BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Belhar. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Belhar. Wys alle plasings

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

Donderdag 15 Oktober 2015

ALGEMENE SINODE OP RAND VAN AFGROND

Lui die doodsklok vir die Algemene Sinode van die NG Kerk? 


Dis die vraag wat toenemend die afgelope dekade reeds groeiend in mens se bekommerde gemoed kom lê. Sedert sy ontstaan in die vroeë sestigerjare was die rol van die Algemene Sinode vervullend en betekenisvol om eenheid te bevorder tussen die streeksinodes, leiding te gee in internasionale verhoudinge en verbintenisse met die Kerk van Christus wêreldwyd, harmonie te verseker en leiding te gee in huishoudelike kerksake en aktuele vraagstukke, ens.

Veral sedert 2004 se Hartenbosvergadering het hierdie eens vaste fondament begin om krake te vertoon. Wat mens waarneem is ‘n groeiende vertrouensbreuk tussen die Algemene Sinode, sy spreekbuise en Moderatuur aan die eenkant, en streeksinodes en gemeentes aan die ander kant.

Hierdie vertrouensbreuk is gestook deur 4 gebeure:

1. Die hantering rondom die kosbare saak van kerkeenheid sedert 2004.

Die persepsie wat by die gewone lidmaat op straat en by die familiekerke die NGKA en die RCA begin groei het, is dat die VGKSA die NG Kerk-moderatuur aan die korthare beet het. Die VGKSA stel eise, en die NGK skarrel om daaraan gehoor te gee. Die pleidooie van die NGKA en die RCA word nie gehoor nie. Trouens, lg kerke het ervaar hulle is nie eens deel van die onderhandelingstafel waar oor kerkeenheid gepraat word nie. Die NG Kerk se moderatuur het kant gekies, sê hulle.

Die kern van hierdie eise van die VGKSA het veral gewentel om die aanvaarding van die belydenis van Belhar. Hulle eis dit as ononderhandelbaar tot kerkeenheid, terwyl veral die NGKA en die RCA dit afwys.

Lidmate en gemeentes binne die NG Kerk het hoegenaamd nie akkoord gegaan met die styl van die VGKSA tydens hierdie onderhandelings en die NGK-onderhandelingspan se hantering daarvan nie. Daar kon gewoon nie begryp word hoe dit moontlik is dat die VGKSA die gesprekke deurlopend kon intimideer en soveel greep op ons onderhandelaars kon bekom nie. Dit het al meer begin lyk of Kerkeenheid, binne ‘n scenario waar een lidkerk al die ander lidkerke gaan domineer en intimideer, nie die ‘n ideaal van ‘n Christus-gesentreerde Eenheidskerk gaan dien nie. Die persepsie by lidmate het ontwikkel dat kerkeenheid vir die onderhandelaars meer gaan oor Belhar as belydenisskrif (dus polities) en nie oor Christus, die Verlosser in Wie ons almal saamgebind is nie.

2. Die referendum einde 2014/15 rondom die verandering van Artikel 1

In kort: Dit was ‘n groot oordeelsfout en groot verleentheid. Dit het duidelik gedemonstreer dat die NGK-moderatuur in geen werklike voeling met die groeiende agterdog en wantroue by lidmate oor die moderatuur se hele bestuur van die eenheidsgesprekke tot op daardie stadium gehad het nie. Die moderatuur het, ten spyte van waarskuwings, eenvoudig voortgegaan en het die fiasko net nie sien kom nie. Die referendum self was verwarrend en het enorme onsekerheid by lidmate te weeg gebring. Wat verder tot die groeiende wantroue meegewerk het was die vermoede by lidmate dat die moderatuur hule eie agenda agter die skerms bedryf het: “Julle moet stem oor Artikel 1, NIE oor Belhar nie”, is gesê. En na elke uitslag word die uitslag beoordeel as : “Soveel stemme vir Belhar en soveel daarteen” Lidmate en gemeentes het gewoon gevoel hulle is nie met deursigtigheid en eerlikheid behandel nie.

Die skade hiervan gaan nie maklik herstel nie.

3. Toestemming aan Wes-en-SuidKaap Sinode by die Oktober 2015-vergadering om hul eie belydenisskrifvasstellings te doen.

Dit kan nie. Hermee is die deur nou oopgemaak dat elke sinode in die toekoms oor enige saak waaroor hul sterk voel, hul eie pad kan loop. Die primêre funksie van die Algemene Sinode om as een spreekbuis te dien vir die hele NG Kerk en om sodoende eenheid en eenstemmigheid tussen al die gemeentes en streeksinodes te bevorder, is hierdeur ‘n groot knou toegedien. Op langtermyn gaan die Algemene Sinode hierdie nuutgekose weg nie oorleef nie.

Veel eerder moes die Algemene Sinode die Wes-kaap vasgevat het en nie die stout seuntjie hul sin gegee het nie. Hulle is deel van die Algemene Sinode, ‘n proses om Artikel 1 te verander en waarby hulle ingekoop het, is deurloop. Nou moet hulle, ter wille van die eenheid binne die NG Kerk, die uitslag daarvan aanvaar.

Terloops: Die voorstel van die RCA wat tot hier in die wind geslaan is, se wysheid blyk nou meer en meer duidelik te word: Laat die te stigte nuwe Eenheidskerk self die besluit neem oor sy belydenisskrifte.

Indien hierdie raad gevolg is deur die Moderatuur en hulle hierdie standpunt saam met die RCA die afgelope jare ferm gehandhaaf het, was ons vandag baie verder op die pad van Kerkeenheid en was die Moderatuur heelwat verleentheid gespaar.

4. Jongste besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit

Hierby hoef ons nie veel te sê nie. Genoeg verklarings deur gemeentes, lidmate, leraars en selfs susterkerke het reeds die lig gesien om ons te laat besef dat by verre die meerderheid gemeentes baie sterk standpunt teen die besluite van die jongste vergadering van die Algemene Sinode inneem. Gemeentes gaan nie toelaat dat ‘n handjievol teoloë wat onder die invloed van die post modernisme is hul sieninge op hul afdwing nie.

Dit bring die Algemene Sinode voor sy grootste bestaanskrisis nog: Gemeentes kan nie meer die Algemene Sinode vertrou om Skrifgetroue standpunte en in lyn met haar eie belydenisskrif te gee in aktuele sake nie. En wanneer gemeentes hul Algemene Sinode nie meer met die Bybel en getroue Skrifuitleg kan vertrou nie, is die doodsklok besig om te lui.

Dis duidelik dat die taakspan wat die verslag en aanbevelings aan die sinode bedien het, hul laat lei het deur ‘n vooropgestelde antwoord wat hul graag as besluit van die vergadering wou sien, nl dat seksuele homoseksuele verhoudings aanvaar moet word en nie as sondig of in stryd met die Skrif beskou moet word nie. Die invloed van die post modernisme is duidelik. Daarvoor het hul selektief te werk gegaan deur eers hul antwoord te vind in geselekteerde navorsingstukke uit die biologiese en natuurwetenskappe, en daarna na die Skrif. Skriftekste oor homoseksualiteit word dus beoordeel vanuit ‘n geselekteerde bril wat die menswetenskappe hul gee. Dit veto dus die Skrif. In die Reformasie werk ons anders om: Die Skrif veto. Sola Scriptura.

Die selektiewe aard van die taakspan se navorsing word ook bevestig deur die afwysing van ‘n ope brief aan die Sinode deur ‘n genootskap van gelowiges wat almal in homoseksuele praktyke vasgevang was en deur die krag van Christus se verlossing oorwinning verkry het en nou in gelukkige, normale heteroseksuele verhoudings/huwelike leef. Hoekom? Moet hierdie wonderlike getuienisse nie gehoor word nie? Hulle het selfs ‘n webbladwww.LearnToLove.co.za. In stede daarvan, raak mens al gewoond dat by haas elke kerkvergadering waar homoseksualitiet aan die orde kom, die vergadering net eensydig blootgestel word aan die getuienisse van homoseksuele mense wat getuig van hul pyn en lyding en die verwerping wat hulle ervaar. Natuurlik het mens deernis hiermee, en is hulle welkom in die Kerk en moet die Kerk hul met oop arms aanvaar en koester. Dis egter liefdeloos om hul die verlossing in Christus te ontsê. Die getuienisse van die ander word egter nooit gehoor nie, asof hulle nie bestaan nie.

My waarneming is: gemeentes gaan nie die Sola Scriptura beginsel prysgee nie. Gemeentes sal voortgaan om homoseksuele gelowiges te omhels en welkom te laat voel in gemeentes, maar sal ook voortgaan om hul te bedien met die volle boodskap van verlossing van hierdie sonde in Christus. Om net die “label” van sonde van homoseksualteit af te haal soos die jongste besluit van die Algemene Sinode dit nou wil doen, los nie hierdie gelowiges se probleem op nie. Die krag van die evangelie wil hul waarlik vrymaak, nie net “label-free” maak nie.

Groot werk en baie gebed lê voor. Om vertroue te herstel in ‘n verdere rol en bestaansreg van die Algemene Sinode, gaan nie maklik wees nie. Die Algemene Sinode sal homself moet bewys as ferm, met duidelike leiding, versiendheid en dissipline, onwrikbaar getrou aan God en die Woord.

Ons bid vir die nuwe Moderatuur in hierdie verband. Hulle sal die vertroue moet wen van die moderature van die groter NG Familie, ons Susterkerke, en bowenal, die lidmate van die NG Kerk. Anders lui die doodsklok.

Christus hou Self sy kerk in stand.

[Uitstekende artikel, ek is net nie seker wie dit geskryf het nie. As iemand my kan laat weet sal ek bly wees en die naam vermeld. Volgens opmerking hieronder het ds. Dȕring Cornelius dit geskryf.]


Vrydag 13 Maart 2015

NOORD KAAP GEE REDES

Die Noord Kaapse sinode van die NG Kerk het duidelike redes gegee in 'n herderlike brief waarom die voorgestelde verandering aan Artikel 1 van die Kerkorde (wat voorsiening vir Belhar as opsionele belydenisskrif sou maak) verwerp is.

Hier is 'n uittreksel uit hulle herderlike brief:


Die sinode het – sonder om hom uit te spreek oor die aard of die inhoud van die Belharbelydenis - die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde, onder andere, om die volgende redes nie goedgekeur nie:

1. Die voorgestelde kompromisvoorstel poog om mense tevrede te stel eerder as om aan die Skrif getrou te wil wees.

2. Die voorgestelde wysiging voer leervryheid in die Kerk se orde in, in stryd met die Skrif en die Drie Formuliere van Enigheid, omdat dit die keuse laat om ’n belydenisskrif te aanvaar of nie te aanvaar nie. Die implikasie is dat dit dan ook noodwendigerwys van die ander belydenisskrifte móét geld en/of dat nog belydenisskrifte – volgens die begeerte van lidmate – tot die belydenisgrondslag van die kerk toegevoeg kan/mag/moet word.

3. Daarby stel dit die kerk op die sogenaamde quatenus-standpunt, in plaas van die gereformeerde quia-standpunt. Eersgenoemde is meermale in die geskiedenis baie sterk deur die kerk afgewys. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland aanvaar die belydenisskrifte omdat dit in ooreenstemming is met die Skrif, nie insoverre of indien dit (volgens die oordeel/willekeur van lidmate) in ooreenstemming met die Skrif is nie.

4. Die voorgestelde wysiging is in stryd met die Ned. Geref. Kerk se belydenisgrondslag en die Skrif.

(Kliek op Herderlike Brief vir die volledige inhoud)




Dinsdag 10 Maart 2015

BELHAR BOEMERANG

- kompromie is nie altyd so ‘n slim uitweg nie.

Die besluit van die NG leierskap om gemeentes en sinodes te laat stem oor ‘n nuwe voorgestelde Kerkorde Artikel 1 wat voorsiening maak vir die aanvaarding van die Belhar belydenis as opsionele belydenisskrif is besig om lelik te boemerang. Belhar beweer om ‘n belydenisskrif van versoening te wees, maar dis besig om groter verskeurdheid en onmin as ooit in kerkgeledere te ontketen. Dit verdeel mense wat in hart en praktyk eintlik saam glo en reeds saamdoen. Die Namibiese sinode was die eerste om ‘n stokkie voor die kerk se Belharplanne te steek, toe die vereiste twee derde ja meerderheid nie verkry kon word nie. Dit het gelei tot ‘n stroom van beskuldigings en verdagmakery deur die sogenaamde ja stemmers wat baie bedroef was oor die uitslag. Nou het die Noord Kaapse sinode oorweldigend nee gestem vir die voorgestelde nuwe artikel 1. Of dit tot ‘n verdere vloedgolf van verwyte sal lei, sal mens nou maar moet sien... 


Ek wil my nie hier op simplistiese wyse aan ‘n ja of nee kant skaar nie. Ek wil my wel verstout om te sê dat die hele stemmery eerder nooit moes plaasgevind het nie!



Kom ek noem ‘n paar redes:



Die voorstel oor Artikel 1 hou nie rekening met die kompleksiteit van die saak nie. Daar is verskeie redes waarom sommige ja gestem het. Van ‘n diepe vereenselwiging met Belhar se inhoud aan die eenkant of bloot ‘n emosionele gebondenheid tot aan die anderkant van “kom ons stem maar ja, want hulle gaan aanhou hiermee totdat ons almal ja gestem het” (Kwalik ‘n geldige motivering vir die aanvaarding van ‘n belydenisskrif, maar nietemin...) Daar is ook uiteenlopende redes waarom sommige nee gestem het. Van aan die eenkant ‘n grondige verskil met sommige formulerings van Belhar, die emosionele stigma wat daaraan kleef, die gevoel van dwang wat die kerk se propaganda masjien rondom die saak geskep het, tot aan die anderkant die wete dat so ‘n kompromis artikel 1 nie vir die VGK aanvaarbaar sal wees nie. (Daar ook diegene wat Belhar nie-opsioneel deel wou sien van die kerk se belydenisgrondslag, maar wou gehad het dat dit gelyk met die ander belydenisskrifte dieselfde status moes deel.) Daar sou ook diegene kon wees wat vrede het met Belhar as ‘n verklaring, maar nie die status van belydenisskrif daaraan sou wou toeken nie. En ja, daar is diegene wat ongemak beleef het met die afdwing van 'n proses en die intense eensydige oorredingsveldtog wat dit vergesel het... Al hierdie mense is nou in die nee kamp gedwing en word sommer nou lustig van apartheid en konserwatisme beskuldig.



Mens kry die indruk dat die leierskap ‘n kompromisvoorstel as maklike opsie gekies het om sodoende konfrontasie te vermy. As dit oor nietige randsake gaan is kompromie seker ‘n goeie ding, maar as dit oor ‘n wesentlike saak gaan soos die belydenisgrondslag van ‘n kerk, gaan dit nie werk nie. Die NG kerk raak nou bekend daarvoor dat wesentlike sake sommer maklik gesystap word. Jy kan mos volgens een AS besluit glo dat daar iets soos ‘n duiwel bestaan, maar jy hoef dit ook nie te glo nie... Dit klink my of almal in die kerk nie eers meer seker is of 'n huwelik eksklusief uit een man en een vrou bestaan nie...

Of ons dit nou wil weet of nie. Belhar is vir baie mense ‘n emosioneel gelade woord, hetsy positief of negatief. Vir sommige klink dit na rewolusie en Satan, vir ander is dit amper sinoniem aan evangelie. Dit gaan nie gou verander nie. Om die saak deur ‘n demokratiese proses na een of ander kant te dwing gaan gemoedere opjaag. Ons moet eerder saam dink, saam bid en vanuit die Skrif rigting soek, sonder die druk van propaganda wat mense net kwaad maak...

Om te stem oor Belhar was die verkeerde opsie. Spesifiek wat ons eie Namibiese konteks betref moes ons eerder vars en bietjie uit die boks gedink het. Belhar het immers daar ver in die Kaap gebeur in ‘n baie anderste konteks al sou daar raakvlakke kon wees. In ons land verloop die versoeningsproses baie anders as in Suid-Afrika...

Baie Namibiese NG gemeentes het al vir jare lidmate vanuit ander kulture, sonder dat ons Belhar as belydenisskrif onderskryf. Dit sou natuurlik oneerlik wees om te beweer dat niemand rassevooroordele het nie (waar sou sulke mense gevind word?), maar die voorbeelde van hartlike liefdevolle samewerking oor rasse en kultuurgrense heen is te veel om op te noem. En dis waar van mense wat ja sowel as nee gestem het... Hierdie positiewe feite word onsigbaar in die rookwolke van verwyte na die sinode stemming in Windhoek. En dis ontsettend jammer! 

Dit sou eweneens oneerlik of minstens baie naïef wees om te dink dat die aanvaarding van Belhar as belydenisskrif nou skielik tot eenheid, liefde en medemenslikheid gaan lei. En mens sou seker kon vra : Ons het immers die Heilige Skrif, as mense nie aan die Bybel gehoorsaam is nie, gaan Belhar nou skielik hulle harte verander? En dit in ‘n tyd dat ons bestaande belydenisskrifte maar weinig bekend is... Sal die Belhar ondersteuners tog ook 'n slag net so opgewonde raak oor ons kosbare Dordtse Leerreëls?

Wat dan? Ek sou wou voorstel dat ons eerder in ‘n openhartige gesprek saam met ons VGK broers en ander belanghebbendes hoor wat hulle kwellings en verwagtings is. Vanuit so ‘n gesprek kan ons ‘n eietydse verklaring afkomstig uit Namibiese bodem maak. As daar dinge is wat ons nog moet bely, laat ons dit bely, as daar veranderings moet kom, laat ons onsself daartoe verbind, as ons weer opnuut na ons eie harte moet kyk, mag ons daarvoor genade vind, as dit selfs nodig is dat ons van Belhar se gesigspunte moet oorneem, laat ons nederig genoeg daarvoor wees... As dit nodig is laat ons dit dan op skrif stel in oorleg met mekaar, maar noem dit dan asseblief met ‘n eie Namibiese naam... Dalk iets soos die OMBILI (vrede) VERKLARING? Ek vra eintlik maar net dat ons nie by ‘n naam (Belhar) vashaak nie, maar wesentlik na die saak kyk, want ek is oortuig dat daar by die verre meerderheid van ons aktiewe lidmate groot ooreenstemming is oor sake soos die evangelie, liefde, eenheid in Christus en die belangrikheid van uitreik na mekaar. Tot dan, laat ons asseblief ophou om mense oor Belhar in kampe te jaag... Ek vra mooi, laat ons tog nie Belhar verhef tot 'n moderne "sjibbolet"* en maatstaf vir liefde en eenheid nie... Die vereiste vir kerklidmaatskap en ware eenheid is geloof in Jesus Christus en Hy alleen!


Saam aan die werk vir Jesus in ons mooi land...


* Sien Rigters 12:6

Sondag 12 Oktober 2014

STIG ‘N NUWE KERK?

- wat staan ons te doen as die kerkleiding klaarblyklik die pad byster raak?

Dis geen geheim dat daar die afgelope dekades reuse woelinge en koersveranderings in kerklike geledere (en onder andere ook by name in die NG Kerk) was nie.

Oor kernleerstellings soos die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, Skrifbeskouing, die bestaan van die duiwel, die kerk se hantering van homoseksualiteit en baie ander sake (soos die vrou in die lerende amp) is daar hewige debat gevoer en is daar in sommige gevalle Sinodale besluite geneem wat baie diep gelowige lidmate geskok laat wonder het of ons nog ‘n plek het in die kerk en of ons nog met ‘n goeie gewete lidmate kan bly van ‘n bepaalde denominasie. Inderdaad het duisende van die room van ons lidmate ander kerklike tuistes gevind of gemeentelose swerwers geword... Die voorstel rakende die verandering van Kerkorde Artikel 1* van die NG Kerk is nou weer so ‘n kwessie wat gemoedere gaande kan maak en weereens ‘n besinning oor lidmaatskap tot gevolg kan hê. Om dit prontuit te stel, daar is lidmate wat diep ongelukkig is met die koers waarin die kerkleiding klaarblyklik beweeg. Sommige oorweeg dit dalk weer om die pad te vat... “Wanneer is genoeg , genoeg en moet ons afskeid neem?”, word gevra.

AFSKEIDING EN AFSTIGTING?

Moet ons wegbreek en afstig as die kerkleiding ‘n koers inslaan wat volgens ons mening nie reg aan die Skrif en ons belydenis laat geskied nie? Ek dink dat daar (ten minste tans) goeie praktiese, historiese en teologiese redes is, waarom ons uiters, maar uiters versigtig moet wees om sommer ‘n kerkverband te verlaat en ons “eie” ding te doen.

Prakties : Afskeidings lei tot kerkversplintering en dikwels tot ‘n ongebreidelde individualisme wat uiteindelik ontaard in kerklosheid en chaos. Rondom ons is daar baie sigbare voorbeelde. As jy eers begin afstig en afstig word dit later ‘n eindelose proses van afstigting en kerkhoppery, want kort voor lank kom daar in die nuwe groep ook verskille na vore wat weer afstigting of afskeiding “regverdig”. Die gevolg is op die ou end klompies opregte, maar dikwels verdwaalde skape van die Here wat hulle eie koers inslaan en die prooi word van verwaarlosing en wrede wolwe. Los individue wat elkeen die Here op sy eie manier probeer dien, is nie die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap nie!

Histories : Die geskiedenis bewys by herhaling dat afstigtings gewoonlik op die lange duur nie lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) En dis ook by ons die geval : hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ’n doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie? Wat van die 16de eeuse reformasie sal mense vra, dit was tog ‘n radikale afskeiding van die Roomse kerk, of hoe? Die geskiedenis wys dat dit nie die reformatore soos Luther se aanvanklike idee was om af te skei nie. Hulle is uiteindelik gedwing om dit te doen. Om weg te loop is een ding, om weg gejaag te word is iets heel anders...

Teologies : Die verbondsvolk van God in die Ou Testament was dikwels (meestal) in ’n uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ’n oplossing voorgehou nie. Dis ’n minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.

Die Nuwe Testament se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die gemeente van Laodicea, wys dat daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen kerk en ewige burgers van die Koninkryk is nie. Almal in die kerk sal nooit ware volgelinge van Jesus wees nie. Die volmaakte kerk bestaan nie, selfs onder Jesus se binnekring van dissipels was daar ‘n Judas en ook die ander het by tye ernstig gedwaal. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat dit met party gemeentes heel goed gaan, terwyl sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam het dat hulle leef. So was dit met die gemeente van Sardis. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring 3:1) Tog word selfs hulle nog steeds as gemeente van die Here vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes kry nie in ’n enkele geval die raad om hulle af te skei nie! Nee, hulle moet optree teen verkeerde elemente en hulleself weer toewy in gehoorsaamheid en liefde vir die Here. Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike voorbeelde van twis en seksuele losbandigheid... Kyk hoe spreek Paulus hierdie gemeente korporatief aan. “aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges,” (1 Kor 1:2 OAV) En ja, beslis, hy raas baie ernstig met hulle vorentoe in die brief, maar tog herinner hy hulle as gemeente daaraan dat Jesus Christus getrou is om hulle te laat vasstaan. (1 Kor 1:8,9)


Gelukkig is die deurslaggewende faktor nie kerkrade, ringe en sinodes nie, maar ons GETROUE HERE JESUS CHRISTUS!

WAT STAAN ONS TE DOEN?

As afstigting nie ‘n opsie is nie, wat dan wel?

Die selfstandigheid van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ’n vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties oor die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot ‘n tak van ’n instituut nie. Elke plaaslike kerk staan direk onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg, ruimte (en verantwoordelikheid!) om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings (ringe en sinodes) is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. ‘n Sinode, moet ons onthou is nie ‘n hiërargiese (pouslike) liggaam nie, maar eerder ‘n gebeurtenis! Een kerk (gemeente) het wel ’n getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Waarop kom dit neer? Die plaaslike kerk onder leiding van die plaaslike kerkraad, moet na groter gehoorsaamheid aan die Skrif streef en voortdurende reformasie najaag. Ons eerste verantwoordelikheid is hier by onsself! Ek wil amper sê (sonder om die belangrikheid van 'n besluit rondom Artikel 1 te ontken) : "Wees dus asseblief minder bekommerd oor Belhar en meer bekommerd oor die geestelike toestand van ons eie jeug, sedelike norme, kerkbywoning en diensbaarheid!" As ons euwels soos onsedelikheid (saamwonery) en los dissipline (byvoorbeeld oor versuim van kerkbywoning) sommer goedsmoeds in eie geledere duld, hoe kan ons dan die groter kerkverband oor “sondes” aanspreek? Positief gestel, niks wat ‘n sinode sou kan besluit kan ons verhinder om getrou aan Jesus en Sy Woord voluit kerk te wees nie. Laat ons hiermee erns maak!

Kerkrade moet groter verantwoordelikheid vat in praktiese aangeleenthede soos die beroeping van leraars wat die Woord suiwer verkondig, ondersteuning aan Skrifgetroue bedienings en die bestuur van gemeentes in eerlike gehoorsaamheid aan die Woord. Vir hierdie tak moet kerkraadslede hulleself toerus (en laat toerus) sodat hulle kan standpunt inneem teen wat verkeerd is en kan bevorder dit wat reg is.

Lewer ‘n helder en blymoedige getuienis binne jou kerkverband sowel as na buite met die Skrif en belydenisskrifte as basis. ‘n Helder getuienis – laat ons duidelik sê waar ons verskil en dit deeglik vanuit die Woord en belydenis fundeer. Maar ook belangrik – ‘n blymoedige getuienis – sommige kampvegters vir die waarheid verval in ‘n oorkritiese, siniese dikbek gesindheid en kelder so hulle eie standpunte. Oor die waarheid kan en moet ons altyd bly wees. Daarom moet ons bereid wees om ons standpunte met beskaafdheid, vriendelikheid en innerlike vreugde aan almal te stel wat maar wil luister.

Soek groter kontak en eenheid met ander gemeentes wat opreg na Woordgehoorsaamheid streef. Pasop vir die “net ons is reg” sindroom. In elke kerkverband en daarbuite is baie gemeentes en gelowiges wat die Here getrou wil dien in hierdie tye van chaos. (Nooit sal ons ook oor elke "i" se dotjie en "t" se strepie presies dieselfde dink nie. En ons hoef ook nie...) Laat ons wat oor ons baisiese geloofsfondamente dit eens is, mekaar opsoek en die hande vat. Ons het mekaar nodig.

Laat ons ons verootmoedig in gebed en berou oor die gebroke toestand van ons eie gemeente en kerkverband en groter kerk as geheel. Die geestelike temperatuur in die 18de eeuse Engeland is nie deur wegbreekaksies, formele kerkdebatte en besluite verander nie, maar deur ‘n Godgewerkte herlewing! Ja, God het menslike instrumente in hierdie herlewing soos Whitefield en Wesley gebruik, maar dit was in die eerste plek ‘n bonatuurlike ingryping van God self! Hoe nodig het ons Hom nie! Wie ernstig is oor die welsyn van die kerk sal begin bid! God is nog steeds God en vir Hom is niks onmoontlik nie. Ons mag en hoef nie moed te verloor weens die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van sommige misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ’n magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid biddend verkondig. Die werk van  (kliek op) Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ’n pragtige en besielende voorbeeld hiervan.

POSITIEWE HOOP

Solank die Woord binne die kerk gevind word (en onthou sowel die ou as die voorgestelde Kerkorde Artikel 1 begin met : “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.”) en ons hierdie Woord mag verkondig is daar hoop! Hierdie Woord is ons basis en vertrekpunt van reformasie.  Maar daar rus ook ’n nederige verpligting op elkeen wat hierdie Woord glo, om dit gehoorsaam uit te leef. Ons hoef nie vir iemand te wag nie - ek en jy kan mos deur die genade dit begin gehoorsaam... 


Die plek om te begin is my eie hart en daarnaas ook in ons eie gemeente. Die versoeking om die pad te vat is dalk soms groot. (Jy het dit dalk alreeds gedoen en ek het baie begrip daarvoor. Jy het dalk geen ander keuse nie, want jy moet Sondag na Sondag die gruwelikste dwaallering aanhoor – daar kan sekerlik situasies ontstaan, wanneer daar geen ander opsie is as om by ‘n ander gemeente of kerkverband in te skakel nie. Moet asseblief net nie die LONE RANGER OPSIE kies nie! ) Elkeen wat dit oorweeg moet egter eers eerlike selfondersoek doen of dit in die lig van die breë beginsels van die Skrif die regte ding is. Het God jou nie juis geplaas waar jy is, binne-in ‘n bepaalde gemeente, met die oog op ‘n tyd soos hierdie nie? Mag Hy jou duidelik deur Sy Gees en Woord lei!

Afskeiding kan maklik ‘n afgrond word...



*Huidige Artikel 1 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.


Voorgestelde Nuwe Artikel 1 

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. 

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie. 

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. 


[Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op 12 Oktober 2014 met ‘n groot meerderheid , NEE gestem, teen die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1.]

Dinsdag 17 Junie 2014

ALTERNATIEWE GEMEENSKAP

- gevorm en bewerk deur die Gees van Jesus!

So dikwels is daar ‘n stryd in die kerk om mense betrokke te kry of dan nou om “fellowship” of "kononia" te organiseer. Baie moeite, planne en pogings, maar dikwels min resultate... Handelinge gee duidelike antwoorde en standaarde oor hierdie saak. Miskien wonder jy : “Maar is Handelinge ‘n realistiese eerlike boek?” Wel, Lukas is ‘n baie eerlike geskiedskrywer - hy vertel nie net die mooi dinge nie, maar ook hoe die heilige gemeenskap deur skynheiligheid ontsier is (Ananias en Saffira), hy vertel hoe etniese wrywing die heerlike eenheid bedreig het. Sy eerlikheid word nogal treffend bewys as hy selfs die spanning tussen die twee groot sendelinge Paulus en Barnabas beskryf.

Dis belangrik dat ons die moed sal hê om dus ook van ons kant eerlik na Handelinge te kyk en onsself en ons gemeentelike lewe in die lig hiervan te ondersoek en aan te pas. Johnson* sê dat Lukas sy beskrywing nie bloot bedoel het as ‘n nostalgiese retrospek van die goeie ou dae nie, maar eerder as ‘n patroon vir die huidige. Met ander woorde hierdie is ‘n patroon vir normale gemeente wees! (Natuurlik is daar ook uitsonderlike eenmalige gebeurtenisse in Handelinge wat nie net so vandag toegepas moet word nie. Leraars word nie almal deur die Gees getransporteer soos Filippus nie, ons hoef nie op die dak te gaan bid soos Petrus nie... Nou hoe weet ons wat normatief is vir vandag en wat nie? ‘n Eenvoudige reël is om die beginsels in Handelinge wat later in die vorm van opdragte in die Nuwe Testamentiese briewe aan gemeentes voorgehou word, as normatief vir die kerk van Jesus te beskou.... Opdragte oor gebed, liefde, versorging ens.)

So, wat sê Handelinge oor die praktyk van kerkwees as ‘n alternatiewe gemeenskap?

Grondliggend kan ons die kerklike praktyk in Handelinge saamvat as ‘n gemeenskap (fellowship) bewerk deur die Heilige Gees!

“Fellowship” is ‘n geykte term in Christen geledere, algemene woord, maar dit het heelwat van die betekenis soos ons dit in Handelinge vind verloor. Vir baie is dit sommer net bietjie gesellig saam wees. Maar daar moet tog meer in wees – ‘n klomp drinkebroers verkeer ook gesellig saam, nogal juis hulle... (dis nou voor die fight!) Gemeenskap van die gelowiges gaan egter veel dieper. Die fokus van ware gemeenskap is dit wat gelowiges in gemeen met mekaar het, dit wat ons met mekaar deel. Koinonia beteken om prakties die waarheid dat ons ledemate van een liggaam is, tot uitvoer te bring. Dikwels het hierdie begrip materiële en finansiële implikasies! 

Die opsommings van die kerklike lewe en groei in die eerste hoofstukke van Handelinge (byv. 2:43-47; 4:32-35; 5:12-16) bring ‘n paar praktiese aspekte van gemeenskap na vore. Dis: 

-Gemeenskap van gereddes. “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (2:47b) Net mense wat gered is (m.a.w. saligmakend aan Jesus persoonlik verbind) kan waarlik deel van die kerk wees. Anders gestel : As ek aan Jesus verbind is, mag ek ook nie los wees van sy Kerk nie. God voeg my dan by sy gemeente! Die een Gees van Jesus woon in alle gelowiges – dit bind mense aan mekaar. Dis spontaan, dis Geesgewerk...(ons het nie eintlik iets soos Belhar daarvoor nodig nie...) Hierdie egte gemeenskap kan nie meganies geforseer of uiterlik afgedwing word nie. Ware gemeenskap begin dus by ware bekerings...

-Gemeenskap binne die konteks van die genade van God. “Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.” (4:33) Dit sluit noodwendig aan by vorige punt. Die genade wat hulle aan hulle Verlosser gebind het, het hulle ook aanmekaar verbind. Gemeenskap van die gelowiges is net moontlik vir mense wat genade ontvang het en daarom ook genadig teenoor mekaar is. Omdat ons mense is met verskille in agtergrond, gewoontes en maniere is die potensiaal vir konflik en irritasie enorm groot in die kerk – daarom kan hierdie gemeenskap net werk as die beginsel van genade oorheersend is! Die gee van genade aan mekaar is die groot faktor wat ware fellowship, ten spyte van ons gebrokenheid moontlik maak. 

· Gemeenskap in die breking van die brood. Sonder twyfel was deel van ‘n normale maaltyd, maar dis ongetwyfeld wel ‘n spesifieke verwysing na die nagmaal in sy vroeë vorm. Die nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd in die teenwoordigheid van die Here. Dit is ‘n viering van die Nuwe Verbond (Jeremia 31) en ego die verbondsmaaltyd wat by Sinaï in God se teenwoordigheid geëet is! (Eksodus 24:9-11) Wat ‘n geweldige gebeurtenis! (kliek op TOEGANG)  Die ooreenkoms met die nagmaal is opvallend. Nadat versoening deur die besprinkeling van die bloed bewerk is, mag hierdie groep persone in God se teenwoordigheid aansit vir ‘n maaltyd. Ten volle met God versoen, aanvaarbaar by God en in gemeenskap met Hom en met mekaar... Verbysterend heerlik! Die heiligheid en belangrike rol van die nagmaal moet nie onderskat word nie. Dis iets wat geen Christen sommer ligtelik mag misloop nie!

· Gemeenskap in gebed. Die nuwe bekeerlinge het voortgegaan om in die tempel gebed en lofprysing aan God te bring. Gebed was deel van die algemene ritme van die gemeente. (3:1) Dit gaan egter oor iets dieper as die gebed in ‘n gebou... Die gemeente, die gelowiges is die nuwe heiligdom, die huis van gebed vir alle nasies. (Jesaja 56:7) Later is die gebruik van die tempel uitgefaseer. Die natuurlike en instinktiewe reaksie van die gemeente is om hulle tot gebed te wend wanneer daar besluite geneem moet word (soos die kies van ‘n apostel) en wanneer daar ‘n krisis is. (4:23-31). As ‘n gemeente nie saam bid nie, kan ons dus nie praat van ‘n gemeenskap van die gelowiges nie. 

“Fellowship” gaan nie net oor saambraai nie, maar veral oor saambid!

· Gemeenskap op materiële vlak. “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.” (2:44,45) Christelike koinonia behels ook iets meer as die belegging van ons aandag en tyd in mekaar se lewens, dit behels ook die belegging van Rand en sent in die praktiese omstandighede van hulle wat nood het. Nie verpligte kommunalisme nie, maar Geesgedrewe opoffering vir mekaar. Hierdie tasbare aspek van fellowship word pragtig uitgelig in die Filippense brief. In Filippense 1:5 dank Paulus hulle vir hulle gemeenskap aan die evangelie. Dit het hier ‘n duidelike finansiële konnotasie. Dis duidelik as ons dit in verband sien met Filippense 4:15. Ons sal die implikasies hiervan in integriteit voor die Here moet uitwerk, ook op ‘n globale skaal. Christen liefde en gemeenskap het baie te maak met oop beursies! (1 Johannes 3:17)

Dis onaanvaarbaar dat sogenaamde Christene is monsteragtige groot paleise bly, terwyl broers en susters rondom hulle van honger krepeer!


IS DIT REGTIG MOONTLIK?

Hoe het die eerste gemeente hierdie gemeenskap reggekry? Ons sê so maklik : “Dit was ander tye, vandag leef ons in baie moeilike omstandighede!” Twak! (as jy lopende water in jou huis het, is jou omstandighede regtig nie so moeilik nie...miljoene het nie daardie voorreg nie!) Die kerk van Handelinge het beslis ook nie in idilliese omstandighede gefunksioneer nie! Dieselfde sonde en versoekings as vandag was destyds maar ook teenwoordig. Daar was inderdaad mense in die vroeë kerk wat agter die verleiding van die rykdom aangegaan het. (Demas) Dieselfde ekonomiese krisisse as wat mense vandag beleef - hongersnood in Jerusalem. Dieselfde verdelende faktore soos etnisiteit (6:1) en die skeiding tussen ryk en arm. So hoe het hierdie gemeenskap gerealiseer? Drie onmisbare faktore maak hierdie innige gemeenskap prakties moontlik :

Dit was die gevolg van die werk van die Heilige Gees en gehoorsaamheid aan die Gees. Paulus praat van die gemeenskap van die Heilige Gees. (2 Korintiërs 13:13) Lukas noem dit nie direk so nie maar die konteks maak dit duidelik dat hierdie gemeenskap ontstaan het weens die werk en gawe van die Heilige Gees. Hy verwys na die vrug van die Heilige Gees in hulle lewens- “eendragtig.” Daar is geen ander verklaring vir die eenheid onder hierdie groep mense nie as die werk van die Heilige Gees.

· Hierdie mense is ten spyte van hulle verskille saamgebind deur die waarheid. ‘n Gemeenskaplike passie vir die waarheid. Eenheid gebou op die waarheid. Dis die evangelie waarheid wat deur die apostels verkondig is. (2:42)

En onthou sommer ook...

In Handelinge kry ons ‘n duidelike beeld van ‘n aspek van Nuwe Testamenties Christenskap wat vir baie ‘n onbekende saak geword het. “Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en gemeente gebaseer” (Albert Martin ) Nie ‘n klomp los individue wat elkeen die Here dien soos hy of sy wil nie! 

In die "laaste dae" (die tyd wat aangebreek het met Jesus se eerste koms en die uitstorting van die Gees!) gaan dit oor die herstel van die harmonie wat tydens die sondeval skipbreuk gely het. Nie net wat betref die verhouding met God nie, maar ook met mekaar. Hierdie herstelde verhouding word veral binne gemeente verband gedemonstreer en uitgeleef.

Gemeenskap (fellowship) in Handelinge is diepgaande, lewenskragtig, eg en baie belangrik - dis duur, dit kos baie, dit vra baie! ( in terme van tyd, geld en prysgawe van eie belange en eie programme) Maar dis die wil en bedoeling van God vir Sy kerk!

*Johnson se skitterende boek, “The Message of Acts in the History of Redemption” is die basis vir hierdie Pinksterreeks.  Om na die begin van hierdie reeks te gaan kliek op PINKSTER 2014

Woensdag 23 Oktober 2013

KOERSLOOS? - BRIEF AAN DIE KERKBODE

Geagte Redakteur

Wanneer ek die Kerkbode van 18 Oktober 2013 lees dan is daar ‘n klomp vrae wat in my gemoed bly maal.

Maandag 21 Oktober 2013

OM TE “BELHAR” OF NIE

- net twee opmerkings.

Die Belharbal word nog steeds fluks rondgegooi en geslaan. Die jongste besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk het nog uiteraard geen rus vir die voorstanders en teenstanders...