BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 09 Oktober 2012

BISARRE ABELSE BABBELING

- soos kaf in die wind.

Daar is ‘n groep verdwaaldes wat hulle graag self tipeer as soekers en hulle onder die skyn van nederigheid beroem op die feit dat hulle altyd soekers sal bly. Onder hulle tel die uitgesproke Abel Pienaar, een van Rapport se aangestelde dwaalskrywers in diens van die liberale pers se aanslag op die Christelike geloof. Hierdie voormalige NG predikant (en tans deel van die "Renaissance Spirituele Gemeenskap") probeer homself verkoop as ‘n eerlike neutrale soeker. (weliswaar met ‘n "breë Christelike denkraamwerk"??) Nou wonder mens waarna hy soek, want vanuit die staanspoor bestaan daar vir Abel nie iets soos waarheid nie. Hy verklaar  : “Daarom is my oortuiging om nie ‘n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskap van alle tye en kulture...” Abel se beweerde neutrale openheid en breë Christelikheid is natuurlik pure verdigsel. Hy is nie neutraal nie, want sy denke is deurspek met Oosterse godsdiens en heidense denke soos die panteïsme.

[Hieronder volg Abel se geloofsbelydenis. Ek gee dit weer in kursief en lewer kortliks kommentaar op elke artikel vanuit ‘n Bybelse perspektief]

Geloofsbelydenis van ‘n soeker

Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.

Abel soek in die wind en die gevolg is ‘n waardelose en waarheidlose  windlawaai. Hy glo iets, maar daardie iets is alles en dus niks. Sy selfgewaande geloof is totaal sonder inhoud.  Uiteindelik dink hy sy eie antwoorde uit en skep hy sy eie “windwaarhede”.  Hierteenoor glo die Christen in ‘n Ewige God wat Homself duidelik bekend gemaak het in Jesus Christus as die finale hoogtepunt van die Godsopenbaring. (Hebreërs 1:1-3) Daar is vir ons ‘n duidelike Naam gegee waardeur ons gered kan word, die Naam, Jesus Christus! (Handelinge 4:12) Hierdie Jesus is die enigste Middelaar tussen die enigste ware God en die mens. (1 Timoteus 2:5)

Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.

Abel is sy eie god. Hoe kan dit anders want sy “god” het geen identiteit en geen naam nie? Wat bly dan oor as dat ek maar op myself aangewese moet wees?  Onsinnige selfaanbidding!  Die ware God het Homself duidelik bekend gemaak. Ons God is die Vader van ons Verlosser Jesus Christus en daarom (en net daarom) ook ons Vader. Nêrens bely Abel vir  Jesus Christus nie. Dit wys dat hy deur die Satan verblind is en dan verstaan mens ook sommer waar sy windwyshede vandaan kom. Ja, inderdaad is hy deur sy god, die god van hierdie wêreld verblind, sodat hy nie die lig van die evangelie kan sien nie. (2 Korintiërs 4:4) Abel se god is uiteindelik (of hy dit weet of nie)... die Satan self!

Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.

Abel ontken die grens tussen Skepper en skepsel. Alles is vir hom, God. (Panteïsme) Abel se soeke het hom weer terug gelei tot  by die heidendom wat bome en diere aanbid! Hy aanbid en vereer die skepping en dus homself. Dis presies wat volgens Romeine 1:18-23 gebeur as ons nie God as God eer en dank nie. En dit het skrikwekkende gevolge soos ons verder in daardie hoofstuk lees... Ons glo dat daar 'n ewige onderskeid is tussen Skepper en skepsel. Ons glo nie dat die mens ooit 'n god word nie, maar dat ons as kroon van die skepping, ons sin en vreugde vind in die aanbidding van die een ware Skeppergod!

Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.

Abel glo in die liefde, maar dis vir hom ‘n normlose vaagheid. Slegs kinders van God weet wat ware liefde is, want ons het die uiterste vorm en hoogste norm daarvan aan die kruis gesien, toe die Sondelose in die plek van sondaars gesterf het. God het ons  eerste liefgehad en hierdie liefde roep ‘n wederliefde by ons op. Dis ‘n liefde met inhoud, naamlik die opdragte van ons Verlosser Jesus Christus, wat gesê het : “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10)

Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.

Hier verraai soeker Abel sy oorgawe aan Oosterse bygeloof in  ‘n nimmereindigende siklus! Hy is nie so neutraal en onskuldig as wat hy probeer voorgee nie. Gelukkig is die Christen nie vasgevang in ‘n eindelose siklus nie, maar doelgerig oppad na ‘n heerlike voleinding, wanneer al God se vyande verslaan sal wees en God ten volle geëer sal word. (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ‘n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.

Abel het hier ‘n halwe waarheid beet, wat gegrond is op ‘n gevaarlike leuen. Reg teen die Bybel in wat leer dat ons sondaars is wat onder die regverdige toorn van God staan. Dis eers wanneer ‘n sondaar tot geloof in Jesus Christus gekom het, dat hy vrede met God het en daarom ook in vrede met sy medemens en homself kan leef. (Romeine 3:23,24; 5:1)

Ek glo dat die lewe ‘n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.

Abel mag dalk dans, maar hy weet nie waarom of waarheen nie. Wat ‘n stukkie leë nikseggende wollerige retoriek! Die “verloor” maak wel ietwat sin. Abel het duidelik koers verloor en as hy hom nie bekeer tot God en sy Seun Jesus Christus nie, gaan hy vir ewig verlore wees. Dis net die kind van God wat vrede met God deur die kruis van Jesus gevind het, wat nou en tot in ewigheid kan rondspring van vreugde! Ja, ons het ‘n duidelike doel en sin in hierdie lewe, en in die lewe hierna : om die Lewende God te aanbid en te geniet! Die doel van my lewe is nie myself nie, maar God!

Ek glo dat die wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.

Abel kom hier op die klank af  na aan die Bybelse waarheid, wat  wel duidelik leer dat die wat soek sal vind. Hy bedoel egter nie die Bybelse soeke  en die Bybelse Antwoord,  naamlik Jesus Christus nie. Abel en sy vriende sal ongelukkig bly soek, want hulle soek op die verkeerde plek. God openbaar Homself in sy Woord, en dis waar ons moet soek. Ons weet ook dat niemand van ons van nature God soek nie (Romeine 3:11), maar gelukkig soek God se uitverkiesende genade ons eerste op! Ja, die kind van God se verstaan is inderdaad in baie opsigte nog gebrekkig - niemand van ons is nou al instaat om die volle omvang van sy heerlikheid en genade te begryp nie, maar om te beweer dat alle waarheid tydelik is, is ‘n infame leuen. Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6) - en Hy is nie voorlopig nie, maar God se finale spreke tot die mens. Hierdie Waarheid kan ons ken, en deur hierdie Waarheid word ons vrygemaak! (Johannes 8:32) En hierdie Waarheid is weereens, die Seun van God! (Johannes 8:36) Sy versoeningswerk deur sy kruis en opstanding was finaal en genoegsaam, beslis nie net voorlopig nie.

Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.

Abel verval hier in ‘n  onsinnige sirkelredenasie.  Wat of in wie glo Abel - daar is dan volgens hom geen kennis van God beskikbaar nie?  Waarop stel hy sy hoop? Vir wie het hy lief? Sy vae onwerklike god, wat eintlik hyself is? Hy probeer vir Paulus na-aap, maar anders as by Paulus het Abel se geloof, hoop en liefde geen inhoud nie. Uiteindelik glo hy in die liefde, maar dis ‘n liefde van sy eie illusie, aangesien Abel duidelik die unieke enigste ware liefde wat God deur sy Seun Jesus Christus bewys het, minag en verwerp. Christene kan slegs liefde betoon, omdat God ons eerste liefgehad het deur die Gekruisigde! Die natuurlike (nie-wedergeborene) is nie instaat tot ware liefde nie, omdat die sondeval ons vol selfsug en selfgesentreerdheid gelaat het.

Abel Pienaar

Abel is allesbehalwe ‘n soekende reisiger na die waarheid. Nee, as beoefenaar van die Zen Boeddhisme is hy eintlik maar niks anders as ‘n afgodsdienaar nie. Sy betrokkendheid by Tai Chi en meditasie laat mens sterk vermoed dat hierdie “spirituele begeleier” diep in die net van die okkulte vasgevang is. Dit laat mens sidder om te dink waarheen hy sy aanhangers begelei!

Nee wat Abel, jy gorrel in die wind! Die gelowige wat die Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar en wie se oë deur die Heilige Gees geopen is om die Woord (Jesus) in die Woord te aanskou is nie meer ‘n kind van die wind nie. Ons is gelukkig ook nie meer swerwers sonder roeping nie, want God het ons uit genade geroep om erfgename van Hom te word. Ons is ook nie meer soekers wat nooit vind nie, want God het ons eerste gevind en gegryp, en daarom kan ons ons losmaak van dit wat agter is en uitstrek na dit wat voor is met die heerlike vooruitsig van ‘n hemelse prys! (Filippense 3:12-14)

Abel (en sy mede Nuwe Hervormers en Vervormers)  is nie 'n regtig vry nie, al beskou hulle hulself as  vrydenkers. Nee, hulle is verknegtes van die Verleier! Vryheid is alleen te vinde in ons Verlosser Jesus wat ons vrygekoop het met sy kosbare bloed!

Addendum

Abel sanik nou weer onlangs in Beeld (20 Februarie 2013) dat die kerk 'n geleentheid tot "oop gesprek" misloop deur die Kerkbode se onttrekking aan die Woordfees. Sy uitsprake wys maar net weereens sy totale geestelike onkunde en absurde arrogansie. Van wanneer af is dit die kerk se roeping om "oop gesprek" met wolwe in skaapsklere te voer? Is Abel werklik so oningelig of is dit nou maar net 'n manier waarop hy wil skerm vir die Kerkbode se omstrede kletsjoernalis Jean Oosthuizen wat nou in die warm water beland het? Abel  behoort mos te weet dat Elia nie gesprek met die Baäl profete op Karmel gevoer het nie, maar eers met hulle gespot het... en toe laat slag het! En ook in die Nuwe Testament is die kerk se taak nooit "oop gesprek" nie maar duidelike en vreeslose verkondiging van die Waarheid!

3 opmerkings:

  1. Ek weet nie baie van die Abel af nie, maar hy praat werlik soos 'n dwaas wat geen kennis het nie.

    Die Skrif sê in Hosea 4 : 6 "My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet."

    En in Maleagi 2 : 7 - 8 "Want die lippe van ‘n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ‘n boodskapper van die HERE van die leërskare. Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare."

    En God se verbond met Levi (en Levi dui vir my ook op God se mense wat Hy voltyds roep tot die bediening as priesters van die Allerhoogste) vind ons net in die vorige twee verse (vers 5 - 6) "My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe. Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring."

    Ongelukkig sal Abel en baie ander soos hy voor God verantwoording moet doen vir hulle valse en duiwelse leringe, asook vir die honderde wat hy mislei het en saam met hom hel tot gesleep het

    AntwoordVee uit
  2. Dankie Johannes, dat daar nog iemand soos jy is wat hierdie onsin wat mense kwytraak, aan ander kan uitwys en verduidelik! Ja nee, ou Abel dwaal beslis, ek bid dat hy tog wel die Lig sal sien. Dankie vir al jou insiggewende stukkies waarheid.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. WIL NET SE JOU VERDUIDELIKING EN WAARHEDE IN ELKE STUKKIE WAT JY SKRYF IS WONDERLIK EN EK GENIET DIT BAIE, EERSTENS OM BAIE DAARUIT TE LEER, EN OM HOOP TE KRY VIR DINGE WAT EK NIE ALDAG VERSTAAN NIE. JY MAAK WERKLIK ONS OE OOP VIR BAIE GOED WAT REG RONDOM ONS GEBEUR. EK BID DAT JY EN JOU PRAGTIGE GESIN DEUR GOD BESKERM EN GESEEN SAL WEES.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.