BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gemaksones. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gemaksones. Wys alle plasings

Saterdag 03 Oktober 2015

SUIWERING BY SARFAT

- voorberei vir die krisis van Karmel!


Ons het gesien hoe God vir Elia in die VELDSKOOL gesit het by die Spruit Krit. (1 Konings 17) Daar moes Hy vertroue, afhanklikheid van God en gehoorsaamheid leer. Dis nog steeds God se manier om elkeen van sy kinders te leer : God haal ons uit ons gemaksones en plaas ons in moeilike omstandighede om vir ons geloofslesse te leer.

Die spruit het nou opgedroog, so Elia kry nou sy volgende opdrag in sy veldskoolopleiding.

“Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: "Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg." (8,9)

PASOP VIR PANIEK!

Dis belangrik om raak te sien. Elia tree nie paniekerig op en maak sy eie halsoorkop planne toe die spruit opdroog nie. Hy beweeg eers toe God ‘n duidelike opdrag gee. Dis ‘n groot gevaar dat ons paniekerig en impulsief sal optree. Soveel het al in die verlede hier uit die bus geval. Dink maar aan : Abram (Hy val vir die plan om by Hagar ‘n kind te verwek toe dit lyk of God se belofte oor ‘n nageslag nie waar wil word nie), Moses (hy raak ongeduldig en slaan die rots), Saul (hy word paniekerig toe Saul nie betyds opdaag nie en doen die sonde om self ‘n offer te bring)

In ‘n krisis gryp mense graag na enige strooihalm en doen dan dinge wat teen God se wil is: Sommige val vas in finansiële moeilikheid en raak dan betrokke in oneerlike of twyfelagtige besigheid, ander beland in een of ander penarie en lieg en bedrieg om daaruit te kom, dit gebeur ook dat party mense tydens ernstige siekte of ‘n ander krisis so desperaat raak en dan selfs hulp gaan soek in okkultiese praktyke soos sangomas of spiritiste (kliek op DOF SOOS DIE DOOD), vir nog ander raak die eensaamheid so erg dat hulle hulself in ‘n vinnige huwelik of buite-egtelike verhouding begewe wat uiteindelik net tot nog groter smart en ellende lei! Wees waaksaam! Neem alle besluite volgens die beginsels van die Woord!

GOD HET JOU NIE VERGEET NIE

God het nie sy kneg by die spruit vergeet nie, al sou dit so kon lyk. (en al het dit dalk al vir ons ook so gevoel)  Onthou Hy is besig met Elia in sy veldskool. Hy stuur Elia na Sarfat. Die naam hou verband met suiwering en inderdaad sou dit die plek wees waar Elia gesuiwer sou word!

Dis opvallend, hierdie dorpie is juis geleë in die gebied waar Elia se grootste vyand, Isebel vandaan kom. Hierdie is Baäl se hartland. ‘n Stukkie ironie - God gee aan Sy kneg ‘n wegkruipplek juis binne die vyand se gebied. Hierdeur word God se mag en oppergesag bo Baäl nou reeds aangetoon. 

Net so merkwaardig is die spesifieke persoon na wie God besluit om Elia te stuur. Nie ‘n ryk sakeman nie, maar ‘n brandarm weduwee! God werk en dink op ‘n totaal ander manier as die mens. By wyse van spreke - God stuur Elia weer nie na ‘n rivier nie, maar na ‘n “spruit” - ‘n weduwee met baie beperkte vermoëns, ‘n baie onsekere, prekêre situasie.

GEEN TOEVAL

Onthou Elia weet nie na watter weduwee om te gaan nie. Hy het nie haar adres nie en daar was moontlik baie weduwees in Sarfat. God reël egter self die ontmoeting! Ons kry in die gedeelte ‘n duidelike voorbeeld van hoe God se voorsienigheid werk. Daar is nie iets soos toeval nie! Let op die “juis”. “Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. “En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.” (vers 10 OAV) God werk van beide kante af - Elia kry ‘n opdrag en ‘n weduwee soek hout. Daar is nie iets soos die noodlot nie, God bestuur die “noodlot”en daarom is dit nie noodlot nie. Ons kan baie voorbeelde uit die Skrif noem : Josef beland juis saam met die skinker in die tronk. Dink aan Ester se geskiedenis. Koning Ahasveros kan nie slaap nie en daar word juis van Mordegai se heldedaad vir hom gelees op ‘n tydstip toe Haman Mordegai se dood beplan! In Handelinge 8 word Filippus gestuur na die man op die wa en hy is juis besig om uit Jesaja te lees! Kornelius stuur mense na Petrus en God berei hom voor deur ‘n droom juis net voor hulle kom! Kyk terug op jou lewe en sien raak en dank God vir Sy Voorsienigheid in jou lewe!

DIEP GETOETS

Hierdie opdrag is weereens ‘n groot toets vir Elia.

‘n Groot toets vir sy gehoorsaamheid. Hierdie bevel van die Here druis in teen Elia se geestelike ingesteldheid en sy natuurlike gevoelens as Israeliet. Hy moet sy vaderland verlaat en in ‘n heidense land gaan skuil - die sentrum van Baälaanbidding. 

Dis ook ‘n toets vir sy nederigheid. Hy, die groot profeet moet ‘n arm weduwee in die oë gaan kyk, afhanklik van ‘n vrou word. Om alles te kroon, hierdie arme vrou het self nie eers kos nie! Kan jy jou indink watse verleentheid moes dit vir die profeet gewees het? Elke stukkie ego wat Elia sou kon hê, is nou aan flarde geskiet! Hierdie is egter weereens ‘n klassieke bewys dat God die grootste verleentheid kan omskep in ‘n wonderlike geleentheid.

Elia het nou al geleer om nie meer na die sigbare te kyk nie, maar vir God raak te sien en in ag te neem. Deur praktiese ondervinding het Elia geleer dat God onder alle omstandighede getrou is en daarom kan hy hierdie vrou gerus stel. 

Elia se geloof in God word nie beskaam nie. God doen wonders. Die meel en die olie word nie minder nie! (Corrie ten Boom vertel van hoe hulle ‘n bottel vitamine druppels gehad het wat nooit opgeraak het nie totdat een van die gevangenes ‘n bietjie suurdeeg uit die kamphospitaal geneem het en toe gee die bottel in) 

KAN DIT NOG ERGER GAAN?

En nou gaan alles weer goed. Daar is genoeg kos en daar is rus en vrede. Maar dan gebeur hierdie ontsettende ramp! Die weduwee se seun sterf! Sou daar iets erger kon gebeur? Kan jy ‘n patroon begin raaksien? Kan jy agterkom hoe God se veldskool werk? Jy word uitgevat uit jou gemaksone en binne-in ‘n krisis geplaas. Dan moet jy glo en gehoorsaam. Dan word die krisis opgelos. Maar net sodra als weer rustig is, kom daar ‘n nuwe krisis wat jou weer uit jou gemaksone uitskud!

Hierdie is nou ‘n vreeslike krisis en verskriklike verleentheid. Kan jy dink hoe moes Elia voel? “Wat moet ek vir hierdie arme vrou sê? Is dit nou hoe God haar vir haar gasvryheid beloon?” Alles het so goed gegaan. Vanuit die oogpunt van die vrou het sy waarskynlik gedink dis die einde van al haar probleme en nou dit, die ergste moontlik wat kon gebeur het gebeur. Juis vir haar as weduwee was dit ‘n vernietigende slag. Dit lei tot ‘n verwytende uitbarsting van die vrou. Elia self kry die skuld! “Toe sê sy vir Elia: "Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?" (18) Dit moes diep gesny het in die arme Elia se siel!

KALM VERTROUE OP GOD

Wat staan Elia nou te doen? Hy reageer kalm op die uitbarsting van die vrou. Hy verdedig nie homself nie, argumenteer nie met haar nie, maar neem sy toevlug tot God. Hy bid ‘n hartstogtelike vurige gebed. God doen die wonder. (Terloops Elia het hom nooit uitgegee en geadverteer as ‘n wonderwerker en opwekker van dooies nie! Dis ‘n unieke pad van uiterste selfvernedering waarop God self hom gelei het.) Elia moes op ‘n besondere manier prakties beleef dat God die God is wat lewe gee, nie Baäl nie. Die wonderwerk gee aanleiding tot ‘n belydenis van hierdie vrou. Sy erken die Here en Sy ware profeet. Haar woorde bring eer van God se Naam nie, maar dis nie al nie, dis ‘n bevestiging van Elia se roeping. “Die vrou sê toe vir Elia: "Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is." ( 24) Elia ontvang as’t ware sy legitimasie uit die mond van hierdie vrou! Dis ongetwyfeld die klimaks in hierdie gedeelte van die verhaal. Elia is nou gereed vir die groot uitdaging van Karmel! 

NIKS IS VIR GOD ONMOONTLIK NIE!

God was besig om Elia in die veldskool van “Sarfat” te reinig van selftrots, hoogmoed, vooroordele. Meer nog. Hy moes ook prakties leer dat God alleen oor lewe en dood beskik en dat niks, maar niks vir Hom onmoontlik is nie! Dat gebed waarlik 'n verskil kan maak. Hierdie oortuiging sou hy baie nodig kry op Karmel, waar hy teen die duister magte van die Bose sou moes kragte meet!

Kind van God, Hy is besig met jou in sy veldskool. Gaan jy Hom vertrou, gaan jy gehoorsaam, gaan jy jou hart voor God uitstort, of gaan jy paniekerig raak en dwase dinge doen?

Kom ons buig voor God se wil, al maak dit nie sin nie, al verstaan ons nie, dis ons liefdevolle Vader wat besig is met ons!

[erkenning aan AW Pink, Elijah]

Vrydag 25 September 2015

IN GOD SE VELDSKOOL!

- geestelike groei en die verlies van ons gemaksones.



God stuur al sy kinders veldskool toe! Ja, regtig. ‘n Veldskool (deesdae ook bekend as ‘n leierskap kamp) is mos die plek waar hulle jou uit jou gemaksone vat, in die diep kant ingooi sodat jy deur harde ervaring sekere dinge kan leer. Jy leer vasbyt, gehoorsaamheid, saamwerk en sommer ‘n klomp dinge wat jy nie in ‘n klaskamer of uit ‘n boek kan leer nie. Dis presies wat God met sy kinders doen. Hy vat ons uit ons gerieflike gemaksones en stuur ons in ongerieflike en rowwe plekke in sodat ons geestelik kan groei en Hom waarlik kan leer ken. As Jesus regtig jou persoonlike Verlosser geword het, los God jou net rustig waar jy is nie, maar vat Hy jou deur ‘n harde veldskool om jou gereed te maak, om jou te heilig en te leer sodat Hy jou kan gebruik soos Hy wil... Dink maar aan die geskiedenis van ‘n Moses, Dawid, Petrus, Paulus... Dit het jare se vorming, skaaf en skuur voor God hulle vir hulle groot lewenstake kon gebruik.


In 1 Konings 17 lees ons hoe God ook vir Elia in ‘n besondere strawwe veldskool gevorm het met die oog op die groot taak wat vir hom gewag het...

Die verhaal van Elia is natuurlik in die eerste plek ‘n verhaal van God se ingrype ter wille van die eer van sy heilige Naam. God self het deur die woorde van sy profeet, deur die knellende droogte, deur die vuur op die berg Karmel aan sy volk en Agab bewys dat net Hy die almagtige God is. Maar dis ook ‘n verhaal van Elia se eie geestelike groei en ontwikkeling. Dis die verhaal van Elia in die veldskool...

EENKANT BY DIE SPRUIT

Na die eerste konfrontasie met die bose koning Agab, stuur God Elia na die spruit Krit. Elia gehoorsaam die Here (JHWH), want dit wat sy naam sê is in die praktyk van sy lewe waar. Elia beteken “My God is die Here”* Die praktiese betekenis hiervan word deur sy lewe gedemonstreer. Sy naam is eintlik die tema van sy lewe en lewenspreek. Om daar eenkant weg by Kritspruit te gaan skuil, was sekerlik nie maklik nie. Dit sou eensaamheid meebring en dit kom ook neer op vernedering. (Elia sou kon redeneer : “Ek is tog nie ‘n lafaard nie, hoekom moet ek wegkruip vir Agab, mense kan dalk dink ek is bang.”) Dis nie maklik nie, want dit sou kon klink na ‘n groot risiko – om van kraaie afhanklik te wees! Deur sy gehoorsaamheid wys Elia dat hy nie net ‘n verkondiger van God se wil (Woord) is nie maar ook ‘n dader daarvan. Hoe nodig is dit nie in ons dag! Daar’s so baie preke, seminare, kampe en teoretiese kennis van Woord. Tog sien ons min vrug. Hoekom? Mense is tevrede met teorie oor God, maar ons raak nie prakties met die Woord nie. Ons gehoorsaam nie, ons vertrou nie. Wat nodig is, om die opdragte van die Woord (al maak dit nie altyd vir my sin nie) ernstig op te vat en uit te voer. Eers dán groei ons, dan word ons sterk, dan leer ons en dan kan God ons gebruik!

WEER UIT DIE GEMAKSONE

Elia gehoorsaam en God is getrou. Als gaan nou goed. Elia eet brood en vleis en drink water uit die spruit. Te lekker en gerieflik! Die kraaie bedien hom getrou. Elia leer noudat God op bo-natuurlike manier vir hom kan sorg. Hy leer dat hy God maar gerus kan vertrou. God los egter nie vir Elia te lank in hierdie gemaksone nie. Dag vir dag word die spruitjie kleiner en loop hy swakker... En dan die groot skok - die spruit droog op! (Hier is amper ‘n stukkie wrange humor nê? Die direkte rede vir die opdroog van die spruit is mos eintlik Elia se gebed vir droogte wat nou verhoor word.** En hy ly self daaronder.) Onthou tog maar, gelowiges kry nie noodwendig spesiale behandeling nie.

Gesien teen die agtergrond van God se soewereine Raadsplanne en Voorsienigheid weet ons dat niks toevallig en buite God se beheer gebeur nie - ook nie die opdroog van die spruit nie. Ons moet pasop so maklik maak ons verkeerde gevolgtrekkings uit ‘n situasie. Soos : God is onmagtig, Hy kon net tot op ‘n punt sorg, God gee nie om vir my nie... Dis net die begin van ‘n volgende fase in God se veldskool. Ook hierdie terugslag het ‘n plek in God se bestuur van sake. Die opdroog van die spruit was nie sonder doel in Elia se lewe en in God se plan nie. God wou waarskynlik nog ‘n paar dinge vir sy profeet leer :

~ Dit moes seker dien as nog ‘n geloofstoets. Stel jou self in Elia se plek- elke dag word die stroompie swakker en dunner. Gaan dit heeltemal opdroog, wat dan, wat volgende? God gee nie onmiddellik antwoorde op ons vrae nie. Hy vertel ons nie vooruit hoe als gaan uitwerk nie. Ons moet net glo Hy sal ons nie in die steek laat nie. (Hebr. 13:5,6)

~ Alles op hierdie wêreld is van verbygaande aard. Alles is tydelik, niks is permanent nie. Ons moet aan niks vasgroei nie, selfs ook aan nie die gawes wat ons van God ontvang nie. Alles wat ons as pelgrims hier te beurt val moet ons nog steeds sien teen die agtergrond van hier het ons “geen blywende stad nie” (Hebr 13:14)

~ Juis omdat alles so tydelik is moet ons nie op die gawes vertrou en daarin ons blydskap*** vind nie, maar op die Gewer. Elia moes leer om nie op die spruit te vertrou nie maar op die lewende God. Waarop is jy blydskap en geloof tans gebou? Dien jy God omdat jy gesond, gelukkig is en genoeg geld het? Wat gaan gebeur as Hy môre als van jou wegvat?

OEFENING IN GEHOORSAAMHEID EN VERTROUE

God stuur sy kinders veldskool toe. Waaroor gaan dit eintlik? Die basiese beginsel in God se veldskool is : Gehoorsaam die Woord van die Here in alle praktiese moeilike situasies. Let op :

“Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê:
"Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan.” (1 Kon 17:2,3)

“Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê:
"Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg." (1 Kon 17:8,9) 

God werk met ons maar net soos in ‘n ander veldskool/leierskamp. Net sodra jy dink, als is OK dan word jy weer opnuut in ‘n moeilike situasie geplaas, uit jou gemaksone gehaal en dan moet jy sekere opdragte stiptelik uitvoer. As jy dit klaar gedoen het, dan wag jy vir die volgende opdrag. En die volgende situasie is nog ‘n bietjie moeiliker. (Dit sou Elia deeglik agterkom by Sarfat) As jy God se kind is, gaan Hy jou nie miskién veldskool toe stuur nie, jy is nou reeds beslis daar. Gehoorsaam God se Woord nou in jou huidige moeilike omstandighede en so sal Hy jou stap vir stap verder vat en leer in hierdie groot avontuur. Dink mooi, watter stuk gehoorsaamheid verwag die Here nou van jou? Vergifnis aan ander, vertroue dat Hy sal sorg, om te breek met iets wat verkeerd is in jou lewe, die opdrag tot blydskap in alle omstandighede... Jy sal wel weet...

Dis merkwaardig hoe God elke keer vir Elia uit sy gemaksone tot binne in ‘n krisis gelei het sodat Elia kon leer dat God werklik die almagtige God is. Dit alles was natuurlik ‘n voorbereiding vir daardie krisis dag toe Elia ten aanskoue van duisende Baäl ondersteuners moes bid dat God vuur uit die hemel sou stuur. Van Krit tot by Karmel sou nog 'n lang pad wees... Hierdie God is ook met jou sy kind tans besig...

*Eli = my God, Jah – afkorting JHWH (HERE)

** Vgl. Jakobus 5:17 "Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie."

***Wat sal van jou huidige blydskap word as God van die kosbaarste gawes wat Hy vir jou gegee het wegvat? Wat moet ons houding teenoor aardse seëninge en genietinge wees? Daar is twee uiterstes : 

askese - ons moet ons weerhou van alles waarsonder ons kan klaarkom en so hard en armoedig moontlik probeer lewe. Hieroor sê Calvyn : “Volgens hulle sou mens beswaarlik iets by jou brood en water kan voeg.”

uitspattigheid (vandag is uitspattigheid/hedonisme eerder die groot gevaar)- ek probeer die maksimum plesier put uit hierdie lewe, asof dit al is wat saakmaak en ek altyd hier gaan wees.

Beide moet afgewys word. Calvyn : Ons moet die manier om alles met ‘n rein gewete te gebruik, ken - of dit uit noodsaaklikheid is of vir genot is. Die Here skryf hierdie manier in Sy Woord aan ons voor wanneer Hy leer dat die teenswoordige lewe vir die wat aan Hom behoort, soos ‘n pelgrimstog is waarmee die gelowiges na die hemelse koninkryk voortsnel. As ons slegs deur die aarde moet gaan, moet ons aardse goed ongetwyfeld so gebruik dat hulle ons in ons vaart help eerder as vertraag. Vgl 1 Kor 7:31ev.



[Aus en omgewing, bekend vir sy veldskool en die wildeperde van die Namib]