BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 10 Januarie 2021

TRUMP IS 'N RAMP!

Laat ek dit duidelik stel al loop ek die gevaar om misverstaan te word en selfs van my beste vriende te antagoniseer. Hierdie man het ‘n groot gemors veroorsaak. Die mees blywende skade is dit wat sy gedrag aan die beeld van die evangeliese Christendom aangedoen het, weens Christene se openlike en kritieklose aanhang van ‘n goddelose narsis.

Is TRUMP ons Simson?


Donald Trump is binnekort nie meer president van die VSA nie.  Dis ’n feit...  Vir baie aanhangers is dit ’n  ontstellende gedagte en bitter pil om te sluk.

                                ’n Mens kan dit verstaan. Vir baie was hy die kampioen van ‘n “Christen Amerika”, vir sommige het hy semi-messiaanse status verwerf. Baie wonder nou : Gaan die son nou sak oor “Christen Amerika”?

Die geweldige ontsteltenis van Trump se evangeliese aanhangers kan mens ook begryp binne die konteks van die kulturele oorlog in die Amerikaanse samelewing. Trump se positiewe invloed in byvoorbeeld die aanstelling van bekwame konserwatiewe regters in die  Amerikaanse “Supreme Court” kan deur niemand ontken word nie!

Kommerwekkend vir my is, wel die bykans fanatiese aanhang van Trump deur belydende Christene.  Nog meer ontstellend is die rasionaal waarmee sommige hulle lojaliteit en lofprysinge aan Trump wat ’n goddelose lewe lei, regverdig. “Trump is ons Simson,” beweer so baie. Die argument klink so oortuigend: God gebruik so 'n  twyfelagtige karakter om sy volk  vir 20 jaar te lei en teen die vyand te beskerm, so Hy kan dit weer doen. Op die oog af is dit ’n  heel gepaste vergelyking. En die bos hare is nie die enigste punt van ooreenkoms nie... Simson was glad nie ‘n engel nie. Hy was waarskynlik ’n goeie kliënt van ’n hele paar prostitute en dit nogal heidense Filistynse vroue van die nag. Ons ken mos almal vir Delila en sy was sekerlik nie die enigste een nie!  “Trump het ook sy swaktes met vroue en geld en ’n oordrewe ego, maar God gebruik hom om goeie dinge vir die koninkryk te doen. Daarom moet ons hom steun.” So kon die argument gevoer word...

Vertrekpunte :

Voordat ek my probleem met sommige Christene se bewondering en soms selfs kritieklose openbare ondersteuning aan Trump probeer verduidelik, laat ek net ’n paar vertrekpunte duidelik stel:

Ek verskil met niemand dat Trump soms goeie dinge gedoen het nie. Selfs baie slegte ouens soos Hitler het ook soms goeie dinge gedoen. Hitler was sterk gekant teen kommunisme, soos ek glo ons almal is. En ek dink ons almal was bly toe Trump vir Sjina vasgevat het. Hoe suksesvol dit was, sal die toekoms moet leer...


God kan inderdaad goddelose en bose mense gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Die Ou Testament is vol voorbeelde. God kan ook ’n donkie as prediker inspan, maar dit beteken nie ons moet ons beywer vir die legitimasie van donkies op die kansel nie!

Vir die rekord (as party dalk mag wonder). Ek is en was nog nooit ’n  ondersteuner van die Demokrate in Amerika nie. Nog nooit was ek ook ’n liberalis, sosialis, anargis of kommunis nie!

Nou wat is dan my probleem met die 

“evangelicals” se ophemeling van Trump? 


Eerstens. Ek betreur die feit dat Christene ongekwalifiseerd en luidkeels vir Trump prys en ondersteun. En wel op so ’n  manier dat dit die evangeliese Christendom se beeld kontamineer en kompromitteer.  

Die wêreld daarbuite verstaan nie allerhande fyn nuanses nie. Trump word deur baie evangeliese leiers en hulle volgelinge as ’n  Christen held voorgehou wat Amerika en die wêreld van allerhande bose skemas soos globalisering en sosialisme moet bevry.  Dit skep ’n  bepaalde (valse) beeld van Christenwees in die oë van die wêreld.  Dit lei tot ‘n skeeftrekking en verwringing van wat Christenskap behels.  Of ten minste ’n ernstige verskraling.  Wat bedoel ek? Ongelowiges wat die debat in Amerika volg kan die indruk kry dat aborsie en sosialisme doodsondes is, maar dat Christene hulle oë toeknyp vir die onheile van huweliksontrou, geldgierigheid, leuens en hoogmoedige selfverheerliking.  En verskoon my, maar wêreldlinge kan dalk ook die indruk kry dat Christene onnosele “conspiracy” entoesiaste is wat hulle deur enige glansgans swendelaar om die bos laat lei! Dis presies wat Trump is. ’n  Swendelaar. Voormalige Republikeinse presidentskandidaat kandidaat Marco Rubio het self op ‘n keer vir Trump ‘n “con artist” genoem! Baie gerespekteerde Amerikaanse Republikeine wou juis daarom niks met hom te doen hê nie. Dink John Mcain en Mitt Romney. En selfs sy eie handuitgesoekte handlangers moes uiteindelik deur die rookskerm sien...Tillerson, Mattis, Bolton, Barr... Waarom sê Ben Sasse, Republikeinse konserwatiewe senator van Nebraska, dat Trump  flirted with white supremacists”, hanteer die presidentskap soos ‘n “business opportunity”, en “kisses dictators’ butts”? Die voormalige Republikeinse goewerneur van Kalifornië het Trump as die "worst president ever"  uitgekryt. So kan mens aangaan... Wat sien hierdie mense wat die onkundige evangeliese skape nie kan raaksien nie? Terloops, praat van onkunde, ek kry die indruk dat die gemiddelde Christen deesdae meer op hoogte is van die jongste “conspiracy” teorie as met die evangeliefeite self! Daar is groter vrees vir ‘n inentings as vir sonde!

Die kernvraag wat jy jouself moet vra : Is Trump se beeld,  leefstyl en waardes bevorderlik vir die evangelie in die wêreld?

Tweedens. Ek het ’n probleem met die tipe hermeneutiek en koninkryksperspektief wat van Trump ’n soort Simson kampioen van die hedendaagse Christendom en veral die Amerikaanse variasie daarvan wil  maak. 

Die Simson argument (waarna ek reeds kortliks verwys het) loop soos volg : Ja, ons weet dat Trump se sedelike morele lewe nie heeltemal op standaard is nie. Maar ons hoef nie te veel daaroor bekommerd te wees nie, want God het destyds vir Simson met al sy swakhede (soos vir vrouens) ook gebruik om sy volk te verlos. EINA!

Kom ek verduidelik hoekom ek hierdie tipe verskoning en verklaring hermeneuties onaanvaarbaar vind.

Dis berus op ’n subjektiewe eksemplariese verstaan van die Ou Testament wat erg problematies is. Met hierdie tipe van uitleg sou mens ’n menigte soort onheile soos veelwywery, etniese suiwering en  godsdienstige geweld uit die Skrif kon regverdig. Noag was dronk, so geestelike leiers met alkoholprobleme is aanvaarbaar?  Nee, ons lees die Ou Testament tog heilshistories. Die rigters, konings, profete en priesters van die Ou Testament was almal onvolmaak en juis daarom het Jesus ons volmaakte Middelaar en vervulling van al die ampte gekom en is ons hoop op Hom en nie op Amerikaanse ‘casinobaas’ Simsons nie! 

Ons kampioen is Jesus. Die arm, nederige 

en lydende Jesus. Nie die ryk, 

grootpraterige, gemaksugtige Trump nie! 

Die kontras kan nie groter wees nie!

(Natuurlik, Ou Testamentiese helde kan wel as voorbeelde voorgehou word, maar dan geïnterpreteer via die finaliteit van die openbaring in Jesus Christus. Soos Jakobus vir Elia as voorbeeld van ’n voorbidder gebruik.)

Die VSA is ook nie gelyk te stel aan Israel  van destyds nie. God se volk is nie meer een etniese of nasionale groepering nie, maar Sy kerk gekoop uit alle volkere wat verspreid as vreemdelinge en bywoners op die aarde woon. Baie Amerikaanse Christene maak hulle self skuldig aan ’n tipe sakralistiese denke dat God by voorkeur die God van Amerika is en dat sy koninkryk deur wetgewing bevorder moet word. Ek weet dis ’n oorvereenvoudiging en alle Amerikaanse Christene dink nie so nie. En tog...  Amerika het  allermis nie iemand soos Trump nodig nie, Amerika het verkondigers van die ware evangelie nodig!  Die liberalisme, valse teologie,  “Prosperity Gospel” en die pro LGBTQ kultuur van Amerika gaan nie deur wetgewing en bebaarde pro-Trump militialede (wat die Capitol bestorm) verander word nie, maar slegs deur ‘n ware egte werking van God se Gees. “Make America great again” is geensins ’n Christelike slagspreuk nie, want Amerika is nie gelykstaande aan die koninkryk van God nie.

Wat is die kern van die saak? Onthou maar wat Jesus vir Pilatus gesê het. 

"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie"  (Johannes 18:36).  

Jesus het geen ideaal vir ‘n aardse utopie binne hierdie bedeling nie en daarom gebruik HY nie die middele van mag en geweld om dit te bereik nie. Nee, Hy stap die pad van die kruis!

Waar Christene hierdie boodskap van Jesus vergeet het, was daar ‘n bitter nasmaak met ernstige gevolge! Orals waar daar ‘n “huwelik” tussen kerk en staat, evangelie en nasionale belang was het dit ellendige nagevolge vir die geloofwaardigheid van die evangelie gehad. Die voorbeelde is te veel op te noem en wyd uiteenlopend. Dink maar aan die gevolge van die kruistogte in die Midde Ooste, die Münster tragedie en die erfenis van Oliver Cromwell se brutaliteit in Ierland. Nader aan ons lyf, die ongesonde vennootskap tussen kolonialisasie en sendingwerk, nasionalistiese politieke leiers soos Hendrik Witbooi wat moorde op onskuldige blankes vanuit die Bybel geregverdig het en laat ons nie vergeet van die destydse onheilige alliansie tussen die Nasionale party, die Broederbond en die NG Kerk nie! Jesus se volgelinge is nie veronderstel om jihadi’s te wees wat die koninkryk van God met die swaard, staatsmag en drukgroepe moet bevorder nie!

Ek weet sommige gaan my beskuldig van ‘n apatiese wêreldvreemde houding. Dis allermins wat ek wil bevorder. Elke Christen moet sy Christenskap op die markplein uitleef (van onderwysers, boere tot politici) en so sal ‘n hele kultuur positief beïnvloed word.  Dis egter iets heel anders as om fanaties opgewonde te raak oor ‘n aardse prins ! Ek dink Timothy Keller bekende leraar van New York het die regte balans: Oor Donald Trump sê Keller dat anders as ‘n geslag gelede, “many evangelicals are not looking to put Christians into power in order to turn the culture back to God; now they are looking for a protector, a champion.

“Both those evangelical strategies are wrong,” volgens Keller “Both of them are about power and saying, How are we going to use power to live life the way we want?  They’re not enough about service; they’re not enough about serving the common good.

“The proper cultural strategy is faithful presence within, not pulling away from the culture, and not trying to take it over. ‘Faithful presence within’ means being faithful; it means we’re not going to assimilate, [but] we’re going to be distinctively Christian. It’s about an attitude of service, uncompromising in our beliefs, but not withdrawing and not trying to dominate.

It takes real (and rare) wisdom to navigate between the Scylla and Charybdis of dominance and withdrawal, between control of the culture through political power, which is hardly a biblical archetype, and complete cultural separatism.”  Ja, 'n baie fyn balans en versigtigheid is nodig waar Christene hul op die politieke terrein begeef!

Jy mag maar van my verskil, maar Trump is nie my Simson nie. Hy is ‘n leuenaar en kansvatter.  Na sy aanhitsing van geweld wat uitgeloop het op die Capitol tragedie (waarin mense hulle lewens verloor het), dink ek hy hoort in die tronk. Punt.  

Trump laat ‘n spoor van leuens agter! Waar is die belastingopgawes wat hy sou vrystel? Hoeveel het Meksiko toe vir die muur betaal soos wat hy beloof het? Hy is lief vir ongesubstansieerde samesweringsteorieë soos byvoorbeeld dat Obama nie in die VSA gebore is nie. (birther conspiracy). Hy het geen morele kompas nie. Hy val Iran aan, maar is baie toegeeflik teenoor Saoedi Arabië (Kashoggi sage) en Turkye. Hy het die Koerde wat saam met hom teen Isis geveg het in die rug gesteek. Hy beledig Denemarke omdat hulle nie Groenland aan Amerika wou verkoop nie... Bedorwe klein seuntjie mentaliteit! Hy beledig mense links en regs met allerhande skeldname.* Probeer ander verkleineer.  Soos vir Mcain omdat hy ‘n krygsgevangene was, terwyl Trump self nooit eens diensplig gedoen het nie! En NEE, jy hoef nie CNN of ander vyandige linkse media te raadpleeg nie, lees maar net sy eie tweets! Trump se eie woorde veroordeel hom! En beslis gaan sy bombastiese “tantrums” geen vriende vir die evangelie wen nie, maar eerder ‘n struikelblok in die pad van die evangelie oprig!  

Billy Graham se kleindogter vat die gevolge van die evangelicals se geheul met Trump goed raak : “The entire world has watched the term ‘evangelical’ become synonymous with hypocrisy and disingenuousness,”  

‘n Ander evangeliese kommentator, Ed Stetzer terwyl hy positief is oor sekere van Trump se prestasies stel dit so : “He’s burned down the Republican party, emboldened white supremacists, mainstreamed conspiracy theorists, and more.Yet of greater concern for me is the trail of destruction he has left within the evangelical movement. Tempted by power and trapped within a culture war theology, too many evangelicals tied their fate to a man who embodied neither their faith nor their vision of political character."

Die bekende John Piper se kritiek op Trump is welbekend. Gaan lees dit maar self. 'n Mens is dankbaar vir elke evangeliese leier wat opgestaan het vir die waarheid! 

Daniël

 Ek vra met trane in my oë, kon Amerikaanse Christene nie vir hulle ‘n beter held vind nie? Ek kan verstaan dat die “Prosperity Gospel” ouens** so mal is oor die materialistiese Trump, maar verwag darem meer insig van Gereformeerde broers en susters. As ons dan ‘n hedendaagse held soek na analoog van ‘n Ou Testamentiese figuur, moet ons dalk maar vir Simson los en eerder ‘n Daniël soek teen wie se karakter geen beskuldigings ingebring kon word nie. Die vyande kon net sy getrouheid aan God kritiseer!  “Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. Hulle sê toe vir mekaar: "Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens." (Daniël 6:5,6)

Vir ons getuienistaak in die wêreld het ons  Daniëls nodig en nie Simsons nie!

Die kerk van Jesus wat glo in die swaard van die Gees maak nie staat op wette en op (korrupte) prinse om die evangelie te bevorder nie.

Die triomf van die waarheid en die kerk kom deur suiwer prediking, die regte beoefening van die sakramente en ‘n Bybelse toepassing van  dissipline (kerklike tug), nie deur gedwonge uiterlike vertoning van openbare vroomheid nie. Mag ons weer terugkeer na hierdie beginsels met die krag wat God ons gee!

NOTAS

* Die jongste belediging is teen sy eie lojale vise president Mike Pence gerig. Trump se Facebook inskrywing. En onthou geen federale regter (waaronder Trump se eie aanstellings kon beduidende bewyse van bedrog wat die verkiesingsuitslag sou verander vind nie) :

Donald J. Trump

January 6 at 11:28 AM · Mike Pence didn’t have the courage to do what should have been done to protect our Country and our Constitution, giving States a chance to certify a corrected set of facts, not the fraudulent or inaccurate ones which they were asked to previously certify. USA demands the truth!

** Vergelyk die Suid-Afrikaans gebore vals profeet Kim Clement se profesieë oor Trump.


*

Vrydag 01 Januarie 2021

OORWINNING IN 2021


 Dis geen nuus nie. Die jaar 2020 het meer as die gewone kwota hartseer, probleme en onreg opgelewer. Wie of wat het die grootste skade en moeilikheid veroorsaak? Die Wuhan virus, Ramaphosa, Trump, Biden of was die ergste dalk dat die strande moes sluit? Die antwoord mag jou dalk verbaas! Maar dis die sleutel tot oorwinning....



Deel in hierdie gebed...