BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 31 Julie 2021

DIE LEWE IS KOSBAAR

- maar nie absoluut nie!

Ons is die afgelope tyd deur omstandighede gedwing om weer na te dink oor lewe en dood… ook die lewe hierna ander kant die grense van ons aardse bestaan. 


Die lewe op aarde is kosbaar gawe van God voorreg om as mens op aarde te kan leef en ons Godgegewe opdragte en take uit te voer met lewenslus en dankbaarheid. Daarom raak ons opgewonde oor die geboorte van ‘n baba en hartseer by die afsterwe van ‘n geliefde. Die kosbaarheid en waarde van die lewe sien ons ook in die Tien Gebooie – jy mag nie doodslaan nie. Menslike lewe is baie belangrik vir God en moet beskerm word. Die mens is immers geskape byna God se beeld en is God se verteenwoordiger op aarde. Ons taak om die aarde te bewoon en bewerk is ‘n Goddelike opdrag. 

Maar die aardse lewe is nie die absolute nie, dis nie die hoogste waarde wat daar is nie, dis nie die “ultimate” nie, dis nie die heel belangrikste en die hoogtepunt nie. Anders gestel, daar is belangriker dinge as om net ten alle koste aan die lewe te probeer vasklou.

Hierdie perspektief kry ons in Paulus se gesprek met die ouderlinge van die gemeente van Efese. Paulus is op reis per skip na Jerusalem. Hy weet daar wag vir hom gevangeskap en vervolging. Die Heilige Gees het dit bevestig dat hy gaan ly. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese en dan lees ons hierdie merkwaardige woorde : 

“Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi : om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (Hand 20:24 2020 Vert) 

Verder aan op sy roete na Jerusalem het mense hom ook gesmeek om nie soontoe te gaan nie. En wat is Paulus se reaksie? Weereens verstommend!

 “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar om ook in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus.” (Hand 21:13 2020 Vert)

Paulus se siening oor sy Godgegewe doel wat belangriker is as sy aardse lewe is nie iets vreemds nie, dis presies wat Jesus geleer het. Paulus radikale siening ("Is die man dalk mal", sal sommige vra.) is die direkte gevolg van sy geloof in Jesus. 
Jesus leer in Johannes 12 :25 “Wie sy lewe liefhet , verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou.” Maak nie saak wat mense sê nie, maar Jesus se boodskap is baie duidelik - Daar is ‘n prioriteit van die ewige lewe. Dis die belangrikste. Dis wat tel! Dis wat jy moet behou.

Die kultusse wat leer - "The best life is now!" - lieg!

Jesus se lewe en sterwe, die evangelie feite het ook ‘n radikale nuwe perspektief op aardse lewe gebring. Jesus se oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel maak dat ons anders kyk na lewe en dood as ongelowiges, maar ook as die gelowige mense van die Ou Verbond. Jesus se opstanding het vir ons HOOP gebring en ‘n nuwe toekoms na die graf geopen. 

Kom ek probeer dit so verduidelik : In die Ou Testament  word die aardse lewe as die lewe in God se teenwoordigheid geskets, die doderyk is nie ‘n lekker plek nie. Dis nie ‘n plek waar God geloof kan word nie.  Kyk byvoorbeeld na Psalm 6. “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys?” (Psalm 6:6) 

Daar was geen duidelike en positiewe verwagting in die Ou Testament van ‘n heerlike bestaan na die dood nie. Kom ek illustreer dit prakties. Koning Hiskia was ‘n vroom koning, ‘n man van God. Maar ons lees in Jesaja 38 dat hy baie siek geword het en dat die profeet Jesaja vir hom gaan sê het dat hy sou sterf. Wat was sy reaksie? “Hiskia het bitterlik gehuil.” (2) Hy het bitterlik gehuil en gebid dat hy gespaar sou word. Die Here het toe 15 jaar by sy lewe gevoeg. As ons na die Nuwe Testament kyk totaal ander prentjie. 

DOOD IS NOU IETS VOORDELIG!


Kyk byvoorbeeld na die kontras tussen Hiskia en Paulus – toe Paulus met die werklikheid van die dood gekonfronteer is tydens sy gevangeskap skryf hy vir die gemeente van Filippi uit die tronk.  En dan maak hy ‘n baie radikale uitspraak – “om te sterwe, is vir my wins.” (21) En dan gaan hy voort – “As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe."  (22-24) 

Hoor jy? Hier kry ons ‘n totaal ander perspektief op lewe dood. ‘n Heeltemal verskillende benadering. Die dood is nou nie meer ‘n verskrikking nie, maar ‘n WINS – dood is nou voordelig, soveel so dat Paulus selfs daarna uitsien! Wat die verskil maak is die evangelie – Jesus se kruis en opstanding! Paulus het die volle implikasies van die evangelie besef, koning Hiskia nie.

Hoe sien jy die lewe? 

Ja, hierdie lewe is kosbaar en ons moet voluit leef (ons sit nie in ‘n hoekie en wag om dood te gaan nie) Maar as kind van God weet ek dat hierdie lewe nie om myself draai nie! 

Hierdie lewe is die kans wat God ons gee om ons roeping uit te leef.

As jy ‘n kind van God is , is dit ook jou roeping om te getuig van die genade evangelie. Maar, ek wil vir jou vra : het jy ‘n hoopvolle en vreugdevolle perspektief op die ewigheid? Besef jy die beste is nie NOU nie, die beste kom nog? Hierdie wêreld is nie ons finale bestemming nie. 


"Die wêreld is ons woning nie." Soos die digter Totius geskryf het. Besef jy ons hoef nie die dood te vrees nie en ons hoef nie krampagtig en desperaat aan ‘n aardse bestaan vas te klou nie? 





Die eintlike vraag is – Het die evangelie van Jesus al vir jou ‘n werklikheid geword, jou aan die hart gegryp en jou lewensuitkyk verander? Het jy al kom drink by Hom die Fontein van lewende water?

Hierdie boodskap is ook op YouTube beskikbaar. Kliek op KOSBAAR