BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Doop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Doop. Wys alle plasings

Vrydag 06 Mei 2022

MAAK DIE SONDESOM

 - DINK LOGIES! WAT HET DIE SONDE JULLE IN DIE SAK GEBRING?  HOU TOG OP DAARMEE!

Ons het nou al gekyk na die bevrydende boodskap van volledige vergifnis vir elke sondaar wat berou het, dit bely en sy vertroue op Jesus stel.  (As jy daarna wil luister kliek op GELUKKIG!) Heerlik! Maar dit bring mens onwillekeurig by ‘n belangrike vraag: 

“Mag ‘n Christen maar aanhou sondig, want God se genade het mos als vergewe?”  

Paulus hanteer hierdie vraag in Romeine 6 vers 1.


Paulus se kort en kragtige antwoord is : “Beslis nie!” Maar dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is). Een rede is dat ons as kinders van God saam met Christus gesterf en opgestaan het... in Jesus het ons 'n nuwe identiteit! Sonde pas net nie meer by ons nuwe status en realiteit nie... DOOP herinner ons hieraan...

In die Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit loop soos volg : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens, saambly en egbreuk is nie meer so erg nie, want ons staan mos nie meer onder die wet van Moses nie!”

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde kan doen?

Wat is Paulus se antwoord, sy teen argument hierop? Kortliks twee dinge:

Onthou julle wat Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. Wrede baas! Jy kan nie  daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan. Jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak,  jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig is kom neer op : Is julle nou mal? 

Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas (sonde)?

Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens nie. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes, julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. 


 Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie! Jy sien Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie.




MAAK DIE SOM : WAT WAS DIE GEVOLGE?

Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel. (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die vrug/gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge?



Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, ook in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog hoe lekker dronk jy was op partytjies en hoeveel meisies jy bed toe gevat het, weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige lewe, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Dink bietjie, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...die vermorsing van kosbare tyd en energie. Verlore kanse... Watter ewige nut het al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van volharding in sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel!

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. Hy wil sê :“Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe!” Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie! Daar is twee duidelike opsies voor ons.

  Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. 

Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras  in vers 23. 


Hy kies sy woorde fyn. Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 







Kyk die doelbewuste kontraste: Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) Kies die pad van genade! 





Kind van God, moenie met sonde begin speel nie! Kies daagliks teen sonde! Die pad van genade staan teenoor die pad van sonde. (genade kan dus nooit as verskoning vir sonde gebruik word nie) Kies die pad van die lewe!

Luister ook op YouTube by VOORDELE VAN SONDE

Donderdag 26 September 2019

GOEIE MENSE

IN DIE HEL? 



Ja, baie goeie mense gaan vir ewig verlore wees! Blatant gestel - Daar gaan baie goeie mense in die hel wees. Rêrig?
Ja, mense wat dalk nooit gemoor, gesteel of gevloek het nie. Mense wat Bybel gelees, gebid en eens op ’n tyd voor die kansel doopbeloftes, lidmaatsbeloftes en huweliksbeloftes afgelê het. Dit klink erg, maar dis waar! 


Daar bestaan ‘n skrikwekkende moontlikheid dat baie kerkgangers eendag helgangers gaan word! 

Nou sal jy dalk vra : Maar is dit moontlik? Hoe kan dit wees? Ja, een so ’n goeie mens was juis Paulus voor sy bekering. Hy noem in Filippense 3:4-6 ’n indrukwekkende lys van geestelike bates (goeie dinge!) en tog het dit hom niks gehelp nie. Hoor bietjie... “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” 

Min mense sou hulleself as ONBERISPELIK beskryf – Paulus kon! En dit in sy verlore toestand sonder Christus! 

Hierdie was alles uiterlike dinge waarop Paulus vertrou het om sy redding te verseker. Hy was van mening dat hierdie dinge punte tel voor God! 

Dis baie duidelik uit die Skrif dat goeie respektabele mense nie noodwendig in die ewige lewe deel nie. Die logiese konsekwensie hiervan is - of jy dit nou wil weet of nie - die hel gaan eendag vol goeie en gerespekteerde mense wees! Dis tragies dis skrikwekkend, maar dis ‘n feit! JA, jy hoor my reg - daar gaan eendag baie "goeie mense" in die hel wees! Soos Bybelkenners, kerkraadslede en predikante,  ordentlike mense, sagmoedige mense, diereliefhebbers, hardwerkende mense, opgevoede mense, fondsinsamelaars vir die kankervereniging, sopkombuiswerkers, orgaanskenkers, klimaataktiviste,  volkshelde en vryheidsvegters... noem maar op... sal saam met dronkaards, onsedelikes, leuenaars en gierigaards die ewige oordeel van God moet verduur. 

Nou hoe dan nou? Wie gaan dan gered word? 

JY HET JESUS NODIG 

Gelukkig gee Paulus hierdie antwoord. Hy KAN, want hyself was ’n goeie man, maar toe ontdek hy wat (WIE) regtig nodig het. 

Hy het Jesus Christus ontdek! Eintlik is dit meer korrek om te sê Jesus het hom ontdek en hom eerste gaan opsoek.* Jesus het daar op die pad na Damaskus Homself aan Paulus geopenbaar. Hy het hierdie goeie man gekonfronteer. “Jou goedheid help jou niks nie Paulus, jy het my genade en vergifnis nodig!” Paulus was nie die eerste goeie godsdienstige man wat dit moes hoor nie. Nikodemus wat in die nag Jesus gekom het (Johannes 3) en ’n gerespekteerde leraar was, moes dieselfde hoor : “Nikodemus jy moet weergebore word anders kan jy nie in die Koninkryk van God ingaan nie. Nikodemus jou Skrifkennis en goeie voorbeeldige lewe is nie genoeg nie.” 

Paulus het na hierdie ontmoeting met Jesus besef daar is net een bate wat tel. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo." (7-9) Paulus het besef : Ek kan nie my skuld voor God afwerk of genade verdien nie, my skuld word net vrygeskeld as ek in Jesus glo. Dit gaan nie nou meer of ek goed is of nie, dit gaan nie oor my geestelike “pedigree” nie, dit gaan nou daaroor dat God nie my kwaad meer teen my hou nie. Hier kry ons die beginsel van vryspraak deur die geloof alleen! Dit word op soveel plekke in die Skrif beklemtoon. (Vgl. Romeine 4:1-8) 

Om in Jesus te glo is al wat tel. Maar nou moet ons baie versigtig wees – elke tweede Jan Raap en sy maat sal jou vandag vertel dat hy in Jesus glo. 

GELOOF LEI TOT NUWE AMBISIES 

Om in Jesus te glo is ’n radikale lewensveranderende saak – Dit bring ’n nuwe passie in mens se hart! So kon Paulus nou getuig: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (10,11) Dit kan nie anders nie, want om in Jesus te glo beteken ek weet ekself gaan dit nie maak nie, maar ek vertrou op Hom, ek klou aan Hom vas soos ’n drenkeling aan die reddingstou klou. Hy word my ALLES! 

Geloof in Jesus lei tot ’n koersverandering, dit plaas my op ’n nuwe pad. (Dis iets meer as net bloot "uitkniel", jou hand opsteek of 'n kaartjie invul.) Dis 'n eenvoudige vertroue, maar dit het groot gevolge! Gevolge wat al hoe meer sigbaar word.  Dit sal vir almal duidelik wees waarheen jy nou op pad is! 

Paulus skryf hierdie gedeelte juis om mense daarteen te waarsku om op uiterlike dinge staat te maak. Hy waarsku mense teen dwaalleraars wat hulle wou dwing om hulle te laat besny. Hulle het die mense geleer as jy jou nie laat besny nie, kan jy nie gered word nie. Teenoor die dwaalleraars stel Paulus dit duidelik wat nou eintlik belangrik is. “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (3)  Roem/staatmaak op Jesus is wat die verskil maak!

EN DIE DOOP? 

Die doop is ook ’n teken. 'n Teken van die Nuwe Verbond. Dis kosbaar en wonderlik. Maar die doop self red ons nie. Die doop wys ons juis na Jesus! Dit fokus ons op die belangrikheid van Jesus se sterwe en opstanding. As jy nie self op Jesus roem en op Hom vertrou nie, gaan jou doop jou niks help nie. Daar gaan ook baie (klein en groot) gedooptes in die hel wees! 

Maar kom ons stel dit positief. Die doop moet ons juis aanmoedig om Hom na wie die doop wys te ken en vir Hom te leef! 

HEMELSE WEDLOOP 

Vertrou jy met jou hele hart op Jesus? Oortref Hy vir jou alles in waarde? Jaag jy dit na om Hom beter te leer ken? Is jy daagliks besig met die hemelse wedloop of bestee jy al jou tyd en krag in 'n aardse "gym"?

Wat Paulus hier vir die Filippense leer is maar presies dieselfde wat die apostel Johannes leer in 1 Johannes 5:12,13! 

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” 

Het jy die Seun van God as enigste bate of maak jy stilletjies op ‘n ander bate staat? Vertrou jy op jou goedheid en godsdiens of vertrou jy op Jesus alleen en volg jy Hom na? 

Dis nog nie te laat nie: Kom! Jesus neem die sondaars aan!

*Vergelyk ook vers 12 “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” 


Dinsdag 06 Augustus 2019

BRUILOFSMAAL OP MAKALANI


- Sigbare boodskap van evangelieheerlikheid!

Ek sit saam met ‘n Hai//om bruidspaar aan die nagmaalstafel. Johannes Tampan en sy vrou Rosa. Stralende egpaar! Een brood, een beker, maar ‘n groot verskeidenheid van nagmaalgangers – Hai//om, Afrikaans, Duits, Engels. Ja, dis meer as net ‘n normale bruid en bruidegom wat hier bymekaar is, dis die Bruid van die Lam, losgekoop met sy kosbare bloed uit elke stam, taal, volk en nasie… 



Vroeër (as deel van dieselfde erediens) het ons immers ook sigbaar beleef hoe Jesus deur die Woord en Gees sy bruid self bymekaarmaak deur die volwasse doop van ‘n jongman, Karel wat tot bekering gekom het. Hierdie was nou nie die gewone standaard erediens waaraan ons gewoond is nie – vooraf was daar twee getuienisse, toe die doop, daarna ‘n huweliksinseëning en uiteindelik die nagmaalsviering! Deurgaans word die Woord bedien- uit Genesis, Hooglied en Openbaring en dit vorm ‘n pragtige eenheid. Die bedienaar van die Woord en sakramente is ons broer ouderling Andries Gous. Hy en ouderling Herman Fuls is onlangs amptelik met goedkeuring van die Namibiese Kuratorium as gemeentebedienaars bevestig . (KLIEK) 

Wat hier gebeur is ‘n pragtige getuienis en ‘n helder boodskap. Ja, die omgewing is eenvoudig, armoedig, kultureel anders... ‘n Hond, ‘n hoender, ‘n seuntjie wat ‘n wieletjie rondstoot, iemand wat in die agtergrond hout kap, iewers daag ‘n polisievoertuig op… dis alles deel van die toneel. Maar sentraal is die Here Jesus wat vandag nog sorg dat die evangelie juis ook aan die armes verkondig word. En Hy sorg self en Hy bou self sy kerk. Deur dissipels wat gehoorsaam is aan die GROOT OPDRAG!

Tampan en Rosa is eenvoudige mense, maar hulle verhaal wonderbaarlik. Tampan het vir jare die Woord onder sy mense verkondig (onthou hy is ongeletterd) sonder amptelike hulp van die kerk. Hy het egter met ‘n probleem gesit. Hy en sy vrou was nie wettig getroud nie. Dit was ‘n moeilike saak om reg te stel, want beide hy en sy vrou was voorheen wettig in ander huwelike, maar beide se eggenotes het hulle deur die dood ontval. Om weer te trou sou ‘n groot klomp dokumentasie vereis. En vir ‘n ongeletterde Boesman, wat ook nie die nuwe Namibiese amptelike taal van Engels magtig is nie was dit ‘n bykans onmoontlike hoë berg om te bestyg. Totdat die Here vir Andries oor sy pad gebring het… Andries het die saak selfs tot by die Ombudsman se kantoor gevoer… Hulle is toe die vorige Vrydag wettig voor die landdros getroud. 

Nou is dit erediens en feesdiens in die hart van die gemeente! Die bruid van die Lam is hier bymekaar... sigbaar!

Andries het later getuig van sy indrukke: 

“Tydens die doop het ek geweldig bewus geraak van die teenwoordigheid van die Here. Nadat die doop bedien is aan Karel Awaseb het ek my hand op hom gesit om te bid en ek was tasbaar bewus van die Gees van God. En toe ek opkyk en ek sien die trane loop, toe weet ek dat Karel Awaseb het net soos ek bewus geword van God se tasbare teenwoordigheid. 

Na die diens gesels ek met die Tsintsabis mense wat ek terugvat en ek vra vir hulle wat was vir hulle die mooiste? Maria sê die doop, want dit is 'n bewys dat God nog iemand bygevoeg het tot sy liggaam. Sy reken die troue en nagmaal was mooi maar die doop is die bevestiging dat God sy kinders bymekaar maak. Nog 'n verlore siel is gered. Ek hoor ook iemand sê dat hulle so 'n troue wil hê, want dit was so mooi, daar was nie 'n klomp tradisies en dronk mense nie. 

Op pad terug na Grootfontein ry ds. Regina en ander vrouens saam voor in die bakkie en ek begin uitvra oor die indrukke van die diens. Die een vrou sê dat sy sien dat Tampan en Rosa het getrou al het hulle nie werk en geld nie. (Ja, daar is ook maar die wanopvatting by die Boesman mense dat mens geld nodig het om te trou.) Ek het verduidelik dat as ‘n mens wil wag vir geld dan moet jy ook jou lyf se plesier laat wag tot dat jy geld het.” 

Loof God vir die kosbare boodskap wat uitgegaan het – nie net deur Woord alleen nie, maar ook deur sigbare tekens en veral deur die diep bonatuurlike werk van die Heilige Gees! Wat ‘n voorbeeld is hierdie Boesman broers en susters se erns met God en sy opdragte. En dit in ‘n tyd waar ons blanke jongmense in totale sedeloosheid verval. Oor saambly en buite egtelike kinders word daar nie eers meer gefrons nie! (Trouens dit word op sosiale media geprys en ondersteun!) God se standaarde het egter nog nooit verander nie! 

"Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie." (1 Tessalonisense 4:3-5) 

Die bruid van die Lam is immers ‘n rein bruid!



Vrydag 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Donderdag 27 Oktober 2016

"Pa, seën my tog ook!"

- die smartkreet van ‘n jongman wat ‘n verkeerde keuse gemaak het.


Besondere kosbare en gesogte erfstukke word van geslag na geslag oorgedra en is dikwels onberekenbaar waardevol. ‘n Ou geweer deur ‘n voorsaat gebruik op die slagveld, ‘n oorspronklike skildery of vaste eiendom soos ‘n plaas... Vandag gaan dit oor iemand wat ‘n ontsaglik kosbare erfporsie vir altyd misgeloop het.

Ons ken darem seker almal die geskiedenis van Jakob en Esau. Jakob het hom vermom en is deur die ou blinde Isak op sy sterfbed geseën. Kort daarna het Esau van die jagveld by sy pa Isak gekom om geseën te word, maar moes hoor dat Isak reeds sy seën uitgedeel, en dit aan Jakob! 

Dan lees ons :

“Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: ‘Pa, seën my tog ook!’" (Gen 27:34) 

Hartverskeurende woorde! Hoor hoe kreun hy dit uit : “Pa, seën my tog ook!” Dis die smartkreet van ‘n stukkende en wanhopige jongman. Dis seker van die hartseerste woorde en mees tragiese gebeure in die Bybel. Esau het die seën as eersgeborene van sy pa misgeloop en niks kon dit ooit verander nie. Esau het iets ontsettend kosbaar gemis, en hy kon dit nooit weer kry nie. Esau se spyt was vir ewig te laat!

EERSGEBOORTEREG

Wat was so kosbaar aan die eersgeboortereg en aan hierdie seën? Hoekom was dit so belangrik? Om die betekenis van hierdie gebeurtenis reg te verstaan moet ons terug gaan na Esau se oupa - Abram. Ons weet God het Abram geroep en het heerlike beloftes aan hom gemaak en hom geseën. Abram het dus besondere gunste van God geniet, God was hom besonder genadig. God was goed vir Abram. Hierdie verbond en die seëninge wat God aan Abram beloof het was nie net vir hom bedoel nie maar ook sy nageslag. Mens kan amper sê dit was familiebesit. Die beloftes en seëninge van God is dus van geslag tot geslag oorgedra. Anders gestel, die beloftes en seëninge van God was die belangrikste erfstuk.

Nou wie is die grootste/hoof erfgenaam? Wel, volgens destyds se gebruike, die eersgeborene. Ons weet tog die eersgeborene was die belangrikste erfgenaam, mens kan sê die opvolger van sy pa. Om die seën van jou pa as eersgeborene te ontvang was dus nie maar net ‘n klomp leë woorde of ‘n sinnelose ritueel nie. Nee, dit gaan ten diepste oor ‘n Goddelike seën. Dis tog in elk geval net God alleen wat die mag het om mense te seën of aan die anderkant te vervloek. Dit gaan oor meer as maar net materiële goedere. Dit het in die familielyn van Abram, ‘n besonder sterk geestelike verbondskonnotasie. In Hebreërs 12:16,17 word dit baie duidelik dat hierdie seën nie maar net oor ‘n aardse saak gegaan het nie. “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.”

U sien daar was ‘n besliste geestelike dimensie aan die minagting van die eersgeboortereg verbonde gewees. Dis duidelik dat die seën wat die eersgeborene ontvang ‘n oneindig kosbare besitting was. Esau het nou hierdie kosbare seën gemis - dis waarom hy nou in wanhoop uitroep : “Pa, seën my tog ook!”

As mens nou so vinnig op die oppervlakte lees wil mens Esau eintlik jammer kry. "Arme man, kyk hoe is hy ingeloop." Ons weet mos wat het gebeur. Hoe die skelm Jakob en sy Ma ‘n plan gemaak het om die blinde ou Isak te bedrieg. (met die bokvelletjies om sy hande en nek) Maar as mens nou mooi gaan lees, kom mens agter dat dit sy eie skuld was. Die sleutel vir die verstaan van hierdie gebeure kry ons in Genesis 25:34. OAV - “Esau het sy eersgeboortereg verag”. NAB – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.”

‘N FOUTIEWE WAARDEBEPALING LEI TOT VERKEERDE KEUSES

Esau het eintlik nie meer ‘n reg gehad op die seën van sy pa nie, hierdie Goddelike seën wat van sy oupa Abram af gekom het. Ons weet mos wat gebeur het. Hy het eendag moeg en honger van die veld af gekom en die geslepe Jakob het Esau se eersgeboortereg by hom gekoop. Hy het sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop. Hy het dus self die eersgeboortereg en die kosbare erfenis wat daarmee saam gegaan het verruil vir ‘n pot sop! Vir die tydelike genot van kos, vir die tydelike bevrediging van sy behoeftes het hy sy eersgeboortereg verkoop. Dit kom maar eintlik daarop neer dat hy so min gedink het van die Goddelike seën dat hy dit vir sop verruil het. Hy het ‘n tydelike verbygaande ding van meer kosbaar en belangrik geag as die ewige seën van God. Minagting van die eersgeboortereg het neergekom op die minagting van Goddelike seën en daarom is dit ‘n geskikte voorbeeld om as waarskuwing te dien dat ons nie God se verlossingsgenade moet minag nie. (dis soos die Hebreërs skrywer dit gebruik) 

Die groot saak om raak te sien : Daar was fout met Esau se waardebepaling en daarom het hy ‘n verkeerde keuse gemaak toe hy die geur van lensiesop kry. 

Die lekker geur van die lensiesop het vir hom meer getel as die eersgeboortereg en die seën wat daarmee saam gegaan het. So Esau was eintlik self verantwoordelik dat hy die seën gemis het, Jakob het maar eintlik net gevat wat hom toegekom het. Jakob was mos nou eintlik die eersgeborene - hy het die reg daartoe gekoop.

Dit bring ons nou eintlik by die tema :

Die minagting van God se beloftes veroorsaak dat ons die verkeerde keuses maak en so God se seëninge misloop!

Ons keuses in die lewe is die direkte gevolg van ons waardebepalings. Eenvoudig gesê - ons kies vir dit wat ons dink die meeste waarde het. As my vriende se opinie in my oë vir my meer waarde het as God se beloftes dan kies ek my vriende bo God. As die plesier van die wêreld vir my meer tel as die offer van Jesus dan kies ek die wêreld.

God maak heerlike beloftes aan jou! "Ek wil jou God wees, jou genadig wees en jou skuld weg neem. Ek wil jou red van jou sonde van die oordeel en die ewige hel. Ek wil jou nuut maak. Ek wil jou Vader wees. Ek wil vir jou rus gee, die ewige lewe en die hemelse erfenis." Hy bevestig en onderstreep sy beloftes met die teken van die doop! En tog kies soveel gedooptes iets ander bo God en sy seëninge!

Het jy al hierdie beloftes verkry, jou eie gemaak? Jy vra hoe? Wel, God se beloftes realiseer in jou lewe die oomblik as jy as sondaar jou tot Jesus bekeer en jou vertroue op Hom stel. Deur Jesus kry ons deel aan al God se wonderlike beloftes. Hoe waardevol is God se beloftes vir jou? Het jy dit al aangegryp? Of beskou jy ander dinge, ander genietinge, ander verhoudinge, ander ambisies as belangriker? 

Die punt is dit : 

God se beloftes stel ons voor ‘n keuse. 

Jy kan ook die seën van God verkry as eersgeborene. Miskien sê jy :"Maar ek is tog nie ‘n eersgeborene nie!" Wel, deur Jesus Christus as Verlosser aan te neem word ons eersgeborenes. Hebreërs 12:23 praat van die “vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is.” Wie is hulle? Hierdie eersgeborenes is almal wat aan Jesus behoort en wat so deel gekry het aan God se ewige seën.

Dis ‘n heerlike waarheid : ons wat sondaars en rebelle teen God is, ons word as eersgeborenes aanvaar deur God wanneer ons tot geloof in Jesus kom.

Is hierdie eersgeboortereg vir jou belangrik? Hierdie eersgeboortereg wat jy verkry as jy Jesus Christus as Here aanvaar? Net soos Esau moet jy ook kies tussen die eersgeboortereg en die lensiesop. Jy sal weet wat is die lensiesop in jou lewe. Jy weet watse dinge vir jou so ‘n aantrekkingskrag het dat dit belangriker as Jesus word... Wat is vir jou meer waardevol as Jesus, wat is vir jou belangriker as die heerlike beloftes van God ......is dit dalk ‘n boesemsonde, ‘n sondige verhouding, vrees vir wat mense gaan sê as jy Jesus volg, bitterheid, weiering om iemand te vergewe, gierige najaging van geld.....?

Wat van jou? Wat dink jy van God se beloftes? Het jy dit al ernstig opgeneem en hoog gewaardeer deur Jesus as Here aan te neem?

Woensdag 18 Junie 2014

JY IS OOK WELKOM!

- in die Geesgewerkte gemeenskap is daar plek vir uitgeworpenes en buitestaanders.

Ons het gekyk na die unieke gemeenskap van die kinders van God. Dis slegs moontlik deur die bonatuurlik werk van die Heilige Gees. (Kliek op GEESGEWERKTE GEMEENSKAP) Maar presies wie is almal welkom? In elke samelewing of groepsverband is daar mos sekere mense wat uitgestoot en verwerp word. Onwelkom. Hulle is onaanvaarbaar op grond van afkoms, voorkoms, sosiale of ekonomiese status, ras, ‘n slegte verlede, fisiese of verstandelike gebreke en nog baie ander redes. Mense hou nou maar net nie van hulle nie. Deur al die eeue was dit so en dis vandag nog steeds die geval ten spyte van al die aansprake van verdraagsaamheid in ons tyd. Die wêreld het egter nie ‘n blywende antwoord vir die probleem van verworpenes nie. Die sondige mens se selfsug en strewe na oorheersing verhoed dit. Ongeag wat mense sê - in die wêreld is daar maar een oorheersende beginsel : elkeen vir homself. “Ek gebruik jou net tot my eie voordeel.” Die enigste plek waar alle uitgeworpenes met ope arms ontvang word is die kerk van Jesus. Die ware kerk van Jesus. Nou frons jy en vra : “Regtig? Dis nie my ervaring nie...” Wel, as dit nie in die praktyk so is nie, is dit omdat die kerk direk optree teen die boodskap van Sy hoof Jesus Christus...

DIE ONTMANDE

Handelinge het so baie te sê oor die insluiting van uitgeworpenes. In hoofstuk 8 sien ons hoe die kerk van Jesus, die verworpe Samaritane, hierdie tussengroep mense verwelkom het. Hulle het ook net soos die Joodse gelowiges die gawe van die Heilige Gees ontvang. Die bekering van die Etiopiese eunug (ontmande) soos ons dit vind in Handelinge 8:26-40 (lees dit gerus in jou Bybel) is nog ‘n verdere drastiese bewys van God se bedoeling om alle voormalige uitgeworpenes as volwaardige lede van die nuwe gemeenskap van die heiliges op te neem.

Die bekering van hierdie eunug was egter nie net opsigself belangrik nie. Deur verskeie parallelle in dade in woorde impliseer Lukas dat bekering van hierdie man ‘n voorskou was van die bekering van die heidense Kornelius, waarby Petrus betrokke sou wees. In beide gevalle (Filippus en Petrus ) is God se boodskapper op bonatuurlike manier gelei na die heidene. Filippus deur ‘n engel, Petrus deur ‘n visioen (vir hom het dit waarskynlik gevol soos ‘n nagmerrie!) en ‘n engel het ook met Kornelius gepraat. Direkte bonatuurlike inmenging. (Dit beteken nou nie ons moet elke keer voor ek sending doen eers wag vir ‘n engel nie - onthou hier was nuwe grond wat betree is, nuwe grense wat oorgesteek in hierdie heilshistoriese situasie) In beide gevalle kry ons dieselfde kwessie (8:37; 10:47) oor wat die ontvangs van die doop sal “verhinder”. Die antwoord is natuurlik niks nie - almal wat glo in Jesus is volledig aanvaarbaar in Sy liggaam en mag daarom gedoop word! Filippus het die grens oorgesteek na Samaritane en Petrus breek nou nog ‘n skeidsmuur - hy bring die evangelie in ‘n heidense gebied en doop ‘n heiden. 

SPEEL VIR DIE EERSTESPAN

Fillipus ontmoet hierdie eunug in ‘n heidense gebied, met sterk heidense konnotasies uit die verlede. Oppad na Gasa. Dis ook opmerklik dat dit spesifiek aan die einde van die gebeure vermeld word dat hy in Asdod gevind is. Beide die name Gasa en Asdod is bedoel om ‘n klokkie te lui - dit was stede wat deel was van die antieke Fillistynse gebied ( vgl. 1 Sam 6:17) Meer heidens kan jy nie kry nie. Dis die hartland van die heidendom! Juis na hierdie gebied word Filippus beveel om te gaan. Ook die man na wie Filippus gestuur word is ‘n heidense vreemdeling en uitgeworpene. Alhoewel hy so pas ‘n pelgrimsreis na Jerusalem voltooi het en in besit was van ‘n Jesaja boekrol, was hy nietemin ‘n heiden, ‘n Etiopiër. Geestelik gesproke was hy in terme van die bedeling van die Ou Verbond in ‘n minderbevoorregte possisie, eintlik ‘n uitgeworpene. Op ‘n dubbele manier was hy uitgesluit van die verbondsgemeenskap van Israel - as heiden en as ontmande. Die wet het duidelik bepaal : “Hy....van wie die manlike deel afgesny is, mag in die vergadering van die Here nie kom nie” (Deuteronomium 23:1) Hierdie man sou dus ten spyte van sy godsdienstigheid nooit ‘n volle bekeerling tot die Joodse geloof kon word nie. Hy sou maar altyd ‘n tweedeklas plek in die kring van gelowiges moes inneem. Sou maar altyd met die krummels tevrede moes wees. Hy sou ongeag sy toewyding nooit vir die eerstespan mag gespeel het nie!

Hoe wonderlik (en geensins toevallig nie) dat Filippus juis na hierdie man gestuur word met die evangelie! Weereens ‘n geval hoe God van twee kante af werk – dis nie toevallig dat hy in die boek van Jesaja lees nie, en natuurlik ook nie toevallig dat Filippus na hom toe gestuur word nie.

Hierdie Etiopiër se aanvaarding van die evangelie was nie maar net op persoonlike vlak ‘n heerlike gebeurtenis nie. Dit is van heilshistoriese belang. Hoe so? Sy bekering was ‘n duidelike teken van die aanvang van die Koninkryk van God se internasionale uitbreiding oor alle grense heen. ‘n Koninkryk waar daar ruimte is vir die voorheen verworpenes. Hierdie nuwe dimensie van die Koninkryk was egter nie iets vreemds nie, dis vooraf duidelik deur die profete voorsien. Treffend word dit o.a. in Psalm 68:31 in die vooruitsig gestel. “Edeles sal uit Egipte kom, Kus (= Etiopië) sal haastig sy hande uitsteek na God.” (vergelyk ook Psalm 87:4; Jesaja 11:10-11) Die bekering van hierdie man was ‘n duidelike aanduiding dat hierdie beloftes nou in vervulling gegaan het.

Soos reeds gesê was hierdie man nie net ‘n vreemdeling nie, maar boonop ook nog ‘n ontmande. Ook in hierdie opsig is die vermelding van sy bekering nie toevallig nie. Die Skrif het reeds lank tevore ‘n woord van hoop vir beide vreemdelinge en ontmandes gehad. “‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond,aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke." (Jesaja 56:3-7) Die wet van Moses wat vreemdelinge en ontmandes uitgesluit het van die heiligdom was nou uitgediend.* In Jesus het ‘n heerlike nuwe bedeling aangebreek vir elkeen wat glo in Hom. 

DIE LAM SE OFFER

Omdat hy geglo het, word hierdie uitgeworpene nou ten volle deel van die gemeenskap van die heiliges en niks kan daarom in sy pad staan om gedoop te word nie. Die Lam van God van wie die eunug hier gelees het in Jesaja 53 se offer was ook vir hom genoegsaam! (Hy word opgeneem in die EERSTESPAN!!) Jesus se offer was OOK VIR JOU groot genoeg as jy maar net eenvoudig dit wil aanvaar...

Jesus het die deur wyd oopgemaak vir almal wat hulle bekeer. Die bekering van hierdie man is ‘n bewys daarvan. As jy buite staan, kan jy nie God of die evangelie beskuldig nie. Jy het net jouself te blameer...

* Dis daarom so tragies dat die Hebrew Roots Movement weer wil terugkeer na die Wet van Moses (Tora) en dus in effek na die Ou Verbond en so die Nuwe Verbond in Jesus ignoreer! Kliek op WORTELS VAN VERWARRING