BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Broederliefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Broederliefde. Wys alle plasings

Dinsdag 11 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (4)

WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF TE VERRYK EN STAP DIE VOLLE PAD TOT BY LIEFDE VIR ALLE MENSE! 



Ons het gesien, omdat ‘n kind van God reeds als ontvang het wat nodig is (ONTVANGERS), word ons opgeroep tot kragtige aktiwiteit! Dis voortdurende en harde werk om hierdie eienskappe wat Petrus in 2 Petrus 1:5-7 noem by te voeg by ons geloof. Ons het reeds na ‘n paar elemente gekyk, nou gaan ons aan na die volgende: 



VOLHARDING Dis 'n vrug en kenmerk van ware saligmakende geloof. Die kind van God is 'n ster wat jaar na jaar skyn, nie net 'n meteoor wat vir 'n rukkie vir 'n groot skouspel sorg nie. (Pasop maar vir kortstondige opwindende ervarings... Pasop om nie ‘n konferensievraat te word wat by elke geestelike kamp of konferensie in snot en trane ‘n nuwe oorgawe maak, maar telkens maar weer op die ou pad voortploeter nie...) Hierdie volharding is nie net sommer gewone vasbyt nie, maar dis moontlik omdat die kind van God verby stryd en probleme kan kyk en uitsien na die ewige beloning! Soos Jesus dit gedoen het volgens Hebreërs 12:1-3. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Jesus word hier voorgehou as navolgenswaardige model van volharding. Hoe het Hy dit reggekry? Hy het als verduur ter wille van die vreugde wat vir Hom gewag het! 

Ons ervaar krisisse en probleme en hartseer en versoekings soos alle mense, maar ons volhard omdat ons na al hierdie donker onstuimighede kyk in die kalm lig van die ewige heerlikheid wat God aan die getroues beloof. Ons sien die heerlikheid wat wag en daarom volhard ons. Ons moet, kan en sal juis volhard, omdat ons redding nie iets is wat met ons inisiatief en ons krag gebeur het nie. Dis God se uitverkiesende inisiatief en God se krag! (Vers 3) 

GODSVRUG (Godliness) Dis die bewustheid van God en daarom gehoorsaamheid aan God in elke praktiese aspek van my lewe. Godvrugtigheid is die teenoorgestelde van goddeloosheid. Die term  eushbeia word gebruik in kontras met asebeia (goddeloos) in 2:6.  Die goddelose is teen God, die Godvrugtige is op God en sy eer ingestel! Dis baie belangrik, want daar is 'n gevaar dat die kwessie van redding en meer spesifiek geloofsekerheid vir baie mense 'n selfsugtige, selfgesentreerde saak word– Baie redeneer : "EK moet net seker wees van MY polis teen die hel. Christenskap is maar eintlik net nog een van my selfgesentreerde besigheidstransaksies. Of ek God eer en of ek God gehoorsaam en of ek God behaag is van minder belang. Wat met die kerk van Jesus gebeur traak my ook nie juis nie.." Nee vriend, dit mag nie so wees nie! Verander jou gesindheid - fokus op 'n Godvrugtige lewe. Laat God en sy wil vir jou belangrik raak, dan sal jou sekerheid ook groei! Dit sal ‘n duidelike bewys wees van jou redding, want niemand eer God en niemand het God en sy kerk van nature lief  nie! As hierdie dinge in jou groei is dit ‘n onomstootlike bewys van wedergeboorte! 

BROEDERLIEFDE (liefde onder mekaar) Hieroor het die Here Jesus self en die res van die Nuwe Testament baie gesê. Ons hoor dit so baie, die gevaar is dat ons dit glad nie meer ernstig opneem nie. Dit is 'n onontbeerlike kenmerk van elkeen wat deel gekry het van die goddelike natuur. Dit kom egter nie sommer so van self nie, soos die ander trappe, moet ons alles in die stryd werp om dit prakties te implementeer. Dit beteken o.a. om moeite te doen om mekaar te verstaan en ten spyte van foute te aanvaar, om alles moontlik te doen om eenheid te bewaar deur ons te weerhou van skinder, verdagmakery, afguns ens. Kies om te vergewe keer op keer! Dit beteken dat ons praktiese stappe moet neem om mekaar se laste te dra deur te luister, meegevoel te betoon, praktiese en finansiële hulp te verleen ens. Gasvryheid! Broederliefde is ‘n onteenseglike duidelike bewys van ware Christenskap. 1 Joh 3:14,15 – “Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” 

Broederliefde het ‘n baie direkte relasie tot ons sekerheid van kindskap! 

NAASTELIEFDE (liefde vir alle mense)) Behalwe vir broederliefde, d.w.s. die liefde vir my medegelowiges, moet die kind van God ook liefde in die algemeen beoefen. Dit is so wyd dit sluit my naaste op alle vlakke van kontak in, selfs my vyande! Dis tog letterlik wat Jesus self gesê het. Dis buitengewoon, bonatuurlik! Ook in hierdie opsig moet ons navolgers van God wees, wat sy reën op goeies en slegtes laat val. Navolgers van Jesus wees, wat terwyl Hy in hegtenis geneem word, 'n oor gesond maak en terwyl Hy in pyn aan die kruis hang nog vir sy vyande bid. Jy vra hoe dit moontlik kan wees? Onthou net weer 2 Petrus 1 vers 3 - "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk..." Hierdie is nie net maar 'n mooi onbereikbare ideaal nie, deur die eeue het die kinders van God dit reggekry en uitgeleef. George Wishart een van die vroeë Reformators in Skotland was so 'n voorbeeld . Net voor hy verbrand is vir sy geloof het die laksman op sy knieë geval en gevra dat Wishart hom sal vergewe. Wishart het hom toe op die wang gesoen en gesê : "Dis die teken dat ek jou vergewe .... doen jou plig" Naasteliefde het nie grense nie, dis uiters radikaal en vreemd aan die gevalle mensdom!

Wat het al hierdie dinge te make met vastigheid en sekerheid? Soos hierdie eienskappe groei sal my sekerheid groei. Sekerheid kom nie weens passiewe spekulasies en rondkrappery in my siel nie, sekerheid groei as ek aktief by my basiese geloof hierdie dinge byvoeg. Die duidelike implikasie is : 

Sekerheid, vastigheid en vreugde is nie beskore en bedoel vir lui of ongehoorsame Christene nie. Positief gestel, sekerheid is ‘n bonus wat saamgaan met geestelike groei, ywer en gehoorsaamheid! 

Die uitverkorenes se verlossing is vas en seker! God sal die werk wat Hy begin het voltooi en niemand kan Hom dwarsboom nie! “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:29-30) Petrus leer dat die uitverkorenes se lewens hiervan ‘n bewys sal lewer deur voortgaande geloof en die dra van vrugte wat by die geloof pas. Hoe meer vrug jy dra hoe sekerder, hoe minder gaan jy struikel... daarom werp alles in die stryd om vrug te dra!

Vir die opvolg, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (5)


Dit was so wonderlik om tydens Pinkster 2019 vir Christoph Gouws  raak te loop. Die seun van 'n ou vriend en 'n jongman wat die Here dien.

Sondag 14 April 2019

DIE KANKER VAN PARTYDIGHEID


“Versigtig, hy speel mos vir die eerstespan...” 

“Sy gee darem heelwat vir die kerk...” 

“Hy borg immers altyd ons jaareindfunksie...” 

“Pasop dat julle hulle nie aanspreek of kwaad maak nie, want...!” 

Ons weet mos dat alle mense nie dieselfde is nie. Ook binne die gemeente en in die breë gemeenskap van die gelowiges is daar groot verskille... Alreeds in destydse gemeentes van die Vroeë kerk was daar verskille... (baie lidmate het immers uit ‘n slawe agtergrond gekom...) Minder welvarend en meer welvarend, minder aantreklik en meer aantreklik, minder invloedryk of meer... Daarom vind Jakobus dit nodig om te waarsku teen partydigheid. “aanneming van die persoon” soos die Ou Vertaling dit stel. Hy praat uitvoerig hieroor in Jakobus 2:1-13. Partydigheid! Watse ding is dit? Ons behandel verskillende mense onregmatig op verskillende maniere en volgens verskillende maatstawwe. Dit gaan hier oor die sonde dat ons bevooroordeeld staan en diskrimineer teenoor mense op grond van een of ander uiterlike rede. Ons maak ’n sondige onderskeid tussen mense, wat maak dat ons sommige benadeel en ander bevoordeel. Ons klassifiseer mense op grond van hulle sosiale status, welvaart, voorkoms, afkoms, intelligensievlak, “nuttigheid” en behandel hulle dan onregverdig. Ons verdeel mense eintlik in twee groepe - belangrikes (in ons oë belangrik) en onbelangrikes (in ons oë onbelangrik). Belangrikes (soos ‘n skool se eerste rugbyspan of die invloedrykste persone in die dorp) word voorgetrek en goed behandel, terwyl die onbelangrikes (diegene wat nie borgskappe kan voorsien of sosiale aansien geniet nie) minder goed en minder regverdig behandel word. Hierdie praktyk van voortrekkery is reeds in die Ou Testament veroordeel, spesifiek in die konteks van die regspraak. “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God.” (Deut 1:17) 

DISKRIMINASIE SKREEU TEEN DIE GELOOF IN JESUS! 

Partydigheid, uiterlike beoordeling of onregverdige bevoordeling...Geliefdes hierdie dinge gebeur ook onder ons. Binne in die gemeente van Jesus. Ons moet ons nou nie vaskyk teen hierdie spesifieke voorbeeld in Jakobus en maklik sê ons is nie skuldig nie. Ons het voortrekkery en diskriminasie tot ’n subtiele kuns verfyn. Hoe lyk diskriminasie onder ons? Spesiale aandag, vriendelikheid, behandeling en voordele word gereserveer vir die wat EK as belangrik beskou en uit wie ek dalk een of ander tyd voordeel kan trek. 

Praktiese voorbeelde: 

~ Deur ons manier van doen en praat word sekere mense uitgesluit. Ons sal nooit direk sê jy is nie welkom nie, maar ons optrede laat sommige mense uitgestoot voel. Ons sal miskien ‘n funksie reël wat net vir die rykes haalbaar is... Ons hou daarvan om eksklusief te wees. Ons houding sê ons is eintlik beter as ander Christene . 

~ Met sommige mense praat jy uit die hoogte. Jy sê niks verkeerd nie, maar jou houding en manier van aanspreek wys sommer net: “Ek is beter en belangriker...” 

~ Soms is dit ’n geheime sonde van die hart. Hierdie diskriminasie veroorsaak dat ons mense in ons harte veroordeel, afskryf, verag, degradeer... weereens sonder dat ons iets negatief sê. (Gewoonlik voel hulle dit aan vanuit ons lyftaal en algemene optrede) 

~ Sommige mense se opinies, probleme en klagtes word ernstig opgeneem, maar  ander s'n word feitlik geïgnoreer. Ons luister net met ’n halwe oor of glad nie... Aan die anderkant voor die magtiges, invloedrykes en belangrikes kan ons baie maklik ’n kruiperige houding openbaar, oordadig vriendelik of tegemoetkomend wees en dis net so verkeerd. 

~ Sommige mense word baie maklik en direk aangespreek. Ja, ons sal sommer ronduit die swakkes en die onbelangrikes uittrap, maar die rykes en die wat status het se misstappe word meer geredelik oorgesien. Die reëls word maar bietjie gerek en aangepas in hulle geval... 

Jakobus stel dit baie duidelik dat sulke optrede nie strook met ons geloof in Jesus Christus nie. Dit pas hoegenaamd nie by gelowiges nie. Kom ons kyk na drie redes waarom Christene nie so behoort op te tree nie. 

Partydigheid: 

1) is ’n gesindheid wat indruis teen God se karakter en optrede. “Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (5) God is nie partydig nie en Hy trek nie mense voor nie. Dit word ook baie duidelik gestel deur Paulus in Romeine 2:11! “God trek immers niemand voor nie.” (NAV) “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” (OAV)* Hy het ons gekies uit genade nie volgens voorkoms of prestasie nie. Sy onbevooroordeeldheid blyk juis uit die feit dat Hy die armes uitkies as erfgename van die Koninkryk. 

“Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 
en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” (1 Kor. 1:26-28.) 

God kies anders as wat die wêreld kies! Watter skande dat ons as sy kinders, wat onverdiende ontvangers van genade is weer die wêreld se standaarde en denkwyse wil toepas - en die armes en swakkes benadeel of uitstoot ter wille van die rykes of belangrikes. Partydigheid en diskriminasie is wêreldgesindheid van die eerste water! 

2) is teen die koninklike wet van God. “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself," dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.” (8,9) Hierdie wet sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” Gehoorsaam ons hierdie wet as ons mense uitstoot, verag, teen hulle diskrimineer of volgens ons eie standaarde klassifiseer? Nee! As ons mense voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangriker lyk dan oortree ons die wet van naasteliefde. Dan doen ons nie wat God van ons vra nie. Dan staan ons dus skuldig teenoor die hele wet van God! 

3) is ’n uiters gevaarlike praktyk in die lig van die komende oordeel. “Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.” (12,13) Onbarmhartige en gevoellose optrede weens ons beoordeling van mense sal ernstige gevolge hê by die eindoordeel. “Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets... Iemand wat ander mense sonder werklike liefde behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar.” (Blye Boodskap) “Jakobus sluit aan by dit wat Jesus geleer het : Salig is die barmhartiges want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 

VAT SAAM! 

-Partydigheid en onregverdige diskriminasie is verwoestende kankers wat hartseer en dood bring in ‘n gemeente. Behalwe dat dit die Heilige Gees bedroef lê dit ’n gemeente lam want dit werk in alle opsigte direk teen die liggaamsbeginsel. As die lede wat volgens ons oordeel swak is en minder belangrik lyk uitgesluit word, of weggedryf word dan sal die hele liggaam uiteindelik daaronder ly. (God gee immers van sy kosbaarste geestelike gawes juis aaan die geringstes...) Deur partydigheid, al is dit hoe subtiel word kosbare ledemate geamputeer en bly daar net ’n verminkte liggaam oor. (Terloops, is dit nie wat ons moet erken apartheid ook aan die kerk gedoen het nie? Val ons nie egter maar nog steeds in dieselfde strik nie?) 

-Om onpartydigheid na te streef beteken nie dat ons sê mense is almal dieselfde nie - daar sal altyd armes en rykes, sterkes en swakkes, “dommes en slimmes, lelikes en mooies” en inderdaad verskille in vermoëns of kultuur... Dis ‘n gegewe in ons onvolmaakte wêreld. Onpartydigheid en Christelike liefde beteken egter dat ons niemand op grond van hierdie verskille as onbelangrik sal ag nie, niemand op grond van status, voorkoms of iets dergeliks sal minag en benadeel nie. (En natuurlik onpartydigheid beteken nie dat ons ooit sonde moet goedpraat nie! Dit moet aangespreek word, op ‘n regverdige manier onder almal sonder onderskeid!) 

- DIE GROOT VRAAG : Geliefde is ons bereid om te doen wat God van ons vra? Wat vra Hy? Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit beteken dat alle vorme van diskriminasie - hoe subtiel ook al verkeerd is. Maar positief beteken dit - om alle broers en susters ten volle te aanvaar! Kom ons kyk positief na hierdie saak, ons het ‘n regverdige God wat nie ’n aannemer van die persoon is nie, Hy aanvaar ons volkome in Jesus Christus, ons kan dit bekostig, dit WAAG om andere volkome te aanvaar. Dis waar dit moet begin - ons moet besef en raaksien wie God is, ons moet glo dat ons in Jesus volkome aanvaar word; as ek hiervan seker is dan word dit sinvol, logies, bevrydend, heerlik om ander te aanvaar as God se skepsels in die algemeen, maar spesifiek ons broers en susters in Jesus wie hulle ook mag wees! 

"Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God." (Romeine 15:7)

 
*Dieselfde woord in Grieks wat ons in Jakobus kry. proswpolhmyia


Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους