BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Amerikaanse presidentsverkiesing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Amerikaanse presidentsverkiesing. Wys alle plasings

Woensdag 03 Augustus 2016

Clinton of Trump - Amerikaanse dilemma

- stem jy vir ‘n leuenaar of swendelaar?



Verbysterend! Hoe kon die wêreld se grootste demokrasie en magtigste moondheid in so ‘n penarie beland? Kon daar in die grote Amerika geen beter kandidate gevind word nie? ‘n Morele dilemma van tussen die duiwel en die diep blou see. In die Amerikaanse presidentsverkiesing in November gaan kiesers moet besluit tussen Hillary Clinton (wat openlik gelieg het oor haar geklassifiseerde e-posse) en Donald Trump (‘n onbeskofte grootbek swendelaar) 


Uit ‘n Christelike oogpunt is die ontstellendste aspek dat Donald Trump deur baie sogenaamde evangeliese Christene gesteun word. So het Liberty University se president Jerry Falwell Jr vir Trump opgehemel as “one of the greatest visionaries of our time” en ‘n wonderlike Christen broeder “who reminds me of my dad.” Hoe moet dit verklaar word? En wat sê dit van die integriteit en teologie van die Amerikaanse evangeliese Christendom? Wat gaan die gevolge wees?

Die evangeliese Christene vorm ‘n belangrike kiesersblok binne die Republikeinse party in Amerika. Trump wat ‘n meester is in flikflooiery, manteldraaiery em manipulasie het baie van hulle maklik aan die hoek gekry. Trump self is egter op geen manier naastenby ‘n evangeliese Christen nie. Om die waarheid te sê, hy is nie eers ‘n gereelde nominale kerkganger nie. Daar is slegs ‘n baie dun lagie Christelike vernis om sy verwronge siel. Michael Horton ‘n gesaghebbende Gereformeerde teoloog vir wie ek baie respek het, sê die volgende oor Trump se kerklike verbintenis : “Let me suggest that the slender thread connecting Trump to the church is his occasional holiday appearances at Marble Collegiate Church, made famous by its pastor for 52 years, Norman Vincent Peale. Blending pop-psychology and spirituality, Peale’s The Power of Positive Thinking (1952) remained on The New York Times bestsellers list for 186 weeks. Nicknamed “God’s Salesman,” Peale was criticized for trivializing Christianity. Reinhold Niebuhr said that he “corrupts the gospel,” and that he helps people “feel good, while they are evading the real issues of life.”

Daar het jy dit! Daarom is dit ook nie snaaks nie dat een van die hedendaagse verkondigers van ‘n goedkoop goedvoel valse evangelie, Joel Osteen vir Trump “a friend of our ministry” en “a good man.” noem. Tipies Trump het hy weer getweet : “Being associated with Joel is my great honor—he’s a fantastic man!”

Een rede waarom baie “evangelicals” waarskynlik maar hulle ore toedruk en vir Trump aanhang is die toenemende gevoel dat konserwatiewes besig is om die sogenaamde “kulturele oorlog” in Amerika te verloor. Dit het onteenseglik duidelik geword met die Hoogeregshofbesluit ten gunste van gay huwelike. Nou is baie mense op soek na ‘n sterk persoon wat leiding kan neem en hulle dink (verkeerdelik) dat Trump met sy groot mond so ‘n persoon is. Trump self is hoegenaamd nie bekend vir konserwatiewe morele waardes nie! Die werklike rede waarom die evangeliese groep so maklik mislei word is die hartseer feit dat die evangelie boodskap nou al vir jare lank vervlak word tot ‘n soort van ‘n gebruikers Christenskap. Dit leer : Jesus moet my help om ryk, mooi, gesond en suksesvol te wees! Daarom kry jy iets soos skoonheidskoninginne wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is! Hierdie valse evangelie het die massas so verblind, dat selfs toe Trump verklaar het dat hy nog nooit nodig gehad het om God om vergifnis te vra nie, baie van die sogenaamde “evangelicals” nog steeds nie lont geruik het nie! Dit terwyl vergifnis die kernwaarheid in die Bybelse boodskap van verlossing is.

Dit lyk nie op hierdie stadium of Trump meer ‘n kans het om die presidentsverkiesing te wen nie. Hy het doodeenvoudig net te ver gegaan in sy bitsige beledigings en wilde bewerings. Daar is al hoe meer vrae rondom basiese bevoegdheid en geskiktheid vir 'n posisie wat soveel verantwoordelikheid vereis... Soveel so dat leidende Republikeine aangekondig het dat hulle eerder vir die ongewilde Hillary gaan stem. Die grootste tragedie gaan egter nie wees dat Trump die presidentskap op ‘n skinkbord aan die liberale Clinton gaan besorg nie. Die hartseerste gevolg van hierdie blinde ondersteuning vir Trump gaan wees dat die wêreld vir jare nog die “evangelicals” met Trump en sy bende gaan assosieer. Dit is ‘n groot skade en klad op die Naam van ons Here Jesus Christus. Hoe meer Christene hulle dus nou reeds duidelik van Trump distansieer hoe beter... Meer nog, laat ons sonder vrees getuig van die ware evangelie van Jesus, die krag van God waardeur sondaars gered en vernuwe word!

En die verkiesing? Gelukkig hoef en wil ek nie in die VSA stem nie... Hierdie moreel korrupte nasie sal die president kry wat hulle verdien...