BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Maagdelike geboorte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maagdelike geboorte. Wys alle plasings

Sondag 23 Desember 2018

BY DIE NEDERIGES...

- Kersbome of nie, wat saakmaak is nederige harte wat ontvanklik is vir genade! 


Ouderling Andries Gous het Sondag (2 Desember) ‘n Kersdiens gereël by Oerwoud, ’n hervestigingsnedersetting waar hy gereeld die Woord bedien. Twee ander Boesman “gemeentetjies” het saamgemaak. Die Woord is gebring en geskenke is uitgedeel. Met “die Woord is gebring” bedoel ek nie sommer net ’n kort teksie en vinnige boodskappie nie. Nee! Daar is eers ’n deeglike oorsig oor die heilsgeskiedenis gegee met die hulp van prente (letterlik van Adam en Eva af) en toe is daar uit Matteus onder andere die implikasies van Jesus se maagdelike geboorte verduidelik... en natuurlik ook die belangrikheid om Jesus self, die groot Geskenk van God te aanvaar. 

Die groepie Boesmanmense het hulle eie inisiatief gebruik om ’n Kersboom te versier. Terloops, hulle het ook self ‘n klein sink en skadunet geboutjie opgerig waarin die Woord bedien kan word. Nou weet ek van al die “slim mense” wat weer hierdie tyd van die jaar te kere gaan oor die heidense wortels van Kersfees, kersbome en kersgebruike. Onder hulle is daar ook die Israelvisie ouens wat juis glo dat aan mense soos die Boesmans nie die evangelie behoort gebring te word nie. Allerhande lang bedrieglike redenasies. Ek moet sê, al is ekself nie ‘n aanhanger van kersbome nie, laat mense wat tot satwordens toe oor kersbome kibbel en hare kloof my nogals dink aan die Fariseërs wat verontwaardig was toe Jesus siekes op die sabbat genees het. So vasgevang in feite en vertolkings van feite dat hulle vergeet om die genade raak te sien! Hier tussen die eenvoudige, spontane en vriendelike mense, het ek Goddelike genade raakgesien en maar net gedink aan die woorde in Jesaja 57:15 wat sê : “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees,...” 

God was hier teenwoordig in die warm somerhitte van Noord Namibië, hier by die geringes en nederiges. En Hy praat met hulle deur sy Gees. Twee paartjies het later vir Andries ‘n aanduiding gegee dat hulle wil trou omdat dit nie reg is om so saam te bly nie... Ja, die Here is vandag nog besig met die nederiges en geringes. Jesus is self immers in ‘n stal gebore...






Hoe moet mens Kersfees vier? Kliek op SOOS SAGGEUS

Dinsdag 24 Desember 2013

MEER AS NET ‘N MENS

- maak dit saak of jy in die maagdelike geboorte glo?

In sekere kringe is daar ‘n al hoe meer sigbare en hoorbare eensydige beklemtoning van Jesus se mensheid, wat uiteindelik lei tot die totale verwerping van sy unieke Godheid. Dit blyk of die bewonderaars van Marcus Borg en die aanhangers van Andries van Aarde, Jesus maar min of meer beskou as ‘n besonder goeie mens met ‘n wye invloed... bloot ‘n rolmodel wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het. Erger nog, so stil-stil en bykans ongemerk het hierdie verderflike invloed deurgesuur ook na die predikantekorps van ons kerke en het kernleerstellinge van die historiese Christelike geloof soos die maagdelike geboorte, die unieke plaasvervangende sterwe en die liggaamlike opstanding van Jesus in die slag gebly. Dan verstaan mens waarom die kerk so kragteloos is, sendingywer getaan het of dikwels waar dit nog funksioneer gereduseer is tot blote armoedeverligting. 



Is dit moontlik om vandag nog in so iets soos ‘n maagdelike geboorte (streng gesproke ‘n maagdelike konsepsie) te glo?