BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Inheemse bome. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Inheemse bome. Wys alle plasings

Dinsdag 26 Augustus 2014

WONDERBOOM?

- dis nie Jona s’n nie, al groei hy byna net so vinnig!




Ek onthou nog watter groot opgewondenheid die bekendstelling van die sogenaamde “wonderboom” (Leucaena leucocephala) veral bekend om sy verstommende groei ywer en spoed in die negentigerjare op Rundu veroorsaak het. Jy plant hom vandag en een van die dae sit jy in sy skaduwee... In retrospek was dit ‘n misplaaste opgewondenheid. Gaan kyk maar hoe lyk Rundu... Terwyl die pragtige inheemse bome van die Kavango al skaarser word, is die plek besmet met wonderbome van alle grotes. En ek kan maar net wonder wat gaan die effek wees van hierdie vinnig verspreidende pes op die Kavango moerasse...


NUTTIG OF VERNIETIGEND?

“Ja, maar dis tog ‘n baie nuttige boom... brandhout, veevoer...” Heeltemal reg ja, maar die ander groot boombedreiger van die Namibiese ekosisteem, die Prosopis (Suidwesdoring) het ook wonderlike eienskappe, en tog die gevaarlike nadele oortref by verre alle moontlike voordele. Hierdie is ‘n vreemde onwelkome gas (uit Meksiko se wêreld nes die Prosopis) wat amok veroorsaak omdat dit so sterk en vinnig groei en inheemse plante verdring. Dit veroorsaak reeds groot probleme in lande soos Taiwan, die Bahamas, Hawai, Fidji, noordelike Australië en selfs in dele van Europa. En die moeilikheid is, as hy eers groei is dit nie so maklik om van hom ontslae te raak nie. As hy gekap word, begin hy maar net weer... Die feit is Leucaena leucocephala is ‘n uiters bedreigende indringer en dis nie bloot ‘n persoonlike opinie nie. Hierdie plant word gereken onder die 100 ergste indringer spesies deur die Invasive Species Specialist Group van die IUCN Species Survival Commission. 

SOOS ALLE KITSOPLOSSINGS SKEP HIERDIE "KITSBOOM" OOK MEER PROBLEME AS WAT DIT OPLOS!

Vir die Tsumebers, kyk maar bietjie rond hoe het hierdie boom die afgelope paar jaar begin oorvat in ons dorp. Ek sien nou ook hoe hulle langs die Tsintsabis pad versprei. Dink mooi voor jy hierdie plant op jou plaas en erf gaan plant of toelaat om homself te plant. Dis boonop ook nie ‘n langtermyn boom nie, sy lewensduur is tussen 10 en 20 jaar en verder is dit bekend dat die sade mimosien, ‘n aminosuur bevat wat giftig is vir nie herkouende vertebrata. Nee, wat hier in ons subtropiese omgewing is daar so ‘n verskeidenheid van fantastiese inheemse bome om aan te plant, los die Leucaena!



In sekere dele van Tsumeb begin hulle klaar oorvat! Gaan kyk maar na die sloot oppad riooplaas toe...






'n Nuwe aanplanting van wonderbome op die sypaadjie voor 'n woonhuis in Tsumeb. Hierdie boompies is so jonk, maar dra al klaar saad...








Roei die wonderboom uit en red ons pragtige inheemse plantegroei!

Dinsdag 13 November 2012

GOD SE BOME IS KOSBAAR

- bewaar hulle!

God se kinders het respek vir Hom - vir sy heiligheid, almag en  koningskap. Dit sal verseker ook respek insluit vir sy skepping. Dis tog net logies : as ek die Skepper eer en aanbid sal ek ook sy skepping bewonder en oppas. Natuurlik het ons as Christene ‘n gebalanseerde benadering. Ons verafgod en aanbid nie die natuur nie. Ons het nie ‘n onrealistiese Greenpeace houding wat dikwels meer skade doen as goed nie. Ons erken met dankbaarheid dat God vir ons plante en diere gegee het om verantwoordelik te gebruik!

Namibië is geseënd met ‘n goeie grondwet wat voorsiening maak vir die bewaring van ons natuurlike erfenis. In praktyk werk dit ongelukkig nie altyd so op voetsoolvlak  nie. As boomliefhebber is ek baie bekommerd oor die uitroei van kosbare inheemse bome in ons relatief boomskaars en droë land.

Wes van Otavi vind mens pragtige groot mopanie (Colophospermum mopane) savanne. Reuse oeroue bome wat in harde omstandighede die toetse van die tyd, baie droogtes en veldbrande deurstaan het. Hierdie bome word nou teenstrydig met die wet vir die maak van houtskool afgekap. (Ek praat van groot bome, nie van struikmopanies nie!) Nie almal in die houtskoolbedryf beperk hulle blykbaar tot die ontginning van indringerbos soos sekelbos of swarthaak  nie! Vir kortstondige kontant word onherstelbare skade aangerig!





Nog ‘n bekommernis. In die Kavango streek vind die grootskaalse kap van pale plaas. Dis skaars stadig groeiende boomsoorte soos Vals Mopanie, hier ook genoem Osiwi (Guibourtia coleosperma) wat hiervoor aangewend word. In praktyk is dit ‘n bron wat nie hernubaar is nie. Veldbrande veroorsaak dat baie min nuwe jong boompies ooit sal oorleef. Dis ‘n pyn in die siel om die hope pale langs die paaie van ons pragtige land so te sien!


Hierdie pale word opgelaai in die Kavango deur 'n vragmotor met 'n Vrystaatse registrasienommer. Wonder of die eienaar daarvan weet?


Mag ons mense tog leer om respek vir bome te hê! Dis immers God se bome! “Die bome van die Here...” (Psalm 104:16)


GOD'S TREES ARE PRECIOUS
- protect them!

God’s children respect Him. His holiness, His omnipotence and Lordship. That will include respect for His creation. It rather goes without saying. If I honour and worship the Creator, I would also care for his creation! Off course, we as Christians have a balanced approach. We don’t  idolize or worship nature. We don’t support a Greenpeace type of attitude, which causes more harm than  good. We acknowledge with gratitude that God has  provided plants and animals for us to use in a responsible way!

Namibia is blessed with a good constitution which provides for the protection of our natural heritage. Unfortunately this doesn’t always have the desired effect in real life. As a lover of trees, I am very much concerned about the exploitation of our precious indigenous trees in our country which is quite dry and has relative few trees.

To the west of the town of Otavi, one finds a beautiful example of mature mopane (Colophospermum mopane) savannah. Ancient trees which survived the onslaught of ages, droughts and fires! These trees are cut in defiance of the law and used for the production of charcoal. (I refer to mopane trees and not mopane shrubland) It seems that the charcoal industry doesn’t always confine itself to the harvesting of encroaching species like sicklebush and swarthaak. The allure of quick bucks causes irreparable damage to our environment.

Another concern. Large scale harvesting of poles takes place in the Kavango region. Rare slow growing species like African Rose, locally known as Osivi (Guibourtia coleosperma) are exploited. This is for all practical purposes a resource that is not renewable. Annual fires prevent most sapplings to mature. It is painful to see the heaps of poles from these rare trees along our country’s roads for sale.


May our people learn  to respect our precious trees! In fact, these trees are God’s trees! “The trees of the Lord...” Psalm 104:16

Dinsdag 17 Julie 2012

ROLTRAPPE EN RUÏNES

- Rip van Winkel op Rundu.

Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet. 

Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander! 

Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte.  Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig...  Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword. 

Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis  in die strate...


Ek gooi ‘n draai by die ROK  van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en  van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.

“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”

Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle  met die blote oog sigbaar is...

Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge...  Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself  is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf.  Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n  onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...

Naskrif

Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.


Kroegtoonbank ROK


Muurskildery by die ROK



Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte. 
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)


Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.



Moderne geboue op Rundu