (26) Dit was dikwels Jesus se styl. Die wetgeleerde gee ‘n mooi antwoord uit die Skrif. “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Maar nou laat Jesus hom in ‘n strik trap. “Doen dit en jy sal lewe!” (28) Die wetgeleerde weet baie goed hy kan dit nie regkry nie! Hy weet, Jesus weet ook hy kan dit nie regkry nie. (Ek en jy weet mos ook as ons eerlik is ons kry dit nie reg nie) 

SOEK ‘N VERSKONING 

So, die wetgeleerde weet hy is nou in ‘n hoek, as hy eerlik sou wees moet hy erken dat ‘n mens nie deur iets te doen die ewige lewe kan verkry nie! En omdat hy weet hy is vas en veroordeel staan soek hy ‘n verskoning. “Maar hy wou homself handhaaf, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” (29) OAV - “wou homself regverdig.” ‘n Uitkomkans om nie sy verantwoordelikheid teen sy naaste na te kom nie – want wie is dan nou my naaste? Dis mos maklik om verskonings uit te dink waarom hierdie of daardie een nie my naaste kan wees nie. En dis dan hier waar Jesus hierdie aangrypende en radikale gelykenis vertel… Ek en jy ken mos die gelykenis... 

DIE GEBEURTENIS OP PAD NA JERIGO 

Die gelykenis speel af in 'n "real life setting." Die pad na Jerigo was inderdaad ‘n gevaarlike kronkelpaadjie deur die heuwels. Rowers kon maklik daar skuil en toeslaan. Priesters en Leviete het die pad dikwels gebruik na of van Jerusalem as hulle hul diensbeurte by die tempel moes doen. Nou sien hulle ‘n man langs die pad. Heel waarskynlik sou hulle nie op ‘n afstand kon sien of hy nog leef of nie. Dit lyk al asof hier 'n moeilike en ongemaklike situasie homself voordoen... Een probleem - Volgens die Mosaïese wette mag ‘n priester nie aan ‘n lyk raak nie, want dit sou hom onrein maak. “En hy mag by geen dooie kom nie, selfs aan sy vader en moeder hom nie verontreinig nie;” (Levitikus 21:11) Heel waarskynlik sou hy naak of halfnaak daar lê, want ‘n kledingstuk was een van die kosbaarste besittings wat geroof sou wees. Nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe dit ook al sy, ‘n onaangename en grusame situasie, nie iets waarby mens graag sou betrokke wou raak nie. 

Maar toe kom ‘n Samaritaan verby. Deel van ‘n veragte bastervolk wat deur die Jode geminag en gehaat is! En as minderwaardig en onrein beskou is. Juis hý help hierdie ongelukkige man. En hy doen meer as wat mens van hom sou kon verwag. Hy vat hierdie man se volle onkoste op homself. Hy staan in vir al die uitgawes wat daar mag wees. Dis iets groter as wat dit vir ons mag klink. Onthou destyds was daar nie allerhande ingewikkelde kredit reëlings nie. As jy nie jou skuld kon betaal nie, word jy die persoon vir wie jy skuld se slaaf! Hierdie man sou ernstige beserings gehad het, sy herstel in die herberg sou lank kon duur en dit sou groot skuld kon meebring. Die Samaritaan vat volle verantwoordelikheid daarvoor en verhoed dus die hierdie man ‘n slaaf sou word. En loop die gevaarlike risiko om dan self 'n slaaf te word...

Die slotsom van die gelykenis is duidelik : "Meneer die wetgeleerde, jy moet nie vra wie jou naaste is nie, jy moenie probeer verskonings uitdink by wie jy nie betrokke wil raak nie. Jyself moet ‘n naaste word vir elkeen wat oor jou pad kom! En aan jou liefde vir daardie persoon mag daar geen perke of afsnypunt wees nie!" Uiters radikaal. Dit moet nou tot die wetgeleerde deurdring dat sulke liefde eintlik onmoontlik is en dat hyself dus nie iets kan doen vir die ewige lewe nie! 

JESUS ONTBLOOT DIE DWAASHEID EN ARROGANSIE VAN ELKEEN WAT DINK HY KAN DEUR GOED TE DOEN OF 'N PAAR STUKKIES GODSDIENS DIE EWIGE LEWE VERWERF!

Nou wat wil Jesus dan sê oor hoe ons die ewige lewe kan kry? 

KONTEKS VAN DIE KRUIS 

Dis waar die wyer konteks so belangrik is. “ En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,” (Lukas 9:51) Die oorhoofse konteks van hier af in Lukas se geskrif is dat Jesus op pad is na Jerusalem om aan die kruis te sterf! Hy gaan die verlossing vir sondaars bewerk, juis vir mense wat dit nie regkry om God en hulle naaste volmaak lief te hê nie! Dis die groot probleem met die wetgeleerde. Hy wil hom nie aan Jesus onderwerp nie. Inteendeel hy verwerp Jesus en probeer Hom mos juis met strikvrae uitvang. Hierdie konteks word bevestig deur die paragraaf wat net na hierdie gedeelte kom. Jesus by Marta en Maria. Marta is die flukse een en sy werk hard in die kombuis. Maria sit maar net aan Jesus se voete. Marta kom bekla haar lot. Maar wie word tereggewys? “Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie." (41,42) Marta is die een wat hier fouteer! (Sy maak in 'n sin dieselfde fout as die wegeleerde - sy fokus nie op Jesus self nie) Jesus lig uit dat net een ding nodig is – Hyself. Hyself as die een wat op pad is na die KRUIS! Dis wat Maria gekies het. Een ding is nodig – om Jesus te ken! Dis wat die wetgeleerde ook nie besef het nie -Hy het Jesus nodig, die Jesus wat op pad is na die kruis om versoening te doen vir sondaars. Deur wetsonderhouding sal niemand gered word nie, maar alleen deur volle vertroue in Jesus! (Vgl. Rom 3:20-24, 4:1-8) Wat Paulus leer en wat Jesus geleer het, verskil immers nie!

EK EN JY HET DIE GEKRUISIGDE NODIG! 

Is dit al wat die gelykenis vir ons sê? NEE!

GENADE BRING VERANDERING 

Jesus verlos ons van die straf van die wet omdat ons dit nie volledig kan nakom nie, maar wie Hom as Here het word juis in staat gestel om te begin anders leef volgens die diepste bedoeling en standaard van die wet. Die opdrag aan die wetgeleerde : “Gaan maak jy net so!” maak wel sin as ‘n opdrag aan elke volgeling van Jesus. As ons die vryspraak gekry het deur geloof in Jesus alleen rus die verpligting van heiligmaking op ons. Mense wat vergifnis by Jesus ontvang het sal begin anders leef. “Ja, maar niemand is mos volmaak nie!” Dis inderdaad so, maar dis ook so dat as jy Jesus ontmoet het gaan jou lewe wys dat jy Hom ontmoet het. 

As jou lewe dieselfde bly het jy Jesus nog nooit ontmoet nie!

John Newton die goddelose man wat in die slawehandel betrokke was en radikaal tot bekering gekom het (die skrywer van “Amazing Grace”) het dit so treffend opgesom: 

I am not what I ought to be,
I am not what I wish to be,
I am not what I hope to be;
but, by the grace of God,
I am not what I used to be. 

Diegene wat deur die geloof in Jesus barmhartigheid ontvang het, kan nooit dieselfde bly nie en sal ook aan ander barmhartigheid bewys. Hou op om verskonings te soek en begin almal wat God op jou pad plaas radikaal lief te hê! Raak betrokke by die naak gewonde op die sypaadjie!** 

*Vir ‘n deeglike uitleg en toepassing van hierdie gelykenis luister na Don Carson. Ek het uiteraard maar as net ruimskoots van sy gedagtes gebruik gemaak. 

** “What is at stake then and now is the question of whether we will use the God-given revelation of love and grace as a way of boosting our own sense of isolated security and purity, or whether we will see it as a call and challenge to extend that love and grace to the whole world.” N.T Wright 


Dinsdag 01 Oktober 2019

DIE NUWE WYN


IS DIE BESTE! 

[Vir ‘n huweliksdiens, maar ook op elkeen van toepassing wat smag na 'n nuwe lewe...] 

Jesus verander water in wyn tydens ‘n bruilofsfees! (Johannes 2:1-12) Dis een van sy bekendste wonders. (Partykeer om ‘n verkeerde rede. Sommiges redeneer mos graag: “Ag, sien ons kan maar dronk word… Jesus self het mos wyn gemaak…” Jammer om hulle pret te bederf, maar hulle maak natuurlik ‘n groot fout, want die Woord van God is baie duidelik dat geen dronkaard die koninkryk van God sal binnegaan nie.) 

Wat beteken hierdie wonder dan wel? Wat wil die Johannes evangelie vir ons sê? En sê dit spesiaal ook iets vir julle wat vandag in die heilige eg verbind word? 

DIE GAS BY DIE FEES 

Die verhaal beweeg op verskillende vlakke. Dis natuurlik die wonderlike verhaal van die mens Jesus wat ‘n eg menslike fees, soos ‘n bruilofsfees saam met Sy dissipels bywoon en die gasheer uit ‘n groot verleentheid en verknorsing help. Sien vir Jesus vrolik rondbeweeg tussen die gaste! Jesus was geen askeet of kloosterbewoner nie, maar ware mens soos God bedoel het by die skepping. En onthou deel van God se goeie skepping was die skepping van die mens as man en vrou, van die huwelik… Dit moet ons tog duidelik laat verstaan : Die huwelik is ‘n kosbare geskenk van God aan die mens! Die huweliksverhouding en die intieme band tussen die twee geslagte is nie deur die duiwel uitgedink nie, maar deur God geskep! Geniet dit soos God dit bedoel het en vier fees! Maar vier fees op so ‘n manier dat ons Jesus as die belangrikste Gas in gedagte sal hou! 

TEKEN VAN SY HEERLIKHEID 

Maar daar is ook ‘n dieper vlak. Hierdie wonder word ‘n teken genoem. “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” (11) ‘n Teken wat ons iets moet wys van die allesoortreffende heerlikheid van Jesus. Dis tipies van die Johannes evangelie om Jesus se wonders te beskryf as tekens wat ‘n dieper geestelike boodskap moes oordra en geloof opwek. Nou wat is die boodskap van hierdie teken? Kom ons kyk na twee aspekte: 

OORVLOED 

Dis ‘n teken van oorvloed. “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.” (7) Let op die beklemtoning - “tot bo toe volgemaak” Die nuwe bedeling wat Jesus bring – die vergifnis en verlossing wat ‘n kenmerk is van sy heerlikheid is ‘n bedeling/lewe van oorvloed. En ons hoef nie te wonder van watse oorvloed hier gepraat word nie. Dis die heerlike oorvloed van genade! Johannes het sy lesers reeds hierop voorberei in die inleiding! “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid...En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1:14,16) Jesus die Messias, die Gesalfde van God bring ‘n oorvloed van genade en vergifnis. Vir die grootste stukkendste sondaar...

Meer nog! Hy bring ‘n nuwe begin, ‘n nuwe skepping, herstel van die skade wat sonde gedoen het. Die tema van die skepping en herskepping (waarby die saak van die huwelik so goed pas) het Johannes reeds aangeraak met sy inleidende sin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (1:1) Duidelike parallel met Genesis 1:1! Natuurlik deel nie almal in hierdie oorvloed van genade nie, trouens die meeste verwerp dit , maar vir die wat dit aanvaar – beteken dit ek deel in die voorreg om persoonlik ‘n kind van God te wees! (Sien Johannes 1:11-13)* 

Dis ook nie toevallig dat Jesus juis wyn maak as simbool van die nuwe Messiaanse bedeling nie. Dis ‘n tema wat by baie Ou Testamentiese profete voorkom, byvoorbeeld Amos**. Wyn is ‘n simbool van oorvloed, vreugde, vervulling en versadiging! 

DIE NUWE BEDELING 

Dis ‘n teken van die nuwe bedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref! Johannes maak ons spesifiek attent daarop dat die klipkanne wat Jesus gebruik het deel was van die reinigingsgebruike van die Jode. Die klipkanne met die water was deel van die ou Joodse oorde van seremonies en wette. “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou”. (6) 

Jesus maak nou iets beter! Hy maak wyn in die plek van water. Die beste wyn! Hy vervang die ou orde en bring iets beter! 

Ook hierdie aspek het Johannes reeds in sy inleiding aangeraak. (Sien 1:17) Kort hierna verduidelik Johannes ook hoe Jesus die tempel vervang wat ook deel van die ou orde was. Die ou bedeling van Moses en die wet kon nie waarlik verlossing bring nie, maar Jesus kan! En Hy wil dit vir JOU doen!

Die nuwe bedeling wat Jesus bring, die nuwe skepping is soveel beter as die vorige! Die nuwe wyn wat Jesus maak is die beste! “Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: "‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou." (9,10) Die hele teken wat Jesus hier doen is ‘n teken van sy heerlikheid. Hy wat deur sy kruis en opstanding vir ons ‘n nuwe en beter toekoms geopen het. Oorvloedige vergifnis, maar ook uiteindelik volledige herstel van die skepping! Herstel van die skade en verwoesting wat Satan en sonde aangerig het. Kom ons roep hardop uit in hierdie stukkende wêreld : “Jesus maak sondaars nuut!” 

Hierdie nuutheid begin nou maar sal eendag volkome sigbaar wees. Die wonder wat Jesus by ‘n bruilof doen is juis so gepas, want dit wys uiteindelik heen na die bruilofsmaal van die Lam wat wag vir almal wat Hom glo. Die hemelse fees! En dis dié fees om nie mis te loop nie! 

Die betekenis van Jesus se wonderteken om water ‘n wyn te maak is dus baie duidelik. Dis ‘n teken van die nuwe oorvloedige genadebedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref en uitloop op ‘n nuwe skepping! Juis op die gebied van huwelik en seksualiteit is die sondegebrokenheid en sondeskade die duidelikste sigbaar. Maar dis juis ook hier waar Jesus ‘n oorvloed van genade en heelmaking kom bring het. Mag ons dit in die moeilike tye onthou! 

Francois en Madelein julle is as kinders van God begenadigde sondaars, julle het die volheid van sy genade ontvang. Mag julle dit ook verder in julle huwelik beleef en ook uitleef in julle huis, in die gemeente waar die Here julle geplaas het en in julle alledaagse handel en wandel! 

En sommer net ‘n laaste, maar baie belangrike vraag aan elkeen wat nou hier lees: 

HET JY AL DIE NUWE WYN GEPROE? 



*Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 
Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (Johannes 1:11-13) 

**Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. (Amos 9:13,14)



Baie geluk Francois en Madelein!