BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Potskraapsel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Potskraapsel. Wys alle plasings

Maandag 26 Augustus 2013

BLOMMELAND BLITSBESOEK

- vinnig, vrugbaar en verrykend.



Soms moet mens maar sommer net oë toeknyp en iets mals aanvang, soos in ‘n mini avontuurtjie. Ek het tans langverlof en het besluit om gou vir my oudste dogter Marisja die blomme in Namakwaland te gaan wys. Ekself het dit tot dusver ook nog maar net op prentjies gesien. As kinders het ons ‘n hele paar keer op die N7 na ons familie in die Kaap provinsie gegaan, maar dit het gedurende Desembermaande gebeur en dan is Namakwaland ‘n dorre bakoond waar mens liewers so min tyd as moontlik wil mors op pad see toe.

Ek en Marisja het in ‘n klein igloe tentjie gekamp en redelik Spartaans oor die weg gekom. As ons vooraf rêrig besef het hoe koud en nat dit hierdie tyd van die jaar in die blommestreke kan word, sou ons seker twee keer gedink het. Maar goed dit was op die ou end net drie aande in Suid-Afrika soos ons met ‘n byna blitzkrieg die pragtige blomme wêreld “verower” het. Of is dit dalk nou ons wat verower is? Inderdaad is hierdie kleurespel van verskeidenheid hartsverowerend en maar net weereens ‘n bevestiging van wat ons in Romeine 1 vertel word. God se onsigbare eienskappe soos sy ewigdurende krag en Godwees is duidelik sigbaar in sy skeppingswerke! (Romeine 1:18ev) Dit het natuurlik die implikasie dat geen mens eendag ‘n verskoning sal kan hê hoekom hy nie God as God gedank en aanbid het nie! Die dwase sondeverduisterde mens het egter geen begrip van wat die skeppingswerk (soos die blomme) vir ons wil vertel nie, en aanbid gevolglik die skepsels in plaas van die Skepper. Dit wek uiteraard God se toorn en het verskriklike gevolge...

Nie net verkondig die blomme God se heerlikheid nie, maar ons was ook bevoorreg om in die medemenslikheid van ander iets van Sy sorg en liefde te ervaar. By Kamieskroon het ons kennis gemaak met Peet en Elsa Kruger (oud Namibiërs) wat vir ons werklik goed was en mens ook van waardevolle raad bedien betreffende die beste plekke om blomme te kan sien. As jy in daardie omgewing kom, kan jy gerus hulle koffiewinkeltjie, KUIERVREUGDE gaan opsoek. Dit het ‘n heerlike Afrikaanse en Christelike atmosfeer!

‘n Ander “engel” wat die Here oor ons pad gestuur het (of was ons dalk die gaste wat eintlik engele was? – net ‘n grappie), was Joey Warrington van die WAPAD GASTEHUIS van Nieuwoudtville. Ons het nie enigsins vooraf plek bespreek nie en moes toe uitvind dat alle kampeerplekke beset was. Joey het toe goedgunstiglik toegestem dat ons ons tentjie by haar gastehuis kon opslaan (kosteloos). Dit was ‘n wonderlike uitkoms in hierdie yskoue Nieuwoudtville van die Bokkeveld, want hierdie “bolplant hoofstad” van die wêreld, sou net sowel ook as toevlugsoord vir ysbere beskryf kon word! Joey se vriendelikheid (en warm stort) het ons gered. Nieuwoudtville, saam met Joey se opregte gasvryheid was beslis een van die grootste verrassings op die “trippie”, want die hoogteligging van hierdie streek, maak dat dit radikaal verskil van die dorre aard van die naburige Vanrhynsdorp en Knersvlakte. Byna ‘n weggesteekte Alice se wonderwêreld!

Dit was alles baie vinnig (ons het selfs ook ‘n draai in die Sederberg en die weskus gemaak), maar tog vrugbaar en die moeite werd!

In God se skepping!
















Peet doenig in KUIERVREUGDE








By Lambertsbaai










Langs die Sishen-Saldanha spoorlynpad












Doringbaai










WAPAD GUESTHOUSE
     .... in mis gehul











Waterval, 7 km van Nieuwoudtville








 My ou "Lente blommetjie" (Marisja Lente) tussen die blomme



  
 Helder geel Katsterte

Terug oor die Oranje in ons land! (naby Noordoewer)

Dinsdag 08 Mei 2012

NIE VOETE NIE

- maar God se versorgende genade hou my op my voete.

Soos dit gaan in alle beroepe en bedrywe, het stalletjiehouers by feeste en skoue ook ‘n standaardklagte. (of dit gaan oor verskoning of dalk 'n manier van selfvertroosting is, weet ek nie) In hulle geval is dit : “Hier is nie voete nie!” Ek weet, want ek het ook (seker  genoeg)  “gefees en geskou” vanuit ‘n boekstalletjie.  Kom ek vertel.

In 2004 het ek my as werklose in die Vaaldriehoek bevind. Maar God wat getrou bly, gee altyd weer uitkoms. Ons Vader versorg ons nie net wat betref ons geestelike nood nie, maar voorsien ook in ons fisiese behoeftes.  Hiervoor gebruik Hy normaalweg mense. In hierdie geval, was dit deur my aptekersvriend, Josef Coetzee van Sonlandpark Apteek, wat ook die baas van Woordverspreiding Uitgewers is. Hy het  my genader  met ‘n voorstel om Christelike boeke by skoue en feeste te verkoop. So het dit gekom dat ek in die winter van 2004 die boonste deel van die land met boeke, tafels en plakkate deurkruis het... in my Toyota Tazz 1300 en ‘n klein waentjie.

My eerste probeerslag was in Mei by die Pogietersrus Skou en ek het afgesluit met die Vaalharts Skou op Magogong in Oktober. In die tydperk het ek kennisgemaak met ‘n wye verskeidenheid van mense, plekke en dinge. Van die Garnaalkarnaval by Komatipoort tot die Gariepfees by Kimberley. So ver noord as Louis Trichardt en so ver wes as Upington.

Nou kyk, om ‘n stalletjiehouer by ‘n fees te wees is geen maklike werk of vinnige geldmaak nie. Beslis nie as jy Christelike boeke verkoop nie. Jou normale feesganger is nie juis daar om geestelike versterking te soek nie, maar om allerhande behoeftes van ‘n meer vleeslike aard te bevredig. Dis ook nie juis die lees-tipe nie, maar eerder die eet en die jol soort  wat by ons feeste aangetref word. (laat ek onmiddellik bieg, by ‘n werklike groot skou soos  Nampo, en die groot kunstefeeste soos KKNK en Aardklop was ek nooit nie) Ek moes dus baie hard werk om ‘n Christelike boek aan die (dikwels etende) fees en skougangers verkoop te kry. So moenie dink jy sit op ‘n stoel agter ‘n tafel en wag dat belangstellendes jou gretig nader nie. Nee, jy staan op jou voete, roep nader, bied ‘n gratis traktaatjie aan, praat en verduidelik! Ai, hoeveel keer het ek die belangstelling probeer wek deur te vertel van Bunyan se karakters wat hulself in die Kasteel van Vertwyfeling bevind het en deur die Reus Wanhoop gemartel is!  En nadat jy jou saak met oortuiging en entoesiasme gestel het, hoor jy dalk die gevreesde woorde, iets in die lyn van : “Ons kom maak later weer ‘n draai.” Dis een van die model antwoorde wat gedekodeer,  min of meer beteken : “Jy het nou klaar jou asem op ons gemors. Ons sien jou gelukkig nooit weer nie.”  Nou, ja, met wie gaan ek die volgende oortuigingsgesprek aanknoop...?

Maar die boekverkopery het darem baie meer as net  teleurstellings en seer voete opgelewer.  Inderdaad het ek baie van Bunyan se “Die Christen se Reis na die Ewigheid” verkoop.  Maar daar was ook ander bonusse....die opwinding van nuwe mense leer ken, onverwagse herontmoetings en sommer  ‘n verskeidenheid van ervarings!  Verrassings! Na baie jare het ek my Matriekafskeidmeisie op Upington se Kalahari Kuierfees raakgeloop en my niggie in Kimberley.  Op Lichtenburg, ‘n toegewyde Christen  Afrikaanssprekende vrou wat aan die Russies Ortodokse kerk behoort. (Rita O’Sullivan, ek wonder wat het van jou geword?) Die groot voorreg om tydens my besoek aan die Ellisras Bosveldfees saam met André en Janet Botha van Bushveld Biltong House te kuier. (Julle groot liefdesgawe was op daardie tydstip in ons lewens besonder kosbaar) Willie Korb se aangrypende getuienis van genade wat hy op Brits met my gedeel het... Hendrik Pretorius wat my op Nelspruit kom bemoedig het. Annette Olivier op Komatipoort  wat vir my pannekoek gebring het.  Phillip Gittens se gasvryheid en ondersteuning in Kimberley. Gert Oosthuizen hulle by wie ek op Secunda kon oorbly... En, Josef, weereens dankie vir die geleentheid. Aan julle almal sommer ‘n groot dankie, en mag die Here julle ryklik seën!

Ja, uit ‘n stalletjiehouer se oogpunt, was daar nooit genoeg voete en verkope nie. Maar ook in hierdie tye het die Here vir my (en my gesin) op ons voete gehou en nooit laat val nie. Ook hierdie was ‘n tydperk van ryke genade en onverdiende guns!



Ek en my boeke op Brits 2004

Vrydag 13 April 2012

TWEE JAAR OP TSUMEB


- “ek is al U gunsbewyse nie werd nie!”

Hoe vinnig knibbel die tyd aan ’n kalender. Die kalender wat sê dat ons nou (April 2012) al twee jaar hier op Tsumeb is!  En vir my is dit boonop ook weer twee jaar van wonderlike terugwees in my besondere geboorteland.  Ek wil sommer net hier reg aan die begin vir al die Tsumebmense (en spesiaal almal in die gemeente) sê : Ons as gesin is almal baie gelukkig hier!  Vir die wat dalk wonder... Ek voel (en my vrou sekerlik nog meer so) ek het nou genoeg geswerf ... Pretoria... Rundu... Waterval-Boven... Vereeniging... Koppies...  Bray... Tsumeb!

Soos almal weet het ’n trekkery oor ’n landsgrens maar ’n kwota administratiewe en logistiese hobbels om oor te kom. Ons was geen uitsondering nie!  Dit was vorms, vertragings en veral frustrasies... Maar dit daar gelaat. Die seëninge oortref die ongerieflikhede by verre! 

Die saak van seëninge voer my gedagtes na die aartsvader Jakob se geskiedenis terug. Verskoon my die vergelyking. Maar ek dink tog dat ek aspekte van my omswerwings  gereflekteer sien in Jakob van die Bybel se veelbewoë wedervarings. Vergun my maar om ’n bietjie soos Jakob te voel met sy aankoms in  Kanaän. Julle weet mos dat Jakob vir Esau gevlug het en as enkeling daar by sy ma Rebekka se broer, Laban aangeland het. Heelwat jare later, met sy terugkeer na Kanaän bid Jakob tot die Here en sê onder andere :

 “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”  (Genesis 32:10)

Dit is inderdaad my belewenis! As eensame enkeling het ek  in 1998 oor die Oranjerivier verhuis en in 2010 kon ek as geseënde man van ’n wonderlike vrou en pa van twee pragtige meisiekinders terugkeer na Namibië. Maar toe kom daar sommer nog ’n bonus by : die geboorte van Natanie Vreugde in Januarie 2011! Soos dit heel dikwels met seën en verrassings die geval is, was dit ook nie sonder pyn nie, maar ons kan die Here waarlik dank vir hierdie gesonde dogtertjie wat tot ons gesin toegevoeg is.

Natuurlik, ons ware rykdom bestaan nie uit kinders nie (al is hulle baie kosbaarder as enige aardse besitting!) maar uit die oorvloedige rykdom van God se genade wat Hy oor ons uitstort deur Jesus Christus! (Efesiërs 1:7) Uit hierdie rykdom van genade ontvang ons volkome vergifnis en word ons herstel om gelykvormig aan Jesus te word. ‘n Deel van hierdie genade en barmhartigheid behels ook die voorreg om die Woord van God te kan bedien hier op Tsumeb. Mag die Here ons altyd hieraan herinner, want dit sal verhoed dat ons moed opgee. In 2 Korintiërs 4 (die hoofstuk waaruit ek my intreepreek in Tsumeb gelewer het) stel Paulus dit so treffend (vers 1) :

“God het Hom oor ons ontferm 
en hierdie bediening aan ons opgedra. 
Daarom word ons nie moedeloos nie.” 

Dis so nodig om hierdie waarheid gedurig  voor oë te hou, want die bediening van die Woord is nooit ‘n  gelykpad nie. Geleenthede en oop deure loop dikwels parallel met teenstand en stryd. Paulus sê  oor sy bediening in Efese : “hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” (1 Korintiërs 16:9) Met blydskap kan ek egter getuig dat die Woord harte aanraak. Daar is bemoedigende druppels van seën; mag die Here in sy genade vir ons nog die strome ook skenk!

Kort na ons aankoms hier op Tsumeb het ek papajapitte geplant. Een van die bome het besonder mooi gegroei en het op die oomblik ’n pragtige drag vrugte. Bid asseblief vir ons en die gemeente as geheel, dat God ons deur sy genade instaat sal stel om oorvloedige vrug tot sy eer te dra!





Aan al ons vriende uit ons Suid-Afrikaanse verlede : Julle is baie welkom om te kom kuier. Ons het so pas ’n lekker weersiens beleef toe Johan en Marie van Zyl van die Vrystaat (saam met Lettie en Christelle)  hier kom oë wys het. So kon ons weer op datum kom met Koppies se mense en dinge!

Lettie, Christelle, Marie en Johan van Zyl.



En aan almal wat ver van die Afrika son, waar ookal in die wêreld julle roeping uitleef : Dis so lekker om via die moderne tegnologie ook iets van die sonskyn van God se genade met julle te deel! En dis altyd aangenaam om van julle te hoor. Ons het bemoediging van julle kant af net so nodig!

SAAM OPPAD NA ONS HEERLIKE BESTEMMING!

Vrydag 09 Maart 2012

"Hi!", uit Hentiesbaai

- name, huise en nog wat.

“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor”, sê die spreekwoord. Nou wonder ek, sou mens kon sê : “Die naam vertel waarvoor die inwoners staan”? Kyk bietjie na Hentiesbaai se strandhuisname en besluit maar self. (En geniet sommer ’n toertjie saam met my deur Henties, waar ek en my gesin bietjie blaaskans neem).




Besadigde realisme, dankbaarheid.
                            

Lekker selfspot en goeie selfbeeld?



'n Tikkie moedeloosheid of maar net kommentaar op die Weskusweer?    ... hopelik vol vis!

 

Stoere Suidwesters!  Dis 'n "Statement!"  
            
(links) Is dit 'n belydenis oor die neiging tot uitstel?
 
Baie huise het iets van "kla" (klaar) in die naam. Dalk 'n erkenning van dat die laaste lewensjare aangebreek het? 'n Doel bereik is? Uiteindelik kom daar vir elkeen 'n dag om die laaste skof aan te pak van die lewensreis!

 
 
 
Skinkikofi

Klink of hierdie ouens nog tyd maak vir ontspan en of mens  dalk nog Suidwesgasvryheid hier sal raakloop.  
 
 
 
'n Dankbare erkenning dat God die Gewer van alle goeie gawes is!
 
 
 

'n Laaste stuiwer. Vir julle wat die Henties van die ou dae geken het... Kan jy die tyd onthou, toe die luuksste baken in Henties, die bekende Ankerhuis was? Op die Suidduin. Dis amper moeilik om jou so ’n stadium in te dink, nou dat mens jou orals in Toskaanse monsters vasry.... Het ons vergeet van die vreugde van eenvoud? Van die tyd toe ’n strandhuis ’n nog strandhuis was en nie ’n kus uitstalvenster vir binnelandse welvaart nie!




Dis seker ook somtyds nodig?

Dinsdag 06 Maart 2012

AS DIE OMURAMBA LOOP

- strome van lewende water!

Min dinge maak ons Suidwesters (Namibiërs as jy wil) so opgewonde soos ’n omuramba (droë rivierloop) wat afkom! Lopende water is vir my van kleinsaf ’n vreemde en fassinerende verskynsel. Vir die wat ons land dalk nie ken nie; die enigste standhoudende riviere is op die verre Noordgrens (Kunene, Kavango en Zambesi) en die verre Suidgrens (Oranje). In Windhoek waar ek grootgeword het was lopende water maar ’n skaars gebeurtenis. As dit gereën het en die stroompies kom af, het dit groot opgewondenheid veroorsaak! Toe ons kinders was het ons huisgesin so ongeveer elke twee jaar die lang (en warm) pad af Kaap toe aangedurf. Hoe wonderlik dan om na die lang tog deur die vaal suide oor die bruisende groenomsoomde Oranjerivier te ry. 'n Lafenis vir die oog. Maar dis maar ’n kort verposinkie. Gou bevind jy jouself weer in die droë Richtersveld en Namakwaland. (Onthou dis Desember skoolvakansie - daar’s nie blomme nie) Maar dan... daar in die omgewing van Klawer en Clanwilliam is daar ’n oorvloed van lopende water! Verruklik!

’n Rivier wat afkom sal altyd vir my ’n opwindende belewenis bly. Toe ek dus nou die dag hoor dat die omuramba by Tsintsabis water in het, is daar sommer ’n vinnige besluit geneem om dit vir vroulief en die kinders te gaan wys! Hoe aangenaam! Statige makalani’s wat ons met hulle weerkaatsings in die water bederf. In die plek van droogte en hitte is daar nou water en Boesmans wat babers vang! Ja, water maak werklik ’n wonderlike verskil!




Dit herinner sterk aan Jesus se veelseggende uitnodiging en belofte in Johannes 7:37&38. Jesus staan te midde van ’n skare mense en roep hardop uit:

“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê : Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Jesus alleen kan aan die dorstige sondaar lewe en verkwikking bied. Deur die persoonlike geloof in Hom ontvang ons die vernuwende lewegewende Heilige Gees. Dis ’n lewe van oorvloed - volledige vergifnis, volhoubare vreugde (ten spyte van hartseer en slegte omstandighede) en ’n onaantasbare ewige erfenis in God se teenwoordigheid! Dis inderdaad strome wat opborrel uit ons binneste!

Jesus nooi jou ook uit tot hierdie tot hierdie nuwe lewe!



'n Stroom in die woestyn! Die Kuiseb kom af in 2011 na buitengewone goeie reën!





Die Swakoprivier bereik die see in 2011. Die eerste keer in my lewe wat ek die voorreg kon smaak om dit te sien.




Vasgekeer deur die geelstroom! Februarie 1997. Dit was oppad van Walvisbaai na Windhoek via die Gamsbergpad dat hierdie stroom my voorgekeer het. Wat 'n onvergeetlike belewenis!





Hierdie foto is deur my pa geneem tydens 'n sendingveldtog in Kaokoland nog in die tyd van die Bosoorlog. Ek dink die weermag het hulle deurgesleep.




Dors les in die Ugab (Damaraland) - Maart 2012



Vrydag 13 Januarie 2012

BLYDSKAP EN BENOUDHEID OP BRAY!

Op Woensdag 29 Augustus 2007 het ons op Bray aangekom, waar ou John die getroue tuinwerker met 28 jaar diens ons begroet het. Daardie aand het ons uitgeput en dankbaar gebruik gemaak van die aanbod om in tannie Sarie Eloff se gastehuis te gaan slaap. Dit was die begin van ’n nuwe avontuurhoofstuk in ons lewens...

As jy nie weet waar is Bray nie, moet nie sleg voel nie. (Die meeste mense wat wel al van Bray gehoor het, se kennis is beperk tot die feit dat die rugby speler Frik du Preez op ‘n stadium in die omgewing geboer het) Bray is so ongeveer 220 km Noordwes van Vryburg op die Botswana grens. Dis die hoofsentrum van die Gemeente Onder-Molopo waarheen ek ’n beroep aangeneem het. In hierdie pragtige Kalahari met sy statige Kameeldorings en geharde Matopi’s het ons baie blydskap, maar ook benoudheid beleef!

Die benoudheid het sommer al gou begin toe die oop beeslorrie waarmee ons trek vervoer sou word, sonder toue of seile op Koppies aangekom het. Gelukkig het die Here voorsien in die persoon van oom Johan Bekker van Koppies en met sy vaardigheid, seile en toue kon die lorrie so stewig gepak word, dat ons sonder skade ten spyte van die grondpad veilig op Bray arriveer!

Om op Bray te woon, was ’n wonderlike plaasbelewenis! Die kinders het dit terdeë geniet om in die Kalahari sand te speel en later toe Ben Jonker vir ons vyf ooie met lammers gee, was die skape sommer hulle troeteldiere! Hier is so baie uniekhede! Van die turksvy op die dak van die voormalige poskantoortjie, die altyd beskikbare “Maak ‘n Plan Motors”, die Kirstonia Privaatskool, die Goeie Hoop Handelshuis (wat sommer nou selfhelp poskantoor ook is) tot die klankie wat jou herinner aan die voerkraal aan die Botswanakant. (Die jaarlikse Bray July is ongelukkig ’n uniekheid waaroor 'n Christen nie opgewonde kan raak nie!)


Bediening in die Onder-Molopo was ook ’n unieke ervaring. Dis ’n wonderlike geleentheid vir iemand wat ’n liefhebber van grondpaaie is! Daar was vier preekpunte : Bray, Vorstershoop, Mokopong (Wilzdale) en ook Kang in Botswana. Soms het ek ook in Newtown in die NGKA gepreek. Vir ’n tyd lank was dit ook my voorreg om die gemeente Vergelegen as konsulent te bedien. (met preekpunte op Vergelegen en Gemsbokvlakte) Dis ’n baie klein gemeentetjie in getalle, maar watter besondere mense! Dit was voorwaar ’n voorreg om die evangelie in die Kalahari te verkondig tydens eredienste, wyksbyeenkomste en huisbesoek. Mag die Here tog self die saad laat ontkiem en vrugdra.

Een van die groot vreugdes wat ons kon beleef, was toe die Molopo rivier in Februarie 2009 vir die eerste keer in 9 jaar afgekom en verby Bray geloop het. Dis ’n gesig en belewenis om nooit te vergeet nie! Twee keer het ek ook die besondere voorreg gehad om ’n Mannekamp in die ongerepte Kalahari in Botswana aan te bied. Dankie, Jannie Strümpher dat jy dit vir ons moontlik gemaak het! Sal ons ooit die besoek van die leeuwyfie aan ons kamp vergeet...

Soos dit maar met die lewe gaan en ook met ’n kind van God se lewe, was alles nie net vreugde en blydskap nie. Daar was ook die teleurstellings en terugslae wat die blydskap demp. Die foute wat jyself maak, die seekat van materialisme wat baie in sy pote vasklem, die gebrek aan reaksie op die Woord, die gelykvormigheid aan die wêreld, die hartseer en gebrokenheid wat vlak onder die welvaart skuil ... maar dan weer die taaie volharding in die geloof van sommige in moeilike omstandighede!

Een van die grootste benoudhede was toe ek op Sondagoggend 13 April 2008 in ’n ongeluk betrokke was. Alles het sommer vroeg die oggend begin skeefloop toe ek ontdek dat die kerkbakkie se battery pap was. Ek moes daardie Sondag vroegoggend eers op Wilzdale gaan preek (90 km vanaf Bray) en terugkom om dieselfde oggend ook op Bray die Woord te bedien. Ek haal toe my klein Toyota Tazz 1300 se battery uit om dit in die bakkie te sit, maar daar breek die bakkie se batteryklampie. Gevolglik besluit ek toe om maar die battery weer terug te sit in die Tazz en die 90km grondpad na Wilzdale met hom aan te durf. Alles het goed gegaan. Ek het die diens op Wilzdale gehou en gepreek oor 1 Korintiërs 7:29-31. Die preek het juis daaroor gegaan dat ons “los” moet wees van alles in hierdie lewe. Die vreugdes sowel as die hartseer. Vreugde en hartseer en besittings of wat ook al mag nie ons lewens in beslag neem nie, want die TYD IS MIN! Nou ja, oppad terug Bray toe word ek waarskynlik deur die Here getoets of ek werklik my eie preek glo! Ek ry met my Tazz in ’n trop boerbokke vas, wat oor die pad gestorm het. Dit was ’n vreeslike slagting en ’n wrede ervaring! Ek tref altesaam 12 bokke. Die karretjie kom tot stilstand langs die pad. Ek is alleen, dis net die kreunende geblêr van sterwende bokke! Tien sou uiteindelik vrek. Ek het nie eers my selfoon by my nie. Op Bray wag die mense vir hulle dominee om op te daag...


Dit was ’n donker dag, maar die Here dra sy kinders deur alle benoudhede! Hy dra ons deur die rykdom van sy genade! 

Aan hierdie genade wil die Here ons elke dag herinner deur die kosbare beloftes in sy Woord. Mag almal wat hierdie lees (en veral julle kosbare broers en susters in die Kalahari) vashou aan sy kosbare beloftes! Terloops, ek wonder hoeveel onthou nog die Bybeltekste wat ons geleer het?



Oppad na die mannekamp in Botswana.





Wilzdale se kerkie. (in 'n goeie reënseisoen)





Die Molopo kom af in 2009.





Kinders wat deelgeneem het aan die Bybelstap in 2008.





Die skape wei op die pastorie se grasperk.



NS En nogmaals dankie aan al die vriendelike Kalahari mense wat God oor ons pad gestuur het om ons te ondersteun en te bemoedig!

Marisja en Jonette op Bray


Donderdag 15 Desember 2011

KOSBARE TYE OP KOPPIES

Hierdie is sommer net ’n kort getuienis oor die rykdom van God se genade in ’n moeilike, maar wonderlike tydperk in ons lewens. In 2005 het ons (ek, my vrou Jacolette en die twee dogters, Marisja en Jonette) na Koppies in die Vrystaat verhuis. Op hierdie stadium het nie een van ons ’n permanente voltydse werk met voldoende inkomste  gehad nie.  Voor die skuif na Koppies het ons ’n woonstel in Vereeniging gehuur, maar ek was van mening dat dit goedkoper en makliker sou wees om op die platteland te oorleef. Die Here het dit so beskik dat ons deur vriende van ons genooi is na ’n kerkdiens op Koppies (van ds. Etienne Maritz) en ons het sommer dadelik van die lekker plattelandse atmosfeer gehou. ’n Ander plan vir goedkoper verblyf naby Vereeniging het genadiglik deur die mat geval en ons het toe ’n klein huisie op Koppies gekoop. Huise was destyds spotgoedkoop. Die huisie in Rosenlaan 11 was baie klein en gebars, maar vir ons was dit soos ’n stukkie hemelse verkwikking na ’n baie moeilike tyd in ons lewens. Ons goeie vriend Francois Bloem het vir ons die huisie reggemaak. Ons het dit veral geniet om in die tuin te woeker! Dit was vir my ’n groot lekkerte om mielies, boontjies, ertjies ens. te plant en te oes! Wat ’n heerlike gevoel, om te weet, al is die plekkie hoe klein en eenvoudig, dis ons s’n!

Die groot les wat ek in Koppies geleer het was
die vreugde van eenvoud!

Ons het ryk en vol lewens gehad in hierdie eenvoudige omstandighede. Ons het selfs gaste in ons huisie ontvang en sommer baie mense leer ken. Ek het ’n deeltydse afleweringswerkie gekry by ’n boer wat veral bokmelkprodukte vervaardig het. Dit het beteken dat ek moes rondry van een besigheid na die ander in Johannesburg en Pretoria! Dit was ’n nuwe ondervinding van ’n wêreld wat vir my vreemd was. En beslis het dit nie elke dag maklik gegaan nie. Tog het die Here in alle benoudhede uitkoms gegee!

Ek het uit ’n sendinghuis gekom waar ons dit reeds as kinders beleef het, hoe God op wonderlike maniere ons ook materieël versorg het. Nou kon ek en my gesin dit self ook eerstehands ervaar dat God ’n God is wat sorg! Dikwels ook onverwags en op verrassende wyse! Natuurlik het Hy wonderlike en kosbare mense hierin gebruik. Maar ook indirek. Vir ongeveer vier jaar het ons nie ’n mediese fonds gehad nie. In hierdie tyd het ons dit ook nooit nodig gekry nie! Die NG Gemeente Koppies-Weltevrede was vir ons baie goed en ons het dadelik daar ingeskakel. Ek het ook gereeld preekbeurte gekry, waarvoor ek ruim vergoed is!

Ds. Maritz het my gehelp en aangemoedig in my poging om weer predikantstatus in die NG Kerk terug te kry. Dit is ook weer ’n verhaal op sy eie! In Oktober 2005 het ek voor die Vrystaatse Moderamen en Sinode verskyn met die oog op hertoelating in die NG bediening. Dit was ’n moeilike en spanningsvolle tyd. Maar nadat die Sinode my aansoek tot die bediening goedgekeur het, het daar nog ’n onverwagse skok op my gewag. Ek moes toe eers uitvind dat die verpligte Colloqium Doctum behels dat ek ’n bestek van voorgeskrewe werk in al die teologiese vakdissiplines moes voorberei om daaroor geëksamineer te kon word. Ek was salig onbewus daarvan. Ek was onder die indruk dat die Colloqium Doctum slegs ’n ondersoekende gesprek was. (dit was wel voorheen so) Die eksaminering sou in November plaasvind. Indien ek dit sou misloop sou ek tot November 2006 moes wag. Die tyd was egter hopeloos te min om gereed te kon wees. Op die 9 de November het ek finaal geweet dat ek maar sou moes wag vir die volgende jaar! Alles is dus nou met ’n jaar uitgestel! Die volgende oggend (10 Nov 2005) spreek die Here my so wonderlik aan deur Oswald Chambers se dagboek, “My Allerbeste vir Sy Allerhoogste”. Ek lees onder andere : “Solank as wat jy nog jou eie belang en ambisie nastreef, kan jy nie volkome met God se belange identifiseer of vereenselwig word nie. Dit kan slegs verkry word deur vir eens en altyd af te sien van al jou persoonlike planne en om God toe te laat om jou heeltemal op te neem in sy plan vir die wêreld.” En dan ’n ent verder.... “Ek behoort nooit te sê : ‘Here, hierdie ding breek my hart’ nie.” Die Here het my hierdeur groot berusting gegee en ek toe maar die volgende jaar begin boeke bymekaarkry en weer gestudeer. Die eksamen in 2006 het toe besonder goed afgeloop en ek is weer gelegitimeer.

Daarna het nog ’n hele paar maande verloop totdat ek in September 2007 op Bray in die NGK Onder-Molopo bevestig is. Oor daardie tyd sal ek miskien nog later skryf in BLYDSKAP EN BENOUDHEID OP BRAY.


    

 Marisja by die jong mielies in die agterplaas.                                                                                                                                         

Die huisie in Rosenlaan 11 van binne, voor dit reggemaak is.








Jonette by die groot mielies. Ek was baie trots op hierdie mielies!




Ons besoek die Vrouemonument in Bloemfontein.

























Vrydag 09 Desember 2011

MISSIE VAN 'N MELAATSE

- SOLOMON DE KONING.

Ek en my broer Jacobus is op ’n ontdekkingstog. Ons soek na die graf van my oupa se broer, Solomon de Koning hier aan die westekant van Pretoria. Vir ons is dit onbekende leeuwêreld. Ons het deur die Daspoorttonnel gekom en maar so soek-soek en vra-vra probeer uitvind waar die ou Westfort Melaatse Hospitaal is. Of liewers was, want dis blykbaar nou ‘n plakkerskamp. Ons ry op ’n ’n stil afgeleë teerpad, omsoom deur bloekombome. Jacobus bestuur. Ek mimiek ’n geweer in my hand. Grappies om die effense bekommernis te verwerk, want Pretoria is deesdae meer bekend vir misdaad as vir kultuur en rugby.

Ek weet nie baie van oom Solomon nie. Pa het al van hom gepraat. Die oom van hom wat aan melaatsheid gely  en hier in Westfort beland het. Pa self het hom nooit geken nie, want hy is jonk oorlede. As jongman, na sy bekering, het Pa hier kom kerk hou vir die melaatses en ook na oom Solomon se graf kom kyk. By ’n verpleegsuster het hy gehoor dat  hierdie oom van hom 'n kind van God  was. Sy ouma het dit op navraag bevestig. “Solomon was waarlik ’n Christen.”

So ’n tyd terug kry ek dit in my kop om bietjie meer uit te probeer vind oor oom Solomon. Ek google sy naam. En sowaar sy naam duik op in ‘n artikel in die Sunday Times van 26 Oktober 2008. Sean O’Toole beween die haglike toestand van Suid-Afrika se rusplekke vir die dooies, en ja, hy het sowaar ook by Westfort se verlate grafte ’n draai gemaak!

“First on my list of places to look, partly because it was just around the corner, was the scurvy little suburb of Danville, behind which lies the forgotten settlement of Westfort. A former leper colony, Westfort is equal parts ghost town and vibrant set for an apocalyptic B-grade horror. The tenuously healthy - squatters to you and me - now occupy the former hospital wards. The abandoned Catholic church is slowly being dismantled, brick by brick, for scrap.
I ask the local firewood salesman, a genuine Afrikaner hillbilly wearing a felt hat, unwashed face and blackened teeth, where Westfort's cemetery is. He quizzically sizes me up then points me in the direction of a thicket of blue-gum trees.
The headstones for Louis Henry Killian, died 1924, and Solomon de Koning, died 1934, lie forgotten amongst four or five dozen other abandoned graves, overgrown by grass and trees.”

Kan jy nou meer! Die spreekwoordelike toeval! Tussen al die grafstene kies hierdie onbekende Engelse joernalis twee om by die naam te noem, en een is my eie bloedfamilie, oom Solomon! Toe ek dus vir ’n kursus Pretoria toe moes gaan, besluit ek : “Ek moet oom Solomon se graf opspoor!”

Ons kom by die rooi baksteengeboue van Westfort en gaan die terrein binne. Vir hoeveel melaatses het hierdie hek en hierdie geboue eensaamheid, afsondering, doodloopstraat, verdoemenis gespel? Watter vrae het in hulle binneste gebrand by die eerste aanskouing van hulle nuwe tuiste? Hoe het hulle oor hulleself gedink? ’n Gemeenskap van gekwestes? Uitgesonder vir God se oordele? Wrede toevalligheid? Het oom Solomon hoegenaamd gewonder oor God se doel met hom? Was hy opstandig, hartseer, berustend? Het hy geweet hy sou hierdie plek nooit weer verlaat nie of het hy dalk gehoop op ’n wonderwerk? Dis tragies, maar blykbaar het hy nooit eens melaatsheid gehad nie. As beter diagnose destyds beskikbaar was, sou hy waarskynlik nooit hier beland het nie.

Ons doen navraag by van die nuwe gesonde inwoners van Westfort. Die grafte is hier buite. Ons stap so effens senuagtig tussen die bloekombome in. In hierdie boskasie is skuilplek vir baie skurke. Verwaarlosing en agteruitgang het oorgeneem. Die grafte lê verspreid tussen die bome en onkruid. Swygend vertel hulle van ’n eensame verloorstryd teen ’n wrede siekte. Dit vat ’n hele rukkie voor Jacobus die voorreg het om op oom Solomon se graf af te kom. Ons ekspedisie was suksesvol! Nuuskierig loop ek vinnig nader.

Dis met ’n mengsel van eerbied, hartseer maar ook ’n goeie stuk ontdekkersvreugde dat jy lees :

HIER RUS
ONS GELIEFDE
SOLOMON DE KONING
GEB . 21 MEI 1897
OORL. 30 JAN 1934
GESANG 182 VERS 2

Oom Solomon se graf is een van die eenvoudiges. ’n Grys leiklip kopsteen sonder tierlantyntjies. Net die basiese inligting. Sê dit iets van sy persoonlikheid, van sy eenvoudsbestaan? Dit maak in elk geval, die “toeval” nog net meer interessant. Sy graf is nie een van die mooistes nie, dis ook nie opvallend of aan die kant van die grafte waar mens dit maklik sou kon opmerk nie. Hoekom sou die joernalis se oog nou juis sy naam opvang?

Wat was oom Solomon se missie in die lewe? Dalk het hyself nie geweet en verstaan nie. Maar die Almagtige soewereine God het ook vir hom ’n plek gehad in sy groot Raadsplanne en die ontvouing van sy voorsienigheid. Het hy dalk gebid vir sy familie en hulle nageslag dat hulle die Here sou dien? Is die genadewerking van God in my eie lewe dalk ’n verhoring van daardie gebede?  Die ewigheid sal seker baie interessante antwoorde oplewer. Vir nou eers is God se Woord voldoende! Uit God se Woord kry ons die vertroostende versekering, dat ook vir Solomon de Koning, God alles ten goede laat meewerk het. (Romeine 8:28)

In God se woordeskat is daar nie ’n woord soos “toeval” nie! Die ontdekking van Oom Solomon se graf en sy lewe opsigself is ’n bevestiging van hierdie waarheid uit God se Woord! Mag hierdie waarheid ons troos en rigting gee in alle omstandighede!