BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rut. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rut. Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Maandag 02 November 2015

WAS RUT REGTIG LESBIES?

- kyk eerlik na die Bybelse teks.

Wanneer die sondige mens graag die Bybel iets wil laat sê wat dit nie sê nie, ontsien jy geen moeite of vernuftige grepe om die Bybelse boodskap om te buig sodat dit jou sienings ondersteun nie. ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is gay aktiviste se gebruik van die boek Rut. Rut is ‘n juweel van ‘n boek wat wys hoe God ingryp in gebroke mense se lewens en hulle deel maak van sy groot planne en dis jammer dat juis hierdie mooi verhaal misbruik word vir ‘n sondige agenda. Hoe so? Wel, pro lesbiese liberale teoloë beskou die vriendskap van Rut en haar skoonmoeder Naomi as ‘n voorbeeld van ‘n lesbiese verhouding of vriendskap.

In Rut 1:14 lees ons : “Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly.” (NAV) “Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.” (OAV)

Die werkwoord in Hebreeus wat in Afrikaans met “by haar gebly” of “haar aangehang" vertaal word is דבק. Die persone wat Rut lesbies interpreteer wys graag daarop dat דבק dieselfde woord is wat in Genesis 2:24 gebruik word as daar gepraat word van die man wat sy vrou sal “aankleef” (OAV) Dis inderdaad dieselfde Hebreeuse word en vir ‘n oningeligte kan dit maklik na ‘n deurslaggewende argument klink. ‘n Dieper kyk na die woord en sy gebruik laat mens egter gou weer besef watse valse grond dit is om lesbiese verhoudings te probeer goedpraat:

1. Die woord dat דבק het verskeie betekenismoontlikhede wat geen erotiese konnotasie het nie, soos in Deuteronomium 11:22; 28:21; 30:20, Psalm 22:15, Jeremia 13:11, Esegiël 3:26, 2 Konings 5:27 (in die laasgenoemde teks gaan dit oor melaatsheid van Naäman wat Gehasi en sy nageslag sal aankleef – dit het voorwaar bitter min met erotiek te doen!) 

2. Belangriker nog is om raak te sien dat die skrywer van Rut presies dieselfde woord דבק ook nog twee keer in die boek gebruik naamlik in 2:8 en 2:21. In eersgenoemde geval gaan dit oor Boas se opdrag aan Rut om by die diensmeisies te bly en in laasgenoemde geval om by die werksters te bly totdat die oes klaar ingesamel is. Weereens geen lesbiese of romantiese konnotasies hoegenaamd nie.

Trouens in die hele boek word geensins na homoseksuele verbintenisse verwys nie. Naomi, sowel as haar skoondogters was met mans getroud en is juis deur hulle dood in ellende gedompel. God het egter vir Naomi en Rut uitkoms gebied en ‘n toekoms gebou deurdat Boas bereid was om met Rut te trou. ‘n Groter toekoms as wat hulle ooit sou kon droom, want so word hulle ingeskakel in die geslagslyn van Dawid en Jesus!

Die gebruik van דבק in Rut 1:14 wys bloot op Rut se “commitment” aan haar skoonmoeder in ‘n tyd van nood. Hulle verhouding was die van ‘n skoonmoeder en skoondogter, eintlik meer die van moeder en dogter! Dieper gesien was dit ook ‘n bekering van ‘n Moabitiese vrou tot die lewende God van Israel soos vers 1:16,17 duidelik wys!

(Sien ook ALGEMENE SINODE EN RUT)

(Erkenning aan Peter Ould)

Woensdag 07 Oktober 2015

RUT EN DIE ALGEMENE SINODE

- dit sal inderdaad wonderlik wees as ons kerk erns met hierdie boek maak!

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het gekies om die dagwydings tydens die sitting aan die hand van hierdie boek te doen. Dis ‘n goeie keuse.


Die boek Rut is beslis ‘n klein juweel, literêr, teologies en op ‘n praktiese geloofsvlak. Ja, dit dra onteenseglik ‘n boodskap van hoop aan uitgeworpenes en “outsiders”. Die opwinding van 'n nuwe begin uit genade! Rut, die Moabitiese meisie wat nie alleenlik ingetrek word by die volk Israel nie, maar deel word van die Dawidslyn waaruit ons Verlosser Jesus Christus gebore sou word. (sien die geslagsregister in Matteus 1)

Hierdie Jesus is inderdaad ‘n Verlosser van alle soorte sondaars - heidene, afgodsdienaars, seksuele oortreders, gays, belastingontduikers, plaasmoordenaars, pedofiele, maar ook Fariseërs, godsdienstiges, kerklikes, en selfs sinodegangers... noem maar op!

Rut vertel ons dus van die ruimte wat God deur sy liefde maak vir buitestanders, maar dis nie ‘n eensydige verhaal van blote inklusiwiteit en outomatiese goedkeuring van als nie. Dis ook ‘n verhaal van ‘n duidelike geloofskeuse.

Die jong Moabitiese weduwee Rut het ‘n ingrypende bekering ondergaan en doelbewus gekies om haar aan die lewende God te onderwerp en te vereenselwig met sy mense. 

Terwyl Orpa terugkeer na haar Moabitiese wortels kom Rut tot ‘n kragtige belydenis en oorgawe : “...want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;” (Rut 1:16) As Rut nie bereid was tot hierdie keuse nie, wat sou sy nie alles gemis het nie?

God se groot liefde vir mense en die eis van bekering en berou mag nooit van mekaar losgemaak word nie! Bekering was die boodskap van Johannes die Doper, Jesus en sy dissipels. Dis langs die weg van bekering en geloof dat die koninkryk van God se insluitende liefde ‘n werklikheid word. Mag die Algemene Sinode hierdie boodskap wat ons ook in die boek Rut kry ernstig opneem! Ook as hulle oor selfdegeslagverhoudings dink en besluit...

[gedenksteen op Mariental met die NGK se eeufees in ons land Namibië]