BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 29 Februarie 2012

ARMOEDE VRAAGSTUK

- Is daar 'n antwoord?

In ’n onlangse hoofartikel beweer Die Kerkbode (amptelike blad van die NG Kerk) dat armoede die wortel is van die meeste kwaad. (in Suid-Afrika) Ek het ’n probleem met so ’n stelling. Dis baie oppervlakkig gekyk na die nood van die mens en druis boonop direk in teen dit wat die Woord ons leer in 1 Timoteus 6:10.

 “Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (OAV)

Nie armoede nie, maar juis geldgierigheid. Nie ’n sosiale probleem nie, maar ’n sondeprobleem! Hierdie Bybelse waarheid word ook bevestig in die praktyk, as mens bietjie mooi oor die saak dink. Ja, beslis is armoede ’n intense probleem, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Maar wat is die grondliggende oorsaak van armoede? Dis inderdaad gierigheid en ander sonde. Geldgierigheid lei tot korrupsie, diefstal en bedrog, uitbuiting van arbeiders, buitensporige salarisse vir die topbestuur, dobbelary, oorbenutting van hulpbronne en baie ander wanpraktyke. Selfs oorlog is maar dikwels ‘n gevolg van gierigheid. Dit alles speel weer ’n rol in armoede en gepaardgaande ellendes. Die punt is : Menslike armoede is in hoofsaak die gevolg van sonde! Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek beweer nie dat elke arm persoon noodwendig arm is as gevolg van sy eie sonde nie. Maar sonde in die samelewing as geheel skep ’n vrugbare bodem vir die onkruid van armoede.

Wanneer die kerk die probleem van armoede aanspreek (soos ons inderdaad moet), behoort ons by die wortelprobleem te begin en dit by die naam noem. Sonde! Die enigste antwoord op die sondenood van die mens is die bevrydende evangelieboodskap! As die kerk skaam word vir die evangelie, verloor ons ons funksie in hierdie wêreld. (En terloops, as die kerk onseker raak oor die liggaamlike opstanding van Jesus, het ons in elk geval nie meer ’n evangelie om te verkondig nie) Ja, beslis moet ons ook brood uitdeel en andere help om brood te bak, maar ons hooftaak is om te getuig van die Brood van die Lewe, wat sondaars se diepste nood versadig. Dis die behoefte aan vergifnis en ’n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan God! Rykes en armes moet die evangelie hoor! Wanneer sondaars deur hierdie evangelie bevry word, kom daar oorwinning oor sondes soos gierigheid, uitbuiting van ander, dronkenskap, luiheid, vermorsing en 'n menigte vernietigende sondes. En dit is al ’n groot stap in die regte rigting om armoede hok slaan.

Mag die simptoom van armoede nie die kerk mislei om net tydelike pynpilletjies van materiële verligting voor te skryf nie, maar mag ons die Woord van God suiwer verkondig sodat harte geopereer en genees kan word!

Maandag 27 Februarie 2012

VEILIG IN DIE HEMELSE BRANDKLUIS

- moenie twyfel oor jou ewige erfenis nie!

Gestel ‘n brandarm man kry eendag ‘n brief van ’n prokureur. Na jare het iemand iewers ontdek hy is ‘n afstammeling van ‘n ryk koninklike in Europa en die enigste erfgenaam. Die koninklike het al jare gelede gesterf en het ’n kasteel en groot landgoed agtergelaat. Toe die arm man dit lees het daar hoop opgevlam in sy hart... wat ’n wonderlike erfenis! 'n Heerlike vooruitsig!  Maar namate die tyd vorder kom daar allerhande kwellings by hom op : hy het nie geld om te reis nie, hy wonder of die brief hoegenaamd eg is en as dit wel is in watter toestand die erfgoed is. Dalk is alles nou net ruïnes? Hy het steeds ’n mate van hoop, maar dis ‘n taamlik onseker en onrustige hoop. Dit skep eintlik meer onsekerheid as blydskap. Baie Christene se hoop op hulle ewige erfenis vertoon ook so ‘n onsekerheid en onrustigheid. Dikwels is ons hoop maar wankelrig en wek min blydskap.

Kind van God, ons behoort nie onrustig en onseker te wees oor ons ewige toekoms nie!

Kom lees saam met my 1 Petrus 1:3-5 en sien hoekom ons hoop vas en seker is!

God het ’n volk in hierdie wêreld. Dis nie die Jode (of die Afrikaners) nie, maar elkeen wat aan Jesus behoort. Anders gesê, dis die mense wat die wedergeboorte as geskenk ontvang het op grond van die opstanding van Jesus. Hier sien ons alreeds ’n rede waarom ons verlossing vas en onwankelbaar is. Dis nie gebou op ons eie werk of prestasies nie, maar op die heerlike vaste feit van die OPSTANDING VAN JESUS!* Hierdie volk van God is oor die hele wêreld verstrooi. Ons pas ook eintlik nêrens in nie. Ons is soos vreemdelinge. Ons het ’n ander Koning en ’n ander Vaderland! (Vers 1) Maar dit beteken nie ons is doellose swerwers en uitsiglose rondlopers nie. Ons is mense met vaste hoop!

Omdat ons God se kinders is, het hy ’n erfenis aan ons bemaak. Ja, daar is ’n ewige skat vir ons weggelê en dit word spesifiek ’n erfenis genoem. “Erfenis” - lui dit ’n klokkie? Erfenis/besitting is ’n belangrike en deurlopende tema in die Skrif. Dit word spesifiek gebruik ten opsigte van God se beloftes van ’n land aan sy volk Israel. God het ’n belofte van ‘n erfenis aan sy volk gemaak (Genesis 17:8; 28:4 Deuteronomium. 1:8, Psalm 79:1 - God se erfenis is besoedel) Hierdie belofte van hulle erfenis het Israel aan die gang gehou in hulle omswerwinge in die wildernis. Soos Israel is God se Nuwe Testamentiese volk (die Christene) ook swerwers deur hierdie wêreld, maar ons is nie bedelaars sonder hoop en eiendom nie! Ons is titelhouers van ’n erfenis. Hierdie erfenis behoort aan ons omdat Jesus uit die dood opgestaan het, nie omdat ons God self op een of ander manier beïndruk het nie. Ons behoud van ons erfgenaam status is ook nie afhanklik van ons prestasie nie. Hoe belangrik om dit te besef!

Niks kan met hierdie erfenis foutgaan of skeefloop nie, dis nie in die weegskaal nie. Ons erfenis is :

Onverganklik, onbesmet en onverwelklik!

Wat is die betekenis van hierdie drie terme? Nee, dis nie sommer maar net drie mooiklinkende woorde nie. Dis vol gelaai met betekenis vanuit die heilsgeskiedenis! Dit hou verband met die land Kanaän wat die volk Israel se erfdeel was.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän, is die Kanaän van die voleinding, onverganklik! (onvernietigbaar) Julle sal onthou die aardse Kanaän is dikwels verwoes en geplunder deur Israel se vyande as ’n straf op hulle sondes. Die beloofde land van die verlede was maar baie kwesbaar! Ons hemelse erfenis daarenteen is egter onaantasbaar veilig. Geen duiwel en geen vyand kan daar bykom nie!

~ Ons erfenis is onbesmet. Dit was juis die tragedie met Kanaän. Israel het met hulle sondige praktyke hulle erfenis, Kanaän besmet en bevuil. Hulle het nie mooi gewerk met hulle erfgoed nie. Dis deur hulle afgodery en sonde bemors. Jeremia 2:7 (lees) In kontras hiermee sal die erfenis wat God vir diegene wat Jesus glo onbesmet en rein bly.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän is ons erfenis onverwelklik. Dit sal nie uitdroog en verdor soos die land Kanaän destyds onder God se oordeel nie. Droogte was een van die strawwe van God oor sy volk.

Om dit saam te vat : Petrus stel hier die kontras tussen die aardse land Kanaän en ons hemelse erfenis. Israel het maar net die aardse Kanaän as ’n voorafskaduwing ontvang. Ons ontvang die hemelse vervulling daarvan. Israel se Kanaän was maar gebroke, juis vanweë Israel se sonde. Die beloofde land Kanaän was maar soos die geskiedenis dit leer ’n kwesbare stuk besit. Ons erfenis kan egter nie vernietig of besoedel word nie. Ons God beloofde erfenis word in die hemelse kluis bewaar. Dis bestand teen die bederf van die sonde en die bedreiging van dood.

Maar hier kom nou nog ’n verrassing : ons erfenis is nie net iets nie - dis Iemand! Dis God self! Dit wat God vir die hoëpriester Aäron gesê het sal nou waar word van elke gelowige - Numeri 18:20. “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel” ** Die priesters van destyds het nie grond in Kanaän gekry soos die ander Israeliete nie, God self was hulle erfdeel! In die nuwe bedeling is alle kinders van God mos sy priesters! (Vgl. 1 Petrus 2:9-10)

God self  is ons ewige erfdeel en rykdom!

Ons weet nie wat ons ewige erfenis als behels nie, maar die essensie daarvan soos Openbaring ook leer is God self. God sal by die mense woon. Ons sal Sy heerlikheid sien! Hyself sal oor ons skyn! 'n Son gaan nie eers nodig wees nie. Hy sal ons volkome vertroos en vervul met sy teenwoordigheid! (Ons hoef dus byvoorbeeld nie debat te voer of ons in die hiernamaals troeteldiere sal hê nie!!)

Ons erfenis word gewaarborg met ’n hemelse sekuriteit.

Maar nou kom daar nog iets by. Ook die erfgename (ons)  word bewaar en beskerm. (Vers 5)  Dit sou maar min troos bied as die erfenis veilig sou wees, maar ons wat moet erf weet nie of ons behoue sal bly om dit in ontvangs te neem nie. Heerlik om te hoor : Ook ons word deur die “Krag van God” bewaar.

Hierdie feit moet ons troos! Wat kan fout gaan met iets wat deur God se krag gewaarborg word? Ons sien tog die tekens van God se krag - die heelal, die detail wondere van die skepping, die mens en veral die opstanding van Jesus!

Dis God wat ons bewaar. God se aksie. En tog ons is in dit alles nie passief en onbetrokke nie. Die manier waarop God ons bewaar vir ons erfenis, is via die weg van ons geloof. (Vers 5) Die krag is God se krag, maar God se krag maak ons nie toeskouers of robotte nie. God sluit die mens in by sy aksies. Ons aksie is geloof, volhardende geloof!

Nou wat staan my as kind van God te doen? Hoe stimuleer ek geloof in my eie eie hart? Hoe bevorder ek geloof?

John Murray gee kosbare insig oor hierdie saak : "It is not by looking within, in the attempts to discover the movements of God’s regenerative grace that faith is evoked. It is preoccupation with the glories of the Saviour that constrains faith.”

Dit beteken prakties : Hou op om te tob oor jouself en jou (swak) geloof en bedink Christus se heerlike persoon en werk! Aanskou en bewonder die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis. Dis deur sy kruis en opstanding dat Hy vir ons plek berei het in die Vaderwoning! (Johannes 14:1-6) Sy kruisdood was voldoende. Die volledige prys is betaal. As ek my gedagtes en hoop fokus op Jesus dan sal ek agterkom hoe my geloof en vertroue groei. “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil....”

My broer en suster, jou erfenis word veilig bewaar vir jou! En jy word veilig bewaar vir jou erfenis! Deur die krag van God! Wees hieroor bly en volhard in die geloof.

 

* Lees ook : SPOKE EET NIE VIS NIE

** Ek verkies Numeri 18:20 in die Ou Vertaling. Dit stem ook ooreen met die NIV wat sê : “I am your share and your inheritance among the Israelites” en ook La Bible wat lees : “C'est moi qui serai ta part, ta richesse au millieu des autres Israélites” So pragtig, God self is ons rykdom!

Vrydag 24 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (6)

- DIE DAG VAN DIE HERE (baie belangrik vir die verstaan van die verwantskap tussen die Ou Testamentiese profesieë en Openbaring)

(Lees Openbaring 16:12-16)

Die Dag van die Here (die groot dag van God - Vers 14) is ’n gelaaide term wat soos baie van Johannes se beelde uit die Ou Testament kom! Onthou maar altyd :

Openbaring het sy wortels in die Ou Testament!

Die Dag van die Here het twee fassette : Dis ’n dag van oorwinning vir die Here wanneer die verlossing van God geopenbaar word en ’n werklikheid word vir die volk van God. Aan die anderkant is dit ook ’n dag van wraak oor almal wat teen God en sy Koninkryk in opstand is!

Die vroegste verwysing hierna kry ons reeds by die profeet Amos. (Amos 5:18) Hier demp Amos, die Israeliete se optimisme oor die komende dag van die Here, want hulle het gedink dit sal vir hulle net verlossing bring en vir die vreemde volke God se wraak. Hulle was onder die vals indruk dat hulle formele godsdiens genoeg was... terwyl hulle lewens vol onreg was. Daar wag 'n aaklige verrassing vir almal met onheilige lewens...

Lees ook die volgende in jou Bybel : Ons vind dieselfde tipe waarskuwing by Sefanja. (Sef 1:14-18) Ons vind die term “Dag van die Here" ook by Jesaja. (Jesaja 2:12; 17-19 Lui dit 'n klokkie? Vergelyk dit met Openb 6:16,17; Jes 34:8; Jes 13 : 9-11 vgl. met Joël 2:1,28-32)

Hier in Joël kry ons ook ’n ander element van die Dag van die Here nl. seën (die Gees sal uitgestort word) en redding (vers 32)

Die Dag van die Here is dus ’n komplekse begrip wat oordeel vir God se vyande inhou en verlossing vir sy volk!

Hierdie bergip het waarskynlik sy oorsprong by God se ingryping tydens die Eksodusgebeure : Die Egiptenare word geoordeel en die volk Israel word kragtig verlos. Die profete het deurgaans van hierdie term/ begrip gebruk gemaak om God se toekomstige ingrype te beskryf! Die profete het vooruitgesien na die Dag van die Here as die finale handeling van God in die geskiedenis. Ons kan hierdie dag nie kwantitatief definieer nie (presies watter dae of jare nie), maar eerder kwalitatief - die inhoud van oordeel en verlossing!

 

Wat word in die Nuwe Testament van die Dag van die Here? Hierdie ingrypende herstel van die Koninkryk as deel van die dag van die Here was in die dissipels se agterkoppe. (Sien hulle vraag in Handelinge 1:6) "Here is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?" Die antwoord van Jesus is merkwaardig (Hand 1:7,8): Wees My getuies! Die Dag van die Here vind plaas deur die verkondiging van die evangelie onder leiding van die Heilige Gees! Jesus sê in effek vir hulle (en ons):

Los die berekenings en bring die BOODSKAP!

Wat Jesus sê kom neer op : “Julle beleef wel die oprigting van God se Koninkryk, maar dis op ’n ander manier as wat julle verwag het.  Dit het nie ’n etniese vorm nie, maar word nou geestelik gevestig in die harte van mense. (Ons beleef dus nou die Dag van die Here, die koms van sy Koninkryk, ons leef in merkwaardige tye...) ’n Verdere duidelike bewys dat ons reeds te make het met die dag van die Here kry ons in Handelinge 2:15-21 (Lees) Joël se profesie word gesien as besig om vervul te word! Die Dag van die Here het aangebreek! (Die laaste dae en die Dag van die Here is dieselfde tydperk)

Die Dag van die Here is dis nie iewers 'n dag van 24 uur nie, maar die hele beslissende tydperk/draaipunt in die geskiedenis toe God deur Jesus ingegryp het en Sy Koninkryk begin bou het. Dit sluit wel die wederkoms van Jesus in wat die hoogtepunt sal wees!

Die dag van die Here is dus ook 'n tyd van oorvleueling. God se koninkryk is reeds aanwesig, maar die Satan is nog nie finaal in die poel van vuur gewerp nie. Dis die spanning van alreeds en nog nie. Hierdie spanning ervaar ons ook binne in onsself : God se kinders is alreeds gered (Vryspraak), maar nog nie volmaak heilig nie, daarom is die proses van Heiligmaking so nodig. By die wederkoms word ons finaal Verheerlik!

Die Dag van die Here is ’n tyd van verlossing en oordeel (in Jesus aan die kruis gebeur dit), dit gebeur ook in ons en ook deur ons getuienis! Die evangelie bring vir party lewe en vir ander dood (vir sommige is dit die geur van die lewe; vir ander die stank van die dood - 2 Korintiërs 2:16) Hierdie skeiding gaan alles sigbaar word by die finale wederkoms.

 

Die Dag van die Here moet verstaan word as die keerpunt van die geskiedenis!


Hoe moet ons dan ten slotte Openbaring 16:12-16 verstaan? God is die groot oorwinnaar op die Dag van die Here, maar dit geskied nie sonder konflik nie. Daar is ’n onheilige alliansie bestaande uit die draak (Satan), die dier (Antichristelike magte op aarde) en die vals profeet (valse godsdienste, dwalinge) - ’n Onheilige Drie-eenheid! Hulle saai opstand teen God deur demonies (paddas) gedrewe onrein  valse propaganda! Dit sien ons elke dag in die goddelose media. Deur demoniese bedrog word miljoene mislei! Dit gaan nie hier oor een enkele veldslag nie, maar die konflik dwarsdeur die geskiedenis binne hierdie tydperk

Wat van die detail rondom die Eufraatrivier ens? Dit gaan nie oor een werklike veldslag op ’n spesifieke geografiese plek nie, maar oor die afrekening met die Satan en sy trawante. Johannes gebruik gebruik die agtergrond van Esegiël 38-39 - die Gog en Magog as agtergrondsgegewens en klee dit simbolies in om die finale groot aanslag teen die Christen uit te beeld. Johannes gebruik net ’n verwysingsraamwerk wat vir sy lesers bekend is om die omvang en werklikheid van die reuse konflik tussen God en sy bose teenstanders te ken. (Dit wil nie vir ons voorspel dat daar damme in die Eufraat gebou gaan word wat die rivier sal laat opdroog nie. Dit gebeur in elk geval deesdae met baie riviere. ’n Rivier soos die Eufraat is buitendien vir ’n moderne leër lankal nie meer ’n hindernis soos destyds nie - hulle gebruik deesdae vliegtuie en selfs "drones" en nie perderuiters nie. Sien byv. Openbaring 19:18. Johannes dra 'n boodskap oor aan die mense van sy tyd in 'n taal en met begrippe wat hulle verstaan.) Dis regtigwaar belaglik om hierdie dinge als letterlik te probeer verklaar en dit laat baie mense ongelukkig die heerlike boodskap misloop!  (Later staan ons weer stil by Armageddon.)

Die Dag van die Here is ’n tyd van beslissing. Dis nou. Ons moet nou die evangelie aanvaar en so deel kry aan die verlossing. Vir dié wat die evangelie verwerp wag daar die oordeel en wraak van God.

(Bronne : Du Rand; Goldsworthy)

Donderdag 23 Februarie 2012

VOLTOOI JOU COMRADES

- RAAD VIR DIE RESIES

Die Hebreërs skrywer moedig God se kinders aan : “Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop!” (Lees gerus nou eers Hebreërs 12:1-4) Praktiese Christenskap kan vergelyk word met ’n wedloop, ’n resies wat voltooi moet word. (Nie net ’n vinnige 100m nie, maar ’n uitmergelende Comrades!) Daar is ’n duidelik begin, dan noodsaaklike volharding en vasbyt, en uiteindelik is daar ’n heerlike finale eindpunt en beloning. Al drie is eintlik ewe belangrik!

~ Wegspring. As jy nie begin nie, kan jy nie deelneem nie. Dis die wedergeboorte. Dis wanneer ek persoonlik my vertroue op die Here Jesus stel. Johannes 3:3! Jy moet amptelik inskryf vir die wedloop - jy kan nie sommer skelm langs die pad inval nie.... al jou moeite sal tevergeefs wees. (John Bunyan se Pelgrim’s Progress beeld dit treffend uit. Christen ontmoet baie ouens soos byv. Onkunde wat nie by die Poort ingegaan het nie, maar valslik dink dat hulle in die Hemelse Stad toegelaat sal word)* Het jy al begin......? Jy sal weet, jy moet weet!

~ Volharding en deursettingsvermoë. Die grootste deel van ’n wedloop gaan hieroor. Die grootste deel van Christenskap gaan daaroor om aan te hou. Op die Christelike pad is daar baie versoekings, valstrikke, vyande en valse leringe. Ons moet ten spyte van hierdie dinge volhard en aanhou tot by die hemelse wenpaal. As ons geval het moet ons opstaan en voortgaan!

~ Die finale fase van die wedloop is die aankoms by die wenpaal. Die kind van God moet weet daar wag ’n onwankelbare Koninkryk, ’n stad met vaste fondamente. Ons moet hierdie belofte glo en daarna uitsien. Dis ons heerlike finale doelwit. As iemand nie regtig uitsien en opgewonde is oor die eindpunt nie, moet mens wonder of hy deel is van die wedloop? Dan is daar iewers iets fout... En jy, dink jy oor die eindpunt?

Die skrywer moedig God se kinders aan om te volhard. Die rede : mens kan aflei dat sommige begin moedeloos en slap raak het! (3b, 12) Baie gevaarlik! Dit kan veroorsaak dat jy nooit die wedloop van geloof voltooi nie

Ons kry nou praktiese aanwysings en aanmoediging om te kan volhard. Drie groot sake is hier van belang :


~ Neem kennis van die skare geloofshelde wat reeds die wedloop voltooi het. Hulle word  “geloofsgetuies” genoem. Dis die ouens van wie ons in hoofstuk 11 lees.... Hoekom word hulle getuies genoem? Hulle lewens getuig van die moontlikheid dat ’n mens in geloof kan volhard ten spyte van versoekings, valstrikke en vyande. Geloof kan oorwin! Hulle lewens as gelowiges bewys dat mens kan volhard. Moses is een van die voorbeelde wat genoem word. Hy het ’n doelbewuste keuse gemaak teen die lekker sondige gemaksugtige paleislewe in Egipte! (Vers 24-26) Kies teen sonde en sy genietinge en werp jou volle gewig in by God se verstote en veragte kinders in hierdie wêreld!

~ Raak ontslae van alles wat jou kan hinder in hierdie wedloop. (elke atleet weet ... geen ekstra gewig, niks onnodig mag saamgesleep word nie) Hier word van twee soorte hindernisse gepraat : laste en sonde

Laste is dinge wat nie noodwendig opsigself verkeerd is nie - daar’s nie ’n teks wat sê dis sonde nie, maar dit hinder jou Christenskap. Dit slurp onnodig tyd en energie op. Dit verhoed jou om al jou aandag aan die Here te gee. Dit vat jou fokus van Jesus weg. Laste is soos ’n ekstra gewig, dit sal jou miskien nie dadelik laat val nie, maar dit tap geleidelik jou kragte, jy hardloop al moeiliker en stadiger. Dit kan enige gewoonte, tydverdryf of obsessie wees.... Voorbeelde : ’n verkeerde leefstyl (te laat gaan slaap), tydrowende stokperdjies, ’n obsessie met hoe jy lyk, rekenaarspeletjies, sinlose boeke, sportverslawing... of dalk Facebook? Wees sensitief vir die Heilige Gees. Moenie ander oordeel nie, maar wees baie eerlik met jouself.

Wat hinder jou volle oorgawe aan Jesus op hierdie oomblik?


Sonde is dinge wat God verbied in sy Woord. Enige sonde is dodelik gevaarlik vir ’n kind van God. Al is dit hoe klein in jou oë. Sonde is soos ’n los veter, dit lyk klein en onbenullig, maar dit gaan jou laat val en kan maak dat jy die wedloop dalk nooit voltooi nie. Wat is die los veters in jou geestelike lewe wat jou kort-kort laat struikel? Dis tyd om klaar te kry daarmee. Werp alles in die stryd teen sonde! (Vers 4) Volhard in die stryd selfs al kos dit jou lewe! Ons kry ’n ernstige waarskuwing teen sonde in vers 15,16! Die skrikwekkende voorbeeld van Esau moet ons laat sidder!

Volharding in die Christelike wedloop, kan met een woord beskryf word - heiligmaking! Streef na heiligheid met alles wat jy het! Vers 14 is ewigheids belangrik :

"Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie!"

 
~ Hou Jesus voor oë. Hier gaan dit oor Jesus as voorbeeld. Hyself het die wedloop van geloof op aarde voltooi. Hy was as’t ware die pionier. (Jesus as Trailblazer) Die raad wat aan ons gegee word is : Dink oor Jesus se lewe en loopbaan. Laat Jesus voorop staan in jou gedagtes. Hoe hy absoluut getrou was en Sy Vader se wil gedoen het. Hy is bespot, beledig, verag! Mense het Hom uitgeskel vir ’n Samaritaan, van die duiwelbesete! Al hierdie dinge verdra Hy om die wil van die Vader te doen. Hierdie stryd het ’n hoogtepunt bereik in Getsemane.... daar was Hy voor die werklikheid van die kruis, die skande en pyn wat daarmee saam sou gaan..... Hy het Sy eie wil prysgegee. (Dis ware heiligheid) Ja, dit was ’n geweldige stryd. Hoe kon Hy dit regkry? Hy het uitgesien na die vreugde wat wag na die oorwinning. Dink aan sy swaarkry, dink aan sy beloning! Jesus het alle swaarkry en teenstand oorkom, Hy het die oorwinning behaal. (Openb 3:21) As ons saam met Jesus oorwin, sal ons ook in sy heerlikheid en eer deel! Daar wag ’n beloning....dink jy daaroor?

Jesus is nie net ons Verlosser nie, ook ons Inspireerder!
Die Christelike wedloop is nie maklik nie. As jy moedeloos raak, as dinge vir jou te swaar raak, as jy dink aan tou opgooi - dink aan die Here Jesus! Fokus op Hom en jy sal kan volhard! Moenie die wenpaal misloop nie!

* Een van die beste boeke wat oor die tema van die Christen se volharding gaan is die klassieke werk van John Bunyan, "The Pelgrim's Progress" ook in Afrikaans beskikbaar as "Die Christen se Reis na die Ewigheid"





Hierdie boodskap is gebring by die Belydenisaflegging op 26 Februarie 2012 in die NG Kerk Tsumeb van Johan Arangies, Hugo Arangies,  Hendrik Barkhuizen, Lezaan Groenewald, Beulah Mans, Elvonie Meyer, Domenique Otto, Elmi Redelinghuys, Gower Stoman, Hermien Ströh, Reimund van Eeden en Joscha Weyand.


Woensdag 22 Februarie 2012

POT EN DEKSEL

 - hoe weet ek dit is die REGTE EEN?

Dis seker een van die vrae waaroor jongmense die meeste dink en wonder! Dis inderdaad nie so eenvoudig nie, want ons het hier te make met die geheimenis van die spesiale liefde tussen ’n man en vrou en selfs in SPREUKE word erken dat dit iets bo ons begrip is! (Spreuke 30:18,19)

Gelukkig gee God se Woord wel vir ons kosbare insig in hierdie saak. Ons kan maar gerus die Bybel nadertrek. Dis so belangrik om ook wat ons verhoudings (voor en in die huwelik) betref gehoorsame erns met die Woord van God te maak. Mense kan hulleself soveel hartseer en verwoesting spaar deur gehoor te gee aan God se wil. As vertrekpunt wil ek aanvaar dat jy ’n kind van God is... anders sal dit wat volg in elk geval vir jou belaglik klink.

(Indien jy nie seker is dat jy God se kind is nie, lees gerus DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD)

Ons gaan oor twee aspekte nadink: die WIE? en die HOE?


WIE is die regte huweliksmaat vir my?

Die een uitstaande saak waaroor die Bybel baie duidelik is, is dat hy/sy ’n ware gelowige moet wees! (Vgl. 1 Korintiërs 7:39) Die verontagsaming van hierdie basiese vereiste is seker die grootste enkele oorsaak van oneindige hartseer en konflik in baie huwelike! Maak dus seker van die ander persoon se verhouding met die Here voordat jy eers daaraan dink om ’n verhouding aan te knoop. Anders gesê : iemand wat nie deur woord en lewe wys dat hy/sy ’n volgeling van Jesus is nie, moet hoegenaamd nie eers op jou lysie van moontlike huweliksmaats wees nie. En moet asseblief nooit die dwase redenasie glo wat beweer dat jy maar met iemand kan uitgaan of selfs trou en daardie persoon ’n Christen sal maak nie. Niemand van ons kan iemand anders ’n kind van God maak nie. Dis alleen ’n bonatuurlike wonderwerk van God self wat dit kan bewerkstellig en jy het geen waarborg dat God dit sal doen nie!

Dit beteken egter nie dat alle Christene van die teenoorgestelde geslag by jou sal pas en noodwendig ’n goeie huweliksmaat sal wees nie. Soos met alle lewensbesluite het ons wysheid nodig. Prakties beteken wysheid dat ons die beginsels van die Woord in al ons lewensomstandighede moet toepas. Dit sal beteken dat ons moet bid vir wysheid (Jakobus 1:5) maar ook nugter moet dink en navorsing moet doen! (Jy sal nou dadelik wonder : Wat dan van daardie spesiale gevoel? Ja, daar is iets soos ’n “gevoel”, dis wat mens verliefdheid noem, maar dit opsigself alleen is nie voldoende gronde vir ’n goeie huwelik nie!)

So waar is ons nou? As ek vasgestel het dat die maat wat ek in die oog het ’n Christen is, moet ek probeer vasstel of daardie persoon ’n geskikte maat sal wees wat by my pas. Hier moet ons seker maak dat ons denke en manier van beoordeling nie deur die sondige wêreld se norme skeefgetrek word nie. Vir die wêreld val die klem hoofsaaklik net op die uiterlike, maar ons sal wys wees as ons die beginsel in Spreuke 31:30 ernstig opvat. (lees) ’n Mooi lyfie alleen maak nie ’n goeie vrou nie! Spreuke 31:10-31 gaan oor die knap vrou wat haar man kan aanvul en ondersteun... ’n Dametjie wat net heeldag wil naels verf en boeklees, maar nie bereid is om eers ’n eier te bak of haar hande in water wil steek nie... mag dalk asemrowend mooi wees, maar dit spel moeilikheid ... Net so....iemand met ‘n dik beursie of ‘n groot borskas is nie altyd ’n goeie man nie! Goeie leierseienskappe en vaste beginsels is baie belangriker! Ek moet op ’n nugtere manier vasstel of ’n persoon geskik en volwasse genoeg is om die hoë eise van die huwelik te kan hanteer. (Meer hieroor onder die HOE)

Net ’n woord van waarskuwing : Natuurlik is daar nêrens ’n meneer en mejuffrou Volmaak nie! Hier is balans nodig... Ons moet leer om geduldig te wees met ander se foute, wetende dat onsself ook baie het.

En nou (dalk) ’n skok :

Ons lê eintlik te veel klem op die met WIE moet ek trou, maar te min op die HOE van die aanloop tot die huwelik en die huweliksverhouding self.

Daar is heel waarskynlik baie meer as een Christen persoon met wie jy ’n suksesvolle huwelik kan sluit. So wees getroos en ontspan : Daar is nie net een spesiale iemand wat op hierdie aarde rondloop met wie ek kan trou nie!

’n Liefdesteleurstelling is dus nie die einde van die wêreld nie! Glo my asseblief!

Hoekom sê ek die HOE is so belangrik? Die belangrikste faktor vir jou huweliksgeluk is dat jy ’n kind van God sal wees en in die hofmaakproses vooraf (en natuurlik in die huwelik self) volgens die beginsels van die Woord sal optree.


Kom ons kyk na ’n paar praktiese beginsels (hierdie punte maak net sin as jy ’n Christen is) :


Besef dat HEILIGMAKING die eerste punt op God se agenda vir jou is! As jy aan Jesus behoort is God se eerste ideaal vir jou om al hoe meer gelykvormig te raak aan die beeld van sy Seun. (Romeine 8:28-30) God weet wat is vir jou die beste en wat het jy nodig, maar eerste op sy lysie is nie ’n huweliksmaat nie! Hierdie wete moet ook balans in ons gebedslewe bring. As ek aand vir aand net by die Here kerm dat Hy tog vir my die regte persoon moet gee, wys dit dalk dat ek onsensitief is vir sy wil en dalk ander heerlike dinge wat Hy vir my wil doen so gaan misloop.

Aan die anderkant kant ek glo dat as God my Vader is, Hy nie net oor my siel besorg is nie! Soos ’n Vader sorg Hy omvattend vir sy kinders. (Psalm 103 :13-15) Hy weet ons is mense en Hy ken ons diepste behoeftes. My hele lewe is vir God belangrik en ek kan al my behoeftes, begeertes en bekommernisse (Filippense 4:6), ook ten opsigte van ’n huweliksmaat met Hom deel!* Kind van God, jy mag maar jou hart voor God uitstort! Hy is ’n Hoorder van GEBED!

Leef jou huidige lewe as enkellopende VOLUIT en  MOENIE OBSESSIEF raak om ’n huweliksmaat te vind nie. Psalm 37:4 is so belangrik! Vind jou vreugde in God self. Leef vir God en vir ander mense en Hy sal die regte persoon op die regte tyd oor jou pad bring. Byvoorbeeld as ek by ’n groep aansluit - ’n staptoer, Bybelstudiegroep, kerkkamp of iets dergliks, moet ek nie obsessief almal saam  met my gedurig beoordeel in terme van geskiktheid vir ’n huwelik nie. Vra jouself eerder hoe kan ek God eer in hierdie groep en ander mense dien.

Dis nie verkeerd om ’n huweliksmaat te soek nie, maar SOEK OP DIE REGTE PLEKKE. Dis plekke en geleenthede waar God se kinders sal tuisvoel. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen die Christen en die wêreldling se “habitat”. Die kanse dat jy ’n Godvresende man of vrou op die dansbaan of in die drinkplek gaan raakloop is uiters skraal. ’n Mens vind oor die algemeen nie ysbere in die Namib of gemsbokke op die Noordpool nie!

Wees uiters versigtig om die Bybelse vereistes vir SEKSUELE REINHEID te handhaaf. Kortweg kom dit neer op geen seksuele kontak behalwe binne die beskerming van die huwelik nie! (En ’n verlowing is nog nie ’n huwelik nie!) Vir God is hierdie saak ononderhandelbaar belangrik. (1 Tessalonisense 4:3-8) In ons seksbehepte wêreld is dit glad nie so maklik nie. Jy sal drastiese maatreëls moet tref ten opsigte van sake soos : TV programme, films, Internetgebruik, kleredrag, tipes ontspanning (dans?) ens. Onthou, ons is almal baie swakker as wat ons dink! Onthou ook, dit gaan nie net oor ons dade nie, maar ook oor ons gedagtes. Ons struikel in gedagtes lank voor ons tot verkeerde dade oorgaan. Pasop vir vinnige verhoudings, vakansieromanse en “vry in die bondel”. Die bose saad van latere huweliksontrou of wantroue word lank voor die huwelik reeds gesaai as ons onsself nie op seksuele gebied kan beheers nie. As my maat voor die huwelik nie by God se reëls kan hou nie, hoe sal hy/sy dit na die huweliksluiting regkry?

As God se beginsels van reinheid nou voor die huwelik nie vir my belangrik is nie, gaan ek nie skielik na die huwelik God se reëls respekteer nie!

As ek met iemand in ’n vaste verhouding betrokke is, moet ons konsentreer op KOMMUNIKASIE! Hierdie is die tyd om die ander persoon se sterk en swak punte te leer ken. Dis belangrik om te weet hoe my maat oor sake soos God, kerkwees, kinders, geld, morele kwessies, die verhouding met ouers en skoonouers, ontspanning ens. voel. Huwelike ly skipbreuk weens gebrekkige kommunikasie! Dit kan heel moontlik wees omdat verliefdes te veel tyd aan vry afstaan en te min tyd om deeglik en intelligent met mekaar te gesels! Bid saam! Leer nou reeds om konflikte reg op te los! Kan ek en my maat vir mekaar sê dat ons jammer is en mekaar vergewe?

En as ek nog nie iemand ontmoet het nie? WERK AAN JOUSELF! Miskien het jy gewoontes of maniere wat andere afstoot. Miskien moet jy werk aan jou volwassenheid en optrede. Verskuif die vraag van : “Hoe lyk ’n gepaste huweliksmaat?” na : “Sal ek ’n goeie huweliksmaat vir iemand anders wees?” Wees eerlik voor die Here en met jouself. Kyk weer na die fondasies van jou geluk en lewensvreugde. As jy nou ’n diep ongelukkige, ontevrede mens is, gaan jy waarskynlik ook ’n ongelukkige mens wees al het jy die wonderlikste huweliksmaat. As jy emosioneel onvolwasse is (iemand wat gereeld sy speelgod uit sy "cot" gooi) durf jy jouself nog nie in ’n huwelik begewe nie.

Pasop vir mense wat jou eensaamheid of teleurstellings wil uitbuit. WEES VERSIGTIG en moenie haastig jouself aan iemand verbind nie! Dis veral ’n groot gevaar as mens nog teleurgesteld en seer is oor ’n vorige mislukte verhouding. En pasop veral vir “super Christelike” mense wat na jou kom met die woorde : “Die Here het vir my gesê of in ’n droom gewys dat ons twee moet trou.” Moenie blindelings op sulke “profetiese uitsprake” handel nie. God sal self jou op die regte pad lei deur die beginsels van Sy Woord.

En as ek na alles nog steeds nie ’n maat gevind het nie? Miskien het jy ’n besondere persoon ontmoet, baie verlief geraak, groot verwagtings gekoester.... en toe loop alles skeef? Ons moet altyd realisties REKENING HOU met die GEBROKE WERKLIKHEID van hierdie aardse bestaan. Teleurstellings, valse beloftes, hartseer en sonde sal altyd deel van hierdie wêreld wees tot by die wederkoms van Jesus. Tot dan is Christene ook aan hierdie dinge blootgestel. Daar is mense wat weens een of ander rede (hetsy hul eie of iemand anders se skuld of gebeure buite hulle beheer) nooit ’n maat vind nie! Dis hartseer en sulke mense het ons diepste simpatie en ondersteuning nodig. Vir God se kinders is daar gelukkig nie iets soos ’n uitsiglose toekoms of ’n doodloopstraat nie! Sy genade is in alle omstandighede vir ons genoeg. (2 Korintiërs 12:9) Hy sal ons dra in alle situasies. Deur die eeue het baie ongetroudes heerlike lewensgeluk ervaar! Die geskiedenis lewer bewys van enkellopendes wat vol nuttige lewens gehad het. (Dis natuurlik ’n vals mite dat ’n huwelik noodwendig geluk in ’n mens se lewe bring. Dis dikwels andersom!) Daar gebeur dikwels onverstaanbare dinge in ons lewens wat nie lekker is nie, maar die kind van God kan altyd weet dat Hy dit positief sal gebruik om ons al meer te verander om soos Jesus te word! (Dit bring ons weer by Romeine 8:28-30)

Laastens, maar nie die minste nie! Almal van ons het al in gedagtes of dade op hierdie gebied gefouteer of gesondig. Satan saai pynlike verwoesting op die gebied van seksualiteit, verhudings en huwelik! Dis ernstig en het ernstige gevolge, maar as ons God se Woord glo hoef ons nie onsself af te skryf nie. Daar is immers iets soos VERGIFNIS! Psalm 130 se boodskap bring hoop vir dié wat diep geval het. Staan soos die verlore seun op uit die varkhok en gaan terug na jou hemelse Vader, wat jou sonder verwyt terug sal ontvang. Ontvang sy vergifnis en beywer jou vir 'n heilige lewe saam met ander kinders van God! (2 Timoteus 2:22)  Sterkte!

* Sien die verhaal van A.A. Louw in GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG




Sondag 19 Februarie 2012

SOOS 'N KINDJIE...

By verlede week se Vrydag 10:00 biduur in ons gemeente, deel een van ons lidmate, Trudie van Niekerk ’n pragtige getuienis. Trudie werk vir CEF (Child Evangelism Fellowship) en word gedeeltelik deur ons gemeente ondersteun. Haar werk behels hoofsaaklik die hou van kinderklubs (Good News Clubs) en opleiding. Sy is natuurlik ook meer as net ’n sendeling, sy woon hier op die pastoriegronde en is dus ook deel van die “meisieskoshuis” waarvan ek die voorreg het om “koshuisvader” te wees!

Toe Trudie ons die verhaal vertel van hoe ’n onderwyeres tot bekering gekom het tydens een van die Good News Clubs het dit my laat dink aan die woorde van Jesus in Markus 10:15:

 

“Wie die Koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”


’n Paar weke gelede het die onderwyseres van ongeveer 50 jaar vir Trudie gevra om in haar plek ’n skoolopening hier in Tsumeb waar te neem. By die geleentheid het sy ook laat blyk dat sy by die Good News Clubs betrokke sou wou raak. Trudie het haar toe genooi om die Donderdag se byeenkoms by te woon. Sy sê toe dat sy wil leer bid, want sy kan net twee sinne bid en verder die rympies wat hulle by die skool vir die kinders leer. Hierdie juffrou was ook nie ’n kerkganger nie.

Die Donderdag is sy daar. Trudie besef toe dat hierdie dame nie eintlik ’n helper wil wees nie, maar ’n “kind” wat oor God wil kom leer. Aan die einde van die les rig Trudie ’n uitnoding om Jesus as Verlosser aan te neem. En wie reageer? Hierdie einste skooljuffrou! ’n Helper (wat eintlik nie daar sou wees nie, maar op die nippertjie opgedaag het) kon met haar ’n gesprek voer en met trane het hierdie onderwyseres vergifnis gevra en Jesus as haar Verlosser aanvaar.

Hierdie bekeerde juffrou is nou ’n gereelde “kind” by die klub en gaan ook saam met die helper wat haar bygestaan het, kerk toe!




Trudie en die res van die "meisieskoshuis"

Prys die Here, wat die hoogmoediges weerstaan, maar genade aan die nederiges gee!


Vrydag 17 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (5)

- OORWINNING DEUR DIE BLOED VAN DIE LAM

(Blaai na Openbaring 12)

Onthou weer, die hele Openbaring draai rondom die evangelie van Jesus. Jesus self staan sentraal! Hy is : Die  Leeu, die Oorwinnaar, maar Hy het die Oorwinning aan die kruis behaal as Lam van God. Die evangelie naamlik redding deur die bloed, vryspraak op grond van Jesus se kruisdood is die sentrale tema van Openbaring, net soos die res van die Nuwe Testament. Ja, inderdaad gaan dit ook oor die toekoms en die finale oorwinning. Die finale koms en oorwinning van Jesus is egter gebou op die feit van sy offer aan die kruis!

Die term LAM, vir Christus is vol betekenis. Hy is die LAM omdat Hy geslag/geoffer is aan die kruis! Hierdie titel word 28 keer in Openbaring gebruik en bewys hoe sentraal die kruisdood van Jesus staan. Kyk byvoorbeeld na Openbaring 14:1-5 en hoe die term LAM hier herhaal word. (Terloops, hier kry ons ’n verdere bewys dat die 144 000 verwys na alle Christene en nie na etniese Israel nie, want alle Christene is mense wat deur Jesus losgekoop is!) In Openbaring 15:2,4 sing die verlostes die Lied van die LAM (verlossingslied). Interessant, dit herinner sterk aan Eksodus 15! (Lees) Die Eksodus gebeure, die verlossing uit slawerny is ’n skaduwee van die verlossingsgebeure van die evangelie! Na die verlossing deur die Rooi See sing die volk ’n lied en so loof God se kinders Hom ook vir die verlossing wat deur Jesus bewerk is.

Die sentraliteit van die Bloed van die LAM word pragtig geïllustreer deur die dramatiese gebeure van Openbaring 12. Dis ’n oorsig oor die stryd tussen God en die bose in die geskiedenis. Die slotsom :

Satan is ’n oorwonne vyand!

Dink aan die troos van hierdie boodskap vir mense wat ervaar het dat die Satan se agente hulle vervolg en vermoor! Volgens Openbaring is die Satan by drie geleenthede verslaan*:

~ In die oertyd toe hy uit die hemel geskop is.

~ Deur die kruis en die opstanding van Jesus.

~ Met die finale vernietiging wanneer hy in die poel van vuur gegooi word.


Ons fokus nou op die evangelie in Openbaring. Ons kyk dus in meer detail na Openbaring 12:10-12. (Ons sal later weer kyk na die tema van konflik wat ook in Openb 12 aangespreek word) Dit gaan nie hier oor volgordes nie, maar oor die verskillende dimensies van ons verlossing. Die oorlog in die hemel loop uit op die oorwinning van die gelowiges deur die bloed van die Lam.. Die aanklaer, Satan word deur hulle oorwin deur die bloed. Let op : God het ons redding gebring. Redding begin altyd by God!  Ons is ook betrokke (11) deur die geloof! Hoe? Die aanklaer word stilgemaak deur die bloed, die kruisiging van Jesus. Wat beteken dit prakties? Die duiwel kom as’t ware met al die feite van ons sonde na God en kla ons aan. En hoe goed ken hy dit nie...! Volgens alle aanduidings is ons defnitief skuldig. Maar die kruisgebeure dwing hom tot swye. Hoe so? Daar is niks om ons meer oor aan te kla nie, want elke sonde en oortreding is reeds gestraf. (As dit jou nie bly maak nie dan is daar groot fout....) Die straf wat vir ons vrede bring was op Hom! (Jesaja 53:5,6) Ons aanvaar hierdie waarheid in die geloof.

In plaas daarvan dat ons nou gestraf word oor die aanklagte van Satan teen ons, word hy bestraf en verdoem!

Hierdie tema kom alreeds uit die Ou Testament. Lees gerus die aangrypende Sagaria hoofstuk 3! Al die dokumentasie wat die Satan teen ons kon bring (die skuldbewyse) is aan die kruis van Jesus uitgedelg! Vriend, maak seker dat jy die heerlike boodskap van Kolossense 2:14 glo!

Die fondasie van ons oorwinning is dus nie iets wat ons doen nie. Dis die gebeurtenis aan die kruis, die Bloed van die LAM. Ja hiervan getuig ons! Ons getuienis gaan oor die getrouheid aan hierdie boodskap in ons woorde en lewens. Hoe ver moet hierdie getrouheid gaan? Tot by ’n bereidheid om ons lewens ter wille van Jesus te verloor! Hy is dit werd, want Hy het ons vryheid met Sy lewe verseker! (Sien Markus 8:34,35; Johannes 12:24,25) Onthou net dat ons getuienis nie ons prestasie is nie. Ons getuienis is gegrond op die getuienis van Jesus! (Vgl. Openb 1:2,9) Die klem val op Jesus en nie ons eie biografiese besonderhede nie.

Die gevolge van die oorwinning oor Satan is uiteenlopend! Vir die hemelbewoners is dit ’n saak van blydskap en feesviering! (12:12) Vir die aarde en sy inwoners is dit ’n voorspel tot groot teëspoed, want die verslane Satan vestig nou sy aandag op die aarde. Hemelbewoners is ’n idiomatiese term en sluit alle Christene in (ook die wat nog op aarde is).

Hoe kan ons nou reeds elke dag hierdie heerlike waarheid van die oorwinning oor Satan benut?

Antwoord : Ons antwoord die beskuldigings van Satan deur te wys na die kruisgebeure. As hy ons aanklae en aan al ons sondes en mislukkings herinner, kan ons hom so antwoord : “Ja, ek is sleg, sondig, maar daar aan die kruis is my sonde reeds gestraf, ek staan dus sonder skuld voor God al sê jy wat!” Dis maar net die waarheid van Romeine 8:33,34 op 'n ander manier gestel! Niemand kan ons aankla of veroordeel nie. Nie omdat onsself so goed is nie, ook nie omdat ons geloof so sterk is of ons bekering so wonderlik is nie, maar omdat Jesus se sterwe en opstanding en sy voorspraak vir ons heeltemal genoegsaam en voldoende is! Dis hierdie heerlike feite buite onsself wat vir ons sekerheid gee oor ons ewige sekuriteit!

Hierdie waarheid vat ook ons vrees vir die dood weg! ( vgl. Hebr 2:14,15)

Dit spoor ons aan om met oorgawe ons getuienis uit te leef!

 

* Du Rand p401




Donderdag 16 Februarie 2012

BABALAAS BRITTE

- BENODIG BLYE BOODSKAP VAN BEVRYDING!

Die BBC dra die volgende berig op 15 Februarie:

David Cameron vows to tackle binge drinking scandal. Prime Minister David Cameron has called for bars, supermarkets and the drink industry in England to do more to help ensure responsible drinking.

Cameron bedoel dit seker goed. Die geskiedenis van sy eie land bewys egter dat die euwel van dronkenskap (en alle ander euwels) nie deur wetgewing, regerings of sosiale aksies opgelos kan word nie. Die probleem lê nie in strukture nie, maar in die mens se hart. En dis net God wat nuwe harte kan skenk! God verklaar so duidelik in Esegiël 36:26,27 :

“Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef...”


Radikale vernuwing van binne! Dis presies wat God in die Britse Eilande gedoen het tydens die 18de eeuse herlewing toe Hy die kragtige prediking van George Whitefield, John Wesley, Daniel Rowland en baie ander gebruik het om ’n nasie te skud. En ons moenie vergeet nie, die sukses van die evangelie het juis sigbaar geword in ’n nasie wat vasgevang was in die slawerny van dronkenskap. Die sogenaamde Gin Craze het Engeland beetgepak en die gevolge was skrikwekkend. Biskop Benson het gesê : “Gin has made the English people what they never were before - cruel and inhuman.” Hierdie vloedgolf van drankmisbruik het gevolg op die verbod in 1689 op die invoer van sterk drank. Mense het toe hulle eie drank gebrou en die aanvraag was so groot dat daar beweer word dat elke sesde huis in London 'n gin shop was!
Maar juis in hierdie donker omstandighede het die evangelie hard en helder weerklink. Skares van 20 000 en 30 000 het na George Whitefield kom luister! (Onthou daar was geen klankversterking nie!

Baie, baie mense se lewens is deur die eenvoudige evangelie boodskap van bevryding verander! Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God! Mag Cameron en sy volk terugkeer na die Bybelse oplossing: die evangelie van Jesus Christus! Dis die krag van God tot redding vir elkeen wat glo! (Rom 1:16,17)

Gaan lees gerus oor die merkwaardige gebeure van die 18 de eeuse herlewing in Brittanje in die twee volume biografie van Arnold Dallimore : “GEORGE WHITEFIELD - The life and times of the great evangelist of the 18th  century revival”




Dinsdag 14 Februarie 2012

SIEK EN SAT VIR "CELEBRITIES"

Ons liggame verduur ongelukkig baie tipes besoedeling. Dis lugbesoedeling, waterbesoedeling, geraasbesoedeling... en vele meer. Nog erger en dalk met erger gevolge is die “Celebrity besoedeling” waarmee ons sintuie en siele gepynig word! Tot satwordens toe, word ons gebombardeer met sepiesterre, sangsensasies, rugbyreuse en politieke ikone en wie weet watter ander glansganse se onbenullige lewensbesonderhede en onbybelse lewensbeskouings! Nou dat die Woord van God grotendeels sy plek in ons volkslewe verloor het, is hulle die groot lewenskenners en beraders! Ons word opgesaal met hulle skandes en skeisake, hulle hofgedinge en bekgevegte! Om een of ander rede is hulle babas mooier, hulle hartsere belangriker en hulle sondes sappiger as ons gewone sterflinge s’n. Dit moet eenvoudig op die voorblaaie... (Nou ja, Huisgenoot se joernaliste moet seker ook eet...)

Op ’n ernstiger noot. Waarom dink ek behoort ’n Christen nie mee te doen aan Celebrity verering nie? Oorweeg en bedink die volgende :

Die “Celebrities” het die de facto gode van ’n groot deel van die Afrikanervolk geword! (en seker die meeste ander Westerse gemeenskappe) Wat hulle sê is belangriker as wat God in sy Woord beveel. Hulle bly mos ons mense se helde al minag hulle God se opdragte deur hulle onsedelikheid en lastering. Die “Idols” kompetisie is eintlik ’n baie raak beskrywing. Arrogante mensgemaakte afgodjies. Om enige mensgemaakte god te vereer is ’n gruwelike sonde wat God se toorn oproep. Dis ’n konkrete voorbeeld van die verering van die skepsel in plaas van die Skepper! (Romeine 1:25) Laat ons net weer onthou : God deel sy eer met niemand nie. Dit moes koning Herodus op die harde manier leer toe hy wurmkos geword het! (Handelinge 12:22,23) Is dit dan snaaks dat soveel van Suid-Afrikaners se afgodjies baie hard van hulle troontjies afgestamp word?

Die “Celebrities” teken vir ons ’n valse defenisie van sukses en geluk. Hulle is die mense wat nou kastig die “lewe” ervaar! Hulle het so ongemerk ons (en ons kinders se) rolmodelle geword. As ons motors, huise en lywe nie soos hulle s’n kan lyk nie, voel ons soos mislukkings. Die Celebrities met hulle blink motors en (skamelgeklede) blink lywe propageer egter ’n boodskap wat direk indruis teen die Bybelse boodskap van wêreldversaking. (1 Johannes 2:15-17; Jakobus 4:4) “Lewe” is om God te ken en is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie!

Die “Celebrities” kom weg met “moord” en maak ons gewoond aan morele verval as aanvaarde norm. ’n Celebrity mag maar ’n roekelose rokjagter met ’n rekord van ‘n streep gebroke vroue (en buite egtelike kinders) wees! En selfs ’n Christelike radiostasie speel nog steeds sy musiek! Solank ’n Celebrity kan sing of drieë druk bly hulle mos ons helde! En so geleidelik het hulle optrede ’n groot rol gespeel om sondes soos homoseksuele lewensstyle, huweliksontrou, losbandigheid (saamblyery) en materialisme aanvaarbaar te maak!

Die “Celebrities” en hulle media meelopers is sensasiebeluste geldjagters wat ons “besteel”. (En hulle vang ons so maklik). Hulle ken die kuns om na ’n koerant of tydskrif te hardloop met ’n tranetrekker skinderstorie as die geld om hulle uitspattige leefstyle voort te sit bietjie min word. (Of skryf ’n niksseggende voortydige outobiografie!?) Hulle weet baie goed om kunsmatig ’n mark te skep vir nuuskieriges wat bereid is om te betaal vir die bevrediging van daardie nuuskierigheid. Dis ’n skreiende aanklag teen die agteruitgang van ons waardesisteem, dat ons bereid is om miljoene Rande aan vermaaklikheidsterre te bestee, maar daar is nie geld beskikbaar vir ordentlike onderwys in ons land nie.

Die “Celebrities” verkondig ’n verdraaide evangelie. Die gevaarlikste “Celebrities” is nie die wat openlik goddeloos is nie, maar die wat slim genoeg is om ’n Christelike sousie oor hulle beeld te gooi en so die harte te wen van liggelowige Christene. Dis kom neer op die uitbuiting van die (oorblywende) Christelike sentimente van die Afrikaner. By nadere ondersoek is dit duidelik dat hulle idee van Christenskap nie strook met die Woord nie. Die variasie van Christenskap wat hulle aan ons opdis gaan hand aan hand met gewildheid, rykdom en mensgesentreerde sukses! O, en kerke nooi hulle so graag vir praatjies! En inderdaad is dit leë praatjies! Kom niemand dan agter dat Jesus nie met hierdie tipe Christenskap versoen kan word nie? Hy was nie gewild nie, maar verworpe, nie ryk nie, maar arm... in die oë van die wêreld eindig sy lewe in die grootste mislukking, die skandedood aan die kruis! Ons word opgeroep om saam met Hom as uitgeworpenes buite die laer te ly en sy smaad te dra! (Hebreërs 13:13,14)


Dis dalk tyd dat Jesus se volgelinge duidelik laat hoor : “Ons is siek en sat vir Celebrities!” Dis tyd dat ons eerlik raak oor morele naaktheid en waag om te sê : “Die keiser(s) is kaal!” Ons moet hulle raaksien vir wie hulle is, mensgemaakte afgode! En ons moet bely (ek ook) : “Here vergewe ons dat ons so maklik mense op ’n troon plaas of onsself met hulle ongeregtighede besoedel!

Skryf ek nou alle “Celebs” af? Is alle glansganse gans en al af te skryf? Natuurlik nie! Ook vir hulle is daar genade, as hulle hulle bekeer! Kan ons alle openbare figure onder dieselfde kam skeer! Nee, ek glo nie so nie, orals kry mens God se kinders. Hy alleen ken die harte.

Maar dis wel baie duidelik : Die kind van God moet ver bly van die Celebrity kultuur en verering. Die Woord van God lei ons direk in ’n teenoorgestelde rigting as ons lees :

“Skaar julle by die nederiges...”
(Romeine 12:16)