BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket God as Skepper. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God as Skepper. Wys alle plasings

Vrydag 05 Maart 2021

BEGIN BY DIE BEGIN

- DIE BASIESE VERTREKPUNT VAN ALLE WAARHEID!

Waar kry ek ‘n antwoord vir al my baie vrae? Waar kry ek bevryding van al my vrese? Waar kry ek weer hoop in ‘n chaotiese, bose, korrupte en hartseer wêreld?  Begin by die begin! Ons weet daar is groot verwarring in ons tyd. Daar is ‘n ontelbare duisternis van opinies, talryke teorieë, soveel  slimmighede...Jy weet nie aldag wie om te glo en na wie om te luister nie... Waar gaan ek vastigheid kry?  Wat is die eerste heel basiese waarheid? Die fondament waarop alle antwoorde berus? Die basiese vertrekpunt? Begin by die begin!

Ons kry dit in Genesis 1:1!


Hieruit volg ‘n paar basiese vertrekpunte en vaste hoekpenne:


God alleen is die ewige oneindige Skepper.

Alle ander persone of dinge is skepsels of geskape dinge. Daar is ‘n basiese fundamentele onderskeid tussen God en sy skepping. God alleen is van ewigheid tot ewigheid. Sonder enige begin en einde. God alleen kan skep. Iets uit niks. Deur sy Woord. Hierdie unieke andersheid van God word vandag betwyfel deur iemand soos Benny Hinn wat leer dat die mens ‘n klein godjie is*, deur die panteïsme wat leer dat alles en almal goddelik is, ja ook deur die “spreek lewe” beweging wat leer dat die mens se woorde skeppingskrag het! Die basiese oersonde is om God nie as God te dank en te eer nie Om die skepsele te eer in plaas van die Skepper. Paulus skryf hieroor : “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.” (Romeine 1:20.21, 25)

God bepaal die sin van als want Hy het als met ‘n doel gemaak. 

Jy en ek het ‘n doel. Daar is ‘n rede vir ons bestaan. En die rede kom verder in die skeppingsverhaal duidelik na vore. Om God te eer en namens Hom oor sy skepping te heers! Ons as mense is geskape na sy beeld. Dit plaas ons in ‘n ander kategorie as byvoorbeeld diere en plante. Ons het ‘n verstand om God te kan ken, ‘n wil om Hom te kies en ‘n emosie om Hom lief te hê. God self is die doel en die vreugde van my bestaan. Dit word so mooi gestel deur die Westminster Shorter Catechism wat vra : “What is the chief end of man?” (die mens se hoofdoel?) En dan die antwoord : “Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.” Dis waaroor alles gaan – om God te eer en te GENIET! 

Geen mens kan ware vervulling beleef sonder die aanbidding van God nie, want dis waarvoor ons ontwerp is!

God alleen is in beheer van sy skepping. 

Die ganse heelal. God bestuur die heelal. Alles gebeur volgens God se raadsplanne. “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." (Efesiërs 1:11) Daar is geen mag groter as God nie. En ja, die duiwel is voorwaar soos ‘n brullende leeu, maar hy is ook net ‘n geskape wese. God het ook mag oor die duiwel en daar is nie ‘n kwessie van wie sal wen nie. Die uitkoms van die geskiedenis is nie in die weegskaal nie! Dit bring ontsaglike troos om te weet dat die Almagtige God volkome in beheer is van sy skepping – al lyk dit nie so nie. Dit het nie so gelyk tydens die kruisiging nie – dit het gelyk asof die Satan en bose mense die oorhand het, maar eintlik was hulle besig om God se triomfantlike plan uit te voer. Petrus praat op Pinksterdag met die Jode oor die kruisiging en dan sê hy : “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” (Handelinge 2:23) Ja, die Jode en heidene het verkeerd opgetree, hulle staan skuldig, maar ten diepste het hulle God se raadsplan uitgevoer!

God alleen (as Skepper en Eienaar) maak die reëls en Hy alleen het die reg om sy skepsele tot verantwoording te roep.

Daar SAL dus ‘n oordeel wees en daar is ‘n hel ongeag wat verdorwe mense ons vertel. Paulus praat hiervan in sy toespraak in Athene : “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Handelinge 17:30,31) 

Dit beteken ons moet so lewe dat ons Hom behaag. Leef - Coram Deo Voor die aangesig van God! God se opinie is al wat tel! En moenie dat dwase mense vir God wil vertel dat sy oordele onregverdig is nie! Hoe kan mense wat absoluut onregverdig is vir die heilige God probeer beskuldig van onregverdigheid? Al God se besluite en oordele is goed, regverdig en volmaak!

God laat vaar nie die werke van sy hande nie. 

Hy gooi nie sy skepping weg nie. Hy onttrek Homself nie aan sy skepping nie. Dit gee vir ons hoop. Ons weet weens die sondeval is hierdie skepping verganklik en uiteindelik gedoem tot vuur! Maar dit gaan nie die einde wees nie. Daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” ( 2 Petrus 3:13)

ALLES DRAAI OM JESUS!

Die Bybel se boodskap oor God stop natuurlik nie hier by Genesis 1 nie. Dis maar die begin van ‘n asemrowende en aangrypende verhaal wat uitloop op die hoogtepunt van Jesus Christus se koms en werk. Die Nuwe Testament onthul vir ons die verrassende heerlikheid – die hele skepping draai eintlik rondom Jesus! Dis die heerlike waarheid van die Christelike lied in Kolossense 1:15-20.

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, gesagvoerders of magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

‘n Meer verhewe beskrywing van Jesus se persoon en werk kan mens kwalik iewers anders vind! God het deur Hom als geskep, maar alles is ook vir Hom geskep. Alles bestaan dus ter wille van Jesus. En Hy self hou alles in stand! En hier kom die heerlikste - deur Jesus word ons met God ons Skepper versoen. 

Deur Jesus kan ek dus die almagtige Skeppergod my VADER noem.

Deur die vrug van Jesus se volmaakte soenoffer word die beeld van God wat deur die sondeval geskend is weer in my nuut gemaak en herstel. Hoe? Die Heilige Gees kom woon in my en heilig en verhelder my verstand om God te ken, Hy verander my wil sodat ek kan kies om God te eer en te gehoorsaam, Hy gee my ‘n nuwe hart, ‘n nuwe emosie om God waarlik lief te hê!

Kom ons bely met nuwe vreugde en sekerheid en vertroue- die waarheid van Genesis 1:1 : 


Wanneer ons hierdie belydenis regtig glo kwyn ons vrese algaande en groei ons lofprysing tot ‘n heerlike klimaks van aanbidding en bewondering vir ons Almagtige God! AMEN!

*Benny Hin : “May I say it like this? You are a little god on earth running around" (Praise-a-Thon, TBN, 6th November'90)

Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...