BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Belangrikheid van NOU. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Belangrikheid van NOU. Wys alle plasings

Saterdag 28 Maart 2020

PRIORITEIT TYDENS ‘N PANDEMIE


- Jesus praat prontuit! 




Ons leer nou ‘n nuwe woordeskat wat ‘n paar weke gelede nog net vaagweg op die horison was – "pandemie, koronavirus, Covid-19, inperking, ingrendeling, afsondering…bykans apokaliptiese tonele van dood en chaos!" (en eindelose samesweringsteorieë) 

En dit laat mens sommer oor baie dinge dink...



HET JY AL GEWONDER? SAL DAAR MIN MENSE GERED WORD OF BAIE? 

Wat van my familie, vriende, werksmense... of daardie groot getalle wat tans in Italië, Spanje, Iran... sterf aan Covid-19? Hoeveel van hulle is gered en nou by die Here? Hoeveel van hulle gaan die ewigheid en in heerlikheid by God deurbring? Hoeveel nie? En jy dink : "Miskien baie... die genade is immers groot! Miskien min... Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad..." 

Jesus self gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae in LUKAS 13:22-30. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) 

Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die verbondsvolk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! – onder baie van ons mense heers ‘n soortgelyke wanopvatting. (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering – die boom wat nie vrugte gedra het nie in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk ook verder hieroor kon laat wonder het.) 

VERRASSENDE ANTWOORD 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24a) en ‘n waarskuwing. (Vers 24b) 

UITDAGING. 

“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat JY wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang en dit aangryp!

Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) 

Jesus wil dus sê : 

Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry) 

Span al julle kragte in beteken dus : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? 

Kom ons wees prakties - As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap... is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!" (Romeine 10:13)

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok vir vergifnis! 

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. Hy brei uit op die waarskuwing met : “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28) Baie mense leef onder ‘n vals illusie van sekerheid en saligheid. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk aangegryp! 

'N LAASTE EEN GAAN IN!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Die misdadiger aan die kruis...“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk! 

Ons eerste prioriteit ook in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is nie bloot om gesond te probeer bly nie, maar om gereed te wees vir die koninkryk! 

Siekte of nie siekte nie, virus of nie virus nie – een ding is belangrik! Om aan my getroue Verlosser Jesus Christus te behoort. Maak gebruik van die genade in Jesus, NOU!



Donderdag 15 Mei 2014

BELANGRIKHEID VAN NOU

 - te veel mense gaan te laat wees!


Dis seker die grootste verrassing in die Bybel : God gee vir sondaars ‘n kans. Hy hoef nie, Hy sou ons dadelik kon straf, ons verdien dit immers almal. Tog gee Hy ons 'n kans! Juis omdat Hy ‘n genadige God is. Ons lees in Esegiël 18:23 van hierdie liefdevolle genade : “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” Die praktiese kant van God se genade kry ons in die opregte, ernstige en dringende uitnodigings in die Bybel. Dit loop soos ‘n goue draad deur die Skrif. Dit begin eintlik al reeds waar God die skaam wegkruipende Adam opsoek... “Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: "Waar is jy?"” (Genesis 3:9) Ons kry hierdie uitnodigings in die Ou sowel as die Nuwe Testament. Die dringende gratis aanbod van genade word nêrens seker meer duidelik gestel as in Jesaja 55 nie! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” Die treffendste ooreenkomstige voorbeelde hiervan in die Nuwe Testament is seker dié in Matteus 11:28 - "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig." en Openbaring 22:17 - “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”


SO WORD ONS ELKEEN UITGENOOI NA JESUS OM VERNIET VERGIFNIS TE ONTVANG!

Dis nou ons kans om vrede te vind by God, dis ons geleentheid om die ewige lewe as geskenk te kry!

Dis egter ook duidelik uit die Bybel dat daar nie altyd kans gaan wees om op God se roepstem te antwoord nie. Dis die duidelike implikasie van Jesaja 55:6 – “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.”  Die implikasie is logies en duidelik - God is nie altyd te vinde nie, God is nie altyd naby in die sin van verlossing nie! Kanse om reg te maak met God kan verbygaan. Minstens twee grondredes kom by mens op:

- Ons leef nie vir altyd op aarde nie. Trouens ons verwagte leeftyd is ‘n vinnige 70 jaar en as ons baie sterk is so 80 somers! (uitsonderings bevestig net die algemene reël). As jy 35 is, is jy al verby die halfpadmerk... En dikwels staan ons by die graf van 'n jonger persoon...nie almal bereik ees die halfpadmerk nie... En nou weet ons genade is bedoel om in hierdie lewe ontvang te word. Die Bybel leer geen tweede kans nie... (Hebreers 9:27) 

- Die spesiale geleenthede wanneer God met ons praat gaan verby. God is nie altyd te vinde nie en nie in hierdie sin altyd naby nie. God praat nie elke dag ewe duidelik nie. Daar kom tye wanneer ons sy stem baie duidelik hoor, maar dis nie sommer elke dag nie... Ons lees maar van een keer wat Samuel as seun God se stem so duidelik gehoor het...wie weet wat hy sou gemis het as hy nie geantwoord het nie? Jesus het sover ons weet net een keer vir die Ryk Jongman gesê : “Volg my.” Hy wou nie, en ons lees nie dat hy ooit weer geroep is nie...

HOE LATER HOE KWATER...

Die gevaarlikste verskoning wat ‘n mens kan uitdink as die Here jou roep is om te sê : “Later, Here dis nie nou die regte tyd nie!” Want jy sien jou lewe stap aan en dit gaan nooit die regte tyd wees nie. Daar is altyd iets wat nou maak dat dit nie die regte tyd is nie. Hier in Jesaja 55: 2 kry ons ‘n verwyt van God dat mense al hulle aandag,tyd en moeite spandeer aan dinge wat geen ware bevrediging vir die dorstige sondaarssiel kan bring nie. “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.”  Op elke stadium van mens se lewe is daar omstandighede wat kan aanleiding gee tot verskonings en uitstel.  Verskonings soos: “Ek is ...”

TE JONK. My lewe word in beslag geneem deur maats, deur speel en pret. Soveel dinge om te geniet en die tyd is so min, want iewers moet ek nog huiswerk ook doen. Als is nou so lekker, ek kan nie nou aandag gee aan Jesus se uitnodiging nie. Ek is bang ek mis iets van die lewe... Miskien later...


TE VERLIEF. Ek het nou die groot liefde van my lewe ontmoet. Ek moet nou alle tyd aan hom of haar bestee... As ons eers afgekoel het, miskien as ek eendag getroud is, dan kan ek besluit wat ek met Jesus se uitnodiging gaan maak. Nou gebeur dinge te vinnig... Ja, miskien later...

TE PLESIERIG. So baie redeneer, "ek wil darem eers die lewe geniet voor ek my saak met God regmaak! Ja, later..." Wat 'n leuen van Satan en tog sluk sovele dit. Dis 'n belediging vir God, asof Hy as volmaakte Vader nie volkome vervulling aan sy kinders kan bied nie. Om die lewe sonder God te probeer geniet is 'n hersenskim, 'n illusie, 'n lugspieëling in 'n woestyn van leuens...

TE BESIG. Ons het so pas huis opgesit, ek moet nou eers my besigheid opbou en jy weet, die kompetisie is sterk, daar is ‘n lening om af te betaal en naweke moet ek die kinders rondry vir sport, daar is net nie nou tyd om by die kerk uit te kom nie, en ook nie by die Here nie... Miskien later, as die kinders net eers uit die huis is...

TE MOEG. Ek het nou ‘n top posisie by my firma en ek het soveel verantwoordelikhede... Ek moet maar hard werk, jy weet aftrede is nie goedkoop nie en ek wil nie ander mense eendag in die oë kyk as ek oud is nie. En boonop het ek nog kinders op universiteit, dit ruk my sak...ek moet maar planne maak vir ‘n ekstra geldjie. Wag net dat ek eers rustig aftree, dan sal ek erns maak met die Here en dan sal ek by die kerk betrokke raak... Ek is nie teen die Here nie, maar jy moet verstaan ek is net te moeg.... Miskien later.

TE OUD.  Voor jy dink het die ouderdom jou bekruip... Jong ek hoor nie meer so lekker, my rug is te seer om op die harde kerkbanke te sit... Weet jy hierdie ding van bekering en verandering is eerder vir jonger mense, ek is nou maar soos ek is, ek kan nie meer verander nie... Maar miskien later, die moordenaar aan die kruis het tog darem op die laaste oomblik genade gekry... Miskien tog voor ek sterf, sal ek wel reg voel vir 'n verandering...


TE SWAK. As ek eers in die hospitaal lê, gemartel deur pyne en vol morfien is dit moeilik om op die Woord te konsentreer, dis nog moeiliker om te bid, want ek voel ek het nie eens meer krag om asem te haal nie... Die lastige suurstofmasker en allerhande pypies maak diepgaande geestelike gesprekke eintlik onmoontlik... 

Dis 'n illusie om te dink jy gaan God noodwendig in die hospitaal te ontmoet...

TE LAAT!!!   Mooi woorde, baie blomme en bedroefde familie op ‘n begrafnis gaan niemand red nie! Geen predikant,pastoor, priester of pous kan jou met 'n vleiende lofrede red nie... Jy is nou reeds op net een van twee plekke...  Jy het kanse en geleenthede gehad en as jy dit nie benut nie, wel Lukas 16 leer vir ons dat daar nie ‘n tweede kans is nie... vir die Ryk man was dit vir ewig te laat. Die GROOT KLOOF bring ewige skeiding...  Daar is nie weer ‘n later nie...

Hierdie voorbeelde is nie voorbeelde uit sprokiesverhale of bangmaakstories nie, dis alledaagse werklikheid... dis die algemene waarneembare patroon. Die grafte roep dit uit!

VANDAG IS DIE DAG VAN JOU REDDING!

Daar is net een manier om doodseker te maak dat ek nie God se genade verpas nie en dis om vandag op die roepstem van Jesus te reageer. Nie môre nie, maar vandag. God se tyd is altyd vandag, nou...

Hebreërs 4:17 - "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie."

2 Korintiërs 6 :1,2 - "As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding."

OM TE DINK DAAR SAL ALTYD MAAR WEER 'N KANS WEES IS 'N VREESLIKE VERGISSING! 'N AFGRYSLIKE FLATER!