BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Altyd vol blydskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Altyd vol blydskap. Wys alle plasings

Dinsdag 12 Mei 2020

Paulus en matriek 2020

Ek weet jy is gefrustreerd, en miskien nog moedeloos, angstig en dalk selfs kwaad ook! Ek praat nou met jou wat in matriek is. 2020 Matriek! Maar hierdie emosies raak sekerlik nie net ons matrieks nie, maar alle leerders, onderwysers, ouers, kortom sommer ons hele skoolgemeenskap. So baie planne en so baie drome is nou gekortwiek en deurmekaar gekrap. 



Wat nou? Ek wil jou herinner aan die bekende gesegde :

 “Two men looked through the bars, one saw mud, the other one STARS.” 

Een so ‘n persoon wat letterlik agter tralies gesit het, maar die “sterre” helder raakgesien het was die apostel Paulus. Ons weet mos, sy passie was om rond te reis en die evangelie te verkondig. Hierdie Paulus sit nou vasgekeer tussen die mure van ‘n tronk! Wat nou? Is hy moedeloos, bedruk, passief en swartgallig? NEE! Hy benut die tyd en skryf in hierdie slegte situasie ‘n brief aan die gemeente van Filippi vanuit die gevangenis. En weet jy wat? Een van die groot deurlopende temas van hierdie brief is BLYDSKAP! Hoe so? 

Paulus sien die “sterre” raak van ‘n geleentheid wat God hom gegee het! Luister wat skryf hy : “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” (Filippense 1:12,13) 

Weens sy tronkstraf kry Paulus ‘n kans om aan mense wat andersins nooit die evangelie sou hoor nie, nou wel die Woord van God te verkondig! 

Paulus ervaar hoe God van die minus ‘n plus maak! 

Hoe kry Paulus dit reg om so die positiewe in sy slegte situasie raak te sien? Sy lewe het hoegenaamd nie om homself en sy prestasies gedraai nie, maar om Christus alleen! Paulus het oor niks anders gespog en geroem nie, as net Jesus Christus en sy genoegsaamheid! Sy kern lewenshouding vat hy soos volg saam : “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Filippense 1:21) Sy lewe draai om een groot passie, Jesus Christus en daarom al gebeur die ergste wat sou kon gebeur – die dood, is die dood vir hom ‘n wins – ‘n absolute voordeel, want dan is hy mos by sy Here! 

Paulus se bewustheid van Jesus as sy enigste bate het die praktiese effek van tevredenheid en vergenoegdheid in alle omstandighede! Ja, alle omstandighede! Ook tye van gebrek en benoudheid. Hy weet wat is oorvloed en hy weet wat is gebrek. Van beide situasies het hy praktiese ondervinding. Hy hanteer dit egter alles deur Jesus wat hom krag gee. (Sien Filippense 4:13) Die Christelike oorwinningslewe, beteken nie dat als volgens MY planne en MY verwagtings verloop nie, maar dat ek in alle omstandighede my fokus op Jesus behou en my berus in SY planne vir my lewe!

As Jesus sentraal in ons lewens staan en nie ons eie planne en roem nie, is die lewe ‘n vreugde en ervaar ons in alle omstandighede (ook NOU) vergenoegdheid, tevredenheid en blydskap en sommer groot AVONTUUR! (Al is daar inderdaad ook  trauma, trane en teleurstellings.) Maak nie saak wat gebeur nie. Ook as ‘n virus verwarring, ongerief en vrees saai! 

Die kind van God het altyd rede tot blydskap, ook as jy ‘n 2020 matriek is! 

En onthou, blydskap is nie maar net 'n opsie nie, dis 'n opdrag! Die Woord beveel elkeen van ons wat aan Jesus behoort : 

"WEES BLY IN DIE HERE!"

Dit was so lekker om saam met hierdie groep 2020 matrieks saam te kuier en uit die boek van Filippense te gesels. Agter van links na regs : Zaanri (Gimmies), Lieze (Gimmies), Heimo (OSS), Nick (Gimmies), Eugene (OSS), Monique (Etosha), Anri (Redimere), Jonette (Gimmies) en Anja (Gimmies).

Vrydag 11 Januarie 2019

DEUR MOEILIKHEID

MET BLYDSKAP OP PAD NA 

VOLMAAKTHEID



Ons is nog nie klaar met die temas van voorspoed en seën nie. Ons het reeds twee belangrike dinge geleer oor geseëndheid : Elkeen IN Christus is ‘n geseënde. Die seën wat ons in Hom ontvang het is geestelike seëninge. (vergifnis, kindskap, die grootste seëning is dat die Heilige Gees in ons woon en ons ewige erfenis waarborg) Luister net weer na Efesiërs 1:3. * 

PROBLEEMVRYE LEWE?

Maar tog bly daar nou baie vrae in jou hart oor. "Ja, ek weet ek is ‘n geseënde in Christus, ek weet ek is vergewe, ek weet ek kan uitsien na die ewige heerlikheid. Maar wat van nou? Hoe raak my geseëndheid my alledaagse praktiese lewe?" (“Ag, Here ek dien U mos, U moet darem net sorg dat ek nie moeilikheid kry nie.”) Wat kan ons verwag van die lewe as geseëndes? 

Die brief van Jakobus kan ons baie help, dis 'n praktiese boek. Mens kan amper sê, Jakobus is die Spreuke van die Nuwe Testament. Kom ons kyk na Jakobus 1:2-8. Sommer met die intrapslag verstom hy ons…. Dit kom daarop neer : “Ag julleself gelukkig as julle baie moeilikheid kry!” (2) Het ons reg gehoor? Ja, ons het gehoor die seëninge is geestelike seëninge maar ons hoop tog maar op ‘n probleemvrye lewe wat rustig is en waar al ons planne sal uitwerk en alles sal goed gaan. Nou kom Jakobus en sê julle moet bly wees oor moeilikheid! Geseënde van God, jy kan moeilikheid verwag en meer nog, jy moet dit nie net verduur nie, jy moet daaroor bly wees! Regtig? JA! 

STANDVASTIGHEID EN VOLMAAKTHEID

Jakobus maak nie sommer net ‘n stelling in die wind nie, hy gee ‘n duidelike rede hiervoor. “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (3,4) 

Moeilikheid is die pad na geestelike rypheid. Na volmaaktheid.** 

Maak Jakobus nie dalk ‘n fout nie? Kom ons kyk wat sê een van die ander NT skrywers, Paulus. Romeine 5:3-5

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Selfde storie! Moeilikheid en swaarkry kweek volharding en standvastigheid. Deur moeilikheid kom ons by ons einddoel uit. 

Wat is die volmaaktheid waartoe die volharding deur beproewing en toetse ons bring? Die NAB praat van geestelike rypheid, geestelike volwassenheid. Pasop om volmaaktheid te tegnies te verstaan en dan sommer maklik die verskoning te gebruik dat niemand in elk geval volmaak kan wees nie. 

Wat is dit? Dis ‘n lewe van wysheid. Goddelike wysheid. Wat is wysheid? Jakobus sê vir ons. Jakobus 3:13-18. 

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 

Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” 

God gebruik moeilikheid om jou ‘n volwasse lewe van wysheid te bring. Hy gáán dit doen. Hy doen dit met elkeen van sy kinders. 

WYSHEID EN GEBED

Hoe gebeur dit prakties? Hoe lei moeilikheid ons na volwassenheid en wysheid? Te midde van die moeilikheid moet ons BID! Moeilikheid, versoekings en beproewings en aanvegtinge dwing ons op ons knieë. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” (5:13a) Bid vir wysheid. Hier kry ons ‘n heerlike belofte. God gee wysheid aan diegene wat Hom vra. Onthou net weer wat is wysheid – Dis ‘n radikale nuwe lewenshouding. “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” (3:17) 

Hier is net ‘n belangrike voorwaarde vir gebed. Geloof. Wat bedoel hy met geloof? Is dit hierdie spoggerige selfversekerdheid dat ek als sal kry waarvoor ek vra? Nee. Hy kontrasteer geloof met dubbelhartigheid. Die woord wat die NAB met "altyd aan die twyfel" vertaal is dubbelhartigdiyucoV, (letterlik dubbelsiel) Hoe lyk ‘n dubbelhartige persoon? "Ek sal die Here probeer en maar kyk of dit werk, ek sal godsdiens probeer maar as dit nie vir my die regte resultate lewe nie, dan los ek dit." Dubbelhartigheid is om al my opsies oop te hou. Ware geloof sê : "Here, ek vertrou op U al moet ek ook vergaan!" Die dubbelhartige persoon probeer orals inpas. Op twee stoele sit. Tussen die kerkmense praat ek asof ek die Here ken en ek gebruik die regte woorde… Tussen die wêreldlinge dan gebruik ek weer ‘n ander woordeskat… Dubbelhartigheid is die grootste enkele rede waarom mens nie geestelike vordering maak nie! 

Vir dubbelhartiges het Jakobus net een raad. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (4:8-10) *** 

Voorspoed en seën vir ‘n kind van God beteken nie ‘n probleemlose lewe nie, dis vol toetse en beproewings. Dis God se opvoeding om my geestelik volwasse te maak sodat ek met wysheid kan leef in hierdie wêreld. Hierdie wysheid kry ek as ek biddend God daarvoor vertrou met ‘n onverdeelde hart! 

Gaan lees Jakobus ‘n slag biddend deur. Hierdie eerste paragraaf is die inleiding en hy werk die temas wat hy hier aanraak verder in detail uit. Temas soos beproewings, wysheid, geloof, gebed en volharding. 

Kom ons sê dit weer :

Moeilikheid is deel van ‘n kind van God se lewe. Moeilikheid moet ons nie moedeloos maak nie. Dit moet ons bly maak, want dis God se pad vir ons na geestelike rypheid! Dis ‘n pad wat ons gelowig biddend moet stap! 



*Vir die bespreking van Efesiërs 1:3-14, kliek op GESEËNDES 

**Grieks - teleioV

*** “huigelaars” in die NAB is die vertaling van diyucoi ("dubbelhartiges" - OAV)

Hugenote monument, Franschoek.

Vrydag 07 Julie 2017

SMAG JY NA KRAG?

- Die gebed van die apostel Paulus gee perspektief en hoop!



Paulus bid vir sy lesers onder andere vir krag in die gebed wat opgeteken is in Kolossense 1:9-14. Nou as Paulus van krag praat roer hy onmiddellik ‘n snaar in ons almal aan. Hoe so? As Christene die woord “krag” hoor dan word die ore gespits. “Krag, wel dis wat ek nodig het, dis wat ek kort in my geestelike lewe”, sal baie kinders van God erken. Inderdaad is krag ‘n onmisbare faset van Christenskap. Die koninkryk bestaan tog nie uit praatjies nie, maar krag. ‘n Geloof wat nie werk, nie ‘n verskil maak nie is seker nie veel werd nie. 


Ons wil almal meer krag hê, maar wat het ons werklik in gedagte? Om die waarheid te sê alle mense smag na krag en sukses. Dis die rede waarom muti winkels, toordokters en “lifecoaches” altyd florerende besigheid maak. Almal soek krag... Dink aan Simon die towenaar (Hand 8) wat sy natuurlike begeerte na krag onder ‘n geestelike dekmantel versteek het. Dis die rede waarom mense deur die eeue godsdienstig was en is. Om krag by die een of ander godheid te kry om die aardse lewe makliker te maak en meer suksesvol te wees. Dis die groot aanspraak van alle dwalinge en kultusse – “by ons is daar regte krag te vind.” Dis vir baie mense deurslaggewend in die keuse van ‘n kerk – “hier is dit nie dood nie, hier is krag.”

Maar presies wat verstaan ons onder krag? En is dit ook wat Paulus met krag bedoel? Weet julle, onwillekeurig, die oomblik as ons die begrip krag hoor maak ons gedagtes ‘n vinnige draai by Tarzan, Superman of enige ander gespierde figuur uit die hede of verlede afhangende van jou ouderdom en blootstelling.* Onbewustelik projekteer ons dan hierdie konsep in die Bybelse begrip “krag”. Bonatuurlike krag wat die poppe laat dans en die koppe laat draai. Krag wat my bemagtig om dinge te laat gebeur, my gaan help om bonatuurlike dinge reg te kry. Krag wat siektes, probleme en teenstanders hetsy (fisies of geestelik) in die stof sal laat byt. Krag wat soos ‘n laserpistool werk en my geestelike opponente (hetsy bose magte of menslike teenstanders) sal laat vernietig tot daar net so ‘n rokie van hulle oorbly. Meer krag beteken in ons denke minder probleme en moeilikheid, meer sukses en gerief. Hoe meer krag hoe minder vyande en ongerief. Juis daarom soek almal krag. 

Wat bedoel Paulus hier met krag? Kyk na die teks self en die onmiddellike konteks.

“...en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig...” (Kolossense 111,12 OAV)

“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” (Kolossense 111,12 NAB)

Drie sake kom na vore:

~Die aard van die krag - “mag van Sy heerlikheid” (OAV) “wonderbare krag” (NAB) Die krag waarvoor Paulus bid is die krag van God self. Dis nie positiewe denke nie, dis nie ‘n menslike foefie nie. As ons glo in die werklikheid van ‘n lewende God moet ons ook glo in die werklikheid van Sy krag in ons wat glo. In Efesiërs 1:18-20 verduidelik hy meer uitvoerig wat hierdie krag behels:

“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het...”

Ja, die krag wat in jou as kind van God werksaam is, is dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is. Hierdie selfde krag is (reeds) werksaam in die lewe van God se kinders. (besef dit!) Dis ‘n ontsaglike ongelooflike heerlike waarheid! GLO DIT!

~Doel van die krag.  Dit word duidelik aangetoon - “om geduldig te volhard.” LW -nie krag vir sukses nie. Wat kan ons hieruit aflei ten opsigte van die krag? Een saak is baie duidelik dié krag is nie ’n towerstaffie om ons probleme uit die weg te ruim nie. Volharding en geduld veronderstel juis stryd, ‘n langdurige stryd! Dit gaan oor krag wat ons moet dra en laat vasbyt op die styl bergpad van die geloof! In alle omstandighede! Juis omstandighede wat nie lekker en aangenaam is nie... toetsing, verdrukking. Prakties beteken hierdie krag dus nie dat ek lyding in my huis, werkplek of skool sal vryspring nie. Hierdie krag beteken nie noodwendig dat my hele familie/werksmense onmiddellik sal bekeer en ek dit makliker sal hê nie. Hierdie krag beteken nie dat ek superfiks of stinkryk word nie! Hierdie krag gaan daaroor dat ek alles wat oor my pelgrimspad kom sal kan hanteer. Dis ook presies soos Paulus die bekende Filippense 4:13 gebruik!

~Nog ‘n derde saak wat hierdie krag besonders, eiesoortig maak is die blydskap aspek.** Dit bring ons by ‘n uniek Christelike aanslag. Daar’s immers baie nie-Christene wat ook ‘n hoë premie plaas op volharding, uithouvermoë en geduld soos byv. die Stoïsynse filosowe van Paulus se tyd. Hulle het groot klem gelê op selfgenoegsaamheid – “ek kan alles verduur en vat, want ek glo in myself.” Die element van blydskap impliseer dat die krag wat God ons gee nie maar net beteken om morrend of knorrend vas te byt nie of op ‘n fatalistiese wyse maar net gedwee alles te verduur nie.  Ons volharding is positief 'n saak van vreugde al is dit nie maklik nie. Dit gaan ook nie bloot oor aanplakglimlaggies ter wille van die media nie. Ons het as God se verlostes regtig rede om bly te wees. Wat is die grond van ons blydskap en dankbaarheid? “en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig, Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes." (Kolossense 1:12-14.) Die verbysterende heerlikheid van ons genadige verlossing moet voorop staan in ons gedagtes, dan kan ons nie anders as om bly te wees nie!

Is hierdie blydskap te midde van alle omstandighede realisties? Ja, dink maar aan dit waarvan ons lees in Handelinge 16. Paulus en Silas in die tronk het nie net op hulle tande gebyt en gesê ons sal nie huil nie – nee, hulle gaan verder en sing! Dis in lyn met die opdrag wat Paulus (vanuit die tronk) gee in Filippense 4:4 “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Wees bly! ALTYD! Trouens net ‘n entjie verder sien ons dit waarvoor Paulus gebid het vir die Kolossense was inderdaad ‘n praktiese belewenis in sy eie lewe! “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie.” En dis juis die krag wat God hom gee wat hom hiertoe in staat stel! “Hóm (Jesus) verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.” (Kol 1:24, 28-29)

Terloops, dis duidelik die ontvangs van Goddelike krag maak ons nie passief nie, maar wek in ons ‘n ywer en inspanning!

Jesus self is natuurlik die groot absolute voorbeeld van die soort krag wat Paulus hier in gedagte het! Maar merkwaardig, Hy het dit nie gebruik vir gerief, eie belang, eie veiligheid en gemak nie! Hy het nie eers brood vir Homself gemaak nie. Wat doen Hy met sy krag? Hy onderwerp Homself volkome aan die wil van sy Vader. Jesus se krag het Hom in Getsemane laat bid ”nogtans nie my wil nie...” Jesus se krag was so groot dat Hy Homself swak gemaak het om aan die kruis te hang en te sterf. Maar dit het Hom ook weer uit die dood laat opstaan volgens God se wil!

Die krag van God in ons maak ‘n praktiese verskil, nie in die aantal moeilikhede wat ons verduur nie, maar in die manier hoe ons dit verduur.

Dis ‘n krag wat ons laat volhard juis op ‘n manier dat ons eer aan God bring. Dis ‘n krag wat ons laat sing terwyl ons huil. Dis die krag wat ons oorwinnaars oor sonde maak. Dis die krag wat my terwyl ek seergemaak en verontreg word, my in staat stel soos Stefanus om toe hy met klippe doodgegooi is te bid : “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die krag wat ons in staat stel tot volharding om die hemelse wenpaal triomfantlik te haal. 

Vertrou op God om hierdie gebed van Paulus in jou lewe waar te maak! Bid dit vir jouself en jou medegelowiges! Kies om in die stryd en beproewinge van die week wat kom geduldig te volhard met blydskap!

*Erkenning aan my broer dr. Jacobus de Koning van die Antipas Gemeente in Pretoria by wie ek hierdie preek die eerste keer "gehoor" het.
**Die verskille hier tussen die OAV en die NAB het te make met die keuse van punktuasie binne die Griekse teks. Gaan die woord blydskap saam met volhard of gaan dit saam met dank? Op die ou end is die betekenisverskil nie groot nie. Of ek dit sien as volharding met blydskap of dankbaarheid met blydskap, dis duidelik dat die werking van God se krag in my lewe tot blydskap sal lei.




Maandag 18 Mei 2015

WAAROM IS JY NIE BLY NIE?

[ Die sprankelende en egte blydskap van hierdie KOPTIESE CHRISTENE in Egipte het my diep getref. Waarom is ons wat sê dat ons God se kinders is, so dikwels sonder blydskap? Wat mis ons?]


Kom ons kry net eers duidelikheid vir onsself : Dit is God se bedoeling dat sy kinders bly moet wees. Vol vreugde! Regtig? Is dit God se wil en plan vir ons reeds hier op aarde dat ons altyd bly moet wees? Is dit realisties moontlik? Hoe lyk hierdie blydskap? Wat bevorder hierdie blydskap? Wat bedreig dit?

Blydskap en Christenskap, vreugde en verlossing gaan saam. 

Kom ons kyk na ‘n paar redes waarom ons so kan sê:

Die Vader van die verlostes wil hê dat sy verloste kinders bly moet wees. Dis tog net logies dat ‘n pa wil hê dat sy kinders bly moet wees! Gelukkige kinders! Sou daar enige rede wees waarom God ongelukkige kinders sou wou hê? Hy wat dan ‘n volmaakte Vader is? So weet maar dat wat jy ook al beleef, God in beginsel wil hê dat sy kinders ware vreugde sal beleef.

Die aard van ons verlossing behoort blydskap by ons te wek. As jy die verlossing deur Jesus ontvang het is jy mos verlos van sonde, Satan, dood en hel. Jy was verlore, maar is gevind, jy was skuldig, maar is nou vry verklaar, jy was ‘n slaaf, maar is nou ‘n kind, jy was in die duisternis, maar nou sien jy die lig.... Dink tog net, as iemand uit ‘n dodesel vrygelaat word, as gyselaars bevry word... wat is die eerste mees spontane en natuurlike reaksie? Blydskap. Wat anders? In Handelinge 8:39 lees ons hoe die pas bekeerde Etiopiese amptenaar sy weg met blydskap voortgesit het.

Die einddoel van ons verlossing moet ons bly maak. Die verlostes kan uitsien na ‘n vaste ewige erfenis. Ons het nou ‘n verwagting en ‘n vaste hoop wat ander mense nie het nie. Dis tog ‘n spontane natuurlike reaksie... as jy hoor jy het ‘n prys gewen, as jy ‘n brief kry wat jou inlig dat jy onverwags ‘n plaas geërf het word jy bly! Petrus verwys na hierdie beginsel in 1 Petrus 1:8,9. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Die opdrag aan die verlostes is duidelik. “Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16) Nie net hier nie, maar veral ook in die Filippense brief word dit herhaaldelik gestel : Fil. 3:1, 4:4 “Verbly julle in die Here...” God sal nie aan ons ‘n opdrag gee as dit nie realisties is of as Hy dit nie bedoel nie.

Die Gees wat die verlostes ontvang is die Heilige Gees en Hy gee blydskap. Anders gestel, blydskap is een van die vrugte van die Gees. Die Heilige Gees bewerk blydskap in diegene in wie Hy woon! “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Romeine 14:17,18 Paulus sê dit in die konteks van mense wat wou stry oor watter kos Christene mag en eet en watter dae hulle as spesiaal moet beskou. Nou sê hy, moenie verstrengel raak in randsake nie, fokus op die basiese beginsels van die Koninkryk, naamlik geregtigheid, vrede en blydskap. Blydskap is ‘n fundamentele saak!

Ons Christenwees van begin tot einde, in totaliteit word gekenmerk en omring deur blydskap en dit veroorsaak blydskap. So is daar groot blydskap by die engele as ‘n sondaar hom bekeer. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor ‘n sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) Die laaste woord wat ons sal hoor voor ons ingaan na ons nuwe tuiste sal “vreugde” wees! “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” (Mat 25:21)

God ons Vader is bly oor ons* en wil dat ons bly moet wees tot in alle ewigheid. Blywende blydskap is ‘n onmisbare bestanddeel van basiese Christenskap.

Sekere misverstande moet ons uit die weg ruim. BLYWENDE BYBELSE BLYDSKAP...

  • beteken nie dat ons nooit huil en treur nie. Kinders van God word immers opgeroep om te treur oor ons sonde. (Jakobus 4) Maar juis dit bewerk groter besef van vergifnis en daarom groter blydskap!
  • beteken nie dat ons nie beproewings en hartseer en moeilike tye beleef nie. Juis daarom is ons blydskap iets anders as gewone blydskap dis ‘n blydskap ten spyte van en te midde van slegte omstandighede
  • beteken nie dat ons 24 uur 7 dae ‘n week ‘n tandepaste glimlag vertoon nie, ons blydskap gaan dieper as dit, dis ‘n blydskap ook as ons treur en swaarkry. Ook onder trane is ons bly. Eers eendag by die wederkoms sal die trane finaal van ons oë afgevee word.
  • beteken nie dieselfde as ‘n oppervlakkige drankgedrewe wêreldse karnaval vrolikheid nie. Ons blydskap is fundamenteel anders en ons bly weg van hierdie soort valse blydskap wat die wêreldling na smag. So bid die psalmis : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4)
Is jy ‘n gelukkige kind van God vol blydskap? Hoekom is dit nie altyd so nie? Het jy hierdie blydskap gehad, maar dit verloor? Wat verhinder of steel ons blydskap? Dis tog duidelik dat God wil hê dat ons moet bly wees. Ons verlossing is nie iets om te verduur nie, maar om te vier! Ons gaan in die res van die reeks kyk na faktore wat die blydskap van God se kinders belemmer en hoe dit reggestel kan word.

*Sefanja 3:17




Saterdag 01 Februarie 2014

VERPLIG TOT VOORTDURENDE VREUGDE

– hoe om blydskap te bou en te behou! 

In 1 Tessalonisense 5:16-17 lees ons: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, kort en kragtig kom die opdrag na die kinders van God : “Wees altyd bly!” Dis ‘n opdrag – nie maar net ‘n stukkie goeie raad van ‘n motiveringspreker, onderwyser of predikant nie, maar ‘n bevel van God. Dis wat God van ons verwag...

Goed dis ‘n opdrag, maar hoe gaan ons dit regkry? Ja, bly is ons partykeer, maar ALTYD bly - is dit hoegenaamd realisties uitvoerbaar?