BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bekering - noodsaak. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bekering - noodsaak. Wys alle plasings

Donderdag 09 September 2021

PREDIKANTE WAT LIEG...

RIP/RIV - RUS IN VREDE?

Ek is bekommerd. Bekommerd oor predikante wat vir mense lieg. Bekommerd oor mense wat vir hulleself lieg. Wat is die leuen? Om vir en van goddeloses te sê : "Rus in vrede!" Dis ‘n leuen, want goddeloses gaan nie rus hê nie en ook geen vrede nie! Nie nou nie, nie in die hiernamaals nie...

VREDE

Kom ons kyk wat sê God se Woord oor VREDE.  Lees gerus Jesaja 57:14-21. Die konteks is ‘n wonderlike hoofstuk van genade, vergifnis en herstel. (Dis natuurlik gerig in die eerste plek aan die bannelinge in Babilonië) “Vrede, vrede, vir die wat naby is en vir dié wat ver is,’ sê die Here. (19) Hierdie vrede wat God beloof is nie sommer los praatjies en goedkoop beloftes nie, dis gewortel, dit groei uit God se karakter. Dit staan vas omdat God, God is. Kom ons kyk bietjie wie God is en wat beloof Hy volgens hierdie gedeelte:

God is die heilige, verhewe, heerlike God. "Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek..."  (15) God is nie soos mense nie. (reeds in Jesaja 6 kry ons met sy ontsagwekkende heerlikheid te doen…) Hy is ook nie die skepping of uitdinksel van mense nie. (so anders as byv. die Griekse gode wat net so immoreel soos die mense was, want mense het hulle uitgedink!)  God is ver verhewe bo die mens! “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” (Jesaja 55:8,9) God is hoog en verhewe, maar Hy is Hy is nie ‘n veraf en onbetrokke God nie. Hy word geraak deur die menslike ellende. Hy kry die verdruktes en nederiges jammer.

God is ‘n genadige God.  "Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie," (16) God bly nie vir altyd kwaad nie, want dit sou beteken dat alle mense totaal vernietig sou word. Dit sluit so mooi aan by Psalm 130 waar dit gaan oor die wonder van genadige vergifnis : “As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?” (Psalm 130:3) God se genade en vergifnis is ons enigste hoop tot oorlewing! Maar dit gaan oor baie meer as oorlewing en voortbestaan. God se genade stel voorheen afvallige en gebroke mense weer in staat om Hom te loof! "Ek stel hulle in staat om My weer te loof." (19)

God is die toornige God , maar ook die vertroostende en genesende God. "Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.
Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee." (17,18) God is toornig oor sonde en Hy straf dit. Die volk Israel met wie die profeet hier praat het dit op die harde manier geleer. Hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel. Dit het groot ellende en smart tot gevolg gehad. Spesifiek die ellende van die ballingskap. Daar in die verre land het hulle getreur. “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.” (Psalm 137:1) Hierdie treurendes hoor nou die goeie nuus dat God troos gaan bring. (18) En dis ‘n volledige herstellende troos wat gaan maak dat hulle God weer sal loof. (19a)


WIE GAAN VREDE ONTVANG?

Nou is die groot vraag : Vir wie is God genadig? Wie gaan sy vrede beleef? Alle mense? Ja, vir alle soorte mense ver en naby, maar daar is een voorwaarde : bekering. Ons het reeds gesien God se herstellende genade is bedoel vir die treurendes. Hulle treur en daarom is daar verootmoediging, berou en bekering. Ons sien hierdie aspek byvoorbeeld in Daniel se beroemde gebed in Daniël 9. Hy treur oor die toestand van sy volk en hierdie treur gaan saam met sondebelydenis – hy bely sy eie sonde sowel as sy volk se sonde! Treur is in ‘n sin een van die eerste stappe tot die ontvangs van vrede. Treur is ‘n eienskap van ‘n koninkryksmens. Dis waarom Jesus kon sê dat die treurendes eintlik die gelukkiges is! "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." (Matteus 5:4)  Het jy al getreur oor die toestand van die vervalle kerk van God en veral oor die toestand van jou eie bose en afvallige hart? Weet, die vrede is naby!

Aan die anderkant : Vir die wat volhard in goddeloosheid en hulle nie bekeer is daar nie vrede nie. (21) “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God. Die genade, die Goddelike amnestie gaan by hulle verby! Hulle verpas die hemelse trein! Dit stem ooreen met wat die profeet Jesaja reeds vroeër geleer het. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:7)   Genade, vrede en bekering is onlosmaaklik aan mekaar verbind. 

Vergeet van vrede, vergeet van hemelse rus sonder bekering!

Juis omdat daar geen vrede en rus vir die goddelose is nie kom die opdrag na God se profeet in Jesaja 58:1 “…Maak aan my volk hulle oortredings bekend,…” Hoor ons nog van kansels wat sonde is…? Hoor ons nog daar is ‘n heilige God wat sonde haat? Is ons bly dat Jesus ons sondestraf op Hom geneem het? Wys die blydskap in 'n lewe van bekering?




Die vrede wat God skenk is kosbaar en heerlik. Dis ‘n vrede vir nou, dis ‘n vrede anderkant die graf, dis ‘n vrede vir ewig. Jy kry hierdie vrede nie deurdat jy ‘n foto van jouself kerk toe stuur die dag met jou roudiens nie. 




Jy kry vrede deur self kerk toe te kom, die Woord te hoor en jou tot die genadige God te bekeer weens die goeie nuus van Jesus se kruis en opstanding! So skenk Hy vir ons vrede deur Jesus ons Verlosser!

Donderdag 11 Januarie 2018

’n Vaste Afspraak op God se Almanak

waaroor die “lifecoach” en motiveringspreker swyg!



(en sommige dominees en pastore ook)



Ons ken almal ’n almanak. Hier aan die begin van die jaar maak almal seker dat ons almanakke het. By wyse van spreke kan ons ook sê dat God ’n almanak het. Ons kan nie God se almanak sien nie. Ons ken byvoorbeeld nie ons eie persoonlike sterfdatum nie. Ons weet nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie. Daar is wel vaste afsprake op God se almanak al ken ons nie die datums nie. Sommige van God se belangrike gebeure op sy almanak is reeds verby. Die skepping, die menswording van Jesus, die kruisiging en opstanding, Sy hemelvaart en die heerlike uitstorting van die Heilige Gees. Daar is wel nóg ’n groot gebeurtenis op God se almanak wat in die toekoms lê – die wederkoms en oordeel. Paulus praat ondubbelsinnig duidelik hieroor. Dis ’n vaste seker punt op God se program vir die toekoms. Ons almal is op pad na daardie afspraak. Dalk wonder jy :”Goed en wel, maar is dit relevant om daaroor te praat?” Wel Paulus het so gedink…

Kom ons kyk bietjie na Handelinge 17:16-34. Paulus bevind homself hier in die groot wêreldstad Athene. ‘n Sentrum van geleerdheid. Baie filosowe en 'n menigte van idees. Ook vol afgodsbeelde en verwarring. Hierdie mense ken nie vir Jesus nie, hulle weet niks van die evangelie nie. Tog is hulle baie godsdienstig. Nog kry Paulus die wonderlike geleentheid om op die beroemde Areopagusheuwel die evangelie te verkondig! Hy moet dit goed en wys benut... 

Areopagusheuwel vandag. (Foto  Wiki)

Paulus sluit aan by hulle kennis en omstandighede... Hy is nie lelik en veroordelend nie, eintlik baie strategies en taktvol. Hy begin by die “onbekende God”... Daar is net een God wat aan alles lewe en asem gee. Paulus praat ‘n taal wat hulle verstaan en haal sommer een van hulle digters ook aan. (28)

Dan kom Paulus by die klimaks van sy toespraak. 

""God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30-31) 

Paulus verkondig die boodskap van bekering. Hoe dan anders? Dit was mos die duidelike opdrag van Jesus aan sy dissipels, kort voor sy hemelvaart. 

“Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (Lukas 24:46,47) 

God beveel mense deur sy diensknegte om hulle te bekeer. Wat is bekering? Om ’n keuse te maak! Om van gedagte te verander oor God en sy verlossingsplan deur Jesus. Om anders te dink en te doen. ‘n Bekering na God toe en weg van die afgode. Geloof en bekering gaan altyd saam. Om weg te draai van my verkeerde koers, om van gedagte te verander en op Jesus te vertrou. Terloops die boodskap van bekering en geloof was nie net die boodskap van Johannes die Doper* en die apostels nie, maar ook van Jesus self! 

“Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15)

Waarom is bekering so belangrik? Waarom doen Paulus die moeite om dit met hierdie vreemde Grieke te deel?

Daar is ’n oordeel wat kom. God gaan die wêreld oordeel volgens Sý standaard en norm. Sý wet! (Terloops, die opinie van Die Huisgenoot of Oprah Winfrey gaan nie tel nie!) God gaan mense tot verantwoording roep. Mense sal moet verduidelik. Hierdie waarheid vind post-moderne mense afstootlik, want ons redeneer mos : “Ek kan maak soos ek wil. Daar is nie reg en verkeerd nie, elkeen moet vir homself besluit.” Nee, die Bybel leer anders. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (Romeine 2:16) 

Die mens staan verantwoordelik voor God, want God is ons Maker. 

Of mense in God glo of nie- elke mens gaan verantwoording doen voor God van sy lewe hier op aarde. (Sien Openbaring 20:11-21)

Hierdie naderende oordeel op God se kalender is nie bangmaak stories nie. Die bewys dat God dit regtig gaan doen is die opstanding van Jesus uit die dood. Deur die opstanding het God onteenseglik onomstootlik bewys dat Jesus wel die Seun van God is. 

God gaan die wêreld oordeel. Deur ‘n Man. Jesus Christus. Daar’s baie verkeerde opvattings oor Jesus. Jesus is nie ‘n lewensafrigter of leefstylkonsultant om van ons suksesvolle en gemaklike mense te maak nie. Hy is ‘n Redder van sonde. ‘n Genadige Redder! Maar as Jesus weer kom, kom Hy oordeel. Dan is die genadetyd verby. Nou is Hy nog hier as die Redder van sondaars, maar as Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter!

Wat ‘n geweldige boodskap van die apostel Paulus. So baie- selfs kerkmense glo nie hierdie boodskap van oordeel en bekering nie. Dis al afleiding wat mens kan maak, as mense houtgerus voortleef en op hulle ou paaie van sonde en onverskilligheid volhard. As daar vir als tyd is behalwe vir God se Woord…

Hierdie gedeelte is so belangrik as ons weer wil besef waaroor die eintlike boodskap van die Bybel gaan. Soos ons gesien het gaan Paulus baie slim, ordentlik en diplomaties te werk met sy gehoor. Maar hy bly eerlik. Hy praat oor dit wat waar en relevant is, oor die mens se basiese behoefte. Die noodsaak om betyds vrede met God te vind. Hy vertel NIE vir die Atheners hoe hulle suksesvolle, welaf en gesonde lewens kan kry nie. Nee, hy vertel hulle eerlik van God se naderende oordeel en hoe hulle gered kan word van daardie oordeel! Onverskrokke bring Paulus sy boodskap van waarheid aan die heidense en kritiese Atheners! 

Wat sou die reaksie wees? “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan.‘n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.” (32-34) 

Die waarheidsevangelie bring altyd skeiding. Sommige verwerp dit en lag daaroor**, ander glo. Hier gebeur dit ook weer.

Die Bybelse metode van evangelie verkondiging sluit ook die waarskuwing oor die naderende oordeel in, as ons dit verswyg is ons oneerlik… Moenie die jaar ingaan as ‘n onbekeerde nie. Dit sou dwaas wees! Sorg dat jy die Man wat gaan oordeel, Jesus, ken, dan is jy veilig! AMEN!

*Sien hoe Johannes die Doper bekering baie prakties verduidelik. (Lukas 3:7-14)

**Uit hierdie gemengde reaksie is dit duidelik dat baie mense destyds ook nie in Jesus se opstanding kon glo nie. Geleerdes wat wil maak of geloof in die opstanding sommer net iets is wat algemeen in destyds se “primitiewe” kultuur was, maar slegs in ons tyd nie meer geglo kan word nie, praat dus nie die waarheid nie. Vir die ongelowiges van destyds was die opstanding ook iets belaglik. Om dieper op die sekerheid van die opstanding in te gaan kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE

Maandag 02 Oktober 2017

#PrayForLasVegas

Las Vegas is die nuutste plek waarvoor gebed gevra word... ons ken nou al die lys van die onlangse verlede wat insluit London, Parys, Brussels... Wat moet ons bid vir hierdie plekke, plekke waar die meeste inwoners in elk geval sonder God en sy gebod lewe? Wil hulle voor gebid word? Moet hulle iets leer of moet ons dalk iets leer uit hierdie rampe?

Wat sou Jesus sê?

Ons hoef nie regtig te raai nie, want Jesus het toe Hy op 'n stadium met 'n soortgelyke ramp gekonfronteer is, baie insiggewende en duidelike kommentaar gelewer... Lees gerus Lukas 13:1-9. Mense bring hier vir Hom die nuus van ‘n menseslagting deur die wrede Pilatus. 

Jesus se reaksie (soos gewoonlik) is onverwags. Hy vaar nie uit in veroordeling teen Pilatus of die vermoordes nie. Hy gee ook nie allerhande slim verklarings vir die misdaad nie. Dis seker wat hulle sou wou gehad het, - dat Jesus die korrupte Romeinse regering van die dag sou slegsê. Of was daar iets fout met die godsdiens van die slagoffers? (terloops dis wat ons sou wou gehad het as dit in ons tyd gebeur het - “Ja, daardie goddelose dobbelaars van Las Vegas moet vir hulle kry...") Nee, Hy kom met ‘n deurdringende teenvraag“Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” (Vers 2,3) 

Waarom sê Jesus dit? Dit was dalk inderdaad hoe hulle gedink het. Onthou hierdie skare was besig om na Jesus se lering te luister oor die noodsaaklikheid van tydige versoening. Jesus se boodskap was dat hulle betyds moet regmaak vir die naderende oordeel. (12:58-59) So tipies mens kyk hulle nou weg van hulleself na ander. Hulle wil insinueer : “Kyk, hoe tref die oordeel vir ander!” Dis mos wat ons ook so graag doen, nê?

Jesus wil dus sê : “Waarom skram julle weg, waarom dink julle nie aan julle eie toekomstige ondergang nie? Julle moenie dink julle kan die voorafgaande boodskap van oordeel sommer so van julle af weg skuif nie." Onthou hierdie is mense wat die prediking van Johannes die Doper en Jesus (en sy uitgestuurde apostels) gehoor het. Dit was die prediking van bekering en verootmoediging. Nou herinner Jesus hulle: "As julle julle nie bekeer nie sal dieselfde lot julle tref. Die gebeurtenis van die vermoorde Galileërs moet vir julle ‘n teken en waarskuwing wees wat met julle sal gebeur as julle nie bekeer tot Jesus nie. Ja, hierdie oordeel wag vir julle al is julle so godsdienstig..."

Om hierdie boodskap nog verder vas te lê by sy hoorders verwys Jesus na nog ‘n ramp waarvan almal kennis gedra het. ‘n Ingenieursfout waarin 18 mense hulle lewens verloor. ‘n Gebou wat ineenstort...iets wat dikwels ook in ons tyd gebeur... Jesus se boodskap is : “Moenie hierdie ramp afmaak as ‘n uitsondering wat julle dink julle nooit sal tref nie. Dit wat op klein skaal gebeur het met 18 inwoners van die stad Jerusalem sal met almal gebeur wat My verwerp en hulle nie tot My bekeer nie."

NIE VINGERWYS NIE, MAAR SELFONDERSOEK!

Die punt is : Die geluide wat ons hoor (massamoord, onreg of rampe) is waarskuwingskote vir die eindoordeel wat verseker kom. Ons moenie redekawel oor ander se skuld of onskuld nie, maar die hand in eie boesem steek...

HOE MOET ONS DIE NUUS VAN DIE DAG VERSTAAN?

Jesus gee dus in hierdie gedeelte vir ons ‘n oefening in die lees en verstaan van die nuus van die dag. Hoe ons die nuus van al die ellendes rondom ons moet interpreteer... Hy leer mense om die tekens van die tyd reg te onderskei. Hoe om die boodskap van aktuele gebeure reg te verstaan en te beoordeel. Dit was die skare se probleem. (12:56) Die tye en omstandighede het iets vir hulle gesê : “Bekeer julle!” Maar hulle was doof en blind daarvoor. Al die ellendes wat die afgelope jaar en elke dag onder ons aandag kom, basuin eintlik net een boodskap uit : “Bekeer julle, draai om, verander!”

Sommige sondaars gaan ’n vroeë oordeel tegemoet; ander s’n word uitgestel. Alle rampe is eintlik maar voorafskaduwings van die groot finale oordeel. 

Ons wat nou leef kry nog tyd vir bekering. 

Die finale oordeel word uitgestel. Maar onthou uitstel beteken nie in hierdie geval afstel nie. 

Uitstel van die oordeel is ‘n geleentheid wat aangegryp moet word. Hierdie geleentheid is vandag! Dis die boodskap van die gelykenis wat Jesus nou vertel in vers 6 tot 9. Hierdie gelykenis van die onvrugbare vyeboom volg dus logies op die voorafgaande.

Die hoofstrekking van die gelykenis is baie duidelik. Jesus het in die voorafgaande gedeeltes verwys na die onafwendbare oordeel. Israel, deur hulle weiering om hulle tot Hom te bekeer verdien hierdie oordeel. Die tekens van die oordeel is reeds daar. Die nuusgebeure van die dag is voortekens van God se oordeel. Daar is egter nog ’n kans vir bekering. Jesus self, die tuinier tree as middelaar en pleitbesorger op. In die situasie van destyds het Hy prakties deur Sy genesings en seëninge mense se lewens verleng en hulle nog kans gegee tot bekering. Jesus rek die tyd uit sodat ons tot insig en inkeer kan kom. Hy gee ons nog kans.... Die gelykenis maak dit baie duidelik :

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’
Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."

“Laat hom nog hierdie jaar staan...” NOU is nog genadetyd. Hierdie genadetyd sal egter nie vir altyd duur nie. Benut dit nou!


Hier is twee groot sake wat ons hier moet raaksien en prakties toepas op onsself. Die gelykenis teken vir ons aan die een kant ‘n besonder geduldige tuinier en aan die ander kant ‘n onvrugbare boom wat eintlik net in die pad is, maar tog ten spyte daarvan buitengewone sorg en aandag kry. Bedink en herkou bietjie hierdie twee gedagtes. Dink oor die boom... ekself, onsself... mag ons onsself sien vir wie ons is ... ondankbaar, onvrugbaar, van weinig nut vir God en sy Koninkryk. Laat ons nadink en onsself toets... “Het ek die afgelope jaar die vrugte van die Heilige Gees gedra, was daar liefde en blydskap en tevredenheid in my lewe, kon God sy doel met my bereik of was daar eerder onrein en bose gedagtes, gesindhede van onvergewensgesindheid, wraakgevoelens, bitterheid? Het ons Hollywood se modes en gewoontes nagevolg in plaas van God se Woord?” Dink aan al die voorregte en geleenthede wat na ons kant gekom het... bo alles die evangelie van die Seun van God wat die volle prys vir sondaars betaal het! Wat was ons reaksie, het ons omgedraai en Jesus gevolg of het ons net soos Israel volhard in ongeloof en sonde? Mag die Heilige Gees ons oortuig van sonde en verdorwenheid... Maar kyk ook na die Tuinier... sien sy vriendelike gesig, sien die merke in sy hande en voete! Jesus Christus... luister na sy pleitroep, sy uitnodiging... Hy wil jou en my (en die oorlewendes in Las Vegas) nog ’n kans gee...

Donderdag 22 Januarie 2015

BEKERING VAN ‘N BACKSLIDER

- berou tot blydskap in Psalm 51.

Jy kom kerk toe, jy glo (of dink jy glo) in die Here, jy probeer ordentlik lewe en tog is jy nie seker van die ewige lewe nie, tog vorder jy nie geestelik nie, tog kort daar egte Christelike blydskap... Die waarskynlikste rede: daar het nog nie ware bekering plaasgevind nie. Bekering (saam met geloof) is ‘n duidelike vereiste om ‘n Christen te word, om deel te kry aan die koninkryk van God. Regtig? Blaai saam deur die Nuwe Testament...  


Johannes die Doper se boodskap was die boodskap van bekering. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." (Matteus 3:1,2) 

Jesus het aangedring op bekering. "Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 3:14,15) 

Die eis tot bekering was deel van die apostels se kernboodskap. “By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: "Wat moet ons doen, broers?" Toe antwoord Petrus hulle: "Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang." (Handelinge 2:37,38) 

GELOOF EN BEKERING

Word ons dan nie deur die geloof gered nie? Ja, natuurlik. Geloof en bekering gaan egter altyd hand aan hand. Die twee vlerke van ‘n vliegtuig. Bekering sonder die element van geloof is blote moralisme. Geloof sonder bekering (dis algemeen in ons dag) is bloot sentimentele selfmisleiding. Anders gesê : Ware geloof in Jesus sal insluit dat ek berou en afsku oor my sonde sal hê, ware bekering sal insluit dat ek my vertroue persoonlik op Jesus sal stel en hoop op die genoegsaamheid van sy kruisoffer!

GEEN RESEPPIE

Daar bestaan baie misverstande – bekering is nie ‘n spesifieke voorgeskrewe reseppie of ‘n uitgewerkte rympie wat ek moet prewel nie. Daar is geen standaard bekeringsgebed in die Bybel nie. Daar is nie iets soos ‘n stap een tot vier bekeringsvoorskrif nie. Die Bybel voorsien ons ook nie van ‘n netjies uitgewerkte definisie van bekering nie. Dis ‘n saak van die hart. Die detail verskil van persoon tot persoon, maar daar’s sekere duidelike ooreenstemmende elemente. (Jy hoef dus nie jou bekering te bevraagteken as dit nie presies so plaasgevind het soos wat jy dalk in iemand anders se getuienis gehoor of in ‘n Christen biografie gelees het nie) Ons gaan na die wesenseienskappe van bekering kyk aan die hand van die bekende Psalm 51. (Dis so belangrik om die aard van bekering te verstaan, want daar is soveel vals bekerings in ons dag...)

Hier in Psalm 51 vind ons ‘n klassieke voorbeeld van bekering. Dis eintlik die bekering van ‘n “backslider” (Ons ken mos die agtergrond... Dawid en Batseba. Kliek op SMS – SWANGER!) Bekering het sekere basiese elemente en dit maak nie saak of dit iemand is wat nog nooit die Here geken het en of dit nou iemand is wat teruggeval het en nou weer terugkom na die Here soos die geval met Dawid nie. Die kernmerke van egte bekering is basies dieselfde of mens nou praat van ‘n aanvanklike eerste bekering of die daaglikse lewe van bekering. *

Kom ons gaan saam deur Psalm 51:

Met egte bekering is daar ‘n bewustheid dat my sonde en my oortredings die groot probleem is en daarom verlang ek  na vergifnis. My grootste probleem is nie my gebrek aan gesondheid, geluk of geld nie. Dis nie wat ek nou van die Here vra nie – ek vra genade en vergifnis! “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!" (3,4,9) (So baie “bekerings” is vals, want daar word vir mense belowe dat as jy jou hart vir Jesus gee sal Hy al jou ideale waarmaak en vir jou die lewe lekker maak. So baie mense neem dan ‘n besluit vir Jesus sonder enige besef van hulle sondenood.) Dis egter juis die mees basiese element van bekering – ek sien raak dat ek ‘n sondaar is wat skuldig voor God staan en daarom vergifnis nodig het.

Met egte bekering begin ek besef (dalk gaandeweg) dat my sonde eintlik sonde teen God self was. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” (6)Dis merkwaardig dat Dawid hier besef – sy sonde was nie net teen Batseba en haar man Uria nie, maar ten diepste teen God. Baie mense sien sonde maar net as ‘n klompie foute wat nou vir hulle probleme veroorsaak, maar besef nie dat alle sonde eintlik rebellie en opstand teen God is nie.

Met egte bekering en berou maak ek nie meer verskonings vir my sonde nie. Al daardie verskonings van : “Ek is maar net ‘n mens, ek kom uit ‘n moeilike huis, ag niemand is mos volmaak nie, ons is mos almal maar net mense...” Dis als dinge met ‘n element van waarheid, maar met bekering soek ek nie meer verskonings nie, ek soek verlossing! Met egte bekering begin ek besef dat my sonde dieper gaan as maar net ‘n klompie nare en verkeerde goed wat ek gedoen het. Ek is van geboorte af ‘n sondaar. My wese is sondig, daarom kies ek vir die sonde... “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” (7)

Met egte bekering is daar nie net ‘n verafskuwing van dit wat verkeerd is nie, maar ook ‘n opregte begeerte om nou volgens God se wil te lewe. “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. “ (8) 

Ek wil nie net vry wees van sonde nie, maar ook vry van die begeerte tot sonde!

Die egte berouvolle bekeerling besef dat hy homself nie kan verander en verbeter nie, maar heeltemal op God se genade aangewese is. Ek het God nodig! Ek het ‘n herskeppingswonderwerk nodig. Ek het behoefte aan iets meer as maar net ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek het ‘n nuwe hart met nuwe begeertes nodig! “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (12) Dis die waarheid van die wedergeboorte wat hier reeds in Ou Testamentiese taal gestel word.

Met egte bekering is daar ‘n element van desperaatheid en erns! Dis nooit 'n ligtelike saak, koue formaliteit of haastige ritueel om 'n rympie agter iemand aan te prewel nie. Dawid pleit hartstogtelik: "Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!" (13)

Met egte bekering is daar ‘n element van nederigheid, gebrokenheid en verootmoediging. Here, ek verdien niks nie, ek is niks nie, ek het niks om op trots te wees nie, maar wees my tog genadig! “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (18,19) 

Bekering is nie ‘n menslike prestasie wat God se guns verdien nie, nee dis om vanuit my diep nood my hand uit te steek en God se genade deur Jesus in geloof te ontvang! Here, ek het U nodig!

Egte bekering lei tot blydskap of weer die herstel van blydskap van ‘n backslider. “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.” “Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.” “Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.” (14, 16, 17) Wanneer God die swaar skuldlas van jou wegneem, kan dit mos nie anders as dat daar blydskap sal wees nie!

Egte bekering kan nie en wil nie weggesteek word nie, maar moet en wil met ander gedeel word. “Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer."(15)

Bekering behels dat ek in nederigheid en eerlikheid en berou my hart voor God uitstort en om genade sal roep. Bekering laat my omdraai (ook van my vertroue op my eie geregtigheid, morele prestasies en godsdienstigheid) en my hoop op Jesus stel! Ja, beslis is dit nie die "kwaliteit" van my bekering wat my red nie, maar Jesus en die genoegsaamheid van sy eenmalige offer. Bekering ('n berouvolle omdraai en 'n diep "change of mind") lei tot geloof in Jesus, maar is terselfdertyd ook 'n gevolg van ware geloof in Jesus! Weereens, bekering en geloof gaan saam en moet nie as afsonderlike stappe gesien word nie, maar is ineengestrengel. Die Christen se hele lewe is immers 'n lewe van geloof en bekering!



*Die verskil kan aan die hand van ‘n eenvoudige beeld verduidelik word. (ek het dit by Nico van der Walt gehoor) Wanneer ‘n skip besig is om reg suid vanaf Kaapstad na Antarktika te vaar en dan skielik die opdrag kry om terug te keer na Kaapstad, maak hy ‘n radikale omdraai van 180 grade. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met ‘n aanvanklike bekering. Eers het hy suid gevaar, maar nou reg noord. Maar op die terugpad is daar gedurig winde, strome en golwe wat dreig om hom van koers af te dwing en daarom moet die stuurman voortdurend die roer gebruik om die skip weer terug te bring op koers sodat die kompas weer reg noord kan wys. Dit kan vergelyk word met daaglikse of voortdurende bekering.

Dis baie duidelik dat die boodskap van bekering in die Nuwe Testament nie net aan buitestaanders en ongelowiges buite gemeentes gerig word nie. Lees gerus Openbaring 2-3 en sien hoe hierdie oproep tot bekering herhaaldelik in die briewe aan die sewe gemeentes voorkom.























God wil jou weer in sy heerlikheid en vreugde laat deel!

Vrydag 24 Januarie 2014

PLOEG ‘N BRAAKLAND

- bekering as ‘n radikaal nuwe begin. 

"Ploeg vir julle ‘n braakland!"* Dis ‘n opdrag aan die volk Israel, dis ‘n opdrag aan ons. Dis iets wat óns moet doen. Ons verantwoordelikheid! In Esegiël 26 het ons gesien wat God doen... Kliek op NUWE VERBOND. God se aksie kom altyd eerste, want selfs bekering is ‘n uitwerking in ons van sy genadewerk. En tog kan ons nooit daarby verbykom nie – bekering bly ‘n opdrag aan die mens om te gehoorsaam! 



"Ploeg vir julle ‘n braakland en moenie in die doring saai nie!" ‘n Braakland is ‘n onbenutte, onbewerkte stuk grond, gewoonlik oortrek van dorings en ander onkruid. “Ploeg vir julle ‘n braakland!” is ‘n kragtige metafoor...