BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ewige sekuriteit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ewige sekuriteit. Wys alle plasings

Woensdag 17 Junie 2020

WIE HET DIE MAG OP AARDE?

- vaste kos vir versterking in ‘n tyd van verwarring. 


Wie het die mag op aarde? Platweg gestel - Wie is die sterkste, wie het die laaste sê? Dis ‘n saak wat nou weer baie aktueel raak. As ek so luister, klink dit vir my of almal nie heeltemal seker is nie. Wie het die mag? Ons sien nou immers soveel voorbeelde van magsmisbruik. (Dink maar aan die toepassing van buitensporige Covid-19 maatreels in Suid-Afrika en ander plekke.) So wie het regtig die mag? Is dit plaaslike politici? Is dit internasionale geldmagte of geheime organisasies? ‘n Toekomstige wêreldregering? Is dit die duiwel en sy demone? Of is alles maar net toevallige noodlot? 

In Jesus se sg. hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 is dit baie duidelik wie alle mag op aarde het. 

 “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee."  (Joh 17:1,2) 

Hierdie gebed gee vir ons as’t ware ‘n heilige insig in die diepte van sy wese. Jesus se gebed is ook ‘n volmaakte gebed. Die fokus van sy gebed is die fokus van alle ware gebed – die verheerliking van die Vader. Jesus se verheerliking deur sy kruisdood en opstanding gaan baie nou saam met die Vader se verheerliking. Die redding van sondaar mense deur Jesus se verheerliking in die kruis en opstanding bring immers eer en heerlikheid aan die Vader! 

Dis baie duidelik – Jesus dank Sy Vader dat Hy aan Hom die VOLMAG gegee het oor die hele mensdom (alle vlees) juis om die doelwit van eer aan God deur redding te bereik. 

Een ding kan ons van seker wees, Jesus se mag is ‘n absolute mag. 

Hier word ‘n spesifieke doel van Jesus se mag wat Hy van die Vader ontvang het aangedui – die redding van diegene wat die Vader aan die Seun gegee het. Ons het hier te make met ‘n baie diep, heerlike en vertroostende waarheid. Maar aan die ander kant natuurlik ook vir ons menslike verstand ‘n onbegryplike waarheid. Die Vader het sekere mense aan die Seun gegee om hulle te verlos. 

Wanneer? Dit het in die ewigheid gebeur, voor die grondlegging van die wereld. In die ewige raad van God het die God die Vader aan God die Seun sekere mense gegee om te red deur sy kruisoffer en opstanding. Hierdie waarheid vind ons reeds in Johannes 6:37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Nie alle mense kom na Jesus vir redding nie, maar wel diegene wat deur die Vader aan Hom gegee is! 

As ons dit raaksien verstaan ons ook waarvan Handelinge 13:48 praat. Ons lees met betrekking tot Paulus en Barnabas se evangelieverkondiging die volgende : “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (OAV) 

Kind van God, hier het ons te make met ‘n verbysterende waarheid! 

Jou redding is van ewigheid af beplan en verseker deur God self! 



Die baie bekende Godsman dr Martyn Lloyd-Jones se preke oor hierdie gedeelte in Johannes 17 is saamgevat in die bundel, getiteld “Saved in eternity” Dis so veelseggend! 

Wat is die praktiese nut en betekenis van hierdie waarheid? Kind van God, jy wat na Jesus gekom het, jy kan weet dis nie uit jou eie krag of goedheid nie. Dis God se genade wat sonder verdienste aan jou vanaf ewigheid geskenk is, wat in die eerste plek gemaak het dat jy na Jesus gekom het en Hom as jou Saligmaker vertrou het. Die implikasie is dat jou redding nie op losse skroewe berus nie, maar van ewigheid vas is in die genadige besluit van God. Jou redding behels ‘n Goddelike wonderwerk en ingryping “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” (Joh 1:12,13)   Jou redding staan vas, nie omdat jou geloof of besluite so vas is nie, maar omdat jou redding verankerd is in die onveranderlike ewige genadebesluit van God self! Geboorte uit God! As dit jou nie opgewonde maak nie, wat kan dan? 

Die implikasie is : Geen duiwel, geen regering, geen geldmag kan verhoed dat Jesus God se uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, red nie! Geen mag of krag of gesag kan hierdie uitverkorenes uit die hande van Jesus ruk en hulle van hulle saligheid beroof nie 

Soek jy nog bevestiging van Jesus se almag? Luister bietjie... Jesus sê in Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Dis terloops die agtergrond van die heerlike sendingopdrag net in die volgende vers! 

Nog nie oortuig nie? Gaan lees maar net weer Openbaring. Openbaring in geheel is ‘n herbevestiging van Jesus heerlikheid en mag. Byv. die verheerlikte Christus het die sleutels van die dood en die doderyk. Nie Satan of wêreldmagte nie! Jesus is die Lam wat geslag is, maar wat terselfdertyd die Leeu van Juda is. Daar is nog baie voorbeelde. Die Verlosser Christus se mag is onbeperk en onaantasbaar!

DUIWEL?

Maar miskien wonder jy nou : "Wat van die Satan? Sy mag is tog ook groot? Hy word immers beskryf as die brullende leeu?" Ja, die duiwel is inderdaad gevaarlik. Hy kan groot skade aanrig en selfs kinders van God in die gevangenis laat werp en laat doodmaak. En tog... weereens is dit Openbaring wat vir ons 'n heerlike perspektief bied. In vergelyking met Jesus is sy mag baaie beperk en tydelik. Dit word pragtig uitgebeeld in die omstrede Openbaring hoofstuk 20. Jesus se regering is duisend jaar (simbolies vir volmaaktheid), die Satan word net vir 'n kort tydjie losgelaat om daarna vir ewig in die poel van vuur gewerp te word. Die kontras is duidelik : Jesus se mag is onbeperk en ewig. Satan het 'n klein beperkte speelruimte en sy ewige verdoemenis staan vas!

EWIGE LEWE

Onthou net weer, hierdie mag gebruik Jesus om onverdiend vir jou en my die ewige lewe te gee. En wat behels dit? Vers 3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Ewige lewe is nie net bloot ‘n onbepaalde verlengde bestaan nie. Lewe is meer as net blote bestaan. Ewige Lewe is ware kennis van God en sy Seun. Habakuk het al op hierdie begrip van ware lewe gesinspeel as hy ‘n tyd voorsien dat “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Habakuk 2:14) 

Ons ken God en sy Seun nou reeds. 

Om God te ken beteken dat ek verander en vernuwe word en deel kry aan ‘n kwaliteit van ware lewe wat die ongelowige nie ken nie! Dink bietjie so daaraan – ons wat aan Jesus behoort kan nou in hierdie tyd van verwarring en vrees reeds elke dag die ewige lewe geniet! Ware kennis van en gemeenskap met die Vader en Seun deur die Heilige Gees. En niemand kan dit van ons wegneem nie, want Jesus het alle mag! Amen

Saterdag 28 Maart 2020

PRIORITEIT TYDENS ‘N PANDEMIE


- Jesus praat prontuit! 




Ons leer nou ‘n nuwe woordeskat wat ‘n paar weke gelede nog net vaagweg op die horison was – "pandemie, koronavirus, Covid-19, inperking, ingrendeling, afsondering…bykans apokaliptiese tonele van dood en chaos!" (en eindelose samesweringsteorieë) 

En dit laat mens sommer oor baie dinge dink...



HET JY AL GEWONDER? SAL DAAR MIN MENSE GERED WORD OF BAIE? 

Wat van my familie, vriende, werksmense... of daardie groot getalle wat tans in Italië, Spanje, Iran... sterf aan Covid-19? Hoeveel van hulle is gered en nou by die Here? Hoeveel van hulle gaan die ewigheid en in heerlikheid by God deurbring? Hoeveel nie? En jy dink : "Miskien baie... die genade is immers groot! Miskien min... Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad..." 

Jesus self gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae in LUKAS 13:22-30. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) 

Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die verbondsvolk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! – onder baie van ons mense heers ‘n soortgelyke wanopvatting. (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering – die boom wat nie vrugte gedra het nie in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk ook verder hieroor kon laat wonder het.) 

VERRASSENDE ANTWOORD 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24a) en ‘n waarskuwing. (Vers 24b) 

UITDAGING. 

“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat JY wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang en dit aangryp!

Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) 

Jesus wil dus sê : 

Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry) 

Span al julle kragte in beteken dus : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? 

Kom ons wees prakties - As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap... is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!" (Romeine 10:13)

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok vir vergifnis! 

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. Hy brei uit op die waarskuwing met : “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28) Baie mense leef onder ‘n vals illusie van sekerheid en saligheid. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk aangegryp! 

'N LAASTE EEN GAAN IN!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Die misdadiger aan die kruis...“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk! 

Ons eerste prioriteit ook in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is nie bloot om gesond te probeer bly nie, maar om gereed te wees vir die koninkryk! 

Siekte of nie siekte nie, virus of nie virus nie – een ding is belangrik! Om aan my getroue Verlosser Jesus Christus te behoort. Maak gebruik van die genade in Jesus, NOU!



Donderdag 21 Augustus 2014

GOD VOORSIEN ‘N VASTE FONDAMENT

- wat ewige sekuriteit bied in ‘n tyd van misleiding en bedrog.

Aardbewings kan verwoestend wees! In so ’n situasie is dit baie belangrik dat ’n gebou ’n stewige fondasie moet hê! Op geestelike gebied beleef ons ’n tyd van veranderings en omwentelings! Valse leringe, versinsels en verleidings! Aardbewings! Ons geestelike huise word geruk en geskud! Die Goeie Nuus in sulke tye is : GOD SE VASTE FONDAMENT BIED EWIGE SEKURITEIT!







[Brandgeskilderde vensters, Felsenkirche (rotskerk) - Lüderitz. Luther in die middelste venster.]


Geliefdes soos in min tye in die geskiedenis word ons geestelike huise bedreig deur geweldige skokke en skuddings. Spesifiek die aardbewings van verwarring en valse leringe! Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, maar ook valse leringe wat verkondig dat jy maar rustig en lustig kan aangaan met sonde, want die Here sal jou mos genadig wees!

Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus teen die gevaar van hierdie valse leringe. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies vernietig hulle die geloof van sommige Christene! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval,en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus,wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” ( 2 Timoteus 2:16-18)

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ek en jy die skuddende aanslag van valse leringe oorleef?

Die Bybelse vertroosting is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee!

DIE VASTE FONDAMENT

Dis die bemoedigende versekering wat Paulus aan Timoteus gee in sy tweede brief aan hom. “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas ...” (2 Timoteus 2:19) Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot... nogtans God se fondament staan vas!

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU!

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! Kyk weer na vers 19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Die volgorde is baie belangrik!
Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! Psalm 1 sê ook : “die Here ken die weg van die regverdiges...” (OAV) Onthou, “ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou! Dink byv. aan Abram. God neem die inisiatief ... God roep Abram, God maak beloftes aan hom. Ja, Abram antwoord in geloof en gehoorsaamheid, maar al die inisiatief kom van God. Maar dis ook God wat Abram vashou as hy begin wankel en telkens sy beloftes aan hom herbevestig! Ons weet mos Abram se geloof was nie altyd so sterk nie. Hy was ook partykeer ongehoorsaam en wou sy eie planne maak! Maar God bewaar Abram en bereik sy doel met hom ten spyte van sy swakheid! God ken sy kinders : God het sy kinders gered en God sal hulle bewaar deur alle omstandighede en bedreigings! Wat Paulus hier vir Timoteus sê is maar dieselfde waarheid as wat hy in Fil. 1:6 op ’n ander manier sê! “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Geliefde medegelowige, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend (en triomfantelik) gestel in Judas 24,25! "Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen."

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin!

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel. Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk ( dis wat Paulus verder aan sê - vers 22) Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei (vgl. Romeine 8:13) is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! Hierdie ernstige opdragte is juis ook een van die maniere hoe God ons bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? Kyk na 2 Timoteus 2:22. “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (OAV stel dit sterker - “vlug”) Ja, gebruik jou voete as dit nodig is! Bly ten alle koste weg van sekere mense en sekere plekke – soos die dansbaan en die drinkpartytjie, ja!

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Hou twee sake voor oë! Fokus op twee dinge: 
1) Fokus op God se genade en almag wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! Dank Hom daarvoor!
2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies...daardie ekstra aandag aan die mooi sekretaresse in jou kantoor...daardie sepie in die aande na werk wat jou gedagtes in ‘n verkeerde rigting stuur... God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Luister hoe hy sy vertroue uitspreek in 2 Timoteus 4:18. "Mag ons dieselfde vertoue hê :” Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.”

OP GOD SE FONDASIE IS JY VEILIG!