BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 11 Oktober 2013

DIE "SWAK" CHRISTEN

- hoor die verrassende waarheid met betrekking tot elke kind van God!

Twee bevelvoerders praat elk met hulle troepe. Hulle het twee heeltemal verskillende benaderings... 


Die een benadruk die krag en voortreflikheid van die vyand. “Luister manne, ons vyand is baie beter bewapen as ons, hulle kwaliteit toerusting, voorrade, rugsteun...alles oortref ons s’n by verre. Ek weet nie of ons hulle sal kan aanvat nie, want ons is maar baie swak...” Die tweede bevelvoerder het heeltemal ’n ander benadering. “Manne, ek wil hê julle moet besef, julle het die beste wapens, opleiding en voorbereiding ontvang wat daar is. Ons hoofkwartier het alles voorsien wat nodig is om die stryd te win. Daar wag ‘n kwaai stryd en ons sal ons kant moet bring, maar oor die uitslag is daar geen twyfel nie...Gee nou julle alles...”

Die apostel Petrus gebruik die benadering van die tweede bevelvoerder in 2 PETRUS 1:3-8 

Luister hoe begin hy sy kragtige aansporing aan God se kinders om in die stryd van heiligmaking te volhard... “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.”

REALISTIESE EN POSITIEWE BENADERING IN DIE STRYD

Ons weet elke kind van God ervaar ‘n geweldige stryd in sy binneste : die ou natuur (vlees) teen die Heilige Gees! Deel van hierdie stryd is die versoeking om moeg te word om goeie werke te doen en te volhard. (kliek op  OKTOBERTAMHEID) In hierdie stryd teen die sondige natuur, in ons stryd teen geestelike moegheid en moedeloosheid, is ons almal geneig om die oorbekende verskoning te gebruik. “Ag, ek is maar net ‘n swakke sondige mens!” Hierdie verskoning klink so vroom en nederig (en daar is natuurlik ‘n element van waarheid in, ons is immers mense), maar wat presies sê die Skrif oor ‘n kind van God?

Petrus is baie duidelik. Elke kind van God het reeds die krag ontvang om vrugbaar, heilig en volhardend vir God te leef! “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien!" (Weereens, baie duidelik die benadering van die tweede bevelvoerder!) Wat 'n kragtige uitspraak, wat ‘n verblydende en bevrydende waarheid! GLO JY DIT?

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien!” Liewe kind van God van hierdie waarheid moet jy oortuig wees, voordat jy die stryd van heiligmaking kan aanpak, voor jy kan baklei teen sonde en versoeking, voordat jy die geveg teen die ou natuur kan wen. Hierdie waarheid moet so ’n werklikheid in ons denke wees dat dit ’n juigkreet op ons lippe sal word. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien!” Dis nie ‘n slim storietjie om ons net beter te laat voel nie, dis suiwer Bybelse waarheid, vir elkeen wat kan sien om te lees en te glo!

In hierdie gedeelte is ‘n bepaalde volgorde en dis ontsettend belangrik. Petrus sê eers duidelik wat GOD vir ons gegee het (3) voordat hy enige praktiese opdragte gee. (5) “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk...” 

ONTVANGERS

Verstaan mooi! 'n Kind van God is per definisie in die eerste plek 'n ontvanger. Hoor ons dit! Ontvangers, mense wat so gelukkig was om 'n geskenk te kry. Ons is begunstigdes en begenadigdes. Ja, natuurlik ons moet ook doeners wees, ons sal noodwendig doeners word, dit word later aan in die sterkste moontlike taal gesê, maar ons moet eers baie duidelik hoor ons het alles ontvang , alles, ja, alles wat nodig is. Wat is die alles? Alles! Alles wat ons nodig het om kinders van God te wees en as kinders van God te leef. Ja, alles! Alle genade en alle krag! Glo jy dit? Jy sê : “Ek voel so swak, nietig, met ’n klein geloof...Geld hierdie waarheid van 1:3 ook vir my? Ek is maar so ‘n geringe Christen? Ek is so ‘n jong Christen?” As jy ‘n kind van God is, het jy reeds alles ontvang wat nodig is... 



Dink aan ‘n kremetartboom. (Adansonia digitata) ‘n Kremetartboom is ‘n kremetartboom al is hy net een dag oud, met net twee blaartjies... Hy bevat reeds al die genetiese eienskappe om eendag ‘n bosreus te word, al lê daar nog baie jare se groei en stryd teen die natuurelemente voor! Net so ontvang die kind van God van die begin af alles wat nodig is om tot volwasse, oorwinnende gelowige te groei...

Kind van God, jy het alles reeds ontvang. Alles! Jy wat kind van God is, het reeds ’n Goddelike kragtige ingrype beleef.

Wat behels hierdie geskenk, hierdie "ontvang" in die praktyk? Hoe en wanneer gebeur dit? Vers 3b gee ‘n leidraad : "deur die kennis van Hom wat ons geroep het.” Kennis van Jesus. Deur Jesus te leer ken en te aanvaar word die kosbare beloftes van die evangelie myne. Reddende geloof is geloof gegrond op die beloftes van God. Dit gaan oor Jesus, oor die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het. Hy het my boete betaal by God. Die belofte is dat elkeen wat na Hom kom die volle vergifnis kry. Deur die werk van die Gees is die beloftes is nou nie meer net oorbekende droë Bybelversies nie, maar kosbare beloftes wat ek aan my hart druk, wat lewe in my binneste. (As jy kind van God word, kry die Bybel mos lewe) Beloftes van Kindskap, volkome vergifnis, belofte van die leiding van die Gees, oorwinning oor die Bose, geestelike oorvloed, beloftes van finale oorwinning en volharding... Dis alles joune! 

Kind van God, jy het iets wat ander mense nie het nie!

Hierdie feite oor wat ons reeds ontvang het (en dis waar van elke Christen) vorm nou die basis van Petrus se ernstige dringende oproep tot verdere groei. Die geskenk van geloof en alles wat daarmee saamgaan lê nou 'n verpligting op ons. “Werp alles in die stryd...” Die genade van God stel ons in staat, maar terselfdertyd eis dit van ons om te vorder en te groei in die pad van heiligmaking. Dit wat ons ontvang het stel ons in staat, maar eis ook van ons om nou alles in die stryd te werp (Vers 5), alles in te sit om te vorder.

Dit beteken : By die basiese element van geloof wat in elke kind van God aanwesig is moet ons sekere dinge byvoeg. Ons moet ons geloof verryk. LW – dis ‘n opdrag aan ons, met ander woorde ons verantwoordelikheid, ons plig, ons aksie. Heiligmaking en geestelike groei is nie ’n passiewe toestand nie. Dis nie iets wat sommer outomaties gebeur nie. Dis nie ’n maklike kitsresep nie. Dis nie net ‘n eenmalige “zap” ervaring en als is nou reg nie. Heiligmaking verg alles van ons, maar onthou weer ons het alles ontvang wat nodig is om dit in ons lewens te implementeer! Petrus herhaal weer die essensie van hierdie oproep tot aksie in 2 Petrus 3:14. “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.”

Petrus noem dan nou die praktiese stappe wat ons moet neem nadat ons nou oortuig is dat ons reeds alles ontvang het wat nodig is...* Lees dit vanaf vers 5 tot 7. “Sal ek dit kan regkry?” Ja, die kind van God kan, want onthou : “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk...” Herinner jouself daaraan, glo dit, gaan oor tot aksie...

Die genoegsaamheid van God se genade om ons te laat volhard, is nie blote vroom teorie nie, maar werklikheid! (Kliek op GETROU OP TSINTSABIS)

*Aan hierdie praktiese dinge wat ons by ons geloof moet byvoeg, word by 'n volgende geleentheid aandag gegee.

1 opmerking:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.