BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Leefstyl. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Leefstyl. Wys alle plasings

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Donderdag 15 Augustus 2019

EK IS MOEG EN FLOU


WAT NOU? MOET EK OPHOU? 



Voel jy moeg, moedeloos en flou? Ja, kinders van God raak fisies moeg, maar ons raak ook geestelik moeg. Ons word net moeg om goed te doen. Ek raak moeg om my wyk getrou te besoek, moeg vir my Sondagskool klas, moeg om gereeld huisgodsdiens vir my kinders te hou, moeg om vriendelik te wees met onvriendelike en ondankbare mense, moeg om mense uit te nooi wat nie belangstel in God se Woord nie, moeg om Christelike liefde in 'n liefdelose huwelik te probeer uitleef, moeg om entoesiasties kind van God te wees, moeg om gedurig teen my eie sondige natuur te stry... Kortom – Net moeg, moeg vir goeie werke! 

OORSAKE 

Daar is natuurlik baie moontlike redes en oorsake vir so ‘n totale gevoel van moegheid en uitputting. Beslis het die droogte (tans hier in Namibië) ‘n invloed op ons motivering en gemoedstemming. Definitief dreineer die neerdrukkende politieke en ekonomiese nuus waarmee ons daagliks gekonfronteer word ons geesdrif en lewenskrag. Maar daar is ook ander dieperliggende faktore : gebrek aan vordering of resultate, ons sondige natuur wat ons verlei tot luiheid en kortsigtigheid... Selfs ook ons liggaamlike toestand kan 'n rol speel... 


Paulus het kennis gedra van hierdie probleem van moeg word om goed te doen en spreek dit duidelik aan in Galasiërs 6:7-10. Hy rig daarom ‘n kragtige en dringende uitdaging aan elkeen van God se kinders wat moeg geword het! 

"Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel." (Galasiërs 6:9) 

STRYD

Hierdie aansporing van Paulus is natuurlik deel van ‘n groter konteks. Dis deel van die groot konflik in die kind van God naamlik die stryd tussen die vlees en die Gees. Hy het reeds hiervan melding gemaak in 6:16,17. 

“Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” 

Ons vergeet so maklik – as jy waarlik ‘n kind van God geword het, woed daar ‘n hewige stryd in jou binneste! Dis ‘n onophoudelike en uitputtende geveg tussen die vlees (ou sondige natuur) en die Heilige Gees wat nou in elke kind van God woon. Dis normaal om hierdie stryd te ervaar. En hierdie stryd put ons uit en tap ons krag! 

Elke kind van God het die verantwoordelikheid om daagliks en voortdurend te kies teen die ou natuur en myself doelbewus te onderwerp aan die Heilige Gees! “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (5:25) Dis ‘n keuse wat ons moet maak en ‘n keuse wat ingrypende en geweldige gevolge het. (6:8) Dit wat jy saai (jou dade, optrede, gedrag) het direkte gevolge – dis wat jy oes! Ons dade nou het ewigheidsgevolge. Pasop hoe jy optree, pasop wat jy besluit en doen. In hierdie konteks vermaan Paulus ons om te volhard in goeie werke. 

Ons moet gedurig waak teen die versoeking om te laat slap lê. 

Geestelike slaapsiekte en lomerigheid is 'n voortdurende ernstige bedreiging. Om dit teen te werk moet ons die waarskuwings en aanmoedigings van die Skrif ernstig opvat. Dit sal ook van ons vereis om praktiese maatreëls te tref. 

Ek deel met jou ‘n paar moenies en moets wat dr. Martyn Lloyd Jones hanteer in sy boek SPIRITUAL DEPRESSION

~Moenie tou opgooi nie. Moenie eers so ‘n gedagte kans gee om wortel te skiet nie! Omdraai is nie ‘n opsie nie. " Moenie eers oorweeg om toe te gee aan die versoeking om aan die slaap te raak nie. (Dink aan die gevare van die Betowerde grond in Bunyan se klassieke werk, DIE PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID) 


Spurgeon het gesê : "Continue with double earnestness to serve your Lord when no visible result is before you.” 

Onthou Markus 13:13! Net diegene wat volhard sal gered word! 



~Moenie vrede maak met 'n voetesleep toestand nie. Dis nie God se bedoeling vir sy kinders nie. Dit steel jou vreugde en bring oneer op ons Verlosser se Naam. Om die Here met geesdrif te dien is immers ‘n staande opdrag. “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” (Romeine 12:11) 

~Moenie jou wend tot kunsmatige geestelike stimulante nie. Sommige Christene probeer hulleself stimuleer deur allerhande “nuwighede” te probeer, wat hulle uiteindelik wegvoer van die evangelie. (Die snaaksighede van die HRM). Ander probeer “church hopping” en word geestelike swerwers sonder roeping en rigting! Sommige kry gunsteling geestelike “stokperdjies” en kry oogklappe aan. (Hulle wil gedurig oor die doop of wegraping stry en verloor Christus uit die oog!) 

~Moenie in selfbejammering verval nie! Murmurering/kla  is ‘n ernstige sonde. (1 Korintiërs 10:10) Selfbejammering maak jouself, jou huwelik, jou bediening dood!

WAT OM PRAKTIES TE DOEN? 

Daar is beslis ook positiewe maatreëls wat getref kan word, as ek geestelik lam en lui geword het. 

1.Doen selfondersoek en vra na die oorsake! Vra jouself: 

~ Is die rede vir my tamheid en traagheid nie dalk fisies nie? Kry ek genoeg slaap, gesonde kos, sit ek dalk te veel voor die rekenaar..? (Terloops, daai skootrekenaar dreineer mens se energie) Dit mag wees dat ek dalk moet gaan vir ‘n deeglike mediese ondersoek! Dalk moet ek drastiese aanpassings in my daaglikse leefstyl maak! 

~ Probeer ek dalk om geestelike werk met menslike krag te doen? Ek hardloop baie rond om dinge vir die Here te probeer doen, maar my hart is nie op Hom ingestel nie. Ek skeep my persoonlike tyd met Hom af en strompel kragteloos voort, vasgevang in ‘n menigte van sinlose aktiwiteite. Is ek daagliks in verbinding met die Bron, Jesus? Gaan dit nog oor Hom? Sit ek aan sy voete soos Maria? 

~ Wat is my motiewe vir my goeie werke? Is dit dalk aktiwiteit bloot ter wille van aktiwiteit? Probeer ek dalk my saligheid met allerhande pligte te verdien of my eie koninkrykie te bou? Probeer ek via geestelike aktiwiteite naam maak vir myself? Dalk is ek by baie aksies betrokke net om van die huis af weg te vlug, want ek kom nie met my eie huismense oor die weg nie? Stel eers jou motiewe reg voor God. Onthou dit gaan oor dankbare diens vir ‘n genadige verlossing... 

2. Onthou die Christelike lewe is 'n onophoudelike lewe van goed doen - wees voorbereid. Wees realisties soos ‘n marathon atleet – hy weet hierdie wedloop gaan nie binne tien minute oor wees nie, ek moet my instel vir ‘n lang stryd... Jou eie heiligmaking vat tyd, die werk aan jou huwelik vat tyd, volharding in jou bediening vat tyd... Daar is nie kortpaaie en kitsoplossings nie!

3. Hou Jesus in die oog! Vra opreg : “Vir wie doen ek alles? Doen ek goeie werke vir mense eer en gelukwensinge of vir Hom wat sy bloed vir my gestort het?” Maak tyd om Hom weer innig en diep te leer ken... Laat Jesus en sy liefde voorop in jou gedagtes staan 

4. Fokus op die eindresultaat. Dink aan die oes! Dink aan die beloning. Dis wat Paulus hier sterk onderstreep! Dink jy aan die eindpaal? Is die regterstoel van Christus ‘n werklikheid, is jou oog op die toekoms? 

KYK WEER OPNUUT NA JESUS EN GAAN AAN!



Vrydag 11 September 2015

LEEFSTYL VIR DIE EINDTYD

- moet ons begin bomskuilings bou?


Die einde van alle dinge is naby! Dis nie ‘n voorblad berig in die koerant wat bedoel is om paniek te saai nie. Ook nie die jongste gemorspos e-mail nie! Dis ‘n vaste Bybelse waarheid. Ons lees dit in 1 Petrus 4:7, maar ook op baie ander plekke.

“Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.”

So dikwels in die verlede, maar weer ook in ons dag word mense op hol gejaag deur een of ander einde van die wêreld scenario – op ‘n stadium was daar die Y2k gevaar, toe weer die Maja kalender wat die einde van die wêreld voorspel... kort-kort ‘n nuwe sensasionele storie. Die Christen steur hom nie aan al hierdie stories nie, maar ons vat wel die Bybelse boodskap baie ernstig op : Die einde is inderdaad naby! Dit beteken nie dat ons ‘n spesifiek aantal weke, maande of jare daaraan kan koppel nie. Dit beteken dat die koms van Jesus, die laaste oordeel en ‘n nuutgemaakte skepping realistiese werklikhede is. Dit kan vandag nog gebeur. Die koms van Jesus en natuurlik ons eie dood is nie iets teoreties en veraf nie, dis ‘n om-die-draai-gebeurtenis waarmee ek daagliks moet rekening hou. Dit iets waarvoor ek en jy gereed moet wees. Elke oomblik!

Die einde van alle dinge is naby! Maar wat daarvan? Hoe moet ons reageer? Moet ons bomskuilings bou en noodvoorraad opgaar of DVD’s kyk oor die Antichris en die ses ses ses? Moet ons spekuleer oor bloedmane of histeries raak oor die Moslemgevaar?

NEE! Asseblief, in God se Naam laat ons maar net doen wat die Woord vir ons sê. Wat is die regte Bybelse leefstyl vir die eindtyd? Petrus is baie duidelik. Omdat die einde van alle dinge naby is moet ons selfbeheers en nugter wees sodat ons kan bid. Leef so dat julle biddend kan bly! Hoekom hierdie opdrag? Dis ‘n nuwe leefstyl wat die teenoorgestelde is van hulle vorige gedrag toe hulle nog onbekeerdes was. Hy het daarna verwys in 4:3. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery.” (net terloops daar is baie kerkmense wat hierdie bose leefstyl volg en nie besef dat so ‘n leefstyl van dronkenskap en losbandigheid tot die hel lei nie)

BID

Leef dus ‘n gedissiplineerde en sobere leefstyl sodat julle kan bid. Die einde van als is naby - hierdie vaste wete moet ons bring by bid en nie by bespiegel nie! Dis ‘n impetus vir biddend wees. Bid behels ‘n lewenshouding, gedurige kontak met God wanneer ek my doelbewus oopstel vir sy wil en opdragte. Deur te bid wys ek my vertroue op God en afhanklikheid van Hom. Ek onderwerp ek my aan sy wense en begeertes.

LIEFDE EN DIENS

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.” (1 Petrus 4:8-11)

Biddende kontak met God moet ook oorgaan in praktiese liefde vir mekaar. Hierdie liefde sal baie sondes bedek. Wat beteken dit? Dit gaan daaroor dat ek in liefde ander mense hul sondes sal vergewe en dat ons so die onderlinge bande en gemeenskap met mekaar herstel. Die liefde bring genesings in stukkende verhoudings. As jy regtig glo dat die einde naby is sal jy vrede en vergifnis soek met ander mense! 

Nog ‘n uitvloeisel van die liefde is gasvryheid. Dis ‘n saak wat baie klem kry in die Nuwe Testament. “As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves."  (Hebr 13:1,2) Gasvryheid is die teenoorgestelde (en teenvoeter) van selfsug en gierigheid. Laat ons mekaar ontvang, laat ons huise en harte oop wees vir mekaar. Dis die regte leefstyl vir die eindtyd!

Die nabyheid van die einde moet ons juis stroop van selfsug en ‘n wegkruip eenkant houding en ons aanspoor tot diens!

CHARISMATA

Volgens die genadegawes wat elkeen ontvang het moet ons mekaar dien! Alle gelowiges het charismata (genadegawes) ontvang, nie net ‘n paar superchristene nie. Daar heers groot misverstand en skeeftrekkings wat betref die gawes van die Gees. Vir baie mense is die gawes iets om mee te spog. (veral die gawe van tale spreek) Nee, gawes bestaan vir diens. Gawes bestaan nie ter wille van myself nie maar met die oog op diens aan ander. Petrus gee nie hier ‘n volledige lys van gawes nie. Hy noem net twee hoofgroepe van gawes : Gawes van verkondiging (prediking, lering, onderrig). Dis gawes wat die geloof voed en opbou. En gawes van diens (hulpverlening, barmhartigheid,ondersteuning op verskeie vlakke). Dis gawes wat die geloofsgemeenskap onderhou. (Sien ook Romeine 12:4-8)

God het ‘n geweldige kapitaal van gawes in sy kerk belê!** God los sy kerk nie arm nie. God het ‘n groot rykdom en verskeidenheid van gawes aan elke gemeente en gemeentelid gegee. Ons moet dit gebruik, daarmee woeker, nie ter wille van onsself nie, maar van die medegelowiges. Glo jy die einde is naby, glo jy die oordeel is op hande? Wel, is jy besig om jou gawes te gebruik? Of sit jy eenkant en wag dat ander mense jou moet bedien in ‘n tyd van nood? Onthou net die gawes word nie verdien of self opgemaak nie, dit kom van God! As ek praat is dit eintlik God wat praat (dis nie ek wat so oulik is nie), as ek dien is dit God wat die krag gee (dis nie ek wat so sterk is nie). Ek het dus niks om oor te spog nie. As die gawes reg funksioneer kry God die eer. Nie die een wat die gawes beoefen nie, maar die Een wat die gawes gee moet verheerlik word. Ons moet so praat en doen, dat mense sal sê : “God is wonderlik!” Nie – “Jan, Koos of Rina” is wonderlik! nie.

In die lig van die naderende einde, die komende oordeel, die heerlikheid van ‘n nuwe hemel en aarde moet ons ‘n nuwe radikale leefstyl beoefen. ‘n Nugtere sobere leefstyl, ‘n leefstyl vry van losbandigheid, wellus en gierigheid. ‘n Leefstyl van gebed, liefde, gasvryheid en diens wat aan God eer sal bring. 

Jou leefstyl en nie jou spekulasies nie, wys of jy glo die einde is naby!


*Ek glo dat die gawe van die spreek in tale nog steeds kan voorkom soos God dit goed mag goed dink om te gee en dit nodig ag vir sy gemeente. Waar dit voorkom moet dit beoefen word volgens die beginsels en riglyne van 1 Korintiërs 12 en 14. Ek dink nie dis reg om dit uit te sonder as die belangrikste gawe en ‘n toetsteen te maak vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees in iemand se lewe nie. Die oormatige klem wat sommige op die spreek in tale plaas lei ongetwyfeld tot die vervalsing daarvan.

**Van Houweling, PHR, Rondzendbrief uit Babylon, p157


[foto - Pininterest]

Maandag 01 Desember 2014

ANDERS!

-maar hoe anders? 


‘n Christen is iemand wat die goeie nuus gehoor het : “Jou sondes is uitgewis!” ‘n Christen is ook iemand wat gereageer het op die daaropvolgende uitnodiging : “Keer terug na my!” (Kliek op UITGEWIS) As die goeie nuus van Golgota my hart gegryp het en ek my bekeer het tot die Here kan ek nooit meer dieselfde wees nie. Die Christen is daarom in wese ANDERS! Die vraag is nou net hoe anders, in watter opsigte? Ons bly tog mos gewone mense, ons werk, ons trou, maak kinders groot, ons is landsburgers, ons het ook ontspanning nodig soos alle ander mense...

Petrus vertel ons...

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:11,12)

ONS STATUS OP AARDE IS DIE VAN VREEMDELINGE EN BYWONERS!

Hoe moet ons dan anders wees? Petrus beskryf ons andersheid baie treffend deur die woorde vreemdelinge en bywoners. Die term vreemdelinge het hy reeds in 1 Petrus 1:1 in sy aanhef aangeroer. “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld,...” Die terme sê so baie - ’n vreemdeling en bywoner in ’n land neem voluit deel aan die lewe, maar hy is in wese anders en sy ware lojaliteit lê elders in sy eie vaderland! In alle opsigte verskil hy van die huidige tydelike kultuur en leefstyl - sy waardes, gewoontes, maniere, lojaliteite... selfs kleredrag vertoon ‘n ander invloed. Die punt wat Petrus baie duidelik wil stel is : Kinders van God mag nie konformeer nie, mag nie dieselfde gewoontes hê nie, dieselfde gedrag openbaar as wat in die huidige goddelose wêreld waar ons woon aan die orde van die dag is nie. 

Petrus is nie die enigste Bybelskrywer wat ons verhouding met die wêreld so beskryf nie. Ook die Hebreër skrywer in Hebreërs 11:10,13,14; 13:14 onderstreep hierdie waarheid. “...(Abram) het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is....Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland... ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

Ook Paulus beklemtoon dat ons burgerskap nie regtig hier gesetel is nie! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) 

Petrus lig vir ons drie sake uit met betrekking tot ons andersheid:

~ Die andersheid van die Christen lê dus eerste daarin dat ek my unieke eiesoortige identiteit sal besef. Dus : Onthou wie jy is. ‘n Tydelike vreemdeling en ‘n bywoner! Hierdie wêreld met sy sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Dis nie ons finale bestemming en ware lojaliteit nie. (Dis veral belangrik om jouself hieraan te herinner in tye wanneer dit baie goed gaan en jou besigheid net groei en groei. Besef dan – “ek gaan nie vir altyd hier wees nie, ek moet nie perspektief verloor nie”, maar ook in tye wanneer dit sleg gaan, wanneer die besigheid misluk of ek gediagnoseer word met ‘n ongeneeslike siekte... weet dan - “hierdie omstandigheid het nie die laaste sê nie, daar wag vir my ‘n ewige heerlikheid in my ware vaderland...”)

~ Tweedens bestaan ons andersheid daarin dat ons radikaal sal kies teen die slegte begeertes en waardes wat die mense en omgewing rondom ons beheers en bepaal. Verkeerde begeertes wat gestimuleer word deur alles wat ons rondom ons sien en beleef, hou ’n permanente bedreiging in vir die Christen. Die uitspattige leefstyl van die bure, die uitlokking tot losbandigheid op die tydskrifvoorblaaie, elke dag se neagtiewe nuus... Hierdie slegte begeertes was vroeër deel van Christene se lewens, dis nou agtergelaat, maar dit hou nog steeds gevaar in… Vermy dit, bly weg van wat verkeerd is, moenie toegee en swig nie. Tree aktief op en vrae jouself : Moet ek deur daardie tydskrifte op die winkelrak blaai, moet ek na daardie "songs" luister, is daardie sepie op TV bevorderlik vir rein gedagtes? Beteken dit ons moet kluisenaars of nonne word? Nee! Ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag.*  Hierin was Jesus vir ons ‘n radikale voorbeeld en rolmodel. “Die Here Jesus was nie ‘n kluisenaar nie...Hy het Hom nie prakties afgesny van die samelewing nie, maar tog was Hy innerlik vry en afgeskei van die wêreld. Hy was nie afgetrokke of afsydig nie... Om die waarheid te sê, Hy was in so ‘n mate deel van die alledaagse wêreld, dat die godsdienstige mense van sy tyd Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper beskou het. Tog het ons Here nooit toegelaat dat iets inbreuk maak op die toewyding van sy geestelike krag nie.” (Oswald Chambers) Wees radikaal anders in jou optrede te midde van ander mense. 

Almal sal egter nie ingenome wees met jou nuwe gedrag nie! Ons kan verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (2 Petrus 4:4!) Juis die teenkanting en spot wat ons van die wêreld moet verduur is ‘n aanduiding dat ons op koers is na ons ewige Vaderland en nie hier hoort nie! Samuel Rutherford vat dit so raak : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.” 

~ Derdens moet ons andersheid gekenmerk word deur ‘n positiewe heilige andersheid. Dit gaan dus nie net oor dinge wat ons nie meer doen nie, maar veral oor dinge wat ons nou wel moet doen in ons omgewing waar ons tydelik leef! Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe maak ‘n positiewe verskil. Op die ou end moet mense dit insien en erken... en ja, dit kan selfs tot hulle bekering lei! Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. (Kliek op AGENDA IN HEIDENSE SAMELEWING) Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Daar is juis so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, eerlike besigheidsmanne, kwaliteit ambagsmanne, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid, tevrede mense, nederige kampioene, blymoedige pasiënte, eerlike belastingbetalers, gehoorsame landsburgers wat die gesag oor ons respekteer! “omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,...” (1 Petrus 2:14) Hierdie sigbare leefstyl van anders wees is in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik.” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word, hulle bekeer en God op die oordeelsdag verheerlik. 

‘n Wegkruip lewensstyl is nie ‘n opsie vir die Christen nie! ‘n Wegwyser lewe (na ‘n beter alternatief) is ons plig!

Kom ons raak sommer lekker prakties : Ons dra klere nes alle mense, maar ons word nie oorheers en gedryf deur die goddelose kaalgat modegiere van hierdie wêreld nie. Ons versorg ons liggame, maar ons hoef dit nie voor wellustige oë op SKOONHEIDSKOMPETISIES en die strand uit te stal nie. Ons leef gesond en verantwoordelik, maar glo nie in ‘n heidense ideaal van “Forever Young” nie! Ons werk en doen besigheid soos ander mense, maar ons word nie verteer deur geldgierigheid nie. Ons geniet ons kos, maar is nie vrate wat leef om te eet nie! Ons pas ons eiendom op, maar ons blydskap word nie bepaal deur die hoeveelheid van ons besittings nie. Ons bly in huise soos ander mense, maar ons rig nie vir ons kastele op asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons is burgers van ‘n bepaalde land en lede van ‘n bepaalde volk wat ons pligte nakom, maar ons verabsoluteer en romantiseer dit nie, want ons weet ons ware burgerskap is elders! Maar omdat ons ‘n vaste burgerskap en ‘n ewige sekuriteit het, kan ons juis ook nou vreugdevol, vriendelik, kreatief, entoesiasties, tevrede, sonder vrees en swaarmoedigheid hier en nou leef. 

Dis die aantrekkingskrag en effek van die evangelie – anders, ja, heilig anders, maar juis blymoedig anders!

* Van Houwelingen: “Bepalend voor het christelijk leven is niet de distantie tot de medemens zelf, maar tot het bedorven leven dat hij leidt”.




Donderdag 26 Julie 2012

FEIT : DIE TYD IS MIN!

- herrangskik jou prioriteite.

1 Korintiërs 7:29 verklaar : “Die tyd is min.”  Dis ’n vaste feit. Dis onomstootlik waar. Dit geld vir elkeen van ons. Dis  waar in ten minste twee opsigte :

Ons lewens is kort en onseker en kan enige oomblik tot ’n einde kom. Die Bybel is realisties as dit ons leer dat die lewe maar ‘n kortstondige dampie is. (Soos daardie stoompie by die ketel se tuit wat so vinnig verdwyn.) Ons lewe is soos veldgras wat gou na die laaste reëns verdor.

Die Wederkoms van Jesus is voor die deur. Dis waarskynlik veral wat Paulus in hierdie konteks bedoel. Ons lewe in ’n unieke tydsgewrig in die geskiedenis. Die laaste dae.* Die koninkryk van God het naby gekom. Dis die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die wêreldgeskiedenis spoed nou voort na ’n beslissende einde... Dis nou die tyd van keuse, wat ons ewigheidsbestemming bepaal. Dis ‘n tyd van geleentheid, maar ook ‘n gevaarlike tyd. Vervolging, versoeking en verleiding... Ons moenie nou kop verloor nie, ons durf nie van koers af gaan  nie...

Die tyd is min. Hierdie aardse bestaan en bestel gaan binnekort vir altyd verby wees.  Dis die groot agtergrondsfeit wat ons hele bestaan hier op aarde kleur.  Hierdie feit behoort  al ons keuses te beïnvloed. Waarmee ons ook al besig is - dis die waarheid wat ek altyd hier in my agterkop moet hou. 

Wat is die regte houding in hierdie tyd?  Paulus sê vir ons baie duidelik wat ons benadering en houding in hierdie tyd moet wees.

Paulus praat hier in 1 Korintiërs 7 oor verskeie vrae rondom  die huwelik. Hier maak hy amper ‘n terloopse opmerking, maar wat diepgaande besinning van elkeen van ons vra. Volgens Paulus se  persoonlike gevoel was dit  beter om nie te trou nie. Hy sê nie dis verkeerd om te trou nie, maar “as jy getroud is”, sê Paulus,  moet jy “leef asof jy nie getroud is nie.”  Sjoe, dis radikaal! Wat sou hy bedoel? Die huwelik is tog die intiemste en belangrikste verhouding waarin mens op aarde staan.  Dis goed en mooi en reg en deur God self ingestel. Paulus self teken die belangrikheid daarvan o.a. in Efesiërs 5.

 So wat wil Paulus eintlik sê? Selfs nie eers iets so belangrik soos die huwelik moet ons aardse bestaan oorheers nie. Ons mag nie opgaan in die huwelik  asof dit nou die essensie van die lewe is nie. Dis baie waardevol maar ons lewe moenie daarom draai nie. Die huwelik,  hoe goed ook al is nie die einddoel of sin van die lewe nie. Ons harte moet los wees van selfs ons kosbaarste verhouding op aarde. Dis wat die dringendheid van die  tyd van ons eis. Die Here Jesus en sy Koninkryk is belangriker selfs as die intiemste en wonderlikste verhouding. Daar is nou iets groter en belangriker, selfs as die  huwelik. Dis om gereed te wees vir die koms van Jesus. Dit gaan hier oor die beginsel van ondergeskikte prioriteit. Daar is baie wonderlike en belangrike dinge, maar een saak is belangriker as alles. Alles is minder belangrik as  hierdie een belangrike saak nl. Die Koninkryk van God. As hierdie beginsel geld vir iets soos die huwelik geld dit onteenseglik ook vir al die fasette en terreine van ons lewe.

Paulus gaan nou  verder en noem voorbeelde van dinge wat belangrik is, maar wat nie ons lewens totaal moet bepaal of in beslag neem nie. Dis dinge waarby ons as mense noodwendig  betrokke sal wees, maar waarvoor ons moet pasop dat dit nie ons lewens sal oorheers nie. Ons harte moet los wees van hierdie dinge al is dit nie opsigself slegte dinge nie.....

Kom ons kyk na die sake wat hy hier aanraak:

Hartseer. (“Dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie.”). Hartseer en droefheid  is deel van ons almal se lewens - ook kinders van God. Ons ondervind pyn, teleurstellings, mislukkings.... Dis nie verkeerd om te huil en bedroef te wees nie. En tog, die tyd is so dringend, Jesus se koms so naby, daar is soveel om vir die koninkryk te doen,  ons moenie gaan stilstaan by ons droefheid nie. Ons moenie gaan lê onder ons hartseer nie. Moenie vashaak by die seer van die verlede nie. Hierdie dinge mag nie al ons aandag in beslag neem nie. Dit mag nie al ons tyd en krag vat nie. Ons moet huil en klaar huil en aangaan om vir Jesus te leef. Hy sal wel eendag al ons trane afvee.

Vreugdes en plesier. (“Dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie.”) As mense is daar baie dinge wat ons bly en opgewonde maak. Dis nie verkeerd nie. God gee vir ons dinge om te geniet (1 Tim 6:17),  maar net soos die hartsere, mag die vreugdes nie ons lewe oorheers nie. Die tydelike vreugdes mag nie ons visie op die ewige Koninkryk verdof nie. Ons moet pasop dat ons smaaklike vreugdes nie ons aptyt bederf vir die feesmaal wat God vir sy kinders voorberei nie. Onthou alle vreugdes is maar vaal in vergelyking met die heerlikheid wat wag vir God se kinders. Ons harte moet dus los wees daarvan. Geniet dit wat God oor jou pad bring, maar die tyd is so kort, die Koninkryk kom eerste.

Normale werksaamhede.  (“Dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie.”) Alle mense moet werk om ’n bestaan te maak. Arbeid is ‘n seën. Om eiendom te mag koop en besit is ‘n Godgegewe voorreg. Arbeid en geld en besittings is dinge wat ons tydelik nodig het, maar dis nie die doel van ons bestaan nie. Ons lewe mag nie daarom draai nie. Ons hoofdoel is om God te ken, om sy heerlikheid raak te sien, om sy teenwoordigheid te geniet. Ons moet goed doen wat ons doen, maar die kind van God se hart moet los wees van alles, ook ons kosbaarste besittings. (Is dit regtig nodig om huise te bou met uitspattige luukshede wat nooit eers benut gaan word nie?)

Paulus gee in vers 31 ’n opsomming van wat hy bedoel.

“Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle niks daaraan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken,  is aan die verbygaan.” 

Christene is doodgewone mense. Dis onvermydelik dat ons net soos ander mense sal trou, hartseer beleef, vreugdes ervaar, werk....handel dryf ens. Maar omdat ons God se kinders is en daar ’n Koninkryk vir ons wag, mag hierdie dinge nooit ons hoofdoelwit word nie. Ons sal noodwendig besig wees met hierdie dinge, maar ons mag nie ons harte daarop verloor nie.  Dit sou dwaas en ondankbaar wees. Hoekom? Want hierdie wêreld gaan verby. Alles rondom ons is net tydelik. Die huwelik duur nie vir altyd nie, al die hartsere en vreugdes is net tydelik. Niks wat jy besit gaan  vir altyd joune wees nie. (Dit lyk asof selfs baie Christene dit vergeet en vir hulle paleise bou met die oog op 'n gewaande ewige aardse verblyf) Kinders van God, met 'n Bybelse gerigtheid verwag ’n beter bedeling. ‘n Permanente stad waarvan God self die bouer is. Kinders van God sien uit na ’n beter toekoms en dit bepaal ook hoe ons besit beskou en hanteer.

Die belangrikheid en die nabyheid van die koninkryk relativeer alle ander dinge. 

Dit maak alles minder belangrik. Omdat ons ’n beter bedeling en ’n beter Koninkryk verwag moet ons gefokus wees op onverdeelde toewyding aan God. Die kort tydjie wat  ons het moet benut word om :
~ God te ken.  Dis nou die tyd vir bekering.  Gebruik jy die kanse wat God gee om Hom werklik te leer ken?  Het jy al God se allesoortreffende heerlikheid besef? Is dit jou vreugde om Hom te bewonder en lief te hê?
~ God te dien.  “Soon this world will be passed, only what’s done for Christ will last” Die tyd is min, binnekort sal ons moet rekenskap gee. (2 Kor 5:10) Ook God se kinders sal verantwoording moet doen van ons dade. Wat het ek gemaak met tyd, kanse, geld en gawes? Kliek op RENTMEESTERSKAP)

Ons leef in ’n unieke tyd in die geskiedenis. Die einde van alle dinge is naby. Die wederkoms van Jesus is voor die deur. Dan sal die groot sifting plaasvind. Die skape sal van die bokke geskei word. Die tyd is kort. Dis nou nog genade tyd. Dis nou die tyd van beslissing. Dis nou die tyd om Jesus te omhels en om jou volkome aan Hom toe te wy. Daarom is alle ander dinge ondergeskik en minder belangrik!


*Kliek op die reeks, MAAK OOP BY OPENBARING vir ‘n volledige bespreking van die Laaste Dae.

Hierdie preek uit 1 Korintiërs 7 het ek by een van die mees uitstaande Godsmanne, die Skot,  Robert Murray M’Cheyne gekry.