BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Jeremia. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jeremia. Wys alle plasings

Donderdag 18 Augustus 2016

KYK NA DIE GROTER PRENTJIE

van God se planne en besef dis nie nou die tyd om eie belang voorop te stel en jou teen jou eie bekommernisse vas te staar nie!



JEREMIA SE BOODSKAP


Ons weet almal van die profeet Jeremia se stryd vir die waarheid. Hy het nie gepreek dit wat die mense wou hoor nie, maar dit wat God wou sê. Die waarheid! Dit het hom in konfrontasie gebring met almal: die koning, die priesters, die valse profete en die volk. Hy het almal se sonde en ongeregtigheid aangespreek en blootgelê. Die valse profete het die volk se sondes toegesmeer en gesê :”Vrede, vrede”, terwyl daar geen vrede is nie. (Jeremia 6:14) Hierteenoor het Jeremia voorspel dat God, Juda sal straf en het hy die val van Jerusalem voorspel. Vanweë sy ongewilde boodskap moes arme Jeremia dit ontgeld, hy is o.a. in ‘n put gegooi. Na Jerusalem se inname deur Nebukadnesar gaan Jeremia se bediening voort. Die goewerneur Gedalja is deur die Babiloniërs as goewerneur oor die agtergeblewe Jode aangestel. Gedalja word vermoor en omdat die Jode nou die wraak van Nebukadnesar vrees besluit hulle om na Egipte te vlug. Hulle vra vir Jeremia wat God se wil is en tog verwerp hulle sy boodskap wat hy van die Here ontvang het - presies wat mense vandag nog doen. (sien Jeremia 42:3,43:1-3) Jeremia word gedwing om saam te trek na Egipte.

EN WAT VAN BARUG?*

Ons het miskien maklik meegevoel met arme Jeremia, maar vergeet gewoonlik van Barug. Jeremia het gebruik gemaak van ‘n persoonlike sekretaris, Barug. Dit was geen gerieflike en veilige beroep nie. Saam met Jeremia moes hy die kritiek en verwerping verduur; soveel so dat die volk eintlik vir Barug die skuld gegee het toe Jeremia vir hulle ‘n boodskap gegee het oor hulle beplande vertrek na Egipte. (43:3) Hy is dan ook saam met Jeremia na Egipte toe geneem soos ons lees in 43:6.

Ons kry hier in hoofstuk 45 ‘n profesie wat op Barug persoonlik betrekking het :

Jeremia 45:1 ‘n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. Dit was in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

2 So sê die Here die God van Israel oor jou, Baruk:

3 Jy sê dit is klaar met jou, die Here het nog meer lyding by jou smart gevoeg, jy is al uitgeput van kla, jy kry nie rus nie?

4 Die Here sê ek moet vir jou sê: So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met ‘n hele land.

5 En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie! Ek gaan ‘n ramp oor alle mense bring, sê die Here. Tog sal Ek jou jou lewe laat behou waar jy ook gaan, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.

Uit hierdie gedeelte en vanuit Barug se rol in die algemeen blyk dit baie duidelik dat sy taak veeleisend en gevaarlik was. Op ‘n stadium het alles blykbaar vir hom te veel geword, sy werk was hard (Onthou daar was nie eens ordentlike penne nie, wat nog van tikmasjiene en rekenaars!), die druk te groot, die teenstand te fel, hy is blootgestel aan voortdurende smaad. Maar meer nog en dis waarskynlik waaroor dit hier gaan : die profesieë van oordeel oor Juda sou hom wat Barug is ook raak. God se oordeel sou sy eie toekomsplanne en ambisies in gedrang bring. Die boodskap wat hyself help formuleer het, het intense BEKOMMERNIS by hom veroorsaak! Die inhoud van die profesieë het daarop neergekom dat die hele land verwoes sou word, mens en dier sou uitgeroei word. Die einste boodskappe van oordeel wat Barug so getrou neergeskryf het sou hom self ook nadelig tref. Wat gaan word van sy toekoms? Hierdie situasie en omstandighede het Barug laat kla en sug (45:3) “die Here voeg lyding by my smart, ek is uitgeput van die kla” (NAB)

‘N BAIE PERSOONLIKE BOODSKAP 

God reageer op Barug se selfbejammering en ongelukkigheid, deurdat die Hy deur Jeremia ‘n spesiale persoonlike boodskap aan hom rig. In hierdie boodskap word Barug berispe sowel as getroos:

  • Barug word aangespreek en tereggewys: Barug se persoonlike lot het vir hom baie erg gelyk. "Kyk wat gaan my alles tref!"  Die Here gee nou vir hom ‘n groter perspektief. (4) God wil miskien sê : “Besef jy wat hou dit alles vir myself in? Die oordele behels dat ek my eie volk tugtig.” Dis die einste volk aan wie Hy soveel aandag en liefde bestee het. (vgl. Jesaja 5) Hierdie oordele is geen ligtelike saak vir God nie. Hy verwoes Sy eie eiendom. Moontlik is die bedoeling van God hier : “Wat gaan dit jou aan? Dis my eiendom wat ter sprake is! Barug jy het nie regtig rede om so hartseer en ongelukkig te wees nie!” Dan gaan die Here voort in vers 5. Dis die kerngedagte my betref en wat ek glo tot elke kind van God sal spreek. “En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie” (OAV) “En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie?” (NAB) Mens sou dit ook so kon stel : “Hoe durf jy persoonlike voordeel vir jouself opeis?** 
Barug daar is ‘n groter saak, die saak van God. In die lig van hierdie groter saak durf jy nie bekommerd oor jou persoonlike ambisies, ideale en gerief te wees nie! Kry begrip vir die groter geheel, moenie teen jou ooglede vaskyk nie. Dink aan die volgende prentjie : ‘n Groot woonstelgebou is aan die brand. Honderde mense moet gered word! Lewens word bedreig. Daar is miljoene rande skade. Maar nou kom kerm iemand by die brandweermanne oor sy hamster wat weggeraak het. Ons is so dikwels onsensitief vir die betekenis en omvang van die ewigheidsdrama wat afspeel. In die lig van die aantasting God se eer, in die lig van Sy groot raadsplanne, die oordele wat wag - wat tel my en jou persoonlik belange, wat is ons klein opofferinkies en verliese? Sien die groter prentjie raak. 

Laat ons ophou om in onsself gekeer te wees met ons ou klein probleempies. 

Moenie so arrogant wees om spesiale behandeling te verwag nie! God gaan die wereld oordeel, God stuur ons nou om die evangelie te verkondig.... Moenie net aan jouself dink nie, terwyl die wêreld voortsnel na ‘’n einde nie!

  • Barug kry ‘n heerlike belofte. “jou lewe laat behou” Te midde van al die oordele sou sy lewe gespaar word. Ja, selfs al gaan dit oor die groter saak van God se eer, vergeet God nie Sy kinders nie. Lewe is tog die belangrikste, dis tog eintlik wat tel.*** Ja , God se mense word nie gevrywaar van ellende nie, maar ten opsigte van dit wat regtig tel sal ons geseënd wees. Uit Nuwe Testamentiese perspektief weet ons dat lewe ten diepste na die ewige lewe by God verwys. Ja, selfs waar die kinders van God hulle aardse lewens verloor sal hulle (ewige) lewe behou. Jesus sê tog duidelik “Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie (haat), sal dit vir die ewige lewe behou” (Johannes 12:25)
Samevattend

  • Sien die groter geheel raak. Kry ‘n wyer visie as jou eie geestelike lewe, jou eie loopbaan, eie gerief. Raak eerder bewus van die nood van die kerk, die uitbreiding van die Koninkryk van God, jou taak in die liggaam van Christus, die groot dag wat nader kom. Moenie dat klein persoonlike sake jou aandag van hierdie enorm belangrike dinge aftrek nie.
  • Ons eie belange en idees bots dikwels met die belange van die Koninkryk van God. Daar is ‘n groter prentjie, daar is ‘n groter plan, my ambisies moet plek maak vir daardie groter plan. (My keuse oor woonplek, beroep is ondergeskik aan God se plan en wil.) In hierdie saak was Jesus gedurende Sy aardse lewe die absolute voorbeeld, Hy het alle persoonlike belange prysgegee om die die werk van en saak van Sy Vader te dien - dit het Hom tot by die kruis gelei...
  • Om in te val by God se plan kos ‘n prys, tog is dit nie ‘n uitsiglose doodloopstraat nie. Ons kan weet ook in situasies wat ons alles moet verloor, kyk God met Vaderlike sorg en liefde na ons. Ons bly ewige wenners! Die omvattende saak van Sy koninkryk kom eerste en tog beloon Hy Sy kinders uitermate. Jesus se woorde in Matteus 19:29 het heerlike belofteryke konsekwensies vir elkeen wat die groter saak van God se koninkryk eerste stel – “En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” AMEN
Motiveringsprekers en lifecoaches leer ons dat God ons sal help om ons planne, ambisies en belange te bevorder; die Woord leer ons moet inval by God se raadsplanne en koninkryk en God sal vir ons sorg volgens sy besluite.



*NAB – Baruk

** so in ‘n Franse vertaling : "Et toi, tu oses réclamer un avantage personnel?"

*** God het ‘n soortgelyke belofte aan Ebed- Meleg , die Kusietiese kneg gemaak wat verantwoordelik was dat Jeremia uit die put getrek is ( Sien Jeremia 38; 39:15-18)




Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012