BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Goeie Werke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Goeie Werke. Wys alle plasings

Vrydag 04 Oktober 2019

NAAK OP DIE SYPAADJIE

- Die genade wat ek in Jesus ontvang het, maak my genadig betrokke by ander! 



In ‘n bekende Europese stad, kom ons sê maar Amsterdam was daar ‘n Bybelskool net langs ‘n berugte rooiligbuurt. ‘n Gevaarlike gebied vol van misdaad, prostitusie en ellende. Een oggend vroeg ry een van die dosente wat klasgee by die Bybelskool met sy fiets (soos dit ‘n goeie Nederlander betaam) deur hierdie gebied en sien ‘n sleg vernielde en beseerde jong dame halfpad naak op die sypaadjie lê. Slagoffer van ‘n aanranding. Hy besef hier is ‘n potensiële skandaal so hy maak maar of hy haar nie sien nie, draai sy kop weg en ry vinnig verby. Kort daarna loop een van die Bybelskoolstudente met sy kitaar op sy rug en Bybelsak oor sy skouer langs dieselfde roete. Ook hy sien die jong dame en ook hy besef hierdie is ‘n moeilike situasie. Hy onderdruk die stem van sy gewete, steek die straat oor en loop op die oorkantste sypaadjie verby. Nie lank daarna nie kom daar nog iemand verby. Hy sien die vrou en hy gaan staan. Hy is een van die onlangse Moslem immigrante. Hy gaan buk by haar, gooi respekvol sy jas oor haar en bel dadelik die nooddienste. Hy tref al die nodige reëlings vir haar mediese sorg en laat sy selfoonnommer as sy nog enigiets nodig sou kry waarmee hy kon help. (Dis maar net 'n storie waarvan ek die essensie HIER gekry het)

[En as ek en jy nou dalk dink ons is beter as hierdie dosent of Bybelskoolstudent, dan maak ons 'n groot fout...]


Natuurlik hoor ons elkeen hierin iets van die dramatiese en aangrypende boodskap van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Kom ons lees dit in Lukas 10:25-37. 

BETEKENIS EN KONTEKS 

Die Barmhartige Samaritaan is natuurlik ‘n baie bekende gelykenis, maar wat beteken dit?* Hoe raak dit ons? Die algemene oppervlakkige verklaring sou kon wees – “Bewys liefde aan jou medemens soos die barmhartige Samaritaan en jy sal die ewige lewe beërwe…” Maar is dit regtig so? Kan ons dan deur hard te probeer die ewige lewe verdien? Wat dan van die evangelie? 

Dis tog so belangrik dat mens vir die verstaan van enige Bybelgedeelte na die KONTEKS sal kyk. Die onmiddellike konteks en ook die wyer konteks. Anders gaan ons VERKEERDE AFLEIDINGS maak! 

Dié gelykenis is ‘n onderdeel van ‘n groter gesprek. ‘n Wetgeleerde het probeer om Jesus met ‘n moeilike strikvraag uit te vang. “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (25) Nou moet ons dadelik die ore spits - in hierdie gesprek en daaropvolgende gelykenis, gaan dit oor iets meer as 'n morele kwesie, maar inderdaad oor die heel belangrikste saak wat elkeen van ons raak:

HOE KRY EK DIE EWIGE LEWE?

Jesus antwoord met ‘n teenvraag. “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (26) Dit was dikwels Jesus se styl. Die wetgeleerde gee ‘n mooi antwoord uit die Skrif. “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Maar nou laat Jesus hom in ‘n strik trap. “Doen dit en jy sal lewe!” (28) Die wetgeleerde weet baie goed hy kan dit nie regkry nie! Hy weet, Jesus weet ook hy kan dit nie regkry nie. (Ek en jy weet mos ook as ons eerlik is ons kry dit nie reg nie) 

SOEK ‘N VERSKONING 

So, die wetgeleerde weet hy is nou in ‘n hoek, as hy eerlik sou wees moet hy erken dat ‘n mens nie deur iets te doen die ewige lewe kan verkry nie! En omdat hy weet hy is vas en veroordeel staan soek hy ‘n verskoning. “Maar hy wou homself handhaaf, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” (29) OAV - “wou homself regverdig.” ‘n Uitkomkans om nie sy verantwoordelikheid teen sy naaste na te kom nie – want wie is dan nou my naaste? Dis mos maklik om verskonings uit te dink waarom hierdie of daardie een nie my naaste kan wees nie. En dis dan hier waar Jesus hierdie aangrypende en radikale gelykenis vertel… Ek en jy ken mos die gelykenis... 

DIE GEBEURTENIS OP PAD NA JERIGO 

Die gelykenis speel af in 'n "real life setting." Die pad na Jerigo was inderdaad ‘n gevaarlike kronkelpaadjie deur die heuwels. Rowers kon maklik daar skuil en toeslaan. Priesters en Leviete het die pad dikwels gebruik na of van Jerusalem as hulle hul diensbeurte by die tempel moes doen. Nou sien hulle ‘n man langs die pad. Heel waarskynlik sou hulle nie op ‘n afstand kon sien of hy nog leef of nie. Dit lyk al asof hier 'n moeilike en ongemaklike situasie homself voordoen... Een probleem - Volgens die Mosaïese wette mag ‘n priester nie aan ‘n lyk raak nie, want dit sou hom onrein maak. “En hy mag by geen dooie kom nie, selfs aan sy vader en moeder hom nie verontreinig nie;” (Levitikus 21:11) Heel waarskynlik sou hy naak of halfnaak daar lê, want ‘n kledingstuk was een van die kosbaarste besittings wat geroof sou wees. Nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe dit ook al sy, ‘n onaangename en grusame situasie, nie iets waarby mens graag sou betrokke wou raak nie. 

Maar toe kom ‘n Samaritaan verby. Deel van ‘n veragte bastervolk wat deur die Jode geminag en gehaat is! En as minderwaardig en onrein beskou is. Juis hý help hierdie ongelukkige man. En hy doen meer as wat mens van hom sou kon verwag. Hy vat hierdie man se volle onkoste op homself. Hy staan in vir al die uitgawes wat daar mag wees. Dis iets groter as wat dit vir ons mag klink. Onthou destyds was daar nie allerhande ingewikkelde kredit reëlings nie. As jy nie jou skuld kon betaal nie, word jy die persoon vir wie jy skuld se slaaf! Hierdie man sou ernstige beserings gehad het, sy herstel in die herberg sou lank kon duur en dit sou groot skuld kon meebring. Die Samaritaan vat volle verantwoordelikheid daarvoor en verhoed dus die hierdie man ‘n slaaf sou word. En loop die gevaarlike risiko om dan self 'n slaaf te word...

Die slotsom van die gelykenis is duidelik : "Meneer die wetgeleerde, jy moet nie vra wie jou naaste is nie, jy moenie probeer verskonings uitdink by wie jy nie betrokke wil raak nie. Jyself moet ‘n naaste word vir elkeen wat oor jou pad kom! En aan jou liefde vir daardie persoon mag daar geen perke of afsnypunt wees nie!" Uiters radikaal. Dit moet nou tot die wetgeleerde deurdring dat sulke liefde eintlik onmoontlik is en dat hyself dus nie iets kan doen vir die ewige lewe nie! 

JESUS ONTBLOOT DIE DWAASHEID EN ARROGANSIE VAN ELKEEN WAT DINK HY KAN DEUR GOED TE DOEN OF 'N PAAR STUKKIES GODSDIENS DIE EWIGE LEWE VERWERF!

Nou wat wil Jesus dan sê oor hoe ons die ewige lewe kan kry? 

KONTEKS VAN DIE KRUIS 

Dis waar die wyer konteks so belangrik is. “ En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,” (Lukas 9:51) Die oorhoofse konteks van hier af in Lukas se geskrif is dat Jesus op pad is na Jerusalem om aan die kruis te sterf! Hy gaan die verlossing vir sondaars bewerk, juis vir mense wat dit nie regkry om God en hulle naaste volmaak lief te hê nie! Dis die groot probleem met die wetgeleerde. Hy wil hom nie aan Jesus onderwerp nie. Inteendeel hy verwerp Jesus en probeer Hom mos juis met strikvrae uitvang. Hierdie konteks word bevestig deur die paragraaf wat net na hierdie gedeelte kom. Jesus by Marta en Maria. Marta is die flukse een en sy werk hard in die kombuis. Maria sit maar net aan Jesus se voete. Marta kom bekla haar lot. Maar wie word tereggewys? “Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie." (41,42) Marta is die een wat hier fouteer! (Sy maak in 'n sin dieselfde fout as die wegeleerde - sy fokus nie op Jesus self nie) Jesus lig uit dat net een ding nodig is – Hyself. Hyself as die een wat op pad is na die KRUIS! Dis wat Maria gekies het. Een ding is nodig – om Jesus te ken! Dis wat die wetgeleerde ook nie besef het nie -Hy het Jesus nodig, die Jesus wat op pad is na die kruis om versoening te doen vir sondaars. Deur wetsonderhouding sal niemand gered word nie, maar alleen deur volle vertroue in Jesus! (Vgl. Rom 3:20-24, 4:1-8) Wat Paulus leer en wat Jesus geleer het, verskil immers nie!

EK EN JY HET DIE GEKRUISIGDE NODIG! 

Is dit al wat die gelykenis vir ons sê? NEE!

GENADE BRING VERANDERING 

Jesus verlos ons van die straf van die wet omdat ons dit nie volledig kan nakom nie, maar wie Hom as Here het word juis in staat gestel om te begin anders leef volgens die diepste bedoeling en standaard van die wet. Die opdrag aan die wetgeleerde : “Gaan maak jy net so!” maak wel sin as ‘n opdrag aan elke volgeling van Jesus. As ons die vryspraak gekry het deur geloof in Jesus alleen rus die verpligting van heiligmaking op ons. Mense wat vergifnis by Jesus ontvang het sal begin anders leef. “Ja, maar niemand is mos volmaak nie!” Dis inderdaad so, maar dis ook so dat as jy Jesus ontmoet het gaan jou lewe wys dat jy Hom ontmoet het. 

As jou lewe dieselfde bly het jy Jesus nog nooit ontmoet nie!

John Newton die goddelose man wat in die slawehandel betrokke was en radikaal tot bekering gekom het (die skrywer van “Amazing Grace”) het dit so treffend opgesom: 

I am not what I ought to be,
I am not what I wish to be,
I am not what I hope to be;
but, by the grace of God,
I am not what I used to be. 

Diegene wat deur die geloof in Jesus barmhartigheid ontvang het, kan nooit dieselfde bly nie en sal ook aan ander barmhartigheid bewys. Hou op om verskonings te soek en begin almal wat God op jou pad plaas radikaal lief te hê! Raak betrokke by die naak gewonde op die sypaadjie!** 

*Vir ‘n deeglike uitleg en toepassing van hierdie gelykenis luister na Don Carson. Ek het uiteraard maar as net ruimskoots van sy gedagtes gebruik gemaak. 

** “What is at stake then and now is the question of whether we will use the God-given revelation of love and grace as a way of boosting our own sense of isolated security and purity, or whether we will see it as a call and challenge to extend that love and grace to the whole world.” N.T Wright 


Vrydag 09 Januarie 2015

ONTVANGERS VAN GENADE

- het ‘n duidelike roeping en opdrag.

Ons lê dikwels klem op ons planne en programme, ons visies en ambisies. (veral hier aan die begin van ‘n jaar praat en dink ons dalk meer daaroor) Die kind van God behoort iemand te wees wat sal besef : God het ‘n baie spesifieke plan en doel vir my. Die vraag is natuurlik, wat is daardie plan? Kan ek dit weet? Moet ek probeer uitvind?

Die juweelteks van EFESIËRS 2:8-10 vat als so mooi en gebalanseerd saam :

“8.Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.  9.Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  10.Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die oorheersende tema hier  is genade. Dis vandag egter baie moeilik om oor die woord genade te preek sodat mense nog daaroor opgewonde raak. Min mense hoor nog die musiek in die woord “genade.” Die probleem lê nie by die begrip genade self nie, maar by ons huidige kultuur en verstaansraamwerk. Die mens van vandag sien homself nie juis as iemand wat genade nodig het nie. Genade is iets mooi, maar niemand stel daar in belang nie. (Dis vir baie amper so iets soos om ‘n plaas in Zimbabwe te erf – niemand wil dit hê nie!) Hoekom?

Mense sê : “Ag wat God is ‘n God van liefde, Hy sal niemand oordeel en hel toe stuur nie.  Ek het nie juis genade en vergifnis nodig nie.”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” (Openbaring 20:12)

Mense sê : “Ag wat daar bestaan nie juis meer iets soos sonde nie.” As mense in onsedelikheid leef, dan sê ons so half grappig : “Hulle is maar ‘n bietjie stout...” (Ons tydskrifte het kort-kort ‘n artikel oor een of ander filmster of mode heldin wat nou ware liefde ontdek het en by haar kêrel ingetrek het... so min mense besef nog iets van die aakligheid van ‘n onsedelike lewe) As jong mense hulle aan drank te buite gaan hier in die feesseisoen, dan word dit maar afgemaak : “Ag, jong hulle kuier bietjie hard, maar nou ja hulle het hard gewerk deur die jaar...” 

Watse dwase redenasie!  God se Woord sê : “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie." (1 Kor 6:9-10)

Mense sê : “Ag wat ek leef darem ‘n redelike ordentlike lewe. Baie kerklik en godsdienstig. Bekering en genade is eintlik bedoel vir tronkvoëls, moordenaars en Moslems!”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie...” (Rom 3:10)

Ten spyte van al hierdie dwalings, werk die Gees van God tog nog steeds vandag in mense se harte en oortuig hulle van sonde sodat hulle die genade in Jesus vasgryp deur die geloof.  So kry ons redding van sonde, dood en hel. Genade bly die mooiste woord in die Bybel. Genade is kosbaar vir mense wat  die aakligheid van hulle sonde besef en soos Jesaja uitroep : “Wee my, ek is verlore...” (Jesaja 6:5)  Genade is oneindig soet vir mense wat soos die tollenaar in die gelykenis bid : “O, God wees my sondaar genadig...”

IS JY AL ‘N ONTVANGER VAN GENADE?

Genade is nog net so kosbaar en heerlik vir die ontvangers daarvan vandag soos vir die Verlore Seun. (terwyl dit vir baie ander net so onverstaanbaar en onaanvaar bly soos vir die OUDSTE SEUN) Genade is nog steeds “onbeskryflik groot” Dis nog steeds “Amazing Grace” Dit gee vir ons die redding as geskenk, ‘n heeltemal gratis geskenk, sodat ons niks het om oor te spog of te roem nie! Genade bring aan God alleen die eer!

Genade is nie bloot ‘n wonderlike feit  nie, dit het ook ‘n wonderlike effek. Redding uit genade het ‘n rimpel effek kan mens sê. Gevolge wat sigbaar en wyer uitkring! Die ontvanger van genade is ‘n nuwe skepping. (Vgl. 2 Kor. 5:17) Genade laat jou nie onveranderd nie. Ons lees hier dat die ontvangers van genade geskape is met ‘n baie spesifieke doel. Hier kom ons nou by die antwoord op die vraag oor wat God se doel vir ons is. (10)

GENADE BEVRY EN RIG ONS TOT GOEIE WERKE!

Goeie dade! Goeie werke!  Hoor ons? (So baie mense dink dat goeie werke ‘n Roomse ding is. Nee dis ’n Bybelse ding as ons dit in die Bybelse volgorde verstaan as die uitvloeisel van genade.) Goeie werke is God se doel en agenda vir ons! Hier word ‘n belangrike ding oor goeie werke gesê. (Die OAV  sê dit baie duideliker) “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Goeie werke het nog steeds ‘n genadekarakter. Dis nie ons prestasie en ons vernuftigheid nie! Nee, God het dit klaar voorberei en moontlik gemaak  vir ons. Dis ‘n pad wat Hy klaar uitgelê het en ons kan net daarop loop! Goeie werke kom ook van God af, dis ook ‘n gawe van God, dis steeds onverdiende genade. Hoe so? Deur die geloof in Jesus het God ons vrygespreek, sodat ons ‘n nuwe status het. Ons is nou nie meer oortreders in God se oë nie, maar kinders, regverdige kinders.  God hou van sy kinders en vind vreugde in hulle dade van dankbaarheid en gehoorsaamheid. (Trouens, al die sogenaamde goeie dinge wat mense buite Christus doen, is wegwerplik voor God. Wanneer goddelose film en popsterre kinders uit Afrika aanneem, tel dit nie in God se oë as goeie werke nie...) Deur die geloof in Jesus gee God vir ons die Heilige Gees wat ons in staat stel om Jesus se voorbeeld te volg. Goeie werke is om soos Jesus te leef in gehoorsaamheid aan Sy Vader. 

God se plan en agenda vir ons wat genade ontvang het is eenvoudig - leef soos Jesus! Gelykvormigheid aan Jesus.

Hoe lyk Jesus se lewe? Jesus het volkome onder die beheer van die Heilige Gees gelewe en dus altyd die vrugte van die Gees  volmaak vertoon. Dit wat die Gees in Jesus se lewe gedoen het wil Hy ook in ons lewe doen. God se doel vir ons,  die goeie werke wat God vir ons voorberei het is dus nie nuwe snaakse goed nie, maar 'n lewenswyse wat die vrugte van die Gees vertoon. (Galasiërs 5:22,23) As jy ‘n ontvanger is van genade, gered is deur die geloof alleen, dan het God jou bedoel en bestem vir 'n radikaal ander lewe gekenmerk deur: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Konsentreer hierop. Laat ons die opdragte van God se Woord en die geleenthede wat Hy oor ons pad bring uitvoer en benut volgens hierdie beginsels. Dis God se plan vir jou, ook in 2015! Oor die detail van waar en hoe hoef jy jou nie te bekommer nie...


Vrydag 24 Oktober 2014

SKOKWOORDE

- wat die valse hoop van kansvatters en verneukers gaan vernietig.

Op die laaste dag van afrekening gaan daar onaangename verrassings wees... Jesus stel dit baie skerp :



Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.


Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

(Matteus 7:21-23)

Mense wat baie seker was van hulle saligheid gaan die verdoemende woorde van Jesus moet aanhoor : “Gaan weg...!” Hierdie is van die ernstigste woorde en waarskuwings van Jesus. Dis skokwoorde en juis daarom moet ons onverdeelde aandag gee en probeer verstaan wat Hy bedoel.

GERED DEUR WERKE?

Onmiddellik kom ‘n vraag by mens op : “Hoe nou, leer Jesus redding deur werke? Moet ons dit regkry om God se wil te doen voor ons verlos kan word? Ons vier juis dan in Oktober* die Protestantse Reformasie van die 16de eeu wat ons weer geleer het dat ons nie redding vind deur werke en prestasies nie, maar net deur persoonlike geloof in Jesus.” 

Wees gerus : Redding kom net deur geloof in Jesus. Keer op keer het Jesus self hierdie waarheid bevestig.

Nee, Jesus leer nie redding deur verdienste nie, Hy wil wel ons oë open vir die groot gevaar van selfmisleiding, van valse vrede, valse geloof, valse sekerheid, vals belydenis! In die voorafgaande gaan dit oor misleiding deur vals profete (15-22), hier val die klem op selfmisleiding. In ‘n sekere sin is dit net ‘n bevestiging van dieselfde beginsel. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. ‘n Christen sal aan sy dade geken word. ‘n Christen word nie deur sy dade gered nie, maar deur geloof. Geloof bly nie alleen nie, dra goeie vrugte.

Die boodskap van die Reformasie was : Redding deur geloof alleen. Baie kerklidmate het dit verander na : Reddig deur skyngeloof.

Net so min as wat die Bybel (en Reformatore) redding deur werke leer, net so min leer hulle redding deur vals geloof!

Kom ons kyk na twee gevare wat in Jesus se waarskuwing onderstreep word:

1.Om uiterlik die regte feite oor Jesus te glo en te bely beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Verstaan goed, Jesus kritiseer nie mense wat sê : “Here, Here” nie. Jesus is nie daarteen dat ons sy naam bely nie. Inderdaad moet ons kan sê : “Jesus is die Here, my Here.” Ons moet sonder skaamte sy naam voor mense bely. Die punt is egter moenie jou sekerheid bou op ‘n belydenis wat jy lank gelede afgelê het of ‘n rympie wat ek agter iemand aan gebid het nie. Vra jouself of jy daardie belydenis uitleef? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? As jou geloof eg was sal dit tot sigbare verandering lei.

Uiterlike belydenis van die waarheid alleen is nie genoeg nie, dit moet gevolg word deur ‘n veranderde lewe volgens God se wil. Spesifiek God se wil van heiligheid soos uitgespel in die res van die bergrede. God se wil wat dieper gaan as net ‘n oppervlakkige kyk na byvoorbeeld die sesde of sewende gebod. God se wil deur vrugte te dra van lewensheiliging en gehoorsaamheid. Anders gestel ‘n belydenis wat nie opgevolg word deur dade nie, is ‘n vals belydenis. Reeds in die Ou Testament verwyt God sy volk in Maleagi en vra : Julle noem my Here, maar waar is die respek vir my?" Duie Nuwe Testament maak dit duidelik dat nie alle geloof, egte geloof is nie! Geloof wat nie tot werke lei nie, is volgens Jakobus, 'n dooie geloof! Dis tog ‘n algemene logiese beginsel. ‘n Man wat vir ‘n dame sê : "Ek het jou lief, jy is my enigste liefde", maar nooit tot trou wil kom nie, se belydenis van sy liefde is mos vals... Dis die enigste logiese afleiding.

2.Om vol ywer en sukses te wees vir die Christelike saak beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Jesus kritiseer nie mense vir hulle ywer en entoesiasme nie. Hy sê net nie almal wat sulke ywer openbaar sal noodwendig ingaan in die Koninkryk nie. Daar is iets soos valse en misplaaste ywer! Jesus noem voorbeelde van sulke ywer. (22) Om te kan preek (profeteer) bewys nie dat jy ‘n noodwendig ‘n Christen is nie. Dink maar aan die Ou Testamentiese voorbeelde van Bileam en koning Saul. Hulle kon profeteer, maar dis duidelik dat hulle nie ware dienaars van God was nie!

Ook selfs die mag om duiwels uit te dryf bewys nie ek is noodwendig ‘n kind van God nie. (Selfs Judas Iskariot kon dit doen soos ons kan aflei.) Ons moenie uiterlike gawes en wonderwerke met genade verwar nie! Almal wat gawes het, het nie noodwendig egte genade ontvang nie, want daar is valse gawes. Die Egiptiese towenaars was sonder God se genade, maar kon dieselfde wonders doen wat Moses en Aäron gedoen het. Wonderwerke opsigself sê niks! In alle godsdienste vind daar beweerde wonders plaas!

DIE PROBLEEM

Jesus sê baie duidelik wat hierdie valse gelowiges se probleem is. Hulle verwerp en oortree God se wet.** (23) Hulle verset hulle teen God se opdragte. Dis baie duidelik, ook in die Nuwe Testament gee God opdragte. Daar is dinge waarvan Hy hou en dinge waarvan Hy nie hou nie. Paulus,wat absoluut klem geplaas het op redding deur geloof alleen gee ‘n soortgelyke waarskuwing as Jesus in Galasiërs 5:19-21. "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." En opvallend, dis juis in hirdie brief wat Paulus dit die sterkste onderstreep dat redding alleenlik deur geloof geskied!  (Sien ook 1 Korintiërs 6:9,10. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”) Dit beteken nie ‘n kind van God kan nooit in sondes, ook dié sondes val nie. ‘n Kind van God kan inderdaad struikel, maar nie sorgeloos in hierdie sonde bly lê en volhard nie... Wie God se genade as denkmantel en verskoning gebruik om aan te hou sondig speel met vuur... Hieroor is die brief van Judas baie eksplisiet duidelik... (kliek op GOGGAS)

EN NOU?

Wat staan ons te doen? Ondersoek jouself of jou geloof in Jesus eg is. Vra jouself of jy jou belydenis ernstig bedoel. Die Bybel roep ons voortdurend op tot selfondersoek. Vra jouself of daar egte vrugte van heiligheid, toewyding en oorwinning oor sonde in jou lewe is. Dit sal die spontane reaksie wees van elke kind van God, ook nou! Trouens, as hierdie woorde van Jesus jou nie onrustig maak nie, is daar fout. Juis die opregte gelowige sal dit ter harte neem, opnuut sy sonde besef en na Jesus vlug as enigste hoop. "Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas..."

Positief gestel : Wie Jesus liefhet en in Hom glo, sal erns met sy opdragte maak! Dit word saamgevat in die opdrag van die liefde. Die liefde tot God en my medemens. (Johannes 14:15,21)

Gryp Jesus se offer vas en dank Hom deur die wil van God te soek en te doen!

Om 'n dankbare erfgenaam van die Reformasie se herontdekking van die evangelie te wees, behels meer as net intellektuele instemming tot die belydenisskrifte.  Dit behels persoonlike, egte geloof, 'n geloof wat sigbaar word in 'n heilige lewe volgens God se wil.

*Hervormingssondag word op die naaste Sondag aan 31 Oktober gevier, omdat Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het en dit as die begin van die Protestantse Reformasie beskou word.

**Wat word hier met “wet” bedoel? Die tien gebooie? Die hele tora, insluitende die voedselwette oor rein en onrein diere? En wat dan van die besnydenis? Om dit kort te stel : Dit gaan oor die hele tora (wet van Moses) soos dit deur Jesus verklaar, verskerp en geherinterpreteer word, spesifiek in die Bergrede, maar ook in die res van die evangelies en die neerslag daarvan in die Nuwe Testament as geheel. Jesus as die ware Moses, die Seun van God het die volmag om dit te doen. Dit lei immers nie tot ‘n afgewaterde etiek en standaard van lewensheiliging nie, maar tot ‘n baie hoër norm van heiligheid. Vanuit hierdie perspektief weet ons : ons hoef ons nie meer aan voedselwette te hou (Markus 7) of die besnydenis te beoefen nie. (Handelinge 15 en die Galasiërs brief) Ons verstaan nou die tora (wet) deur die VERGROOTGLAS van Jesus se lewe, woorde en afgehandelde offer! (Vir meer oor die Joodse Sabbat en voedselwette, kliek op SKADUWEE)


Die groot Hervormers : Luther, Calvyn, Zwingli.

Donderdag 25 April 2013

WYSHEID UIT WARSKOU


- “ek gee dit vir Jesus.” 


Onlangs het ek ‘n ou boek, TOWERS TO ETERNITY nadergetrek en deurgeblaai. Dit vertel die avontuurlike verhaal van Paul Freed en die stigting van Trans World Radio wat die evangelie oor die lug versprei. Dis ‘n pad van visie, geloof, waagmoed en natuurlik ook offers, waarop God mense moes lei om so ‘n werk te kon verrig. 

Aan die einde van die boek meld hy ‘n aangrypende gebeurtenis wat die essensie van gehoorsame offerhande uit liefde vir my so mooi saamvat. Freed vertel : 

Toe ek in Pole was, het twee jong Christenmans my deur die stowwerige strate gelei van ‘n dorpie naby Warskou om ‘n Christen weduwee te ontmoet. Sy het in ‘n eenkamer gehuggie gebly, sonder enige van die wêreld se vreugdes, maar haar stralende gesig het my vertel dat sy ‘n kind van die Koning was. 

Toe my vriende my voorgestel het as die president van Trans World Radio, het sy gesê : “O, ek weet God het u hierheen gestuur. Ek bid al lank vir u. Ek wil u vertel wat God vir my gedoen het.” 

Sy het my na die deur toe gelei en straataf gewys: “Sien u daardie klein huisie daar oorkant? Een aand het vriende my na hulle huis genooi en my voor die radio laat sit. Vir die eerste keer het ek van Jesus Christus gehoor. My seun en dogter het ook geluister. Ek kan nie vir u die vreugde beskryf wat ons almal gehad het, toe ons op ons knieë neergeval het aan die einde van die uitsending en Jesus daardie aand as ons persoonlike Saligmaker gevind het nie. 

Terwyl ek in haar kamer rondkyk na die ooglopende armoede en besef hoe moeilik dit vir haar moes wees, het ek gesê : “Ek voel so jammer vir jou.” 

Haar antwoord was eenvoudig maar diep. “Voel jammer vir my? Moenie jammer voel nie. Ek is die gelukkigste vrou op aarde. Ek het alles, ek het Jesus Christus.” 

Met ons vertek het sy my arm aangeraak en gesê : “Daar is tog iets wat my hartseer maak. Dertig miljoen mense in my land het Jesus nodig. Waarom is daar net een klein evangelie program ‘n week na dertig miljoen mense? Waarom net een?” 

Ek het gedink die antwoord is vanselfsprekend. “Omdat ons nie die geld het om meer programme op te sit nie”, het ek gesê. 

“O, is dit die probleem? Is dit die probleem?” 

Haar gesig het verhelder toe sy na die hoek van die kamer loop. Ek het gesien hoe sy ‘n klein kratjie van die muur afhaal. Onderin was ‘n koevert wat sy gevat en vir my gebring het. 

“Hier, meneer, dis al wat ek het. Gebruik dit om meer programme uit te saai, sodat meer van my mense hier in Pole van Jesus Christus kan hoor soos ek het. Vat dit asseblief.” 

Ek het in die koevert gekyk en ‘n paar note en munte gesien. Dit het moontlik als en als so ‘n dollar en ‘n half bedra. Ek het my kop geskud en gesê : “Nee, ek kan dit nie vat nie.” 

Ek het geweet dit was al wat sy gehad het, miskien al wat tussen haar en hongersnood gestaan het. 

Sy het direk na my gekyk en met die waardigheid van ‘n koningin gesê : “Meneer, ek gee dit nie vir u nie. Ek gee dit vir Jesus Christus.” 

Ek dink dat wanneer ons kollektes en donasies, ons feeste en verkopings, ons sopkombuise en kombersaksies nie hierdie bogenoemde element bevat nie, is dit als tevergeefs. Goeie werke wat nie gedoen word vanuit geloof in Jesus en vir Jesus nie, is nie ware goeie werke nie! Goeie werke is dit wat uit ‘n evangelieverwarmde hart opborrel om dank aan Jesus te bring... Iets heel anders as die "Social Gospel"


*TOWERS TO ETERNITY, Paul.E. Freed, Texas 1968,