BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ou Testament - Betekenis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ou Testament - Betekenis. Wys alle plasings

Donderdag 24 Januarie 2013

JOHANNES DIE PADSKRAPERDRYWER?

- hoe om Ou Testamentiese profesie reg te verstaan.

Het Johannes die Doper paaie gebou in Palestina en grondverskuiwingswerk langs die Jordaan behartig? Natuurlik nie! Maar as mens die Ou Testamentiese profesie in Jesaja 40:3,4 in die streng sin van die woord “letterlik” sou opneem sou dit dalk die gevolgtrekking kon wees. Dit sê : “ ‘n Stem van een wat roep : ‘Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en  elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.’” Almal sal saamstem dat ons uit ‘n gedeelte soos Lukas 3:3-5 weet dat hierdie profesie verwys na die geestelik voorbereidingswerk wat Johannes die Doper gedoen het. Deur sy bekeringsboodskappe het hy die aanvoringswerk gedoen vir Jesus se bediening. Hierdie Ou Testamentiese profesie is geestelike beeldspraak of ‘n metafoor wat ons in die lig van Johannes en Jesus se bedienings moet verstaan! Om dit tegnies letterlik te verstaan sou belaglik wees en teen die boodskap van die Skrif indruis.

Maar dis presies wat so baie studente van die Ou Testamentiese profesieë doen. Hulle roem hulle daarop dat hulle die Bybel letterlik glo en toepas.  Nou natuurlik is daar baie Bybelse gedeeltes wat ons nie anders as letterlik mag verstaan nie, spesifiek die historiese gedeeltes in die Skrif. Bybelgetroue Christene is heeltemal reg om in die letterlike kruisdood en die histories liggaamlike opstanding van Jesus te glo. Maar aan die anderkant daar is daar wel baie gedeeltes in die Skrif wat ‘n metaforiese verpakking het, soos die voorbeeld van die profesie oor Johannes hierbo duidelik bewys. *

Dis baie duidelik dat ons in ons uitleg van die Ou Testament profesieë erns moet maak met die verstaan van beeldspraak en probeer verstaan wat dit sê oor die evangeliegebeure.

Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. In Jesaja 32:15 word gesê: “Dan word die woestyn ’n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ’n bos aangesien word” Iemand wat streng letterlik na hierdie uitspraak kyk, sou kon beweer dat dit ’n voorspelling is van ’n produktiewe vrugtebedryf in die land van Israel. (En sou so ’n uitleg kon ondersteun deur die feit dat die moderne Israeli staat inderdaad ’n groot produsent van vrugte is.) Maar is dit die regte uitleg? Die teks self gee duidelik te kenne dat dit hier gaan oor die oorvloedige werking van die  Heilige Gees. Wie die heilsgeskiedenis ken sal onmiddelik besef dat dit met Pinkster in vervulling gegaan het. Die ontwikkeling van woestyn tot vrugteboord en vrugteboord tot bos vertel maar net vir ons van die oorvloedige werk van die Heilige Gees en die heerlike gevolge daarvan veral nadat Hy aan die kerk geskenk is! Uiteindellik lei dit tot 'n nuwe bedeling van reg en geregtigheid!

 ‘n Paar riglyne om in gedagte te hou vir die verstaan van Ou Testamentiese profesie :

~ Hou rekening met die ontwikkeling van die  groot Bybelse storielyn. Die heilsgeskiedenis soos dit in Jesus Christus ’n hoogtepunt bereik. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL op hierdie webjoernaal) Sien raak hoe die temas van land en volk, ’n ontwikkeling deurgaan en groter en dieper betekenis kry vanuit Jesus as die klimaksopenbaring van God.

~ Hou rekening met die figuurlike taal en metaforiese aard van die profesieë. Veral in Bybel boeke soos Sagaria, Daniël en Openbaring word apokaliptiese beelde (perde, koppe, horings ens.) gebruik. Om dit letterlik te verstaan sal net tot nagmerries ly.

~ Hou rekening met die feit dat die profete woordeskat en gebeure wat vir hulle eerste lesers bekend was gebruik om toekomstige gebeure en geestelike warhede te beskryf. Destyds is daar oorlog gemaak met perde. Dit beteken nie dat orals wanneer die profete van perde praat, dat hulle daarmee sê dat toekomstige oorloë ook met perde gevoer sal word nie.

~ Hou rekening met die herhaling van Bybelse temas en gebeure wat aangewend word om toekomstige gebeure te beskryf soos die Skepping, Paradys, Sondvloed, die Uittog (Eksodusgebeure).  Daar kom ‘n nuwe skepping, die paradys word herstel, daar word weer ‘n verwoestende oordeel verwag (hierdie keer deur vuur), Jesus bewerk ‘n nuwe Eksodus ens. Nie net gebeure nie, maar ook historiese persone word gebruik om persone van die toekoms te beskryf. Elia word gebruik as ’n beskrywing vir Johannes die Doper. Josua, Dawid en Serubabel help ons om Jesus se persoon en werk beter te verstaan.

Wat van ‘n toekomstige tempel in Jerusalem?

Ook Ou Testamentiese instellings soos die hoëpriesterskap, offers en die tempel vind in Jesus hulle vervulling. ‘n Toekomstige tempel speel ‘n belangrike rol in die Ou Testamentiese profesieë soos byvoorbeeld in Jesaja 2:2 wat lees: “En aan die einde van die dae sal die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Vind ons nie hier ‘n letterlike voorspelling of vereiste dat mense na die hedendaagse land van Israel moet reis om God te leer ken? Nee, ons leer God alleen ken deur Jesus, wat alle offers, alle priesters en ja die tempel self vervang het!  (Dis so duidelik uit die Johannes evangelie) Nooit weer sal die vrygekooptes deur die Bloed van die Lam behoefte hê aan ‘n fisieke tempel nie – ook nie die sogenaamde vierde tempel waarvan sommige praat nie! Daar skort mos niks met Jesus se werk nie! Watter bydra kan enige tempel nou lewer om ons nader aan God te bring?  Geen toekomstige tempel kan ons ook Jesus se werk beter laat verstaan nie, want dis die werk van die Heilige Gees om ons van die waarheid en genoegsaamheid van Jesus te oortuig! 

Die volle heerlikheid van God is sigbaar in Jesus Christus – ‘n aardse tempel sal dus nooit meer nodig wees nie!

Daarom meld Openbaring 21:22 uitdruklik ten opsigte van die nuwe Jerusalem : “ ‘n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige en die Lam.”

Mag niks ooit ons fokus wegneem van die volle genoegsaamheid van ons Verlosser, Jesus Christus nie!

*Om net te sê dat ons die Skrif "letterlik" moet verstaan is 'n oorvereenvoudiging. Daar is verskeie literatuursoorte in die Bybel (genres) en dit bepaal die wyse van interpretasie. So is dit logies dat ons nie 'n gelykenis letterlik moet verstaan nie (om te wonder wat was die barmhartige Samaritaan se naam of ouderdom is sinneloos), maar daar is wel baie dele wat inderdaad letterlik moet verstaan word omdat dit aanspraak maak om byvoorbeeld ooggetuie verslae  of geskiedskrywing te wees. 





Oppad na Tsintsabis

Vrydag 18 Januarie 2013

TOERTYD NA ISRAEL

hoe belangrik is ‘n besoek aan Jerusalem?

Ek luister nou die dag in die motor oppad terug van Windhoek na ‘n Kanaal 7 onderhoud met die sanger Hessel van der Walt waarin ‘n komende toer na Israel gepromoveer word. Om na enige land, ook na Israel te toer is sekerlik ‘n groot voorreg, waaruit ‘n mens baie kan leer en verryk kan word.  So as jy in Israel gaan toer, geniet dit! Maar die onderhoud het my tog gehinder.  Die spreker beweer : “Soos elke Moslem een reis na Mekka in sy leeftyd moet onderneem behoort elke Christen ook Jerusalem/Israel te besoek.”* Verder word ‘n toer na Israel ook gekoppel aan die Ou Testamentiese beloftes wat voorspel dat die nasies na Jerusalem sal toestroom.

Kom ons kyk bietjie na ‘n Bybelse perspektief op hierdie twee sake wat aangeroer is:

1.Hoe belangrik is dit vir ‘n Christen om die land Israel te besoek? Dis natuurlik beslis nie verkeerd nie. Die agtergrondskennis wat tydens so besoek opgedoen word, sal waarskynlik help om gedeeltes van die Bybel vir mens op te helder en in perspektief te plaas. ‘n Toer saam met medegelowiges na die land waar Jesus geleef het, sou beslis geestelik verdiepend kon wees. En tog moet ons waak teen die oorbeklemtoning van die rol wat ‘n bepaalde plek, stad of land in ons geloof kan speel. Daar is ‘n goeie rede waarom die Nuwe Testament nêrens Christene oproep om ‘n besoek aan Jerusalem te bring nie.

 In die bedeling van die Nuwe Verbond is die vereiste vir ware aanbidding nie meer ‘n plek  nie, maar ‘n PERSOON, Jesus Christus. 

Hieroor is Johannes 4:23 waar Jesus in gesprek met die Samaritaanse vrou is, baie duidelik. Jesus verklaar plegtig : “Maar daar kom ‘n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” Jesus gee hierdie kommentaar na aanleiding van ‘n diskussie of aanbidding in Jerusalem of by die berg Geresim van die Samaritane moet geskied.

2. Is dit nodig vir die vervulling van profesie dat mense van alle nasies ‘n vliegtuig moet vat na Israel en in Jerusalem gaan aanbid? Dis so belangrik om die Ou Testamentiese profesieë se vervulling in Christus reg te verstaan. Die patrone in Israel se geskiedenis word op ‘n dieper manier herhaal.  Die profete voorspel ‘n nuwe eksodus, maar die verlossing is nou nie meer uit ‘n letterlike Egipte of Babel nie, maar dis nou die verlossing uit die slawerny van sonde. (Jeremia 16:15,16, Jesaja 40:3-4; 41:17-20; 43:1-2 ens.) Die ou Sinaï Verbond maak plek vir ‘n Nuwe Verbond, waar die klem nie val op uiterlike handelinge nie, maar op God wat sy wette in ons harte skrywe. (Jeremia 31:31-34) Daar gaan ‘n nuwe “Dawid” wees wat oor die geredde oorblyfsel van God se volk as Herder-Koning sal regeer. (Jesaja 11:1; Esegiël 34:11-13, 23-25) Dis tog Jesus, wat oor ons regeer deur sy Woord en sy Gees!  Nou wat beteken dit dan as ons lees Sion gaan herstel word en baie volke sal na Jerusalem kom om die wil van God te ken? (Sagaria 8:20-23) Hier is die gebeure aan die begin van Handelinge ontsettend belangrik en insiggewend. Jesus se eie disippels het na sy opstanding ook so ‘n letterlike herstel van ‘n aardse Koninkryk verwag. Hulle vra daarom vir Hom : “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord is uiters veelseggend : “Dis nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:6-8) Kyk wat gebeur hier. Die Ou Testamentiese beloftes van die nasies wat geseën word en na Jerusalem sal stroom, word juis vervul as Jesus se dissipels die hele wêreld deurgaan (weg van Jerusalem af!) en die evangelie verkondig! Hoe so? Deur die evangelieverkondiging kry gelowiges uit alle nasies deel aan die verlossing en word so deel van God se volk! “Aanbidding in Jerusalem” is nie ‘n erediens of lofprysingsgeleentheid by een of ander toeriste aantreklikheid nie, ware aanbidding vind plaas in Jesus Christus, die ware Tempel van God, in wie die heerlikheid van God woon! (Johannes 1:14) Jesus is gelukkig orals te vinde vir die wat Hom waarlik soek, ook hier in ons eie Namibië en daar waar jy jou nou op hierdie oomblik bevind! Wanneer mense uit alle nasies Jesus as Verlosser aanvaar word die wonderlike profesieë in Sagaria en baie ander Ou Testamentiese gedeeltes vervul – trouens dit gebeur oral oor die wêreld heen, daagliks, ook tussen ons!

Gelukkig hoef ons nie duur vliegtuigkaartjies na Jerusalem te koop om die volle seën te ontvang wat die profete van ouds beloof het nie! (Buitendien dan sou net ryk Westerse Christene in hierdie seën kon deel) Die volle seën van God is te vinde in Jesus Christus en word deur die kragtige vernuwende en oortuigende werk van die Heilige Gees aan ons bevestig en openbaar!

Jesus vereis nie van ons om na Jerusalem te toer nie, Hy roep ons wel om die wêreld te deurkruis met sy evangelie – begin hierdie evangelie sommer vandag nog te verkondig en te leef, daar waar jy is...en waar Hy jou ookal lei!

*Dalk nie presies verbatim nie, maar tog die strekking.

Maandag 16 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 2



In Deel 1 het ons gesien: God se Koninkryk is geskend deur die sondeval. God is egter nog steeds die almagtige Skepperkoning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se herstel van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Ons kan Jesus se werk net verstaan in die groot konteks van die herstel en aanbreek van God se Koninkryk. Dit help ons ook om te verstaan wat bekering is. Bekering is onderwerping aan Jesus die Verlosser-Koning!


Die elemente van die Koninkryk nl. Koning, Volk, Land, Wetstruktuur is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis. (Die geskiedenis van God se groot verlossingsdade in die lang proses van die herstel van sy Koninkryk)


Die verdorwenheid van die gevalle mens na die sondeval gaan van erg tot erger. (Gen 6:5) God gryp in met sy skrikwekkende oordele - ’n verwoestende vloed wat die Tsunami van destyds in Japan na kinderspeletjies laat lyk... God laat vaar egter nie Sy plan om sy Koninkryk weer te vestig nie. Die geskiedenis van Noag is die volgende groot fase in die heilsgeskiedenis. God (Koning) red Noag en familie (Volk) en gee aan hulle weer die aarde (Land) om op te vermeerder. Hy sluit ’n Verbond (Struktuur) Die na-sondvloed aarde wys vir ons reeds op die herstel van die hele skepping, die nuwe hemel en nuwe aarde. Vergelyk Gen 1:28 met Gen 9:1,2. (dieselfde opdragte van God aan die mens om sy skepping te vul en te versorg) Ons sien ook reeds dat Verlossing en Oordeel saamgaan. God is ’n genadige God wat verlos, maar almal word nie verlos nie, die meerderheid word veroordeel en vernietig! Dis net ’n oorblyfsel van 8 mense wat oorleef (Die Bybel ken nie ’n eensydige God-is-liefde teologie nie!) Die wat gered word is min - die gedagte van ’n oorblyfsel wat gered word kry ons ook weer later by die profete. Maar ook Jesus self sê die pad is smal wat na die lewe lei en die wat gered word min!

Kyk net hoe word die basiese Verlossingswaarhede reeds in die Ou Testament bekend gestel!



Nadat God die menslike arrogansie by Babel straf (Gen 11) maak Hy ’n nuwe begin in Genesis 12 met Abram. Kyk na die kontraste! (Vergelyk Gen 11:4 met Gen 12:2!) Die mens probeer self vir hom ’n naam maak - (dis waarom die lewe vandag nog draai vir die ongelowiges) , maar God sê vir Abram : “EK sal jou naam groot maak!” (Lees dit in die OAV) 

Hier kry ons weer die koninkrykselemente: God (die Koning) kies Abram en beloof aan hom ’n nageslag (Volk) en die land Kanaän (Land) en sluit met hom ’n verbond (Struktuur van verhouding).


Belangrik : Die verbond met Abram gaan nooit tot niet nie! Die verbond met Abram word nooit “oud” genoem nie, wel die latere Mosaïese Verbond. Daarom word Christene in die Nuwe Testament, kinders van Abram genoem! Galasiërs 3:7, 29!

Abram se nageslag, Israel beland in Egipte. Ons weet hoe het dit gebeur - die geskiedenis van Josef en hoe God dit gebruik het om hulle aan die lewe te hou. Tog skep dit ’n krisis! Hoe so? God se beloftes is onder druk - dit lyk of dit nie gaan realiseer nie, want die volk is onder vreemde heerskappy (onder die farao) in ’n vreemde land (Egipte). Dit lyk asof God se plan om sy Koninkryk te vestig misluk het, dit lyk asos Hy sy beloftes vergeet het, of dat Hy nie die mag het om dit uit te voer nie...

Maar dan na ongeveer 400 jaar, kom daar weer aksie!  Die Uittog onder leiding van Moses! God, die Koning dink aan sy beloftes (sien Eksodus 2:24,25) en red sy Volk (deur Moses) en lei hulle na Kanaän (die beloofde Land). Op pad gee Hy aan hulle ’n Wetstruktuur by die verbondsluiting by Sinaï. Dis die konstitusie van die Koninkryk in hierdie fase van die heilsgeskiedenis.

Die doel van God se redding van sy volk word duidelik uitgespel in Eksodus 19:3-6. (lees dit deeglik)

Die doel van God : God bring hulle na Homself - God red ’n volk om gemeenskap met hulle te hê, om aan Hom te behoort (eiendom), om Hom te dien, om afgesonder te wees vir Hom ! Dis nog steeds die doel waarvoor God mense red!

Vergelyk ook Eksodus 19:3-6 met 1 Petrus 2:9,10. Duidelike parallel! (nou reeds kan jy sien dat God se volk in die Nuwe Testament, nie meer etniese Israel is nie, maar alle ware gelowiges wat aan Jesus behoort!)


In die nuwe Land, regeer God (die Koning) sy Volk deur rigters en later konings volgens die vereistes van die Verbond (Wetstruktuur). (Let op - die volk sowel as hulle leiers is vol mislukkings. Dit laat ons uitsien na ’n Leier wat nie sal misluk nie) Die fokuspunt van God se teenwoordigheid in die land is eers die tabernakel en later die tempel. Dis waar God se heerlikheid in besonder aanwesig is. God sluit ’n verbond met Dawid dat iemand uit sy nageslag altyd sal regeer. Die volk en hulle konings is aanhoudend ongehoorsaam en uiteindelik word hulle in Ballingskap in ’n vreemde land weggevoer en die tempel verwoes.


Die profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël ens) profeteer die terugkeer uit die Ballingskap en ook ’n Nuwe Verbond (Jeremia 31:31-34). Hulle voorsien ook die herstel van die tempel. Daar sal ’n Verlossingsfiguur kom, ’n nuwe Dawid (Jesaja 11 ens.) wat sy volk sal verlos en as Koning vir altyd sal regeer. Hy sal terselfdertyd ’n lydende Kneg wees! (Hier is Jesaja 53 uiteraard baie belangrik! Veral vers 5 en 6. Die straf wat vir ons sonde op die Kneg neerkom, bring vir ons vrede!) Daar is net Een Persoon na wie dit kan heenwys, Jesus Christus! Kyk maar, hier is weer die temas van Koning, Volk, Land en Wetstruktuur (verbond)

Hier kan jy nou reeds sien dat so baie lyne na Jesus toe loop. Die hele Ou Testament is soos 'n berglandskap met klomp spruitjies en stroompies, wat bymekaar aansluit en groter riviertjies word en uiteindelik in een groot rivier saamvloei in die see in. Die hele Ou Testamentiese boodskap vertel ons van die noodsaak van Jesus, laat ons uitsien na Jesus, maak uiteindelik net sin in Jesus! Dis die opwindende boodskap waarna ons volgende keer in meer detail sal kyk. (kliek op LUGFOTO 3)

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy : According to Plan)