BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Zuma. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Zuma. Wys alle plasings

Donderdag 10 April 2014

VERKIESING 2014

- na die verkiesing gaan Suid-Afrika steeds ‘n goddelose regering hê!

Dis nie nodig om ‘n profeet of politieke ontleder te wees nie – met sekerheid kan gesê word dat Suid-Afrika na die 2014 verkiesing nog steeds ‘n goddelose regering gaan hê... Die groot vraag is dus nie wie die land gaan regeer nie, maar hoe moet God se kinders binne ‘n goddelose staatsbestel  en onder ‘n heidense bewind optree?

Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012

Vrydag 18 Mei 2012

ZUMA PORTRET

- giftige adder pik sy baas.

RSG berig : Die ANC is ontsteld oor 'n portret van president Jacob Zuma wat in die Goodman gallery in Johannesburg uitgestal word. In die afbeelding is die president se privaatdele ontbloot. Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu sê die kunswerk tas die waardigheid van die president aan. Hy sê in geen land in die wêreld sal die reg van burgers - wat nog te sê dié van die president - so misbruik word nie. Die party het sy prokureurs opdrag gegee om die gallery te versoek om die portret te verwyder.

Ek is geen Zuma aanhanger of ANC ondersteuner nie, maar ek kan my tog  vereenselwig met die verontwaardiging oor die veelbesproke Zuma skildery. Alle Christene sal vanuit ons respek vir God se Woord sulke immorele kuns verwerp met die minagting wat dit verdien ongeag wie nou daardeur benadeel word. Tog is dit ook ons Christelike plig om daarop te wys dat Zuma en sy party self hierdie  giftige adder van goddeloosheid deur hulle beleidsrigtings sowel as optrede help grootmaak het.

Die ANC en al die medewerkers aan die uiters liberale Suid-Afrikaanse grondwet het net hulleself te blameer vir hierdie siek gemors waarin die land hom bevind. Dis die gevolg van ‘n grondwet wat net mense se regte beskerm terwyl dit God se wette vertrap. Dis 'n dokument wat geskoei is op die humanistiese vryheid van die outonome mens. Hierdie eensydigheid is ‘n giftige adder wat vertroetel word en een of ander tyd sy slim base gaan byt.  Dis wat nou gebeur het toe Brett Murray onder die dekmantel van hierdie (valse) vryheid ruimte gevind het vir sy vieslikheid.  Dis eintlik logies dat ‘n grondwet sonder God op die ou end sal “backfire”.  God het sy wette daargestel, eerstens tot sy eer, maar ook om ons as sy skepsels, wat eer aan Hom moet bring  te beskerm. As ‘n land (sy president, regering,  grondwet en burgers) nie meer ontsag het vir God en sy gebooie nie, moet hulle nie dink dat hulle skotvry daarvan gaan afkom nie.

Die ANC kla nou weer oor die reg van die ('n) mens wat geskend word, maar wat van God se REGTE AS SKEPPER wat permanent in hierdie gruwelike grondwet (en deur 'n heidense veelwywer) geskend word?


Die ANC in hulle protes dink alweer net in die een rigting/groef waarin hulle altyd vasval. "Dis rassisties en teen Swartmense gemik", is hulle beswaar. Weet hulle dan nie van die Swart kunstenaar, Ayanda Mabulu se skildery, "Un-mute my tongue", wat beide 'n kaal Zuma en kaal Tutu afbeeld nie? Nee, ANC, die probleem moet eerder gesoek word by 'n samelewing, wat hulle nie meer steur aan God se Woord nie. En julle en julle president, is aandadig!

‘n Goddelose grondwet soos die van Suid-Afrika wat nie respek het vir lewe nie (aborsie toelaat), wat die huwelik minag (gay huwelike erken) en wat dus die regte van die mens (skepsels) hoër ag as die regte van God (Skepper) is uiteindelik ‘n dokument van die dood. Dit verskans sonde. En sonde lei tot die dood.

Mag Zuma en ander leiers hulle tot God bekeer en die land tot sy eer regeer!

Sondag 08 Januarie 2012

HEIDENDOM IN BLOEMFONTEIN

- Zuma offer aan die voorvadergeeste.

Kulturele verskeidenheid is iets waarmee ons (veral in Suider Afrika) positief moet saamleef en inderdaad kan waardeer. In ander kulture is daar dikwels prysenswaardige eienskappe wat ons lewensuitkyk kan verryk. Maar wanneer ’n betrokke kultuur (ongeag of dit ’n Westerse, Oosterse of Afrika kultuur is) gebruike en seremonies volg wat deur God se Woord verbied en as ’n gruwel verklaar word, durf die kerk van Jesus nie ter wille van politieke korrektheid en gedienstigheid stilbly nie.

Daarom moet ons die diere offers en kontak met voorvadergeeste tydens die ANC se afgelope eeufeesvieringe in Bloemfontein ten sterkste betreur en al die betrokkenes tot bekering oproep. Die kastige reinigingsseremonie is nie maar bloot ’n onskuldige kulturele praktyk nie, dis gruwelike afgodery!

Dat ons hier te make het met tradisionele Afrika voorvadergodsdiens is baie duidelik. Die Mail&Guardian berig as volg :

Renowned poet and ANC member Walley Serote told reporters the sacrifice is part of "remembering African traditions" in the hopes of invoking the spirits of the ancestors to offer guidance.

"We spill the blood of these animals in the hopes that our ancestors will help us prevent spilling human blood in the future," he said.

Die skokkende is, die president van Suid-Afrika was persoonlik hierby betrokke. Weereens die Mail&Guardian:

President Jacob Zuma brought the cleansing ceremony to a close by sacrificing a black bull. He carried out the symbolic slaughter with a spear presented to him by a former Umkhonto we Sizwe member.

Oor die betekenis hiervan het Zuma homself as volg uitgelaat :

"We have spoken to the ancestors, it is done. The spear once used to fight apartheid is now used to protect our nation. Let us go out and enjoy the centenary celebrations"

Die Woord van God is baie duidelik dat ons geen kontak met die geeste van dooies mag maak nie. (Deuteronomium 18:9-14) Die sogenaamde geeste van die voorvaders met wie daar kontak gemaak word,  is nie net afgode wie se hulp (in plaas van God) nou gevra word nie, maar is in werklikheid niks anders as demone nie. (en terloops, laat die Westerlinge wat so graag via ’n spiritistiese medium, kastig met ’n oupa of ander familielid praat, maar ook hiervan kennis neem) Wie met hulle praat en aan hulle offer is besig om aan demone eer te bewys. Paulus waarsku ernstig teen sulke gemeenskap met die bose geeste. (1 Korintiërs 10:20)

Om die bloed van ’n bul te laat vloei in ’n heidense seremonie kom neer op die minagting van die bloed van die Lam van God wat vir eens en altyd gevloei het. Jesus se bloed was genoegsaam om die sondes van die wêreld weg te neem. (Johannes 1:29; 1 Johannes 1:7) Dis net die Satan wat nou bloedoffers wil hê. Dis presies waarmee Zuma, die heidense poligamis besig was (miskien onwetend); hy het ’n offer aan Satan gebring!

Gaan die Christelike kerk in Suid-Adrika die moed hê om op te staan en te getuig vir die waarheid?