BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 29 Maart 2018

DIE GOEIE NUUS EN VOORREG VAN GOEIE VRYDAG

moet verstaan word binne die konteks van God se heiligheid! 



Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in EKSODUS 24! Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers bestyg die berg Sinaï en kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprinkel is! Drie groot sake vra ons aandag : 


1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe. Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Daar is geen plek vir die hedendaagse Amerikaansgedrewe familiariteit met God in die Skrif nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte! Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is (selfs die definisie van wat ‘n huwelik is moet verander word....) - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout! God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep. Sy heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. VUUR is verterend , gevaarlik, tog ook heerlik, suiwerend, helend! (Kliek op Brandende bos) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God! 

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense. Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. Onbegryplik heerlik. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en gelei met ‘n baie duidelike doel . Dit word duidelik uitspel dit in Eksodus 19:4-6. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring! Ja, om by Hom te wees! God soek reeds in die tuin van Eden toenadering tot die mens as Hy na Adam roep... God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

WEET DIT, GOD WIL OOK IN ‘N INNIGE VERHOUDING MET JOU STAAN! 

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou. Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense! Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf? Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit hierdie gedeelte (die antwoord is natuurlik die evangelie opsigself) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God. 

Ons vind hier ‘n asemrowende en uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n verbysterende hoogtepunt.“Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.” (10,11) 

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was. Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie! Hoekom is dit so buitengewoon en verdien dit spesiale vermelding? Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is! 

Die bloed wat gevloei het tydens die sluiting van die Ou Verbond by Sinaï, was ‘n voorspel tot die kruisiging van Jesus, die Lam van God wie se bloed binne die konteks van die Nuwe Verbond volkome genoegsaam was vir al ons sondes en vir ons ewige toegang tot die heerlike teenwoordigheid van God bewerk het. 

Dis die boodskap van die heilige Nagmaal. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons word gereinig deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. Dis evangelie! Die Goeie Nuus van Goeie Vrydag! Maar dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik gelowig moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Dis die vereiste van Goeie Vrydag! Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van Goeie Vrydag naamlik ewige tafelgemeenskap met God. In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” aan elkeen wat glo bevestig. “Dis vir julle!” In die Nagmaal beleef ons nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam.

Geseënde Paasfees!!

Maak ook weer seker van die feite van die OPSTANDING wat die bevestiging is van die Goeie Nuus van Goeie Vrydag!

Maandag 26 Maart 2018

OP PAD NA PAASFEES

met groot respek, maar vol vreugde soos huppelende kalwers! 


Die meeste mense word verveel deur die boodskap van God se genade. “Ja, ons hoor God het ons lief, ons hoor God vergewe sonde, ons hoor God bewys genade, maar so what? – ons het dit nie juis nodig nie.” Daarom is Paasfees... wel ‘n lekker en welkome vakansietyd, maar of ons dit nou vier is ook nie regtig so belangrik nie. Die rede vir hierdie traak-my-nie-agtige houding is dat ons (veral die gemaksugtige kerk van die Weste) ‘n paar basiese waarhede oor God vergeet het. Ons het vergeet God is ‘n verterende vuur! Vuur en lig is dwarsdeur die Skrif ‘n tema wat vir ons iets probeer verduidelik van God se heiligheid. Ons het reeds gekyk na die tema in die begin van die Ou Testament (Kliek - Heilige Vuur). Die brandende doringbos en die verskyning van God in vuur by die berg Sinai met die sluiting van die Verbond...Vandag gaan ons kyk hoe die tema ook in die heel laaste boek van die Ou Testament, Maleagi aangespreek word. Blaai na Maleagi 3:1-5,4:1-3. 

Maleagi praat van die Verbondsengel (en dit kan niemand anders wees as Jesus nie) en assosieer Hom met vuur en suiwering en loutering. Hoor bietjie : "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. 
Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers." (3:2,3)

Sy koms is ‘n saak van vreugde! "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige." (1) 

En tog, dit wek ook bekommernis en onrus! “Wie kan standhou as Hy verskyn?” (2) Dis die wesentlike vraag van elke sondaar wat iets begin besef van God se heiligheid. Op hierdie vraag moet elke sondaar ‘n antwoord kry. Die antwoord is natuurlik vanuit die Nuwe Testament net die wat gereinig is deur die bloed van Jesus! Die wat buig voor Hom en sy koningskap aanvaar. 

Jesus se koms na die wêreld het nie net vreugde en vrede gebring nie! Sy heilige vuur is ‘n vuur wat suiwer en skeiding bring. Lukas 12:49 – “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” 

HERSTEL VAN WARE AANBIDDING 

Die doel van sy koms is om weer ware aanbidding van God te herstel. 'n Lewe van gehoorsaamheid aan God! En dit terloops verskil hemelsbreed van die talle mensgesentreerde verwagtings rondom Jesus wat vandag so welig tier... 

"Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby." (4) 

 Die heilige vuur van die Engel van die Verbond bring Hom in botsing met sonde en veral teen almal wat nie waarlik eerbied het vir God nie. Sonde word hier konkreet by die Naam genoem... “Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.” (5) En let wel dis nie net opvallend verkeerde dinge soos egbreek en toordery nie, maar ook om ‘n dagloner uit te buit! Wie oor Jesus praat, moet ook oor sonde praat! Die aaklige klimaks van sonde is om nie eerbied vir Sy Naam te hê nie! 

SOOS ‘N OOND! 

Die verwerping van Jesus, die Gesalfde van God is die finale sonde, die sonde wat God se oordele vir ewig op mense sal laat neerkom. Die oordele van God word vergelyk met die werking van ‘n brandende oond. “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” (4:1) 

GENESING EN VREUGDE! 

Die heilige teenwoordigheid van God deur Jesus, beteken nie net straf en uitdelging nie, dit bring ook seën en genesing. God se teenwoordigheid onder sy volk destyds met die Uittog, die vuurkolom en wolkolom het beteken dat Hy hulle versorg, bewaar en voor hulle uitgetrek het. En daarom God se vuur wat vir die goddeloses en vermeteles ’n oond wat verteer is, beteken vir die wat sy Naam vrees juis die son van geregtigheid. “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” (4:2) 

Sy teenwoordigheid bring suiwering, genesing, vreugde en jubelende blydskap. 

Weer die geheimenis van die brandende bos! (Kliek - Heilige Vuur) God verteer nie sy volk nie, maar bring seën. Maar nie vir almal nie, vir die wat sy eerbied het vir Sy Naam. Wie is die wat God se Naam vrees? Dis elkeen wat volkome vertrou op die Naam van Jesus Christus, die enigste Naam waardeur ons gered word. (Handelinge 4:12) Elkeen wat op hom vertrou sal nooit teleurgesteld word nie, maar vir ewig die genesende son van geregtigheid voel skyn. Dis heilige heerlike lig van God self, wat die lig en glans sal verskaf in die nuwe Jerusalem! Openbaring 21:23 vertel ons : “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” 

En wat sê dit alles vir ons? 

  • God woon onder sy volk. Hy staan nie daar ver eenkant nie, Hy woon tussen sy verbondsmense en beoefen gemeenskap met hulle. As dit waar was van die Ou Bedeling hoeveel te meer nou in die Nuwe Verbond. Hy het in Jesus Christus onder ons kom woon (Immanuel), Hy woon nou onder ons deur die Heilige Gees. Terloops een van die tekens van die Heilige Gees tydens Pinkster was juis tonge van VUUR! Ons, sy kinders is sy tempel, sy woonplek nou reeds, maar ook woon Hy volmaak tussen ons vir alle ewigheid! 

  • God se genade is groot. Verbysterend groot! Dis alleenlik God se genade wat maak dat sy heiligheid ons nie verteer en vernietig nie. Hierdie genade het ’n hoogtepunt bereik in Jesus. God se heilige toorn het Hom getref in ons plek. In Hom en op grond van sy verdienste kan ons as gebroke onvolmaakte mense die heilige God nader. Hy is ons Middelaar! In Jesus is ons veilig teen God se toorn. Dis die heerlike boodskap van Paasfees!

  • God se heiligheid is nog steeds ’n faktor om mee rekening te hou. God se genade beteken nie dat ons sy heiligheid mag ignoreer en verontagsaam nie. Annanias en Safira se tragiese geskiedenis wys vir ons wat is die skrikwekkende gevolge van so ’n houding. Die Hebreërs skrywer waarsku ook mense van die Nuwe Verbond teen afvalligheid en maan ons om God te dien met eerbied en vrees, want sê hy : “Ons God is ’n verterende vuur” (Hebr. 12:29) Met respek en ontsag moet ons bewus bly dat ons God ’n heilige vuur is en daarom des te meer die genade vasgryp en waardeer, deur alle sonde in ons lewens uit te roei, daarvan weg te vlug en stywer vas te gryp aan Jesus ons Hoëpriester. Geloof in Jesus gee ons nie die reg om op vermetele manier God uit te tart en om met sonde te speel nie, geloof in Jesus laat ons juis besef ons is kinders van die heilige God wat sê : “Wees heilig want ek is heilig.” 

VREES EN BLYDSKAP 

Ons vind hier groot rede om ons verlossing met vrees en bewing uit te werk soos Paulus skryf in Filippense. 

Maar ons vind ook groot rede om absoluut bly te wees! Bly oor genesing en redding! So vervul ons hierdie profesie wat sê : “Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers!” Onthou – “happiness and holiness” gaan saam! Heiligheid bring vreugde! Ons kan ook bly wees dat reg en geregtigheid sal geskied!” (3)* 

Wat moet ons houding teenoor God, en spesifiek die Paasgebeure wees? 

Beslis nie onbetrokkenheid en apatie nie, maar... Eerbiedige blydskap! Respekvolle vreugde! Dis die gesindheid waarmee ons ook die komende Paasfees moet vier! AMEN!

*Dis 'n belangrike punt vanuit die voorafgaande konteks waar die vraag juis gestel word, hoekom dit lyk of God geen onderskeid tussen die regverdige en die goddeloses maak nie. Die verskil gaan duidelik word as God sy oordele voltrek oor sy vyande en die finale verlossing bring vir diegene wat respek vir Sy Naam het!

Vrydag 16 Maart 2018

HEILIGE VUUR

- waarom brand die bos, maar word nie verteer nie? 



Vuur! Goed of Gevaarlik? Sekerlik en beslis beide : Dink aan warmte, lig, beskerming.... maar ook skrikwekkend gevaarlik en verwoestend... dit kan jou brand en verteer! 

HET GOD SY VERBOND VERGEET? 

Die Engel van die HERE verskyn aan Moses in ’n brandende doringbos. (Sien Eksodus 3:1-6)* Dis ’n bonatuurlike ontmoetingsgebeurtenis. Wat is die agtergrond? Die volk Israel, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob is in ’n groot krisis. Die krisis gaan nie bloot daaroor dat hulle swaarkry en dwangarbeid moet verrig nie, die krisis is ook nie net die aaklige verdrukking wat beteken dat babaseuntjies doodgemaak word nie. Die krisis lê op ’n dieper teologiese vlak. Hoe so? God het ’n verbond met Abram gesluit - dat hy geseënd sal wees - hy sal ’n groot nageslag wees en die land Kanaän besit en al die nasies van die aarde sal deur sy nageslag geseënd wees. Hierdie beloftes is herhaal aan Isak en Jakob. En nou? Nou is hierdie nageslag ’n slawevolk onder vreemde heerskappy in ’n vreemde land. Kan u sien, die situasie van Israel in Egipte is nie maar net ’n plaaslike tragedie nie. God se verbondsbeloftes is op die spel, die toekoms van sy volk en daarom die betroubaarheid van God self. Dit sou kon lyk asof God sy verbond vergeet het of dat Hy nie instaat was om dit na te kom nie. Dit was egter nie die geval nie. God dink aan sy verbond en gaan oor tot aksie! 

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 
Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem." (Eks. 2:23-25) 

DIE BRANDENDE BOS 

Die eerste praktiese stap wat God neem is nou om Homself aan Moses te openbaar en hom te roep as die middelaar deur wie Hy sy volk gaan verlos. Baie belangrik om te hoor hoe God homself aan Moses identifiseer. Vers 6! God is die God van Abraham, Isak en Jakob d.w.s. die Verbondsgod. Dit bevestig wat reeds gesê is - God gaan tot aksie oor, Hy gryp reddend in op grond van en binne die raamwerk van sy verbond met Abram. 

Laat ons nadink oor ’n fyner detail, spesifiek die verskyning van die Engel van die HERE in die brandende bos! Waarom openbaar die Here Homself op hierdie manier en wat sou Hy daardeur wou sê? Die Here openbaar Homself in ’n vuurvlam (dis al klaar van groot betekenis), maar baie opvallend is dat die vuurvlam nie die bos verteer soos wat mens sou verwag nie. Dis juis hierdie aspek wat Moses se aandag getrek het en hom laat nadergaan het. (3) Wat is die betekenis van die vuurvlam en die opvallende verskynsel dat die vlam brand maar nie die bos verteer nie? 

HEILIGE TEENWOORDIGHEID 

God openbaar sy teenwoordigheid in die vorm van ’n vuurvlam in die doringbos. Die klem val op sy heilige teenwoordigheid. (5) Hierdie verskyning was nie die laaste keer dat dit gebeur nie. Daar is ’n merkwaardige ooreenkoms tussen hierdie gebeurtenis in Eksodus 3 en die gebeure wat beskryf word in Deuteronomium 4 en 5. Dis ‘n terugverwysing na God se verskyning aan die volk by die berg Sinaï//Horeb tydens die Uittog.** (Eks. 3:1; Dtr. 4:10) 

Net soos die bos het die berg met “vuur gebrand.” (Eks. 3:2) "Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het." (Dtr 4:11) In beide gevalle word daar melding gemaak van “nader gegaan” (Eks. 3:3; Dtr. 5:23,24) 

Vuur simboliseer God se heerlike maar juis ook sy heilige verterende teenwoordigheid. “Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud” (Eks. 19:18) “Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos ‘n gloeiende vuur op die berg." (Eks. 24:17) “Die Here jou God is ‘n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.” (Dtr. 4:24!) Soos vuur alles vernietig, vernietig die heiligheid van God alles en almal wat onrein is. In Eksodus 3 kry ons dus ’n antisipasie of vooruitskouing van die verterende heilige God by Sinaï. By Sinaï sluit God ’n verbond met sy volk wat daarop neerkom dat Hy as die heilige verterende God onder die volk sou woon. Trouens God red juis sy volk om onder hulle te woon as hulle God. Dis God se verlange om met sy mense te wees. Dis wonderlike ’n onbeskryflik heerlik, maar dit veroorsaak ook ’n krisis. 

DIE KRISIS 

Die verblyf van die heilige God onder ’n sondige volk (al was hulle ’n verlosde volk) skep ’n probleem. Hoekom? God se heiligheid is juis ’n verterende vuur, ’n verterende heiligheid wat geen sonde kan duld of verduur nie. God se verblyf is ’n heerlike saak, maar om dit so te stel ook ’n gevaarlike saak. Sy heiligheid kan die dood van onheilige mense veroorsaak. Die groot kwessie is : hoe gaan ’n onheilige volk oorleef met die teenwoordigheid van die heilige God in hulle midde? Hier word die raaisel van die bos wat nie verteer word nie opgelos. Die doringbos verteenwoordig die volk Israel.*** Die bos word nie verteer nie ten spyte van die brandende vlam se teenwoordigheid. Dit spreek van God se genade!! 

ALLEENLIK GOD SE GENADE KEER DAT HY ONS NIE VERNIETIG NIE! 

Dis presies wat die volk Israel beleef het. Dis ’n ongelooflike unieke genadetoegif en voorreg om God se stem te hoor! Net God se volk kon so iets beleef. “Het ‘n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?” (Dtr. 4:33) Hulle beleef iets van die heilige God se teenwoordigheid sonder om vernietig te word, dis niks minder as ’n wonderwerk nie, ’n wonderwerk van genade! Maar dis ook duidelik, hulle besef die gevaar wat God se heilige teenwoordigheid inhou. “Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf? Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe?" (Dtr. 5:25-26) 

Hoe nou gemaak? Die oplossing is ’n middelaar, naamlik Moses. Hulle rig daarom ‘n versoek dat Moses vir hulle intree en bemiddel by God... “Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’” (Dtr. 5:27) 

EN TOE VERGEET HULLE... 

Die afvallige volk het egter nie voortdurend rekening gehou met God sy heiligheid nie - soos die hele petalje met die goue kalf duidelik wys. Die heilige toorn van God het hulle dan ook getref en baie sterf deur die swaard. “Die Here het die volk met ‘n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.” (Eks. 32:35) God is na hierdie voorval huiwerig om Israel verder bloot te stel aan die gevaar wat sy heilige teenwoordigheid onder die volk vir hulle inhou. God stel voor dat ’n engel saam met hulle gaan. “Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. “en Ek sal 'n engel voor jou uit stuur--en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe-- na 'n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.” (Eks. 33:2,3) “....anders sal jy op die weg verteer(!) word” (NAB - verdelg, OAV - verteer - selfde Hebreeuse woord as in 3:2) God se teenwoordigheid sou tot hulle vernietiging lei. “Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is 'n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig.” (Eks.33:5). 

Moses pleit egter by God om saam te gaan en God staan sy versoek toe. “Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.
Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is. 
Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam.” (Eks. 33:15-17) 

Israel vergeet, raak mak....Dit waaroor God gewaarsku het, het toe gebeur. 

DIE VUUR VERTEER!

God se heiligheid en Israel se opstandige onheiligheid bots. Dit lei tot ’n skrikwekkende gebeurtenis, waar die vuur van God letterlik onder die volk gebrand het! 

“Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het ‘n deel van die kamp verbrand. 
Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 
Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.” (Num. 11:1-3) 

Hulle word verteer deur God se vuur! Hier word die brandende bos episode omgekeer - Israel hou nie rekening met God se heiligheid nie en die vuur verteer hulle! Maar let op : Weer is dit die middelaar Moses wat tot hulle redding kom!

ONS GOD IS ‘N HEILIGE GOD! 

Ja, God is 'n genadige God. Maar sonder dat ons die skrikwekkende heiligheid van God besef, sal ons nooit die genade van God deur Jesus waardeer en aanvaar nie! Jesus ons Middelaar keer deur sy soendood dat God ons nie vernietig nie, maar ons moenie “mak” raak vir God nie! Ons moet Hom met heilige eerbied en ontsag dien! 



* 1.Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. 

2.Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 

3.En Moses sê vir homself: "Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?" 

4.Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek." 

5.Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond." 

6.Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. (Eksodus 3:1-6) 

** Horeb en Sinaï is dieselfde berg. Gispen p48 

***Gispen se kommentaar oor Eksodus p51

Vrydag 09 Maart 2018

DIE AVONTUUR VAN WARE GEBED

- Bid met die fokus op Hom wat op die troon sit en beleef hoe die Gees werk en die Woord versprei! 


Verlede Sondag het ons ‘n kykie gekry in die hemelse troonsaal. Die setel van alle mag en gesag, die plek van alle beslissings en besluite wat die heelal en die geskiedenis raak, maar ook ons elkeen persoonlik. Ons het saam met die apostel Johannes gesien – GOD IS OP DIE TROON. Ons het gesien en gehoor dat die hele kerk van alle eeue, die engele en die ganse skepping gefokus is op een saak : die aanbidding van God! Die spilpunt waarom die heelal draai is nie menslike drome, belange en behoeftes nie, maar die eer van die oneindig heerlike en glansryke God! Daar is altyd rede om God te loof – as Skepper en as Verlosser. 


HOE BID ONS?

Maar hoe raak dit ons nou prakties? Hoe raak dit spesifiek ons gebedslewe? Maak dit ‘n verskil aan die inhoud van ons gebede? En dis terloops sommer ‘n goeie vraag : “Hoe lyk my en jou gebede? Pas dit in by die groter prentjie. Is ons gebede nie dikwels maar ‘n inkopielys of ‘n gesanik oor probleme en ellendes nie? Mis ons gebed nie al te dikwels die doel waarvoor gebed daar is nie?” Helaas dis inderdaad dikwels die geval. En dis seker die groot rede waarom gebed so ‘n frustrasie is en waarom gebede onbeantwoord bly, want God gaan nie toelaat dat ons Hom inspan vir die verwesentliking van ons eie selfsugtige ideale nie. Dis hierdie verkeerde fokus van gebed wat mense dan uiteindelik moedeloos en rebels maak, “Ag, nee wat gebed werk nie” en dan hou ons heeltemal op met bid. Natuurlik mag en moet ons ons eie behoeftes aan God bekend maak. Ons kry immers so ‘n opdrag in Filippense 4. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4:6) Maar ons gebedslewe as geheel moet gefokus wees op die eer van God wat op die troon sit en nie op selfbelang en selfsug nie. 

Dis tog die duidelike strekking van die Onse Vader! Allereers gaan dit oor God se naam, God se koninkryk en God se wil en daarna oor ons behoeftes juis binne die konteks van die najaging van hierdie Godverheerlikende doelwitte! 

Van nature stel ons ons eie begeertes eerste! My geluk, my behoeftes, my veiligheid, my belange, my klein wêreldjie. Dis eers wanneer die Heilige Gees ‘n mens se hart waarlik verander via die wedergeboorte dit daar ‘n passie in ons harte begin groei vir God se koninkryk, God se plan, God se eer.

AVONTUUR!

Ware gebed wat gefokus is op God se eer is iets wonderliks! ‘n Reuse avontuur! God maak ons so deur ons gebede deel van sy plan om sy koninkryk te laat kom. Ons beweeg so saam met God se bedoeling en God se agenda! En hoe laat God sy koninkryk kom? Deur die verkondiging van die Woord en die werk van die Heilige Gees. En daarom is dit opvallend in Handelinge hoe Gebed, die Woord en die Heilige Gees saamgaan.

GEBED, WOORD EN GEES

Ons het dit treffend ‘n werklikheid word in Handelinge 13:1-3. 

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 
Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: "Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het." 
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.” 

Wat gebeur hier? Die leiers van die gemeente kom bymekaar vir vas en gebed. Hulle dien op so ‘n wyse God. Dis binne so ‘n konteks van Godgefokusde gebed waar die Heilige Gees werk en leiding gee en ‘n nuwe koers aandui oor hoe die Woord van God kan versprei. Paulus en Barnabas word afgesonder om die Woord te verkondig. Dit loop dan uit op die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. En dink aan al die heerlike gebeure en kragtige deurbrake tydens daardie reis... 

Dis natuurlik nie die eerste soortgelyke situasie in Handelinge waar die verband tussen God gesentreerde gebed en die Woord duidelik na vore kom nie. Ons vind ‘n soortgelyke samehang tussen gebed, die Heilige Gees en die Woord in Handelinge 4:23-31. Dit vind plaas na die dreigemente van die Joodse Raad teenoor Petrus en Johannes om die apostels te probeer stilmaak. Dan vertel hulle dit aan die ander. En wat doen hulle dan? Hulle bid. Maar kyk net die fokus van die gebed. Geen spoor van selfbelang, geen fokus op hulle vrese en veiligheidsituasie nie. Hulle loof God as Skepper. “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: "Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” (24) Nadat hulle God as Skepper aanbid het, pleit hulle by God op grond van die beloftes in sy Woord.. En waaroor gaan hierdie pleitroep? “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.” (29) Merkwaardig! Dis ‘n Godgesentreerde gebed wat fokus op sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk. Dit gaan oor die uitwerking van God se werk as Verlosser! En wat was die gevolg? “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (31) Hierdie gebed word positief verhoor. Weereens, gebed, die Heilige Gees en die Woord! 

Hoe lyk ons gebede? Hoe lyk my en jou gebede, ons gemeente s’n? Weerspieël ons gebede ‘n bewustheid van God op die troon? Wys ons gebede dat ons ‘n passie het dat sy Naam verheerlik sal word en sy koninkryk sal kom? Is ons gebede in lyn met God se plan om die Woord te laat verkondig? 

Is ons gebede ‘n lieflike geur van oorgawe aan sy wil of dra dit dalk die stank van selfsug? 

Image result for aardbol images
Kom ons aanbid Hom wat op die troon sit. Kom ons aanbid Hom as Skepper en Verlosser en pleit dat Hy ons die genade mag gee om sy Woord uit te dra. So word jy deel van ‘n Godgewilde avontuur! So kom Sy koninkryk op aarde!



Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...