BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Stellenbosch. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Stellenbosch. Wys alle plasings

Vrydag 16 April 2021

Stellenbosch legitimasie?

Moenie jellievisse wees nie!`



Dis hartseer en pynlik maar ek moet dit sê. Die dwaling en godslastering in die NGK gaan van erg na erger.  Altyd nog 'n stappie verder... As ons as gewone predikante en lidmate dit nie gaan uitskreeu nie, gaan die klippe dit uitroep. Die leiers is oorverdowend stil... 

Ons steier nog onder die goddelose besluit van die AS 2019 om selfdegeslagverbintenisse kerklik te seën. Dis ‘n gruwel. Hier in Namibië was en is daar sterk reaksie hierteen onder die vaandel van Sola Scriptura. (kliek op Namibië staan op) 'n Groot aantal Woordbedienaars het dit onderteken. Dis onbegryplik dat ons amptelike orgaan die FELDMUIS hierdie stem probeer doodsmoor het...

Nou kom daar nog verdere vrot vrugte van ons liberale teologiese fakulteite na vore. Hierdie fakulteite het onheilsneste geword van liberale teologie, "emerging church" dwaling en radikale feminisme. Dit plaas ons geliefde kerk op ‘n onkeerbare glybaan van weersinwekkende heidendom! Luister, kyk en besluit self!

Kliek op GRUWEL


Dinsdag 22 September 2015

PIENK STELLENBOSCH?


Volgens die aanvullende Agenda van die NG Kerk se Algemene Sinode wat in Oktober sit, gaan die volgende beskrywingspunt voor die sinode dien:

[B.15 SELIBAATVOORWAARDE (BESLUIT 7 VAN 2007) EN MENSWAARDIGHEID VAN HOMOSEKSUELE AFGESTUDEERDES (KURATORIUM STELLENBOSCH) (Soos eenparig ondersteun deur die NG Kerk-dosenteraad) 

BESKRYWINGSPUNT 1. INLEIDING Ons het kennis geneem van die besluite wat in die afgelope jare deur die NG Kerk se Algemene Sinode geneem is (2007, 2013) insake die kwessie van die status van homoseksuele lidmate binne die NG Kerk, asook oor verbintenisse tussen homoseksuele lidmate. Ons is dankbaar dat die NG Kerk volledig ruimte gemaak het vir homoseksuele lidmate in terme van lidmaatskap en met betrekking tot die ampte (Besluit 3 van 2007), en dat die status van homoseksuele lidmate – soos dié van heteroseksuele lidmate – binne die raamwerk van ʼn Bybelse siening oor menswaardigheid gedefinieer word (Besluit 2 van 2007; Besluit 3.4 van 2013). Sommige van ons lede (vanuit die Kuratorium, maar ook vanuit die geledere van die NG Dosenteraad) het deur middel van mondelinge en skriftelike insette (onder andere deur Bybelwetenskaplike publikasies waarin die Bybeltekste wat normaalweg in die gesprek genoem word, ondersoek en uitgelê is) deelgeneem aan die prosesse en ondersoeke wat tot hierdie besluite gelei het. Ons voel onsself egter geroepe om deur hierdie beskrywingspunt standpunt in te neem teen teenstrydighede in die vorige besluite wat die diepste menswees van die studente wat ons oplei en toelaat, raak, en wat getuig van inkonsekwente hermeneutiese omgang met die Bybel. Ons doen dit vanuit die perspektief dat die Kuratorium (soos ook die NG Kerk-dosenteraad) ten nouste betrokke is by teologiese opleiding van voorgenome NG Kerk-predikante, en dat ons intens bewus is van die spannings wat tans heers in die uitvoering van die vorige besluite (deurdat gay persone in vaste verhoudings gelegitimeer kan word, maar nie georden kan word in ʼn gemeente nie). Ons stel dus die beskrywingspunt aan die Sinode, veral omdat ons direk met teologiese opleiding en begeleiding, en die lewering van afgestudeerde predikante aan die NG Kerk te make het. Trouens, ons doen hierdie werk juis omdat die NG Kerk aan ons hierdie opdrag gegee het. Ons glo dus dat die Algemene Sinode van die NG Kerk ons voorstelle by die eersvolgende vergadering biddend sal oorweeg. Ons is oortuig dat die NG Kerk sommige aspekte van die vorige besluite moet heroorweeg – nie slegs weens praktiese oorwegings soos toelating tot die bediening en ordening van afgestudeerdes in gemeentes nie – maar veral op grond van die feit dat die menswaardigheid van homoseksuele afgestudeerdes deur die stel van die selibaatvoorwaarde (Besluit 7 van 2007) in gedrang kom, en dat die geldende besluite nie Bybels-hermeneuties verantwoordbaar is nie. Ons vertrou dat die Algemene Sinode binne die Seisoen vir Menswaardigheid en in ʼn soeke na ʼn verantwoordelike Bybelse hermeneutiek ons voorstelle gunstig sal aanhoor en biddend sal oorweeg.

 2. AANBEVELINGS 2.1 Dat die addisionele voorwaarde van die selibaat (addisioneel tot die voorwaardes wat aan heteroseksuele afgestudeerdes gestel word) as kwalifikasie vir ordening en bediening in ʼn 99 gemeentelike konteks, geskrap sal word en dat Besluit 7 van 2007 daarom gewysig word om soos volg te lees: “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode.” 2.2 Dat Besluit 4 van 2007 vervang word met die volgende bewoording: “Die NG Kerk gee amptelike erkenning aan die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ʼn durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig, en dat hierdie verbintenisse met die seën van die NG Kerk kan geskied.” 

3. MOTIVERINGS (verwysend na bg voorstelle) 3.1 Op grond van ʼn Bybelse siening van menswaardigheid vind ons dit onvanpas dat homoseksuele afgestudeerdes in teologie wat gelegitimeer word ʼn onderneming van die selibaat moet gee alvorens hulle tot gemeentebediening toegelaat kan word. Nie net skep dit ʼn onhoudbare praktiese spanning wanneer homoseksuele persone sonder verdere voorwaardes gelegitimeer kan word, maar dan nie georden kan word sonder die selibaatverbintenis nie, maar hierdie praktyk misken ook die menswaardigheid van homoseksuele persone deurdat dit addisionele voorwaardes aan hulle stel as aan heteroseksuele afgestudeerdes. Dit misken dus ook hul Godgegewe seksualiteit (soos erken in vorige besluite van die NG Kerk). Die stel van die selibaatsvoorwaarde berus voorts op twyfelagtige Bybelse hermeneutiek waar Bybelse gronde die legitimasie van gays in verhoudings toelaat, maar nie ordening in gemeentes nie. Binne die Gereformeerde Protestantse tradisie (anders as in die Rooms-Katolieke tradisie) is die Bybelse aanduidings rondom die selibaat (vir ampsdraers) oor eeue reeds kultureel geïnterpreteer, en word die selibaat nie aan bedienaars voorgeskryf nie. Dit val dus vreemd op dat dieselfde hermeneutiek nie ook gebruik word wanneer dit oor homoseksuele bedienaars handel nie. 3.2 Terwyl erkenning gegee word aan die seksuele oriëntasie van homoseksuele lidmate en die standpunt gehuldig word dat sulke lidmate nie van enige lidmaatskapvoorregte en van die ampte uitgesluit kan word nie, gee die NG Kerk deur die geldende besluit tans nie erkenning aan die feit dat gelowige homoseksuele lidmate – soos gelowige heteroseksuele lidmate – behoefte mag hê om ʼn belofte van liefde en trou voor die Here te maak en hul verbintenis met die seën van die Here te laat bevestig nie. Dit staan dus in spanning met die erkenning van homoseksuele lidmate se seksuele oriëntasie en menswaardigheid. Ten diepste spruit die stel van die selibaatvoorwaarde vir homoseksuele bedienaars uit die NG Kerk se huidige verstaan van die huwelik as ʼn verbintenis tussen een man en een vrou. Daar word onses insiens nie erkenning gegee aan die volgende feite nie: dat (i) die Bybel verskillende kultureel-bepaalde huweliksmodelle weerspieël (vgl bv die verskillende modelle wat in die OT en NT voorkom – verskille wat herlei kan word na die onderskeidelike sosio-kulturele agtergronde waarin hierdie geskrifte ontstaan het); en dat (ii) die Bybelse voorstellings oor die huwelik bepaal is deur ʼn heteronormatiewe samelewing (wat nie daarom homoseksuele verbintenisse per implikasie uitsluit nie).]

Die implikasies van so 'n besluit indien die aanbevelings aanvaar word, sou skrikwekkend wees!

Dit sou beteken dat:
  • Praktiserende homoseksueles predikante in die NG Kerk mag word.
  • Die wese en uniekheid van die huwelik aangetas word as homoseksuele burgerlike verbintenisse kerklik geseën word.

'n Mens kan maar net bid en vertrou dat die AS die aanbevelings van hierdie beskrywingspunt sal verwerp.
'n Mens kan maar net wonder wat die toekoms van ons dierbare kerk gaan wees as die dosente van Stellenbosch wat ons jong leraars moet vorm en lei, hierdie invloede aan hulle studente oordra?
'n Mens moet seker vra of sulke instellings wat blykbaar nie meer buig voor die waarheid van God se Woord nie, nog hoegenaamd op Bybelgetroue lidmate se ondersteuning kan aanspraak maak?

Ons mag nie stilbly oor wat besig is om in ons kerk te gebeur nie. Om stil te bly is gelykstaande aan stilswyende goedkeuring! Met my hele hart wil ek beklemtoon dat dit ons eerste passie en taak moet wees om aan alle mense die evangelie te verkondig en tog kom daar tye wanneer ons moet waarsku teen immoraliteit juis om getrou te bly aan die ware geloof wat eenmaal oorgelewer is! (Judas vers 3,4)


Gaan ons staande bly teen bogenoemde propaganda?

NS Die Aanvullende Agenda van die AS 2015 waarin bogenoemde Beskrywingspunt B15 voorkom kan geraadpleeg word by AANVULLENDE AGENDA (kliek)