BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verlossing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verlossing. Wys alle plasings

Saterdag 10 Maart 2012

GOEDKOOP GOEDVOELGODSDIENS

- vinnig met finesse na die verderf!

Goedvoelgodsdiens is nie ’n nuwe uitvinding nie. Dit was reeds in die Ou Testament die bedrieglike boodskap van die valse profete. Vandag word dit nog steeds vanaf kansels verkondig, op universiteite geleer, in kwasi Christelike tydskrifte gepropageer...

Wat is hierdie goedvoelgodsdiens? Dit word goed opgesom deur die profeet Jeremia : “Hulle het ’n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net : ‘Als is reg! Als is reg!’ Maar niks is reg nie.” (Jeremia 6:14) Kenmerkend van die goedvoelgodsdiens is dat geestelike leiers nie meer die onderskeid tussen rein en onrein ken nie! Daar is nie meer so iets soos verkeerd nie. Vir elke soort sonde word ’n rasionele verskoning uitgedink. Die diep krake in die samelewing word nie vanuit God se Woord aangespreek nie, maar sommer op ’n maklike manier toegepleister met leuens. (Esegiël 22:26,28) Die goedvoelpropageerders wil nie die feit in die oë kyk dat sonde die mens se kernprobleem is nie. Hulle is ’n ewigheid ver verwyder van ’n ware profeet soos Johannes die Doper, wat sonde by die naam genoem en op bekering aangedring het. Die rede agter die goedvoel verleiers se paaiboodskappe is finansiële gewin. Die profeet Miga het al gesê dat hulle van vrede praat “so lank hulle kos kry.” (Miga 3:5) en sedertdien het dit nie veel verander nie.

Die goedvoelboodskap sê : “Wees net positief! Jy is nie ’n sondaar nie, jy het niks verkeerd gedoen nie. Glo in jouself en leef voluit!” Die goedvoelteoloog wil ons wysmaak : “Ons word nie in sonde gebore nie. Daar bestaan ook nie ’n duiwel en ’n hel nie.” Die goedvoeltydskrif gee ons raad : “Hoe om van jouself te hou.” Daarom verkeer die goedvoelslaaf onder die indruk dat selfbeeld belangriker is as ewige saligheid en dat die bestryding van selluliet dringender is as die bevryding van sonde.

Die goedvoelboodskap verduister dus die evangelie en beroof mense so van ware vreugde! Dis ’n gladde glybaan weg van Christus en sy redding. Hoe so? Die evangelie van Jesus Christus is waarlik Goeie Nuus, maar dis slegs Goeie Nuus vir sondaars, vir sondaars wat weet hulle is sondaars. God se genade en vergifnis word geskenk, nie aan die selfvoldane goedvoel Fariseër nie, maar aan die selfveragte slegvoel sondaar wat uitroep : “O, God wees my sondaar genadig!” (Sien Jesus se gelykenis in Lukas 18)

Ware geluk en vreugde kan nie gebou word op goedvoeltegnieke en rugstreelpraatjies nie, maar op die volledige vergifnis wat Jesus aan sondaars skenk. Die pad na ware geluksaligheid begin dus by die ontnugterende ontdekking : “Ek is ’n skuldige sondaar onder die skrikwekkende oordeel en toorn van ’n heilige God!” (Dis waar Paulus begin in Romeine 1:18ev as hy die evangelie sistematies verduidelik) Sondebesef laat my allesbehalwe goed voel, maar laat my soek na die ware Oplossing van my probleem. Die Oplossing is natuurlik, Jesus Christus wat gekom het, juis vir sondaars! Net Jesus kan ons gewetens van skuld bevry op grond van sy algenoegsame offer op Golgota.

Ons geestelike vaders, wat ontsag vir God se Woord gehad het, het die pad na ware geluk baie goed begryp. Die Heidelbergse Kategismus leer op voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge nodig is om salig te lewe en te sterwe:

~ Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is. (Godgegewe Geluk begin dus by die ontdekking van my ernstige sonde toestand!)

~ Ek moet weet hoe ek van hierdie sonde verlos kan word. (Godgegewe Geluk in die volle sin word gevind, wanneer ek my vertroue op Jesus as my enigste en genoegsame Verlosser stel)

~ Ek moet weet hoe ek vir hierdie verlossing kan dankbaar wees. (Godgegewe Geluk word daagliks beleef as ek God eer en dank met ’n lewe van gehoorsaamheid en heiligheid)

Sonde! Verlossing! Dankbaarheid!

Dis die Bybelse volgorde en Goddelike resep! Dis die Bybelse lering wat ons so dringend nodig het in die kerk. Dis die Bybelse boodskap wat weer hoop kan bied aan ’n sonde verskeurde wêreld! Dis die Bybelse waarheid wat die toets van tyd en oordeel sal deurstaan, terwyl die goedvoelpleisterings sal afskilfer en verkrummel...

Woensdag 11 Januarie 2012

JESUS, DIE ALMAGTIGE REDDER!

Wie het die absolute mag op aarde? Die mag oor mense en die mag om die geskiedenis te bepaal? Swaai Satan die septer? Het tiranne of despote die laaste sê? Gelukkig nie een van hulle nie! Jesus Christus het volmag oor die mensdom! Trouens aan Hom behoort alle mag in die hemel en op aarde! Dis die duidelike Bybelse uitspraak.

Jesus is nie swak nie!

Terwyl Jesus op aarde was het Hy sy Goddelike Almag baie duidelik gedemonstreer. Dit was een van die groot redes vir sy wonderwerke. Mense moes besef dat Hy almagtig is en dat Hy dus werklik God is. Jesus het volkome mag oor die natuur en natuurwette! (Hy maak die storm stil, vermeerder die brood en loop op water) Hy het mag oor die Satan (Hy dryf demone uit) en Hy het mag oor die dood. (Die opwekking van die weduwee van Nain se seun, Lasarus wat na vier dae uit die graf geroep word) Jesus se eie liggaamlike opstanding uit die dood is natuurlik die sekerste bewys van sy almag! Maar Sy mag strek nog verder.

Jesus het volmag om sondaars te red.

Om sonde te vergewe en van rebelle, dissipels te maak! Anders gesê, Jesus wend sy absolute gesag en mag aan om mense te red van sonde, dood en hel en niemand kan Hom keer nie!


Kom ons kyk saam in die Woord na twee uitsprake oor Jesus se almag :

Johannes 17:2,3 "U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee..." Dis deel van die groot hoëpriesterlike gebed van Jesus kort voor die kruisiging. Jesus het volmag ontvang om alle mense te red wat God van ewigheid af reeds aan Hom gegee het! Niks kan dus vir Jesus stuit of dwarsboom om God se presiese reddingsplan tot op die laaste letter uit te voer nie!


Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." LW - "alle mag" Jesus het alle mag in hemel en op aarde, dus in die ganse heelal! Jesus maak hierdie uitspraak as agtergrond toe Hy sy dissipels uitstuur na die nasies om dissipels te maak. Hy wil as’t ware sê : "Julle hoef nie bang te wees vir hierdie groot opdrag nie, want Ek het al die mag in my hand en Ek is by julle!"  Dit gaan dus veral oor Jesus se reddende mag, om van sondaars God se kinders te maak.


Wat is nou die praktiese implikasies van Jesus se almag? Omdat Jesus alle mag het :

~ Is daar geen onmoontlike of hopelose gevalle nie. Geen sondaar is te sleg en geen rebel is te rof nie! Hierdie waarheid moet my laat besef : Daar is hoop vir my! Ja, ook vir my... Dis ook ’n kragtige motivering om die boodskap van verlossing aan ander uit te dra. Hierdie wete maak ons nie passief nie, maar dring ons juis om met vertroue en ywer die evangelie te verkondig. Dis juis as Jesus verklaar dat alle mag in hemel en op aarde aan Hom gegee is dat Hy sy dissipels uitstuur : “Gaan dan...” Met vertroue en optimisme kan ek die evangelie verkondig, in my eie huis, my wyk, my Sondagskoolklas, by elke geleentheid wat God my gee. Die evangelie is ’n kragtige boodskap juis omdat alle mag aan Jesus gegee is. Hierdie mag van Jesus het geen beperkings om te kan red nie. Dink maar aan die bekering van Paulus ... hy was oppad na Damaskus om Christene te vang, maar hierdie rebelse en eiegeregtige Fariseër word deur die almag van Jesus in sy spore gestuit en omvorm tot ’n getuie! (Handelinge 9)

~ Hoef ons nie van allerhande truuks en menslike slimmighede gebruik te maak om mense te red nie. Dis nie nodig om mense te paai of heuning om die mond te smeer nie. Ons hoef ook nie God se standaarde te verlaag sodat dit die sondige mens pas nie. Ons kan met outoriteit almal uitdaag : "Die Koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo die evangelie! Dis nie ons mooi woordjies of slim tegnieke wat mense red nie, maar die almag van Jesus!

 
~ Maak dit sin om te bid. As ons bid,  praat ons met die Een wat alle mag besit. Dis wonderlik as daar iemand is wat bereid is om met medelye te luister na jou diepste probleme, maar as daardie persoon magteloos is om iets daaraan te doen help dit nie juis veel nie. Jesus het medelye EN mag. Juis daarom is Hy die volmaakte hoëpriester! Ek kan eerlik en hoopvol met my eie sondelas na Hom kom! Ek kan hoopvol vir my kinders bid. Ek kan pleit vir die bewaring en volharding van gelowiges. Jesus het die volmag om hulle te verlos en veilig in sy Koninkryk te bring!

~ Kan ware verlossing nie weer ongedaan gemaak word nie. As Jesus jou gered het en veilig in sy hand geplaas het kan niemand jou weer daar uitruk nie! (Johannes 10:28) Ja, skynbekerings en mensgemaakte geloof sal nie hou nie, maar as Jesus ’n werk in my gedoen het, sal ek veilig bewaar word. Juis in Johannes 17 bid Hy daarvoor vir sy dissipels. Vers 15. (Lees) Jesus se verlossende volmag beteken dus dat ons sekuriteit in Hom ’n ewige onaantasbare sekuriteit is!

~ Het ons rede om baie positief en bly te wees! As ons biddend op die almagtige Jesus vertrou sal ons blydskap beleef ten spyte van bekommernisse en benoudhede! Jesus se almag bring ’n rustigheid en vrede in ons harte!

Jesus se reddende almag is vir ons die groot bron van
BLYDSKAP in alle omstandighede!


Dis duidelik : Jesus se almag hou vir ons ’n groot troos in! Maar Jesus se almag spel tog ook ’n waarskuwing. Ons moenie met genade speel nie. Jesus is nou hier teenwoordig as die almagtige Verlosser, maar wie Hom nou verwerp sal eendag met Hom te doen kry as die almagtige Regter!


Maandag 02 Januarie 2012

REDDING VAN REBELLE

- BELEWENISSE VAN GENADE TYDENS DIE BOERE OORLOG!

“To be hanged! To be hanged! To be hanged!” So is baie Kaapse rebelle tydens die Anglo-Boere Oorlog se doodsvonnis met ’n luide stem voor ’n skare op die markplein aangekondig. In die praktyk het die meeste van die Kaapse rebelle egter voor ’n vuurpeleton gesterf. Die lot van hierdie Boerevegters is een van die hartseerste elemente van skreiende onreg wat tydens die Anglo-Boere Oorlog gepleeg is. Van billike verhoor was daar feitlik geen sprake nie en dis duidelik dat hierdie teregstellings se uitsluitlike doel was, om as afskrikmiddel te dien teen die verspreiding van die rebellie in die Kaap. Hierdie lukrake teregstellings het ’n bitterheid en letsel in die Afrikanergemoed tot gevolg gehad wat slegs deur die reaksie op die smarte van vroue en kinders in die konsentrasiekampe oortref word. Hierdie donker geskiedenis het egter ook ’n heerlike ligkant van genade waarvan min mense kennis dra...


In ’n vorige Blogskrywe (WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?) het ons gesien hoedat God soos byvoorbeeld in die geval van Josef, selfs onreg en hartseer kan gebruik om sy heerlike doelwitte te volbring. Dis ’n vertroostende feit dat God die gruwelike onreg wat teenoor Kaapse rebelle gepleeg is, gebruik het om sondaars te red, sodat hulle vir ewig in Sy heerlikheid sou deel! ’n Groot getal van die ter dood veroordeelde Kaapse rebelle het, terwyl hulle gewag het vir die voltrekking van hulle doodsvonnisse, ’n ware ontmoeting met Jesus gehad en volle vrede in Hom gevind. Die wrede afskrikmiddel van die Britse militêre owerhede is deur God as genademiddel tot bekering aangewend. Hiervan vind mens baie duidelike getuienis in die vertellings van predikante en die laaste briewe van die veroordeeldes.


Die 18 jarige Johannes Hermanus Roux het voor die vuurpeleton in Graaff-Reinet gesterf op 7 Oktober 1901. Ds. Charles Murray het hom in die gevangenis besoek en is getref deur die edel en manlike houding van hierdie jong seun. Maar op ’n vraag van die leraar of hy gereed was om God te ontmoet, het hy sonder huiwering geantwoord : “Nee, Meneer, ek is nie gereed om te sterf nie.” Ds. Murray het toe aan hom verduidelik dat al was hy nie ’n “luidrugtige en uitspattige sondaar nie”, hy nie daarmee sy saligheid kan verdien nie. Hy moes ook berou hê oor sy sondes. Daardie nag het dié versie in die seun se gedagtes opgekom : "Ek lê my skuld op Jesus, Die vlekloos Lam van God..." So het Johannes vergifnis ontvang en was hy gereed om Sy Skepper te ontmoet. Hy het ook ds. Murray versoek om ’n brief aan sy ouers te skrywe dat hy vol vrede en vreugde die ewigheid in is.


Johannes het ook as volg aan sy moeder geskryf :


Graaff-Reinet, 6 Oktober 1901

Liefhebbende Moeder!

Ek neem die geleentheid om ’n paar reëls aan u te skrywe slegs om bekend te maak dat ek na my Vaderland gaan. Ek is verhoor en met die dood gevonnis. So, my liewe Moeder, u moet tog nie treurig oor my wees nie. Ek is veilig by die Heer.

Ag, my liewe Moeder, ek het baie na u verlang, maar ek sal maar geduldig dra wat my opgelê is. Ek sal u nooit weer op aarde sien nie. Probeer tog almal om u God te ontmoet.

Ek eindig met die beste groete aan u almal. Ek bly u seun.

Johannes Hermanus Roux


Wilhelm Stephanus Kruger was reeds ’n kind van God toe hy gevang is. Van sy jeug af was hy lief om in die veld te gaan bid. Ds. J.C. Kruger wat hom in die tronk besoek het vertel dat baie kommandolede getuig het dat Wille hulle na die Here gelei het. Willie het ook die voorreg gehad om die evangelie met sukses aan ’n medegegevangene, Dirk Breed wat ook ter dood veroordeel is, te bring.


Die redes vir Kommandant Dirk. C. Breed se teregstelling is baie onduidelik, want hy was ’n gewone Vrystaatse burger en dus nie ’n Kaapse rebel nie. God het egter hierdie onreg gebruik om genadiglik in sy lewe in te gryp. Dis duidelik uit ’n laaste brief wat hy aan sy moeder geskryf het uit die tronk :



Graaff-Reinet, 9 Okt. 1901

Mev W.C. Breed


Waarde en liefhebbende Moeder, Broeders en Zusters,

Dit is met ‘n teer hart wat ek u moet meedeel dat dit nog goed met my gaan en ek wens om dieselfde van u te hoor. Verder, Moeder, ek is hier in die gevangenis.

Geliefde, Moeder, Broers en Susters, u moet tog almal die Here voor oë hou. Soek hom haastig en moet tog nie wag totdat dit te laat is nie.

Moeder, wees getroos. Alles sal reg kom.

Ek moet u meedeel dat die gevangenis my bekeer het van my sondes. Ek voel gelukkig, want ek het God ontmoet. Dit is heerlik om by Hom te wees, want dan voel mens geen swaar nie. Die swaarste straf is niks nie. Die Heer het gesê wie op Hom bou, het op geen sand gebou nie...

Nou moet ek my brief eindig, maar nie my verlangende hart nie.

Met beste groete van u kind,

D.C. Breed



Wille Kruger en Dirk Breed is beide op 17 Oktober 1901 deur ’n vuurpeleton op Cradock die ewigheid ingestuur, maar hulle was gereed!


Daar is nog baie ander verhale van geloofsmoed en genade uit hierdie tydperk van verskrikking. Enkele oomblikke voordat die 16 jarige Johannes Petrus Coetzee op 13 Julie 1901 te Cradock gehang is het hy geprewel : “My Jesus is nou aan my sy.”


Willie Hofmeyer Louw sterf voor ’n vuurpeleton op Colesberg op 23 November 1901. Sy moeder was ’n suster van die bekende dr. Andrew Murray. Sy verhoor was so onregverdig dat Ramsay MacDonald, die latere Britse Eerste Minister daaroor gesê het : “Willie Louw has been shot upon the verdict of a court which did not understand the first elements of justice and had not the faintest idea when a statement was proved.” Maar hoe treffend was die getuienis wat die diep gelowige Willie onder hierdie omstandighede gelewer het! In ’n brief aan sy moeder skryf hy onder meer : “Dit is bepaal dat ek vanmddag sal vertrek. Dit is God se heilige wil. Hy kan geen fout begaan nie.”

Hierdie is maar enkele voorbeelde van die baie gevalle van God se genadewerking te midde van die onregverdige behandeling van die Kaapse rebelle. Mag dit ons help om raak te sien dat God werklik alle omstandighede hoe smartvol of onregverdig kan gebruik om sy genade in lewens te laat deurbreek en so Sy Naam te eer!

 

(Bron : Graham Jooste en Abrie Oosthuizen, SO HET HULLE GESTERF - Gedenkboek van Teregstellings van Kaapse Rebelle en Republikeinse Burgers tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902)









Maandag 26 Desember 2011

HERLEWING IN DIE SOUTPANSBERG

Kan God in ons goddelose tye nog steeds kragtig werk en mense harte verander? Ja, beslis! Dis baie belangrik dat die Christelike kerk (en ook ons hier op Tsumeb) sal weet dat niks vir God onmoontlik is nie. In hierdie tye van morele verval, ongeloof en valse teologie is Hy steeds instaat om mense te red en by sy kerk by te voeg. Die kragtige dade van God in die verlede moet ons aanspoor om ook met ’n verwagting te bid vir ’n huidige ruim werking van die Heilige Gees!



Een van die groot ingrypings van God se genade in die verlede in Suider Afrika was die herlewing in die Soutpansberg gebied in 1875-76. Die menslike instrument wat God in hierdie werk gebruik het was Stephanus Hofmeyer, ’n sendeling van die Kaapse NG Kerk.



Eers iets oor sy eie bekering en roeping. Volgens homself het die Here van kleinsaf in sy lewe gewek, maar hy was maar ’n wilde en ongehoorsame kind. ’n Voorperd van die duiwel wat die breë pad van die verderf met al sy krag bewandel het! Later het hy wel vroom en godsdienstig geword en selfs vir die bediendes huisgodsdiens gehou. Diep in homself het hy egter geweet dat hy verlore was, omdat hy nog nie wedergebore was nie. Hy het hom al meer oor sy eie geestelike toestand bekommer.

 

In April 1862 het God met Hofmeyer ontmoet by die stookketel in die kelder op die plaas en het hy kragdadig tot bekering gekom. Hy beskryf dit so : “Terwijl ik zoo stond zeide ik, Ach Heer, wat zal ik doen, ik heb alles geprobeerd en niets helpt, ik kan niet meer bidden of weenen, krij tog voor mij jammer.” Op daardie oomblik was dit asof die hemel en sy hart gelyk oopsprig. Die liefde van Jesus het vir hom ’n werklikheid geword en dit het vir hom gevoel asof hy deur duisend vure na Hom sou kon loop. Die trane het uit sy oë gebars. Hy het uitgeroep : “O, dat ik toch een hoogen berg kon beklimmen en de geheele wêreld toeroepen en verzekeren, dat de Heer Jezus zondaars lieft heeft!”



Na opleiding en ander arbeid vir die Here is hy op 21 November 1864 in die kerk op Stellenbosch vir sendingwerk in die Soutpansberg (in die noorde van Transvaal) afgesonder. Sy veld was die Buyse en die heidene rondom.



Die herlewing wat in 1876 uitgebreek het, het klein en groot aangeraak. Dit het eintlik in die kinderbiduur begin. Terwyl Hofmeyer oor die geskiedenis van Josef gepraat het, het die plegtige stilte hom getref. Toe hy geleentheid vir gebed gee, het daar ’n opgekropte smart losgebars. Een van die dogters het met trane haar sonde bely en gesê : “ons gaan verlore, ons van sovele gebede en genademiddele; ander heidene neem die Koninkryk van die hemele voor ons weg.”



Vanaf 3 Januarie 1876 was die begeerte om God se Woord te hoor so groot dat daar elke dag ’n biduur gehou is. Grysaards, towenaars, moordenaars, hoereerders ens. het saam met kinders gehuil. Selfs vreemdelinge het verbaas erken : “Dié God is die lewende!” ’n Skare pasbekeerde kinders het vir drie dae nie geëet en vir drie nagte nie geslaap nie, maar bidure in die veld gehou en singende rondgegaan.



Hofmeyer was self verras en verbaas oor die groot werk van God. “... ik was aan mijne zitplaats genageld. Ach, heeft God waarlijk mijn gebed... verhoord? Beschaamd zat ik daar verbrijzeld. Nu zag ik het ongeloof dat immer mijn werk aankleefde, nu zag ik de perken ik den Allerhoogsten gesteld had.”



Die invloed van die herlewing was nie net tot die gekleurdes beperk nie. God het ook kragtig in die Blanke gemeenskap gewerk. ’n Sekere diaken Grobler het met ’n biduur op Renosterpoort begin. Eers het ’n bediende tot bekering gekom en toe is die Blankes ook aangeraak. Hele huisgesinne is omgekeer. Hofmeyer het vertel van voetpaaie wat deur bekommerde bidders na die bosse en slote oopgetrap is.



Mag die Here ons tog van ons ongeloof bevry. Kom ons spoor mekaar aan om met passie en ’n verwagting te bid dat God ook nog ’n groot genadwerk in ons dag sal doen!




(Bron : W.L. Maree, Lig in die Soutpansberg)


















Donderdag 22 Desember 2011

KONINGSKAP VAN JESUS : BEVRYDING OF BEDREIGING?

Jesus Christus wat in Betlehem gebore is, was nog altyd ’n omstrede, kontroversiële figuur!
Jesus verdeel mense in twee kampe! Sommige aanvaar Hom, ander verwerp Hom. Sommige het Hom intens lief, ander haat Hom met ’n passie! Party kom na Hom, ander skram weg van Hom. Baie beleef Hom as ’n wonderlike Bevryder, maar die meerderheid beskou Hom as ’n Bedreiging!

Hierdie skrille kontras van menslike opinie oor Jesus kom ook duidelik in Matteus 2:1-12 na vore. Die sterrekykers kom van ver en doen besondere moeite om Jesus op te spoor en eer aan Hom te bring. Herodus en Jerusalem se godsdienstiges is geografies naby aan Jesus, maar hulle doen moeite om Jesus uit te wis!

Waarom was koning Herodus so ontsteld oor die geboorte van Jesus?
Die antwoord lê opgesluit in die sterrekykers se woorde in vers 2. “Waar is Hy wat as die koning van die Jode gebore is?” Herodus is ontsteld en bekommerd en vyandig omdat hierdie Jesus wat gebore is, ’n KONING is! As Jesus maar net ’n towenaar of kunstenaar, morele prediker of vermaaklikheidster was, sou dit geen probleem wees nie. Maar nou is Hy ’n koning en dit hou ’n bedreiging vir Herodus se eie posisie in. Herodus soek nie ’n ander koning nie, want hyself is mos die koning!

Hier lê die diepste rede vir mense se teenstand teen Jesus! Hier vind ons die oorsaak hoekom die meerderheid mense ’n weersin in Jesus het en Hom verwerp! Die mens wil graag sy eie koning wees!

Die sondige mens wil nie voorgeskryf word deur Jesus nie! Nee, hy wil sy eie ding doen soos hy wil!

Jesus moenie vir my sê hoe ek my lewe moet inrig nie, ek wil self besluit!

Jesus moenie van my verwag om my vyande te vergewe nie, ek sal besluit hoe om hulle te hanteer!

Jesus moenie vir my voorskryf wat die reëls vir seksualiteit en huwelik is nie, ek sal besluit wat is lekker en voordelig vir my!

Jesus moenie vir my sê dat ek toegewyd aan sy liggaam, die kerk moet wees en saam met ander gelowiges byeenkomste moet bywoon nie! Ek is my eie baas en ek maak soos dit my pas!

Jesus moenie vir my beveel om sy Koninkryk eerste te stel nie, nee, ek besluit mos, my gerief en my geld en my toekoms kom eerste!

Die outonome selfstandige mens haat
Jesus se koningskap!

Die selfversekerde mens verwerp Jesus se heerskappy oor sy lewe! Hy sien dit as ’n bedreiging! Dis juis ook dikwels godsdienstige mense wat Jesus se koningskap verwerp. Dis interessant dat Herodus, juis die priesters en skrifgeleerdes raadpleeg om oor Jesus uit te vind. Dit lyk asof Herodus die Bybel geglo het! Maar Hy weier om te buig voor Jesus! Die priesters en skrifgeleerdes self weier ook om Jesus te aanvaar en sou later sy grootste vyande word. Om die Bybel te ken, beteken nog nie ek aanvaar noodwendig vir Jesus as my Koning nie!

Dis opvallend dat Herodus nie openlik sy teenkanting teen Jesus bekend maak nie! Kyk net hoe vals is hy. (Vers 8) Hy wil ook kastig aan Jesus hulde bewys! Dis ‘n valse eer en ‘n skynheilige eerbied! Baie wat Jesus se koningskap verwerp sê dit nie altyd openlik nie. Daarom kry ons skynlidmate, skyn dissipels wat saam draf en saam die regte woorde sê, maar nog nooit regtig voor Jesus gebuig het nie. In die Bergrede waarsku Jesus pertinent hierdie mense. (Lees Matt 7:21-23)

Geliefde, hoe voel jy oor Jesus as Koning? Hy is Koning en as ek Hom nie as Koning aanvaar nie, verwerp ek Hom. Matteus onderstreep Jesus se koningskap baie sterk in hierdie berig oor die sterrekykers. Dis ’n deurlopende tema in hierdie verhaal. Jesus word “die Koning van die Jode” genoem. (vers 2.) Die term “hulde bewys” word drie keer gebruik... (vers 2, 8 en 9) Die sterrekykers bring aan Jesus koninklike geskenke van goud, wierook en mirre!

Jesus is inderdaad, Koning!
 ’n Heerlike genadige Verlosser-Koning!

Die feit dat heidense sterrekykers voor Jesus buig onderstreep juis ook ’n ander waarheid, die wydheid van sy genade! Ook vir heidene wat voor Hom buig is daar bevryding en vergifnis! (Onthou net dit was ’n baie radikale ding om destyds te sê) Die genade het naby gekom vir die wat ver is en voorheen uitgesluit was. Dis ’n tema wat Matteus al in die geslagsregister van Jesus aanraak. Die heiden Moabietiese vrou Rut en die heidense prostituut Ragab is ’n Jesus se geslagregister opgeneem. (Matt 1:5) Matteus wil dit so duidelik stel reeds aan die begin van sy evangelie, dat daar vir ALLE mense verlossing en vergifnis is by Jesus. In Matteus 11:28 nooi Jesus ALMAL wat uitgeput en oorlaai is uit om rus te vind by Hom! Aan die einde van die evangelie lees ons hoe Jesus sy dissipels uitstuur na AL die nasies! (Matt 28:19)

Daar is ’n sterk kontras in hierdie gebeurtenis. Die godsdienstige leiers en Herodus verwerp Jesus se koningskap! Die heidense sterrekykers aanvaar Jesus se koningskap! Herodus beleef Jesus as ’n Bedreiging. Die sterrekykers buig voor Hom as hulle koninklike Bevryder! Wat van jou my vriend? Kan jy regtig sê dat jy al nederig voor Jesus gebuig het en Hom as Verlosser-Koning aanvaar het? Is Jesus al vir jou ’n Bevryder of sien jy Hom nog as Bedreiging?
 
Bring jy regtig hierdie Kerstyd hulde aan Jesus of maak jy maar net asof jy hulde wil bewys??
 
Mag jy 'n Vreugdevolle Tyd beleef
ter ere van ons Bevryder-Koning, Jesus!

Sondag 18 Desember 2011

VREUGDE VAN VERGIFNIS

In Jesaja 44:22 sê God :

“Ek het jou oortredinge, jou sondes uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke...”


In sy preek oor hierdie teks, “Sins Forgiven” vertel Donald MacDonald die volgende gebeurtenis:


Het jy al ooit iemand gesien wat op die grond verpletter is? Jy kan nie eers met hom praat nie. Niemand kan meer misrabel wees as hy nie. Hoekom? As gevolg van sy sonde.


Ek onthou ’n man, ’n ou man en as daar nou ooit ’n godsdienstge mens was, was dit hy. Hy was godsdienstig van sy jeug af; hy is getroud en het ’n gesin gehad en het geleef om sy kleinkinders te sien. Hy was buitengewoon goed vir die saak van Christus. Ek was al lank in my huidige gemeente voordat hy na my toe gekom het. Teen hierdie was hy al ’n ou man, goed oor die tagtig, en hy was so godsdienstig, so godsdienstig soos ’n mens maar kan wees. Hy het nooit ’n biduur gemis nie; altyd die Bybel gelees. Dit het gelyk of hy alles was wat ’n mens moes wees.


En toe word hy oortuig dat hy ’n verlore sondaar was. Eendag het hy na die pastorie gekom en ek het hom probeer troos. Ek het hom probeer vertel van Muckle Kate van Locharron wat haar oë verloor het soos sy oor haar sondes gehuil het; maar hy wou nie luister nie. Toe ek hom van haar vertel het, het hy net gesê : “Al haar smart was niks in vergelyking met myne nie; daar was nog nooit so iemand soos ek gewees nie. Daar kan nie iemand soos ek wees nie.”


Wel, dit was dit en wat kon ek doen. Ek het hom op die Skrif gewys, maar pure verniet. Na ’n tyd het ek hom weer gaan sien. Ek dink hy het my laat roep as ek reg onthou. Hy het my vertel dat hy Christus gevind het, dat elke wolk weggeneem is, dat deur die genade van God sy sondes weggeneem is. Sy sondes van vyf en tagtig jaar, sy sonde van selfgeregtigheid en selfgenoegsaamheid. Hy was vir lank onder ’n wolk en dis wat so swaar op sy siel gelê het, maar God het dit weggeneem en hy kon sê : “Ek sien Christus in sy genade en liefde.”


Wel, dit is wat God doen. Die wolke is dik, en soms maak hulle hulself leeg op ons, maar God in sy genade vat hulle weg. Ons lees in die Psalms : “As U, o Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, wie sal bestaan? Maar by U is daar vergewing, dat U gevrees (gedien) mag word.”(Ps 130:3,4)



Wat ’n treffende bevestiging dat godsdienstigheid ons nie kan red nie! Net ’n vertroue op Jesus se genoegsame offer, kan bevryding van ons sondelas bring! Die moment wanneer ons op Hom vertrou vat God die donker wolk van oordeel wat oor ons hang onmiddelik weg! Dis die enigste pad na ware vreugde!

Dinsdag 13 Desember 2011

KOSBARE PADKOS

Ons as kinders van God se reis na ons ewige Vaderland word gekenmerk deur versoekings, swaarkry en verdrukking. Dis niks snaaks nie; Paulus lig sy jong bekeerlinge in dat hulle dit moet verwag. (Hand 14:22 ) Gelukkig voorsien ons Verlosser vir ons rusplek en padkos op hierdie reis, sodat ons dit met blydskap en volharding kan voltooi! Hy gebruik ons medereisigers om ons uit die Woord te ondersteun en te bemoedig. Dit kan gebeur deur ons saamwees en saambid, deur gesprekke of preke en ook deur boeke... Ek deel graag met jou van hierdie padkos wat ek uit boeke gekry en my aangespreek het. Mag dit jou ook bemoedig en versterk! Maak die kosblik saam met my oop :

Kosblik 1

“Satisfaction with Jesus and His work, not satisfaction with your own faith, is what God expects of you.” Horatius Bonar, God’s Way of Peace ( Met ander woorde in reddende geloof gaan dit nie oor die kwaliteit van ons geloof nie, maar oor die genoegsaamheid van ons Verlosser in wie ons glo!)

Kosblik 2

As dit kom by die genoegsaamheid van Jesus se sterwe vir ons en die vastigheid en volkomenheid van ons vryspraak is Martin Luther 'n onverbeterlike bemoediger van ons siele. Kyk na 'n paar aanhalings uit sy Galasiërs Kommentaar.

Gal 1:4 "Let us learn here of Paul to fully and truly believe that Christ was given, not for feigned sins, nor for small, but for great and huge sins; not for few but for many, not for conquered sins (for no man can overcome the smallest sin to put it away) but for invincible sins.

Kosblik 3

Die kerk kan net haar roeping vervul as sy anders as die wêreld en getrou aan die Woord is!  My groot mentor is Dr Martyn Lloyd-Jones en hy het die volgende hieroor te sê :

"The churches organise whistdrives, fêtes, dramas, bazaars and things of that sort, so as to attract people. We are becoming almost as wily as the devil himself, but we are really bad at it; all our attempts are hopeless failures and the world laughs at us. Now, when the world persecutes the church, she is performing her real mission, but when the world laughs at her she has lost her soul. And the world today is laughing at the church, laughing at her attempts to be nice and to make people feel at home.
My friends, if you feel at home in any church without believing in Christ as your personal Saviour, then that church is no church at all, but a place of entertainment or a social club."

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS Deel 2

Lees Esegiël 36:25-27; Johannes 3:1-5


Ons het gesien God beloof ’n nuwe begin vir sy afgedwaalde, mislukte volk in ballingskap. Hy beloof ’n Nuwe Verbond, want Israel kon nie die ou Verbond nakom nie. Dis die heerlikheid van die Nuwe Verbond. God skryf nie sy volk af nie, maar beloof ’n nuwe begin. Hy gaan hulle nuutmaak, Hy gaan wat stukkend is weer regmaak... Dink aan ’n motor in ’n ongeluk...as die skade te erg is, word hy afgeskryf en “scrapyard” toe verwys... God skryf nie ’n sondaar af nie, God wil jou nie skrootwerf toe stuur nie, God wil ’n nuwe begin met jou maak... Esegiël het dit duidelik gesê: “God self gaan iets doen in mense sodat sy Naam groot gemaak en geëer sal word.” God beloof drie basiese dinge, hierdie nuwe begin gaan oor drie sake: Vergifnis, Vernuwing, Seën.


Kyk weer na die kern daarvan in Esegiël 36:25-27. Nou wil ons bietjie dieper ingaan op die heerlike belofte. Die twee kern elemente waarmee die Here hierdie herstel beskryf is WATER en GEES. Dit gaan oor skoonmaak (vergifnis, reiniging van sondes) en dit gaan oor ’n nuwe gesindheid ( ’n nuwe hart) Reiniging en Vernuwing. Altwee is deel van die ingrype van God.

Dis die essensie van die Nuwe Verbond.
Dit behels ’n verandering van binne.


Dis ’n verandering bewerk deur God self! Hierdie verandering word beskryf in terme van die werking van water en Gees.


Waar in die Nuwe Testament kom hierdie twee beelde saam voor? Natuurlik in Johannes 3 : Die beskrywing van die wedergeboorte. Jesus verduidelik aan Nikodemus die noodsaaklikheid van die wedergeboorte. Vers 1-5 (Lees LW - Water en Gees) Jy MOET wedergebore word! Ons moet die erns hiervan baie goed verstaan. Dis goed as jy ophou vloek of steel of drink...maar iets meer is nodig : Wedergeboorte! Dis mooi as jy begin kerk toe kom en Bybel lees, maar iets meer is nodig : Wedergeboorte! Die vaste waarheid uit Jesus se mond is dat niemand in die Koninkryk kan ingaan tensy hy wedergebore word nie!


Die waarhede van Esegiël 36 is die agtergrond van Jesus se se uitspraak. Ons moet onthou, Nikodemus was ’n leraar van Israel, hy sou hierdie agtergrond uit Esegiël 36 baie goed geken het!


Jesus verwerf vir ons drie dinge:


~ Hy skenk reiniging/vergifnis. Dis wat die “Water” in Joh 3 simboliseer. Soos water ons skoon was, was Jesus ons skoon van ons sondevuilheid, deur ons heeltemal volkome te vergewe. Vergifnis op grond van sy kruisdood. (Jes 53:5,6) Sy vergifnis is finaal, eenmalig en volledig. Hy kyk na jou asof jy nooit gesondig het nie.
Die term wat ons gebruik om hierdie aksie aan te dui is: Vryspraak (Regverdiging)


~ Hy skenk ons vernuwing. Ons het nou nuwe harte deur die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees woon binne in ons - van binne af het ons nou ’n totaal nuwe gesindheid. Die Heilige Gees gee ons die begeerte tot heiligheid en ook die krag om teen sonde te kies. Ons haat nou sonde en wil dit nie meer doen nie. Hier in Esegiël word ’n duidelike bewys genoem van hierdie nuwe gesindheid. Eseg 36: 31 (Lees) Dis wat gebeur as die Gees van God in jou werk...
Dis ’n voortgaande werk in die kind van God. Dit word beskryf  met die term : Heiligmaking


~ Deur Jesus deel  ons in al die ewige seëninge. Ons is nou erfgename van God. Ons kry deel aan sy Koninkryk. Ons sien uit na ons nuwe Vaderland, na die hemelse beloning. Na volmaakte verheerlikte liggame en ’n volmaakte bestaan in die teenwoordigheid van God.
Hierdie finale uiteinde van ons verlossing word in die Bybel aangedui met die term : Verheerliking


God self bewerk hierdie wonderwerk. Dit gee mens hoop! Hy doen dit ter wille van Sy eer. Hy skenk dit op grond van Jesus Christus se werk aan die kruis, via die ingrype van die Heilige Gees.

Al die seëninge van die Nuwe Verbond word ons s'n deur die die geloof in Een Persoon - Jesus.  Die volle pakket word ons aangebied in Jesus Christus. Daarom is Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe!

Elkeen wat Jesus aanvaar as Here kry deel aan die heerlike nuwe begin wat reeds in Esegiël 36 belowe is! Hierdie nuwe begin word in Johannes omvattend beskryf as : Wedergeboorte! Johannes verwys reeds daarna in sy inleiding in Joh 1:13 (Lees) Die mense wat Jesus aangeneem het en wat in Hom glo is mense wat uit God gebore is! Natuurlik wys die term “geboorte” dat hierdie hele saak niks te make het met ons eie goedheid, afkoms of prestasie nie. Dis ’n genadige ingrype van die Soewereine God! Dis soos die werking van die wind. Jy kan die wind nie sien of juis verstaan nie, maar jy sien wel die uitwerking van die wind! Die feit dat jy nou glo in Jesus, is die sigbare bewys dat God reeds 'n wonder in jou gedoen het!

Het die beloftes van Esegiël 36 al waar geword vir jou lewe? Kom na Jesus! Vat sy belofte in Johannes 6:37 vir jou persoonlik en juig oor die nuwe begin wat God jou geskenk het! Amen
















































Maandag 12 Desember 2011

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS! Deel 1

Lees  eers Esegiël 36:24-38

Sien raak die groot waarheid : God is ’n God van ’n nuwe begin! Omdat Hy God is kan Hy dit op die onmoontlikste plekke met die onmoontlikste mense doen! God maak ’n nuwe begin in die begraafplaas! ’n Nuwe begin met ’n klomp bene! (dit sien ons later in hoofstuk 37) Hoor dit! Dis ’n feit! Hoor dit elkeen wat weggedwaal het, wat ’n gemors van jou lewe gemaak het, wat kosbare kanse laat verbygaan het, wat die Here se naam in die skande gesteek het, wat geteister word deur die mislukkings van die verlede... Hoor dit elke sondaar!

 God is die God van ’n nuwe begin!

Esegiël 36 stel dit so duidelik : God maak ’n nuwe begin met mislukte sondaars! Ons weet : Israel was God se uitverkore volk! Hulle het die wonder beleef van die Uittog, hulle was bevoorreg in elke opsig. Hulle het die Wet geken, die Tempel besoek, Priesters gehad en Offers gebring. En tog : Israel het boos en sleg geleef en God se Naam oneer aangedoen. (21) Dit bewys maar net weer : Uiterlike godsdienstigheid kan nie die mens se bose hart genees nie! Ten spyte van al hulle godsdiens, roemryke geskiedenis, al hulle voorregte, was hulle net so sleg en nog erger as die goddelose mense rondom hulle. Daarom straf God hulle, deur hulle te laat wegvoer in ballingskap. Deur hulle optrede het hulle God se Naam in die skande gebring. Die omringende heidense volke sou kon sê :  "Julle sê, julle het ’n heilige sterke God, maar kyk wat doen julle, kyk nou is julle verslaan en weggevoer na ’n vreemde land - waar is julle sterk God nou?”

Dink mooi : Wie doen die grootste skade aan God se naam op in hierdie wêreld ? Ja, jy is reg.... godsdienstige mense, mense op die lidmaatregister... kerkmense wat leef soos heidene!

Wat 'n tragiese skandelike toestand! Dit lyk asof God se plan met sy volk klaaglik misluk het.
Maar nou : Wonderlike nuus! God gaan nie alles net so los nie. Hy sê, Hy gaan ’n nuwe begin maak met die mislukte volk Israel. LW - God self gaan iets doen. Kyk die klem op EK! (Lees weer vers 24-27 hardop vir jouself)

Gód gaan ingryp!

Dis die mens se enigste hoop - as God ingryp en iets doen aan ons sonde en ellende. Dis wat ons ook so nodig het om te besef - as ons kyk na die afval en die verdorwenheid.... Geen menslik projek kan iets daaraan doen nie. Geen dreigemente of mooi praatjies kan die goddeloosheid keer nie. Geen aardse wette of reëls kan gesindhede (attitudes) en harte verander nie. Net God kan iets in jou lewe doen, in die lewe van jou eggenoot, in jou kinders...

Ons kan staatmaak op God se beloftes - Hy doen wat Hy sê! Kyk hoe kragtig stel vers 36 “Ek die Here sê dit en Ek sal dit doen.”

Net gou ’n belangrike vraag. Hoekom gaan God ingryp? Omdat Israel so belangrik of oulik is? Nee! Ter wille van die eer van sy eie Naam! (Terloops : Valse teologie sê altyd : Jy is so belangrik! Bybelse teologie sê : God se Naam is belangrik) God se doel is om die respek vir Sy Naam onder die oë van die volke te herstel. Vers 22-23 (Lees) God bring redding na sy volk nie omdat hulle dit verdien nie, maar ter wille van die eer van Sy heilige Naam. Onthou dit maar - as God ons genadig was -is dit nie omdat ek en jy so oulik was of beter as ander nie, maar om Sy Naam ontwil!
Soli Deo Gloria!

God maak ’n heerlike belofte oor wat Hy gaan doen: (dit behels basies drie dinge)

~ Hy gaan rein water oor hulle uitgiet. Hy gaan dus vergifnis skenk en hulle straf ophef (25)

~ Hy gaan vir hulle nuwe harte gee. Hy gaan sy Gees in hulle gee sodat hulle ’n nuwe begeerte sal hê om God se wil te doen en ook instaat sal wees om sy wil uit te voer. (26,27)

~ Hy gaan hulle seën, met ander woorde sy goedheid en sy liefde oor hulle uitstort. (33-35)

Hierdie beloftes van God het voorlopig in vervulling gegaan met die terugkeer uit Ballingskap uit Babel. Dit het dus konkreet waar geword in die geskiedenis! Maar daar sou nog iets beters kom!

Met Jesus se koms en werk het al drie elemente van hierdie belofte in volle vervulling gegaan:

~ Reiniging : Jesus bewerk vergifnis en hef ons straf op (sy werk aan die kruis bring reiniging) Prakties: Jou skuld en die skande van die verlede word finaal en volkome uitgewis. Jy is nou rein in God se oë!

~ Nuwe hart deur die Gees : Jesus gee die Heilige Gees aan elkeen wat Hom aanvaar - 'n nuwe hart met nuwe begeertes. Prakties beteken dit : Jy kry ’n Hart wat getrou wil bly aan jou huweliksmaat, ’n hart wat eerlik wil wees, ’n hart wat God se gebooie wil en kan uitvoer...! Kyk weer vers 27!

~ Seën : In Jesus kry ons deel aan al die seëninge wat God vir ons beloof het. (Nou reeds, maar veral ook eendag by sy wederkoms)

In beginsel het hierdie beloftes waar geword, maar wat is die situasie in jou persoonlike lewe? Het jy Jesus al aanvaar en so hierdie beloofde reiniging, nuwe hart en ewige seën ontvang?

God is die God van ’n nuwe begin! Ook ’n nuwe begin in jou lewe! Vertrou Hom daarvoor. Kom na Jesus, die Verlosser en Middelaar. Deur Hom sal God sy beloftes in jou lewe waar te maak! Amen
 
(volgende keer, meer hieroor)