BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Advertensies. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Advertensies. Wys alle plasings

Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...



Woensdag 01 Junie 2016

PROFIEL VAN ‘N DROSTER

[Ds. Erik van Zyl het onlangs ‘n boodskap in ons gemeente gebring oor Bittereinders en Drosters (ook genoem hensoppers of joiners). Dis natuurlik terme wat uit die hartseer geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog uit kom. Die bittereinders is die ouens wat aangehou het met veg tot die einde toe, die drosters is die ouens wat tou opgegooi het en in sommige gevalle selfs by die vyand aangesluit het. Van toepassing gemaak op die Christelike stryd en wedloop is Bittereinders die mense wat Jesus as Verlosser aanvaar het en tot die einde volhard en vrugdra saam met Hom. (soos Paulus in 2 Tim 4:6-8) Drosters is mense wat eens op ‘n tyd die Here Jesus gevolg het, maar toe omgedraai het. (soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het in 2 Tim 4:10) Gelukkig het ons in die Bybel ook voorbeelde van drosters wat weer betyds teruggekeer het, weer Bittereinders geword en Jesus getrou gevolg het. (soos Johannes Markus)]



Ek wil bietjie dieper ingaan op die vraag : 


Waarom word volgelinge van Jesus dan drosters? 

Wat veroorsaak dat mense omdraai van die geloofspad en moed opgee? Waarom sak mense uit in die Christelike wedloop?

In die gelykenis van die saaier (Lukas 8) gee Jesus self ‘n baie duidelike antwoord. Dis spesifiek die derde groep, die saad wat tussen die onkruid geval het wat vir ons duidelikheid gee oor drosters! In die eerste twee groepe gaan dit oor mense wat eintlik nooit regtig aan die gang gekom het nie, maar in die derde groep gaan dit oor plante wat goed gegroei het, maar geleidelik deur onkruid verstik is en nooit op die ou einde vrug gedra het nie.

DROS HET ‘N GELEIDELIKE AANLOOP.

“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.” (Lukas 8:14)

Die kern gedagte is geleidelike stadige byna ongemerkte agteruitgang. “Gaandeweg.” Onkruid maak nie ‘n plant in een dag se tyd dood nie, die plant word net geleidelik verdring en versmoor... Geleidelike, stelselmatige agteruitgang... Dis die profiel van ‘n droster.

By ‘n droster vind mens ‘n geleidelike versmoring en afkoeling van liefde vir Jesus en sy kinders. ‘n Tanende en kwynende entoesiasme vir Jesus se Koninkryk en die werk van die Here. Die potensiële droster vind al meer verskonings om nie die byeenkomste van die heiliges by te woon nie; daar is net altyd iets belangriker... ‘n Al hoe groter geneigdheid om kompromie met sonde te maak... “Ag, dis darem nie so erg nie, ek doen dit net een keer, niemand doen skade op nie....” Verskonings, verskonings... 

Dis interessant dat Jesus die meeste klem lê op hierdie derde groep en drie konkrete dinge noem wat mense geleidelik doodwurg. Dit gaan dalk vir ons ongemaklik wees om hierdie dinge te hoor. Maar luister maar, want dalk lê Jesus sy vinger hier op ‘n seerplek in jou lewe wat dringend aandag moet kry...

BEKOMMERNISSE 

Ons spot partykeer so oor al ons sorge en bekommernisse, maar dis ‘n ernstige saak wat jou geestelike lewe kan vernietig, wat jou ‘n droster kan maak as jy dit nie reg hanteer nie. Die harde feite van die lewe is natuurlik dat almal van ons te make het met situasies wat dreig om bekommernis by ons te veroorsaak. Moeilikheid en bekommernis gaan oor ons pad kom, maar die vraag is hoe ons dit moet hanteer Jesus praat duidelik daaroor in Lukas 12:29-31. “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” Vertrou op God, God wat weet wat ons nodig het. Hy is immers ‘n Vader wat sorg. Ook Paulus het hieroor geskryf. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6.) Gebed, dankbaarheid en tevredenheid is die Christen se teenvoeter op bekommernisse! Petrus se raad kom op dieselfde neer. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7.)) Moenie in bekommernisse vasval nie, moenie dat vrees oor die toekoms jou fokus van God af wegvat nie. Hanteer dit biddend en met vertroue. Ja, bekommernisse is ‘n werklikheid, ons kan dit nie miskyk of ontken nie, maar God is ‘n groter werklikheid! Maak so ‘n realistiese som... sal die God wat vir die Israeliete in die woestyn gesorg het, wat vir Elia by die spruit Krit gesorg het, wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun vir ons gegee het, dan nie ook in alle opsigte vir ons volgens sy wil kan sorg nie?

RYKDOM 

Dis ‘n baie sensitiewe saak, maar vir Jesus baie belangrik. Teen geen ander ding het Jesus meer gewaarsku nie. Geen ander ding hou meer mense uit die hemel as rykdom nie. Rykdom is dié groot rede waarom krygsmanne van Jesus wegdros! Dis nie so eenvoudig om die gevaar van rykdom te definieer nie, want dit gaan nie noodwendig oor die grootte van jou bankbalans of die waarde van jou bates nie. Dit gaan daaroor dat geld en besittings geleidelik vir jou die belangrikste in die lewe geword het. Besit begin jou lewe bepaal. Ek meet myself aan wat ek het of nie het nie. Niemand wil maklik erken dat rykdom of ‘n liefde vir geld vir hom ‘n probleem geword het nie. So, hoe weet ek dat geld vir my ’n gevaar begin word? Hier is vier toetse wat jou kan help as jy eerlik wil weet : 

Rykdom raak vir my ‘n strik : 

  • As ek ander mense begin benadeel om meer geld te maak. (Dis veral my vrou en kinders wat eerste verwaarloos word, al gebruik ek die verskoning van "ek werk juis so hard om vir hulle 'n toekoms te bou...")
  • As ek my afsprake met God en sy gemeente mis ter wille van meer besigheid of invloed. ("Ons kon nie by die kerk wees nie, want ek het my vennote vir 'n jag gevat!")
  • As ek oneerlik begin raak om meer of vinniger geld te maak. 
  • As ek daarvan hou om my rykdom uit te stal. Ander mense moet sien watter model motor ek kan bekostig, my maats moet tog net raaksien dat ek die regte handelsmerk klere en tekkies dra! (Tieners, dis nou daai “brands”!) 

Hoor Paulus se waarskuwing in 1 Timoteus 6:6-11. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

GENIETINGE 

Dit gaan hier oor hedonisme, die jaag na plesier as die hoogste doelwit van my lewe. My lewensdoel is om te soek hoeveel plesier ek daaruit kan kry. Natuurlik gee God vir ons baie dinge om te geniet, maar as genot my doelwit word, raak dit gevaarlik. As genot geleidelik die plek van God begin inneem is ek besig om ‘n droster te word. “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” (2 Tim 3:4) As plesier my tyd steel wat ek aan God moet gee, as plesier my sag maak vir sonde, as plesier my aptyt vir God en sy Woord demp (my stokperdjies of ontspanning maak my minder lus vir God se Woord), is die onkruid van genietinge besig om my dood te wurg!

INTERESSANT: GAAN KYK MAAR, DIE REKLAMEWESE IS JUIS GEMIK OP DIE DINGE WAARTEEN JESUS SO ERNSTIG WAARSKU -  IN DIE MEERDERHEID ADVERTENSIES WORD DAAR GESINSPEEL OP ONS VRESE EN BEKOMMERNISSE OF ONS WORD AANGESPOOR EN VERLEI TOT DIE NAJAGING VAN GELD EN PLESIER AS DIE HOOGSTE VREUGDES IN HIERDIE LEWE!


Hierdie dinge is gevaarlik en ek moet daadwerklike stappe neem om hierdie onkruide uit te roei. As hierdie dinge aanwesig is in my lewe is dit ‘n aanduiding dat ek dalk besig is om ‘n droster te word! As bekommernisse my wil oorweldig moet ek doelbewus fokus op God se Vaderlike getrouheid en liefde, as rykdom vir my te belangrik word moet ek doelbewus fokus om skatte in die hemel bymekaar te maak (belê jou geld en lewe in die koninkryk) as genietinge my van die spoor af wil bring moet ek doelbewus my vreugde soek in God en sy werk!

LEEF DOELBEWUS IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING!

Mag God hierdie gelykenis van Jesus gebruik om ons aan te spoor tot volharding, nie tot ‘n “bitter einde” nie, maar inderdaad tot ‘n heerlike einde, die beloning wat wag op elkeen wat volhardend vrug gedra het!


[Hierdie indrukwekkende kremetart oos van Tsintsabis in die Grootfontein distrik is 'n pragtige voorbeeld van 'n "Bittereinder", as jy daaraan dink hoeveel droogtes en bedreiginge hy al getrotseer het om so groot te word!]