BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 02 Desember 2015

GOD IS GOED!

- Regtig? Wat van...?


GOD IS GOED, altyd goed, net goed, absoluut goed! Kan jy dit met oortuiging sê, so aan die einde van ‘n jaar? Dit was mos ‘n moeilike jaar... tragiese sterftes, huweliks en gesinsverbrokkeling, droogte... en op internasionale vlak, dink aan Parys, Sirië, Nigerië, Mali om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Geweld, bloed, pyn, verlies...

Is dit eerlik en waar om te juig : GOD IS GOED! Weet jy, dis so belangrik om hiervan oortuig te wees. As ek skepties oor God se goedheid is, as ek twyfel oor God se goedheid en liefde, hoe gaan ek Hom vertrou en hoe gaan ek Hom dien en liefhê? (en liefde tot God is mos die belangrikste gebod van almal) 

GOD IS GOED - dis ’n wesenswaarheid. As ons nie glo in die goedheid van God nie, dan glo ons nie in die ware God nie, want die ware lewende God is goed en Hy is altyd goed en kan niks anders as goed wees nie!

PSALM 118

Psalm 118 kan ons weer help om God se goedheid te verstaan en daaroor opgewonde te raak. Hierdie psalm is ’n lofpsalm. Ons sou ook kon sê dis ‘n geloofsbelydenis oor die goedheid van God. (Heel moontlik was dit deel van ‘n sogenaamde poort of toegangsliturgie wat deur die pelgrims gesing is om toegang tot die tempel te verkry vgl. 118:19 “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.”) Die tema van hierdie psalm baie duidelik : God is goed en aan sy verbondstrou/liefdestrou is daar geen einde nie. Die psalm begin en eindig met hierdie stelling.

Vers 1 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Vers 29 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Uit hierdie psalm wil ek twee sake onder jou aandag bring wat die goedheid van God bo alle twyfel bevestig.

A. GOD IS ‘N REDDENDE EN HELPENDE GOD. 

Dis die getuienis van alle kinders van God deur alle eeue. God se goedheid kom na vore deurdat Hy sy kinders in liefde help en red. God se kinders kan getuig van gebedsverhoring, versorging, vertroosting, uitredding...en oorwinnende vreugde binne die slegste omstandighede. Drie dinge kom veral na vore uit die mond van die gelowige bidder :

1. Die Here is aan my kant. “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (5,6) Vergelyk dit met Romeine 8:31,32. “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” en Hebreërs 13:5-6* God is vir en by sy kinders, dis ‘n vaste feit waarvan elke kind van God seker kan wees in alle omstandighede!

2. God se kinders is veilig! (17) “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe om die verlossingsdade van die Here te verkondig.” Van uit die Nuwe Testameentiese perspektief gesien is die implikasie, God se kinders sal nooit verlore gaan nie. Fisies sal ons sterwe, maar ons gaan die ewige dood vryspring! Ja, selfs op die brandstapels deur die eeue was God se kindrs hiervan oortuig en die vlamme kon hierdie hoop nie verteer nie!

3. Tug en opvoeding is deel van die goedheid! Jy vra miskien: “Maar wat dan van die swaar tye, bittere beproewinge en hartseer wat dikwels op die pad van God se kinders kom?” Die Here kasty sy kinders. “Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.” (18!) Dis steeds deel van sy goedheid! Hoe onverstaanbaar ook al! (Vgl. Romeine 8:28!) Die Here tugtig diegene wat Hy liefhet. (Lees ook Hebreërs 12 :5,6,10)

Belangrike nota : Daar is 'n dieptedimensie aan hierdie psalm wat ons nie mag miskyk nie, en dit is dat die ervaring van God se goedheid by uitnemendheid in die lewe van Jesus as mens op aarde 'n werklikheid geword. Dit bring mens dan by die volgende punt... 

B. GOD SE GOEDHEID WORD OORTUIGEND SIGBAAR IN JESUS

As ons uit ‘n Nuwe Testamentiese perspektief na hierdie psalm kyk merk ons nog ‘n meer dramatiese bewys van God se goedheid op! “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” Vers 22! Verskeie Nuwe Testamentiese skrywers haal hierdie gedeelte aan om die lewe en werk van Jesus te beskryf. (Byv. Handelinge 4:10-11).** Die absolute bewys van God se goedheid en getroue verbondsliefde word sigbaar in Jesus! Jesus self is die hoogtepunt van God se goedheid. 

God is goed, want kyk - Jesus het Homself verneder en ‘n mens geword in die stal van Betlehem. 

God is goed, want kyk - hoe het Jesus geleef hier op aarde. Hy het tyd, liefde en genade gegee vir uitgeworpenes, kindertjies, siekes, sondaars. 

God is goed, want kyk – daar was ‘n kruis! 

As u twyfel oor die goedheid van God kyk veral na Jesus stukkend gebreek aan ‘n kruishout! Hy is deur almal verwerp, sy eie familie, sy eie volk, en selfs sy eie dissipels ....maar God het Hom uitgekies as die hoeksteen, die belangrikste klip, die enigste Middelaar (!) tussen God en mens. 

Die goedheid en die liefde van God is vir eens en altyd bewys aan die kruis...Kyk na Hom daar waar Hy hang ter wille van my en jou! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Hy besmeer met ons sondes aan kruis in pyn na sy asem hyg! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus die straf in my plek kry. 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus uitroep : Dis volbring!

Waar sien ons God se goedheid? - by die leë graf waar Psalm 118:18 letterlik waar geword het en Jesus triomfeer oor die dood!

Geliefde, ’n mens smaak en besef die goedheid van God eers werklik as mens die betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding begin verstaan en dit persoonlik vir jouself toe eien.

SAAK VAN GELOOF!

Natuurlik, na dit alles twyfel ons nog soms oor God se goedheid. Worstel jy nog oor die feit van God se goedheid, wonder jy of God altyd regverdig is? Dis menslik, ons sien nog nie die volle prentjie nie, ons verstaan nie al God se besluite en werke nie, maar ek kan u verseker ......al God se kinders wat reeds in die hemel is, is volkome oortuig dat God net God is en altyd goed is. As ons daar kom sal ons beslis saamstem! Nou terwyl ons nie volmaak is nie, lyk God se optrede partykeer nie vir ons goed nie; daarom is die belydenis van God se goedheid nou ’n geloofsaak. 

Ons glo in sy goedheid, want die feit van die kruis bevestig dit. 

Ons glo in sy goedheid, want die Woord sê so. Eendag sal ons God se goedheid volledig sien en besef. 

Die waarheid van God se goedheid sal die toets van die ewigheid deurstaan - dan sal ons volmaak geheiligde hart en verstand saamstem en ons stemme uitjubel: God is goed! God is volmaak goed! God is net goed! God was en is altyd goed! 

ONS REAKSIE?

Ons het nou gehoor : God is goed! Maar wat daarvan? Wat moet ons reaksie wees?

Ons moet God loof en prys! “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.” (27,28) In alle omstandighede moet Hy geprys word! Malligheid? Nee, dis nugterheid. U sien Christene is realistiese mense - ons kyk na die ware feite. Ons prys nie ons hartseer omstandighede opsigself nie, nee ons huil daaroor (ween saam met die wat ween) Maar daar is ook op hierdie oomblik ’n ander feit wat ’n groter feit is as ons hartseer en teleurstellings : God is goed! Dis die rede vir ons lof! (Dink aan Paulus en Silas in die tronk!) 

Hoe snaaks dit ook al mag klink - ’n tyd van droefheid is juis ’n tyd om gelowig te bely en te juig : God is goed! 

Bekering. Daar is nog ‘n belangrike perspektief op God se goedheid. Romeine 2:4 meld ook ’n ander reaksie wat God se goedheid by ons moet oproep. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” God se goedheid roep ons tot bekering. Geliefde, God was en is goed vir jou. Sy goedheid skyn oor jou, miskien al vir 60,70, meer as 80 jaar! Wat het jy daarmee gemaak? Het dit jou al tot bekering gelei? Met ander woorde, het God se goedheid jou daartoe gebring om Jesus persoonlik te omhels?

Die goedheid van God is ’n vaste heerlike realiteit, nou op hierdie oomblik. 

Geliefdes, ons moenie die goedheid van God ligtelik opvat nie! Dit plaas ’n verantwoordelikheid op ons elkeen. Ons moet God loof. Ons moet ons bekeer tot Jesus as enigste Here en Verlosser. 

NASKRIF : Wat van God se wraak en oordele? Is Hy nog steeds goed as Hy die aarde met rampe en ellende tref? Want inderdaad giet God nou reeds oordele uit oor hierdie wêreld as voorskou van sy finale oordeel. Lees gerus Openbaring 16.

Let op die uitsprake van die engel : “Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien."
Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele."

GOD IS ALTYD GOED, OOK AS HY OORDEEL EN WRAAK UITOEFEN!

*Hebreërs 13:5-6 “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?"

** Handelinge 4:10-11 “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.
Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

[Hiermee groet ek eers DV vir 2015. Vreugdevolle feestyd vir jou waartydens jy opnuut bewus mag word van God se goedheid in Jesus!]

Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)