BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 22 Februarie 2022

DIE EEN GROOT HAAKPLEK

- wat keer dat jy vergifnis en vrede beleef!

Die grootste ontdekking wat ‘n sondaar kan maak is die ontdekking van vergifnis! Dis die heerlike boodskap van Psalm 130. Dit bevry jou uit die diep put van moedeloosheid, selfverwyt, depressie en desperaatheid… ja, dit bevry jou van die angste van die hel. Anders gesê, almal wat in die hemelse Koninkryk sal ingaan, het een gemeenskaplike deler – dis almal wat vergifnis ontvang het! Toegang tot die Koninkryk hou direk verband met genade en dis deur genade dat ons vergifnis ontvang!

Tog lyk dit asof die geskenk van vergifnis party mense net ontwyk. Die lig van vergifnis wil net nie deurbreek nie. Miskien sê jy – "ek het my sonde voor God bely, Ek vertrou op Jesus, ek het Hom aanvaar, ek stel nie meer my hoop in myself nie, maar alleen op die verdienste van sy kruisdood… en tog, ek het nie vrede nie, ek sukkel om te beleef dat ek vergewe is…" Wat is fout?

In Matteus 6:14 en 15 kom daar ‘n baie belangrike uitspraak uit die mond van die Here Jesus. 




 Dis ‘n baie direkte skokkende uitspraak. En dis nie die enigste plek waar Jesus ons vergifnis wat ons by God kry, koppel aan die vergifnis wat ons aan ander mense moet gee nie. “En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” Markus 11:25

Hierdie uitspraak oor vergifnis in Matteus, volg soos ons gesien het op die Onse Vader gebed. Volgens die verklaarder Van Bruggen gaan dit oor meer as net ‘n voetnoot op die een bede. Dit sluit aan by die Onse Vader gebed as geheel. In die Onse Vader gaan dit soos in die res van die Bergrede oor die groot saak van INGANG TOT DIE KONINKRYK VAN GOD! Om in die koninkryk in te gaan het ons genade nodig. Dis die enigste pad na die koninkryk. Genade, wat natuurlik die ontvangs van vergifnis behels. As ons wat bid om in die koninkryk te mag ingaan, hardvogtig en sonder genade is, dan kanselleer ons as’t ware ons eie gebed. As ons genade en vergifnis aan ander weier sal dit ook aan ons geweier word. 


Dis eintlik ‘n bevestiging van wat Jesus reeds in die inleiding tot die Bergrede geleer het. “Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.” (5:7) Sien jy, ook hier is ‘n duidelike verwantskap tussen die barmhartigheid wat ons aan ander gee en die barmhartigheid wat ons van God ontvang! Anders gestel - Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit ook aan ander mense!* Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie sê dus maar net ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie. Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus in Jesus glo. 



Martyn Lloyd-Jones  sê dit so :“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins , and I am unforgiven” Skrikwekkende woorde, maar so waar!






Gaan jy erns maak om ander te vergewe? Die groot beswaar is mos : “Ek kan nie, want ek voel nie so nie!” Ons moet duidelik verstaan – vergifnis is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit in gehoorsaamheid aan God se opdrag. As ek waarlik my eie sonde voor God besef, as ek besef ek verdien nie vergifnis nie, maar God gee dit vir my uit genade omdat Jesus met sy lewe betaal het, omdat Jesus my straf aan die kruis gedra het... as ek weet dat ek absoluut afhanklik is van God se genade en vergifnis – dan kan en sal ek besluit om ander te vergewe. Dis nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit/keuse om niks meer teen die ander persoon te hou nie. Dis ’n besluit wat ek aan die voet van die kruis neem, wetende dat ekself ook nie God se genade verdien nie! In elk geval die sondes waarvoor God my vergewe is baie kleiner en minder as die sonde wat die ander persoon teen my gepleeg het.

As ek vergifnis aan ander weier dan wys dit eintlik maar net dat ek nog nie ’n eerlike skuldbesef het van die grootheid en aakligheid van my eie sonde nie. As ek aanhou om wraakgedagtes te koester dan kan ek hoegenaamd nie die Onse Vader bid nie, want dan wys dit maar net dat my eie eer en ego belangriker is as die heiligheid en eer van GOD se Naam! Met onvergewensgesindheid kan ek nie opreg bid : “Laat U Naam geheilig word.” nie! 


 My bitterheid belemmer my gebed as geheel.



Laat die bitterheid in jou lewe vervang word deur – Bedink, Berou, Besef, Bely en Besluit!

Bedink dus eers die erns van jou eie sonde. Hoe groot is my sonde! Ek het al tien van God se gebooie op een of ander manier oortree. Ek het God nie so lief soos ek moet nie, ek het my medemens nie so lief soos myself nie. Mag God jou dan berou skenk, ware berou soos die van Dawid en Petrus... wat mens laat uitroep om genade!

Besef dat jou enigste hoop lê in die vergifnis wat jy van God ontvang, omdat Jesus vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was.

Bely jou sonde en bring dit na Jesus. En vertrou volkome dat Sy sterwe ’n genoegsame offer was daarvoor.

Besluit om dan die vergifnis wat jy van God nodig het, ook aan ander te skenk – maak nie saak wat jou eie gevoelens is nie! Dit gaan oor gehoorsaamheid en nie gevoel nie!