BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 30 Desember 2011

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 3

Die jaar 2011 was ’n jaar van merkwaardige en ingrypende gebeure. Dink maar aan die baie natuurrampe onder andere in Australië, Japan, New Zealand en Thailand. Verder al die omwentelinge van die Arabiese Opstande, waarvan ons die einde nog nie gesien het nie. Die ondergang van diktators en die dood van bekendes. En nou beweer (volgens sommiges) die sogenaamde Maja kalender dat 2012 die einde van die wêreld gaan wees! Wat as dit regtig so is?

Wel, die een of ander tyd gaan die einde van die wêreld inderdaad aanbreek! Maar weet jy wat? Vir ’n Christen kan daar geen beter nuus wees as juis dit nie! Die einde van wêreld beteken vir ons die wederkoms van ons Verlosser, Jesus Christus! As jy aan Hom behoort is jy mos baie opgewonde om Hom te ontmoet, of hoe? Jy het mos hierdie verwagting dat jy Hom gaan sien en daarom streef jy daarna om jou rein te hou! (1 Johannes 3:2,3)

Vir die nabyheid van Jesus se koms en die noodsaaklikheid daarvan om gereed te wees, het ek regtig nie die Maja Kalender of een of ander kwaksalwerprofeet se praatjies nodig nie. Jesus self het dit tog mos baie duidelik gestel dat Hy enige oomblik kan kom, juis op ’n tyd wanneer niemand dit sal verwag nie. Dis juis die gevaar wat die speletjies met en die berekening van datums inhou. Mense kan redeneer dat daar nog tyd oor is voor die wederkoms, want eers moet dit of dat nog gebeur. Hoe dwaas! Die wederkoms kan plaasvind voordat jy nog hierdie kort skrywetjie klaar gelees het!

Vir die kind van God is dit nie ’n skade of ramp as die wederkoms plaasvind en hierdie wêreld vergaan nie!

Ons smag mos juis daarna. Die verlostes sien tog uit na daardie dag, want ons ervaar maar te duidelik dat ons nie in hierdie goddelose wêreld inpas nie en dat dit nie ons finale woonplek is nie! Hier beleef God se kinders mos daagliks onreg, vervolging of verwerping. Juis daarom verlang ons saam met al die gelowiges na die stad met vaste fondamente, waarvan God die ontwerper en bouer is! (Hebr 11:10) Ons is inderdaad pelgrims wat oppad is na ons ware Vaderland. Hier benede het ons slegs die status van vreemdelinge en bywoners. (1 Petrus 2:11) Ons het (so behoort dit te wees) ’n diepe versugting dat ons finale verlossing (ook van ons vernederde liggame) en die herstel van God se hele skepping tog gou moet plaasvind. (Rom 8:18-25)

Kind van God, sien jy uit na ons finale tuiste?

Woensdag 28 Desember 2011

MAJA KALENDER OF GOD SE KALENDER? - DIE TROOS VAN PSALM 31 vers 16

In die media word daar bespiegel oor die sogenaamde Maja kalender. Sommige mense beweer dat hierdie kalender (eeue gelede opgestel deur ’n Indiaanse beskawing) aandui dat die wêreld aan die einde van 2012 sal vergaan. Gelukkig hoef ons ons nie aan hierdie minderwaardige kalender te steur nie, want daar is net een Persoon wat die kalender vir die toekoms kan bepaal en dis God, die Almagtige Skepper van hemel en aarde!

Die heerlike vertroostende waarheid waaroor ek en jy kan juig, is dat God se kalender nie net die groot gebeure van die geskiedenis bepaal nie, maar ook die detail van ons lewens! Dis die heerlike implikasie van hierdie kragtige uitspraak in vers 16 : “My tye is in U hand”

God stel die kalender baie spesiaal vir Sy kinders saam! God stel die persoonlike kalender van ’n mens se lewe op sodat Hy sy heerlike doelwitte met ons kan bereik! Anders gesê my toekoms is in Sy hand.
"Ja, Here U bepaal die toekoms, die wêreld se toekoms, maar ook my spesifieke rol en plek en agenda!"

Dis so BELANGRIK! - Die Here weet nie net wat gaan gebeur nie, Hy bepaal dit ook. (Dis natuurlik juis omdat Hy alleen die toekoms bepaal en stuur dat Hy alleen weet wat die toekoms inhou!) Ek kan Hom vertrou met my toekoms. Ook die toekoms van 2012! Dit gaan in hierdie psalm oor ’n uitspraak van vertroue in moeilike omstandighede. Vertroue in God om te verlos en te beskerm!

Die man wat hierdie woorde van vertroue uitspreek is iemand wat die wind van voor gekry het. Hy het swaarkry en spot en dreigemente beleef. (Lees 10-14) Nogal rof nê? Geliefdes, juis in moeilike tye moet ons hierdie geloofsuitspraak maak: “My toekoms is in U hand.” Al lyk dinge sleg en al voel ek sleg, kan ek dit gelowig uitroep: “My toekoms is in U hand.” Die kind van God moet telkens die doelbewuste keuse  maak : Ek sal God vertrou! Ek sal buig voor en berus by sy Kalender (Rooster, Plan, Agenda) wat Hy vir my uitkies!

God bepaal die toekoms. Die toekoms van die wêreld, maar ook die detail van my eie persoonlike toekoms!

In hierdie toekoms, al is dit ’n moeilike toekoms hou Hy Sy hand oor ons en is Hy by ons! Daar is baie praktiese voorbeelde in die Woord wat dit bevestig : Dink sommer aan die lewens van Abram, Josef, Rut, Ester, Paulus... In al die onreg, rampe en terugslae wat hulle beleef het, was God aktief teenwoordig. Hy het al hierdie dinge in hulle lewens beplan om sy heerlike doelwitte te bereik!

Jesus se lewe en loopbaan op aarde  is die grootste voorbeeld van God wat die tye in sy hand hou! Sy Vader het ook vir Hom ’n kalender, ’n agenda bepaal! En neem kennis, dit was nie altyd lekker nie! Die hoofpunt op God se agenda vir Jesus was die kruis. Jesus kies doelbewus om Hom te onderwerp aan God se kalender en val in by God se plan. En te midde van die grootste krisis plaas Hy Sy volkome vertroue in Sy Vader. Kyk na die kruiswoord in Lukas 23:46! Vergelyk dit met Psalm 31: 6! “...in u hande gee ek my gees oor!” * Interessant! (Jesus self het duidelik hierdie Psalm geken! God se Woord was in sy hart en op sy lippe!)

Omdat die goeie regverdige God my kalender, my toekoms bepaal, kan ek Hom absoluut vertrou, ook in die aangesig van die dood. Sy getrouheid strek ook tot verby die graf!

Onthou altyd : Die God wat in beheer is van my toekoms is ’n goeie en regverdige God ! (20)

Wat God van ons verwag is kinderlike vertroue! Die grootste daad van vertroue wat die Here van ons verwag is om Jesus te vertrou as ons persoonlike Verlosser. Ons kan maar Jesus vertrou! (Rom 10:11) Vertrou Hom met die vergifnis van jou sondes en jou ewige toekoms. Vertrou Hom dat Sy wil en Sy opdragte die beste vir jou is!

Hierdie psalmis vertrou God.  Hy het ’n vaste wete dat God sy toekoms en sy tye bepaal, juis daarom bid Hy tot God. (Vers 2-6) Ware vertroue bring mens op jou knieë voor die Here. (Dink aan Jesus se aardse lewe, hoe baie en dikwels het Hy gebid) Ons sê maklik : “Ja ons vertrou!” Maar hoe lyk ons gebedslewe?

Gelowige afhanklike gebed is die praktiese sy van vertroue!

Die psalmis het proefondervindelik ervaar dat dit help om God te vertrou en tot Hom te roep, daarom eindig hy die psalm met ’n loflied en aanmoediging (22-25) “Wees dus sterk en hou goeie moed!” My vriend, dis ook vir jou! Vir jou wat op God vertrou!

Hier kom dus twee praktiese sake na vore wat saamgaan. Vertroue en gebed. (Wat uiteindellik uitloop op lof) Wie vertrou sal bid, wie bid sal al hoe meer vertrou. Het jy Hom al vertrou om jou Saligmaker te wees? Vertrou jy Hom vir die daaglikse uitdagings en besluite? Vertrou jy die toekoms van 2012 ook aan die Here toe? As ons dit bedoel sal ons dit ’n jaar van gebed maak. Dis ’n uitdaging en aanmoediging aan jou! Amen

* Lees die twee tekste in die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV)


EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 2

Miskien is daar tog ’n vae vrees by jou : Sê nou maar die Maja kalenders is reg en die einde kom, sê nou maar die bose Illuminati is besig om die wêreld volgens hulle planne te bestuur? Sê nou maar die baie voorspellings van rampe en oorloë word waar?

Weet jy my vriend, wat die Maja kalender beweer, wat die Illuminati proseseer of wat oom Siener van Rensburg profeteer het niks met die kinders van God uit te waai nie. Ons vrees nie die Rooi Slang se pik of Icke se akkedisse se skrik nie! Volgens God se Woord hoef ons nie en mag ons ook nie vir al hierdie sameswerings en praatjies bang word nie.

Hoor wat sê die Here :
“Julle moenie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees. Hy sal vir julle ’n beskutting wees...” (Jesaja 8:12-14)

As ons vir God ontsag het, as ons Hom dien deur sy Seun, ons Verlosser Jesus Christus, dan het ons niks te vrees nie! Besef tog net weer : Jesus het deur sy kruis en opstanding die sonde, Satan, dood en hel oorwin, vir elkeen wat waarlik in Hom glo! Elke kind van God is volmaak veilig! God het jou uitgekies voor die grondlegging van die wêreld om in sy heilige Koninkryk in te gaan en geen Illuminati plan of Vrymesselaar gekonkel of heiden kalender of Rooi Slang slinksheid (of watter kleur slang ookal) kan dit verhoed nie!

Pasop net om nie jou ore aan allerhande praatjies uit te leen nie, maar spits jou ore om God se Woord te hoor! Die Woord wat ons hart en gedagtes fokus op Jesus Christus, ons Redder!






Dinsdag 27 Desember 2011

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 1

Volgens sommige mense se interpretasie van die sogenaamde Maja kalender sal die wêreld tot ’n einde kom in 2012 of daar sal ’n "nuwe bewussyn" tot stand kom. Hoe moet ’n Christen oor sulke beweringe voel?

In ons tyd van feitlik onbeperkte kommunikasie versprei idees, gerugte en teorieë natuurlik vinniger as ’n veldbrand in die droë winterveld. Daar is ’n duisternis van samesweringsteorieë (beter bekend as "conspiracy theories"), bangmaakstories, kwaksalwer profesieë en sommer net dwase gekkernye! Daar is ’n verbysterende lys van hierdie goggas : die teorieë rondom die Illuminati en die Vrymesselaars (ja, hulle bestaan en hulle is boos, maar God Openbaring leer ons God is op die troon, nie hulle nie) , die valse profesieë vanaf die verre Nostradamus tot by ons eie Siener van Rensburg en dan natuurlik die hordes van mislukte wederkomsvoorspellings, waarvan David Camping s’n nog vars in die geheue is! Bangmaakstories van alle soorte (onthou jy nog Y2K van die veel verwagte jaar 2000?) en allerhande geheimsinnighede soos die Rooi Slang familie wat agter die skerms sou werk tot die bisarre reptiele van David Icke se akkedisverbeelding!

’n Mens kan die onkundige wêreldlinge dit nog vergewe dat hulle hulle aan sulke wolhaarstories steur, maar as Christene kosbare tyd en kragte bestee om hierdie skimsels na te vors, dan flikker die gevaarligte. Het God se kinders dan vergeet dat al die skatte van wysheid en kennis in Jesus self te vinde is? (Kolossense 2:3) Al hierdie slim stories is maar net ’n manier hoe die Satan ons wil mislei sodat ons ons oë moet wegneem van ons Oorwinnaar Verlosser, Jesus Christus! Wees daarop bedag!

Vriend, ken jy werklik vir Jesus Christus? En as jy Hom ken is dit jou groot ideaal en ambisie om Hom beter te ken? Kan jy saam met Paulus sê:

 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood....”       
 (Filippense 2:10,11)

Om Jesus Christus te ken is oneindig belangriker, oneindig meer vervullend en oneindig heerliker as al die  insigte oor teorieë en bangmaakstories van die wêreld, waaroor die kastige Christen navorsers ons so graag inlig!

Bewonder en bestudeer Jesus Christus, Hy alleen is dit waardig!








Maandag 26 Desember 2011

HERLEWING IN DIE SOUTPANSBERG

Kan God in ons goddelose tye nog steeds kragtig werk en mense harte verander? Ja, beslis! Dis baie belangrik dat die Christelike kerk (en ook ons hier op Tsumeb) sal weet dat niks vir God onmoontlik is nie. In hierdie tye van morele verval, ongeloof en valse teologie is Hy steeds instaat om mense te red en by sy kerk by te voeg. Die kragtige dade van God in die verlede moet ons aanspoor om ook met ’n verwagting te bid vir ’n huidige ruim werking van die Heilige Gees!



Een van die groot ingrypings van God se genade in die verlede in Suider Afrika was die herlewing in die Soutpansberg gebied in 1875-76. Die menslike instrument wat God in hierdie werk gebruik het was Stephanus Hofmeyer, ’n sendeling van die Kaapse NG Kerk.



Eers iets oor sy eie bekering en roeping. Volgens homself het die Here van kleinsaf in sy lewe gewek, maar hy was maar ’n wilde en ongehoorsame kind. ’n Voorperd van die duiwel wat die breë pad van die verderf met al sy krag bewandel het! Later het hy wel vroom en godsdienstig geword en selfs vir die bediendes huisgodsdiens gehou. Diep in homself het hy egter geweet dat hy verlore was, omdat hy nog nie wedergebore was nie. Hy het hom al meer oor sy eie geestelike toestand bekommer.

 

In April 1862 het God met Hofmeyer ontmoet by die stookketel in die kelder op die plaas en het hy kragdadig tot bekering gekom. Hy beskryf dit so : “Terwijl ik zoo stond zeide ik, Ach Heer, wat zal ik doen, ik heb alles geprobeerd en niets helpt, ik kan niet meer bidden of weenen, krij tog voor mij jammer.” Op daardie oomblik was dit asof die hemel en sy hart gelyk oopsprig. Die liefde van Jesus het vir hom ’n werklikheid geword en dit het vir hom gevoel asof hy deur duisend vure na Hom sou kon loop. Die trane het uit sy oë gebars. Hy het uitgeroep : “O, dat ik toch een hoogen berg kon beklimmen en de geheele wêreld toeroepen en verzekeren, dat de Heer Jezus zondaars lieft heeft!”



Na opleiding en ander arbeid vir die Here is hy op 21 November 1864 in die kerk op Stellenbosch vir sendingwerk in die Soutpansberg (in die noorde van Transvaal) afgesonder. Sy veld was die Buyse en die heidene rondom.



Die herlewing wat in 1876 uitgebreek het, het klein en groot aangeraak. Dit het eintlik in die kinderbiduur begin. Terwyl Hofmeyer oor die geskiedenis van Josef gepraat het, het die plegtige stilte hom getref. Toe hy geleentheid vir gebed gee, het daar ’n opgekropte smart losgebars. Een van die dogters het met trane haar sonde bely en gesê : “ons gaan verlore, ons van sovele gebede en genademiddele; ander heidene neem die Koninkryk van die hemele voor ons weg.”



Vanaf 3 Januarie 1876 was die begeerte om God se Woord te hoor so groot dat daar elke dag ’n biduur gehou is. Grysaards, towenaars, moordenaars, hoereerders ens. het saam met kinders gehuil. Selfs vreemdelinge het verbaas erken : “Dié God is die lewende!” ’n Skare pasbekeerde kinders het vir drie dae nie geëet en vir drie nagte nie geslaap nie, maar bidure in die veld gehou en singende rondgegaan.



Hofmeyer was self verras en verbaas oor die groot werk van God. “... ik was aan mijne zitplaats genageld. Ach, heeft God waarlijk mijn gebed... verhoord? Beschaamd zat ik daar verbrijzeld. Nu zag ik het ongeloof dat immer mijn werk aankleefde, nu zag ik de perken ik den Allerhoogsten gesteld had.”



Die invloed van die herlewing was nie net tot die gekleurdes beperk nie. God het ook kragtig in die Blanke gemeenskap gewerk. ’n Sekere diaken Grobler het met ’n biduur op Renosterpoort begin. Eers het ’n bediende tot bekering gekom en toe is die Blankes ook aangeraak. Hele huisgesinne is omgekeer. Hofmeyer het vertel van voetpaaie wat deur bekommerde bidders na die bosse en slote oopgetrap is.



Mag die Here ons tog van ons ongeloof bevry. Kom ons spoor mekaar aan om met passie en ’n verwagting te bid dat God ook nog ’n groot genadwerk in ons dag sal doen!




(Bron : W.L. Maree, Lig in die Soutpansberg)


















Donderdag 22 Desember 2011

KONINGSKAP VAN JESUS : BEVRYDING OF BEDREIGING?

Jesus Christus wat in Betlehem gebore is, was nog altyd ’n omstrede, kontroversiële figuur!
Jesus verdeel mense in twee kampe! Sommige aanvaar Hom, ander verwerp Hom. Sommige het Hom intens lief, ander haat Hom met ’n passie! Party kom na Hom, ander skram weg van Hom. Baie beleef Hom as ’n wonderlike Bevryder, maar die meerderheid beskou Hom as ’n Bedreiging!

Hierdie skrille kontras van menslike opinie oor Jesus kom ook duidelik in Matteus 2:1-12 na vore. Die sterrekykers kom van ver en doen besondere moeite om Jesus op te spoor en eer aan Hom te bring. Herodus en Jerusalem se godsdienstiges is geografies naby aan Jesus, maar hulle doen moeite om Jesus uit te wis!

Waarom was koning Herodus so ontsteld oor die geboorte van Jesus?
Die antwoord lê opgesluit in die sterrekykers se woorde in vers 2. “Waar is Hy wat as die koning van die Jode gebore is?” Herodus is ontsteld en bekommerd en vyandig omdat hierdie Jesus wat gebore is, ’n KONING is! As Jesus maar net ’n towenaar of kunstenaar, morele prediker of vermaaklikheidster was, sou dit geen probleem wees nie. Maar nou is Hy ’n koning en dit hou ’n bedreiging vir Herodus se eie posisie in. Herodus soek nie ’n ander koning nie, want hyself is mos die koning!

Hier lê die diepste rede vir mense se teenstand teen Jesus! Hier vind ons die oorsaak hoekom die meerderheid mense ’n weersin in Jesus het en Hom verwerp! Die mens wil graag sy eie koning wees!

Die sondige mens wil nie voorgeskryf word deur Jesus nie! Nee, hy wil sy eie ding doen soos hy wil!

Jesus moenie vir my sê hoe ek my lewe moet inrig nie, ek wil self besluit!

Jesus moenie van my verwag om my vyande te vergewe nie, ek sal besluit hoe om hulle te hanteer!

Jesus moenie vir my voorskryf wat die reëls vir seksualiteit en huwelik is nie, ek sal besluit wat is lekker en voordelig vir my!

Jesus moenie vir my sê dat ek toegewyd aan sy liggaam, die kerk moet wees en saam met ander gelowiges byeenkomste moet bywoon nie! Ek is my eie baas en ek maak soos dit my pas!

Jesus moenie vir my beveel om sy Koninkryk eerste te stel nie, nee, ek besluit mos, my gerief en my geld en my toekoms kom eerste!

Die outonome selfstandige mens haat
Jesus se koningskap!

Die selfversekerde mens verwerp Jesus se heerskappy oor sy lewe! Hy sien dit as ’n bedreiging! Dis juis ook dikwels godsdienstige mense wat Jesus se koningskap verwerp. Dis interessant dat Herodus, juis die priesters en skrifgeleerdes raadpleeg om oor Jesus uit te vind. Dit lyk asof Herodus die Bybel geglo het! Maar Hy weier om te buig voor Jesus! Die priesters en skrifgeleerdes self weier ook om Jesus te aanvaar en sou later sy grootste vyande word. Om die Bybel te ken, beteken nog nie ek aanvaar noodwendig vir Jesus as my Koning nie!

Dis opvallend dat Herodus nie openlik sy teenkanting teen Jesus bekend maak nie! Kyk net hoe vals is hy. (Vers 8) Hy wil ook kastig aan Jesus hulde bewys! Dis ‘n valse eer en ‘n skynheilige eerbied! Baie wat Jesus se koningskap verwerp sê dit nie altyd openlik nie. Daarom kry ons skynlidmate, skyn dissipels wat saam draf en saam die regte woorde sê, maar nog nooit regtig voor Jesus gebuig het nie. In die Bergrede waarsku Jesus pertinent hierdie mense. (Lees Matt 7:21-23)

Geliefde, hoe voel jy oor Jesus as Koning? Hy is Koning en as ek Hom nie as Koning aanvaar nie, verwerp ek Hom. Matteus onderstreep Jesus se koningskap baie sterk in hierdie berig oor die sterrekykers. Dis ’n deurlopende tema in hierdie verhaal. Jesus word “die Koning van die Jode” genoem. (vers 2.) Die term “hulde bewys” word drie keer gebruik... (vers 2, 8 en 9) Die sterrekykers bring aan Jesus koninklike geskenke van goud, wierook en mirre!

Jesus is inderdaad, Koning!
 ’n Heerlike genadige Verlosser-Koning!

Die feit dat heidense sterrekykers voor Jesus buig onderstreep juis ook ’n ander waarheid, die wydheid van sy genade! Ook vir heidene wat voor Hom buig is daar bevryding en vergifnis! (Onthou net dit was ’n baie radikale ding om destyds te sê) Die genade het naby gekom vir die wat ver is en voorheen uitgesluit was. Dis ’n tema wat Matteus al in die geslagsregister van Jesus aanraak. Die heiden Moabietiese vrou Rut en die heidense prostituut Ragab is ’n Jesus se geslagregister opgeneem. (Matt 1:5) Matteus wil dit so duidelik stel reeds aan die begin van sy evangelie, dat daar vir ALLE mense verlossing en vergifnis is by Jesus. In Matteus 11:28 nooi Jesus ALMAL wat uitgeput en oorlaai is uit om rus te vind by Hom! Aan die einde van die evangelie lees ons hoe Jesus sy dissipels uitstuur na AL die nasies! (Matt 28:19)

Daar is ’n sterk kontras in hierdie gebeurtenis. Die godsdienstige leiers en Herodus verwerp Jesus se koningskap! Die heidense sterrekykers aanvaar Jesus se koningskap! Herodus beleef Jesus as ’n Bedreiging. Die sterrekykers buig voor Hom as hulle koninklike Bevryder! Wat van jou my vriend? Kan jy regtig sê dat jy al nederig voor Jesus gebuig het en Hom as Verlosser-Koning aanvaar het? Is Jesus al vir jou ’n Bevryder of sien jy Hom nog as Bedreiging?
 
Bring jy regtig hierdie Kerstyd hulde aan Jesus of maak jy maar net asof jy hulde wil bewys??
 
Mag jy 'n Vreugdevolle Tyd beleef
ter ere van ons Bevryder-Koning, Jesus!

Dinsdag 20 Desember 2011

BOEKE VAN BLYWENDE BETEKENIS (1)

God het dit so beskik dat boeke ’n groot rol in ons lewens sou speel. Natuurlik, is daar een Boek, die Bybel, wat uniek is. Dis ons enigste onfeilbare Bron waarin God homself aan ons bekend maak. Maar daar is ook baie ander boeke wat van groot nut en onskatbare waarde vir ons geestelike groei en volharding is. Uit 2 Timoteus 4:13 kan ons aflei dat selfs in Paulus die apostel se lewe, boeke ’n baie belangrike rol gespeel het. In my eie lewe was en is boeke ’n groot bron van inspirasie, insig en bemoediging. Ek wil graag ’n paar met jou deel en sterk aanbeveel.
Hoe dikwels het ek al nie D.Martyn Lloyd-Jones : The First Forty Years 1899-1939 nadergetrek vir bemoediging nie! Dis geskryf deur Iain H. Murray en vertel ons van hoe Lloyd-Jones, ’n belowende loopbaan in die mediese wêreld vaarwel geroep het, om sonder formele teologiese opleiding, die evangelie onder die werkersklas in Aberavon, Wallis te gaan verkondig. Hy het van geen truuks en foefies gebruik gemaak om mense te lok nie, maar hom slegs by die suiwer verkondging van die Woord gehou! Die gevolg was, merkwaardige bekerings van selfs die slegste sondaars! Daar is ook ’n tweede volume, D.Martyn Lloyd-Jones : The Fight Of Faith 1939-1981 wat konsentreer op sy bediening in Westminster Chapel in London en sy wêreldwye invloed onder evangeliese Christene.

Baie van Martyn Lloyd-Jones se preke en lesings is beskikbaar in boekvorm, maar een wat ek graag vir elke Christen wil aanbeveel is : Spiritual Depression : It’s Causes and Cure. Hier is werklik manna vir die siel van elkeen wat die stryd van die geloof stry!

’n Kosbare boekie wat God se plan van redding eenvoudig en treffend verduidelik is : God’s Way of Peace van Horatius Bonar. Dit wys die soeker en onseker Christen hoe om nie op jouself en jou eie swak geloof te fokus nie, maar op Jesus se afgehandelde en genoegsame werk aan die kruis!

Andrew Bonar (broer van Horatius) se biografie, oor sy vriend, The Life of Robert Murray M’Cheyne is meer as net ’n aangrypende verhaal van ’n groot Godsman, maar gee ook insig in diepgaande geestelike vraagstukke.

Die tydlose klassieke boek wat handel oor die begin van die Christelike lewe en die volharding in heiligmaking is natuurlik die beroemde John Bunyan se Pelgrim’s Progress. Dis ’n beskrywing van die Christen se prakiese alledaagse stryd in die vorm van ’n allegoriese avontuur verhaal! As jy net een ander boek behalwe die Bybel wil lees is hierdie beslis die een. Dis in baie tale, waaronder ook Afrikaans vertaal as die Pelgrims se Reis na die Ewigheid of ook Die Christen se Reis na die Ewigheid.



’n Boek van onskatbare waarde vir ’n geheeloorsig en “lugfoto” van die die Bybel se inhoud en samehang is, According to Plan van Graeme Goldsworthy. Sy, The Gospel in Revelation, sal jou ook met nuwe oë na Openbaring laat kyk.

Die beroemde prins van predikers, C.H. Spurgeon se preke raak net nooit oud nie. Baie versamelings van sy boodskappe is beskikbaar, maar een besonder vertroostende bundel is, Finding Peace in Life’s Storms.

Een van die kragtigste predikers van ons eie tyd is John Piper. Sy boekie, Seeing and Savoring Jesus Christ is ’n kosbare juweel, wat die heerlikheid van Jesus vir jou weer vars sal maak.


Lekker lees!

















Sondag 18 Desember 2011

VREUGDE VAN VERGIFNIS

In Jesaja 44:22 sê God :

“Ek het jou oortredinge, jou sondes uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke...”


In sy preek oor hierdie teks, “Sins Forgiven” vertel Donald MacDonald die volgende gebeurtenis:


Het jy al ooit iemand gesien wat op die grond verpletter is? Jy kan nie eers met hom praat nie. Niemand kan meer misrabel wees as hy nie. Hoekom? As gevolg van sy sonde.


Ek onthou ’n man, ’n ou man en as daar nou ooit ’n godsdienstge mens was, was dit hy. Hy was godsdienstig van sy jeug af; hy is getroud en het ’n gesin gehad en het geleef om sy kleinkinders te sien. Hy was buitengewoon goed vir die saak van Christus. Ek was al lank in my huidige gemeente voordat hy na my toe gekom het. Teen hierdie was hy al ’n ou man, goed oor die tagtig, en hy was so godsdienstig, so godsdienstig soos ’n mens maar kan wees. Hy het nooit ’n biduur gemis nie; altyd die Bybel gelees. Dit het gelyk of hy alles was wat ’n mens moes wees.


En toe word hy oortuig dat hy ’n verlore sondaar was. Eendag het hy na die pastorie gekom en ek het hom probeer troos. Ek het hom probeer vertel van Muckle Kate van Locharron wat haar oë verloor het soos sy oor haar sondes gehuil het; maar hy wou nie luister nie. Toe ek hom van haar vertel het, het hy net gesê : “Al haar smart was niks in vergelyking met myne nie; daar was nog nooit so iemand soos ek gewees nie. Daar kan nie iemand soos ek wees nie.”


Wel, dit was dit en wat kon ek doen. Ek het hom op die Skrif gewys, maar pure verniet. Na ’n tyd het ek hom weer gaan sien. Ek dink hy het my laat roep as ek reg onthou. Hy het my vertel dat hy Christus gevind het, dat elke wolk weggeneem is, dat deur die genade van God sy sondes weggeneem is. Sy sondes van vyf en tagtig jaar, sy sonde van selfgeregtigheid en selfgenoegsaamheid. Hy was vir lank onder ’n wolk en dis wat so swaar op sy siel gelê het, maar God het dit weggeneem en hy kon sê : “Ek sien Christus in sy genade en liefde.”


Wel, dit is wat God doen. Die wolke is dik, en soms maak hulle hulself leeg op ons, maar God in sy genade vat hulle weg. Ons lees in die Psalms : “As U, o Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, wie sal bestaan? Maar by U is daar vergewing, dat U gevrees (gedien) mag word.”(Ps 130:3,4)



Wat ’n treffende bevestiging dat godsdienstigheid ons nie kan red nie! Net ’n vertroue op Jesus se genoegsame offer, kan bevryding van ons sondelas bring! Die moment wanneer ons op Hom vertrou vat God die donker wolk van oordeel wat oor ons hang onmiddelik weg! Dis die enigste pad na ware vreugde!

Saterdag 17 Desember 2011

GENEESMIDDEL VIR 'N ERNSTIGE TOESTAND!


Liefde vir die sondige wêreld en sy begeerlikhede is ̕n probleem waarmee elke Christen te kampe het.  Dis 'n baie ernstige toestand, want daar is nie plek vir beide liefde vir die wêreld en liefde vir ons Hemelse Vader in ons harte nie! Hieroor is 1 Johannes 2:15-17  (lees) baie duidelik. Ons moet dus alles in die stryd werp om wêreldliefde in ons harte te beveg!

Die groot Hervormer Johannes Calvyn gee kosbare insigte oor hierdie netelige saak.
Calvyn  : “Die Here weet dat ons van nature geneig is om die wêreld blindelings.....lief te hê.”


Wêreldliefde het verskeie gestaltes en baie van ons gesindhede, aksies en toekomsplanne is daardeur besmet.
Calvyn : “Maar as ons die ambisieuse planne, ondernemings en dade van die mens van naderby beskou, sal ons vind dat dit alles net om die wêreld gaan. Die uiterlike glans van rykdom, mag en eer verblind ons verstand so dat ons nie verder as dit kan sien nie. Ook die hart wat gevul en gekwel is deur hebsug, ambisie en ander sodanige begeertes, kan nie bokant die wêreld uitstyg nie. Kortom, die hele siel, verstrengel in vleeslike genietinge, soek sy geluk net op aarde.”


Wat doen God om sy kinders hiervan te suiwer?
Calvyn : “Om dit teen te werk, leer die Here sy kinders die ydelheid van die huidige lewe deur verskeie strawwe lesse van ellende.”



Watter soort lesse gebruik God om die nietigheid van die sigbare  dinge onder ons aandag te bring?
Calvyn : “Hy laat dit toe dat hulle herhaaldelik gesteur en lastig geval word deur oorloë of rewolusies, rowery en ander soorte leed, sodat hulle hulle nie sal instel op ̕'n lewe van gemak en gerief nie. Hy bring hulle tot armoede of beperk hulle ten minste tot middelmatigheid....Hy kwel hulle deur die tekortkominge van hulle huweliksmaat of verneder hulle deur eiesinnige kinders....wys Hy hulle deur siektes en gevare hoe veranderlik en verganklik alle sterflike seëninge is sodat hulle nie deur ydele eer opgeblase sal word nie.


Die ellendes wat God in ons lewens toelaat en waarmee hy ons tugtig is eintlik noodsaaklik sodat ons ̕'n visie op ons ewige erfenis kan hê.
Calvyn : “ons moet toegee dat ons hart nooit ernstig hunker na of nadink oor die toekomstige lewe nie, tensy dit eers deeglik geleer het om die ydelhede van die huidige wêreld te versaak.”

Calvyn laat mens dink, nê? Dit laat mens bietjie anders kyk na die misdaad en ellendes rondom ons...


(Aanhalings ontleen aan GULDE REËLS VIR DIE WARE CHRISTELIKE LEWE, Johannes Calvyn)




Vrydag 16 Desember 2011

TREUR OOR BETHULIE?

“Die trane loop in strome uit my oë oor die vernietiging van my volk”

Dis die woorde op ’n gedenksteen by die Vrouemonument (Bloemfontein) vir die slagoffers wat in Bethulie se konsentrasie kamp gesterf het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Weet jy waar kom hierdie woorde oorspronklik vandaan en wat was die agtergrond en aanleiding? Dit kom uit die boek Klaagliedere.  Dit verwoord die intense aard van die droefheid wat die profeet Jeremia beleef oor die ellendige toestand van God se volk weens die verwoesting van Jerusalem en die Ballingskap. Op ’n ander plek stel hy dit nog sterker en meer grafies!

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud...”

Hy ervaar ’n diepe rousmart oor die gebrokenheid van God se mense. Is Jeremia reg om so diep bedroef te wees? Oordryf hy nie dalk sy smartgevoelens nie?

Ons assosieer Christenskap normaalweg met vreugde en dis natuurlik heeltemal reg so. Die evangelie is immers ’n blye boodskap en wie nie intens bly is daaroor nie, verstaan dit verkeerd. Maar is treur en hartseer ook deel van die egte Christelike belewenis?

 

Ja, verseker! Jesus sê tog duidelik : “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Die Christen treur in die eerste plek oor sy eie sonde en gebrokenheid. En ja ons word beslis vertroos deur die Heilige Gees se versekering van vergifnis op grond van Jesus se kruisdood! Maar juis hierdie troos wat ons ontvang, bring by ons nog ’n groter hartseer besef van ons verdorwenheid en ondankbaarheid, wat op sy beurt weer ’n diepere belewing van evangeliese troos by ons wek! Genade onbeskryflik groot!

Maar daar is ook ’n ander treur wat gepas is by die Christen. Die treur oor ’n verlore stukkende wêreld wat God en sy genade nie ken nie. ’n Wêreld wat blind is vir Jesus en sy wonderlike boodskap. Jesus self het hieroor getreur. Toe Jesus met sy Intog vir die stad Jerusalem in die oog kry het hy gehuil oor die stad en sy mense. “Ag, as jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek!” Jerusalem het sy genadetyd laat verbygaan en dit het Jesus laat huil.


Waarom het die volk in Jeremia se tyd in soveel ellende beland? En laat ons sommer ook vra : Waarom is die kerk in ons dag in so ’n bedenklike toestand van verval en gebrek aan geloofwaardigheid. Die antwoord kom sommer baie duidelik : “Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou ongeregtigheid nie geopenbaar...nie.” In plaas van die waarheid oor sonde, die noodsaak van bekering en die oordele van God te verkondig het die profete hulle hoorders met mooi woordjies gesus! Goedvoelprekies en rugkloppraatjies! Die geestelike leiers was te bang om Israel se sondes bloot te lê sodat bekering kon plaasvind en die Ballingskap afgeweer kon word! Wat sê dit vir die herders en leraars van ons tyd?

Moet ons nie ook treur oor ons volk en spesifiek oor die toestand van die kerk in ons land nie?

Raak dit jou hart as ons kerke leegloop, as die instelling van die huwelik onder bedreiging is, as misdaad en immoraliteit hoogty vier? Wat voel ons, as ons weer hoor hoe baie jongmense hulle lewens hier in Desember weggooi op Margate en Plettenbergbaai?

Wat staan ons te doen? “Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit en bid om die lewe van jou kinders...”

Die duisende vroue en kindersterftes van die Anglo-Boere Oorlog is ’n pynlike hoofstuk in ons volk se geskiedenis, wat mens altyd weer opnuut hartseer maak! (Gaan lees maar op ’n keer die rye name van babas en kinders wat so nodeloos moes sterf...) Maar die ramp van geestelike moord en uitwissing wat ons volk tans beleef is nog baie erger!

Moet ons treur oor Bethulie? Ja, maar baie meer nog oor ons mense wat afgedwaal het van God en sy toorn vir hulle self op die hals haal! Kom ons buig ons knieë voor God en pleit vir genade!

Skrifgedeeltes : Klaagliedere 3:48; Klaagliedere 2:11; Matteus 5:4; Lukas 19:42; Klaagliedere 2:14,19 (meestal uit OAV)


Die teksverwysing op die gedenksteen is dus foutief. Dit moet Klaagliedere 3 wees en nie 2 nie.

























Terug by Jeremia...








Donderdag 15 Desember 2011

KOSBARE TYE OP KOPPIES

Hierdie is sommer net ’n kort getuienis oor die rykdom van God se genade in ’n moeilike, maar wonderlike tydperk in ons lewens. In 2005 het ons (ek, my vrou Jacolette en die twee dogters, Marisja en Jonette) na Koppies in die Vrystaat verhuis. Op hierdie stadium het nie een van ons ’n permanente voltydse werk met voldoende inkomste  gehad nie.  Voor die skuif na Koppies het ons ’n woonstel in Vereeniging gehuur, maar ek was van mening dat dit goedkoper en makliker sou wees om op die platteland te oorleef. Die Here het dit so beskik dat ons deur vriende van ons genooi is na ’n kerkdiens op Koppies (van ds. Etienne Maritz) en ons het sommer dadelik van die lekker plattelandse atmosfeer gehou. ’n Ander plan vir goedkoper verblyf naby Vereeniging het genadiglik deur die mat geval en ons het toe ’n klein huisie op Koppies gekoop. Huise was destyds spotgoedkoop. Die huisie in Rosenlaan 11 was baie klein en gebars, maar vir ons was dit soos ’n stukkie hemelse verkwikking na ’n baie moeilike tyd in ons lewens. Ons goeie vriend Francois Bloem het vir ons die huisie reggemaak. Ons het dit veral geniet om in die tuin te woeker! Dit was vir my ’n groot lekkerte om mielies, boontjies, ertjies ens. te plant en te oes! Wat ’n heerlike gevoel, om te weet, al is die plekkie hoe klein en eenvoudig, dis ons s’n!

Die groot les wat ek in Koppies geleer het was
die vreugde van eenvoud!

Ons het ryk en vol lewens gehad in hierdie eenvoudige omstandighede. Ons het selfs gaste in ons huisie ontvang en sommer baie mense leer ken. Ek het ’n deeltydse afleweringswerkie gekry by ’n boer wat veral bokmelkprodukte vervaardig het. Dit het beteken dat ek moes rondry van een besigheid na die ander in Johannesburg en Pretoria! Dit was ’n nuwe ondervinding van ’n wêreld wat vir my vreemd was. En beslis het dit nie elke dag maklik gegaan nie. Tog het die Here in alle benoudhede uitkoms gegee!

Ek het uit ’n sendinghuis gekom waar ons dit reeds as kinders beleef het, hoe God op wonderlike maniere ons ook materieël versorg het. Nou kon ek en my gesin dit self ook eerstehands ervaar dat God ’n God is wat sorg! Dikwels ook onverwags en op verrassende wyse! Natuurlik het Hy wonderlike en kosbare mense hierin gebruik. Maar ook indirek. Vir ongeveer vier jaar het ons nie ’n mediese fonds gehad nie. In hierdie tyd het ons dit ook nooit nodig gekry nie! Die NG Gemeente Koppies-Weltevrede was vir ons baie goed en ons het dadelik daar ingeskakel. Ek het ook gereeld preekbeurte gekry, waarvoor ek ruim vergoed is!

Ds. Maritz het my gehelp en aangemoedig in my poging om weer predikantstatus in die NG Kerk terug te kry. Dit is ook weer ’n verhaal op sy eie! In Oktober 2005 het ek voor die Vrystaatse Moderamen en Sinode verskyn met die oog op hertoelating in die NG bediening. Dit was ’n moeilike en spanningsvolle tyd. Maar nadat die Sinode my aansoek tot die bediening goedgekeur het, het daar nog ’n onverwagse skok op my gewag. Ek moes toe eers uitvind dat die verpligte Colloqium Doctum behels dat ek ’n bestek van voorgeskrewe werk in al die teologiese vakdissiplines moes voorberei om daaroor geëksamineer te kon word. Ek was salig onbewus daarvan. Ek was onder die indruk dat die Colloqium Doctum slegs ’n ondersoekende gesprek was. (dit was wel voorheen so) Die eksaminering sou in November plaasvind. Indien ek dit sou misloop sou ek tot November 2006 moes wag. Die tyd was egter hopeloos te min om gereed te kon wees. Op die 9 de November het ek finaal geweet dat ek maar sou moes wag vir die volgende jaar! Alles is dus nou met ’n jaar uitgestel! Die volgende oggend (10 Nov 2001) spreek die Here my so wonderlik aan deur Oswald Chambers se dagboek, “My Allerbeste vir Sy Allerhoogste”. Ek lees onder andere : “Solank as wat jy nog jou eie belang en ambisie nastreef, kan jy nie volkome met God se belange identifiseer of vereenselwig word nie. Dit kan slegs verkry word deur vir eens en altyd af te sien van al jou persoonlike planne en om God toe te laat om jou heeltemal op te neem in sy plan vir die wêreld.” En dan ’n ent verder.... “Ek behoort nooit te sê : ‘Here, hierdie ding breek my hart’ nie.” Die Here het my hierdeur groot berusting gegee en ek toe maar die volgende jaar begin boeke bymekaarkry en weer gestudeer. Die eksamen in 2006 het toe besonder goed afgeloop en ek is weer gelegitimeer.

Daarna het nog ’n hele paar maande verloop totdat ek in September 2007 op Bray in die NGK Onder-Molopo bevestig is. Oor daardie tyd sal ek miskien nog later skryf in BLYDSKAP EN BENOUDHEID OP BRAY.


    

 Marisja by die jong mielies in die agterplaas.                                                                                                                                         

Die huisie in Rosenlaan 11 van binne, voor dit reggemaak is.








Jonette by die groot mielies. Ek was baie trots op hierdie mielies!




Ons besoek die Vrouemonument in Bloemfontein.

























VREEMDE VRYERS

(Wenk : Hou jou Bybel oop om hierdie verhaal ten volle te geniet)



Ek wil vir julle ʼn besondere liefdesverhaal vertel. Eendag stap ’n baie ryk Prins op ’n wêreldtoer by ’n slawemark verby in ’n verre land. Wat Hy sien bring sy hart in beroering. Hy sien ’n pragtige slawemeisie, vasgeketting en verwese. Dadelik steel sy die Prins se hart. Sy verkeer in ‘n uiterste toestand van ellende en verwaarlosing, maar die Prins kyk verby haar vuil vodde en vernedering, verby die letsels van lyding en smart. Hy sien haar potensiaal as toekomstige bruid in sy Koninkryk. Op hierdie oomblik is sy ’n gevangene in die mag van ’n uiters gewetenlose en wrede Baas. Die Prins is egter vasbeslote om haar vryheid te bewerk en Hy betaal ’n ontsaglike groot prys vir haar. Sy word losgekoop. Sy kry haar vryheid terug, maar dis nie al nie! Hy vra haar onmiddellik om sy bruid te word! En? Sy sê "Ja!"  As teken van hulle verbintenis gee Hy aan haar ’n besonder kosbare Ring om altyd te dra. Dan vra Hy haar om geduldig eers vir Hom te wag sodat Hy die paleis in Sy Koninkryk in gereedheid kan bring vir die grootste Bruilof ooit! Vir ’n feestelikheid wat die wêreld nog nooit gesien het nie! Hulle groet en die meisie beloof om geduldig te wag totdat Hy haar kom haal. Sy onderneem plegtig om aan Hom getrou te bly...



Maar weet jy wat? Die Prins is skaars weg, toe kom die eerste vreemde vryer al aan die meisie se deur klop... Wat sal nou gebeur, sal sy getrou kan bly...? Gaan hulle dit regkry om haar te verlei? Gaan sy vergeet van die Prins se opofferende liefde? Gaan sy haar heerlike toekoms net so weggooi...?



Natuurlik verstaan jy die verhaal seker baie goed: Die Prins is Jesus Christus wat ons oneindig liefhet!



Die wrede slawemeester is natuurlik Satan. Hy bind ons vas met kettings van sonde. Ons lewens is verniel en geskend. Ons (die slawemeisie) is egter vrygekoop op Golgota met Jesus se kosbare bloed, die hoogste prys moontlik!



Wanneer ons ons bekeer, sê ons “Ja” vir die Prins, om vir ewig aan Hom te behoort.



Die Prins Jesus gee vir ons ʼn Ring naamlik die Heilige Gees. Die Gees wat in ons woon is die bewys dat ons aan Jesus behoort. (Efesiërs 1:14) Hy herinner ons dat ons Jesus se eiendom is, die waarborg dat Jesus ons sal kom haal.



Jesus maak vir ons plek gereed en kom ons haal! (Joh 14:1-3) Ons moet vir Hom wag en ons rein hou vir Hom. (1 Joh 3:3)




In 2 Korintiërs 11:2-4  (lees) gebruik Paulus  ʼn soortgelyke beeld om uitdrukking te gee aan sy wens dat ons nie van Jesus afvallig moet word nie. (Ook op ander plekke in die Skrif word die kinders van God beskryf as die Bruid van Jesus) Paulus het deur sy prediking die gemeente van Korinte voorgestel aan die Verlosser Prins Jesus Christus. Hulle het so die aanstaande bruid van Jesus geword. Sy Verloofde. Maar nou was daar die gevaar dat hulle mislei sal word deur ʼn “ander Jesus” en ʼn “ander evangelie.” Anders gestel : daar was die gevaar dat daar vreemde vryers sou kom en hulle sou afrokkel van die een ware bruidegom Jesus Christus .



Elke kind van God word deur hierdie vreemde vryers bedreig, wat ons van Jesus wil afrokkel. Hule kom met mooi stories om ons te verlei met valse lering en ʼn verkeerde lewe.




Die gevaar van vreemde vryers is ’n werklikheid. Kom ons kyk na ’n paar van hulle. Elkeen het ’n naam en sy eie werkswyse en metodes. (Kyk of jy hulle kan herken) :



~ Meneer Wêreldgelykvormigheid. Sy argumente kan duidelik uitgeken word : “Ag, almal maak so, almal dink so, almal lyk so...moet tog nie vir jou so heilig hou nie” Ons word dringend gewaarsku teen hom in 1 Johannes 2:15-17, Romeine 12:1-2.

 

~ Meneer Onreinheid. Dis alle vorme van voor en buitehuwelikse seks, losbandigheid ens. Hy kom skielik en onverwags. Dis ’n baie glibberige vreemde vryer. Hy glip baie maklik in jou huis, gedagtes en lewe in (via sepies, tydskrifte, die internet ens.) Hy saai verwoesting en maak mense afvallig van Jesus. Ons word ook ernstig gewaarsku teen hom.1 Tess 4:7-8.

 

~ Meneer Materialisme. Hierdie vryer sê graag : “Kyk, kyk hoeveel het ander, kyk jy het nie genoeg nie,” of “Jy is nou te besig om aan die Here se dinge aandag te gee....” As jy begin luister na hierdie vreemde vryer word jou hart koud teen die bruidegom Jesus. Dit lei tot baie probleme. Geldgierigheid is die wortel van alle euwels! 1 Timoteus 6:10

 

~ Meneer Bitterheid. Hierdie vryer se geliefkoosde woorde is : “Onthou, onthou jy wat het hy aan jou gedoen, onthou jy destyds hoe het sy jou beledig..... ?” Ons word gewaarsku teen hom. Moet geen plek maak vir haat en bitterheid nie. Jaag hom weg. Hoe? As iemand jou benadeel het, vergewe. Hbr 12:14-15

 

~ Meneer Valse leringe. Dis eintlik waarteen Paulus die gemeente pertinent waarsku in hierdie gedeelte. Valse lering wat ʼn ander valse Jesus verkondig. (2 Kor 11:4) Ja, daar is mense wat van Jesus kan praat, wat sy Naam gebruik, maar dis nie die Jesus van die Bybel nie. Die Jesus wat hulle verkondig het ’n ander inhoud as die Bybelse Jesus. Byvoorbeeld : Hulle “Jesus” is net ʼn lekker ou, wat nie omgee dat ons voortleef in sonde nie. Dis ‘n mensgemaakte, mensuitgedinkte Jesus wat net regstaan om ons behoeftes te vervul, dis niks anders as ‘n mensgemaakte afgod nie! Daar is so baie valse leringe wat verwoesting saai en mense wegrokkel van die ware Jesus. Ongelukkig is daar selfs mense wat hulself teoloë noem en valse leringe verkondig  (binne die kerk en universiteite) soos dat Jesus nie regtg uit die dood opgestaan het of dat daar nie iemand soos die duiwel is nie! Ons word duidelik gewaarsku : Valse lering vernietig mense se geloof - 2 Timoteus 2:16-18





Het jy al Ja gesê vir die Prins Jesus? Dan is jy deel van sy bruid, Sy verloofde! Hy gaan jou kom haal, maar ons moet gereed wees. Ons moet ons heilig en rein hou vir die Bruidegom Jesus. Watter vreemde vryer is op hierdie oomblik besig om jou van Jesus af te rokkel? Gaan jy maar so aangaan of gaan jy dit bely? Gaan jy getrou bly aan Jesus en die vreemde vryers wegjaag? O, weet die Bruidegom het jou lief!   Vasbyt, Hy kom binnekort!