BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verlore Seuns. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verlore Seuns. Wys alle plasings

Sondag 19 Augustus 2012

DIE VERLORE SEUNS (2)

- die oudste seun word ook binnegenooi.

Die klem het verlede week geval op die radikale en volledige vergifnis wat die jongste seun gekry het by die Vader toe hy in berou teruggekeer het. (Lees gerus weer die gelykenis in Lukas 15:11-32) Vandag kyk ons bietjie dieper na die oudste seun. Die blye verwelkoming en hartlike ontvangs  van die jongste seun het ‘n onverwagse nadraai. Dit bring ‘n donker geheim na vore. En dis juis hier waar ons die skerpkant van die gelykenis vind. 

Jesus vertel mos eintlik hierdie gelykenis met die oog op godsdienstige mense wat dink hulle het nie vergifnis en bekering nodig nie. (15:1-2) Daarom is hulle ook onbegrypend en ongevoelig as ander sondaars opgewonde raak oor vergifnis. Hulle verstaan self  nie die beginsel van vergifnis  nie. Hulle het nie  ‘n waardering vir Jesus se bemoeienis met slegte mense nie. Hulle het eintlik geen begrip vir Jesus se houding en boodskap nie. Hulle  beskou hulleself as  te ordentlik om tot bekering te kom. “Ons is mos goeie respektabele kerkmense.”, dink hulle (in vandag se taal). Die oudste seun, wat so goed,  gehoorsaam en ordentlik was, is ‘n beeld van hierdie tipe godsdienstige (maar onbekeerde mens). Die oudste seun se donker, bitter kant is ‘n beskrywing van die onbekeerde godsdienstige mens  se hart.

Mens kan hierdie tweede deel van die gelykenis opdeel in twee temas:

Liefdelose diens   
Die kontras tussen die twee seuns is baie opvallend (aanvanklik). Die  jongste  verlaat die Vader en sy gebooie.  Die oudste bly soet by die huis en gehoorsaam die Pa se opdragte (29).  Die jongste is rebels, die oudste is onderdanig.  Die jongste lyk na ‘n regte gemors en die oudste lyk soos ‘n modelseun.  Maar skielik verander als. Die terugkoms ontbloot die oudste se diepste motiewe en gesindheid. Die oudste seun was al die tyd ongelukkig en het sy Vader met ‘n  gedwonge liefdelose hart hart gedien. Hy voel veronreg. Die  bitterheid borrel nou oor uit sy binneste. (Vers 29)  “Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa...” Hoor die verwyt in sy stem!  Die oudste se hart  was eintlik  net so ver van sy Pa as die jongste - al was hy fisies binne die huis. Agter beide se optrede lê 'n gemeenskaplike mislukking : beide het nie as seuns geleef nie!* Dis die skokkende van hierdie gelykenis, wat hier aan die einde onthul word - ook die oudste seun was nie in ’n verhouding met die Vader nie.  Geestelik gestel : Beide was verlore! Die opskrif moes dalk daarom eintlik gewees het : “die Verlore Seuns!” So baie godsdienstige kerklike mense is in die posisie van die hierdie oudste seun. Dis mense wat uit goeie huise met goeie Christelike opvoedings kom. Hulle kom nooit tot  openlike rebellie teen God nie. Getrou kom hulle hul  uiterlike godsdienstige pligte na : kerk, huisgodsdiens, uiterlike skoon lewe. Maar hulle is nie regtig in ʼn verhouding met die Vader nie. Daar is nie ʼn kind-Pa verhouding nie,  maar bloot ʼn uiterlik wettiese verhouding. ‘n Slaaf-Baas opset!  Alles is uiterlike dorre pligpleging. Daar is min liefde, min vreugde, min spontane toewyding. Hierdie mense het bekering net so nodig soos die openlike rebelle en goddeloses! Goeie godsdienstige mense het die genade van Jesus net so nodig soos prostitute en dronkaards! (Natuurlik beteken dit nou nie dis maar oukei om ‘n prostituut of dronkaard te wees nie)

Liefdevolle uitnodiging. 
Ons moenie miskyk hoe hierdie gelykenis afsluit nie. Dit sluit nie af met die protes van die ongelukkige oudste seun nie, maar met die uitnodiging van ʼn liefdevolle Vader! (28)
“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom."  Die OAV sê : “...smeek hom.”  Dink jou in, die Pa verneder homself om buitentoe te gaan en by die oudste seun te pleit! Hier het ons net so ‘n dramatiese bewys van die Vader se liefde, as met die terugontvangs van die jongste seun!
Die oudste seun het ook bekering nodig! Maar juis daarom verwerp die Pa  hom nie. Die Pa se liefde reik ook na hom uit net soos na die jongste. Die Pa wil hê ook hy moet deel in die fees.

God se genade nooi alle tipes mense uit. Die openlike geharde sondaars. Maar ook die skynheiliges en selfgeregtiges en ordentlikes. Dis ook  Jesus se houding. Jesus het tyd gehad vir Saggeus die skelm tollenaar. Maar dis ook Jesus wat verskyn het aan die eiegeregtige en goeie  Fariseër Paulus!  So baie mense wat in die kerk grootgeword het is tipiese “oudste seuns.” Hulle moet ook die boodskap van bekering hoor!

 Verbondsmense moet ook die genade doelbewus  aanvaar! 

Die pad van bekering vir hierdie tipe sondaar is eintlik moeiliker, hy moenie net afstand doen van sy sonde nie maar ook van sy geregtigheid ! Dit wil sê - Hy moet besef sy eie goedheid en ordentlikheid is nie genoeg nie.  Hy moet besef dat mens verlore kan wees ten spyte van doop, nagmaal en formele lidmaatskap.  Hy moet besef dat mens hel toe kan gaan al was jy nog nooit dronk, onsedelik  of skelm nie. Die “oudste seun sondaar” kort iets. Hy kort ‘n egte verhouding met God. Kerkmense  se goeie opvoeding, goeie morele lewe en godsdienstihed is dikwels ‘n struikelblok om ware Christene te word. Daarom sê Jesus op ‘n ander plek : die hoere en tollenaars gaan voor julle in die koninkryk in. Die goeie mens moet ook eers besef hy is ‘n sondaar voor hy gered kan word. Jesus red alle soorte sondaars, maar Jesus red net sondaars. Dis eers as ek myself tel onder die sondaars wat daar hoop en redding is vir my.

Is jy ‘n  tipiese jongste seun (openlike rebel) of dalk ‘n tipiese oudste seun? Dit maak nie regtig saak nie. Ons almal het God se vergifnis deur Jesus nodig.  Kom wees net eerlik met God en kom na Hom as sondaar. Hy nooi alle sondaars om te deel in die groot fees. 

Naskrif : En noudat mens die gelykenis in geheel en van alle kante bekyk het, is dit dalk gepas om heeltemal 'n ander opskrif voor te stel. 'n Opskrif wat nie op die seuns fokus nie, maar op die Vader! "Die Gelykenis van die Barmhartige Vader", is 'n voorstel van 'n vriend van my, waarmee ek maar net kan saamstem!

* Goppelt

Sondag 12 Augustus 2012

VERLORE SEUNS (1)

- die jongste word feestelik vergewe.

Ons ken almal hierdie baie bekende en pragtige vertelling van Jesus in Lukas 15 as die gelykenis van die Verlore Seun. Dis natuurlik ‘n opskrif wat die vertalers voorsien het. ‘n Beter titel sou dalk kon wees : DIE VERLORE SEUNS. (Waarom, sal ons in volgende week se preek sien) Voorlopig kan ek net sê, die skerpkant en verrassingselement in die boodskap van  hierdie gelykenis kom eintlik eers na vore in die tweede gedeelte wat handel oor die oudste tuisblyer seun. Tog het hierdie eerste gedeelte (Lukas 15:11-24) opsigself ook ‘n baie sterk boodskap. 

Ons het hier ’n radikale verhaal. ’n Verhaal van uiterstes! Uiterste opstand, uiterste ellende, maar ook uiterste vergifnis en genade!  Maar daar is ‘n probleem, ons ken die verhaal so goed - dit  raak ons eintlik nie regtig meer nie. Ons hoor nie meer die soet  musiek van opwindende genade hierin nie. Ons voel nie meer die “onbeskryflik groot” nie.* Ons harte word nie meer so geraak dat ons in aanbidding voor ons Vader wil neerbuig nie.

So kom ons luister bietjie op ‘n ander manier na die “Verlore Seun”.

Die Amerikaanse joernalis-skrywer Phillip Yancy** vertel die gelykenisse van Jesus op ’n eietydse manier oor, gegrond op  hedendaagse gebeurtenisse. Johan Celliers vertel sy weergawe van die “Verlore Seun” so oor in Afrikaans:

’n Tienerdogter het op ’n dag van haar ouerhuis in die platteland af weggeloop na die stad en in verkeerde geselskap beland. Sy raak verslaaf aan dwelms en verval in prostitusie. Gou beland sy op straat en moet sy saans in gevaarlike stegies slaap. Een nag terwyl sy lê en luister na voetstappe, lyk die wêreld om haar skielik anders. Sy voel nie meer soos ’n vrou van die wêreld nie. Sy voel soos ’n klein dogtertjie, verlore in ’n koue en vreesaanjaende stad. Sy het onttrekkingsimptome. Haar sakke is leeg en sy is honger. Sy trek haar bene in en rol haar op in die fetusposisie waar sy bewend van die koue onder ’n paar koerante lê. Skielik vul ’n enkele prentjie haar kop : haar ouerhuis, waar die kersiebome vol bloeisels is, haar hond wat blaffend tussen die bome en die bloeisels op die grond agter ’n tennisbal aan hardloop.
“God, waarom het ek weggegaan,” sê sy vir haarself, en die pyn sny deur haar hart “My hond by die huis eet beter as wat ek nou eet.” Snikkend besef sy dat sy meer as enigiets anders in die wêreld wil huis toe gaan.
Op die een of ander manier slaag sy daarin om haar ouers te skakel, maar hulle is nie daar nie en al wat sy kan doen is om ’n boodskap op die antwoordmasjien te laat kom om te sê dat sy die volgende dag om twaalfuuur met die bus huis toe kom. “En Pa,” voeg sy by : “ek sal verstaan as julle my nie wil kom ontmoet nie. Dan bly ek maar op die bus tot my geld opraak.”
Die sewe uur wat sy op die bus moet deurbring, word vir haar ’n nagmerrierit. In haar gedagtes probeer sy ’n verskoning aan haar ouers formuleer, maar haar keel trek toe. Sy het in geen jare enige mens vir enigiets om verskoning gevra nie.
Uiteindelik na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bereik sy haar bestemming. In totale onsekerheid sluip sy die busterminus binne. Nie een van die tientalle tonele wat sy in haar gedagtes sien afspeel het as moontlikhede vir wat sy daar sou aantref, het haar egter voorberei op dit wat sy voor haar oë sien nie. Want, toe sy om die hoek die saal binnekom, bars daar ’n blye pandemonium los. Daar staan ’n skare van haar broers en susters en ooms en tantes en neefs en niggies en ’n ouma- en oupagrootjie ook nog. Hulle het almal sulke skewe potsierlike partytjiehoedjies op en blaas op raserige partytjietrompette, en dwarsoor die hele terminusmuur is ’n banier gedrapeer wat uitroep: “Welkom tuis! Welkom tuis!”
Iemand tree uit die groep na vore. Dis haar pa! Sy staar na hom deur haar trane heen, en begin haar gememoriseerde toesprakie stotter : “Pa , ek is jammer, pa. Ek weet ek is nie werd...”
Hy onderbreek haar. “Stil, my kind. Ons het nie tyd vir verskonings nie. Jy gaan laat wees vir jou partytjie. Daar wag ’n reuse -feestelikheid op jou by die huis...”  

Daar was drie radikale momente in die verhaal van die jongste se terugkeer wat treffend die reddingsgeskiedenis van die sondaar beskryf. Miskien herken jy jouself.

Radikale rebellie en ellende. Die jongste seun het sy Vader se liefde op ‘n gruwelike wyse verwerp. Met minagting het hy losbandigheid bo Vaderversorging gekies. Maar uiteindelik moes hy agterkom dat ‘n lewe weg van die Vader bitter en eensaam is. Sonde bring net tydelike genot en gewildheid. Dit bring ‘n skynvreugde met skynvriendskappe. Maar op die ou einde trek die sonde jou af in ‘n smerige varkhokbestaan. As die laaste dop uitgewerk is, as die losbandige verhouding begin vaal raak, as die geld vir plesier op is - dan is die sondaarhart leeg en eensaam. Dan word die geestelike bankrotskap pynlik en voelbaar.

Radikale besef en besluit.  Iewers het die waarheid tot hierdie seun deurgedring en het hy eerlik met homself geraak. Dis ‘n baie belangrike draaipunt in die sondaar se bekering. Die eerlike  erkenning : “Dis hoe ek lyk voor God!” So het Dawid (nadat Natan die vinger na hom gewys het) ook besef dat hy skuldig staan voor God. (Psalm 51)  As God uit genade deur sy Gees in die afgedwaalde werk, begin dit by ‘n sondebesef, ‘n bewustheid van my boosheid en leegheid. Deur die genade kom ek dan tot ‘n besluit : “Tot hier toe en nie verder nie. Ek staan nou op en gaan terug, kom wat wil.” 

En jy... het jy al opgestaan?

Radikale Vaderlike vergifnis.   Dis waar die klem val in die eerste gedeelte! Ja, die opstand en ellende van die seun word redelik breedvoerig beskryf, maar die Vader se optrede steel die kalklig! Die terugkerende seun kry ‘n ontvangs wat alle verwagtinge oortref.  ‘n Rebelse seun loop homself vas in ‘n fees! Mens sou nie raai dis hy wat sy Pa beledig en bitter verdriet aangedoen het nie. (Dit lyk eerder of hierdie seun ‘n olimpiese medaljewenner was!)  Pa gooi alle waardigheid oorboord en hardloop na die seun. Hy het nooit sy seun vergeet nie...hy het nog al die tyd vir hom gewag.  Hy was wel vir ‘n tyd uit sy seun se gedagtes, maar sy seun was nooit uit sy gedagtes nie. Sy hart is gebreek oor hierdie wegloperseun. As die seun by hom aankom is daar  geen verwyt nie.   Nie eers,  “ja, ek vergewe jou, maar van nou af moet jy darem in jou spoor trap” of “is jy seker jy is jammer?” of “ek hoop jy het nou jou les geleer” nie.  Onvoorwaardelike liefde. Ja, die seun het berou, hy bely en erken sy sonde (dis onmisbare elemente in ons redding!)... maar vanuit die Vader se oogpunt is dit amper ‘n bysaak. “Ja, ja, ja ek hoor jou, maar kom ons vier fees!” (Kyk hoe word die element van feesvier beklemtoon in vers 23,24)

Terugkerende sondaars kry ‘n  omhelsing van God. Volkome vergifnis! Volkome aanvaarding! Volkome vreugde!

Waarom wag jy? Waarom is jy bang of skaam? Wat hou jou terug? Om nog net een uur in die varkhok van sonde te sit is ‘n vermorsing van vreugdetyd wat jy kon beleef het. Staan op, gaan na jou Vader, Hy wag reeds vir jou... Hy het reeds sy liefde aan die kruis bewys deur Jesus Christus.  Hy nooi jou uit : “Kom nou laat ons die saak met mekaar uitmaak...”  (Jesaja 1:18)
“Ja, maar ek het eens op n tyd sy liefde en beleef by my bekering, maar het weer afgedwaal. Ek is 'n ware ‘backslider’, ek het my genadekanse weggegooi”, maak iemand beswaar. Vriend, hierdie boodskap is juis vir jou. “Kom terug kinders wat afgedwaal het...” (Jeremia 3:14)

Staan op, kom na die Vader, vind vergifnis en vier fees in heiligheid en reinheid!

*Johan Celliers
** Die feit dat ek Yancey aanhaal impliseer nie dat ek noodwendig met al sy sienings in sy werk saamstem nie.