BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Anglo-Boere Oorlog. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Anglo-Boere Oorlog. Wys alle plasings

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164

Donderdag 26 Maart 2015

RHODES MUST FALL

- ‘n wekroep wat rooi ligte en dinamietkerse laat flikker!

As Afrikaner het ek beslis geen voorliefde vir en simpatie met Cecil John Rhodes nie. Hy was ‘n uiterste voorbeeld van ‘n politieke knoeier (dink Jameson inval) en kampvegter vir Britse imperialisme. Dis onder hierdie einste imperialisme wat my volk gely en byna doodgebloei het weens die uitwissing van duisende vroue en kinders tydens die Anglo Boereoorlog.

En tog, beide as Afrikaner en Christen voel ek geroepe om te waarsku teen die onverantwoordelike oproepe om die Rhodes standbeeld (en ander soortgelykes) te laat kantel. Die beeld van opgesweepte skares wat standbeelde vernietig herinner aan gewelddadige rewolusies wat tot eindelose smart, chaos, verwoesting en haat gelei het. In ‘n multikulturele en etnies diverse Suidelike – Afrika kan sulke onnadenkende optrede tot uiterste spanning en voortdurende konflik aanleiding gee. En sulke chaotiese politieke en ekonomiese duisternis kan veral ons buurland suid van die Oranje beslis nie bekostig nie! (Eskom sorg reeds vir te veel daarvan...)

Om standbeelde te begin afbreek, skep 'n gevaarlike irrasionele klimaat en teelaarde vir anargie. Dit stuur af op ‘n situasie waar daar nie meer nugter gedink en beredeneer word nie, en baie saamgesleep word op ‘n wilde tog van emosionele aktivisme. ‘n Opruiendheid wat menslike dinamiet genereer, wat iewers gaan ontplof... En waar hou jy op as jy eers begin afbreek? Wie moet val en wie gaan bly staan? Wie gaan regter wees? Ja, Rhodes was ‘n imperialis en onderdrukker, ongetwyfeld. Maar wat van Shaka? Of sommiges dit wil hoor of nie, hy was ‘n geweldenaar wie se optrede die uitwissing van baie stamme tot gevolg gehad het. En ja tog, selfs by beide Rhodes en Shaka kan mens ook baie leer... entrepreneurskap, deursettingsvermoë, strategiese denke...

Nee, kom ons los en respekteer bestaande monumente (straatname, skoolname, dorpsname...) as deel van die geskiedenis. Al is dit nie ‘n geskiedenis wat almal ewe opgewonde maak nie. Kom ons gun dit ook vir mense wat anders voel as ons om nuwes op te rig. Laat ons rustig debatteer oor mense soos Rhodes en Shaka of wie ook al se rol in die geskiedenis. Om standbeelde af te breek gaan nie die foute en onregte waaraan hulle deel gehad het weer regmaak nie. Stukkende standbeelde skep nie welvaart en sakevertroue nie... nog minder versoening en vreedsame naasbestaan. Dis maklik (en benodig nie veel breinkrag nie) om monumente om te gooi en name te verander, maar dit gaan nie werksgeleenthede skep of 'n broodnodige positiewe beleggingsklimaat bevorder nie. Studies, harde werk, integriteit en innoverende denke gaan eerder ‘n land opbou en nuwe geleenthede skep vir almal... Of die betogende en morsende studente wat Rhodes se kop tans eis, hierdie eienskappe vertoon, betwyfel ek...

Nee, wat ouens los die nonsens en keer terug na die boeke en probeer liewers vir julleself 'n werksetiek aanleer... hiervoor sou julle selfs ou Cecil as voorbeeld kon gebruik en dalkies sien julle ook raak dat daar nog baie onontginde diamante in die Afrika bodem wag... vir die wat bereid is om te werk!

Vrydag 01 Junie 2012

MAORI NAGMAAL EN BOERE SMART

- bevrydende krag tot vergifnis.

Wat het ‘n Maori nagmaal ver oor die see in New Zealand en die konsentrasiekamp smarte van die Boere Oorlog hier op eie bodem met mekaar te doen?

Kom ek begin met die merkwaardige berig oor ‘n besondere  nagmaal in New Zealand.  ‘n Juweeltjie wat ek onlangs weer raakgelees het.* Dis Desember 1848 by ‘n plekkie genaamd Putiki op die walle van die Wanganui rivier.  ‘n Groot getal bekeerde Maori’s is saamgetrek om onder andere nagmaal te vier onder leiding van Rev. Richard  Taylor van die Church Missionary Society. Hulle het rivierlangs  met hulle  kano’s gekom.  Sommige uitgedos in tradisionele klere en ander in nuutverworwe Europese drag. Die bediening van die nagmaal is oor twee dae versprei, weens die groot aantal deelnemers. Op die 25ste word die tweede groep bedien. Tydens hierdie diens het ‘n aangrypende gebeurtenis plaasgevind wat die krag van die evangelie sonder twyfel sigbaar gedemonstreer het. Twee Maori hoofmanne was onder die aanwesiges by die tafel van die Here. Een van hulle, Tamati Wiremu Puna van Aramoho het sigbaar gebewe. Na die diens is hy uitgevra oor sy emosie. Hy vertel toe die aangrypende verhaal dat die ander hoofman, Panapa van die Nga-ti-Apa, wat saam met hom was, vantevore sy pa doodgemaak en geëet het! Hy het toe voortgegaan om te sê dat net die evangelie wat hom ‘n nuwe natuur gegee het, kon maak dat hy saam brood kon eet en uit dieselfde beker kon drink as die man wat die moordenaar was van sy eie pa.

Die verbysterende omvang van die pyn en smart wat ons Afrikanervolkie deur die Britte aangedoen is tydens die Anglo-Boere Oorlog het, maak weer opnuut mens se emosie wakker  met die onlangse onthulling dat nie 27 000 van ons volksgenote (soos ons gedink het)  in die Britse konsentrasiekampe gesterf het nie,  maar ‘n angswekkende 34 000.  Die diepte van hierdie onmenslike behandeling word nie net deur koue syfers vertel  nie, maar veral deur die verhale van moeders wat magteloos moes toesien hoe hulle kinders in hierdie haglike kamptoestande onnodig deur siekte, honger  en ontbering uitgewis word.

Van hierdie vertellings is opgeneem in ‘n nuwe boek oor die smartlike euwels van die konsentrasiekampe, “ONTHOU! - Kronieke van vrou - en kinderlyding 1899-1902" saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels.

Magdalena van der Merwe praat oor die dood van haar dogtertjie : 

“Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf...”

Anna Botha van Breipaal, Smithfield, vertel van die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp:

“Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!’ Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. 

“Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ’n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” 

Die verhale van magtelose moeders, die foto’s van uitgeteerde liggaampies, rye en rye name van gestorwe kinders, kleuters, babas... dreig om vals note van verbittering uit jou sielsnare uit te ruk, maar...

...Tamati Wiremu Puna kon die moordenaar Panapa wat sy pa opgeëet het, vergewe,  want daar was ‘n houtkruis met ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het. Dis ook die enigste (maar gelukkig genoegsame) rede waarom ons die Britte kan (en moet) vergewe vir die 34 000! Al is dit bewend en met trane in ons oë, kan ons harte die suiwersoet note van vergifnis uitjubel!

Is daar nog iemand wat jy moet vergewe?

* An Early Communion in New Zealand, Peter Best in The Banner of Truth, January 1996

Maandag 02 Januarie 2012

REDDING VAN REBELLE

- BELEWENISSE VAN GENADE TYDENS DIE BOERE OORLOG!

“To be hanged! To be hanged! To be hanged!” So is baie Kaapse rebelle tydens die Anglo-Boere Oorlog se doodsvonnis met ’n luide stem voor ’n skare op die markplein aangekondig. In die praktyk het die meeste van die Kaapse rebelle egter voor ’n vuurpeleton gesterf. Die lot van hierdie Boerevegters is een van die hartseerste elemente van skreiende onreg wat tydens die Anglo-Boere Oorlog gepleeg is. Van billike verhoor was daar feitlik geen sprake nie en dis duidelik dat hierdie teregstellings se uitsluitlike doel was, om as afskrikmiddel te dien teen die verspreiding van die rebellie in die Kaap. Hierdie lukrake teregstellings het ’n bitterheid en letsel in die Afrikanergemoed tot gevolg gehad wat slegs deur die reaksie op die smarte van vroue en kinders in die konsentrasiekampe oortref word. Hierdie donker geskiedenis het egter ook ’n heerlike ligkant van genade waarvan min mense kennis dra...


In ’n vorige Blogskrywe (WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?) het ons gesien hoedat God soos byvoorbeeld in die geval van Josef, selfs onreg en hartseer kan gebruik om sy heerlike doelwitte te volbring. Dis ’n vertroostende feit dat God die gruwelike onreg wat teenoor Kaapse rebelle gepleeg is, gebruik het om sondaars te red, sodat hulle vir ewig in Sy heerlikheid sou deel! ’n Groot getal van die ter dood veroordeelde Kaapse rebelle het, terwyl hulle gewag het vir die voltrekking van hulle doodsvonnisse, ’n ware ontmoeting met Jesus gehad en volle vrede in Hom gevind. Die wrede afskrikmiddel van die Britse militêre owerhede is deur God as genademiddel tot bekering aangewend. Hiervan vind mens baie duidelike getuienis in die vertellings van predikante en die laaste briewe van die veroordeeldes.


Die 18 jarige Johannes Hermanus Roux het voor die vuurpeleton in Graaff-Reinet gesterf op 7 Oktober 1901. Ds. Charles Murray het hom in die gevangenis besoek en is getref deur die edel en manlike houding van hierdie jong seun. Maar op ’n vraag van die leraar of hy gereed was om God te ontmoet, het hy sonder huiwering geantwoord : “Nee, Meneer, ek is nie gereed om te sterf nie.” Ds. Murray het toe aan hom verduidelik dat al was hy nie ’n “luidrugtige en uitspattige sondaar nie”, hy nie daarmee sy saligheid kan verdien nie. Hy moes ook berou hê oor sy sondes. Daardie nag het dié versie in die seun se gedagtes opgekom : "Ek lê my skuld op Jesus, Die vlekloos Lam van God..." So het Johannes vergifnis ontvang en was hy gereed om Sy Skepper te ontmoet. Hy het ook ds. Murray versoek om ’n brief aan sy ouers te skrywe dat hy vol vrede en vreugde die ewigheid in is.


Johannes het ook as volg aan sy moeder geskryf :


Graaff-Reinet, 6 Oktober 1901

Liefhebbende Moeder!

Ek neem die geleentheid om ’n paar reëls aan u te skrywe slegs om bekend te maak dat ek na my Vaderland gaan. Ek is verhoor en met die dood gevonnis. So, my liewe Moeder, u moet tog nie treurig oor my wees nie. Ek is veilig by die Heer.

Ag, my liewe Moeder, ek het baie na u verlang, maar ek sal maar geduldig dra wat my opgelê is. Ek sal u nooit weer op aarde sien nie. Probeer tog almal om u God te ontmoet.

Ek eindig met die beste groete aan u almal. Ek bly u seun.

Johannes Hermanus Roux


Wilhelm Stephanus Kruger was reeds ’n kind van God toe hy gevang is. Van sy jeug af was hy lief om in die veld te gaan bid. Ds. J.C. Kruger wat hom in die tronk besoek het vertel dat baie kommandolede getuig het dat Wille hulle na die Here gelei het. Willie het ook die voorreg gehad om die evangelie met sukses aan ’n medegegevangene, Dirk Breed wat ook ter dood veroordeel is, te bring.


Die redes vir Kommandant Dirk. C. Breed se teregstelling is baie onduidelik, want hy was ’n gewone Vrystaatse burger en dus nie ’n Kaapse rebel nie. God het egter hierdie onreg gebruik om genadiglik in sy lewe in te gryp. Dis duidelik uit ’n laaste brief wat hy aan sy moeder geskryf het uit die tronk :



Graaff-Reinet, 9 Okt. 1901

Mev W.C. Breed


Waarde en liefhebbende Moeder, Broeders en Zusters,

Dit is met ‘n teer hart wat ek u moet meedeel dat dit nog goed met my gaan en ek wens om dieselfde van u te hoor. Verder, Moeder, ek is hier in die gevangenis.

Geliefde, Moeder, Broers en Susters, u moet tog almal die Here voor oë hou. Soek hom haastig en moet tog nie wag totdat dit te laat is nie.

Moeder, wees getroos. Alles sal reg kom.

Ek moet u meedeel dat die gevangenis my bekeer het van my sondes. Ek voel gelukkig, want ek het God ontmoet. Dit is heerlik om by Hom te wees, want dan voel mens geen swaar nie. Die swaarste straf is niks nie. Die Heer het gesê wie op Hom bou, het op geen sand gebou nie...

Nou moet ek my brief eindig, maar nie my verlangende hart nie.

Met beste groete van u kind,

D.C. Breed



Wille Kruger en Dirk Breed is beide op 17 Oktober 1901 deur ’n vuurpeleton op Cradock die ewigheid ingestuur, maar hulle was gereed!


Daar is nog baie ander verhale van geloofsmoed en genade uit hierdie tydperk van verskrikking. Enkele oomblikke voordat die 16 jarige Johannes Petrus Coetzee op 13 Julie 1901 te Cradock gehang is het hy geprewel : “My Jesus is nou aan my sy.”


Willie Hofmeyer Louw sterf voor ’n vuurpeleton op Colesberg op 23 November 1901. Sy moeder was ’n suster van die bekende dr. Andrew Murray. Sy verhoor was so onregverdig dat Ramsay MacDonald, die latere Britse Eerste Minister daaroor gesê het : “Willie Louw has been shot upon the verdict of a court which did not understand the first elements of justice and had not the faintest idea when a statement was proved.” Maar hoe treffend was die getuienis wat die diep gelowige Willie onder hierdie omstandighede gelewer het! In ’n brief aan sy moeder skryf hy onder meer : “Dit is bepaal dat ek vanmddag sal vertrek. Dit is God se heilige wil. Hy kan geen fout begaan nie.”

Hierdie is maar enkele voorbeelde van die baie gevalle van God se genadewerking te midde van die onregverdige behandeling van die Kaapse rebelle. Mag dit ons help om raak te sien dat God werklik alle omstandighede hoe smartvol of onregverdig kan gebruik om sy genade in lewens te laat deurbreek en so Sy Naam te eer!

 

(Bron : Graham Jooste en Abrie Oosthuizen, SO HET HULLE GESTERF - Gedenkboek van Teregstellings van Kaapse Rebelle en Republikeinse Burgers tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902)









Vrydag 16 Desember 2011

TREUR OOR BETHULIE?

“Die trane loop in strome uit my oë oor die vernietiging van my volk”

Dis die woorde op ’n gedenksteen by die Vrouemonument (Bloemfontein) vir die slagoffers wat in Bethulie se konsentrasie kamp gesterf het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Weet jy waar kom hierdie woorde oorspronklik vandaan en wat was die agtergrond en aanleiding? Dit kom uit die boek Klaagliedere.  Dit verwoord die intense aard van die droefheid wat die profeet Jeremia beleef oor die ellendige toestand van God se volk weens die verwoesting van Jerusalem en die Ballingskap. Op ’n ander plek stel hy dit nog sterker en meer grafies!

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud...”

Hy ervaar ’n diepe rousmart oor die gebrokenheid van God se mense. Is Jeremia reg om so diep bedroef te wees? Oordryf hy nie dalk sy smartgevoelens nie?

Ons assosieer Christenskap normaalweg met vreugde en dis natuurlik heeltemal reg so. Die evangelie is immers ’n blye boodskap en wie nie intens bly is daaroor nie, verstaan dit verkeerd. Maar is treur en hartseer ook deel van die egte Christelike belewenis?

 

Ja, verseker! Jesus sê tog duidelik : “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Die Christen treur in die eerste plek oor sy eie sonde en gebrokenheid. En ja ons word beslis vertroos deur die Heilige Gees se versekering van vergifnis op grond van Jesus se kruisdood! Maar juis hierdie troos wat ons ontvang, bring by ons nog ’n groter hartseer besef van ons verdorwenheid en ondankbaarheid, wat op sy beurt weer ’n diepere belewing van evangeliese troos by ons wek! Genade onbeskryflik groot!

Maar daar is ook ’n ander treur wat gepas is by die Christen. Die treur oor ’n verlore stukkende wêreld wat God en sy genade nie ken nie. ’n Wêreld wat blind is vir Jesus en sy wonderlike boodskap. Jesus self het hieroor getreur. Toe Jesus met sy Intog vir die stad Jerusalem in die oog kry het hy gehuil oor die stad en sy mense. “Ag, as jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek!” Jerusalem het sy genadetyd laat verbygaan en dit het Jesus laat huil.


Waarom het die volk in Jeremia se tyd in soveel ellende beland? En laat ons sommer ook vra : Waarom is die kerk in ons dag in so ’n bedenklike toestand van verval en gebrek aan geloofwaardigheid. Die antwoord kom sommer baie duidelik : “Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou ongeregtigheid nie geopenbaar...nie.” In plaas van die waarheid oor sonde, die noodsaak van bekering en die oordele van God te verkondig het die profete hulle hoorders met mooi woordjies gesus! Goedvoelprekies en rugkloppraatjies! Die geestelike leiers was te bang om Israel se sondes bloot te lê sodat bekering kon plaasvind en die Ballingskap afgeweer kon word! Wat sê dit vir die herders en leraars van ons tyd?

Moet ons nie ook treur oor ons volk en spesifiek oor die toestand van die kerk in ons land nie?

Raak dit jou hart as ons kerke leegloop, as die instelling van die huwelik onder bedreiging is, as misdaad en immoraliteit hoogty vier? Wat voel ons, as ons weer hoor hoe baie jongmense hulle lewens hier in Desember weggooi op Margate en Plettenbergbaai?

Wat staan ons te doen? “Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit en bid om die lewe van jou kinders...”

Die duisende vroue en kindersterftes van die Anglo-Boere Oorlog is ’n pynlike hoofstuk in ons volk se geskiedenis, wat mens altyd weer opnuut hartseer maak! (Gaan lees maar op ’n keer die rye name van babas en kinders wat so nodeloos moes sterf...) Maar die ramp van geestelike moord en uitwissing wat ons volk tans beleef is nog baie erger!

Moet ons treur oor Bethulie? Ja, maar baie meer nog oor ons mense wat afgedwaal het van God en sy toorn vir hulle self op die hals haal! Kom ons buig ons knieë voor God en pleit vir genade!

Skrifgedeeltes : Klaagliedere 3:48; Klaagliedere 2:11; Matteus 5:4; Lukas 19:42; Klaagliedere 2:14,19 (meestal uit OAV)


Die teksverwysing op die gedenksteen is dus foutief. Dit moet Klaagliedere 3 wees en nie 2 nie.

























Terug by Jeremia...