BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ernstige sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ernstige sonde. Wys alle plasings

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD



Donderdag 08 Februarie 2018

SAUL SE SPIEËL

- disseksie van ‘n sluwe sondaarshart! 



Het jy al ‘n nuwe hart gekry? ‘n Rein hart? Dis allesoortreffend belangrik. Hoekom? Daar is ‘n kragtige belofte in Matteus 5:8! “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” ‘n Christen is iemand wat ‘n nuwe/rein hart gekry het! En net so iemand sal God beleef, nou en eendag. 



In Dawid se passievolle gebed van berou na sy groot sonde, pleit hy : “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” (Psalm 51:12) Ons probleem lê nie by ons ouers, onderwysers, regering... nie, maar in ons onrein, bose harte! 



Dis ‘n groter saak as wat ons dink. Die probleem is meer akuut as wat ons sou wou erken. Ons harte is baie meer verdorwe en boos as wat enigeen van ons dalk besef. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9) Ons erken baie ligtelik, “ag, ons is maar almal sondaars.” Ons besef egter nie die omvang en die grusame aakligheid van die probleem nie, 



Vir vergifnis, genesing, verlossing, bevryding is belangrik dat mens jou eie hart ontdek. Dis onontbeerlik belangrik. Die Heidelbergse Kategismus leer op die voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge noodsaaklik is as ons salig wil lewe en sterwe : Ons moet besef hoe groot ons sonde is, ons moet weet hoe om daarvan verlos te word, ons moet dankbaar wees vir die verlossing! Sonde, Verlossing, Dankbaarheid. Hoe ontdek ons die omvang en die erns van ons sonde? Die Gees wys jouself vir jou en Hy gebruik die Woord. 

Hierdie ontbloting van mens se eie hart is gewoonlik ‘n voor bekeringswerk van die Heilige Gees voordat mens na Jesus kom. Dis juis die besef van die boosheid, en die gevaar van die boosheid van jou eie hart wat jou na Jesus toe dryf. Maar ook mense wat reeds God se kinders is ervaar dat die Here opnuut en voortdurend die boosheid van jou hart aan jou openbaar, met die oog op groter afhanklikheid van Jesus en ‘n dieper werk van heiligmaking. Baie keer besef mens eers die diepte van sonde na jou aanvanklike bekering! Dis juis ook vir die kind van God nodig om selfondersoek te doen, sodat ek stywer kan vashou aan die genade van Jesus. Dus aktueel vir almal. 

Die tragiese geskiedenis van Saul is ‘n treffende voorbeeld van die sluwe subtiele boosheid van die menslike hart. 'n Handboekvoorbeeld van totale verdorwenheid! Wees gewaarsku jy gaan jouself hierin sien! En dis nie ‘n mooi prentjie nie... Kom ons blaai saam deur 1 Samuel 15:1-35. 

1 Sam 15:1-3 “Samuel het vir Saul gesê: "Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 
So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 
Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie." Hier vind ons die agtergrond van die skokkende gebeure hierna : Saul kry die opdrag van God om die Amelekiete totaal uit te wis.  (En terloops, ons moet nou nie hierdie opdrag van God meet aan ons humanistiese postmoderne waardesisteme van vandag nie. Amalek was God se vyand, wat God se bedoelings probeer darsboom het en daarom was hulle 'n voorwerp van God se toorn en waraak...)

Wat doen Saul toe? 

“Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ‘n mens kom by Sur teenoor Egipte. 
Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 
Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.” (7-9) Hy is ONGEHOORSAAM! Die kern van alles sonde. Wat gebeur nou verder? 

God word toe baie bedroef oor hierdie ongehoorsaamheid. Ook Samuel wat Saul tot koning gesalf het, was uiters ontsteld. “Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: "Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie. Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.” (10-11) 

DISSEKSIE

Ons kry nou verdere insae in verskeie aspekte van Saul se sluwe sondaarshart: 

HOOGMOED in plaas van berou. “Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: "Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe." (12) Kan jy nou meer, die ongehoorsame Saul bou 'n monument vir homself! Die arrogansie van die gevalle mens darem! Die sondaarhart is totaal ongevoelig en verblind deur ‘n grootheidswaan en eie gevoel van belangrikheid. Geestelik heeltemal blind en afgestomp. 

SAUL HET GEEN LIEFDE EN RESPEK VIR GOD NIE, GEEN LIEFDE VIR SY MEDEMENS NIE, ALLES DRAAI RONDOM HOMSELF!

Saul is LEUENAGTIG EN VALS en MISBRUIK die Here se naam. “Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: "Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer." (13) Onbekeerdes gebruik die mooiste Christelike frases! Die Here is so goed vir my, die Here het my geseën, die Here het vir ons wonderlike reën gegee! 

‘n Totale gebrek aan opregte BEROU. “"Hulle het dit van die Amalekiete af gebring," antwoord Saul. "Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak." (14,15) Saul wil nie sy skuld erken nie, maar BLAMEER ander. Let op - “hulle”, “deur die manskappe” gespaar om te offer. So tipies...Adam! Kyk die valse vroomheid.  Dis mos vir ‘n GOEIE DOEL! – “offer” (ou verskoning!) 

TOTALE ONTKENNING en HARDKOPPIGHEID. “Saul antwoord toe vir Samuel: "Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 
Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer." (20-21) Hy sien nog steeds nie sy eie skuld raak nie! (hier is die groot verskil met Dawid toe Natan met hom gepraat het – Kliek op SMS SWANGER) Saul is vol VROOMKLINKENDE VERSKONINGS. (“aan die Here te offer”) 

Let op – dis weer die “manskappe” se skuld. Hy WEIER OM VERANTWOORDELIKHEID vir sy eie dade te vat. Dis die verharde sondaar se houding - my dronkenskap, my egskeiding, my kwaaivriendskappe, my swak kerkbywoning... dis altyd ander mense se skuld!

Saul was so slu, glibberig en glad met die bek soos Zuma homselwers, maar hy het nie rekening gehou met 'n ware man van God nie...

SAMUEL TRAP SAUL SE TJANK AF!

Samuel is ‘n man van God en Saul se sluwe vroom praatjies beïndruk hom glad nie! 

 “Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." (22-23) Skrikwekkende woorde! Wat maak ek en jy met God se Woord? 

In Saul se reaksie op Samuel se woorde vind ons nog ‘n kenmerk van die sondaarhart : MENSEVREES! “Saul sê toe vir Samuel: "Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het."Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid." (24,25) Dis die sondaar se houding : Ek is meer gesteld op wat mense dink as wat ek respek het vir God se wense, ek is banger vir mense se opinie as vir God se Woord en opdragte! Gee meer om vir wat mense dink as vir God se bevele. 

Nou klink dit wel of Saul berou het, maar dis VALSE BEROU! “Ek het gesondig," sê Saul toe. "Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid." (30) Hoekom is sy berou oneg? As jy bietjie dieper kyk sien jy dit gaan vir hom meer oor sy "image" voor die manskappe as oor ware berou voor God. 

Ek en jy?

Wie eerlik in die spieël van Saul kyk na jou eie hart kry slegte nuus, maar as jy nie daar stop nie en ook na Golgota kyk is daar beslis baie goeie nuus! 

Die slegte nuus is : Die boosheid en sluheid van ons harte is baie groter en meer subtiel as wat ons besef. 

Die goeie nuus is : Jesus se offer van Homself aan die kruis weeg swaarder as die ergste sonde. Jesus se sterwe was genoegsame betaling vir AL ons sonde. Die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde, maar dan moet ons eerlik wees oor die toestand van ons harte! 

Naskrif : Saul het nooit eerlik die boosheid van sy eie hart besef nie, en uiteindelik as ‘n Godverlatene gesterf op Gilboa. Vir my en jou is daar nog kans en hoop- Kliek op Gilboa en Golgota.

Saterdag 08 September 2012

DAARDIE EEN SONDE...

- vind volle vrede by die Vervloekte!

Daardie een verskriklike sonde. Daardie sonde wat jy nie eers oor wil dink nie. Daardie sonde wat aan jou gewete vreet. Daardie sonde wat jou laat vrees vir die oordeelsdag. Daardie vreeslike sonde  van die verlede wat jou nog steeds verlam op die geloofspad.  Ja, alle sondes is erg, maar sommige se gevolge is tog groter. Sommige sondes veroorsaak vreeslike skade, baie keer skade wat nooit weer reggemaak kan word nie. Party sondes het 'n rimpel effek dwarsdeur mens se hele lewe. Dit lyk asof die wet van Moses ook party sondes erger as ander beoordeel het. Vir party sondes kon mens 'n offer bring of die skade regstel, en dan was alles weer reg. Vir ander sondes, spesifiek doelbewuste ergerlike sondes was daar blykbaar net een gevolg : die  doodstraf.  Dis wat  in Deuteronomium voorgeskryf word  vir ‘n opstandige seun. (Deuteronomium  21: 21) ‘n Ander sonde wat die doodstraf oor jou kon bring was owerspel (Deuteronomium 22:22) of om God te vloek (Levitikus 24:16). Geen genade nie, geen genoegsame offer nie, net die allervreeslikste dood. Hierdie sondes het die vloek van God oor jou gebring op 'n baie sigbare manier. So ̕'n oortreder se lyk is aan 'n paal  opgehang, as ‘n verdere verswaring van sy straf... almal kon dit sien.  (Hier in Deuteronomium 21:22-23  word die opdrag gegee dat so ‘n lyk voor sononder begrawe moet word sodat die land nie verontreinig word nie.)

Miskien is het jy ook een of ander “ernstige” sonde gepleeg het. Dalk het jy God direk gevloek in 'n oomblik van woede, miskien het jy een of ander seksuele misstap begaan (jy is bitter spyt, maar jy kan dit nooit vergeet nie), dalk het jy iemand aangerand of beseer, moontlik het jy by die okkulte betrokke geraak, bedrog gepleeg wat ander se lewens vernietig het, of dalk het jy jou eie kinders of ouers onherroeplike skade aangedoen..... Nou is jy gekwel, jy kan nie volle vrede en vreugde beleef nie...die herinneringe aan hierdie sondes agtervolg jou soos ‘n skaduwee.

Vriend, die Woord van God het baie goeie nuus. Jesus red ons van sonde waarvan die wet van Moses (Tora) ons nie kon red nie. Anders gestel, Jesus red ons van alle sonde!

God se oplossing vir ons sondegebrokenheid is geloof in Jesus en nie die wet (Tora)  nie!

 Handelinge 13:38,39 * (OAV)  is so ontsettend belangrik:

“Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses (Tora) nie geregverdig kon word nie.”

Daar is ‘n heerlike kontras tussen Jesus en die wet van Moses waarvan ons moet kennis neem. Johannes stel dit so : “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Johannes 1:17) Waar genade beperk was in die wet van Moses, ontvang ons deur Jesus ‘n oorvloed van genade! (Johannes 1:16) Die wet van Moses (Tora)  was ‘n tydelike en beperkte instelling, Jesus Christus is die finale en volkome Verlosser! Jesus bied volledige hoop en vergifnis, wat die wet van Moses nie kon bewerk nie. Hierdie genade is alles moontlik gemaak deur Jesus se kruisdood.  Die sondes waarvoor die wet van Moses ons vervloek het en tot die dood verdoem het, het Jesus op Hom geneem. Hy het die vloek wat die wet uitgespreek het op sondaars gedra en so self ‘n vervloekte geword!  Ek wil graag hê jy moet hierdie waarheid self sien, so kom ons blaai na Galasiërs 3:13. Wat ‘n aangrypende waarheid:

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is’”

Jesus het aan 'n houtkruis gehang en gesterf.  ‘n Houtkruis! ‘n Vloekhout! Dis vir hierdie argument van Paulus baie belangrik - Hy is nie net gestenig of met ‘n swaard doodgemaak nie! Paulus verduidelik Jesus se sterwe teen die agtergrond van  Deuteronomium 21:22-23. Hoekom het Jesus juis aan 'n houtkruis gesterf? Dis ‘n bewys, Hy  het nie  maar net ‘n normale dood  gesterf nie, maar spesifiek as 'n vervloekte!  Jesus het maar nie net ‘n toevallige dood gesterf nie, die houtkruis was ‘n teken dat God Hom as ‘n vervloekte behandel en beskou het. Wetsoortreders was onder die vloek, onder die oordeel van God. Daar was geen hoop vir hulle nie.  Hulle is gedood en hulle lyke is aan ‘n houtpaal opgehang. 

Maar God het sondaars lief, Hy stuur sy Seun Jesus na hierdie wêreld juis om mense vir wie daar nie hoop is nie te red. Jesus self het geen sonde gehad nie. Nie een nie. Hy het God se wet immers volmaak gehou. Hy was in alles gehoorsaam aan sy Vader. En tog hier sterf  Hy as 'n vervloekte, onder die oordeel van God aan ‘n houtpaal. Hoe so? Daar is net een antwoord, God het ons sondes gevat en op Jesus geplaas. God het ons ongeregtigheid gevat en op Jesus laat neerkom. (Jesaja 53:6!) God het vir Jesus as sondaar behandel in ons plek. (2 Korintiërs 5:21)  Jesus was dus bedek met ons sondes. Jesus het  as’t ware 'n sondaar geword vol aaklige sondes. Vol sonde, vol van ons sonde. Myne en joune. En wat sê die wet?  Die wet sien Jesus is vol sonde en grom : “Jesus, jy moet sterf!” En Hy sterf...  En ons? Ons wat glo - ons gaan vry! Dis die heerlike evangelie. Dis die boodskap wat hoop bring vir die ergste sondaar! O, wat 'n heerlike omruiling. Christus sterf in ons plek. Hy is vervloek aan die kruis en ons word geseën! Hy sterf en ons lewe!

Jesus het volkome al jou skuld en straf gedra.  Martin Luther stel hierdie waarhede  so sterk en duidelik** : Jesus het nie net vir klein oortredinkies en foutjies en misstappies gesterwe nie, maar vir aaklige sondes, gruwelike sondes, smerige sondes, sondes so groot soos die berge...Hy het aan die vloekhout gehang vir sondes wat die doodstraf verdien. Soos daardie groot sondaars met die ergere sondes van die Ou Testament wat aan die vloekpaal opgehang is! Glo dit. Gryp hierdie goeie nuus aan. Sê vir Hom dankie, sê hier is my lewe ek wy my aan U! Kyk na Jesus,  sien raak dat die volle prys betaal het. 

 Sien raak, sy kruis was ook genoeg vir daardie een vreeslike sonde! 

Hoor soos baie sondaars uit sy mond, "jou geloof het jou gered, gaan heen en sondig nie meer nie." Vier hierdie vergifnis in die Nagmaal, wat weereens ‘n sigbare versekering en bevestiging is van Jesus se genoegsame offer!

 *Natuurlik is Paulus se bedoeling nie hier om te sê dat die wet van Moses in die bedeling van die Nuwe Verbond nog steeds gedeeltelike vryspraak kan bied nie. Dis nie sy punt nie. Hy wil dit  positief stel dat daar deur die geloof in Jesus volledige regverdiging/vryspraak is. FF Bruce stel dit so : “Paul is not making partial but total claims for the power of the gospel over against the law” (THE NEW INTERNATIONAL COMMENTARY ON THE NEW TESTAMENT, The Book of Acts, p279) 

** In sy beroemde Kommentaar op die boek Galasiërs waaruit ek ook geput het vir hierdie preek.