BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Seksualiteite - ander vorme. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Seksualiteite - ander vorme. Wys alle plasings

Vrydag 21 Oktober 2022

SKAARSER AS ELEKTRISITEIT BY ESKOM...





DIE BAIE GROOT MISTERIE...




Wat is skaarser as elektrisiteit in ESKOM, ‘n eerlike politikus en wors in ‘n hondehok? Die antwoord is skokkend, maar as jy dit kan vat.... ‘n Maagdelike bruid voor ‘n kansel! Tragies! Wat wil ek daarmee sê? – die Godbedoelde instelling en betekenis van die huwelik het amper heeltemal uitgesterf en verdwyn! Op God se plan vir die huwelik word daar daagliks getrap, ook deur lidmate van ons gemeente.

Paulus behandel die verhouding tussen man en vrou in die huwelik in detail in Efesiërs 5:21-33. (Maak jou Bybel hier oop) Maar dis baie duidelik dat dit gaan oor iets dieper as maar net ‘n goeie verhouding tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag. 


Om die Godbedoelde oorsprong van die huwelik as instelling te bevestig haal hy Genesis 2:24 aan – met die beklemtoning van een vlees. (lees) 






En dan maak hy ‘n merkwaardige uitspraak in vers 32. Die instelling van die huwelik word hier uitgelig tot op ‘n baie hoër vlak – ‘n geheimenis . Dit verwys na die diep verhouding tussen Christus en sy kerk. Die implikasie is dat die huwelik van die begin af iets meer was as ‘n menslike sosiale ordereëling, meer as ‘n gerieflikheidsverbintenis, dit wys na God se plan van verlossing. Dis ‘n uitbeelding van die misterieuse eenheid en liefde tussen Jesus en sy gemeente. Hierdie liefde is baie diep, ons as kinders van God is deel van sy Jesus se liggaam. Die duidelikste bewys van hierdie eenheid vind ons natuurlik in die Heilige Nagmaal waar ons sy vlees eet en sy bloed drink!

Die konteks van Genesis 2 is baie belangrik. Die mens, Adam is alleen, dis ‘n krisis vir hom en dan maak God vir hom ‘n hulp – nie ‘n dier nie, nie ‘n ander man nie, maar ‘n vrou as helper. Helper het nie die konnotasie van slaaf nie. Die vrou is die hulp van die man in die sin dat sy die man help om sy diepste doel en sin in die lewe te besef en te verwesentlik, naamlik om sorgend en beskermend lief te hê. Die man het die vrou nodig, maar net so het die vrou die man nodig. Hulle vervul hulle roeping deur hulleself aan mekaar te gee – fisies en geestelik. Dis ‘n wederkerige liefde waarin elkeen ‘n afsonderlike, maar aanvullende rol speel. (komplimentêr tot mekaar) Die fisiese en psigiese verskille tussen man en vrou bewys hulle is ontwerp vir mekaar om komplimenterend, aanvullend te wees. Inderdaad soos ‘n pot en deksel wat presies inmekaar pas!

Konklusies :

  • Die huwelik en die rolle in die huwelik is nie ‘n menslike uitdinksel nie, maar ‘n Goddelike ontwerp, instelling, plan – met ‘n huidige tydelike aardse funksie maar ‘n ewige onverganklike boodskap. Die huwelik is dus ‘n heilige roeping, dis ‘n Goddelike opdrag wat volgens God se voorskrifte uitgevoer moet word. Dis ‘n profetiese boodskap aan die wêreld vir nou met ewigheidsgevolge en betekenis. Natuurlik in die lewe hierna gaan daar soos Jesus self gesê het nie meer huwelike wees nie. Dit gaan ook nie nodig wees nie, want ons sal volmaakte vervulling in die ewige bruilofsmaal van die Lam ervaar.
  • Man en man, vrou en vrou kan nooit in ‘n huwelik met mekaar staan nie. LGBTQI+ideologie skreeu teen God se skeppingsbedoeling en teen God se verlossingsplan. As ‘n samelewing of kerk byv. selfdegeslagverbintenisse goedkeur en so die instelling van die huwelik ondergrawe of verwerp, is dit op die pad van vernietiging!

MAAR BELANGRIK! – Die LGBTQI+ideologie is nie die Satan se enigste aanslag teen die huwelik nie. Die huwelik as ‘n heilige instelling en afbeelding van Christus word op baie ander maniere bedreig, besoedel en geskend:

Daar waar mans en vroue hulle God bedoelde rolle afskeep of verwerp. Wat is dit? Dis die radikale lering wat Paulus hier gee. (22ev;25ev) Let op die woordjie “soos” - dis ‘n nuwe standaard van onderdanigheid en respek, nuwe standaard van liefde en selfopoffering!  Vrou jy moet jou man eer en jouself aan hom onderwerp "soos die gemeente aan Chrisrus"! Erg? Wel, kyk wat die man moet doen - Hy moet sy vrou liefhê en homself  vir haar opoffer, "soos Christus Homself vir die gemeente" opgeoffer het! Radikaal! 

Nou sal jy wil vra : "Is dit hoegenaamd moontlik?" JA! Onthou net,  dit is slegs realisties moontlik in soverre mense met die Heilige Gees vervul is en dus in die eerste plek respek en eerbied vir Jesus vertoon. (21) Die sleutel tot huweliksvreugde en vervulling is onderdanigheid/gehoorsaamheid aan Jesus!




VERNIETIGENDE SEKS!

Orals waar liggaamlike eenwording voor of buite die huwelik geskied is dit ‘n baie ernstige skending van God se bedoeling en plan. Seksuele eenwording is nie bloot net ‘n liggaamlike funksie soos eet of slaap nie. Paulus is baie duidelik daaroor in 1 Kor. 6:15-20. Paulus waarsku hier teen omgang met prostitute en wys op 'n belangrike beginsel - omdat jy as Christen deel is van die liggaam van Christus en deur omgang jy deel word van 'n prostituut, maak jy nou Christus se liggaam deel van die prostituut! Afgryslik! Wat jy met jou liggaam doen het ingrypende konsekwensies! Fisiese eenwording is slegs die uiterlike aspek van eenwording op die diepste intiemste menslike vlak. Die losbandigheid soos ons dit sien in voorhuwelikse intimiteit, owerspel en egbreuk maak ‘n bespotting van God se bedoeling met die huwelik as afbeelding van die verhouding van Christus en sy kerk. 


Jy wat losbandig leef spot met God – wees gewaarsku dit het skrikwekkende gevolge – nou en eendag. Geen wonder die Hebreër skrywer waarsku so ernstig hierteen nie. Hebreërs 13:4! Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.


ONGETROUD?

….Wat van ongetroudes, kan hulle nie deel in hierdie diep geheimenis nie? Is hulle nou tweedeklas Christene of onvervuld?  Jesus het duidelike en nugter lering hieroor gegee. (Matteus 19:12 1983Vert.) 


Daar is mense wat om verskeie redes nie trou nie – hulle kan steeds kies om selibaat te leef ter wille van die koninkryk. Dis nie nou die tyd om hierop  uit te brei maar hier vind ons die diepste oplossing, maar ook uitdaging vir mense wat om een of ander rede nie in ‘n huwelik is nie, ook juis mense wat weens selfdegeslagaangetrokkenheid nie kan of wil trou nie. Die hoopvolle boodskap is – jy kan op ‘n baie spesiale manier toegewyd aan Jesus en bruikbaar in die koninkryk wees! Jy het ‘n kosbare roeping, aanvaar die uitdaging al gaan dit nie maklik wees nie. Jy het die voorreg om al jou energie, toewyding, talente en opoffering wat in ‘n huwelik sou ingaan, direk aan Jesus te offer. Die voorbeelde van sulkes is baie in die geskiedenis... dink maar aan Paulus.

Ten slotte. Natuurlik, ons besef maar te goed dat menswees in al sy aspekte, ook die huwelik en alle verhoudinge tussen mense deur die sonde geskend is. Dit veroorsaak oneindige hartseer, mislukkings en ellende. Maar Jesus het juis gekom om dit wat sonde geskend het heel te maak. Luister weer na Gesang 464 vers 3. 



Is jy stukkend? Juis op hierdie terreine waarvan ons gepraat het? Die kruisevangelie bring herstel en hoop vir elkeen wat dit berouvol aanneem!

Dinsdag 04 Oktober 2016

BOSE BELYDENIS

-bevestig morele en akademiese bankrotskap van Teologiese Fakulteite.



‘n Groep sogenaamde jong teoloë van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik (sien onder) waarin hulle (heeltemal tereg) verklaar dat seksualiteit ‘n gawe van God is. Maar dan gaan hulle voort : “Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.” Nou ja, daar het jy dit! Dis immers die logiese uiteinde van die gay agenda. Watse perversiteite sou met “ander seksualiteite” bedoel word? Sorteer bloedskande, bestialiteit en pedofilie ook onder hierdie wye noemer? Gaan daar verwag word dat predikante binnekort die verhouding tussen ‘n man en sy hond kerklik moet bevestig? Enige kind van God kan net verslae luister en wonder of sy ore hom nie bedrieg nie. Moet mens nou verstik aan smart of stik van woede? Smart oor die verwoestende effek van die waansinnige dwaalteologie op die fakulteite waar NG predikante opgelei word op jong lewens. ‘n Heilige woede oor die Naam van ons Here Jesus en sy kerk wat deur die modder gesleep word.

Opmerklik word geen Bybelse bewyse aangetoon om al hierdie soorte perverse vorme van seks goed te praat nie. Dis seker nie vreemd as mens in ag neem dat dit by ons student ingehamer word dat die Bybel maar net nog ‘n Midde-Oosterse boek vol foute is nie. En dit lyk nie asof hulle leer van die sondeval nie... Benewens die gebrekkige Skrifkennis wat hier ten toon gestel word wonder mens ook maar onwillekeurig hoe lyk die morele lewens van hierdie jong kenners wat eeue van kerklike etiek met hulle nuutgevonde wysheid wil omverwerp? En wat raak hulle nie als van die kansels kwyt nie?  Ja, ewe vroom verklaar hierdie groepie dat Jesus die Heer is. Maar ons moet tog weet as ons bely dat Jesus die Heer is, het dit konsekwensies vir ons hele lewe, 'n lewe wat volgens Sy norme en wil geleef moet word. Oor Sy wil wat betref seksualiteit is die Woord mos baie duidelik. Kliek op BYBELSE RIGTING OOR SEKSUALITEIT

Dis tyd dat predikante, kerkrade, ringe en sinodes hulle gepoleerde kerklike taal sal laat vaar en reguit praat. Reguit praat soos die Skrif praat. Paulus was immers vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand wat nie onder die druk van politieke of kerklike korrektheid geswig het nie. Hy stem immers saam dat die Kretensers, “leuenaars, ongediertes, lui vrate” genoem moet word. Ek wil liewers nie heeltemal sulke beskrywende taal oor hierdie groepie kenners van seksualiteit waag nie, maar op die beste is hulle totaal onkundig, arrogant en ongeskik vir die bediening. (Hierdie insigte wat hulle toon hoort eerder by entrepreneurs in die sekstoerisme bedryf!) Die waarheid moet ‘n slag duidelik gesê word... 

Maar daar moet nog duideliker gesê word dat die teologiese fakulteite waar NG bedienaars tradisioneel opgelei is, tans onder die bewind van vals profete staan en dat ons ons gelowige kinders onder geen omstandighede daar sal laat studeer nie. 

Daar wag ‘n groot oordeel vir hierdie tipe profete wat alles wat verkeerd is, reg noem, omdat hulle die Woord van die Here verwerp het : “Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie. Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.” (Jeremia 8 :11,12)

As daar belydenis nodig is, is dit skuldbelydenis, 'n skuldbelydenis van ons almal (insluitende hierdie jong teoloë) dat ons ongehoorsaam was (en is) aan die standaarde van God se Woord. 'n Belydenis wat sigbaar moet word in bekering!






*Uittreksel uit die e-KERKBODE :

Jong teoloë steun besluit oor gays

Neels Jackson

e•Kerkbode | September 28, 2016 

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings 

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ‘n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ‘n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ‘n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom.

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar.

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ‘n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer.

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ‘n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ‘n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys): 
Rozelle Bosch 
Bianca Botha 
Magriet de Villiers 
Riaan de Villiers 
Calvyn du Toit 
Elaine Dippenaar 
Eduard Enslin 
Juanita Greyvenstein 
Hanneke Janse van Vuren 
Benjan Knoetze 
Manitza Kotzé 
Nadia Marais 
Nina Muller van Velden 
Carike Noeth 
Melissa Opperman 
Helgard Pretorius 
Fourie Roussouw 
Annelet Slazus 
Sunelle Stander 
Sharaine Steenberg 
Niel Steyn 
Dawfré Theron 
Elzanne van der Westhuizen 
Anje Zeeman 



Baälaanbidding en seksuele losbandigheid gaan hand aan hand...

Lees ook gerus ds. Hector Jooste se brief aan DIE KERKBODE. Kliek op BRIEF