BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Voedselwette. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Voedselwette. Wys alle plasings

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK) 

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei.