BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 21 Maart 2022

Leef selibaat!

 - uitdaging aan Christene in 'n seksmal wêreld.

By die sinode van die NGKN waartydens daar sterk standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NG Kerk ingeneem is, het daar ook 'n besonder positiewe en uitdagende dokument ter tafel gekom. Dis deur die sinode aanvaar as 'n werksdokument. Moet dit dus nie probeer lees as 'n afgeronde studiestuk nie, maar as 'n voorlopige poging om rigting te gee. Dit help tog nie dat ons net selfdegeslagverhoudings en promiskuïteit in die algemeen afkeur nie - ons moet ook 'n navolgingswaardige ideaal voorhou!

Hieronder vind jy die dokument soos aangebied deur Dr. De Wet Strauss :


1.    Om selibaat te leef – Bondige getuienis van die Ned Geref Kerk in Namibië

 

1.1   Die kerk glo die plaaslike geloofsgemeenskap is die geloofsfamilie en tuiste vir veral ook persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en selibaatskap leef.

 

1.2   Die kerk is oortuig dat ‘n lewe van selibaatskap vervullend en die moeite werd is vir persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en sodoende afstand doen van die voorreg van seksuele intimiteit.

 

1.3   Die kerk glo dat die Skrif beide die huwelik tussen man en vrou en die gawe van enkelingskap (selibaatskap) aanbied as gawes en voorregte, en dat Paulus homself voorhou as navolgingswaardige voorbeeld wanneer hy skryf: Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry” (1 Kor 7:7 Die Boodskap).

 

1.4   Die kerk glo dat die Skrif nie ‘n bepaalde lewe ten opsigte van kameraadskap en seksuele intimiteit aan persone opdring nie, maar duidelik en prakties is wanneer Paulus skryf: Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk… Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help” (1 Kor 7:32 + 35 Die Boodskap).

 

1.5   Die kerk het ‘n lang geskiedenis van betekenisvolle en inspirerende bydraes in die uitleef van die evangelie deur persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het.   

 

1.6   Persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het was van die begin af ‘n eerbare werklikheid in die kerk.

 

1.7   Die keuse om selibaat te leef, was in sekere stadiums van die kerk se geskiedenis - meer as ander - beskou as ‘n besondere uitdrukking van geloof wat getuig daarvan dat nie die biologiese familiebande nie - maar die geloofsgemeenskap van die kerk die enigste toekomstige en ewige waarborg van lewe bied.

 

1.8   Naas die apostel Paulus, is ook Jesus vir ons iemand wat in sy aardse lewe hom nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het, sodat ons Hom kan navolg die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Hebr 12:1-2 Afr 83).

 

1.9   Terwyl die kerk die evangeliese leefwyse van selibaatskap beklemtoon, wil die kerk nie ontken dat hierdie wyse van lewe sonder uitdaging en spanning is nie.

 

1.10         Met ‘n lewe van toewyding en selibaatskap getuig die kerk dat, alhoewel die seksuele intimiteit van die huwelik goed en besonders is, die toewyding aan ‘n lewe van geloof en navolging van Christus alles oortref in waarde en daarom vir sommige die moeite werd is om seksuele intimiteit prys te gee tydens hulle aardse lewe.

 

1.11         Die kerk moedig persone aan wat enkellopend is – veral ook persone wat mag aangetrokke voel tot ander van dieselfde geslag – die eerbare keuse te maak om ‘n geloofwaardige voorbeeld en inspirasie te wees wat betref ‘n lewe van selibaatskap.

 

1.12         Die kerk doen ‘n beroep op gemeentes en ander geloofsgemeenskappe om die Christelike gawe van selibaatskap te omhels, te vier en te fasiliteer in hulle onderskeie gemeenskappe.


My opmerkings :

Dis duidelik dat daar in ons protestantse kerke 'n gebrek is om die belangrikheid van selibaatskap as 'n werkbare en eerbare vrywillige alternatief aan gelowiges voor te hou. Nou wonder ek maar net - is dit nie onder andere omdat ons uit oorreaksie teen Rome, te min maak van die die Heilige Maagd Maria nie? Het ons haar nagedagtenis en voorbeeld nie erg afgeskeep nie?

Kliek vir 'n baie insiggewende artikel oor MARIA - ark van die nuwe verbond






DEURBRAAK BY SINODE

Die sinode van die NGK in Namibië het op haar vergadering van 17-19 Maart 2022 te Windhoek wat gehou is in die NGK Pionierspark 'n baie drastiese besluit aanvaar. Dit kom neer op 'n baie duidelike standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NGK, terwyl daar gepoog word om nog 'n geleentheid tot bekering te gee.



VOORSTEL

Die voorstel wat met 'n groot meerderheid (70-14) aanvaar is lui as volg

T.o.v. die Sinode se handeling i.t.v. Kerkorde Artikel 37 (losmaking van die Algemene Sinode), word die volgende besluit:

1. Die Sinode maak sy voorneme bekend om die Jesus-pad van Matteus 18:15-20 met die Algemene Sinode end-uit te stap tot die mate dat uit die band met die Algemene Sinode getree word op grond van Artikel 37. Die nuwe moderamen ontvang die opdrag om hierdie voorneme aan die ASM te kommunikeer. 

2. Om so ‘n stap voor God in die lig van sy Woord te regverdig op grond van: 

2.1 die teleurstelling in die Algemene Sinode 2019 se besluit oor Selfdegeslagverhoudings; 

2.2 die onvoldoende kerklike opsig en tug van die Algemene Sinode ten opsigte van teologiese opleiding aan NG Kerk geakkrediteerde opleidingsinstellings; 

2.3 die gevolglike wantroue wat die verhouding met die Algemene Sinode kenmerk. 

3. Nooi die ander deelnemende Streeksinodes uit om saam met die Namibiese sinode hierdie pad van kerklike dissipline met die Algemene Sinode te stap en hulle op te roep tot ‘n berouvolle en hartgrondige bekering. 

4. Die Algemene Sinode word gevra om skriftelik hierop te antwoord. 

5. Stel die volgende dokumente voor as getuienis en werksdokumente vir die Jesus-pad van Matteus 18 met die Algemene Sinode: 

5.1 Namibiese Sinode Getuienis oor Selfde Geslagverhoudings (2016); 

5.2 Namibiese Sinode Getuienis oor Skrifinterpretasie en -gesag (2016); 

5.3 Besluit van Namibiese Taakspan Teologiese Vorming t o v dosente en fasiliteerders aan opleidingsinstellings (2022). 

6. Die besluit word van krag wanneer die volgende prosesse - nie later as einde November 2022 - afgehandel is: 

6.1 Uitklaring van regskwessies rakende artikel 37 

6.2 Uitklaring rakende ‘n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NGK 

6.3 Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding. 

6.4 Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf AS 

6.5 Deeglike kommunikasie met gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse. 

7. ‘n Ad-hoc taakspan in samewerking met die Moderamen rapporteer by wyse van ‘n verslag, wat teen einde November 2022 voor die Namibiese moderamen dien, dat bogenoemde prosesse afgehandel is en met verdere proses-voorstelle. 8. Hierdie taakspan sal bestaan uit die volgende lede: Dubois du Toit, De Wet Strauss, Willem Burger, Kenneth McKenzie, Zack Pienaar, Christo van Heerden en twee addisionele lede van die nuut-verkose Moderamen.

PERSVERKLARING

Na die vergadering is daar ook 'n persverklaring uitgereik, wat die besluit soos volg verduidelik :

Namibiese sinode Persverklaring insake Artikel 37 voorneme: 

Die Namibiese sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die Algemene Sinode te stap soos uitgespel in Jesus se woorde in Matteus 18:15-17. 

Die Namibiese sinode oordeel dat die Algemene Sinode nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie. 

Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak. In kerkorde taal word daarna verwys as die Artikel 37-proses. 

Die Namibiese Sinode wys veral op die besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die fakulteite wat die kerk toenemend vervreem. 

Die Namibiese Sinode sal in die komende maande hulle NG gemeentes betrek en toelig in die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende optrede tot gevolg het. 

Namibië vertrou dat die Algemene Sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom. 

Die Namibiese Sinode nooi ook ander streeksinodes uit om deel te neem aan hierdie proses en ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode.

OPMERKINGS (myne)

Dis 'n geweldige deurbraak waarvoor ons inderdaad God alleen voor dankbaar moet wees. Vir die eerste keer in 'n lang tyd kan gelowiges moed skep uit 'n besluit wat 'n sinode geneem het om op te staan teen dwaling en misleiding. Dit het harde werk gekos (baie dankie Dubois du Toit), maar daar was baie gebede. Die besluit is geneem eers na 'n lang en baie taai debat. So 'n groot meerderheid is beslis nie verwag nie.Tog moet ons ook besef dat die eintlike harde werk nou voorlê en dat die taakspan wat hiermee gemoeid gaan wees ons VOORBIDDING uiters nodig gaan hê. Die duiwel is uiteraard nie gelukkig met hierdie sterk evangeliese besluit nie - hy gaan hard brul en onmin probeer saai!


Belangrike dokument - daar is ook 'n andere besondere dokument op die sinode as werksdokument aanvaar. Kliek op SELIBAATSKAP



Donderdag 03 Maart 2022

GAAN ONS LUISTER NA DIE GEES?

- dis 'n saak van erns! (maak jou Bybel oop)

Verlede jaar het ons, hier in die NGK Tsumeb (dolerend) vir sewe weke saam gekyk na die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes in OPENBARING 2,3. Hopelik het dit ons diep laat nadink. Hopelik gaan dit daartoe lei dat ons dinge anders gaan DOEN in ons gemeente. Ons gaan nou net so bietjie oorsigtelik kyk na die sewe briewe se kern punte.

Dis ’n saak van erns. Aan die einde van elke brief lees ons telkens - “Laat die wat ore het luister na wat die GEES aan die gemeentes sê” (2:29 ens) Baie insiggewend, die Heilige Gees praat met ons deur die Woord. Hierdie Woord wat ons in ons hande het, wat ons nou hoor! Dis die stem van die Heilige Gees van God! Dis nie maar ‘n menslike opinie nie. Wee, ons as ons dit ignoreer!

Wat is die boodskap wat Jesus deur die Woord en die Gees aan ons bring? Eerstens. Jesus weet als van ons... Dis 'n deurlopende waarheid en tema. 'n Refrein deur die briewe…“Ek ken julle...” Jesus weet van die goeie dinge, maar ook van die slegtes. Hy sien en weet wat mense nie sien en weet nie. Hy is immers die Oorwinnaar Verlosser wat tussen die staanlampe (gemeentes) wandel… ons is sy eiendom. Ons moet sy opinie en opdragte ernstig opvat.

Jesus prys sy gemeentes en moedig hulle aan. Die dinge wat uitstaan waarvan Hy hou kry ons byv 2:2,3; 2:13; 2:19. Belangrik -Jesus kyk anders as mense. Vir ‘n gemeente wat arm is, prys Hy dat hulle eintlik ryk is. 

Hoor wat skryf Hy vir Smirna- 2:9 Hulle besit ware evangelierykdom al is hulle materiaal maar sleg daaraan toe. Terloops, Hy raas met nie een gemeente oor hulle lidmaatsgetalle of hulle geld te min is nie! (Oeps,... is dit nie die eerste dinge waaroor ’n kerkraad bekommerd raak nie?) Aan die anderkant is die gemeente van Laodisea ryk, maar eintlik is hulle geestelik bankrot. 3:17,18 Die ergste is, hierdie geestelik bankrot gemeente besef dit nie eers nie, hulle is selfvoldaan en heeltemal gelukkig met hulle self. Weereens Jesus kyk anders as ons. Ons kry dit ook in die brief aan die gemeente van Filadelfia (3:8b) Dit lyk maar na ‘n swak en onbeduidende gemeentetjie, maar eintlik is hulle sterk en word hulle geprys vir hulle volharding.




Jesus vermaan en waarsku sy gemeentes baie ernstig. Dis soms baie kras en kru. (2:4,5) Hierdie gemeente van Efese het wonderlike volharding en liefde vir die waarheid betoon, maar hulle het afgekoel in hulle persoonlike liefde vir Jesus. Hulle het die regte dinge gedoen, maar daardie eerste opgewondenheid oor Jesus was nie meer daar nie! Gevolge… skrikwekkend! Een van die verwyte wat telkens na die gemeentes kom is dat hulle dwalinge en losbandige gedrag in hulle eie geledere toelaat. 

Let op – Jesus raas nie oor die boosheid en goddeloosheid wat rondom hulle in die wêreld aangaan nie, Hy betig hulle oor die slegte dinge wat binne die kerk toegelaat het. (2:14; 2:20) Die probleem is dat daar nie meer dissipline en tug binne die gemeentes toegepas word nie. Almal word maar toegelaat om te leef soos hulle wil. Is dit nie baie aktueel nie? Een van die ergste beskuldigings teen ‘n gemeente kry ons in die brief aan Sardis. (3:1b) ‘n Aktiewe gemeente met ‘n goeie naam, maar in Jesus se oë is hulle dood!

Belangrik. Wat is die doel van Jesus se waarskuwings en bestraffings? 

Jesus se motief is liefde en sy doelwit is bekering!  



(Ook wanneer ons dit nodig vind om ander aan te spreek moet dit ons motief en doelwit wees!) Hoor ons – mense binne die kerk word opgeroep tot BEKERING. Waaroor gaan hierdie bekering? Dit gaan oor ‘n terugkeer na Jesus self. Om Hom weer lief te hê, om kerk te wees uit liefde vir Hom. (2:4,5) Dis erg – ‘n gemeente wat steeds aktief is en by die waarheid staan, maar wat nie meer opgewonde oor Jesus is nie. Maar daar is nog erger toestande van verval- soos wat in Laodisea gebeur het - dat ‘n gemeente van Jesus in so ‘n toestand van selftevredenheid kan verval dat Jesus eintlik buite staan. Dink daaraan – ‘n gemeente van Jesus, maar daar is nie meer plek vir Hom nie. Jesus staan buite sy eie gemeente. En tog – Jesus het selfs hierdie gemeente nie afgeskryf nie, maar nooi hulle uit om weer die gemeenskap met Hom te herstel – 3:20. 




Terloops, in hierdie sewe briewe kom ‘n baie belangrike waarheid na vore – nêrens en nooit roep Jesus lidmate op om hulle van ‘n dooie of vervalle gemeente af te skei nie. Ja, jy hoor reg – nêrens nie! Die opsie van afskeiding van ‘n gemeente – en onthou in sommige van hierdie gemeentes soos Sardis en Laodisea het dit beroerd sleg gegaan – word nie eens as ‘n uiterste alternatief genoem nie! Nee, die gemeente word tot bekering en vernuwing opgeroep! Die probleme, sonde, doodsheid en louheid moet binne in die gemeente reggemaak word.

Waarom is bekering en volharding so belangrik? Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Telkens word daar die heerlikste Goddelike beloftes gemaak aan wie oorwin! (2:7b; 3:21) Ja, God se mense is in ‘n stryd betrokke. Daar is geen maklike pad na die nuwe Jerusalem nie. Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Daar is ‘n heerlike ewige beloning vir die oorwinnaars. Ons mag dit nie misloop nie. Daarom moet ons die boodskap van Jesus aan sy gemeentes ernstig opneem, ons bekeer van alles waarvan Hy nie hou nie en volhard te midde van versoekings en swaarkry. (3:11) 

Ons moet mooi luister en vinnig reageer… Dit het baie laat geword! Jesus se koms is naby. Gaan ons luister na die Gees…?