BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geweld. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geweld. Wys alle plasings

Woensdag 25 April 2018

BRAND, BREEK EN BEROOF

- die geweldkultuur van Suid-Afrika! 

Die bisarre (eensydige) koor van lofbetuigings oor Winnie Mandela se bydra en opofferings het skaars verstil, toe word ons weer herinner aan wat die ware nalatenskap van haar en (ten minste sommige) van haar bevrydingsbewegingskollegas behels. Ja, ja, ek weet dis dalk ‘n oorvereenvoudiging en dis eensydige kommentaar... maar ons moenie vergeet nie, tannie Winnie het gespog dat die land met vuurhoutjies en buitebande bevry sou word. Die land is nou “bevry”, maar die brand en breek kultuur duur steeds voort onder die sogenaamde demokratiese bestel. Winnie se vuurhoutjies vuur nog strykdeur... Hoeveel jaar nou al? Die houding is :"As ons ontevrede is wend ons ons tot geweld, dan maak ons vlamme en gooi klippe..." Maak nou nie saak of dit ontevredenheid met politieke leiers, gebrekkige dienslewering of ‘n sokkeruitslag is nie! Wat jy saai sal jy maai! Dis ‘n Bybelse beginsel wat gesê moet word of dit nou polities korrek is of nie. Dit lyk ook of die Tien Gebooie vergete geraak het... 

Ek wil nou nie baie tyd spandeer om hieroor navorsing te doen of ‘n debat te voer nie. (Daar is veel heerliker dinge om oor te praat...) Kyk sommer maar net na ‘n paar baie onlangse uittreksels uit RSG se nuusberigte en vorm jou eie opinie... 

Nege mense is in Mahikeng in Noordwes in hegtenis geneem in verband met openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Geweld het Woensdag uitgebreek uit protes teen Premier Supra Mahumapelo wat van bedrog beskuldig word. Inwoners eis sy bedanking. Winkels, voertuie en geboue het onder plunderaars en brandstigters deurgeloop. Die verdagtes is van die Montshioa-township, Dibate, Motlhabeng en Lomanyaneng. Van hulle is leerders. Hulle sal Maandag in die Molopo landdroshof verskyn. 

Wanorde het losgebars toe Kaizer Chiefs met 0--2 teen die Free State Stars verloor het. Volgens die polisiewoordvoerder het hulle berigte ontvang van verskeie mense wat tydens die voorval beseer is. Die ontevrede ondersteuners het 'n brand gestig en die polisie met klippe bestook. Die polisie het later skokgranate gebruik om die skare uiteen te dryf. 

Die Minister van Polisie, Bheki Cele sou vanaand samesprekings met die twee vegtende taxiverenigings in Mthatha in die Oos-Kaap voer. Hy sal ook ander rolspelers ontmoet om oplossings vir die voortgesette geweld te probeer vind. Die taxigevegte het reeds die dood van talle mense veroorsaak. Tussen 2016 en 2018 is meer as 60 mense dood, wat eienaars, bestuurders en passasiers insluit. Cele het vroeër die taxistaanplekke in Mthatha, Libode en Tsolo gesluit wat meegebring het dat talle mense nie vervoer gehad het nie. 

Die lisensiekantoor by die Modimolle-Mookgopong munisipaliteit in Limpopo is in 'n brand beskadig. Die burgemeester, Marlene van Staden sê brandstigting word ondersoek. Groot skade is aangerig met die dak wat aan die een kant ingetuimel en rekenaars wat in die slag gebly het. Van Staden sê die lisensiekantoor is onlangs deur die Departement van Vervoer se teenkorrupsie-eenheid gesluit weens beweerde bedrog en korrupsie. Sy sê die vermoede bestaan dat mense wat by die ondersoek betrek word, moontlik bewyse wou vernietig. 

Die munisipale kantoor in Keiskammahoek in die Oos-Kaap is aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër begin betoog en eis beter dienslewering, veral wat paaie en HOP-huise betref. Paaie in die omgewing is vroeër met brandende bande versper. 

Twee geboue, insluitende die munisipale kantore is op Steynsrus in die Vrystaat aan die brand gesteek. Die inwoners betoog oor `n tekort aan woonerwe. Die polisie monitor die gebied, maar die toestand is gespanne. 

Die polisie se Openbare Orde Eenheid is op die N-12 tussen Wolmaransstad en Bloemhof in Noordwes ontplooi waar gewelddadige betogings voorkom. Betogers het vroeër die pad met brandende bande en klippe versper. Die polisiewoordvoerder, Adel Myburgh sê die polisie monitor die situasie. Die betogers eis ook die verwydering van Supra Mahumapelo as premier. Vroeër het gewelddadige betogings ook by Mahikeng voorgekom. 

Intussen is die 33 betogers wat van openbare geweld aangekla is sedert die onrus in die hoofstad Mahikeng in Noordwes uitgebars het, op waarskuwings vrygelaat. Die beskuldigdes het in die Molopo-landdroshof verskyn. 

Die burgerorganisasie Sanco het die brandstigting van 'n munisipale gebou in Keiskamma in die Oos-Kaap skerp veroordeel. Die gebou is tydens betogings oor dienslewering aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër paaie met brandende bande versper. Hulle eis behoorlike paaie en HOP-huise. 



Meer as 30 skole is 'n jaar gelede in die Vuwani-distrik afgebrand tydens protesoptrede oor die afbakening van munisipale grense. 

Die aantal vragmotors wat deurgeloop het in gisteraand se geweld op die N3 by Mooirivier is aansienlik meer as wat aanvanklik gereken is. Volgens die Departement van Vervoer is meer as 20 vragmotors aan die brand gesteek, terwyl talle geplunder is.

Twee busse, drie voertuie en kantore is in Phuthaditjhaba in QwaQwa in die Vrystaat deur studente van die Maluti Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleidingskollege aan die brand gesteek. Die studente wil hê die rektor moet bedank omdat hy nie aandag aan hulle klagtes gegee het nie. Die voorsitter van die studenteraad, Tseliso Nhlapo, sê hulle eis ook nuwe infrastruktuur. Nhlapo sê talle studente het nog nie hul diplomas ontvang nie en die bestuur is nie bereid om die probleme te takel nie. 



Dis natuurlik baie maklik om sinies of selfs bitter oor hierdie toedrag van sake te word. Maar dit sou beteken dat ons reaksie maar net dieselfde as die van ander ongelowiges sou wees. Nee, terwyl ons die waarheid oor die chaos onomwonde en onverskrokke moet uitwys, moet ons juis met nog groter passie die bevrydende waarheid van die evangelie uitbasuin en uitleef!

Naskrif 

Ek is darem nie die enigste wat krities oor Winnie se styl is nie. Mondli Makhanya bekwame joernalis van City Press ook, alhoewel ek darem in alle billikheid moet meld dat hy ten spyte van kritiek ook nog veel rede tot lof in haar vind.

Hieronder net ‘n aanhaling uit ‘n onlangse artikel van hom.

“Dare we forget that, in 1989, the leadership of the Mass Democratic Movement publicly distanced itself from the so-called Mother of the Nation because of the "reign of terror" that she and her Mandela United Football Club were conducting in Soweto. The football club, which was nothing more than her private vigilante gang and whose only association with soccer was its kit, had terrorised the township and was almost as feared as the Jackrollers gang. Such was the extent of grievance against Madikizela-Mandela and her thugs that members of the Congress of SA Students even attempted to burn down the Mandela house. 

After numerous attempts to rein her in and put a stop to conduct that undermined the struggle, the leaders had to act. 

Accusing her of abusing the trust and confidence of the people, and falling into "conflict with various sections of the oppressed people and with the Mass Democratic Movement as a whole", the leaders said her practices had "violated the spirit and ethics" of the movement. 

Madikizela-Mandela's excommunication by the anti-apartheid movement did not come at the whim of an individual or individuals who despised her. An instruction had already come from the ANC headquarters in Lusaka – on the authority of no less a person than Oliver Tambo – that her criminal gang should be disbanded. But because Madikizela-Mandela was, in her view, above the ANC and the internal liberation movement, this instruction was ignored. 

This unruly streak had frightened many in liberation circles since Madikizela-Mandela's return from Brandfort. Some celebrated this as a rebellion against patriarchy and chauvinism, but it was in fact ungovernability of the highest order. At the height of the necklacing phenomenon – which she encouraged with her matchboxes and tyres speech – she had defied instructions from Lusaka to withdraw her endorsement of the cruel punishment that was meted out to suspected traitors.”

Donderdag 15 Junie 2017

16 Junie en die Kaapstad stasie

Die tragiese gebeure van 16 Junie 1976 is nog vars in baie mense se geheue. (Môre gaan dit weer herdenk word met netjiese polities korrekte toesprake...) Tien duisend swart hoërskoolleerlinge marsjeer aanvanklik vreedsaam deur Soweto se strate in protes… Ongelukkig het dit nie vreedsaam gebly nie, maar ontplof in ‘n orgie van geweld, brandstigting, plundery en moord. Dis geskiedenis. Die probleem is, hierdie geweld gaan vandag nog steeds voort… Die Afrika kind het nog steeds geen rus en vrede nie. Die Afrika kind is nog steeds op die verwoestingspad. Afrika kinders vernietig hulle eie toekoms.


Vroeër vandeesweek is mens weer hieraan herinner.

RSG berig : "Pendelaars wat ontevrede was oor ernstige vertragings met Metrorail se treine, het groot skade op die Kaapstadse stasie aangerig toe hulle 'n trein aan die brand gesteek en geboue beskadig het. 'n Woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, Theo Layne, sê vier brandweerwaens is na die toneel gestuur om die brand te blus en die polisie is ontplooi. Niemand is in die voorval beseer nie. Metrorail het bevestig dat honderde ontevrede pendelaars amok gemaak en winkels by die stasie geplunder en beskadig het. Die vertragings is blykbaar veroorsaak deur probleme met die kragtoevoer. Metrorail sê hoewel hulle begrip het vir die pendelaars, kan niks dié optrede regverdig nie. Metrorail gaan beeldmateriaal van kringtelevisiekameras bestudeer om aanklagte van saakbeskadiging teen die skuldiges te lê.” 

Agt treinwaens is beskadig wat Metrorail se reeds beperkte vermoë nog verder beperk. En wie gaan die meeste daaronder ly? Die kinders van Afrika!

Dis nou die bekende patroon in Suid-Afrika. As iets nie volgens hulle sin verloop nie, brand hulle hulle eie treine, skole, munisipale geboue en polisiestasies af. Venda, Lichtenburg, Kaapstad... In 1976 was daar griewe. Niemand ontken dit nie. Die griewe het tot ‘n mate simpatie gewek, want daar was nie destyds ‘n demokratiese bestel waarin almal kon deel nie. Maar nou in 2017 het almal stemreg en tog het die metode om griewe te lug onveranderd gebly. Brandstigting en barbarisme. Geweld en vernietiging. Chaos en anargie. En meer subtiel maar met nog erger gevolge... korrupsie, nepotisme, staatskaping....

Soos in 1976 is daar beslis nog steeds probleme met die owerhede, bestuuurspraktyke, dienslewering... Die verskil is net, die owerhede van vandag is wettig verkose owerhede, wat self deur die brandstigters en plunderaars via die stembus aangestel is. Dit laat mens besef, die groot probleem is nie die probleme nie, maar die mense met die probleme. Wanneer gaan die Afrika kind leer om probleme op nugtere konstruktiewe manier te hanteer? Wanneer gaan die besef deurdring dat geen land of volksgroep homself nog ryk geplunder, gestaak, afgebrand of gemarsjeer het nie? Verbetering van omstandighede kom slegs deur harde werk, mededeelsaamheid en respek.

Die probleem met die Afrika kind is groter as die probleme met infrastruktuur en ekonomiese agterstande. Dis ‘n gesindheidsprobleem, ‘n inherente geweldskultuur, ‘n houding van minagting van gesag, ‘n gebrek aan respek vir eiendom en lewe, ‘n hartsprobleem. Ten diepste ‘n sondeprobleem! 16 Junie kan dus baie nuttig aangewend word as ‘n dag van verootmoediging, ‘n geleentheid om tot bekering op te roep. Bekering tot God, wat ook sal lei tot respek vir die naaste, sy lewe en sy eiendom. En natuurlik ‘n ag slaan op die wyse woorde van Paulus : “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: ‘As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’" (2 Tessalonisense 3:10)

Donderdag 27 Junie 2013

SOOS JESUS?

- Kok sing ook in die koor.

Volgens die dagblad BEELD het prof. Kobus Kok van Tukkies gesê daar is aspekte van Mandela se lewe wat hom herinner aan Jesus. Hy wys gelukkig darem gou daarop dat hy Jesus nie met Mandela wil gelykstel nie. Dankie prof., maar weet, net bloot om Jesus en Mandela (en ook sommer Ghandi en Martin Luther King)* se name in dieselfde asem te noem wil 'n Christen klaar laat gril! Mensverering bereik in hierdie dae skynbaar nuwe hoogtes...

Ek sou sê Jesus se lewe onderstreep juis dit wat met Mandela s'n fout gegaan het. 

Beide het hulleself in samelewings bevind waar hulle medevolksgenote marginalisering en onreg beleef het.  Maar hulle optrede binne in hierdie situasies was so verskillend en ver van mekaar verwyder soos die Ooste en die Weste! Jesus het nooit opstand of geweld teen die Romeinse onderdrukkers bepleit nie, Mandela was die aanstigter van geweld! Terloops, president Zuma het nou die dag opposisiepartye daarvan beskuldig dat hulle Mandela eensydig voorstel (as die versoenener?), maar die res van sy loopbaan ignoreer of verswyg. Ek dink Zuma is heeltemal reg op hierdie punt! So baie van die loftoeswaaiers het blykbaar heeltemal vergeet waarom Mandela deur 'n hof tronk toe gestuur is en is hardkoppig blind vir al die gruwels wat Umkhonto we Sizwe gepleeg het!

Jesus is onskuldig veroordeel, juis omdat Hy God se wil ten alle tye gedoen het. Dit kan geensins van Mandela gesê word nie!

Die grootste onderskeid tussen Jesus se aardse loopbaan en die van Mandela word egter sigbaar as dit gemeet word aan die norm van God se wil. Jesus het volmaak die wil van sy Vader eerste gestel en nêrens kom dit duideliker na vore as in sy worstelgebed in die tuin van Getsemane nie : "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" Het Mandela hom beywer vir God se wil of was hy dalk meer gedienstig aan die sekulêre humanisme en die ideale en inspirasie van sy rewolusionêre mentors soos Castro en kie? Die feite is daar vir elkeen om na te gaan...

Ek kom nie tot dieselfde konklusies as Kok nie!

*Die berig meld ook onder andere : Alle groot profete-leiers is gebore in omstandighede van krisis en wanhoop. Dit is wat van visioenêre leiers maak wat hulle is, sê Kok. Leiers soos Moses, Jesus, Gandhi, Martin Luther King en Mandela het almal ’n lang lydingspad geloop ter wille van ander.
Dís hoe profete werk. Profete is ikone, simbole, aantreklike voorbeelde van dít wat hulle in gedagte het.

Dinsdag 19 Maart 2013

GELUK

- via GEBED of GEWELD?


Hoe probeer jy geluk in die lewe vind? Is jy  ’n bidder of ’n bakleier? Word jou lewe oor die algemeen gekenmerk deur gebed of geweld? Hoe klink dit in jou huwelik, gesin, werksplek? Hoe hanteer jy frustrasies en onreg? (En laat ons maar kennis neem, dit sal altyd daar wees) Baklei jy? Nie noodwendig met die vuis nie, nie altyd met harde verbale geweld nie, maar jy begin net so byt-byt, subtiel beledig, skimpe rondstrooi, stilstuipe kry of onttrek jouself aan mense? En ja, selfbejammering en manipulering is seker die algemeenste vorm van geweld tussen huweliksmaats en binne gesinne.  Hierdie alles is inderdaad ook wrede vorme van baklei!

Bid of baklei, gebed of geweld is simptome van ‘n dieper saak. Gebed, ware gebedswandel met God is ‘n uitvloeisel van ‘n herstelde verhouding met God.  Net so is baklei ‘n simptoom van ‘n lewe sonder Jesus, sonder ‘n verhouding met God of dan ten minste ‘n aanduiding van ‘n ernstige versteuring tussen ons en Hom.  Jakobus, hoofstuk 4 vertel vir ons baie oor hierdie twee uiteenlopende benaderings:

"1.Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
2. Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
3. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
4. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.
5. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
6. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade."
7. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
8.Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.
9.Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.
10. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog."

Bid en baklei word teenoor mekaar gestel as twee uitsluitende werks en lewenswyses. (sien vers 2)

Hoe lyk die bakleier?

(Uit hierdie gedeelte kan mens ’n paar kenmerke opsom. Vers 1 verwys eintlik terug na die vorige gedeeltes in hfst3.  Waar kom die stryd  waarvan in 3:14-16 gepraat word, vandaan?)

~ Die bakleier huisves naywer, selfsug en afguns. (3: 14-16) Hy is ten diepste jaloers. Nie tevrede met wat hy het nie. Nie tevrede met sy finansies nie, nie tevrede met sy vrou en kinders wat God hom gegee het nie. Ontevrede hoe ek lyk, ontevrede met my werk...

Onvergenoegdheid lei tot geweld, ontevredenheid bring konflik.

~ Die bakleier se lewe word gekenmerk deur vriendskap met die wêreld.  Sy denke en begeertes is deurdrenk met wêreldse sienings en begeertes. Die wêreld se media, opinies en verwronge standaarde bepaal sy begeertes. ‘n Goeie voorbeeld, die sepies vol van die  wêreld se sienings oor geld, seks en mag is sy verwysingsraamwerk. Hoe meer jy na al die chaotiese “Vermaak” kyk, hoe meer lyk jou en jou gesin se lewens soos in die daardie einste sepies. Net soos die sepiekarakters baklei om meer mag en meer plesier, gebeur dieselfde met jou.

~ Die bakleier is ’n diep ongelukkige mens. Ontevrede. Onvergenoegd. Hy voel altyd daar is ’n klomp dinge wat hy wil hê. Hy/sy meet homself altyd aan ander mense : “Kyk hoeveel het daardie ou, kyk, kyk..... en kyk wat het arme ek.”  Begeer, begeer, begeer... Die grootste rede vir sy ongelukkigheid en onvervuldheid is die skrikwekkende feit : God het sy vyand geword. As jou lewe oorheers word deur die wêreld begeertes van nog hê , nog hê ..... dan is jy en God in ‘n staat van vyandskap. (4:4)   Johannes 2:15-17 stel hierdie selfde waarheid so : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge - alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

  
~ Die bakleier bid ook soms. Die bakleier se gebed is egter nie suksesvol nie. Dit frustreer hom of haar net nog meer. Hoekom? God verhoor nie sy gebede nie. Hoekom nie? Hy bid verkeerd. Die selfsug en afguns wat sy lewe kenmerk spoel oor in sy gebedslewe. Die bakleier se selfgesentreerde, selfsugtige gebede is ‘n gruwel voor God. “Gee, gee, gee...” Die bietjie wat hy wel bid is maar net ’n uitlaatklep vir sy selfsugtige begeertes. “Here, ek het dit en dit en dit...... nodig! Here, hy pla my, Here sy maak die lewe vir my moeilik, verander hulle tog dat ek ‘n lekkerder lewe kan hê…”

~ Die bakleier is ’n hoogmoedige mens. (6) Egosentries tot in sy gebeente!  Sy rasionaal is : “Ek is so oulik, ek moet alles hê wat ek begeer.”  Die skrikwekkende feit is,  God self word sy teenstander!  Die bakleier sal sê, alles loop verkeerd, die duiwel maak vir my die wêreld moeilik", maar eintlik is dit God wat teen hom gedraai het.  Daarom vind hy nooit geluk nie, al baklei hy hoe hard daarvoor!

Hoe lyk die bidder?

~ Wel, hy bid! Hy maak tyd daarvoor. Hieruit kan mens iets belangrik aflei. Hy staan in ’n lewende verhouding met God en daarom praat hy met sy Vader! Biddeloosheid is ’n simptoom van iemand wat sonder God leef. Aan die anderkant is ware onselfsugtige gebed  ’n kenmerk van iemand wat God se kind is en in afhanklikheid van Hom leef.

~ Hy vertoon ‘n nederige tevredenheid. “Here, wat U vir my gee en wat U vir my doen is goed.”  ’n Bidder is iemand wat hom in nederigheid voor die Here onderwerp. ’n Bidder sê opreg : Laat U wil geskied! ’n Bidder sê soos Paulus in  Filippense 4:11,12 : “…ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (OAV) (Terloops, mense wat aan die prosperity gospel/ voorspoedsevangelie glo, kan nie ware bidders wees nie, hulle is net bakleiers met ‘n vroom godsdiensousie oor hulle selfsug )

~ Die bidder bied teenstand teen die Duiwel. Die bakleier luister na die duiwel en slurp sy propaganda in. Die bidder sê : “Nee!”  Nee vir die duiwel, nee vir versoekings, nee vir die sonde, nee vir die wêreld se lewensstyl!

Die bidder baklei ook, maar hy baklei nie teen sy huweliksmaat nie, nie teen sy werkgewer nie, nie teen die kerk nie, maar hy baklei teen die Satan op sy knieë!

~ Die bidder los sonde. Hy treur oor sonde en laat staan dit! (8,9). ’n Bidder is sensitief vir sy eie sonde. ‘n Bidder fokus nie op ander se foute nie, maar bring sy eie na God in die gebed.

Baklei of bid? 

Dis twee uiteenlopende lewenswyses wat treffend verteenwoordig word deur die twee karakters van Saul en Dawid. . . Die bakleier is soos Saul. Hy was ongehoorsaam aan God, ontevrede met God se plan, jaloers op Dawid en diep ongelukkig!  Sy selfgesentreerde selfsugtige gebede het hom niks gebaat nie, en uiteindelik het God hom heeltemal verlaat en moes hy in desperaatheid ’n spiritis raadpleeg!  Die bidder is soos Dawid, nederig in sy eie oë. In onderworpenheid aan God, wag hy geduldig vir God se tyd! Ja, toe hy nie waaksaam was nie, val hy in sonde, maar hy onderwerp hom weereens in nederigheid aan God. Lees maar Psalm 51.

As ons baklei, stry ons ‘n verlore stryd soos Saul se geskiedenis wys. Al sy planne het niks gehelp nie, want God self was teen hom. As ons bid, dan veg God ons saak, soos Dawid ondervind het. God het vir hom gestry en op die regte tyd die koningskap aan hom gegee.

Is jy ‘n bakleier? Die oplossing is : word ’n bidder. ’n Bidder, ‘n kind van God wat tot God nader, ’n bidder wat afstand doen van die sonde, ’n bidder wat jou onderwerp aan God, ’n bidder wat teen die wêreld draai en homself voor God verneder.
 Die belofte hier in Jakobus is 4:8-10 is ook vir jou (maak nie saak hoe erg jou bakleiersverlede is nie) : As jy biddend nederig na God toe kom, sal Hy jou weer optel en dit sal nie nodig wees om te baklei nie! Jy sal nie meer wil baklei nie, want jy sal diepe tevredenheid  en geluk vind in die teenwoordigheid van God. Hy  vervul ons diepste behoeftes deur Jesus Christus. Hy gee geluk soos wat Hy in sy goedheid en regverdigheid besluit, wanneer ons onsself aan sy volmaakte wil onderwerp.

LOS GEWELD! GOD GEE GELUK VIA GEBED!