BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dankbaarheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dankbaarheid. Wys alle plasings

Vrydag 26 Oktober 2018

NIE ‘N SELFIE NIE,

MAAR ‘N LUGFOTO! 


Christenskap. Oor wie en wat gaan dit nou eintlik? Wat is die voordeel, die nut en die doel daarvan? As ons dit in terme van ‘n foto moes verduidelik, sou dit ‘n selfie, ‘n groepfoto of ‘n lugfoto wees? 

Kom ons tel dit sommer reg van die begin af - die Bybelse begrip van Christenskap, gaan nie oor ‘n selfie nie, maar oor ‘n lugfoto! Anders gesê dit gaan nie oor ‘n klein prentjie waar ekself die middelpunt en fokus is nie, maar oor ‘n groot prentjie, die groot prentjie van God se planne en God se eer! 

In ons dag is die versoeking baie groot om “selfie Christene” te wees. Die individualistiese selfie kultuur het oorgespoel na mense se verstaan van kerkwees en Christenwees. 

SELFIECHRISTENE. 

Hoe lyk en hoe klink hulle? Die selfiechristen sê : 

-Ek is seker van my saligheid en dis vir my genoeg. Al my planne en polisse is in plek, ook my polis teen die hel. Nou is ek veilig, nou kan ek rustig aangaan om vir myself die lewe so gerieflik as moontlik in te rig en as ek nou ongelukkig van my kosbare aardse besittings moet afskeid neem, gaan ek darem gelukkig hemel toe. 

-Die kerk is nie juis vir my nie, ek dien die Here op my manier, op my tyd en volgens my voorwaardes soos dit vir my gerieflik is. Niemand gaan my vertel wat om te doen nie. 

-Ek gaan nie kerk toe nie en ek raak nie betrokke nie, want daar is iemand in die kerk wat my geld skuld of lelik is met my. Ek word dus te na gekom en as ek dan te na gekom word speel ek nie meer saam nie! Ek gaan nie kerk toe nie, want dis nie lekker genoeg vir my nie... Die TV kerk by die huis is ‘n baie geriefliker opsie, want ek kan sommer met ‘n lekker koppie koffie in die hand myself op die rusbank uitstrek... O, ja ek gaan so af en toe na 'n Gospelfees, want dis aangename vermaak... 'n Toer na Israel klink ook vir my interessant!

-Die Here seën MY so baie. Hy seën MY besigheid, MY gesondheid, MY gesin..., Hy maak vir MY die lewe gerieflik en gemaklik. Trouens Hy is so goed vir MY ek kon nou al weer ‘n nuwe kar en nog ‘n stuk grond koop... Dis vir MY regtig voordelig om ‘n Christen te wees. Die Here maak MY ambisies waar. Hy is so goed vir MY, ek voel so spesiaal. Hy gaan MY help dat ek gou kan aftree en net dan die wêreld vol toer en golf speel…Ek is Sy witbroodjie... (Ja, Hy is so goed vir MY, ek vergeet heeltemal van die Christene in Sirië, Indië en in die plakkerskampe hier naby...)  Hierdie sienings is baie algemeen... dit word verkondig in die Christelike tydskrifte, die Christelike televisie..

Sendingwerk, opoffering, betrokke wees, mededeelsaamheid, lyding vir Christus, selfverloëning... dis vreemde begrippe vir die selfiechristen! 


Hierdie selfie Christenskap is baie gewild, maar is dit wat die Bybel leer? NEE! Hierdie sienings druis reël reguit in teen die gesindheid en perspektief wat Paulus hier uitstraal en verteenwoordig in Handelinge 20:17-38. Dis deel van sy roerende afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese op pad na Jerusalem. Kom ons kyk bietjie daarna: 

Kom ons gaan eers net bietjie terug. Paulus het God nie gedien binne sy eie persoonlike raamwerk en individualistiese planne nie. Paulus het God gedien binne die konteks van die kerk. Hy het nie sy eie “St. Paul’s ministries” gehad nie. Sy hele bediening was kerk gebaseerd – hy is uitgestuur deur die gemeente van Antiochië op sy eerste sendingreis. (Handelinge 13:1-3)

Hy roep hier in Handelinge 20 die ouderlinge bymekaar van die gemeente in Efese wat hy gestig het. Paulus weet daar wag vir hom groot moeilikheid en lyding in Jerusalem. "En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag." (22,23) Maar dan sê hy hierdie aangrypende woorde vir die gemeente ouderlinge in vers 24 : "Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God." (DLV)

Hier vind ons die passie en leuse van 'n ware dissipel van die Gekruisigde Jesus!

Dis baie duidelik. Vir Paulus het Christenskap nie oor persoonlike gerief en gemak gegaan nie. Ook nie die uitlewing van ‘n persoonlike ambisie en lewensideaal nie. Dit het nie vir hom persoonlike voordele gebring nie, inteendeel... wel baie lyding en hartseer. Ja, sy bediening in en buite die kerk was nie altyd maklik nie. Hoor wat sê hy 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” 

Paulus het nie geleef volgens sy eie drome en ambisies nie, maar volgens ‘n God opgelegde lewenstaak en bedieningsopdrag. Toe die Here kort na sy Damaskus ontmoeting die dissipel Ananias na Paulus gestuur het, het Hy vir Ananias gesê m.b.t. Paulus : "Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly." (Handelinge 9:15,16) Die kind van God stel nie meer sy eie agenda saam nie, God bepaal dit natuurlik elkeen volgens sy besluit en die gawes wat Hy ons gegee het! 

Paulus se doel was nie homself nie! Dit het gegaan oor die uitdra en uitleef van God se boodskap van genade. Dis die boodskap wat hom persoonlik aangegryp het. Hoekom? 

Hy was ‘n persoonlike ontvanger van genade! Sy sondes is uit genade vergewe. Maar sy Christenskap het nie daar geëindig nie. Hy het ‘n bediening en roeping uit genade ontvang. 

Hier begin mens dalk verstaan waar die wortel van die “selfie Christenskap” probleem is. Selfgesentreerde mense is mense wat heel waarskynlik nog nooit hulle behoefte aan genade besef het nie en dalk nog nooit deelgenote van Goddelike genade geword het nie. Christenskap gaan nie vir hulle oor dankbaarheid oor onverdiende genade nie, maar oor aanspraak maak op verbruikersvoordele... Die vraag is vir hulle is: “Watter nut en voordeel hou geloof in vir my?” Vir ‘n sondaar wat genade ontvang het, lyk alles egter anders. Ek besef ek verdien niks anders as die hel nie. Nou het ek genade ontvang en daardie genade lê ‘n dankbaarheidsplig op my om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my genade gegee het. Ek moet dus by sy wense, wil en planne inval! 

Die essensie van Bybels gefundeerde Christenskap is nie selfvervulling nie,maar selfverloëning! 

Jesus self het immers gesê : “Neem jou kruis op” (kies die dood ter wille van my), nie “volg jou persoonlike ambisie na” nie! Nie my ambisie nie, maar God se opdrag is wat tel. Dit gaan oor God, want als is net Sy Genade! 

Christenskap is dus nie ‘n selfie nie. Tot ‘n mate is dit ‘n groep foto, want ek is saam met my broers en susters as gemeente op pad. Maar ook die groep is nog steeds nie die fokuspunt nie, nee Christenskap behels ‘n lugfoto – God se perspektief, God se wil, God se groot oorsigtelike plan, God se eer! 

Die vraag moet nie wees – Wat WEN ek nie, maar wat WIL God? Maar juis hierin lê ons groot beloning en vreugde! 



*Die NAB se vertaling is baie onbevredigend. Die DLV word ondersteun o.a. deur die OAV en die NIV. 

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (OAV) 

However, I consider my life worth nothing to me; my only aim is to finish the race and complete the task the Lord Jesus has given me—the task of testifying to the good news of God’s grace. (NIV)

Dinsdag 12 Desember 2017

DIAMANTE IN 'N GEROESTE BLIK

EVANGELIESE REALISME EN HOOP

te midde van ‘n gebroke en deurmekaar wêreld!



Hier by die laaste stuiptrekkings van die jaar is dit dalk goed dat ons bietjie voorraad opname maak. Waar bevind ons onsself as kinders van God binne in die konteks van soveel sonde, chaos, verwarring en grootskaalse ellende. Hoe moet ons onsself beskou, waar pas ons in en waarna toe is ons op pad? As kinders van God kyk ons met nederige DANKBAARHEID terug na die verlede en met nugtere REALISME na vandag en met vreugdevolle HOOP na die toekoms. (Altans dit behoort so te wees as ons die Skrif glo) Dis wat die apostel Paulus ook in die besondere ryk hoofstukke 4 en 5 van die 2 Korintiërs brief doen. Die konteks is: Hy verdedig sy apostoliese amp teenoor valse leraars wat dit onder verdenking geplaas het. Hy doen persoonlik verantwoording van wie en wat hy is en waar hy homself bevind. Ons is nou nie apostels nie, tog is die sake wat hy hier noem honderd persent ook op elke kind van God van toepassing. 

VERLEDE. 

Paulus kyk na die verlede, na die genadewerk wat God in hom gedoen het. Hy maak ‘n heerlike en radikale stelling wat waar is van elke wedergeborene. “Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis," het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” 2 Korintiërs 4:5,6 Die wedergeboorte is so ‘n dramatiese gebeurtenis soortgelyk aan die skepping. Dis bonatuurlik, dis menslik onbegryplik en onverduidelikbaar. Ons het baie meer as fisiese lig ontvang, ons is verlig om die heerlikheid van God raak te sien deur Jesus Christus. Dis trouens die groot nood van die mensdom – die mens sien nie die heerlikheid van God raak nie. Daarom kan die sondaar mens God nie waardeer, aanbid, eer en geniet nie! (En onthou dis juis waarvoor ons geskep en ontwerp is!) Die teks by die ingangsportaal van ons kerkgebou verwoord hierdie diepste behoefte van die mens, waar Moses uitroep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eksodus 33:18) Die natuurlike mens is egter geestelik blind en besef nie hierdie nood van sy hart nie. Ja, hy is so blind dat hy nie eers weet hy is blind nie! Daarom hardloop mense agter valse waardes en valse genot aan, wat teleurstel.

Paulus kon egter getuig van hierdie wonderwerk wat hom in staat gestel het (hy wat die kerk wou uitroei) om die heerlikheid van God raak te sien en te bewonder in die aangesig van Jesus! Jy wat kind van God is, kan ook maar net saam bly wees dat God so ‘n genade wonder aan jou bewys het!

HEDE. 

Wat is die realistiese werklikheid die kind van God vandag, hier nou? ‘n Realistiese voorraadopname? Wie is ons, wat het ons? Ons kry die antwoord op ‘n treffende wyse gestel in 2 Korintiërs 4:7 “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” Kleipotte! Hierdie is ‘n uiters veelseggende en ryk beeld. Ons as mense is maar swak – sielkundig, emosioneel, fisies – so broos en breekbaar soos kleipotte, erdekruike. Maar dit maak nie saak nie! Wat tel is die skat binne in ons! Wat is dit? Dis waarvan die vorige vers gepraat het. Hierdie skat is die kennis van die heerlikheid van God wat ons deur die evangelie van Jesus ontvang het. O, ons kon besef hoe wonderlik en aanbiddingswaardig God is, toe ons raaksien, Jesus is die Beeld van die Onsienlike God! (Hebreërs 1:1-3) Hierdie openbaring ‘n kosbare onvernietigbare skat. Niks kan dit verander of wegneem nie. Ons swakheid en broosheid verander niks aan die waarde van die skat nie! Dis die inhoud wat tel nie die houer nie. Die houer kan en sal vergaan, maar die kosbaarheid van die skat bly onaangetas. Dink aan iemand wat diamante in ‘n ou koffieblik versteek. Die blik sal roes en uiteindelik vergaan, maar die diamante se waarde verhoog net! Kind van God, hierdie is so ‘n oneindig belangrike perspektief – moenie fokus op wie jy is nie, fokus op en waardeer die skat binne in jou!

TOEKOMS. 

Dit wat waar is van die verlede en die hede, open ook ‘n heerlike uitsig op die toekoms. Ten diepste is ons natuurlik toekomsmense wat weet dat hierdie stukkende gebroke wêreld nie ons finale tuiste is nie. Hierdie toekomsvisie word treffend gestel in 2 Korintiërs 4:16-5:1.

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Die werk wat God in ons gedoen het deur Jesus sal standhou tot in alle ewigheid. Die lig wat in ons harte geskyn het, sal bly skyn tot in alle ewigheid. Die duisternis sal dit nie oorweldig nie! Die skat in ons, sal onverganklik bly tot in alle ewigheid. Omdat God ons genadig gewees het, het ons ‘n vaste gebou in die hemel. Dis ‘n permanente onwankelbare erfenis en koninkryk. ‘n Gebou is die teenoorgestelde van ‘n tent. ‘n Gebou is permanent en veilig, ‘n tent is maar tydelik en onvas. Hierdie feite verander ons manier van kyk na die werklikheid rondom ons, dit verander ons lewensbeskouing. Ons oog is nie gerig op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare skat en onbeskryflik heerlike toekoms wat dit meebring! Ons kyk verder en dieper as die standaard wêreldling! Ons fokus dus nie op ons moeilike omstandighede van swakker wordende gesondheid of ellendes en wêreldprobleme nie, of selfs na ons sonde gebrokenheid nie, maar ons kyk met ‘n geloofsoog na die vervulling van God se ewigheidsbeloftes. Die kind van God is nooit ‘n gevangene van sy omstandighede nie, omdat ons deur die geloof die onsigbare werklikheid sien wat God beloof het. En sy beloftes weeg swaarder as enigiets...

Wat is nou die praktiese gevolg NOU van hierdie heerlike perspektief op die verlede hede en toekoms? 2 Korintiërs 5:6-10 vertel ons.

"Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.
Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.
Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad."

Kom ons konsentreer net op drie sake:

  • Ons lewe nou en vandag is baie belangrik. Ons is op aarde en dis nie toevallig nie. Onthou die engele se boodskap : “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde!” Ons moet volhard tot die einde toe. Ons moet vasbyt in die wedloop van die geloof, want ons sal beloon word vir dit wat ons nou doen! (10)
  • Ons is en mag en moet positief wees. “Ons is vol moed” (6,8) Vgl. ook 4:1. Ons is nie blind vir die ellende van die wêreld en ook nie vir ons eie swakheid nie, maar hierdie heerlike feite rondom die skat in ons en erfenis wat wag kan nie anders as om ons positief te maak nie!
  • Omdat ons soveel het om dankbaar oor te wees het ons net een wens en een begeerte en dis om te lewe soos Jesus wil hê! Die kind van God het altyd (hetsy kind, jongmens, grootmens, bejaarde) ‘n duidelike doel om na te streef : Leef ‘n lewe wat God behaag! Leef dus ‘n lewe wat in ooreenstemming is met Sy Woord. Laat jou begeertes, gewoontes, waardes, doelwitte...in lyn met die Woord van God! Saamgevat : Wees lief vir God en wees lief vir jou naaste uit dankbaarheid wat Jesus Christus vir jou gedoen het. Uit dankbaarheid vir die wonderwerk van verligting wat jy onverdiend beleef het!