BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 04 Junie 2022

EENSAAM?




Kind van God hier is vir jou 'n baie bevrydende waarheid!

Eensaamheid is ‘n baie ernstige en algemene probleem. Dit raak eintlik maar alle mense – ons dink dalk dadelik aan ongetroudes, maar dit raak baie beslis ook getroudes (dikwels is hulle die eensaamste van almal...), kinders, grootmense, bejaardes… ja, ook kinders van God. Die kind van God is in ‘n sekere sin meer uitgelewer aan alleenheid as ander mense

Ek bedoel, sedert jou bekering (en ek hoop werklik jy het al tot bekering gekom) ondervind jy teenstand van eie familie en naasbestaandes.  Jou vorige vriende  isoleer jou. (hulle wat voorheen saam met jou gedrink en vuil grappe vertel het.... Want jy is mos nou anders, jy neem ongewilde besluite, jy het nuwe belangstellings en jy swem teen die stroom van die wêreld in. Spesifiek na jou kom hierdie troosboodskap : 

Kind van God, jy is nie regtig alleen nie en jy hoef nooit eensaam te wees nie.

Regtig? Wel dis die duidelike implikasie van God se beloftes, maar spesifiek van Jesus se kragtige uitspraak in Johannes 14:23.




Die teenoorgestelde van eensaamheid is gemeenskap. LW- nie net saamwees nie. Gemeenskap (fellowship) ets baie meer as saamwees. ‘n Mens kan steeds eensaam wees tussen ‘n klomp mense, dalk juis… as daar nie ware en egte gemeenskap is nie. Saamwees verhoed nie noodwendig eensaamheid nie. Eensaamheid verdwyn eers as daar ware gemeenskap is. 



Wat is ware egte gemeenskap? Om die heerlikheid en diepte daarvan te begryp moet ons by God begin. Die Drie – enige God! Die diepste en mees verhewe vorm gemeenskap – ‘n diep innige egte verhouding van volmaakte liefde en wedersydse respek vind ons binne in God Drie-enig. Tussen Vader, Seun en Heilige Gees. God is in Homself in ‘n volmaakte gemeenskap. Volmaakte harmonie. Dis ‘n waarheid wat mens nie noodwendig in een teks kry nie, maar iets wat deurlopend in die Johannes evangelie na vore kom. Dit word duidelik geïllustreer deur die werkswyse en woorde van Jesus. Net ‘n paar voorbeelde : 



Jesus se woorde is die woorde van die Vader! Hy het nie sy eie onafhanklike agenda nie! Kyk ook na   Johannes 5:19-23,26-27; 8:54-55; 10:17,18; 11:41,42; 12:48-50; 14:8-10; 16:13-15 

Ons fokus nou op die werk van die Heilige Gees... Die Heilige Gees laat die volheid, die volle liefde en troos van die Vader en die Seun voelbaar/werklikheid word in ons harte. Die Heilige Gees binne ons is die bewys dat God in ons woon! – 1 Johannes 4:13. 



Onthou - Vader, Seun en Heilige Gees is nie in kompetisie met mekaar nie, maar is ‘n diep innige eenheid en SAMEWERKING van ware gemeenskap. Ons sien dit in God se reddingswerk… Die Vader besluit om ons te red en stuur sy Seun, die Seun Jesus bewerk ons verlossing aan die kruis, die Heilige Gees maak dit ‘n werklikheid in ons harte deur geloof en bekering!

En nou is dit so wonderlik – ons as kinders van God word deel gemaak en ingetrek in hierdie binnekring van gemeenskap. God kom woon by ons! Heerliker kan dit nie gestel word nie. God Drie-enig kuier nie net af en toe by jou nie… Hy kom woon by jou! Dis die heerlike en verbysterende waarheid van Johannes 14:23 Beleef ek en jy dit prakties? Of is dit net mooi teorie?

VOORWAARDE

Hoe gaan ons hierdie gemeenskap prakties beleef? Daar is ‘n voorwaarde. Kyk weer na vers 23 – “om Jesus se woorde ter harte te neem” – om Jesus ernstig op te vat m.a.w. gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid bevorder gemeenskap. Ongehoorsaamheid verbreek gemeenskap. (ongehoorsame kinders van God beleef ongelukkigheid en eensaamheid) Gehoorsaamheid en geloof gaan onlosmaaklik saam. Alle sonde is ongehoorsaamheid! Dis hier waar die groot probleem kom – ons is blind, hardkoppig, bang... blind vir die feit van sonde in ons lewens, hardkoppig om afstand te doen daarvan..., bang om te erken en te bely...bang wat mense sal sê...

Dis 'n vaste waarheid - Waar ons erns maak met gehoorsaamheid, beleef ons gemeenskap – met God en met mekaar!


GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES

Belangrik. Ons word ingetrek in hierdie heilige innige gemeenskap, nie net as enkelinge nie maar saam in gemeenskap en eenheid met ander gelowiges. Dit kom pragtig na vore in Jesus se aangrypende hoëpriesterlike gebed in Johannes hoofstuk 17.  Lees gerus 17:20-24 




Saam in God!!! Hoe gebeur dit prakties? Die Heilige Gees woon in elke kind van God. Dis hoe ons gemeenskap met die Vader en die Seun binne in ons beleef – en ook in ander in wie dieselfde Gees woon. Ja, ten spyte van al die woelinge en teenstand, vervolging, onreg in die wêreld. Dis die heerlike versekering wat elke kind van God kan glo...

Natuurlik is hierdie gemeenskap op aarde nog nie volmaak nie – dit word telkens deur sonde versteur, maar dit word ook weer en weer deur belydenis en vergifnis herstel! Volle gemeenskap met God is beskikbaar! Ons verbreek dit… Ons is verantwoordelik vir ons eie eensaamheid!

Maar eendag sal daar geen sonde en gebrokenheid wees nie. Daar wag nog ‘n volmaakte gemeenskap vir elke kind van God.




Kinders van God sal weens ‘n verskeidenheid van redes alleen voel… maar ons hoef nooit alleen nie en hoef nooit eensaam te wees nie! Hierdie troos vloei voort vanuit die waarheid van die Drie-eenheid van God. Dis trouens die kernwaarheid van die geloof. Ons praat van ‘n Trinitariese geloof. Mag ons groot vreugde en vervulling vind in die gemeenskap met die Drie-enige God saam met medegelowiges. 

Om na die boodskap te luister op YouTube kliek op EENSAAM?