BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bruid van die Lam. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bruid van die Lam. Wys alle plasings

Dinsdag 06 Augustus 2019

BRUILOFSMAAL OP MAKALANI


- Sigbare boodskap van evangelieheerlikheid!

Ek sit saam met ‘n Hai//om bruidspaar aan die nagmaalstafel. Johannes Tampan en sy vrou Rosa. Stralende egpaar! Een brood, een beker, maar ‘n groot verskeidenheid van nagmaalgangers – Hai//om, Afrikaans, Duits, Engels. Ja, dis meer as net ‘n normale bruid en bruidegom wat hier bymekaar is, dis die Bruid van die Lam, losgekoop met sy kosbare bloed uit elke stam, taal, volk en nasie… 



Vroeër (as deel van dieselfde erediens) het ons immers ook sigbaar beleef hoe Jesus deur die Woord en Gees sy bruid self bymekaarmaak deur die volwasse doop van ‘n jongman, Karel wat tot bekering gekom het. Hierdie was nou nie die gewone standaard erediens waaraan ons gewoond is nie – vooraf was daar twee getuienisse, toe die doop, daarna ‘n huweliksinseëning en uiteindelik die nagmaalsviering! Deurgaans word die Woord bedien- uit Genesis, Hooglied en Openbaring en dit vorm ‘n pragtige eenheid. Die bedienaar van die Woord en sakramente is ons broer ouderling Andries Gous. Hy en ouderling Herman Fuls is onlangs amptelik met goedkeuring van die Namibiese Kuratorium as gemeentebedienaars bevestig . (KLIEK) 

Wat hier gebeur is ‘n pragtige getuienis en ‘n helder boodskap. Ja, die omgewing is eenvoudig, armoedig, kultureel anders... ‘n Hond, ‘n hoender, ‘n seuntjie wat ‘n wieletjie rondstoot, iemand wat in die agtergrond hout kap, iewers daag ‘n polisievoertuig op… dis alles deel van die toneel. Maar sentraal is die Here Jesus wat vandag nog sorg dat die evangelie juis ook aan die armes verkondig word. En Hy sorg self en Hy bou self sy kerk. Deur dissipels wat gehoorsaam is aan die GROOT OPDRAG!

Tampan en Rosa is eenvoudige mense, maar hulle verhaal wonderbaarlik. Tampan het vir jare die Woord onder sy mense verkondig (onthou hy is ongeletterd) sonder amptelike hulp van die kerk. Hy het egter met ‘n probleem gesit. Hy en sy vrou was nie wettig getroud nie. Dit was ‘n moeilike saak om reg te stel, want beide hy en sy vrou was voorheen wettig in ander huwelike, maar beide se eggenotes het hulle deur die dood ontval. Om weer te trou sou ‘n groot klomp dokumentasie vereis. En vir ‘n ongeletterde Boesman, wat ook nie die nuwe Namibiese amptelike taal van Engels magtig is nie was dit ‘n bykans onmoontlike hoë berg om te bestyg. Totdat die Here vir Andries oor sy pad gebring het… Andries het die saak selfs tot by die Ombudsman se kantoor gevoer… Hulle is toe die vorige Vrydag wettig voor die landdros getroud. 

Nou is dit erediens en feesdiens in die hart van die gemeente! Die bruid van die Lam is hier bymekaar... sigbaar!

Andries het later getuig van sy indrukke: 

“Tydens die doop het ek geweldig bewus geraak van die teenwoordigheid van die Here. Nadat die doop bedien is aan Karel Awaseb het ek my hand op hom gesit om te bid en ek was tasbaar bewus van die Gees van God. En toe ek opkyk en ek sien die trane loop, toe weet ek dat Karel Awaseb het net soos ek bewus geword van God se tasbare teenwoordigheid. 

Na die diens gesels ek met die Tsintsabis mense wat ek terugvat en ek vra vir hulle wat was vir hulle die mooiste? Maria sê die doop, want dit is 'n bewys dat God nog iemand bygevoeg het tot sy liggaam. Sy reken die troue en nagmaal was mooi maar die doop is die bevestiging dat God sy kinders bymekaar maak. Nog 'n verlore siel is gered. Ek hoor ook iemand sê dat hulle so 'n troue wil hê, want dit was so mooi, daar was nie 'n klomp tradisies en dronk mense nie. 

Op pad terug na Grootfontein ry ds. Regina en ander vrouens saam voor in die bakkie en ek begin uitvra oor die indrukke van die diens. Die een vrou sê dat sy sien dat Tampan en Rosa het getrou al het hulle nie werk en geld nie. (Ja, daar is ook maar die wanopvatting by die Boesman mense dat mens geld nodig het om te trou.) Ek het verduidelik dat as ‘n mens wil wag vir geld dan moet jy ook jou lyf se plesier laat wag tot dat jy geld het.” 

Loof God vir die kosbare boodskap wat uitgegaan het – nie net deur Woord alleen nie, maar ook deur sigbare tekens en veral deur die diep bonatuurlike werk van die Heilige Gees! Wat ‘n voorbeeld is hierdie Boesman broers en susters se erns met God en sy opdragte. En dit in ‘n tyd waar ons blanke jongmense in totale sedeloosheid verval. Oor saambly en buite egtelike kinders word daar nie eers meer gefrons nie! (Trouens dit word op sosiale media geprys en ondersteun!) God se standaarde het egter nog nooit verander nie! 

"Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie." (1 Tessalonisense 4:3-5) 

Die bruid van die Lam is immers ‘n rein bruid!



Maandag 16 Julie 2018

“SEERGEKRY IN DIE KERK”


- "Ek het nog die Here lief, maar wil niks met die kerk te doen hê nie!"



Dis een van die mees algemeenste opmerkings wat mens hoor as die kerk ter sprake kom. "Die kerk het my teleurgestel, seergemaak, ingedoen… daarom dien ek nou maar die Here op my eie." 


As jy seergekry het in die kerk wil ek jou bemoedig deur sommer dadelik te sê, jy is nie die eerste en enigste een met hierdie hartseer en ongelukkige ervaring nie. Maar ek wil jou ook graag help om nie by hierdie punt te bly vassteek nie. Ek wil by jou pleit om God se wil te soek en te gehoorsaam as dit by die kerk kom. Want God het in sy Woord so baie oor die kerk te sê... Ons lees in 1 Timoteus 3:14,15 die volgende : 

“Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 
Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” 

Sommer hier met die eerste oogopslag sien mens twee baie belangrike sake: 

  • Die kerk is God se kerk, sy huisgesin. Dis nie sommer ‘n losse vereniging, klub of "private boomkerk" nie, maar ‘n ordelike gestruktureerde eenheid waar daar ouderlinge en diakens is! (sien die voorafgaande instruksies rakende ouderlinge en diakens in hoofstuk 3) 
  • Die kerk het ‘n onmisbaar belangrike rol : Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Saam met ander gelowiges (ook van alle eeue) verstaan ons die waarheid, want nie een enkele individu het die volle waarheid in pag nie.

Kom ons dink bietjie saam oor die onderwerp van die kerk en seerkry en hoor wat die Here in hierdie omstandighede vir sy kinders wil sê. 

Eers gaan ek jou nog verder skok met die volgende stelling: 

Elkeen wat voluit betrokke is by ‘n plaaslike kerk van Jesus Christus gaan een of ander tyd seerkry.*

Natuurlik kan dit baie wissel in intensiteit. Dit kan enigiets wees van geringe teleurstellings en irritasies tot grondige verskille, hewige botsings en gevegte wat diep wonde en letsels veroorsaak. 

Waarom gebeur dit so algemeen dat mense binne ‘n kerkopset verwond word? 

‘n Kerk wat regtig funksioneer is soos ‘n huisgesin of familie. Ons hoor dit weer in wat Paulus hier vir Timoteus sê. Ons beweeg na aan mekaar, ons het inspraak in mekaar se lewens en dis wonderlik, maar hoe nader mense aan mekaar leef hoe groter is die potensiaal dat verskille in wrywing en konflik kan ontaard. Dit klink dalk vir sommige ongevoelig, maar “seerkry” is ‘n risiko wat altyd in ‘n kerk aanwesig sal wees soos dit altyd ‘n risiko in ‘n gewone huisgesin of huwelik is. 

Seerkry is deel van kerkwees, maar hoe moet ons daaroor dink en hoe moet ons dit hanteer? 

Drie perspektiewe kan baie help: 

ONTHOU WIE DIE KERK SE LIDMATE IS. 

Die kerk word met wonderlike metafore beskryf. Behalwe huisgesin word sy onder andere ook genoem die gebou van God (1 Petrus 2:5), die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:12), maar die heerlikste beeld is seker dat die kerk, die bruid is van Jesus Christus, die hemelse Bruidegom! (Openbaring 19:7–8) Al te dikwels voel ons daar is nogal ‘n groot kontras tussen hierdie heerlike beskrywings van die kerk en dit wat ons van dag tot dag ervaar. Hoekom? Die kerk bestaan uit mense! Hoe maklik vergeet ons hierdie ooglopende waarheid. Die sigbare kerk sal daarom altyd ook skynheiliges huisves...

Jesus het 'n kring van twaalf dissipels gehad en een van hulle was 'n duiwel! 'n Volmaakte kerk waarin almal toegewyd en heilig is, is 'n illusie.

Natuurlik is die kerk veronderstel om uit bekeerdes te bestaan. Mense wat genade ontvang het, maar onthou, ook diesulkes is steeds mense wat gebroke is en daarom sondig, beperkte insigte en vermoëns het en gedurig verander. Dit verklaar so baie van die hartseer dinge wat in ‘n kerk gebeur. En moenie vergeet nie, ek en jy wat seergekry het is ook mense, mense met hierdie einste foute en beperkings. Ons moet ook sensitief wees vir ons eie foute en sondes. Die sonde van selfbejammering, die sonde van ‘n onleerbare gees en eiesinnigheid, die sonde van weiering om gesag te aanvaar, die sonde van verbittering en onvergewensgesindheid is nogal algemeen by mense wat seergekry het in die kerk. En partykeer is dit juis hierdie sondes wat aanvanklik tot die seerkry aanleiding gegee het! Sien dit ook maar net raak! Mag dit tog bietjie begrip en genade vir ons medelidmate en kerkleiers by ons opwek! 

ONTHOU WIE DIE KERK SE VYAND IS. 

Die groot vyand van die kerk is nie daardie ou wat jou so irriteer nie, ook nie die man wat Sondae voor jou sit en jou ‘n klomp geld skuld nie. Die vyand van die kerk is die groot aanklaer, leuenaar en mensemoordenaar, Satan! Die duiwel is ook jou groot vyand (nie die ou wat langs jou in die kerkbank sit en van jou geskinder het nie), hy is Jesus se vyand, hy is God se vyand! Die Satan haat God en dis juis op die kerk waar hy sy groot woede uithaal omdat die kerk so kosbaar is vir God en omdat die kerk God se instrument is om die waarheid te bewaar en die wêreld te bereik! Die Satan weet sy doppie is geklink, maar dis juis daarom dat hy alles uithaal om soveel moontlik skade aan te rig aan die bruid van Jesus. Hy weet sy tyd is min.**  Hy gebruik elke vuil en lafhartige taktiek in en buite die boek. 

Pasop dat jy nie vir die verkeerde mense kwaad word nie, die eintlike vyand is die duiwel! Pasop dat jy nie deur te skinder en deur jou bitterheid self ‘n instrument in die hande van die duiwel word nie! Deur die kerk te los en af te kraak bevorder jy die agenda van die duiwel en nie die wil van God nie! 

ONTHOU VERAL WIE DIE KERK SE KONING IS! 

Die kerk is God se huisgesin. Die kerk is Jesus se kerk. Elke plaaslike gemeente, hoe gebroke ook al waar Christus bely word is Jesus se kerk. Sy eiendom wat Hy deur sy bloed gekoop het. Pasop dus maar wat jy van die kerk te vertel het... Jesus is die koning, maar ook die bruidegom van die kerk. Ons toewyding aan die bruid (kerk) sê geweldig baie oor ons toewyding aan die Bruidegom! Hoe waardevoller die Bruidegom vir jou word, hoe waardevoller sal die kerk vir jou wees! 

Natuurlik is dit ‘n hartseer feit dat die bruid dikwels nog vuil en bevlek is en min van die heerlikheid en karakter van die Bruidegom vertoon. Dit moet ons nie laat tou opgooi nie, maar ons juis aanspoor om te bid en te werk vir die genesing, heiligmaking en gereedmaking van die bruid! Jesus sal eendag sy bruid volmaak en vlekkeloos maak. Ja, daardie swartgallige medegelowige wat jou so irriteer sal ook eendag volmaak wees! Onthou dit maar. Daardie irriterende medegelowige is egter nou reeds jou broer of suster aan wie jy liefde moet bewys.. Jesus het vir hulle ook gesterf, ja hulle wat jou nou seergemaak het! Jesus het hom en haar lief!

Deur die kerk te beledig, te vermy, af te kraak of te ignoreer maak jy Jesus seer! 

Ja, jy is dalk heeltemal eerlik as jy sê dat die kerk het jou seergemaak, maar hoor ook hierdie eerlike waarheid – jou houding veroorsaak pyn vir Jesus. Dis ‘n sonde, dis ‘n sonde waarvan jy moet bekeer! Jy is op ‘n gevaarlike pad! Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus! Dit moes Paulus duidelik hoor op pad na Damaskus... 

 “Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" "Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg. (Handelinge 9:4,5) 

Paulus het die kerk vervolg, maar Jesus ervaar dit as vervolging van Homself! Nadat Paulus tot bekering gekom het, het hy nie net ‘n liefde vir Jesus gekry nie, maar ook ‘n liefde vir Jesus se kerk. “O, ja maar die kerk was baie goed en suiwer in daardie dae...,” sê jy vir jouself. 

Ekskuus, maar jy maak ‘n fout. Gaan lees maar die Nuwe Testament en let op al die probleme waarmee die gemeentes te kampe gehad het. Die briewe aan hierdie gemeentes is deels juis geskryf om hierdie kwellings aan te spreek: dwaling (Kolossense), wettisisme (Galasiërs), tweespalt, onenigheid, onsedelikheid, wanorde rondom die gawes amp (1&2 Korintiërs), konflik en selfsugtige ambisies (Filippense). Daar sou nog baie voorbeelde genoem kon word...

Juis die onvolmaaktheid van die kerk het aanleiding gegee tot die meeste van die Nuwe Testamentiese geskrifte! 

Los die verskonings en wees gehoorsaam...

Kerklose Christenskap is nie iets wat ons in die Nuwe Testament kry nie...

Nee, jy het geen verskoning nie. Wees lief vir Jesus, wees lief vir sy bruid en liggaam, die kerk en spesifiek die plaaslike kerk waar Hy jou geplaas het! 

Moenie ophou om Jesus lief te hê nie! Dis nie Hy wat jou in die steek gelaat het of seergemaak het nie. Hy het nog nooit enige mens onregverdig behandel nie. Sy liefde vir jou het nog niks verander nie, dis nog net so groot soos die dag toe sy liefde vir jou Hom na die kruis laat stap het! 

Moenie die kerk afskryf en ‘n weersin in kerkwees ontwikkel nie! Die kerk is groter as die bepaalde gemeente waar jy seergekry het, die kerk is die liggaam van Jesus dwarsoor die hele wêreld heen. Die kerk is meer as daardie mense wat jou gekwes het. Jesus se kerk soos reeds gesien, het baie foute. Die gemeente van Laodicea het Hom so ontstel dat dit Hom naar gemaak het (Openbaring 3), maar Hy nooi altyd weer sy kerk om terug te keer na ‘n lewende verhouding met Homself! 

Moenie nalaat om die gemeente se byeenkomste by te woon nie! (Hebreërs 10:2) Dis die Here se opdrag, dis in jou belang, maar dis ook ter wille van jou broers en susters.

Wees positief en lewer ‘n bydrae! Deur gebed en betrokkenheid. Deur te vergewe, verskille uit te praat, deur jou aan gesag te onderwerp, deur in alles die belang van Jesus se bruid te bevorder en nie jou eie begeertes voorop te stel nie!



*  Sien artikel van Kirstin Tabb Ek het ruim van sy insigte gebruik gemaak.

**Openbaring 12



Dit was so lekker toe Christiaan Meyer en Andries Niemann by ons op Tsumeb kom kuier het. Jongmanne wat kinders was tydens ons Antipas dae in Vereeniging. Hier saam met Natanie en Marisja by Tierkloof.

Vrydag 31 Julie 2015

BABILON IS NIE BY DIE BRUILOF NIE

- basiese besonderheid oor die hemel wat algemeen vergeet word.



Kom ons vra weer : Hoe lyk dit in die hemel? Ons het gesien dis die plek waar God bewonder en aanbid word in ‘n ewige erediens. (kliek op HOE LYK DIE HEMEL?) Ons aardse erediens is ‘n afbeelding daarvan. (die wat die aardse erediens vervelig en onnodig vind sal ook nie welkom voel by die ewige erediens nie) Natuurlik is daar nog baie ander aspekte van die hemel wat deur ‘n verskeidenheid metafore uitgebeeld word.

Die werklikheid van die hemelse koninkryk word dikwels voorgestel as ‘n Bruilofsmaaltyd – ‘n huweliksfees wat innige gemeenskap, saamwees, harmonie en uitbundige vrolikheid simboliseer. 

Om in die hemelse koninkryk te wees beteken dat ek bevoorreg is om uitgenooi te wees na die bruilofsfees van die Lam (Jesus)! “Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar." (Openbaring 19:9!) Dis die een fees wat tel, dis die een partytjie wat mens nie moet misloop nie! Dit maak nie saak wie jy is en hoe swaar jy nou kry nie...arm, siek, bespot of uitgestoot... as jy ‘n genooide is na Jesus se bruilof is jy ‘n uitermate geseënde! Ek hoop jy besef jy is baie meer geseënd as Bill Gates. Juig daaroor en dank God dat jy so ‘n uitverkorene mag wees!

Wie is die gelukkige uitgenooides en hoe lyk hulle?

Die uitgenooides is die bruid self, dit wil sê almal wat waarlik deur die wedergeboorte deel geword het van Jesus se kerk!

BRUID OF HOER?

Johannes skets vir ons die verhewe skoonheid en rein heerlikheid van Jesus se kerk in kontras met ‘n onheilige hoer/prostituut. Daar is natuurlik geen skerper kontras as juis dit nie – ‘n maagdelike bruid en ‘n onrein/onsedelike prostituut.

Die prostituut word beskryf met die term Babilon. (Babilon en die val van die stad word in hoofstuk 18 in detail beskryf.) Die bruid word in hoofstuk 21 beskryf as die Nuwe Jerusalem. “Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam."Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.” (21:9,10) Babilon is simbool van als wat onrein, onheilig en in opstand is teen God en sy norme en wette. Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb. 17:4;18:2,16 met Openb. 19:8. 

Openb.17:4 "Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid."

Openb. 18:2,16 “En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,...” "Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helder rooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!”

Openb. 19:8. “God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

SY IS SO MOOI!

Die duidelike boodskap is :Die bruid van Jesus lyk anders as die sedelose onheilige wêreld! Sy word uitgeken aan haar versiering van regverdige dade. Regverdige dade, goeie werke is alles wat ons doen uit dankbaarheid vir ons verlossing en in gehoorsaamheid aan ons Verlosser! Moenie ‘n fout maak nie – goeie werke, maak saak, heiligheid maak saak – dis volgens die Apostoliese belydenis die groot kenmerk van die ware kerk van Jesus! “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Vir onheiliges gaan daar geen plek wees aan die bruilofstafel van Jesus nie!

BABILON SAL NIE BY DIE BRUILOFSFEES WEES NIE!

Openbaring in sy geheel is baie duidelik : Ons word nie gered deur goeie dade nie! Nee, net deur die bloed van die Lam. Ons maak ons klere wit in die bloed van die Lam. Dit beteken ons ontvang volkome vergifnis op grond van Jesus se kruisdood. Ons word nooit deur ons goeie dade gered nie. Maar goeie dade is die noodwendige gevolg van ware redding uit genade. Goeie dade is die versiering, die sigbare kenmerk van dié wat vergifnis ontvang het. Goeie dade maak die ware kinders van God, die bruid, MOOI! Hierdie mooi bruid gaan vir ewig feesvier saam met die Lam! Dis hemels!

DIE BRUID VAN JESUS IS ‘N REIN BRUID, VERSIER MET REGVERDIGE DADE!

Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die magsug, onreinheid en wellus van die onheilige prostituut? Is jy besig om jouself gereed te kry vir hierdie fees, of ploeter jy voort in ongehoorsaamheid en vuilheid? “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.” (7) Daar is nou nog tyd vir bekering...

Die Nagmaal bevestig al die heerlike waarhede van Openbaring met betrekking tot die bruid: Redding deur die bloed van Jesus, aansporing tot goeie dade, ‘n feesmaal wat ‘n vooruitskouing is op die ewige bruilofsmaal saam met Jesus, die LAM!


[Dankfees ete 2015]

Dinsdag 21 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (14)

- die bruilofsmaal van die Lam.

Die Bybel maak dikwels gebruik van die huweliks en bruilofmetafoor om iets van die heerlikheid van die verhouding tussen God en sy verlosde mense te beskryf.
Die huwelik word alreeds in die Ou Testament  gebruik om die verbintenis tussen God en sy volk te beskryf. Kyk na Esegiël 16:8! (Aangrypend : ’n weggooikind word uiteindelik ’n koningin bruid!) Sien ook Hosea 2:18,19! In die Nuwe Testament  word dit nog duideliker gestel as Paulus die verhouding tussen man en vrou direk van toepassing maak op die verhouding tussen Jesus en sy kerk. (Ef 5:31,32)

Jesus self gebruik ook die feesmaal (al is dit nie eksplisiet ’n bruilofsmaal nie) as ’n tema om die feesviering in die Koninkryk aan te dui. (Matt 9:14, 15; 22:1-14, 25:1-13) Hier lê die klem op die gaste, wat uitgenooi en begenadig is om te mag deelneem.
Die beeld van die maaltyd en die huwelik word dus  gevarieerd in die Skrif gebruik en in elke situasie is daar ’n verskillende klem. Dis wel duidelik dat God se mense (die kerk van Jesus ) beide bruid en gaste aan die bruilofsmaal is!* Een beeld is nie genoeg en voldoende om die heerlikheid te beskryf waarin God se kinders gaan deel nie! Die bruid self is ook nie ’n enkelvoudige beeld nie! 

Hier in Openbaring  21:9,10 kry ons ‘n verrassing. Johannes hoor: “Ek wys jou die bruid...” en dan sien hy ’n stad!

Die nuwe Jerusalem is hier duidelik nie ’n letterlike stad nie, maar ’n personifikasie van die kerk, die bruid van Jesus, die Lam. (Hier sien ons vir die soveelste keer in Openbaring hoe Johannes drastiese gedagtespronge maak om ‘n boodskap deur simbole oor te dra. Hy verf as’t ware sulke lang hale met sy kwas om die heerlike boodskap met sy skildery uit te beeld. Hierdie boodskap wat so onbeskryflik groot en wonderbaarlik is dat gewone taal dit moeilik kan oordra.) 

Die nuwe Jerusalem, die ewige stad van God  is nie ’n stad van bakstene en geboue nie, maar wel begenadigde mense! 

God woon by sy mense! Vgl Openbaring 21:3.  Dis belangrik om raak te sien : Die bruid, Jerusalem is in skrille kontras met die prostituut, Babilon! Twee simboliese stede wat reëlreguit teenoor mekaar en vir radikaal opponerende waardes staan. Babilon versinnebeeld ‘n onrein HOER en Jerusalem ‘n heilige BRUID! Babilon is die simbool van verset en verleiding, Jerusalem, die verlosde vrou van die Lam!
Vergelyk die volgende gedeeltes in Openbaring met mekaar: 18:5 en 21:2 (sonde teenoor heiligheid); 17:1 en 21:9 (sedelose vrou teenoor bruid van die Lam);  17:4 en 21:27 (sedeloos teenoor niks onreins); 18:23 en  21:23,25 (geen lig teenoor God wat die Lig is in Jerusalem); 17:6 en 21:4 (Stad van die dood teenoor geen dood) ens.

Nogmaals 12

In die beskrywing van die stad kry ons telkens  weer die simboliese getal 12 (en veelvoude daarvan) wat ons reeds by die 144000 as simbolies die volle getal van die kerk teengekom het! Lees Openbaring 21:12-21 (12 poorte, 12 engele, 12 fondamente, 12 name, 12 000 km, 144m ens.)  Dit sê so duidelik : die bruid van die Lam is volledig, nie een uitverkorene sal kort nie! 

Kubus

Opvallend, die nuwe Jerusalem is ’n kubus! Vers 16!  (Weereens is hier nie sprake van letterlike afmetings van ’n letterlike stad nie! ‘n Stad met sulkie fisiese proporsies, sou maar ‘n ongemaklike plek gewees het) Waarom dan die kubusvorm?  Dit gaan oor die volmaakte teenwoordigheid van God soos in die kubusvormige binneste heiligdom - vgl. die heiligdom van Salomo se tempel in 1 Konings 6:20! Ook kubusvormig!**  God is volmaak alomteenwoordig by sy mense! Daar is niks meer wat skeiding en vrees kan veroorsaak nie. Deur Jesus se bloed (sy genoegsame offer) is ons nou in sy binneste heiligdom! Die finale heerlike gevolg van die voorhangsel wat geskeur het!

Edelstene en goud

Die edelstene se agtergrond kom  waarskynlik uit Eksodus se voorskrifte met betrekking tot die Hoëpriester se klere - (8) Edelstene was deel van die borssak van die priester, wat simbool was van die hele Israel wat deur die hoëpriester verteenwoordig is. (Moenie te detail vra vrae en in tegniese besonderhede vasval nie - sien die groot prentjie raak!)
Pêrels was in die antieke wêreld die kosbaarste juweel! God ag sy volk baie kosbaar! Die strate  van goud weerkaats God se heerlikheid! Ja, die heerlikheid van God sal sigbaar wees in Sy verlosdes! (Dis iets wat nou reeds merkbaar is in die heiliges op aarde ten spyte van soveel gebrokenheid!)

Maar geen tempel nie!

Verder vind ons hier ‘n heerlike lyn van Eden via die tempel tot by Jesus die ware tempel van God tot by die Voleinding!!  (Vers 22) Die tempel (eers die tabernakel) was altyd die fokusput van God se plek, waar Hy besonder teenwoordig is en waar sy heerlikheid beleef word. Die funksie van die aardse tempel in Palestina is vir altyd verby, want ons sien en beleef die heerlikheid van God nou in Jesus. (Johannes 1:14 - letterlik - Jesus het by ons "getabernakel, tent opgeslaan") Ons deel in Jesus en vorm so saam met Hom die ware tempel, die sentrum van die  stad die woonplek van God.  ‘n Fisieke tempel is nou nie meer nodig nie! Gereinig deur Jesus se offer gaan ons by God wees en sy volle heerlikheid vir ewig beleef! Voor die sondeval het Adam en Eva God se teenwoordigheid in Eden beleef, dis nou weer herstel, maar dis baie beter en blywend!

Openbaring gebruik komplekse beelde vanuit verskillende hoeke om vir ons die onbeskryflike heerlikhede (bo ons verstand en taalvermoë) wat wag vir God se kinders te beskryf. Die bruid as die nuwe Jerusalem beteken dat die volle getal van God se kinders ’n ewige volmaakte saamwees met God en die Lam sal beleef!

Kan daar iets heerliker wees om na uit te sien?


* Goldsworthy
** Du Rand

Maandag 07 Mei 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (10)


- Babilon val!

Die klem in Openbaring val baie sterk op die sekerheid van oorwinning. (Onthou weer hierdie boek moes verdrukte gelowiges vertroos en aanmoedig tot volharding) Die oorwinning wat Jesus reeds deur sy kruisdood en opstanding behaal het, het heerlike gevolge. Hierdie vaste oorwinning gaan uiteindellik daartoe lei dat al die vyande van Jesus en sy kerk totaal vernietig gaan word. Dit word o.a. uitgebeeld deur die val van Babilon. (sien hoofstuk 18) Nou wie en wat is Babilon? Dis belangrik om nie hier allerhande raaiskote te waag nie, maar terug te gaan na wat die Skrif self sê.

Hier kry ons nog ’n duidelike voorbeeld van hoe Johannes ’n tema uit die Ou Testament neem en dit ’n ruimer inhoud gee, om ’n waarheid in sy geskrif oor te dra! Daar is  ’n merkwaardig opvallende ooreenkoms tussen wat Jeremia 50,51 oor Babel, Israel se groot vyand sê en dit wat Johannes  in Openbaring 18 oor Babilon sê. Kom ons kyk net na een voorbeeld. 

Vergelyk Openbaring 18:2 

“Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere.” (Skielike val en word ‘n puinhoop)

met Jeremia 51:8 

“Babel kom skielik tot ‘n val, hy stort ineen” (Skielike val)

en Jeremia 50:39

“Die stad sal bewoon word deur hiënas en jakkalse, daar sal volstruise bly; die stad sal nooit weer bewoon word nie, niemand sal ooit weer daar bly nie.” (Puinhoop)

Kyk gerus self ook na  Openb 18:4  en Jer 51:6 (vlug m.a.w. geen kompromie);  Openb 18:20 en  Jer 51:48 (vreugde oor haar vernietiging). So wie is Babilon? Babel was in die tyd van ou Israel die vervolger en verleier van God se volk.  In lyn met hierdie betekenis :  Babilon in Openbaring is al die vervolgers en verleiers van God se kerk. Die simbool van almal wat deur alle eeue God se volk wou skade aan doen. Ons kan dit dus nie vasmaak aan net een instansie of groep mense nie. Vir die eerste Christene sou dit duidelik gesinspeel het op die mag van die goddelose Romeinse ryk! In die tyd van die Reformasie het die ware kerk die bloeddorstige mag van die Roomse Kerk aan hulle lyf gevoel en daarom het hulle in Babilon ‘n verwysing na hierdie kerk gesien. Deur die eeue heen het die magte wat die kerk vervolg het, verskillende vorme aangeneem en verskillende name gehad. Die punt is net : Laat al God se kinders weet, Hy  sal beslis wraakneem op al die vervolgers van sy kerk, al lyk dit vir ons op hierdie oomblik dat hulle skotvry kom. God self neem wraak op sy tyd. (Vgl. Rom12:19)  Die loflied van die menigte in die hemel besing hierdie oorwinning. Openbaring 19:1-4. Hierdie finale vernietiging van die vyand sal gevolg word deur die Bruilofsfees van die Lam. (19:6-8) 

Die bruid (Jesus se kerk) word gekontrasteer met die prostituut/sedelose vrou,  Babilon! Die sterkste moontlike kontras : die rein heilige bruid van Jesus teenoor die sedelose onheilige prostituut.  Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus  en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb 18:16 met Openb 19:8. Hier in Openbaring 19 stel  Johannes  net die bruid vinnig voor en teken haar dan in detail vanaf Openb 21:9ev. (Sy word daar beskryf as die Nuwe Jerusalem).  ‘n Kontras dus  tussen tussen twee "stede", Babel en Jerusalem! Terloops, hy  gebruik dieselfde werkswyse met die prostituut, hy noem haar vinnig  in Openb 14:8 en gee volle inligting eers in Openb 17:1-6 (Lees) Dis ’n verdere bewys dat Johannes eers  temas kortliks aan die orde stel en dan later  al hoe duideliker uitbeeld - dit gaan nie oor kronologiese voorspellings nie! Dit gaan oor vaste sekerhede wat Openbaring verkondig om God se kinders te bemoedig!

Dalk 'n laaste vragie: Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die mag en wellus van die onheilige prostituut?