BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Maja Kalender. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maja Kalender. Wys alle plasings

Maandag 13 April 2020

WOLHAARSTORIES



of WAARHEID? 

Die virus wat in hierdie tyd die vinnigste versprei is wolhaarstories. Samesweringsteorië. Conspiraciy theories. Dit word tot satwordens toe rondgestuur op Whatsapp, Facebook en elke denkbare manier. Soos byvoorbeeld – David Icke (!) se bangmaakstories oor die 5G tegnologie (dis terloops die ou wat verkondig sommige mense stam van reptiele af!!) of mens moet hoor dat die merk van die dier nou in ons ingespuit gaan word. Daar is hordes aspirant profete wat in hierdie tyd na prominensie (en geld) soek en hierdie tipes stories die wêreld instuur. Ek wonder hoekom glo mense nog hierdie tipe snert? 

Laat jou gedagtes bietjie teruggaan. Al hierdie tipe wolhaarstories en geestelike kwaksalwery is al keer op keer as verkeerd en vals bewys. Onthou jy nog die Y2K bedreiging of die einde van die wereld wat in 2012 sou aanbreek volgens die Maja kalender, die sogenaamde bloedmane of die veelbesproke nag van die lang messe wat Siener van Rensburg kwansuis sou voorspel het … ? Kort-kort is daar ‘n nuwe storie. En dan hardloop al wat onstandvastige siel is die vlaktes vol om dit uit te basuin en onkundiges te verlei. 

Ek wonder net - gestel sommige van die stories is waar, wat kan jy en ek in elk geval daaraan doen? 

Wat is die doel wat hierdie bangmaakprofete en sensasiesoekers nou eintlik wil bereik? Wil hulle hê dat ek moet bang wees vir Bill Gates? (Kan Bill iemand in die hel werp?) Moet ek iewers in die Namib gaan wegkruip? Of wat? Ek is oortuig dat Satan hierdie tipe stories gebruik om ons aandag af te lei van die noodsaak tot bekering en die eis om op Jesus alleen te vertrou!

Ek dink almal wat so ophol gaan en mens toegooi met wolhaar whatsapps moet eerder kennis neem van God se Woord : 

"Julle moenie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. 

Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees."  
(Jesaja 8 :12,13) 

Vriend ek wil by jou pleit. Vergeet die wolhaarstories en maak erns met die waarheid van die Woord. 

Vrees en eer God. Bekeer jou van jou sonde en kom skuil in Jesus Christus. Breek met daai sondige saamblyverhouding, staak jou egskeidingsplanne, gaan betaal jou broer vir wie jy soveel geld skuld, vergewe daardie persoon vir wie jy so haat, gaan maak jou lewe reg... Klim van jou selfoon af, gaan op jou knieë en bely jou sonde. Plaas jou vertroue volledig in Jesus, in Hom is jy veilig teen God se oordele. Hou op met die nonsens van huise uitsalf en shofars blaas! Doen eerder wat die Woord jou duidelik beveel : 

 Glo die evangelie en doen afstand van alle ongeregtigheid! 

God se kinders kry ‘n (kliek) heerlike versekering in hierdie tye van chaos en wanorde, vrese en onsekerheid : 

"Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." 
(2 Timoteus 2:19) 

VERGEET DIE WOLHAARSTORIES EN KIES DIE WAARHEID, JESUS SELF!

Sondag 01 Januarie 2012

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 4

God se kinders weet natuurlik dat Jesus se wederkoms alle Sataniese opposisie uit die pad sal vee! Die Satan en sy trawante sal dan finaal in die poel van vuur gegooi word! Maar die vraag is : Wat van nou? Wie is nou in beheer van die geskiedenis? Wie bepaal die wat, waar en wanneer van alles? Wie besluit oor die toekoms? Wie ken die toekoms? (sou die heidense Majas dit kon ken en ’n betroubare kalender kon opstel of is daar een of ander geheime organisasie wat die geskiedenis stuur soos hulle wil?)

Mense wat gefassineer word deur praatjies en prekies oor die geheime planne van byvoorbeeld die Illuminati en Vrymesselaars kan so maklik die Bybelse boodskap uit die oog verloor. Die Woord van God is klinkklaar helder en duidelik : Jesus Christus het alle mag in hemel en op aarde! Luister bietjie hoe Jesus self hierdie vertroostende waarheid uitspel :

In Sy roerende hoëpriesterlike gebed :

“U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee, om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.” (Johannes 17:2)

In Sy laaste opdrag aan die dissipels :

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Matteus 28:19)

Ja, verseker is die Duiwel en sy meelopers baie sterk en instaat tot veel kwaad.... Maar niemand van hulle, bepaal die kalender van die toekoms nie. Nie die Majas of die Mafia nie en ook nie al die geheime ondergrondse ordes of wraaksugtige helse hordes nie! Jesus het alle mag in Sy hande! Net Hy ontsluit die toekoms en bepaal die inhoud en sin daarvan! (Oordink bietjie Openbaring 5:1-5) Net Jesus wat die Leeu van Juda is, maar terselfdertyd ook die Lam wat vir ons losgekoop het met Sy bloed deur die volle sondestraf op Hom te neem! Hierdie majesteit en mag van Jesus beskryf Johannes vir ons natuurlik alreeds in die openingsvisioen in Openbaring 1:12-20. Gaan lees dit gerus, veral as daar onrus en vrees in jou hart broei. En hoor baie mooi wat die verheerlikte opgestane Jesus sê :

 “... Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Wat meer het ons nodig om te hoor? Geen handlanger of lakei van Satan het die finale sê oor lewe en dood hier op aarde nie! My vriend, Jesus alleen beskik daaroor!

Moenie jou laat onstel nie! Moenie vrees nie! Glo in God, glo in sy Seun, Jesus Christus. Hy alleen is die Weg, die Waarheid en die Lewe! (Johannes 14:1-6) Kom na Hom. As Hy jou red, is daar geen duistere mag wat jou uit Sy hand kan ruk nie! En selfs as ons moet sterf soos Stefanus, dan weet ons is dit nie ’n bose oorwinning vir duistere magte nie, maar ’n triomfantlike geleentheid om ons Verlosser te verheerlik! Ook dan en daar  is Jesus in Sy almag teenwoordig. Gaan lees maar Handelinge 7:55. Jesus staan (Hy is bewus van Stefanus en ontvang hom) aan die regterhand van God. (die absolute magsposisie in die heelal)

Mag jy ’n vreugdevolle en vrugbare 2012 beleef in die troosvolle wete dat ons Verlosser Jesus inderdaad alle mag en gesag in Sy hande het!

Vrydag 30 Desember 2011

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 3

Die jaar 2011 was ’n jaar van merkwaardige en ingrypende gebeure. Dink maar aan die baie natuurrampe onder andere in Australië, Japan, New Zealand en Thailand. Verder al die omwentelinge van die Arabiese Opstande, waarvan ons die einde nog nie gesien het nie. Die ondergang van diktators en die dood van bekendes. En nou beweer (volgens sommiges) die sogenaamde Maja kalender dat 2012 die einde van die wêreld gaan wees! Wat as dit regtig so is?

Wel, die een of ander tyd gaan die einde van die wêreld inderdaad aanbreek! Maar weet jy wat? Vir ’n Christen kan daar geen beter nuus wees as juis dit nie! Die einde van wêreld beteken vir ons die wederkoms van ons Verlosser, Jesus Christus! As jy aan Hom behoort is jy mos baie opgewonde om Hom te ontmoet, of hoe? Jy het mos hierdie verwagting dat jy Hom gaan sien en daarom streef jy daarna om jou rein te hou! (1 Johannes 3:2,3)

Vir die nabyheid van Jesus se koms en die noodsaaklikheid daarvan om gereed te wees, het ek regtig nie die Maja Kalender of een of ander kwaksalwerprofeet se praatjies nodig nie. Jesus self het dit tog mos baie duidelik gestel dat Hy enige oomblik kan kom, juis op ’n tyd wanneer niemand dit sal verwag nie. Dis juis die gevaar wat die speletjies met en die berekening van datums inhou. Mense kan redeneer dat daar nog tyd oor is voor die wederkoms, want eers moet dit of dat nog gebeur. Hoe dwaas! Die wederkoms kan plaasvind voordat jy nog hierdie kort skrywetjie klaar gelees het!

Vir die kind van God is dit nie ’n skade of ramp as die wederkoms plaasvind en hierdie wêreld vergaan nie!

Ons smag mos juis daarna. Die verlostes sien tog uit na daardie dag, want ons ervaar maar te duidelik dat ons nie in hierdie goddelose wêreld inpas nie en dat dit nie ons finale woonplek is nie! Hier beleef God se kinders mos daagliks onreg, vervolging of verwerping. Juis daarom verlang ons saam met al die gelowiges na die stad met vaste fondamente, waarvan God die ontwerper en bouer is! (Hebr 11:10) Ons is inderdaad pelgrims wat oppad is na ons ware Vaderland. Hier benede het ons slegs die status van vreemdelinge en bywoners. (1 Petrus 2:11) Ons het (so behoort dit te wees) ’n diepe versugting dat ons finale verlossing (ook van ons vernederde liggame) en die herstel van God se hele skepping tog gou moet plaasvind. (Rom 8:18-25)

Kind van God, sien jy uit na ons finale tuiste?

Woensdag 28 Desember 2011

MAJA KALENDER OF GOD SE KALENDER? - DIE TROOS VAN PSALM 31 vers 16

In die media word daar bespiegel oor die sogenaamde Maja kalender. Sommige mense beweer dat hierdie kalender (eeue gelede opgestel deur ’n Indiaanse beskawing) aandui dat die wêreld aan die einde van 2012 sal vergaan. Gelukkig hoef ons ons nie aan hierdie minderwaardige kalender te steur nie, want daar is net een Persoon wat die kalender vir die toekoms kan bepaal en dis God, die Almagtige Skepper van hemel en aarde!

Die heerlike vertroostende waarheid waaroor ek en jy kan juig, is dat God se kalender nie net die groot gebeure van die geskiedenis bepaal nie, maar ook die detail van ons lewens! Dis die heerlike implikasie van hierdie kragtige uitspraak in vers 16 : “My tye is in U hand”

God stel die kalender baie spesiaal vir Sy kinders saam! God stel die persoonlike kalender van ’n mens se lewe op sodat Hy sy heerlike doelwitte met ons kan bereik! Anders gesê my toekoms is in Sy hand.
"Ja, Here U bepaal die toekoms, die wêreld se toekoms, maar ook my spesifieke rol en plek en agenda!"

Dis so BELANGRIK! - Die Here weet nie net wat gaan gebeur nie, Hy bepaal dit ook. (Dis natuurlik juis omdat Hy alleen die toekoms bepaal en stuur dat Hy alleen weet wat die toekoms inhou!) Ek kan Hom vertrou met my toekoms. Ook die toekoms van 2012! Dit gaan in hierdie psalm oor ’n uitspraak van vertroue in moeilike omstandighede. Vertroue in God om te verlos en te beskerm!

Die man wat hierdie woorde van vertroue uitspreek is iemand wat die wind van voor gekry het. Hy het swaarkry en spot en dreigemente beleef. (Lees 10-14) Nogal rof nê? Geliefdes, juis in moeilike tye moet ons hierdie geloofsuitspraak maak: “My toekoms is in U hand.” Al lyk dinge sleg en al voel ek sleg, kan ek dit gelowig uitroep: “My toekoms is in U hand.” Die kind van God moet telkens die doelbewuste keuse  maak : Ek sal God vertrou! Ek sal buig voor en berus by sy Kalender (Rooster, Plan, Agenda) wat Hy vir my uitkies!

God bepaal die toekoms. Die toekoms van die wêreld, maar ook die detail van my eie persoonlike toekoms!

In hierdie toekoms, al is dit ’n moeilike toekoms hou Hy Sy hand oor ons en is Hy by ons! Daar is baie praktiese voorbeelde in die Woord wat dit bevestig : Dink sommer aan die lewens van Abram, Josef, Rut, Ester, Paulus... In al die onreg, rampe en terugslae wat hulle beleef het, was God aktief teenwoordig. Hy het al hierdie dinge in hulle lewens beplan om sy heerlike doelwitte te bereik!

Jesus se lewe en loopbaan op aarde  is die grootste voorbeeld van God wat die tye in sy hand hou! Sy Vader het ook vir Hom ’n kalender, ’n agenda bepaal! En neem kennis, dit was nie altyd lekker nie! Die hoofpunt op God se agenda vir Jesus was die kruis. Jesus kies doelbewus om Hom te onderwerp aan God se kalender en val in by God se plan. En te midde van die grootste krisis plaas Hy Sy volkome vertroue in Sy Vader. Kyk na die kruiswoord in Lukas 23:46! Vergelyk dit met Psalm 31: 6! “...in u hande gee ek my gees oor!” * Interessant! (Jesus self het duidelik hierdie Psalm geken! God se Woord was in sy hart en op sy lippe!)

Omdat die goeie regverdige God my kalender, my toekoms bepaal, kan ek Hom absoluut vertrou, ook in die aangesig van die dood. Sy getrouheid strek ook tot verby die graf!

Onthou altyd : Die God wat in beheer is van my toekoms is ’n goeie en regverdige God ! (20)

Wat God van ons verwag is kinderlike vertroue! Die grootste daad van vertroue wat die Here van ons verwag is om Jesus te vertrou as ons persoonlike Verlosser. Ons kan maar Jesus vertrou! (Rom 10:11) Vertrou Hom met die vergifnis van jou sondes en jou ewige toekoms. Vertrou Hom dat Sy wil en Sy opdragte die beste vir jou is!

Hierdie psalmis vertrou God.  Hy het ’n vaste wete dat God sy toekoms en sy tye bepaal, juis daarom bid Hy tot God. (Vers 2-6) Ware vertroue bring mens op jou knieë voor die Here. (Dink aan Jesus se aardse lewe, hoe baie en dikwels het Hy gebid) Ons sê maklik : “Ja ons vertrou!” Maar hoe lyk ons gebedslewe?

Gelowige afhanklike gebed is die praktiese sy van vertroue!

Die psalmis het proefondervindelik ervaar dat dit help om God te vertrou en tot Hom te roep, daarom eindig hy die psalm met ’n loflied en aanmoediging (22-25) “Wees dus sterk en hou goeie moed!” My vriend, dis ook vir jou! Vir jou wat op God vertrou!

Hier kom dus twee praktiese sake na vore wat saamgaan. Vertroue en gebed. (Wat uiteindellik uitloop op lof) Wie vertrou sal bid, wie bid sal al hoe meer vertrou. Het jy Hom al vertrou om jou Saligmaker te wees? Vertrou jy Hom vir die daaglikse uitdagings en besluite? Vertrou jy die toekoms van 2012 ook aan die Here toe? As ons dit bedoel sal ons dit ’n jaar van gebed maak. Dis ’n uitdaging en aanmoediging aan jou! Amen

* Lees die twee tekste in die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV)


EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 2

Miskien is daar tog ’n vae vrees by jou : Sê nou maar die Maja kalenders is reg en die einde kom, sê nou maar die bose Illuminati is besig om die wêreld volgens hulle planne te bestuur? Sê nou maar die baie voorspellings van rampe en oorloë word waar?

Weet jy my vriend, wat die Maja kalender beweer, wat die Illuminati proseseer of wat oom Siener van Rensburg profeteer het niks met die kinders van God uit te waai nie. Ons vrees nie die Rooi Slang se pik of Icke se akkedisse se skrik nie! Volgens God se Woord hoef ons nie en mag ons ook nie vir al hierdie sameswerings en praatjies bang word nie.

Hoor wat sê die Here :
“Julle moenie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees. Hy sal vir julle ’n beskutting wees...” (Jesaja 8:12-14)

As ons vir God ontsag het, as ons Hom dien deur sy Seun, ons Verlosser Jesus Christus, dan het ons niks te vrees nie! Besef tog net weer : Jesus het deur sy kruis en opstanding die sonde, Satan, dood en hel oorwin, vir elkeen wat waarlik in Hom glo! Elke kind van God is volmaak veilig! God het jou uitgekies voor die grondlegging van die wêreld om in sy heilige Koninkryk in te gaan en geen Illuminati plan of Vrymesselaar gekonkel of heiden kalender of Rooi Slang slinksheid (of watter kleur slang ookal) kan dit verhoed nie!

Pasop net om nie jou ore aan allerhande praatjies uit te leen nie, maar spits jou ore om God se Woord te hoor! Die Woord wat ons hart en gedagtes fokus op Jesus Christus, ons Redder!






Dinsdag 27 Desember 2011

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 1

Volgens sommige mense se interpretasie van die sogenaamde Maja kalender sal die wêreld tot ’n einde kom in 2012 of daar sal ’n "nuwe bewussyn" tot stand kom. Hoe moet ’n Christen oor sulke beweringe voel?

In ons tyd van feitlik onbeperkte kommunikasie versprei idees, gerugte en teorieë natuurlik vinniger as ’n veldbrand in die droë winterveld. Daar is ’n duisternis van samesweringsteorieë (beter bekend as "conspiracy theories"), bangmaakstories, kwaksalwer profesieë en sommer net dwase gekkernye! Daar is ’n verbysterende lys van hierdie goggas : die teorieë rondom die Illuminati en die Vrymesselaars (ja, hulle bestaan en hulle is boos, maar God Openbaring leer ons God is op die troon, nie hulle nie) , die valse profesieë vanaf die verre Nostradamus tot by ons eie Siener van Rensburg en dan natuurlik die hordes van mislukte wederkomsvoorspellings, waarvan David Camping s’n nog vars in die geheue is! Bangmaakstories van alle soorte (onthou jy nog Y2K van die veel verwagte jaar 2000?) en allerhande geheimsinnighede soos die Rooi Slang familie wat agter die skerms sou werk tot die bisarre reptiele van David Icke se akkedisverbeelding!

’n Mens kan die onkundige wêreldlinge dit nog vergewe dat hulle hulle aan sulke wolhaarstories steur, maar as Christene kosbare tyd en kragte bestee om hierdie skimsels na te vors, dan flikker die gevaarligte. Het God se kinders dan vergeet dat al die skatte van wysheid en kennis in Jesus self te vinde is? (Kolossense 2:3) Al hierdie slim stories is maar net ’n manier hoe die Satan ons wil mislei sodat ons ons oë moet wegneem van ons Oorwinnaar Verlosser, Jesus Christus! Wees daarop bedag!

Vriend, ken jy werklik vir Jesus Christus? En as jy Hom ken is dit jou groot ideaal en ambisie om Hom beter te ken? Kan jy saam met Paulus sê:

 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood....”       
 (Filippense 2:10,11)

Om Jesus Christus te ken is oneindig belangriker, oneindig meer vervullend en oneindig heerliker as al die  insigte oor teorieë en bangmaakstories van die wêreld, waaroor die kastige Christen navorsers ons so graag inlig!

Bewonder en bestudeer Jesus Christus, Hy alleen is dit waardig!